Kaap Suiwelkooperasie Bpk v Louw (89/1999) [2000] ZASCA 78 (29 November 2000)


 

7

 

 

 

 

 

 

 

RAPPORTEERBAAR

Saaknommer: 89/99

 

 

IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN

SUID-AFRIKA

 

 

KAAP SUIWELKOöPERASIE BEPERK APPELLANT

 

 

en

 

 

H W LOUW RESPONDENT

 

 

CORAM: SMALBERGER, VIVIER, PLEWMAN ARR, FARLAM en CHETTY Wnd ARR

 

 

VERHOORDATUM: 22 NOVEMBER 2000

 

LEWERINGSDATUM: 29 NOVEMBER 2000

 

Koöperasie - bedanking as lid - ooreenkoms om inwerkingtrede te vervroeg.

__________________________________________________________________

 

UITSPRAAK

__________________________________________________________________

 

SMALBERGER AR

 

SMALBERGER AR:

[1] Die appellant is ‘n koöperatiewe vereeniging behoorlik as sodanig geïnkorporeer ingevolge die bepalings van die Koöperasiewet 91 van 1981 (“die Wet”). Die respondent, ‘n melkboer, was op 1 November 1993 ‘n lid van die appellant. Hierdie appèl wentel om die korrekte vertolking van ‘n brief gedateer 4 Desember 1991 wat namens die respondent aan die appellant geskryf is met betrekking tot die beëindiging van die respondent se lidmaatskap van die appellant (“die bedankingsbrief”) en latere briefwisseling tussen die partye.

[2] Die respondent (as applikant) het in die Provinsiale Afdeling Kaap die Goeie Hoop aansoek gedoen om ‘n verklarende bevel dat hy vanaf 20 April 1987 tot en met 28 Februarie 1993 ononderbroke ‘n lid van die appellant (en sy voorganger) was, tesame met aanvullende regshulp. In die hof a quo het Mitchell Wnd R die respondent gelyk gegee en die aangevraagde regshulp toegestaan. Verlof is deur hom aan die appellant verleen om na hierdie Hof te appelleer.

[3] Artikel 33(1) van die appellant se statuut wat op 24 April 1989 geregistreer is (“die statuut”), bepaal onder andere,

“‘n Lid wat bedank het, se bedanking tree slegs aan die einde van ‘n boekjaar in werking en dan slegs indien hy minstens drie maande voor die einde van die boekjaar aan die koöperasie kennis gegee het van sy bedanking.”

 

[4] Dit is gemene saak dat die bedanking van ‘n lid van die appellant op een van twee wyses kan geskied:

  1. By wyse van ‘n eensydige besluit deur die lid uit hoofde van die bepalings van art 33(1);

  2. By ooreenkoms tussen die lid en die appellant buite die bepalings van die statuut - sien Cape Dairy Co-operative Ltd v Ferreira 1997(2) SA 180 (A) op 186 A - B.

[5] Soos blyk uit art 33(1) tree ‘n eensydige bedanking aan die einde van ‘n boekjaar in werking. Luidens art 89 van die statuut eindig die appellant se boekjaar op die laaste dag van Februarie in elke jaar. Artikel 33(1) vereis dat kennis van ‘n lid se bedanking gegee moet word minstens drie maande voor die einde van die boekjaar. Dit beteken, en die partye is dit eens wat dit betref, dat indien ‘n lid voor 1 Desember van ‘n betrokke boekjaar eensydige kennis van sy bedanking gee, sy bedanking aan die einde van daardie boekjaar (d w s einde Februarie) in werking tree. Indien ‘n lid tussen 1 Desember en die laaste dag van die boekjaar sodanige kennis gee, tree sy bedanking eers aan die einde van die daaropvolgende boekjaar (d w s meer as ‘n jaar later) in werking (tensy anders ooreengekom).

[6] Waar ‘n bedanking by wyse van ooreenkoms buite die bepalings van die statuut geskied, tree die bedanking in werking, by ontstentenis van ‘n ooreengekome datum, op die tydstip waarop die appellant die lid meedeel dat sy aanbod om te bedank aanvaar is.

