Boerboonfontein BK v La Grange NO and Another (A 409/2009) [2010] ZAWCHC 81 (15 April 2010)




IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)


REPORTEERBAAR


In die saak tussen:

Saak No. A409/09

BOERBOONFONTEIN BK Appellant

and

CEDRIC B LA GRANGE N.O.

(in sy hoedanigheid as Eksekuteur van

Boedel Wyle Japie la Grange) Eerste Respondent

CT LA GRANGE Tweede Respondent


UITSPRAAK GELEWER OP 15de DAG VAN APRIL 2010

BIINNS-WARD R:

Inleiding

[1] Boerboonfontein BK is in 1993 deur Mnre Van Tonder en La Grange gestig met die doel om 'n sekere plaaseiendom, Boerboonfontein, te bekom en in besit te hou. Die grond waaropBoerboonfontein gelee is le tussen die twee plase wat Van Tonder en La Grange reeds jare lank vir hul eie onderskeie rekeninge geboer het. Hulle was hegte vriende en toe die eiendom op die mark gekom het wou hulle nie teen mekaar daarvoor bie nie. Daar is gevolglik tussen hulle ooreengekom op die stigting van 'n beslote korporasie as 'n wyse waarop hulle effektiewe mede-eienaarskap oor die grond kon bekom en beoefen.


[2] Die aanvanklike plan, wat wel in werking gestel is, was dat die korporasie, as selfstandige eenheid, sake sou doen deur op die eiendom te boer. Later het die twee here, wat te alle tye die enigste lede van die korporasie was, onderling besluit om liewers vir hulle eie rekening op afsonderlike dele van die eiendom te boer. Inderwaarheid is 'n draadheining gespan wat die plaaseiendom rofweg in twee dele vir hierdie doeleinde verdeel het. Gedurende die tydperk wat die korporasie die boerdery bedryf het, het die twee lede 'n kontrak aangegaan wat, in wese, 'n opsie aan die oorlewende lid verleen het om na die afsterwe van eerssterwende van die twee op bepaalde terme laasgenoemde se ledebelang aan te koop.

[3] In 2007 is La Grange oorlede. Die eerste respondent, wat La Grange se broerskind was, is as eksekuteur van die oorledene se boedel aangestel. Luidens sy testament word wyle La Grange se plaas, Rietfontein, aan die eerste respondent bemaak. Van Tonder het vir die eerste respondent van die kontrak wat tussen hom en La Grange aangegaan is vertel en aan hom kennis gegee van sy voorneme om die opsie uit te oefen om die oorledene se ledebelang te bekom. Die eerste respondent het na bewering eers te kenne gegee dat La Grange se erfgename geen probleem daarmee sou he nie. Etlike weke daarna het dit egter geblyk dat Van Tonder en die eerste respondent nie met mekaar eens is oor die uitleg van die bepalings van die skriftelike ooreenkoms wat tussen Van Tonder en wyle Mnr La Grange aangegaan is nie. Uiteindelik het die eerste respondent, in sy hoedanigheid as eksekuteur, Van Tonder se eis om oordrag van die oorledene se ledebelang in die beslote korporasie verwerp.


[4] Na La Grange se heengaan het die eerste respondent sy seun, wat as tweede respondent in die verrigtinge in die hof a quo gesiteer is, op Rietfontein laat boer. Laasgenoemde het volgehou met die gebruik van die grond op dieselfde wyse as sy oorlede grootoom, deur van sy lewende hawe op die gedeelte van Boerboonfontein wat wyle La Grange voor sy sterfte vir eie rekening gebruik het, te laat wei. (Daar is aantygings deur Van Tonder gemaak dat die tweede respondent die drakrag van die grond oorskry het deur te veel van sy diere op die veld te laat wei.)


