S v Swart (247/1999) [2000] ZASCA 185 (29 September 2000)


6



SAAKNR: 247/99



In die saak tussen:




DIE STAAT Appellant


v


HERMAN DOUGLAS SWART Respondent




Coram: NIENABER, MARAIS JJA en MPATI Wnd AR

Verhoor: 26 SEPTEMBER 2000

Gelewer: 29 SEPTEMBER 2000


Vonnis -Verskerping daarvan op appèl - Oplegging van globale vonnis - neem van twee of meer klagtes vir vonnisdoeleindes onwenslike praktyk, maar blote verontagsaming van praktyksreël nie noodwendig 'n mistasting nie.





U I T S P R A A K




MPATI Wnd AR/

MPATI Wnd AR:

[1] Hierdie is 'n appèl deur die Staat teen die vonnisse wat die verhoorhof (Van Reenen R) die respondent in die Kaap die Goeie Hoop Provinsiale Afdeling opgelê het. Die respondent is deur die verhoorhof skuldig bevind op ses aanklagte, tw twee aanklagte van verkragting (klagtes 1 en 2), menseroof (aanklag 3), onsedelike aanranding (aanklag 4), roof (aanklag 5) en diefstal (aanklag 6). Die skuldigbevindings het gevolg op die respondent se pleit van skuldig op al die klagtes. Klagtes 1, 2 en 4 is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en die respondent is gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf; op aanklag 3 is hy gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf; aanklag 5 en 6 is ook saamgeneem vir vonnisdoeleindes en is hy gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf. 'n Bevel is gemaak dat die helfte van die vonnis op klagte 3 en die helfte van die vonnis op klagtes 5 en 6 saamloop met die vonnis van agt jaar opgelê ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4. Die effektiewe vonnis is dus 12 jaar gevangenisstraf.

[2] 'n Aansoek deur die Staat om verlof om teen al die opgelegde vonnisse te appelleer is deur die verhoorhof afgewys. Met verlof van hierdie Hof kom die Staat nou in hoër beroep.

[3] Die aanslag teen die opgelegde vonnis is gebaseer op grond daarvan dat die verhoorhof in sekere opsigte misgetas het asook dat die vonnisse skokkend onvanpas is in die sin dat dit totaal onvoldoende is.

[4] Die feite van die saak is grotendeels gemeensaak. Gedurende die pleitverrigtinge het die respondent se regsverteenwoordiger 'n skriftelike verklaring ingehandig ingevolge art 112(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977. Die volgende is onder andere vervat in genoemde verklaring:

"Ter uitbreiding van my pleitverduideliking verwys ek na die Staat se opsomming van wesenlike feite ingevolge Art 144(3)(a) van Wet 51van 1977, erken [ek] die korrektheid daarvan en versoek hierdie Agbare Hof om dit as ingelyf te beskou by my Pleitverduideliking."


[5] Die onbetwiste feite is dan die volgende. Gedurende die middag van 6 Mei 1997 het die respondent die klaagster gebel en gesê dat hy sy vrou die volgende dag, op haar verjaarsdag, wou verras deur 'n naelverlenging vir haar te laat doen. Toe die klaagster te kenne gee dat sy nie weg van haar huis werk nie het hy valslik aan haar verduidelik dat hy sy hand beseer het en dat hy nie kon bestuur nie. Hy het met die klaagster gereël dat sy die volgende oggend by sy woonstel moes aandoen om die naelverlenging te doen. Die klaagster het, soos gereël, om 09:40 op 7 Mei 1997 by die respondent se woonstel aangekom. Die respondent het haar by die deur ontmoet. Sy het opgemerk dat sy linkerhand verbind was en dat hy dit styf teen sy lyf gehou het. Hy het die voorste hek oopgesluit en haar in die woonstel ingeneem, met die verduideliking dat sy vrou nog op daardie stadium in die bad was. Nadat hy haar gevra het of sy iets te drinke wou hê, het hy in die rigting van die badkamer gegaan en die volgende woorde geuiter:

"Liefie, jy moet gou maak, die mense is al hier."


Die klaagster was op daardie stadium in die sitkamer. Die volgende oomblik het die respondent die sitkamer binnegegaan met 'n sweep en 'n mes en aan die klaagster gesê:

"Nou doen jy wat ek sê."

