S v Bezuidenhout (22/2002) [2002] ZASCA 133 (27 September 2002)


 

 

 

 

 

 

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

 

 

 

rapporteerbaar

Saak nr: 22/2002

 

In die saak tussen:

 

DIE STAAT Appellant

en

ISAK HERMANUS BEZUIDENHOUT Respondent

 

Coram: Harms, Schutz en Streicher, ARR

Verhoor: 17 September 2002

Gelewer: 27 September 2002

 

Straf – Onbeëdigde getuienis ontoelaatbaar bevind – Bevoegdheid van hoë hof ingevolge art 25 van Wet 105 van 1997 om gebrek reg te stel.

U I T S P R A A K

STREICHER AR/

STREICHER AR:

[1] Die Transvaalse Provinsiale Afdeling (‘die hof a quo’) het twee regsvrae voorbehou vir oorweging deur hierdie hof. In wese moet beslis word wat die effek op verrigtinge in die streekhof en in die hof a quo is van die toelating in die streekhof van getuienis wat nie behoorlik voor die hof geplaas is nie.

[2] Die respondent is in `n streekhof daarvan aangekla dat hy gedurende 1999 sy dogter, Amanda Bezuidenhout (‘die klaagster’), herhaaldelik verkrag het. Die staat het die getuienis van die klaagster, `n polisiebeampte aan wie sy die beweerde verkragtings gerapporteer het en `n geneesheer wat haar daarna ondersoek het, aangebied. Uit die oorkonde blyk dit dat die klaagster haar getuienis deur middel van `n tussenganger (me Siebritz) afgelê het en dat sy dit nie onder eed gedoen het maar slegs gewaarsku is om die waarheid en niks anders as die waarheid te praat nie. Voor die waarskuwing het die verrigtinge soos volg verloop:

HOF: Kan u my hoor me Siebritz?

ME SIEBRTITZ: Ek kan u hoor.

HOF: Kan u haar vra wat haar volle name is asseblief?

ME SIEBRITZ: Wil jy vir ons sê wat is jou volle name?

GETUIE: Amanda Bezuidenhout.

HOF: Hoe oud is sy?

ME SIEBRITZ: Hoe oud is jy?

GETUIE: 13.

HOF: Weet sy wat dit beteken om te sweer dat sy die waarheid sal praat?

ME SIEBRITZ: Weet jy wat dit beteken om te sê as jy sê jy praat die waarheid?

GETUIE: Ja.

HOF: Kan u haar waarsku sy moet die waarheid en niks anders as die waarheid praat nie?

ME SIEBRITZ: Ons wil jou net waarsku dat jy net die waarheid gaan praat en niks anders as die waarheid nie.

GETUIE: “Okay”.’

 

[3] Die respondent het self getuig en het `n 13 jarige seun, Danie Coetzee1, asook ene Elizabeth De Kock as getuies geroep. Nadat al die getuienis aangehoor is, is die respondent skuldig bevind soos aangekla en het die streekhof hom ingevolge art 52(1)(b) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 (‘die Strafregwysigingswet’) na die hof a quo verwys vir vonnisoplegging. Die hof a quo het bevind dat, weens art 162 van die Wet, die klaagster se getuienis ontoelaatbaar was en nie in ag geneem kon word nie; dat die oorblywende getuienis nie die skuld van die respondent bewys het nie; dat die verrigtinge in die streekhof gevolglik nie ooreenkomstig die reg was nie; en dat die skuldigbevinding tersyde gestel en vervang moes word met `n bevinding van onskuldig.

[4] Die hof a quo het daarna, ingevolge art 319 van die Strafproseswet 51 van 1977 (‘die Wet’), twee regsvrae vir oorweging deur hierdie hof voorbehou. Die twee regsvrae lees soos volg:

‘1. Het die afwesigheid van 'n ondersoek en daaropvolgende bevinding deur 'n verhoorhof dat 'n getuie weens onkunde voorspruitend uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak, nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging begryp nie, noodwendig die effek dat die getuienis wat daarna, nadat die getuie gewaarsku is om die waarheid te praat, nie as getuienis beskou kan word nie en by beoordeling van die meriete van die saak op appèl geheel en al buite rekening gelaat moet word?

