S v De Jager (53/2006) [2006] ZASCA 163 (26 September 2006)







DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA




Nie rapporteerbaar



SAAK NR: 53/06




In die saak tussen:



DE JAGER, ANTHONY MORNÉ Appellant



- en -



DIE STAAT Respondent


__________________________________________________________________________

Coram: STREICHER AR, THERON & CACHALIA Wnd ARR

Verhoor: 20 SEPTEMBER 2006

Gelewer: 26 SEPTEMBER 2006

Opsomming: Poging tot verkragting – geen rede gevind om met verhoorhof se feitebevindings in te meng nie.


Neutral citation: This judgment may be referred to as De Jager, A M v The State [2006] SCA 114 (RSA)

__________________________________________________________________________


U I T S P R A A K

__________________________________________________________________________



STREICHER JA



STREICHER JA:

[1] Die appellant is in die streekhof vir die distrik van Mpumalanga skuldigbevind aan poging tot verkragting op twee aanklagte en is ten opsigte van elke aanklag gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf. Inaggenome die kumulatiewe effek van die vonnisse het die streekhof gelas dat ses jaar van die vonnis ten opsigte van die een aanklag moes saamloop met die vonnis ten opsigte van die ander aanklag. Effektiewelik is die appellant dus gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf. `n Appèl deur die appellant na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen die skuldigbevindings sowel as die vonnisse was onsuksesvol maar daardie hof het aan die appellant verlof toegestaan om na hierdie hof teen sy skuldigbevinding te appelleer.


[2] Die appellant is met die klaagster se moeder getroud toe die klaagster drie jaar oud was. Op die stadium wat die klaagster getuig het, naamlik November 2001, was sy nege jaar oud. Op die stadium wat die pogings tot verkragting sou plaasgevind het was sy onderskeidelik sewe en agt jaar oud.


[3] Die klaagster het getuig dat die appellant aan haar en haar vriendin videos van kaal lesbiese vrouens, speelkaarte waarop kaalvrouens uitgebeeld word en `n boek met pornografiese materiaal gewys het. Hy het aan haar en haar vriendin gesê dat hy van lesbiese vrouens hou. Hy het ook aan haar seksvoorligting gegee deurdat hy aan haar verduidelik het: ‘Die man plant `n saadjie by die vrou, dan groei die babatjie daar, dan kom hy uit by `n vrou se verkeerde plek.’ By geleentheid, gedurende die periode 2000 tot 2001, het die appellant, aldus die klaagster, in die teenwoordigheid van haar vriendin haar broek afgetrek en probeer om sy geslagsdeel in hare in te druk. Sy het vertel hoe hy saad (wat sy sap genoem het) gestort het en hoe hy dit na die tyd in die badkamer gaan afvee het. By `n ander geleentheid, toe haar boetie vir `n blindederm operasie in die hospitaal was, het die appellant volgens die klaagster weer gepoog om dieselfde met haar te doen. By hierdie geleentheid het hy, so het sy getuig, baba-olie aan sy en haar geslagsdele gesmeer en gesê dat hy `n babatjie wou maak.


[4] Die appellant het in sy getuienis erken

  • dat hy in besit van `n pornografiese video was en dat die klaagster dit by geleentheid gesien het toe hy daarna gekyk het maar het ontken dat hy dit aan haar ‘as persoon’ gewys het,

  • dat hy terwyl hy na die video gekyk het op die bed gelê en met homself gespeel het en nie opgemerk het toe die klaagster en haar vriendin die kamer binnegekom het nie maar dat hy die video afgesit het toe hy van hulle teenwoordigheid bewus geword het,

  • dat hy in besit was van speelkaarte waarop kaal vrouens uitgebeeld word en dat die klaagster en haar vriendin in die kamer was toe hy dit by geleentheid oopgemaak het, maar het ontken dat hy die kaarte aan hulle ‘as persoon gewys’ het,

  • dat hy in besit was van `n pornografiese tydskrif wat sy vrou volgens hom onder die matras gesit het,

  • dat hy baie keer aan die klaagster se ma gesê het dat hy van lesbiese vrouens hou en dat die klaagster moontlik teenwoordig kon wees wanneer hy dit gesê het,

  • dat hy aan die klaagster en haar vriendin, sonder die toestemming van die vriendin se ouers, detail seksvoorligting gegee het,

  • dat dit sy gebruik was om kaal in die huis rond te loop.

Hy het egter ontken dat hy ooit gepoog het om gemeenskap met die klaagster te hê.