Hy het nader beweeg en toe hy by haar was het sy, in 'n geskokte toestand, 'n gaspistool wat sy by haar suster geleen het uit haar baadjie se sak probeer haal. Die respondent het haar hand gegryp en dit agter haar rug gedraai. Hy het haar op 'n slaapbank neergegooi en onsedelike taal teenoor haar en die vroulike geslag in die algemeen gebruik. Hy het vir haar geskree dat sy nie na hom moes kyk nie en nadat hy haar polshorlosie afgehaal het het hy haar hande agter haar rug vasgemaak met die verband wat om sy hand was. Daarna het die respondent die sleutels van die klaagster se motor uit haar baadjie se sak uitgehaal en toe ongeveer 'n bedrag van R60,00 uit haar beursie geneem, asook haar tjekboek en kitskontantkaart. Die beursie was in die klaagster se handsak. Op sy aandrang het sy hom die onttrekkingskode vir die kitskontantkaart gegee. Later het hy haar van die slaapbank opgetrek en haar na die hoofslaapkamer geneem waar hy haar op die bed neergegooi het. Hy het toe die verband losgeknoop, dit met die mes in twee gesny en haar polse daarmee aan weerskante van die bed vasgemaak. Die respondent het uit die slaapkamer gegaan en weer teruggekom met 'n nylon tou wat hy op so 'n manier aan haar nek, polse en die pote van die bed gebind het dat sou sy haar hande beweeg, die tou om haar nek styf sou trek. Hy het aan haar verduidelik dat as sy sou spartel die tou stywer om haar nek sou trek met die gevolg dat haar keel sou opswel en dit haar sou laat versmoor. Hy het toe 'n handdoek oor die klaagster se gesig gegooi waarna hy in die woonstel rond beweeg het. Op 'n stadium en nog voordat hy haar met die nylon tou vasgebind het, het hy haar rok opgelig en daaronder ingeloer.

[6] Nadat hy twee oproepe gemaak het, het die respondent se broer by die woonstel opgedaag. Die klaagster kon die respondent en sy broer by die voordeur hoor praat maar kon nie uitmaak waaroor hulle gepraat het nie vanweë 'n radio wat langs haar op die bedtafel hard gespeel het. Sy wou nie om hulp skree nie want sy was nie seker of die respondent se broer haar sou hoor nie en sy wou die respondent ook nie ontstel nie.

[7] Volgens Gehardus Cowley Swart, die respondent se broer, wou die respondent nie hê dat hy moes sien wat binne die woonstel aangegaan het nie. Na sy broer se vertrek het die respondent langs die bed gaan staan en sy broek se ritssluiter afgetrek. Hy het die klaagster beveel om haar gesig na hom te draai. Hy het toe op die bed geklim en vir haar geskree dat sy haar mond moet oopmaak. Hy het sy stywe geslagsdeel in haar mond gesit en daarmee in- en uitbewegings gemaak. Daarna het hy opgestaan en haar borste bo-oor haar klere betas. Hy het toe haar rok opgetel en haar vrouedele gestreel en toe haar damesbroekie afgetrek en met haar volle geslagsomgang gehad. Toe hy klaar was het hy haar damesbroekie opgetrek en haar rok weer afgetrek. Terwyl hy langs die bed staan het hy gesê:

"Nou is ek 'n verkragter ook, ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie."


Daarna het hy met haar gesels oor sy vrou en kinders en haar 'n foto van hulle gewys.

[8] Op 'n stadium het die klaagster gevra of sy die toilet kon gebruik. Die respondent, wat nou kalmer voorgekom het as voorheen, het haar gewaarsku dat sy haarself moes gedra. Hy het haar losgemaak maar het haar linkerhand en linkerbeen aan mekaar vasgebind, sodat sy nie regop kon staan nie. Toe sy uit die toilet kom het hy haar visenteer. Die klaagster het gevra of sy vir 'n rukkie op die bed kon sit omdat haar hande opgeswel was en daar letsels aan haar polse was. Die respondent het haar twee of drie keer 'n slukkie van sy bier aangebied. Blykbaar het hy deurentyd bier gedrink. Terwyl hy op die bed gesit het, het hy sy planne aan die klaagster ontbloot. Hy wou haar motor gebruik om weg te kom van die polisie, maar hy wou sy kinders ten minste nog eenkeer sien, waarna hy na Suidwes (Namibië) sou gaan. Hy het ook vir haar 'n geleentheid aangebied om haar suster te bel sodat haar twee kinders by die skool gehaal kon word. Die klaagster het nie van hierdie geleentheid gebruik gemaak nie.

