S v Mzandi (110/2010) [2010] ZAWCHC 168 (27 August 2010)



RAPPORTEERBAAR


IN DIE HOe HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOe HOF, KAAPSTAD)



SaakNr: GSH(3) 110/2010

Hoe Hof Nr: 10989

Landdroshof Nr: 1/2010


In die saak tussen:



DIE STAAT

teen

THULANI MZANDI

HERSIENINGSUITSPRAAK: GELEWER OP 27 AUGUSTUS 2010




KLOPPER WnR


Hierdie saak is ingevolge Artikel 304A van die Strafproseswet, 51 van 1977 (hierna "die Wet" genoem) op spesiale hersiening gestuur deur Streeklanddros te Parow. Die saak is ingevolge Artikel 116 (1) van die Wet na die Streekhof te Parow verwys vir vonnis.



Die beskuldigde het in die distrikshof te Goodwood tereggestaan op 'n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Na aanhoor van die getuienis is hy skuldig bevind soos aangekla. Die beskuldigde is weens die aard van sy vorige veroordelings verwys na die Streekhof vir vonnis.

Nadat die Streeklanddros die oorkonde oorweeg het soos deur Artikel 116 (3) van die Wet vereis word, was hy nie tevrede dat die verrigtinge ooreenkomstig die reg was nie. Die Streeklanddros verskaf die volgende redes vir sy mening:

"Die getuienis van die klaer het nie aangetoon dat enigiets uit die vertrek waar ingebreek is, verwyder is nie. Die hoetroustel waarna verwys word in die klagstaat, was wel verwyder van waar dit aanvanklik gestaan het, maar dit was gevind in dieselfde kamer onder die bed in 'n sak waar dit versteek was onder klere. A/a my oordeel kon die beskuldigde hoogstens skuldig bevind gewees het aan huisbraak met die opset om te steel en poaing tot diefstal, aangesien daar nie 'n onttrekking van die artikel van die beheer van die eienaar plaasgevind het nie. Die contrectatio of toe-eieningshandeling was nie voltooi nie."



Daar is verskeie definisies te vinde in ons regspraak en bekende handboeke vir die misdryf van diefstal.

Ons Hoogste Hof van Appel het in S v Boesak1 diefstal omskryf as "the unlawful and intentional appropriation of the property of another".2

Daaruit is dit na my mening duidelik dat daar toe-eiening van eiendom moet plaasvind alvorens diefstal gepleeg kan word.



Die onderskeid tussen die onderhawige feitestel en die situasie wat dikwels gevind word waar diefstal uit 'n selfbedieningswinkel plaasgevind het en die dader aan diefstal skuldig bevind word, is te vinde in die feit dat waar die items op die persoon van die dader versteek word daar dikwels bevind kan word dat die dader die artikel(s) toegeien het en die eienaar sy beheer oor die artikel(s) verloor het.3 Elke saak moet egter op sy eie meriete beoordeel word om te bepaal wat die posisie is.



In die onderhawige saak nadat daar ingebreek is, is die item verwyder en op 'n ander plek geplaas wat in die omstandighede die afleiding sou regverdig dat dit die bedoeling was van die dader om dit te steel. Vir een of ander onbekende rede het die dader die perseel verlaat sonder om enige items te neem. (Terloops dieselfde handeling het plaasgevind ten opsigte van die klerasie wat uit die kaste gepak is).4

Daar was in hierdie omstandighede na my mening 'n handeling (die versameling van die items) wat minstens die begin was van die uitvoering van die misdaad, maar geen handeling wat veroorsaak het dat die eienaar beheer daaroor verloor het of wat die items vanuit die beheer van die eienaar geneem het nie. Die misdryf is dus nie voltooi nie.



Na oorweging van die getuienis stem ek dus saam met die Streeklanddros dat die beskuldigde hoogstens aan poging tot diefstal skuldig bevind kon word.5 Sien R v Jacobs 6, S v Josiya 7en S v Newman.8

Ek sou dus die skuldigbevinding tersydestel en vervang met een van huisbraak met die opset om te steel en poging tot diefstal.

KLOPPER, WnR



Ek stem saam. Die skuldigbevinding word tersydegestel en vervang met een van huisbraak met die opset om te steel en poging tot diefstal. Die saak word terugverwys na die Streekhof te Parow vir die oplegging van 'n gepaste vonnis.

LE GRANGE, R

1 2000 (1) SACR 633 (SCA) op par. 97.

2 Sien ook C.R. Snyman-Sfra/reg 5e uitgawe op 467 en Jonathan Burchell- Principles of Criminal Law 3e uitgawe op 782.

3 Sien Snyman supra op 489 - 490, S v Tau 1996 2 SASV 97 (T).

4 Sien bl 5 van die oorkonde.

5 Dit maak geen verskil na my mening of die handeling by diefstal beskryf word as 'n vorm van contrectatio waarna daar dikwels deur die Howe verwys word of as 'n toe-eieningshandeling soos deur Snyman in Strafreg supra op 478 - 481 bepleit word nie.

61955 2 PHH187(W).

7 1970 (4)SA 549 (R).

8 1998 1 SASV 95 (T). Sien ook Principles of Criminal Law supra-Jonathan Burchell op 786 -787.

▲ To the top