S v Levey (473/1992) [1993] ZASCA 113 (6 September 1993)


Saaknommer : 473/92 N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ALEXANDER CHARLES LEVEY Appellant

en

DIE STAAT Respondent

SMALBERGER, AR :-

Saaknommer : 473/92 N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

ALEXANDER CHARLES LEVEY Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, VIVIER,

et GOLDSTONE, ARR

VERHOORDATUM: 31 AUGUSTUS 1993

LEWERINGSDATUM: 6 SEPTEMBER 1993

UITSPRAAK SMALBERGER, AR:-

Die appellant, tesame met vier mede-beskuldigdes, het in die Streekhof (sittende te Koffiefontein) op vyf aanklagte van diefstal tereggestaan. Hy het op twee van die aanklagte skuldig gepleit; die ander drie is teen hom teruggetrek. (Dit

2

is nie nodig om oor die gebeure rakende sy mede-beskuldigdes uit te wei nie.) In 'n skriftelike verklaring deur hom geteken wat kragtens art 112 van Wet 51 van 1977 ingehandig is, het die appellant erken (1) dat hy in Oktober 1989 'n rol elektriese hoogspanningskabel ter waarde van R3 949-92 van die Koffiefontein se Munisipaliteit gesteel het, en (2) dat hy (blykbaar in November 1989) onderdele met 'n vervangingswaarde van R50 820-00 vanuit 35 pompe op die perseel van die De Beers-myn te Koffiefontein gesteel het. Hy het ook erken dat hy die gesteelde goedere aan 'n skroothandelaar in Welkom verkoop het. (Die goedere, terloops, is nooit weer teruggekry nie.) Na skuldigbevinding is die twee aanklagte vir die doeleindes van vonnis saamgevat en is die appellant tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan een jaar voorwaardelik opgeskort is. Die appellant se appèl

teen sy vonnis na die Oranje-Vrystaatse Provinsiale


3

Afdeling is (luidens 'n meerderheidsbeslissing) van die hand gewys. Hy is egter verlof verleen om na hierdie Hof te appelleer.

Die appellant is 'n eerste oortreder. Hy was 32 jaar oud toe hy die misdade gepleeg het. Hy is getroud en het drie jong kinders. Ten tyde van sy verhoor was hy as 'n boorvoorman werksaam met 'n netto salaris van R2 100-00 per maand. Die verhoorlanddros het in sy guns aanvaar dat omdat hy skuldig gepleit het en oop kaarte met die hof gespeel het, hy 'n mate van berou vir sy wandade getoon het. By die bepaling van 'n gepaste vonnis sou die appellant se persoonlike omstandighede dus sterk in sy guns getel het.

Dit is egter nie al waarop gelet moet word nie. Daar moet ook behoorlik op die misdaad en die belange van die gemeenskap ag geslaan word. Die appellant het hom skuldig gemaak aan twee diefstalle. Hulle is nie op die ingewing van die oomblik gepleeg nie

4

maar is deur beplanning voorafgegaan. Hulle het ook oor 'n tydperk geskied, en daar was ruim geleentheid vir die appellant om oor sy optrede te besin. Vanweë die appellant se toedoen is daar van sy werknemers by die misdade betrek. Die waarde van die gesteelde goedere was aansienlik. Daar is geen suggestie dat die appellant vanweë nood of enige tekort beweeg is om die misdade te pleeg nie - sy motief was klaarblyklik selfverryking. Wat die tweede aanklag betref, het die appellant toegang tot die mynperseel gehad omdat hy besig was om 'n subkontrak daar uit te voer. Hy het die geleentheid wat hom in die verband gebied is, misbruik en sodoende die vertroue wat in hom gestel is, geskend. Optrede soos dié waaraan die appellant hom skuldig gemaak het, bring noodwendig die misnoeë van die gemeenskap mee.

Ofskoon ons howe poog om sover moontlik 'n eerste oortreder uit die gevangenis te hou, kan 'n

5

eerste oortreder nie sonder meer op 'n vonnis van nie-gevangesetting aanspraak maak nie. In gepaste gevalle is gevangenisstraf selfs vir eerste oortreders die aangewese straf. Alles hang van die feite en omstandighede van die bepaalde geval af. Waar 'n verhoorhof gevangenisstraf as gepaste straf beskou, kan hierdie Hof nie na willekeur daaarmee inmeng nie. Dit is geykte reg dat hierdie Hof 'n begrensde bevoegdheid het om met die uitoefening van 'n verhoorhof se diskresie met betrekking tot vonnis in te meng. Inmenging kan alleenlik geskied in die geval van 'n wesenlike mistasting of 'n onreëlmatigheid, of waar die opgelegde vonnis ontstellend of skokkend onvanpas is.

Die verhoorlanddros se uitspraak toon 'n ewewigtige beskouing van die tersaaklike oorwegings by vonnisbepaling. Hy het deeglik aandag gegee aan moontlike alternatiewe tot gevangesetting. Daar is voor die verhoorlanddros, sowel as op appèl, betoog ten

6

gunste van 'n opgeskorte vonnis met terugbetaling van die waarde van die gesteelde goedere as een van die opskortingsvoorwaard.es. Die verhoorlanddros het tereg daarop gewys dat, teen die bedrag van R600-00 per maand wat die appellant beweer hy in staat is om te betaal, hy nie naasteby die waarde van die goedere sou kon terugbetaal oor die maksimum opskortingstydperk van vyf jaar nie. Daar is ook veel te sê vir sy houding dat so 'n straf, wat min meer sal bereik as die gedeeltelike teruggawe van wat gesteel is (altans in waarde), ontoereikend sou wees. Die uiteindelike gevolgtrekking waartoe die verhoorlanddros geraak het, was dat indien hy in die onderhawige geval 'n opgeskorte vonnis of 'n boete sou oplê dit die appellant se persoonlike belange sou oorbeklemtoon.

Daar steek niks in die betoog dat die verhoorlanddros misgetas het deurdat hy nie die appellant se straf geïndividualiseer het nie.


7

Daar was trouens geen mistasting deur hom wat inmenging met die opgelegde vonnis sou regverdig nie. Om te kan slaag in sy appèl moet die appellant ons dus tevrede stel dat sy vonnis skokkend onvanpas is. Gesien die aard, omvang en omstandighede van die diefstalle kan nouliks gesê word dat gevangesetting nie gepas is nie, en is die opgelegde tydperk geensins skokkend nie. Die appèl word afgewys.

J W SMALBERGER APPèLREGTER

VIVIER, AR ) GOLDSTONE, AR ) concur


▲ To the top