[9] Vroegmiddag het die respondent weereens die klaagster vir haar kitskontantkaart-nommer gevra. Daarna het hy gesê dat hy haar weer gaan vasbind want hy wou binnekort ry. Hy het haar presies op dieselfde manier as voorheen vasgebind maar op haar versoek het hy nie die tou om haar nek styf getrek nie. Terwyl hy die klaagster vasgebind het, het hy die hoop uitgespreek dat indien sy daarin sou slaag om los te kom dit nie voor vyfuur sou gebeur nie, sodat hy genoeg tyd sou hê om weg te kom. Hy het toe sy broer gebel en hom uitgenooi om vyfuur die middag 'n drankie by hom te kom geniet. Hy het ook aan hom verduidelik waar hy die woonstel se sleutels sou vind, sou die respondent nie tuis wees nie. Aan die klaagster het hy gesê dat sy broer haar daar sou vind en haar sou losmaak. Hy het haar horlosie op so 'n manier langs die bed geplaas dat sy die tydsverloop kon dophou. Hy het die klaagster se sleutels gaan haal en haar gevra om te verduidelik wat die funksie van elkeen daarvan was. Daarna het hy uit die woonstel gegaan, blykbaar om bier en sigarette te gaan koop. Hy het later weer teruggekom en gesê:

"Nou gaan ons eers weer 'n bietjie vry."


Hy het haar gevra wat sy daarvan sê en toe sy vra of dit regtig nodig was, sê hy "ja" en verder dat sy nie 'n keuse daaromtrent gehad het nie. Hy het langs haar op die bed gaan lê en weer haar borste betas. Hy het toe sy broek en onderbroek uitgetrek en met sy geslagsdeel teen haar geslagsdele gedruk en geskuur. Hy het haar toe weer verkrag. Volgens die klaagster het die tweede verkragting veel langer geduur as die eerste een. Die respondent het opgehou sonder om orgasme te bereik en haar broekie aangetrek en haar rok afgetrek. Hy is toe daar weg om geld te gaan trek en toe hy terugkom, sê hy dat sy darem die waarheid gepraat het, dws dat sy hom die korrekte onttrekkingskode vir haar kitskontantkaart gegee het. Die respondent het toe die woonstel verlaat. Sy het later losgekom en alarm gemaak.

[10] Klagte 3 behels die ontneming van die klaagster se vryheid van beweging deurdat die respondent haar in sy woning aangehou en vasgebind het. Klagte 4 spruit uit die feit dat hy die klaagster se borste betas en sy geslagsdeel in haar mond gedruk het; klagtes 5 en 6, onderskeidelik, deurdat hy haar met 'n mes en 'n sweep gedreig het met die opset om haar motorvoertuig, bankkaarte en ander besittings sonder haar toestemming te neem en deurdat hy die bedrag van R500 sonder toestemming uit haar bankrekening getrek het.

[11] Die respondent het getuienis ter versagting afgelê. Die volgende blyk daaruit. Hy is die jongste van ses kinders. Sy vader is oorlede toe hy nog net drie jaar oud was. Sy moeder was toe die enigste broodwinner in die familie. Op 15 jarige ouderdom het hy begin werk. Hy het net tot standard vyf gevorder op skool. Ten tye van die verhoor was hy 34 jaar oud. In 1984 het hy met sy vrou in die huwelik getree. Twee minderjarige kinders is daaruit gebore, 'n seun en dogter - hulle ouderdomme ten tye van die verhoor was 14 en 11 jaar.