[7] Die hof a quo het bevind dat die bedankingsbrief nie op enige ander wyse vertolk kon word nie as ‘n eensydige besluit om te bedank wat deur middel van die brief aan die appellant oorgedra is. Ofskoon aanvaar is dat die appellant se raad die bedankingsbrief as ‘n aansoek om te bedank buite om die statuut behandel het, is bevind dat die verkeerde vertolking wat die raad op die brief geplaas het nie afbreuk aan die duidelike bewoording en betekenis daarvan kon doen nie. Gevolglik is bevind dat die respondent se lidmaatskap op 28 Februarie 1993 beëindig is, dat hy ononderbroke vanaf 20 April 1987 tot en met 28 Februarie 1993 ‘n lid van die appellant (en sy voorganger) was, en dat hy op die aangevraagde regshulp geregtig was.

[8] Voordat ek die strekking van die bedankingsbrief behandel, is ‘n paar voorlopige opmerkings nodig om die respondent se aansoek behoorlik in perspektief te stel. Die respondent het op 20 April 1987 ‘n lid van die appellant geword. Die rede waarom dit vir hom belangrik is dat die ononderbroke tydperk van sy lidmaatskap voorafgaande 28 Februarie 1993 bepaal word, is die volgende. Op ‘n algemene vergadering van die appellant gehou op 9 en 10 September 1993 is daar ‘n spesiale besluit geneem om ‘n reserwe van R49 336 571,00 onder lede van die appellant (soos op 1 November 1993) uit te keer. Die uitkering sou geskied volgens die klandisieverhouding tussen elke lid en die appellant, welke klandisieverhouding bepaal sou word met betrekking tot ‘n lid se ononderbroke tydperk van lidmaatskap oor ‘n periode van nege jaar voorafgaande en tot 28 Februarie 1993. Hoe langer die ononderbroke tydperk van lidmaatskap, hoe groter die lid se aanspraak op die reserwe wat uitgekeer sou word en hoe hoër die bedrag wat uiteindelik aan hom uitbetaal sou word. Kortom, hoe langer die respondent se ononderbroke tydperk van lidmaatskap, hoe groter die bedrag wat hy sou ontvang uit die uitkering van die reserwe.

[9] Dit is gemene saak dat aandeelhouding in die appellant ‘n voorvereiste vir lidmaatskap is. So bepaal art 11 van die statuut, vir sover tersaaklik, dat “ ‘n persoon lid van die koöperasie [word] by die uitreiking of oordrag van ‘n aandeel aan hom” (sien ook art 10(1) van die statuut en art 61(1)(a) van die Wet). Luidens art 33(2) van die statuut word die “aandele van ‘n lid wat . . . bedank het . . . by besluit van die raad ingetrek” (sien ook art 81(1)(c) van die Wet). Verder bepaal art 99(1) van die statuut dat elke lid verplig is om (met uitsondering van wat hy vir sy eie gebruik nodig het) al sy suiwelprodukte aan die appellant te lewer. Die raad kan hom egter in sekere omstandighede onthef van sodanige verpligting.

[10] Ek behandel vervolgens die relevante gebeure wat die skryf van die bedankingsbrief voorafgegaan het, en die wat daarop gevolg het, vir sover daardie gebeure en die gedrag van die partye in aanmerking geneem kan word by die vertolking van die brief, asook om te bepaal of die partye enige ooreenkoms bereik het wat betref die tydstip wanneer die appellant se lidmaatskap beëindig is.

[11] Vanaf April 1991 het die respondent opgehou om melk aan die appellant te lewer. In stede daarvan het hy melk aan Simonsberg kaasfabriek (“Simonsberg”) gelewer. Hy beweer dat dit gebeur het met die appellant se medewete en toestemming. Volgens mnr L S du Plessis, die appellant se hoof uitvoerende beampte, is hy deur die respondent meegedeel dat hy besluit het om in die toekoms sy melk aan Simonsberg te lewer en om dié rede as lid van die appellant wou bedank. Bevestiging hiervoor is te vinde in ‘n brief wat Du Plessis op 20 Maart 1991 aan die respondent geskryf het waarin hy onder andere gesê het:

“Ek was jammer om te verneem dat jy van melkkoper verander. Die omstandighede is aan my bekend en daarom verstaan ek die besluit. . . .

 

Dankie vir die ondersteuning van die verlede en vir jou lojaliteit teenoor die Koöperasie terwyl jy lid was.”

 

Die indruk wat die brief skep dat die respondent nie langer ‘n lid van die appellant was nie, is onjuis. Wat egter wel blyk, is dat die vergunning aan die respondent verleen om melk elders te lewer op die veronderstelling geskied het dat die respondent as lid wou bedank.