2. Is die (eng) beskouing wat tot op hede deur verskeie afdelings van die Hooggeregshof gevolg is, naamlik dat die onreëlmatigheid wat plaasvind waar 'n verhoorhof 'n getuie waarsku ingevolge artikel 164 van Wet 51 van 1977 sonder om eers te bevind dat die getuie, weens die gronde in artikel 164 vermeld, nie in staat is om die eed te begryp nie, per se 'n regskending tot gevolg het, korrek, of het sodanige onreëlmatigheid bloot die gevolg dat die gewig wat aan sodanige getuienis geheg word, geaffekteer mag word – veral gegewe dat die wetgewer nie uitdruklik voorskryf dat 'n ondersoek die landdros se bevinding vooraf behoort te gaan nie of dat die landdros se bevinding uitdruklik genoem of genotuleer behoort te word nie?’

 

[5] Die voorbehoud van die regsvrae het gevolg op `n aansoek deur die appellant om verlof om ingevolge art 311 van die Wet te appelleer en alternatiewelik vir die voorbehoud, ingevolge art 319, van regsvrae vir oorweging deur hierdie hof. Artikel 311 maak voorsiening vir `n appèl deur die staat na hierdie hof teen `n beslissing deur `n provinsiale of plaaslike afdeling op appèl van `n regsvraag. Artikel 319 daarenteen maak voorsiening vir die voorbehoud van `n regsvraag, wat tydens die verhoor in `n hoër hof ontstaan. Die hof a quo het tereg beslis dat `n hoë hof na wie `n beskuldigde ingevolge art 52 vir vonnis verwys is, nie as `n hof van appèl sit nie; dat art 311 gevolglik nie van toepassing is nie; en dat art 319 die toepaslike artikel is. In die lig van hierdie bevinding is dit duidelik dat die eerste regsvraag nie die bedoeling van die hof a quo korrek weergee nie. Die regsvraag wat ontstaan het was nie of die getuienis ‘by beoordeling van die meriete van die saak op appèl geheel en al buite rekening gelaat’ moes word nie maar wel of die getuienis ‘by beoordeling van die meriete van die saak ingevolge art 52(3) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997’ buite rekening gelaat moes word. Aangesien dit duidelik is dat laasgenoemde die regsvraag is wat die hof a quo bedoel het om voor te behou, moet die eerste voorbehoue regsvraag so geïnterpreteer word. Die tweede regsvraag neem na my mening nie die eerste regsvraag enigsins verder nie en kan buite rekening gelaat word.

[6] Die respondent het in limine betoog dat die voorbehoud van die regsvrae onreëlmatig was omrede artikel 319 vereis dat regsvrae wat ingevolge daardie artikel voorbehou word ‘by die verhoor van iemand in `n hoër hof weens `n misdryf ontstaan’ en die verhoor van die respondent in die streekhof en nie in die hof a quo plaasgevind het nie. Aldus die respondent se betoog behoort die saak gevolglik nie aangehoor te word nie. In hierdie verband het die respondent gesteun op S v Metshana 2001 (1) SASV 628 (W) waarin beslis is dat in `n geval soos die onderhawige die verhoor in die streekhof en nie in die hoë hof waarna die beskuldigde verwys is, plaasvind nie. Hy het ook, soos in S v Metshana, gesteun op die feit dat die Konstitusionele Hof in S v Dzukuda and Others; S v Tshilo 2000 (4) SA 1078 (KH), 2000 (2) SASV 443 (KH) para 40, tydens oorweging van die konstitusionaliteit van art 52, na die streekhof verwys het as die verhoorhof.

[7] Die verhoor van `n beskuldigde behels `n ondersoek van die geskilpunte in die saak sowel as die beslissing ten opsigte daarvan. Dit sluit dus die skuldigbevinding in (vgl R v Keeves 1926 AD 410 op 413-415; en S v Sparks 1972 (3) SA 396 (A) op 404C-D).