[12] Op 'n stadium het hy en sy familie van Kaapstad na Mosselbaai verhuis waar hy 'n suksesvolle besigheid begin het. Sy vrou het as verpleegster by 'n hospitaal in Mosselbaai gewerk waar sy tot matrone gevorder het. Die huweliksverhouding het begin skeeftrek toe dit tot die respondent se kennis gekom het dat sy vrou 'n lesbiese verhouding met 'n ander verpleegster aangeknoop het. Die gevolg was dat sy hom en die minderjarige kinders by verskeie geleenthede verlaat het. By een van hierdie geleenthede het hy 'n onverwagte besoek afgelê aan 'n vakansiehuis te Stilbaai waar sy vrou en haar lesbiese vriendin en nog twee ander verpleegsters hul bevind het. Daar het hy sy vrou en haar vriendin nakend in 'n bed aangetref nadat hy deur 'n venster toegang tot die woonstel verkry het. Hy het hulle gedwing om onnatuurlike seksuele dade te verrig omdat hy wou sien hoe vrouens wat in 'n lesbiese verhouding betrokke is, vry. Hy het hulle ook elkeen 'n hou gegee met 'n knuppel. Sy vrou is daardie aand weer saam met hom terug huis toe.

[13] Die gebeurtenisse te Stilbaai het tot gevolg gehad dat die respondent aangekla en skuldig bevind is op 14 Januarie 1997 aan huisbraak met die opset om aan te rand, waarvoor hy gewaarsku en ontslaan is; crimen injuria, waarvoor hy gevonnis is tot 'n boete van R300 of 100 dae gevangenisstraf en aanranding met die opset om ernstig te beseer waarvoor hy beboet is tot R300 of 100 dae gevangenisstraf. Sy vrou het hom weer verlaat en as gevolg van sy onstabiele huweliksverhouding het hy besluit om na Kaapstad terug te keer. Hy het sy besigheid verkoop en met sy kinders weer na Kaapstad verhuis, waar hy in sy moeder se woonstel ingetrek het waar die misdade later gepleeg is. Sy broer het hom 'n pos aangebied en hy het by sy paneelkloppersbesigheid gewerk. In April 1997 het sy vrou weer by hom in Kaapstad gaan aansluit. Ongeveer 'n week voor die pleging van die misdade het sy, terwyl hulle saam in die stad was en hy 'n kantoor besoek het, met hul voertuig wat voorheen in sy besit was, verdwyn. Die kinders was saam met haar. Hy het orals gesoek maar kon hulle nêrens vind nie. Toe hy later by sy huis kom, was hulle nie tuis nie. Eers die Saterdag voor die voorval het hy 'n vae idee gekry dat hulle na sy vrou se moeder in De Rust kon gegaan het.

[14] Hierdie optrede van sy vrou het die respondent geweldig ontstel. Hy was besorg oor sy kinders - hulle was nou weer uit die skool. Maandag, 6 Mei 1997, het hy nie gaan werk nie en in sy woonstel gesit en drink en dagga rook. Dit is toe dat hy "gedink" het dat hy 'n voertuig in die hande moes kry "om te gaan kyk waar die kinders is". Hy het toe die plan beraam om die klaagster te bel nadat hy haar advertensie in 'n koerant gesien het, wat hy toe ook op Dinsdag, 7 Mei 1997, gedoen het. Vooraf het hy op 6 Mei 1997 'n sekere Wilhelmina Goosen gebel om kastig velprodukte ter waarde van R500 te koop wat sy as 'n verjaarsdaggeskenk vir sy vrou by sy woonstel moes aflewer. Goosen het velsorgprodukte van haar huis verkoop. Sy het die uitnodiging geweier.