[12] Op 10 Junie 1991 en 9 Augustus 1991 onderskeidelik is briewe aan die appellant gerig deur mnr C B de Jager, die respondent se ouditeur (“De Jager”). Na bewering het die appellant nie die briewe ontvang nie. Die briewe, wat deel uitmaak van die respondent se stukke, is aanduidend van die respondent se houding. In die eerste brief is daar onder andere gesê dat die respondent “het klaarblyklik besluit om as lid van u koöperasie te bedank”, terwyl in die latere brief daar gemeld word dat die respondent sy posisie heroorweeg en “ons versoek om ons . . . brief gedateer 10 Junie 1991 hiermee terug te trek.”

[13] Daarna is die bedankingsbrief van 4 Desember 1991 deur De Jager namens die respondent aan die appellant gerig. Die relevante deel daarvan lui soos volg:

“Met verwysing na verskeie korespondensie in verband met die moontlike onttrekking as lid van mnr Hugo Louw by u koöperasie, het mnr Louw nou finaal besluit om as lid van u koöperasie te bedank. U sal waarskynlik begrip hê dat daar vir hom geen sin is om by u koöperasie aan te bly nie aangesien daar geen lewerings aan u koöperasie gedoen word nie.

 

Ons versoek u dus om ons te voorsien van enige formele dokumente wat in die verband voltooi en geteken moet word. Mnr Louw versoek u ook om so spoedig moontlik enige ledegelde en fondse aan hom uit te betaal wat by u koöperasie op sy rekord is.”

 

[14] Op ‘n raadsvergadering gehou op 11 Februarie 1992 is, wat in die notule aangeteken is as die repondent se “aansoek om beëindiging van lidmaatskap”, goedgekeur. In ‘n brief aan die respondent gedateer 18 Februarie 1992 onder die opskrif “Aansoek om Beëindiging van Lidmaatksap” skryf die appellant:

“Hiermee word ontvangs erken van u aansoek om beëindiging van lidmaatskap by bogenoemde Koöperasie.

 

Uitbetaling van u aandele sal geskied na goedkeuring op die volgende algemene jaarvergadering wat gehou sal word op 11 Augustus 1992.”

Die respondent het egter ontvangs van hiedie brief ontken.

 

[15] Op 22 Junie 1992 skryf De Jager namens die respondent ‘n verdere brief aan die appellant waarin hy na die bedankingsbrief verwys. Die brief gaan voort:

“Mnr Louw verneem graag of u alreeds sy lidmaatskap gekanselleer het al dan nie. Indien u dit nie gekanselleer het nie, sal ons dit op prys stel indien u hom kan kontak, aangesien hy dit wél oorweeg om nie as lid by u koöperasie te bedank nie.”

 

[16] Die appellant antwoord hierop in ‘n brief van 30 Junie 1992 waarin De Jager

meegedeel word:

“Mnr Louw se aandele is alreeds gekanselleer en uitbetaling daarvan sal na die Algemene Jaarvergadering gedurende Augustus 1992 geskied.

 

Dit staan mnr Louw egter vry om weer as lid van die koöperasie aansoek te doen. Ek vertrou sy aansoek sal gunstig deur die direksie oorweeg word.”

 

(Die stelling dat die respondent se aandele “is alreeds gekanselleer” was nie juis nie. Dit het eers na die algemene jaarvergadering geskied.)

[17] Op 31 Augustus 1992 rig die appellant ‘n laaste skrywe aan die respondent wat soos volg lui:

BEëINDIGING VAN LIDMAATSKAP: LID NO 70170

Tydens die Algemene Jaarvergadering van 11 & 12 Augustus 1992 is u beëindiging van lidmaatskap aanvaar en goedgekeur.

 

Daar is ook besluit om die ledefondse van 1986, 1987 en 75% van 1988 aan u uit te betaal.

 

Aangehegte tjek is dus as volg saamgestel:

 

Aandele R 20-00

Uitgestelde bonusfonds: 1986 R geen

1987 R geen

75% van 1988 R111506-25

TJEK TOTAAL: R111526-25

 

Die volgende ledefondse is nog in u naam:

 

Uitgestelde bonusfonds: 25% van 1988 R 37168-75

1989 R134751-00

TOTAAL: R171919-75

 

Hierdie fondse sal aan u uitbetaal word soos fondse in die koöperasie beskikbaar kom.