[8] Die respondent se skuldigbevinding in die streekhof het op 15 Augustus 2000 geskied. Op daardie tydstip het art 52(3) soos volg bepaal:

‘(3) (a) Wanneer 'n beskuldigde ingevolge subartikel (1) (b) vir vonnis na 'n Hoë Hof verwys word, word die oorkonde van die verrigtinge in die streekhof by bewys daarvan in die Hoë Hof deur die Hoë Hof ontvang en maak deel uit van die oorkonde van daardie Hof.

(b) Die Hoë Hof moet, na oorweging van die oorkonde van die verrigtinge in die streekhof, die beskuldigde vonnis, en die uitspraak van die streekhof bly vir hierdie doel staan en is voldoende vir die Hoë Hof om 'n vonnis soos in artikel 51 beoog, op te lê: Met dien verstande dat indien die regter van mening is dat die verrrigtinge nie ooreenkomstig die reg is nie of dat twyfel bestaan of die verrigtinge ooreenkomstig die reg is, hy of sy, sonder om die beskuldigde te vonnis, van die streeklanddros wat by die verhoor voorgesit het 'n uiteensetting van sy of haar redes vir die skuldigbevinding van die beskuldigde verkry.

(c) Indien 'n regter ingevolge die voorbehoudsbepaling by paragraaf (b) optree, stel hy of sy die beskuldigde dienooreenkomstig in kennis en verdaag die saak vir uitspraak, en, indien die beskuldigde in hegtenis is, kan die regter die bevel gee met betrekking tot die aanhouding of vrylating van die beskuldigde wat hy of sy goedvind.

(d) Die betrokke Hof kan by enige sitting daarvan enige getuienis aanhoor en vir daardie doel enigiemand dagvaar om te verskyn en om getuienis af te lê of om 'n dokument of ander voorwerp voor te lê.

(e) Sodanige Hof, hetsy hy getuienis aangehoor het, al dan nie, en nadat hy 'n uiteensetting in paragraaf (b) bedoel, verkry en oorweeg het, kan –

(i) die skuldigbevinding bekragtig en daarop 'n vonnis in artikel 51 beoog, oplê;

(ii) die skuldigbevinding wysig na 'n skuldigbevinding aan 'n ander misdryf in Bylae 2 bedoel en daarop 'n vonnis in artikel 51 beoog, oplê;

(iii) die skuldigbevinding wysig na 'n skuldigbevinding aan 'n ander misdryf as 'n misdryf in Bylae 2 bedoel en daarop die vonnis oplê wat die Hof goedvind;

(iv) die skuldigbevinding ter syde stel;

(v) die saak na die streekhof terugverwys met die opdrag om met 'n aangeleentheid te handel op die wyse wat die Hoë Hof goedvind; of

(vi) 'n bevel maak met betrekking tot 'n aangeleentheid of saak wat in verband staan met daardie persoon of die verrigtinge ten opsigte van daardie persoon wat na die oordeel van die Hoë Hof die regspleging waarskynlik sal bevorder.’

 

[9] Uit hierdie bepalings blyk dit dat die verhoor van `n beskuldigde wat deur `n streekhof vir vonnis na `n hoë hof verwys word nie afgehandel is nie. Die oorkonde van die verrigtinge in die streekhof maak deel uit van die oorkonde in die hoë hof en indien die hoë hof van mening is dat die verrigtinge nie ooreenkomstig die reg is nie of dat twyfel bestaan of die verrigtinge ooreenkomstig die reg is, kan die hof, onder andere, nadat getuienis ingevolge art 52(3)(d) aangehoor is, die skuldigbevinding bekragtig, wysig, of tersyde stel; die saak na die streekhof terugverwys; of `n bevel maak wat die regspleging waarskynlik sal bevorder. Die skuldigbevinding in die streekhof is dus, in effek, `n voorlopige skuldigbevinding wat finaal word indien dit aanvaar word of bekragtig word deur die hoë hof. Met ander woorde die Strafregwysigingswet het `n spesiale prosedure geskep ingevolge waarvan die verhoor van `n beskuldigde in die streekhof begin en in die hoë hof afgehandel kan word. In die omstandighede het die voormelde regsvrae tydens die verhoor van die respondent in die hof a quo ontstaan en was die voorbehoud daarvan nie onreëlmatig soos betoog deur die respondent en bevind in S v Metshana supra nie.