[15] Behalwe vir die drie vorige veroordelings wat hierbo vermeld is, het die respondent nog verdere vorige veroordelings. In 1984 is hy skuldig bevind aan besit van 'n gevaarlike wapen ('n duikmes) waarvoor hy gewaarsku en ontslaan is. Op 27 Mei 1985 is hy skuldig bevind aan onsedelike aanranding toe hy 'n jong skoolmeisie wat hy in sy motor opgelaai het, betas en daarna weggejaag het. Hy is beboet tot R400 of ses maande gevangenisstraf. Op 18 November 1985 is hy skuldig bevind aan crimen injuria waarvoor hy tot R80 boete of 80 dae gevangenisstraf gevonnis is, wat in die geheel op sekere voorwaardes opgeskort is. Die respondent en ander persone het blykbaar meisies in 'n skoolkoshuis dopgehou terwyl hulle verklee het. Op 1 Augustus 1986 is hy gewaarsku en ontslaan na 'n skuldigbevinding op 'n klagte van verskaffing van valse inligting om 'n vuurwapenlisensie te verkry. Hy is weer op 24 Julie 1989 aan crimen injuria skuldig bevind, maar is gewaarsku en ontslaan. Die besonderhede van hierdie oortreding blyk nie bekend te wees nie. Op 19 November 1991 is die respondent skuldig bevind aan onsedelike aanranding toe hy 'n 16 jarige dogter betas het en haar vir hom laat betas het. 'n Vonnis van R2500 of een jaar gevangenisstraf is hom opgelê, plus 'n verdere 18 maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar op sekere voorwaardes.

[16] In 'n geval soos die onderhawige is die benadering van 'n hof van appèl in die uitspraak van hierdie Hof in S v Shapiro 1994 (1) SASV 112 (A) op 119j-120c soos volg uitgelê:

"It may well be that this Court would have imposed on the accused a heavier sentence than that imposed by the trial Judge. But even if that be assumed to be the fact, that would not in itself justify interference with the sentence. The principle is clear: it is encapsulated in the statement by Holmes JA in S v Rabie 1975 (4) SA 855 (A) at 857D-F:


'1. In every appeal against sentence, whether imposed by a magistrate or a judge, the Court hearing the appeal -


(a) should be guided by the principle that punishment is 'pre-eminently a matter for the discretion of the trial Court': and


(b) should be careful not to erode such discretion: hence the further principle that the sentence should only be altered if the discretion has not been 'judicially and properly exercised'.


2. The test under (b) is whether the sentence is vitiated by irregularity or misdirection or is disturbingly inappropriate.' "


Sien ook S v Sadler 2000 (1) SASV 331 (HHA) op 334 para 6.


[17] Daar is namens die Staat betoog dat die verhoorhof misgetas het deur die respondent se persoonlike omstandighede oor te beklemtoon en te min gewig te heg aan sy lang lys vorige veroordelings. Daar is verder aangevoer dat die verhoorhof oormatige gewig geheg het aan die versagtende faktore in die saak. Dit is op hierdie stadium nie nodig om 'n mening uit te spreek oor die Staat se submissies ten opsigte van die beweerde oorbeklemtoning van die respondent se persoonlike omstandighede nie en ook nie oor die aspek van die vorige veroordelings nie. Ten opsigte van die versagtende omstandighede het die verhoorhof hom soos volg uitgelaat:

"Aan die anderkant het die beskuldigde se ontsteltenis oor sy vrou se optrede, die invloed van drank en dagga-inname asook sy angstigheid om sy kinders weer te sien 'n mate van 'n temperende effek."


Na my mening was die verhoorhof volkome geregtig om hierdie feite in die guns van die respondent te oorweeg. Ek kan nêrens vind dat daar enigsins oormatige gewig daaraan geheg is nie.

[18] Me Heunis, namens die Staat, het verder aangevoer dat die verhoorhof fouteer en misgetas het deur nie voldoende gewig aan die erns van die misdrywe te heg nie, asook die feit dat genoemde misdrywe algemeen voorkom in sy jurisdiksie gebied. Me Heunis het ook betoog dat die verhoorhof fouteer het deur klagtes 1, 2 en 4 saam te neem vir doeleindes van vonnis. Die misdrywe is afsonderlik en op verskillende tye gepleeg, so is betoog. In die alternatief het me Heunis aangevoer dat die vonnis wat die verhoorhof ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4 opgelê het ontstellend onvanpas is.