[5] Van Tonder het aan die eerste respondent kennis gegee dat hy dit sou goedvind as laasgenoemde, as nuwe eienaar van Rietfontein, vir 'n verdere ses maande na La Grange se oorlye die helfte van Boerboonfontein nog sou gebruik, waarna dit ontruim moet word. Die tweede respondent het aanvanklik laat blyk dat hy hieraan gehoor sou gee, maar het van houding verander na die geskil ontstaan het oor die terme waarop Van Tonder die oorledene se ledebelang sou kon bekom. Die houding van beide respondente was dat tweede respondent geregtig was om die gedeelte van Boerboonfontein wat La Grange gedurende sy leeftyd gebruik het in besit te hou. Respondente se standpunt is dat die beweerde besitsreg 'n uitvloeisel is van die oorledene se ledebelang in die beslote korporasie, wat nog nie aan of Van Tonder of enigiemand anders oorgedra is nie.


[6] Op 28 Augustus 2007 is die aansoek geloods waarin die uitsetting van die tweede respondent van die gedeelte van Boerboonfontein wat hy okkupeer geeis word. Volgens die stukke was die beslote korporasie die applikant. Die eerste respondent, in sy hoedanigheid as eksekuteur, is as 'n party in die geding gesiteer, oenskynlik om te verseker dat enige uitsettingsbevel wat deur die hof toegestaan mag word ook op wyle Mnr La Grange se boedel bindend sou wees. Van Tonder het in die aansoek namens die korporasie opgetree.


[7] Die respondente het, onder andere, 'n spesiale verweer geopper dat die instelling van die verrigtinge nie deur die korporasie gemagtig is nie. Die hof a quo (Roux Wn R) het hulle gelyk gegee. Die aansoek is gevolglik van die hand gewys en Van Tonder is gelas om persoonlik die respondente se gedingskoste te betaal. Die hof a quo het ook bevind dat die respondente geregtig is om die betrokke deel van die korporasie se grond te okkupeer en te gebruik voortspruitend uit die oorledene se ledebelang terwyl die ledebelang nog in die boedel gevestig het. Die hof a quo het verlof verleen om teen sy bevindings na die Volbank van hierdie hof te appelleer.

Die partye se betoe


[8] Die appellant se prokureur doen aan die hand dat Van Tonder, as die enigste oorlewende lid van die korporasie, voldoende regsbevoegdheid het om alleen, en sonder inagneming van die siening van enigiemand anders, die korporasie by die bring van die aansoek te verteenwoordig. Die respondente voer egter aan dat verrigtinge slegs deur die korporasie ingestel kan word indien 'n besluit in dier voege geneem word deur die houers van 'n meerderheid - in persentasie terme - van die ledebelang daarin. Eerste respondent maak staat op a. 29(3) van die Wet op Beslote Korporasies 69 van 1984 ('die Wet').


[9] Dit is gerieflik vir die doeleindes van hierdie uitspraak om a. 29(2) en (3) van die Wet aan te haal:


29 Vereistes vir lidmaatskap

(1)....

(1A)...

(2) Die volgende persone kwalifiseer vir lidmaatskap van 'n korporasie-

  1. 'n Natuurlike persoon wat geregtig is op 'n ledebelang;

  2. 'n natuurlike persoon of 'n regspersoon, nomine officii , wat 'n trustee is van 'n testamentere trust wat geregtig is op 'n ledebelang, mits-

(i) geen regspersoon 'n bevoordeelde van sodanige trust is nie; en

(ii) indien die trustee 'n regspersoon is, sodanige regspersoon nie regstreeks of onregstreeks beheer word deur 'n bevoordeelde van die trust nie; en

(c) 'n natuurlike persoon of 'n regspersoon, nomine officii , wat, in die geval van 'n lid wat insolvent, oorlede, geestesongesteld of andersins onbekwaam of onbevoeg is om sy of haar sake te behartig, 'n kurator van sy of haar insolvente boedel of 'n administrateur, eksekuteur of ander kurator ten opsigte van so 'n lid is of iemand is wat andersins sy of haar behoorlik aangestelde of gemagtigde regsverteenwoordiger is.