Baie dankie vir u ondersteuning die afgelope jare.”

 

Dit is gemene saak dat die respondent die aangehegte tjek aanvaar het en dit gebank het.

[18] Op 4 Januarie 1993 het die respondent opnuut aansoek gedoen om lidmaatskap van die respondent. Die aansoek is goedgekeur en hy het vanaf 19 Januarie 1993 weer melk aan die appellant gelewer.

[19] ‘n Eensydige bedanking deur ‘n lid ingevolge art 33(1) van die statuut moet, om effektief te wees, duidelik en ondubbelsinnig te kenne gee dat dit die lid se voorneme is (vgl Boerne v Harris 1949(1) SA 793 (A) op 801). Dit is te betwyfel of die bedankingsbrief aan hierdie vereistes voldoen. Ofskoon daar aangedui word dat die respondent “nou finaal besluit [het] om as lid van u koöperasie te bedank” word die aangeleentheid nie verder gevoer nie. Daar is geen verwysing na art 33(1) nie, en daar word nêrens uitdruklik gesê dat die respondent wel bedank nie. Trouens, daar is meriete in die betoog namens die appellant dat dit vertolk behoort te word as ‘n uitnodiging om op ‘n bedanking buite die statuut ooreen te kom. Hoe dit ookal sy, is ek bereid om vir die doeleindes van die appèl te aanvaar dat die bedankingsbrief as ‘n eensydige bedanking beskou moet word.

[20] Dit sou in die normale loop van sake tot gevolg gehad het dat die respondent se bedanking eers aan die einde van Februarie 1993 in werking tree en sy lidmaatskap eers dan beëindig sou word. Net soos daar buite die appellant se statuut op ‘n lid se bedanking ooreengekom kan word (soos beslis in Cape Dairy Co-operative Ltd v Ferreira supra) kan daar eweneens ooreengekom word om die inwerkingtreding van ‘n bedanking ingevolge art 33(1) te vervroeg. Die vertraagde inwerkingtrede van ‘n art 33(1) bedanking is klaarblyklik bedoel om tot die voordeel van die appellant te wees, wat met die hantering en verwerking van suiwelprodukte noodwendig sy beplanning vooruit moet doen en sy sake dienooreenkomstig moet inrig met inagneming van die feit dat die betrokke lid wat bedank nie meer sy suiwelprodukte gaan lewer nie. Dit staan die appellant egter vry om afstand te doen van daardie voordeel en om tot ‘n vroeëre inwerkingtreding van ‘n lid se bedanking ooreen te stem.

[21] As lid van die appellant sedert 1987 was die respondent waarskynlik vertroud met die bepalings van die statuut en behoort hy dus te geweet het dat sy lidmaatskap ingevolge daarvan eers einde Februarie 1993 beëindig sou word. Hy sou ook bewus gewees het van sy verpligting as lid om melk aan die appellant te lewer en dat die vergunning wat aan hom verleen is om aan Simonsberg melk te lewer, herroep kon word. Die bedankingsbrief meld dat daar vir die respondent “geen sin is om by u koöperasie aan te bly nie aangesien daar geen lewerings aan u koöperasie gedoen word nie.” Dit dui op ‘n besef dat ‘n vroeë beëindiging van lidmaatskap aangewese was om die respondent te onthef van enige verpligting wat op hom gerus het om melk aan die appellant te lewer. Daarbenewens was daar ‘n versoek namens die respondent “om so spoedig moontlik enige ledegelde en fondse aan hom uit te betaal wat by u koöperasie op sy rekord is.” Uitbetaling sou normaalweg gepaard gaan met beëindiging van lidmaatskap. Na my mening, op ‘n behoorlike vertolking van die bedankingsbrief, val die klem op die vinnige beëindiging van die respondent se lidmaatskap, en is daarin begrepe ‘n versoek of uitnodiging aan die appellant om in te stem om die respondent se bedanking so spoedig moontlik in werking te laat tree. Al was die respondent nie met die betrokke bepalings van die statuut vertroud nie, sou die gevolgtrekking dat die respondent ‘n spoedige beëindiging van sy lidmaatskap beoog en versoek het, steeds geregverdig wees.

