S v Hendricks (297/1992) [1993] ZASCA 102 (27 August 1993)


Saak No 297/92 (WPA)

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen

YUSUF HENDRICKS 1ste APPELLANT

SAM JACOBS 2de APPELLANT

IVAN GEORGE 3de APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: HEFER, MILNE et EKSTEEN ARR

AANGEHOOR: 11 NOVEMBER 1991, 2 MAART 1992 en

24 AUGUSTUS 1993 GELEWER : 27 AUGUSTUS 1993.

UITSPRAAK HEFER, AR:

2

Die appèl van die huidige twee appellante is in 'n vorige uitspraak ooreenkomstig Reël 7(3) van die Reëls van hierdie hof van die hand gewys. Sedertdien het dit geblyk dat die kennisgewing van verhoor wat op die oog af voldoen het aan die vereistes van Hofreël 7(2), inderdaad gebrekkig was. In die lig hiervan het die hof geen bevoegdheid gehad om die appèl van die hand te wys nie en moet die betrokke bevel as nietig beskou en geïgnoreer word (S v Absalom 1989(3) SA 154 A op 164 E-G).

Om verwarring te voorkom sal na die appellante by name ("Hendricks" en "Jacobs") verwys word. In die vorige uitspraak is aangedui dat die enigste vraag is of die Staat bo redelike twyfel bewys het dat Hendricks en Jacobs en hulle eertydse mede-appellant ("Ivan George") lede was van die bende wat 'n supermark op 2 November 1985 beroof het. Verder

3

is gewys op gebreke in die getuienis van die staatsgetuies wat oor die identiteit van die rowers getuig het. Net soos die geval was met Ivan George, is hulle getuienis nie voldoende om Hendricks of Jacobs met die roof te verbind nie. Die uitslag van die appèl hang, wat hulle betref, af van die toelaatbaarheid van bekentenisse deur beide van hulle wat ten spyte van beswaar as getuienis teen hulle toegelaat is. Die grond vir hulle besware en die verloop van die binneverhore wat dit tot gevolg gehad het, was wesenlik dieselfde as dië van Ivan George wat in die vorige uitspraak beskryf is. Ook wat hulle betref, behels die appèl dus niks meer nie as 'n ondersoek na die Streeklanddros se geloofwaardigheidsbevindings in die binneverhore. In die vorige uitspraak is reeds aangedui waarom sy bevinding ten opsigte van Ivan George nie ondersteun kan word nie en wat nou oorbly, is die vraag tot

4

watter mate hierdie hof se reeds uitgesproke kritiek Hendricks en Jacobs se gevalle ook raak.

Jacobs se saak verskil van Ivan George s'n tot die mate dat die aanklaer hom wel gekruisvra het aan die hand van die distriksgeneesheer se verslag. Wat egter opvallend is, is dat die kruisondervraging nie betrekking gehad het op beserings waaroor Jacobs getuig het nie; wat aan hom gestel is, kom daarop neer dat die distriksgeneesheer geen beserings aan dele van sy liggaam gevind het nie waar Jacobs in elk geval nie getuig het dat hy beseer was nie! Word verder in ag geneem dat Jacobs se bekentenis aan 'n polisieoffisier gemaak is en dat die Staat gevolglik opgesaal was met die las om bo redelike twyfel te bewys dat dit vrywillig geskied het, word die versuim om die distriksgeneesheer te roep nog meer belangrik as wat dit in Ivan George se geval was. Jacobs was een van dié wat by sy eerste

5

verskyning in die landdroshof beweer het dat hy aangerand was en wou selfs sy beserings aan die landdros vertoon (dit was juis die rede waarom hy en die ander na die distriksgeneesheer vir ondersoek verwys is) en by die verhoor was hy bereid om te beweer dat die distriksgeneesheer inderdaad beserings gevind het, welwetend dat so 'n bewering maklik en afdoende weerlê sou kon word indien dit nie waar was nie. Die gevolgtrekking is onvermydelik dat die distriksgeneesheer nie geroep is nie omdat hy die Staat se saak nie kon ondersteun nie. Jacobs se bekentenis behoort ook nie toegelaat te gewees het nie.

Hendricks se saak word nie geraak deur die

versuim om die distriksgeneesheer te roep nie. Hy

is vier dae voor die ander gearresteer en was nie

onder diegene wat fisies ondersoek is nie. Trouens,

in sy getuienis het hy erken dat hy geen beserings

6

gehad het na sy beweerde aanranding nie. In sy geval word ons bloot op grond van die inherente waarde van sy eie getuienis teenoor dié veral van Adjudant-offisier Hertz gevra om in te meng met die verhoorhof se geloofwaardigheidsbevinding. Ek is nie bereid om dit te doen nie. Die beste wat Hendricks se advokaat kon doen by wyse van kritiek oor Hertz se getuienis was om te verwys na aspekte waarop ander staatsgetuies hom weerspreek. Sommige van die weersprekings is beuselagtig en almal volkome verklaarbaar en alles behalwe suspisiewekkend. Daarenteen hang daar 'n vraagteken oor etlike aspekte van Hendricks se eie getuienis. Minstens twee gedeeltes daarvan - dat hy voorgesê is oor die inhoud van die bekentenis en sy ontkenning in die binneverhoor van enige kennis van 'n geel motor wat hy, volgens sy eie latere erkenning, 'n dag na die roof gekoop het - was ongetwyfeld leuenagtig.

7

Origens skep die lees van sy getuienis sekerlik nie die indruk van 'n geloofwaardige getuie nie. Die bekentenis is aan 'n landdros gemaak en voldoen aan die ander vereistes van Art 217(1)(b)(i) en (ii) van die Strafproseswet. Waar die bewyslas gevolglik op die verdediging gerus het, bestaan daar - gedagtig aan wat reeds gesê is en die verhoorhof se nadelige bevindings - geen rede om sy weergawe bo die van die staatsgetuies te verkies nie of met sy skuldigbevinding in te meng nie. Bygevolg word -

  1. Hendricks se appèl van die hand gewys.

  2. Jacobs se appèl gehandhaaf en sy skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel.

J J F HEFER AR.

MILNE AR ) STEM SAAM EKSTEEN AR )

▲ To the top