(3) (a) Die lidmaatskap van 'n persoon wat daarvoor kwalifiseer ingevolge subartikel (2) neem 'n aanvang op die datum van die registrasie van 'n stigtingsverklaring van die korporasie wat die besonderhede wat deur artikel 12 vereis word betreffende so 'n persoon en sy of haar ledebelang bevat.

(d) Waar iemand 'n lid staan te word van 'n geregistreerde korporasie moet die bestaande lid of lede van die korporasie toesien dat voldoen word aan die vereistes van artikel 15 (1) betreffende die indiening van 'n gewysigde stigtingsverklaring by die Registrateur.

(e) 'n Kurator van 'n insolvente boedel, administrateur, eksekuteur of ander kurator, of ander regsverteenwoordiger, bedoel in subartikel (2) (c) , ten opsigte van 'n lid van 'n korporasie, wat nie verplig is of wat nie beoog om die belang van die lid in die korporasie ooreenkomstig die bepalings van hierdie Wet binne 28 dae na ampsaanvaarding deur hom of haar aan iemand anders oor te dra nie, moet binne daardie tydperk of enige verlengde tydperk wat die Registrateur op sy of haar aansoek toestaan, die bestaande lid of lede van die korporasie versoek om ooreenkomstig artikel 15 (1) 'n gewysigde stigtingsverklaring wat hom of haar, nomine officii , as verteenwoordiger van die betrokke lid aanwys, by die Registrateur in te dien.

Waar die korporasie geen ander lid het nie, moet so 'n verteenwoordiger self, onder die omstandighede in paragraaf (c) beoog, namens die korporasie ooreenkomstig die bepalings van artikel 15 (1), gelees met genoemde paragraaf (c) , optree.


Die bepalings van paragrawe (c) en (d) raak nie die bevoegdheid van so 'n verteenwoordiger om, vanaf sy of haar ampsaanvaarding, en hetsy so 'n gewysigde stigtingsverklaring ingedien is al dan nie, die betrokke lid in alle aangeleenthede waarin hyself as lid sou kon optree, te verteenwoordig nie, totdat die belang van daardie lid in die korporasie ooreenkomstig die bepalings van hierdie Wet aan 'n ander bevoegde persoon oorgedra is.


[10] Die eerste respondent het versuim om stappe te neem om as lid geregistreer te word, soos in a. 29(3)(c) voorsien word. Hy beweer nietemin hy dat die effek van a. 29(3)(e) van die Wet is dat hy, as eksekuteur, geken moes word in enige voorneme deur die korporasie om enige regsverrigtinge in te stel en dat hy die geleentheid gegun moes word om op 'n vergadering van lede die stemreg wat wyle La Grange as geregistreerde lid sou kon uitoefen, namens die oorledene uit te bring. Dit moet ook gemeld word dat ondanks sy kennis dat die eerste respondent as die eksekuteur van wyle La Grange se boedel aangestel is, Van Tonder, as die oorlewende lid, niks ingevolge a. 29(3)(b) gedoen het om hom in staat te stel om 'n gewysigde stigtingsverklaring, wat eerste respondent as verteenwoordigende lid sou aandui, by die Registrateur in te handig nie.


[11] Die appellant se prokureur betwis die stelling dat die besluit deur Van Tonder dat die korporasie regsverrigtinge sou instel vir die uitsetting van respondente van die korporasie se plaas die eerste respondent se goedkeuring moes dra om effektief te wees. Met beroep op die bepalings van aa. 46(a),(b) en (e) en 54 van die Wet betoog hy dat Van Tonder die enigste lid van die korporasie was ten tye van die instelling van die aansoek en dat hy daarom volle seggenskap oor die korporasie se doen en late gehad het. Hy voer verder aan dat Van Tonder in elk geval, as lid met gelyke reg tot deelname in die bedryf van die besigheid van die korporasie, deur die Wet gemagtig was om die verrigtinge uit eie beweging namens die korporasie in te stel.