[22] Die “aanvaarding” van die respondent se bedanking deur die raad op 11 Februarie 1992 is nie aanvanklik aan die respondent meegedeel nie. In iedere geval, op die veronderstelling dat die bedankingsbrief ‘n eensydige bedanking daarstel, was die “aanvaarding” onnodig. Die effek daarvan is egter dat die respondent se versoek dat sy beëindiging van lidmaatskap vervroeg word, goedgekeur is.

[23] Die brief van 22 Junie 1992 kom nie op ‘n terugtrekking van die respondent se bedanking neer nie, ook nie van sy versoek om vervroegde beëindiging van sy lidmaatskap nie. Dit dui net op ‘n voorneme aan sy kant om sy situasie in heroorweging te neem sou sy bedanking nog nie in werking getree het nie. Die brief is eintlik teenstrydig met die bestaan van die bedankingsbrief as ‘n eensydige bedanking, m a w, dat bedanking reeds ‘n voldonge feit was. Terugtrekking sou in elk geval net kon geskied het met toestemming van die raad soos bepaal in art 31(1) van die statuut.

[24] Die brief aan De Jager van 30 Junie 1992 bevat ‘n sterk aanduiding dat daar aan die respondent se versoek om vroeë beëindiging van sy lidmaatskap voldoen is. Dit gaan trouens van die veronderstelling uit dat die respondent nie meer lid van die koöperasie is nie. As daar twyfel ontstaan of die brief regtens gesproke beskou kan word as ‘n aanvaarding van die appellant se versoek (wat op ‘n aanbod neergekom het) om vroeë beëindiging van sy lidmaatskap, is alle twyfel uit die weg geruim toe die brief van 31 Augustus 1992 deur die respondent ontvang is. Daar word hy pertinent in kennis gestel dat die beëindiging van sy lidmaatskap aanvaar en goedgekeur is, en word hy uitbetaal vir sy aandele. Deel van die ledefondse wat hom toegekom het, is ook aan hom uitbetaal. Soos reeds daarop gewys, is aandeelhouding ‘n vereiste vir lidmaatskap. Die brief van 31 Augustus 1992 kom onteenseglik neer op ‘n mededeling van die aanvaarding van die respondent se versoek om sy lidmaatskap so spoedig moontlik te beëindig. Langs dié weg het die partye konsensus bereik en het daar ‘n ooreenkoms tot stand gekom vir die vroeëre inwerkingtreding van die respondent se bedanking en gevolglik die beëindiging van sy lidmaatskap. Dit word bevestig deur (1) die aanvaarding van die uitbetaling deur die respondent en die inbetaling daarvan in sy bankrekening, en (2) sy latere aansoek in Januarie 1993 om lidmaatskap van die appellant. Dit is vanselfsprekend dat as hy nog ‘n lid van die appellant was omdat die tydperk in art 33(1) vir die inwerkingtreding van sy bedanking nog nie verstryk het nie, dit nie nodig sou gewees het om weer aansoek om lidmaatskap te doen nie.

[25] Gevolglik het die respondent se bedanking op die laatste einde Augustus of vroeg September 1992 in werking getree na ontvangs van die brief van 31 Augustus 1992 en is sy lidmaatskap van die appellant daardeur beëindig. Die respondent was dus nie van 20 April 1987 tot en met 28 Februarie 1993 ononderbroke ‘n lid van die appellant en sy voorganger nie, en het die hof a quo fouteer deur so te bevind. Bygevolg moet die appèl slaag.

[26] Die posisie sou presies dieselfde gewees het as die bedankingsbrief nie as ‘n eensydige besluit om te bedank beskou was nie. Dit sou dan ongetwyfeld vertolk moes gewees het as ‘n aanbod om te bedank buite die statuut wat deur die appellant aanvaar is, gesien die verloop van die gebeure waarna reeds verwys is. Ook op daardie grondslag sou die respondent se lidmaatskap beëindig gewees het op die laatste aan die begin van September 1992.

[27] Die volgende bevel word gemaak:

    1. Die appèl slaag met koste.

    2. Die bevel van die hof benede word tersyde gestel en vervang met die volgende bevel:

“Die aansoek word van die hand gewys met koste.”

 

 

_____________________

J W SMALBERGER

APPèLREGTER

 

VIVIER AR )Stem saam

PLEWMAN AR )

FARLAM Wnd AR )

CHETTY Wnd AR )

 

 

 

 

 

 

 

 

▲ To the top