[19] In S v Immelman 1978 (3) SA 726 (A) op 728E-729D het hierdie Hof, met verwysing na die vroeër uitspraak van S v Young 1977 (1) SA 602 (A), weereens die mening uitgespreek dat die praktyk waarvolgens howe van eerste instansie meervoudige oortredings saamneem vir vonnisdoeleindes onwenslik is en net in uitsonderlike gevalle toegepas moet word. Die redes is volledig uiteengesit in genoemde uitspraak en ek ag dit nie nodig om dit te herhaal nie. Maar in S v Keulder 1994 (1) SASV 91 (A) het hierdie Hof hom soos volg uitgelaat:

"Die blote verontagsaming van hierdie praktyksreël kan klaarblyklik nie 'n mistasting uitmaak wat sondermeer ingryping teen die opgelegde vonnis regverdig nie. 'n Mistasting in hierdie verband beteken 'n fout in die bepaling of die toepassing van die feite met die oog op die beoordeling van 'n gepaste vonnis, 'n fout van so 'n aard of omvang dat dit daarop dui dat die vonnisoplegger sy diskresie op 'n onredelike of onbehoorlike wyse uitgeoefen het (S v Pillay 1977 (4) SA 531 (A) op 535D-G)." (Op 102b-c)


[20] In die huidige geval sou dit na my mening verkieslik gewees het vir die verhoorhof om afsonderlike vonnisse ten opsigte van die verkragtingsoortredings op te lê. Maar soos wat in S v Keulder, supra, gesê is, kom die blote versuim om dit te doen nie sondermeer op 'n mistasting neer nie. Me Heunis het ook nie haar betoog in hierdie verband sterk aangevoer nie.

[21] Wat die advokaat wel sterk aangevoer het, is die alternatiewe submissie dat die vonnis deur die verhoorhof opgelê ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4 ontstellend onvanpas is. In S v Sadler 2000 (1) SASV 331 (A) kom die volgende voor op 334 para 8-335 para 10:

"The traditional formulation of the approach to appeals against sentence on the ground of excessive severity or excessive lenience where there has been no misdirection on the part of the court which imposed the sentence is easy enough to state. It is less easy to apply. Account must be taken of the admonition that the imposition of sentence is the prerogative of the trial court and that the exercise of its discretion in that regard is not to be interfered with merely because an appellate Court would have imposed a heavier or lighter sentence. At the same time it has to be recognised that the admonition cannot be taken too literally and requires substantial qualifications. If it were taken too literally, it would deprive an appeal against sentence of much of a social utility it is intended to have. So it is said that where there exists a 'striking' or 'startling' or 'disturbing' disparity between the trial court's sentence and that which the appellate Court would have imposed, interference is justified. In such situations the trial court's discretion is regarded (fictionally, some might cynically say) as having been unreasonably exercised.

...

[I]t is important to emphasize that for interference to be justified, it is not enough to conclude that one's own choice of penalty would have been an appropriate penalty. Something more is required; one must conclude that one's own choice of penalty is the appropriate penalty and that the penalty chosen by the trial court is not. Sentencing appropriately is one of the more difficult tasks which faces courts and it is not surprising that honest differences of opinion will frequently exist. However, the hierarchical structure of our courts is such that where such differences exist it is the view of the appellate Court which must prevail."


[22] In S v Chapman 1997 (2) SASV 3 (HHA) te 5b is verkragting soos volg beskryf:

"Rape is a very serious offence constituting as it does a humiliating, degrading and brutal invasion of the privacy, dignity and person of a victim."


[23] In die loop van sy uitspraak het die verhoorhof die opmerking gemaak dat die respondent die verkragting nie op die ingewing van die oomblik gepleeg het nie. Daar was van die respondent se kant geen betoog dat hierdie bevinding nie korrek was nie. Verder het die verhoorhof die volgende opmerking gemaak:

"Wat die verkragtings ... weersinwekkend maak, is die lengte van die tyd waartydens die klaagster aan trauma en vernedering blootgestel was en dat sy vir 'n tweede keer verkrag was."


Die nagevolge van die misdade op die klaagster, in besonder die seksuele misdade, is geen verrassing nie. Sy het vir ongeveer 'n maand en 'n half aan angsaanvalle gely en vir die eerste maand angswekkende drome gehad. Sy het vir twee tot drie maande behandeling ontvang by 'n kliniese sielkundige. Daardie behandeling moes gestaak word omdat sy dit nie meer kon bekostig nie. Sy het verwerping deur haar man ervaar en het hulle weer seksueel aktief geraak nadat hulle albei vir 'n tyd lank behandeling ontvang het by die kliniese sielkundige.