[12] Artikel 46 van die Wet bepaal:



46 Veranderbare reels betreffende interne verhoudings

Die volgende reels is ten opsigte van interne verhoudings in 'n korporasie van toepassing vir sover hierdie Wet of 'n samewerkingsooreenkoms ten opsigte van die korporasie nie anders bepaal nie-

(a) Elke lid is geregtig om deel te neem aan die dryf van die besigheid van die korporasie;

(b) behoudens die bepalings van artikel 47 het lede gelyke regte met betrekking tot die bestuur van die besigheid van die korporasie en met betrekking tot die bevoegdheid om die korporasie te verteenwoordig by die dryf van sy besigheid: Met dien verstande dat die skriftelike toestemming van 'n lid wat 'n ledebelang van minstens 75 persent, of van lede wat tesame minstens daardie persentasie van die ledebelange, in die korporasie hou, vereis word vir-

(i) 'n verandering van die vernaamste besigheid wat deur die korporasie gedryf word;

(ii) 'n beskikking oor die hele, of wesenlik die hele, onderneming van die korporasie;

(iii) 'n beskikking oor al, of die grootste gedeelte van, die bates van die korporasie; en

(iv) enige verkryging of vervreemding van onroerende eiendom deur die korporasie;

(c) verskille tussen lede oor aangeleenthede in verband met 'n korporasie se
besigheid word deur 'n meerderheid van stemme op 'n vergadering van lede van die
korporasie beslis;

(d) op 'n vergadering van lede van 'n korporasie het elke lid die aantal stemme wat ooreenstem met die persentasie van sy of haar belang in die korporasie;

(e) 'n korporasie vergoed elke lid ten opsigte van uitgawes deur hom of haar aangegaan of aangegaan te word-

(i) by die gewone en behoorlike dryf van die besigheid van die korporasie; en

(ii) met betrekking tot enigiets wat gedoen is of gedoen staan te word vir die
bewaring van die besigheid of eiendom van die korporasie;

en

(f) betalings deur 'n korporasie aan sy lede slegs uit hoofde van hulle lidmaatskap
ingevolge artikel 51(1) moet vir die bedrae wees en geskied op die tye waaroor die
lede van tyd tot tyd ooreenkom, en sodanige betalings word aan die lede gedoen in
verhouding tot hulle onderskeie belange in die korporasie.


en a 54 bepaal soos volg:



54 Bevoegdheid van lede om korporasie te bind

(1) Behoudens die bepalings van hierdie artikel is elke lid van 'n korporasie ten opsigte van iemand wat nie 'n lid is nie en met die korporasie sake doen, 'n verteenwoordiger van die korporasie.

(2) 'n Handeling van 'n lid bind 'n korporasie, hetsy sodanige handeling verrig word vir die dryf van die besigheid van die korporasie al dan nie, tensy die lid wat aldus handel in werklikheid geen bevoegdheid het om namens die korporasie in die besondere aangeleentheid te handel nie en die persoon met wie die lid sake doen, kennis dra of redelikerwys kennis behoort te dra van die feit dat die lid geen sodanige bevoegdheid het nie.

[13] Die appellant se prokureur het betoog dat a. 46 aan elke lid volmag verleen om na eie goeddunke namens die korporasie op te tree. Hy het ook betoog dat a.54 tot gevolg het dat derde partye gebonde is om te aanvaar dat enige lid wat voorgee om namens 'n beslote korporasie op te tree wel daartoe gemagtig is.