[10] Die eerste regsvraag het twee bene. In die eerste plek is die vraag of die getuienis van `n getuie wat bloot gewaarsku is om die waarheid te praat, sonder enige ondersoek en daaropvolgende bevinding dat die getuie weens onkunde voortspruitend uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak, nie die aard en betekenis van die eed of bevestiging begryp nie, nie as getuienis beskou kan word nie. In die tweede plek is die vraag of sodanige getuienis by beoordeling van die meriete van die saak deur `n hoë hof ingevolge art 52, geheel en al buite rekening gelaat moet word.

[11] Artikel 162(1)2 van die Wet bepaal op gebiedende wyse dat niemand as `n getuie in strafregtelike verrigtinge ondervra mag word as hy nie onder eed is nie behalwe indien art 163 of art 164 van toepassing is.

[12] Artikel 163(1)3 het betrekking op iemand wat verplig kan word om die eed af te lê en wat teen die aflê van die eed beswaar maak; of wat teen die aflê van die eed in die voorgeskrewe vorm beswaar maak; of wat nie die eed in die voorgeskrewe vorm as bindend vir sy gewete beskou nie; of wat die voorsittende regterlike amptenaar meedeel dat hy geen godsdienstige geloof het nie of dat die aflê van die eed met sy godsdienstige geloof strydig is. So `n persoon doen `n voorgeskrewe bevestiging dat hy die waarheid sal praat, welke bevestiging dieselfde regskrag en regsgevolg het as `n eed.

[13] Artikel 164(1)4 van die Wet het betrekking op `n persoon wat weens onkunde voortspruitende uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak, bevind word nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging te begryp nie. So’n persoon kan, nadat hy op die voorgeskrewe wyse gewaarsku is om die waarheid te praat, toegelaat word om te getuig sonder om dit onder eed te doen of dit te bevestig.

[14] Dit volg dat art 162 (1) bepaal dat, behalwe in die geval van `n persoon soos bedoel in art 163 of 164, `n persoon nie as `n getuie ondervra word tensy hy onder eed is nie. Die getuienis van `n persoon anders as `n persoon soos bedoel in art 163 en 164 is dus ontoelaatbaar tensy hy onder eed getuig. Dat dit so is, is reeds in talle sake in die provinsiale afdelings beslis (sien bv. S v Ndlela 1984 (1) SA 223 (N) op 225G-H; S v Mashava 1994 (1) SASV 224 (T) op 228f-g en j; S v N 1996 (2) SASV 225 (K) op 227c). Dit strook ook met beslissings van hierdie hof dat getuienis gelewer deur middel van `n tolk wat nie ingesweer is nie as ontoelaatbare getuienis beskou is. Luidens hierdie beslissings is die tolk se weergawe van wat die getuie sê die getuienis wat voor die hof geplaas word en mag, onderhewig aan sekere uitsonderings, slegs beëdigde getuienis voor `n hof geplaas word (sien The State v Naidoo 1962 (2) SA 625 (A) op 632H; en S v T 1973 (3) SA 794 (A) op 796G-H).

[15] Dit is duidelik dat art 164 `n bevinding vereis dat `n persoon weens onkunde voortspruitende uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging begryp nie. Soos in die geval van `n aantal vroeëre uitsprake, het die hof a quo beslis dat die feit dat `n bevinding vereis word, noodwendig inhou dat `n ondersoek die bevinding moet voorafgaan (sien S v Mashava supra op 228g-h; S v Vumazonke 2000 (1) SASV 619 (K) op 622f-g). Na my mening is dit `n te enge uitleg van die artikel. Die artikel vereis nie uitdruklik dat so `n ondersoek gehou word nie en `n ondersoek is nie in alle omstandighede nodig ten einde so `n bevinding te maak nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat, wanneer gepoog word om die eed op te lê of om `n bevestiging te verkry, dit aan die lig kom dat die betrokke persoon nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging verstaan nie. Die blote jeugdigheid van `n kind kan so `n bevinding regverdig. Na my mening word niks meer vereis as dat die voorsittende regterlike amptenaar `n oordeel moet vel dat `n getuie weens onkunde voortspruitende uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak nie die aard of betekenis van die eed of bevestiging begryp nie. Hoewel verkieslik word geen formele genotuleerde bevinding vereis nie (sien S v Stefaans 1999 (1) SASV 182 (K) op 185i).