[24] Die verkragtings was na my mening hoofsaaklik gerig op 'n selfsugtige bevrediging van die respondent se seksuele drange. Gesien vanuit die klaagster se kant, was dit 'n onwelkome en kru skending van haar liggaamsintegriteit en 'n growwe krenking van haar waardigheid. Hierdie Hof het hom in S v Chapman, supra, voorts soos volg uitgelaat op 5c-e:

"Women in this country are entitled to the protection of [their rights to dignity, to privacy and the integrity of their person]. They have a legitimate claim to walk peacefully on the streets, to enjoy their shopping and their entertainment, to go and come from work, and to enjoy the peace and tranquillity of their homes without the fear, the apprehension and the insecurity which constantly diminishes the quality and enjoyment of their lives ...


The courts are under a duty to send a clear message to the accused, to other potential rapists and to the community: We are determined to protect the equality, dignity and freedom of all women, and we shall show no mercy to those who seek to invade those rights."


Ek is van oordeel dat die vonnis deur die verhoorhof opgelê ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4 ontstellend onvanpas is en dat "there is such a glaring inadequacy in the sentence that it can be said to be an improper sentence which does not meet the exigencies of the crime[s]". (S v Mofokeng 1962 (2) SA 385 (A) op 389D.)

[25] Die Staat se enigste aanslag teen die vonnisse opgelê ten opsigte van klagtes 3, 5 en 6 is dat 'n effektiewe tronkstraf van twee jaar ten opsigte van elk van die twee vonnisse ontstellend onvanpas is. Ek meen dat me Heunis nie betoog het dat die vonnisse van vier jaar elk deur die verhoorhof opgelê nie vanpas was nie. Of die Staat hier gelyk gegee moet word, sal afhang van die kumulatiewe effek van daardie vonnisse enaan die vonnisse wat opgelê word ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4.

[26] Om terug te keer na klagtes 1, 2 en 4. Die vonnis deur die verhoorhof opgelê ten opsigte van hierdie klagtes moet vervang word met 'n vonnis wat ek as toepaslik beskou. Om hierdie doel te bereik, meen ek dat dit gerade sal wees om 'n afsonderlike vonnis op te lê ten minste vir die tweede verkragting. Die klaagster het getuig dat nadat die respondent sy geslagsdeel in haar mond gedruk het en in- en uitbewegings gemaak het, het hy haar borste betas, daarna haar rok opgetel en haar vrouedele gestreel. Hy het toe haar damesbroekie uitgetrek en haar penetreer. Myns insiens is die onsedelike aanranding en die eerste verkragting so nou met mekaar verbonde dat 'n hof geregtig sou wees om die twee saam te neem vir doeleindes van vonnis.

[27] Alhoewel die klaagster onseker is van tye, blyk dit nogtans dat daar 'n tydsverloop van ongeveer vier uur tussen die twee verkragtings was. Gedurende daardie tyd het die respondent op 'n stadium die huis verlaat om bier en sigarette te gaan koop. Hy het ook intussen met die klaagster gesels en die indruk geskep dat sy nie weer verkrag sou word nie. Om haar weer te verkrag, was geheel en al onvergeeflik. Dit kon net wees dat die respondent die magsposisie waarin hy was geniet het. Na my oordeel behoort hy swaarder gestraf te word vir die tweede verkragting.

[28] Die appèl word gevolglik gehandhaaf. Die volgende bevel word gemaak:

1. Die vonnis ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4 word ter syde gestel en met die volgende vervang:

(a) Op klagtes 1 en 4 word die beskuldigde gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf;

(b) Op klagte 2 word hy gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf;

(c) Daar word beveel dat twee jaar van die vonnis op klagte 2 saamloop met die vonnis op klagtes 1 en 4.

2. Die vonnisse, wat die verhoorhof ten opsigte van klagtes 3 en 5 en 6 opgelê het, bly onveranderd, maar die helfte daarvan sal saamloop met die vonnis op klagtes 1 en 4.

Die effektiewe vonnis is dus sestien jaar gevangenisstraf.



__________________

L MPATI

Wnd APPèLREGTER


STEM SAAM:


NIENABER AR

MARAIS AR

▲ To the top