Benadering


[14] Ingevolge a. 2 van die Wet is 'n geregistreerde beslote korporasie 'n regspersoon. Dit bring mee dat die korporasie 'n regspersoonlikheid van sy eie het wat apart en onderskeibaar van die van sy lede is. In hierdie opsig is 'n beslote korporasie juridies net soos 'n maatskappy1 of 'n ingelyfde assosiasie en verskil dit in aard van 'n vennootskap. Soos in die geval van enige ander regspersoon hang die beslissings en optrede van 'n beslote korporasie af van die besluite van die natuurlike persone wat dit beheer. 'n Onhoudbare situasie sou ontstaan as die besigheid van regspersone nie op 'n samehangende wyse gevoer word deur die mense in beheer daarvan nie. Dit beteken dat elke sodanige mens slegs binne sy of haar magte ingevolge die statuut of stigtingsverklaring van toepassing op die regspersoon ter sake kan optree. Waar daar 'n meervoud van mense in beheer is met gelyke magte om die regspersoon se sake te bedryf kan die regspersoon samehangend funksioneer slegs as sy beslissings en optrede deur 'n beslissende stem in 'n vergadering van sodanige mense bepaal word. As dit anders was sou dit onmoontlik wees om 'n doeltreffende onderskeid te tref tussen die handelinge en bedoelinge van 'n regspersoon en die van elkeen vandie verskeie natuurlike persone wat ten opsigte daarvan 'n individuele bestuursfunksie het.


[15] Na my oordeel le die appellant se prokureur se betoog oormatige klem op a. 46(a) en die eerste gedeelte van a. 46(b) en toon dit onvoldoende inagneming van die bepalings van paragrawe (c) en (d) van die artikel. Die bepalings van a. 46 van die Wet moet natuurlik op 'n kontekstueel samehangende wyse uitgele word. As hulle op die aangewese manier benader word is dit duidelik dat elke lid van 'n beslote korporasie, anders as in die geval van 'n maatskappy waar die daaglikse bedrywighede van die maatskappy deur die direkteure beheer en bestuur word, geregtig is om direk betrokke te wees in die bestuur van die korporasie (mits daar nie 'n samewerkingsooreenkoms is wat tot die teendeel bepaal nie). Die verlening van die reg tot deelname aan elke lid is nie gelyk aan die verlening van 'n reg om beslissings namens die korporasie te maak sonder inagneming van die ander lede of hulle verteenwoordigers nie. Paragrawe (c) en (d) bepaal inderdaad die teendeel: beslissings van 'n beslote korporasie word geneem deur

'n meerderheid van die stemregte wat by 'n ledevergadering uitgebring is. Die reg van deelname bring mee dat elke lid geregtig is om kennisgewing van enige vergadering van lede te kry en om enige sodanige vergadering by te woon, en om sy of haar stemreg by die vergadering te uit te oefen.


[16] In Mall (Cape) (Pty) Ltd v Merino Ko-operasie Bpk 1957 (2) SA 347 (C) het hierdie hof in 'n uitspraak deur die Volbank homself soos volg uitgelaat (te bl. 351D-352B) ten opsigte van die instelling van regsverrigtinge deur regspersone ('artificial persons'):



'In such a case there is judicial precedent for holding that objection may be taken if there is nothing before the Court to show that the applicant has duly authorised the institution of notice of motion proceedings (see for example Royal Worcester Corset Co v Kesler's Stores, 1927 CPD 143; Langeberg Ko-operasie Beperk v Folscher and Another, 1950 (2) SA 618 (C)). Unlike an individual, an artificial person can only function through its agents and it can only take decisions by the passing of resolutions in the manner provided by its constitution. An attorney instructed to commence notice of motion proceedings by, say, the secretary or general manager of a company would not necessarily know whether the company had resolved to do so, nor whether the necessary formalities had been complied with in regard to the passing of the resolution. It seems to me, therefore, that in the case of an artificial person there is more room for mistakes to occur and less reason to presume that it is properly before the Court or that proceedings which purport to be brought in its name have in fact been authorised by it.