[16] Die hof a quo was ook van mening, weer eens in ooreenstemming met `n aantal gewysdes, dat indien `n persoon nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging verstaan nie, ook vasgestel moet word of hy kan onderskei tussen die waarheid en onwaarheid, alvorens hy ingevolge art 164 gewaarsku kan word om die waarheid te praat (sien S v L 1973 (1) SA 344 (K) op 347H – 349B, S v N supra op 229e-g; S v Vumazonke supra 622g-h). (In S v L is gehandel met die vereistes van artikel 222 van die Strafproseswet 56 van 1955, die voorloper van art 164. Die bewoording van art 164 verskil egter aansienlik van die van art 222.) Of so `n ondersoek gehou moet word hoef egter nie deur ons beslis te word nie aangesien die hof a quo bevind het dat dit wel gedoen is en die vraag of dit wel gedoen moet word nie deur die voorbehoue regsvrae geopper word nie.

[17] Uit die voorgaande volg dit dat die getuienis van die klaagster ontoelaatbaar was.5 Die vraag ontstaan dan of sodanige getuienis by beoordeling van die meriete van die saak deur die hof a quo ingevolge art 52 geheel en al buite rekening gelaat moes word. `n Beoordeling van die meriete van die saak sluit in `n bepaling van wat die gepaste bevel is. Indien die hof a quo se taak ingevolge art 52 slegs was om te bepaal of die respondent skuldig of onskuldig was en die hof a quo slegs die skuldigbevinding kon bekragtig of die respondent onskuldig kon bevind en ontslaan, sou die hof a quo wel by die beoordeling van die meriete van die saak die getuienis van die klaagster geheel en al buite rekening moes laat. Artikel 52 verleen egter aan `n hoë hof wyer bevoegdhede as bloot `n skuldigbevinding of onskuldigbevinding. Ingevolge art 52(3)(d) kan die betrokke hof by enige sitting daarvan enige getuienis aanhoor en vir daardie doel enigiemand dagvaar om te verskyn en om getuienis af te lê. Ingevolge art 52(3)(e) kan die hof, behalwe om die skuldigbevinding te bekragtig of tersyde te stel, onder andere, die saak na die streekhof terugverwys met die opdrag om met die aangeleentheid te handel op die wyse wat die hof goedvind (art 52(3)(e)(v)) of `n bevel maak met betrekking tot `n aangeleentheid wat in verband staan met die verrigtinge ten opsigte van die beskuldigde wat na die oordeel van die hof die regspleging waarskynlik sal bevorder (art 52(3)(e)(vi)).

[18] Die voormelde bevoedhede moet natuurlik altyd op so `n wyse uitgeoefen word dat nie inbreuk gemaak word op die beskuldigde se grondwetlike reg op `n billike verhoor nie.6 In hierdie verband het die Konstitusionele Hof in die Dzukuda – saak supra in para 49 gesê:

‘It is for the High Court, in each case committed to it under s 52 for sentence, to ensure that the accused receives a fair trial and nothing in the section prevents the High Court from doing so. It is, in the first instance, the duty of the High Courts to flesh out the procedures enacted in s 52 in a manner consistent with the accused’s right to a fair trial.’