[5] Die appellant se skoonma, Mev Opperman, het getuig dat kort voordat die appellant en sy familie na Kaapstad sou trek, die klaagster aan haar vertel het dat die appellant haar broek afgetrek het en op haar gelê het. Na middagete op `n Sondag, die dag voordat die appellant met sy familie na Kaapstad sou trek, het sy haar dogter, die appellant se eggenote, gevra of sy bewus was daarvan dat die appellant met die klaagster lol. Dit is gemenesaak dat die appellant se eggenote daarna die appellant in hulle slaapkamer te lyf gegaan het deur hom te skop en te slaan. Na die aanval op die appellant het Mev Opperman hom gevra: ‘Anthony wat het jy gemaak dis `n kind’ waarop hy volgens haar erken het dat dit gebeur het, die tasse gevat het en geloop het. Die appellant se regsverteenwoordiger het Mev Opperman onder kruisverhoor gevra of sy seker kon wees dat die appellant geweet het waarvan sy praat en of daar nie `n moontlikheid was dat hy haar verkeerd verstaan het nie waarop sy geantwoord het dat daar nie so`n moontlikheid was nie. Dit is egter nooit aan haar gestel dat die appellant of sy eggenote sou getuig dat hy nie geweet het waarvan sy praat nie of dat hy sou ontken dat hy die erkenning gemaak het.


[6] Nieteenstaande die feit dat dit nooit aan Mev Opperman gestel is dat die appellant en sy eggenote sou getuig dat hy geen erkenning gemaak het ten opsigte van die gebeure waarvan die klaagster gepraat het nie, het die appellant getuig dat hy ontken het dat dit gebeur het. Volgens hom het hy hom wel voorheen teenoor die klaagster skuldig gemaak aan onbehoorlike gedrag toe hy haar op driejarige ouderdom op haar geslagsdeel gesoen het maar het hy ten opsigte van daardie insident skuldig gepleit en ‘genade ontvang’. Die appellant se eggenote het sy getuienis dat hy ontken het dat hy met die klaagster gelol het, beaam.


[7] Die klaagster se vriendin het getuig dat sy by geleentheid teenwoordig was toe die appellant die klaagster se klere uitgetrek het, sy broek afgetrek het en op die klaagster gaan lê het. Sy het ook getuig dat sy op hierdie geleentheid iets gesien het wat volgens haar beskrywing manlike saad was.


[8] Die verhoorhof het bevind dat die klaagster `n uitstekende getuie was en dat haar ontwikkelingsvlak nie van so’n aard is dat sy die vermoë sou gehad het om haar getuienis ten aansien van die ter sake insidente uit te dink nie. Alhoewel haar vriendin nie dieselfde indruk op die verhoorhof gemaak het nie het die hof bevind dat haar getuienis stawing aan die klaagster se getuienis verleen.


[9] Die verhoorhof het ook die getuienis van die klaagster se tante van wat die klaagster aan haar rapporteer het toegelaat op die basis dat dit, as synde die eerste rapport deur die klaagster van die voorvalle, toelaatbaar was. Die respondent het tereg betoog dat die verhoorhof in die verband fouteer het. Dit was inderdaad nie die klaagster se eerste rapport van die voorvalle nie en kon gevolglik nie op daardie basis toegelaat word nie. Hierdie bevinding van die verhoorhof doen egter geen afbreuk aan die verhoorhof se skuldigbevinding van die appellant nie.


[10] Die appellant voer verder aan dat weersprekings in die getuienis van die klaagster en haar vriendin asook verskille tussen die klaagster se getuienis en die van Mev Opperman ten aansien van presies wat die klaagster aan Mev Opperman rapporteer het, twyfel werp op die klaagster se getuienis. Weersprekings en verskille in die getuienis kan egter onder die omstandighede verwag word. Dit sou eienaardig gewees het indien die klaagster, `n nege jarige meisie, se weergawe van wat sy aan haar ouma vertel het en die van haar ouma woordeliks sou ooreenstem. In breë trekke het dit wel ooreengestem. Dit is ook te verwagte dat die klaagster se vriendin traag sou wees om haarself by die gebeure waarvan die klaagster getuig het, te betrek. Na my mening is die weersprekings en verskille wat daar wel is nie van so’n aard dat dit twyfel wek oor die geloofwaardigheid van die klaagster nie.


[11] Ek stem saam met die bevinding van die verhoorhof en die hof a quo dat dit hoog onwaarskynlik is dat die twee negejarige meisies die gebeure waarvan hulle getuig het sou kon versin. Ek kan ook nie enige rede vind om die korrektheid van die verhoorlanddros se oordeel dat die klaagster `n uitstekende getuie was te bevraagteken nie. Soos blyk uit die voorgaande word haar getuienis in verskeie opsigte gestaaf, ook deur die appellant self. Stawing vir haar getuienis word onder andere ook verleen deur die feit dat dit nooit aan Mev Opperman gestel is dat die appellant en sy eggenote sou ontken dat hy erken het dat hy met die klaagster gelol het nie. Dit is hoogs onwaarskynlik, inderdaad haas ondenkbaar, dat dit nie gestel sou gewees het indien die appellant dit inderdaad ontken het nie.


[12] Die verhoorhof en die hof a quo het vir hierdie redes tereg tot die gevolgtrekking gekom dat bo redelike twyfel bewys is dat die appellant op die twee genoemde geleenthede homself skuldig gemaak het aan poging tot verkragting.


[13] Die appèl word gevolglik van die hand gewys.





_________________

STREICHER AR



STEM SAAM

THERON Wnd AR)

CACHALIA Wnd AR)


▲ To the top