There is a considerable amount of authority for the proposition that, where a company commences proceedings by way of petition, it must appear that the person who makes the petition on behalf of the company is duly authorised by the company to do so (see for example Lurie Brothers Ltd v Arcache, 1927 NPD 139, and the other cases mentioned in Herbstein and van Winsen, Civil Practice of the Superior Courts in South Africa at pp. 37, 38). This seems to me to be a salutary rule and one which should apply also to notice of motion proceedings where the applicant is an artificial person. In such cases some evidence should be placed before the Court to show that the applicant has duly resolved to institute the proceedings and that the proceedings are instituted at its instance. Unlike the case of an individual, the mere signature of the notice of motion by an attorney and the fact that the proceedings purport to be brought in the name of the applicant are in my view insufficient. The best evidence that the proceedings have been properly authorised would be provided by an affidavit made by an official of the company annexing a copy of the resolution but I do not consider that that form of proof is necessary in every case. Each case must be considered on its own merits and the Court must decide whether enough has been placed before it to warrant the conclusion that it is the applicant which is litigating and not some unauthorised person on its behalf. Where, as in the present case, the respondent has offered no evidence at all to suggest that the applicant is not properly before the Court, then I consider that a minimum of evidence will be required from the applicant (cf. Parsons v Barkly East Municipality, supra; Thelma Court Flats (Pty.) Ltd v McSwigin 1954 (3) SA 457 (C) ).'

Hierdie passasie is telkemale goedgekeur in daaropvolgende uitsprake van die howe landswyd.2


[17] Die appellant se prokureur het aan die hand gedoen dat die beginsels in die passasie aangehaal uit die uitspraak in Mall nie van toepassing is in die geval van 'n beslote korporasie nie, aangesien 'n korporasie nie 'n statuut het nie. Hierdie betoog hou nie water nie. In die geval van 'n beslote korporasie staan die bepalings van die Wet, tesame met enige tersaaklike bepalings van enige samewerkingsooreenkoms soos deur die Wet beoog, in die plek van die 'constitution' waarna Watermeyer R in Mall te 351E verwys het. Die Wet en die tersaaklike bepalings van enige samewerkingsooreenkoms bepaal hoe die lede namens die korporasie kan optree. Enige besluit deur 'n beslote korporasie om regsverrigtiginge in te stel moet deur sy lede geneem word ingevolge die besluitsnemingsmeganisme soos bepaal in die Wet, gelees, indien gepas, tesame met enige samewerkingsooreenkoms wat ter sake mag wees.


[18] Die wilsuiting van 'n beslote korporasie word weergegee in 'n beslissing wat die ondersteuning het van 'n meerderheid van die stemme van sy lede. Die aantal stemme wat 'n lid kan uitbring stem ooreen met die persentasie van sy of haar ledebelang in die korporasie. Cf. De Franca v Exhaust Pro CC (De Franca Intervening) 1997 (3) SA 878 (SE). Insover dit die instelling van verrigtinge namens 'n korporasie betref, is die enigste uitsondering op hierdie beginsel die waarvoor voorsiening gemaak is ingevolge a. 50(1) van die Wet. Daar is tereg geen suggestie deur enige van die partye dat a. 50 van die Wet in hierdie saak van toepassing is nie. Selfs in die geval waar verrigtinge deur 'n lid namens die korporasie ingevolge a. 50 ingestel word, kan dit gebeur slegs nadat die betrokke lid eers al die ander lede in kennis gestel het van sy voorneme.

[19] In die huidige geval was dit nie moontlik vir Van Tonder, wat 'n 50% ledebelang het, om op sy eentjie 'n meerderheids beslissing te behaal nie. Die betoog deur die appellant se prokureur was egter dat Van Tonder in die besondere omstandighede die enigste lid was wat bevoeg was om sy stem uit te bring en dat sy beslissing gevolglik die goedkeuring gedra het van 100% van die lede wat op daardie stadium stemgeregtig was. Na my oordeel sien hierdie betoog die bepalings van aa. 29(3)(e) en 48 van die Wet oor die hoof. Artikel 29(3)(e) is reeds hierbo aangehaal3 Artikel 48 maak voorsiening soos volg (ek haal slegs die sub-artikels aan wat hier tersaaklik is):



48 Vergaderings van lede

(1) 'n Lid van 'n korporasie kan by kennisgewing aan elke ander lid en elke ander persoon wat geregtig is om 'n vergadering van lede by te woon, 'n vergadering van lede bele vir 'n doel wat in die kennisgewing bekend gemaak word.