 

[19] By oorweging van die vraag welke van die bevoegdhede vermeld in art 52(3)(e) deur die hof a quo uitgeoefen moes word, is die getuienis wat deur die klaagster gelewer is van wesenlike belang en kan dit nie buite rekening gelaat word nie. Haar getuenis was ontoelaatbaar omrede daar `n moontlikheid bestaan dat sy die aard en betekenis van die eed of bevestiging verstaan het, in welke geval sy of moes sweer of moes bevestig dat sy die waarheid sou praat. Indien sy dit nie verstaan het nie sou die waarskuwing wat sy ontvang het wel voldoende gewees het om haar getuienis toelaatbaar te maak. Begrip aan die kant van die klaagster van die aard en betekenis van die eed en bevestiging kan beswaarlik die getuienis wat sy afgelê het minder betroubaar maak. Die beswaar teen die toelaatbaarheid van haar getuienis is gevolglik van `n tegniese aard en is te wyte aan `n fout wat deur die landdros begaan is. In die lig van die voorgaande moes die hof a quo na my mening oorweging daaraan geskenk het of dit nie `n geval was waar, sonder om inbreuk te maak op die respondent se reg op `n billike verhoor, die gebrek reggestel kon word en in belang van geregtigheid reggestel moes word nie. Die regstelling kon moontlik geskied deur die tersydestelling van die skuldigbevinding, die aanhoor van verdere getuienis, óf self óf deur die streekhof wat die respondent skuldig bevind het. Die getuienis kon bestaan uit `n bevestiging deur die klaagster van haar vroeëre getuienis nadat aan die bepalings van art 162, 163 en 164 voldoen is, of uit `n herhaling van sodanige getuienis en kruisondervraging van die klaagster vir sover dit nodig mag wees om te voldoen aan die grondwetlike vereiste van `n billike verhoor.7 In die verband is dit belangrik om in gedagte te hou dat geregtigheid nie alleen vereis dat `n onskuldige persoon nie verkeerdelik skuldig bevind word nie maar ook dat `n persoon wat `n misdaad gepleeg het behoorlik vir die pleging van die misdaad gestraf word.

[20] Artikel 322(3) van die Wet bepaal dat wanneer `n skuldigbevinding en vonnis deur `n provinsiale of plaaslike afdeling of deur hierdie hof op appèl tersyde gestel word op grond daarvan dat geregtigheid nie geskied het nie as gevolg van die toelating teen die beskuldigde van getuienis wat andersins toelaatbaar is maar weens een of ander gebrek by die verrigtinge nie behoorlik voor die hof geplaas was nie, kan die hof van appèl die saak na die verhoorhof terugverwys met die opdrag dat daar met die aangeleentheid, met inbegrip van die aanhoor van bedoelde getuienis, gehandel word op die wyse wat die hof van appèl goed ag. Daar bestaan na my mening geen rede waarom die wye bevoegdhede wat aan `n hoë hof ingevolge art 52(3) verleen word nie op soortgelyke wyse uitgeoefen behoort te word nie, mits dit, in die bepaalde omstandighede van die geval, gedoen kan word sonder om die beskuldigde se reg op `n billike verhoor te skend. Die hof a quo het dus gefouteer deur die getuienis van die klaagster geheel en al buite rekening te laat by die beoordeling van die meriete van die saak, meer in besonder by die bepaling van welke van die bevoegdhede verleen ingevolge art 52(3)(e) uitgeoefen moes word.

[21] Ingevolge art 322(1) kan hierdie hof in die geval van die voorbehoud van `n regsvraag die uitspraak gee wat by die verhoor gegee behoort te gewees het of die ander bevel uitreik wat geregtigheid vereis. Ek meen egter nie dat in hierdie geval `n bevel gegee kan word wat die hof a quo behoort te gegee het nie. Dit is so omdat die bevel wat die hof a quo behoort te gegee het nie bepaal kan word sonder dat aan die respondent `n geleentheid gegun word om redes aan te voer, moontlik selfs by wyse van getuienis, waarom sy reg op `n billike verhoor geskend sal word indien die saak heropen word vir die aanhoor van die voormelde beperkte getuienis. Ek meen gevolglik dat die saak na die hof a quo terugverwys moet word met die opdrag om oorweging daaraan te skenk om die saak te heropen vir die aanhoor, óf self óf deur die streekhof wat die respondent skuldig bevind het, van verdere getuienis deur die klaagster op `n wyse wat die gebrek in die aanvanklike voorlegging van haar getuienis sal regstel.