(2) Tensy 'n samewerkingsooreenkoms anders bepaal-

(a) moet 'n kennisgewing in subartikel (1) bedoel, wat betref die datum, tyd en plek van die vergadering, 'n redelike datum en tyd, en 'n plek wat redelikerwys geskik is vir alle persone wat geregtig is om die bepaalde vergadering by te woon, vasstel;

(b) maak drie-kwart van die lede wat persoonlik op die vergadering teenwoordig is, 'n kworum uit; en

(c) kan slegs lede wat persoonlik op die vergadering teenwoordig is, op daardie vergadering stem.

(5) (a) 'n Korporasie moet 'n verslag van die verrigtinge

op 'n vergadering van sy lede binne 14 dae na die datum waarop die vergadering gehou is in 'n notuleboek aanteken wat by die geregistreerde kantoor van die korporasie gehou moet word.

(b) 'n Skriftelike besluit deur al die lede onderteken en in die notuleboek ingeskryf, is so geldig en effektief asof dit op 'n vergadering van lede wat behoorlik bele en gehou is, geneem is.

[20] Die eerste respondent is ongetwyfeld 'n 'verteenwoordiger' soos in a. 29(3)(e) van die Wet bedoel. Die effek van a. 29(3)(e) is dat sodanige verteenwoordiger vanaf die datum van sy of haar aanstelling as kurator van 'n insolvente boedel, administrateur, eksekuteur of ander kurator, wat ookal die geval mag wees, die bevoegdheid het om die betrokke lid - in hierdie geval wyle Mnr La Grange - te verteenwoordig in alle aangeleenthede waarin hyself as lid sou kon opgetree het. Dit bring mee dat die eerste respondent geregtig was om met betrekking tot die bedrywighede van die korporasie op te tree asof hy 'n geregistreerde lid van die korporasie was, ondanks die feit dat 'n gewysigde stigtingsverklaring nie geregistreer is nie.4 Hierdie toedrag van sake sal voortduur totdat die ledebelang van die oorledene oorgedra word aan 'n ander bevoegde persoon, soos beoog in a. 35 van die Wet. 'n Eienskap van hierdie verteenwoordigende mag is dat die eerste respondent geregtig is om kennis te ontvang van enige vergadering van lede. Hy is ook geregtig om enige sodanige vergadering by te woon en die stemreg wat aan die oorledene se ledebelang heg by die vergadering uit te bring. Na my oordeel is die eerste respondent derhalwe 'n 'ander persoon wat geregtig is om 'n vergadering van lede by te woon' soos in a. 48(1) van die Wet bedoel.5


[21] Dit is gemeensaak dat die eerste respondent nie die geleentheid gegun was om 'n ledevergadering by te woon waar 'n beslissing om die aansoek in die hof a quo in te stel oorweeg sou word nie. Klaarblyklik sou hy nie daartoe ingestem het nie. Van Tonder sou nie as gevolg van die eerste respondent se teenstand sonder 'n regsremedie gelaat word nie. Hy kan regsverrigtinge in sy eie naam instel om sy beweerde regte ingevolge sy ooreenkoms met wyle Mnr La Grange af te dwing. In der waarheid lyk dit vir my of die aansoek wat Van Tonder in die naam van die korporasie geloods het eintlik deur hom bedoel was as surrogaat vir 'n eis om afdwinging van die omstrede ooreenkoms.