[22] Die volgende bevel word gevolglik gemaak:

  1. Die eerste gestelde regsvraag word soos volg beantwoord:

Die afwesigheid van 'n ondersoek en daaropvolgende bevinding deur 'n verhoorhof dat 'n getuie weens onkunde voorspruitend uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak, nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging begryp nie, het noodwendig die effek dat die getuienis wat daarna, nadat die getuie gewaarsku is om die waarheid te praat, nie as getuienis beskou kan word nie maar nie dat dit by beoordeling van die meriete van die saak ingevolge art 52(3) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 geheel en al buite rekening gelaat moet word nie.

  1. Die tweede gestelde regsvraag verval.

  2. Die bevel gemaak deur die hof a quo word tersyde gestel.

4 Die saak word na die hof a quo terugverwys met die opdrag om oorweging daaraan te skenk om die saak te heropen vir die aanhoor, óf self óf deur die streekhof wat die respondent skuldig bevind het, van verdere getuienis deur die klaagster, op `n wyse wat die gebrek in die aanvanklike voorlegging van haar getuienis sal regstel.

 

 

____________

P E Streicher

Appèlregter

 

 

Harms AR)

Schutz AR) stem saam

 

1 Danie Coetzee is, soos die klaagster, slegs gewaarsku om die waarheid te praat nadat wesenlik dieselfde vrae aan hom gestel is en wesenlik dieselfde antwoorde van hom verkry is.

2162(1) Behoudens die bepalings van artikels 163 en 164, word niemand as getuie in strafregtelike verrigtinge ondervra nie tensy hy onder eed is wat deur die voorsittende regterlike amptenaar of, in die geval van 'n hoër hof, die voorsittende regter of die griffier van die hof opgelê word, en wat in die volgende vorm geskied:

 

“Ek sweer dat die getuienis wat ek sal aflê, die waarheid, die hele waarheid en net die waarheid sal wees, so help my God”.’

3 ‘163(1) Iemand wat verplig is of kan word om die eed af te lê en –

 

(a) wat teen die aflê van die eed beswaar maak;

(b) wat teen die aflê van die eed in die voorgeskrewe vorm beswaar maak;

(c) wat nie die eed in die voorgeskrewe vorm as bindend vir sy gewete beskou nie; of

(d) wat die voorsittende regter of, na gelang van die geval, die voorsittende regterlike amptenaar, meedeel dat hy geen godsdienstige geloof het nie of dat die aflê van die eed met sy godsdienstige geloof strydig is,

 

doen 'n bevestiging in die volgende woorde in plaas van die eed en op las van die voorsittende regterlike amptenaar of, in die geval van 'n hoër hof, die voorsittende regter of die griffier van die hof:

 

“Ek bevestig plegtig dat die getuienis wat ek sal aflê, die waarheid, die hele waarheid en net die waarheid sal wees.”.’

 

4 ‘164(1) Iemand wat, weens onkunde voortspruitende uit jeugdigheid, gebrekkige opvoeding of ander oorsaak, bevind word nie die aard en betekenis van die eed of die bevestiging te begryp nie, kan toegelaat word om in strafregterlike verrigtinge getuienis af te lê sonder om dit onder eed te doen of te bevestig: Met dien verstande dat so iemand, in plaas van die eed of bevestiging, deur die voorsittende regter of regterlike amptenaar gewaarsku moet word om die waarheid, die hele waarheid en net die waarheid te praat.’

5 Dieselfde geld vir die getuienis van Danie Coetzee. Alhoewel die appellant geen beswaar geopper het en steeds geen beswaar opper daarteen dat sy getuienis in ag geneem word nie moet dit in die toekoms op dieselfde wyse hanteer word as die klaagster se getuienis, met inagneming van die beslissing van hierdie hof in Myeni v The State (case no 397/01).

6 Artikel 35(3) van die Grondwet.

7 Dit beteken nie noodwendig dat die klaagster se kruisondervraging weer die hele veld van haar getuienis moet dek nie.

▲ To the top