[22] Onder die omstandighede is dit duidelik dat die verrigtinge nie deur die korporasie gemagtig was nie. Volledigheidshalwe moet ek meld dat die appellant se prokureur se beroep op a. 54 nie die saak verder vat nie. Daardie bepaling het niks met die magtiging van lede om die korporasie te verteenwoordig te make nie. Die doel van a. 54 is die beskerming van bona fide derde partye wat in die loop van besigheid handel met lede van beslote korporasies wat oenskynlik namens die korporasie optree. Dat die bepaling geen magtiging aan 'n individuele lid verleen wat hy/sy andersins nie sou gehad het ingevolge die Wet of 'n samewerkingsooreenkoms nie blyk onomwonde uit die bepalings van a. 54(2). Dit is duidelik dat beskerming deur die artikel nie aan 'n derde party buitestander gebied word wat weet of redeliker wyse behoort te weet dat die lid wat voorgee om namens die korporasie op te tree inderwaarheid nie daartoe gemagtig is nie. Artikel 54 van die Wet word as volg in Meskin, Henochsberg on the Close

Corporations Act (Issue 21, te Com-149) beskrywe: 'The rationale behind s 54 is to protect the interests of third parties who deal with the corporation through a member, unaware that he/she has no authority torepresent the corporation, and who are not negligent in failing to establish the true position.'


[23] Die slotsom dat die verrigtinge nie deur die korporasie gemagtig was nie beteken dat ons nie geroepe is om in hierdie uitspraak met die kwessie van die omstrede okkupasie van 'n gedeelte van die korporasie se grond deur die tweede respondent te handel nie.


[24] Gevolglik behoort die appel van die hand gewys te word. Vir die redes wat in die uitspraak van die geleerde regter van eerste instansie uiteengesit is, is dit gepas dat Mnr Van Tonder persoonlike aanspreeklikheid vir betaling van die respondente se gedingskoste moet aanvaar.


[25] Ek sou die volgende bevel maak:

1. Die appel word van die hand gewys met koste.

2. Mnr Alfred Snyman Van Tonder, die deponent tot die funderende eedsverkaring in die aansoek in die hof a quo, word gelas om die respondente se gedingskoste in die appel de bonis propriis te betaal.




BINNS-WARD, R

LOUW R:

Ek stem saam en dit word so gelas.




LOUW, R

SALDANHA R:

Ek stem ook saam.


SALDANHA, R

1Cf. Airport Cold Storage (Pty) Limited v Ebrahim and Others 2008 (2) SA 303 (C) at para. [17].

2Sien ook 'n latere Volbank beslissing van hierdie hof in Yiba and Others v African Gospel

Church 1999 (2) SA 949 (C) te 957H -958H

3In para. [9].

4'Indien die [oorlye] lid se ledebelang nie binne 28 dae na ampsaanvaarding deur die trustee aan iemand anders oorgedra is nie, moet hy die bestaande lid of lede versoek om n gewysigde stigtingsverklaring in te dien waarin hy nomine officii aangedui word as die verteenwoordige van die betrokke lid. Maar selfs in die afwesigheid van so n gewysigde stigtingsverklaring is sodanige "verteenwoordiger" bevoeg om die [oorlye] lid te verteenwoordig tot tyd en wyl die betrokke ledebelang aan n bevoegde persoon oorgedra is'; aldus Celliers et al Close Corporations Service (Butterworths LexisNexis, ed. Benade et al) [Uitgawe 28 te 3-6].

5 In Meskin, Henochsberg on the Close Corporations Act (ed JA Kunst) word die waarneming gemaak mbt tot a.48(1) van die Wet 'The Act contains no provisions according a right to anyone who is not a member to attend a meeting of members. Such a right is not accorded even to the accounting officer if he is not a member of the corporation. Presumably, the intention here is to refer to a person who is not a member but who in terms of an agreement (whether or not it is an association agreement or an agreement envisaged by s 44(3)) is accorded such a right, eg a proxy of a member where in terms of an association agreement vote by proxy is permissible'. Dit skyn vir my, met eerbied, dat die geleerde redakteur die bepalings van a. 29(3)(e) van die Wet in hierdie opsig oor die hoof gesien het. 'n Verteenwoordiger ingevolge a. 29(3)(e) is sekerlik nie 'n lid (soos omskryf) nie, maar is wel bevoeg om op te tree asof hy/sy 'n lid is.

▲ To the top