Botha v S (438/1992) [1993] ZASCA 129 (23 September 1993)


Saak nr 438/92 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPeLAFDELING)

Tussen

GIDEON JOHANNES BOTHA Appellant

- en -

DIE STAAT Respondenb

CORAM: VIVIER, EKSTEEN ARR et KRIEGLER

Wnd AR.

VERHOOR: 17 September 1993

GELEWER: 23 September 1993

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant het in die Streekhof op Potchefstroom tereggestaan op vyf aanklagte van bedrog (aanklagte 1, 3, 5, 7 en 9) en vyf aanklagte van diefstal (aanklagte 2, 4, 6, 8 en 10). Hy is skuldig bevind op aanklagte 2, 4, 8 en 9 en tot 18 maande gevangenisstraf op elk van die vier aanklagte gevonnis. Die Transvaalse Provinsiale Afdeling het sy appèl teen sy skuldigbevindings afgewys; die appèl teen die vonnisse gehandhaaf en die vonnisse vervang met een van drie jaar gevangenisstraf op al vier die aanklagte; en aan die appellant verlof verleen om teen die skuldigbevindings na hierdie Hof te appelleer.

Gedurende 1989 en 1990 was die appellant lid van 'n beslote korporasie, Wesland Beleggings BK ("Wesland"), wat 'n motorverhurings-besigheid op Potchefstroom bedryf het onder die naam K B Verhurings. Alle sake van Wesland en K B Verhurings is deur die

3

appellant self gedoen. Die voertuie is almal by wyse van kredietooreenkomste verkry en dan weer aan lede van die publiek verhuur. Die Staatsaak was dat in die geval van elke aanklag die appellant die betrokke voertuig verkoop het terwyl hy geweet het dat hy nie die eienaar daarvan was nie en nie geregtig was om dit te verkoop nie.

Die drie voertuie wat ter sprake is by aanklagte 2, 4 en 8, naamlik 'n Toyota Hi-Ace bussie met registrasie-nommer MLC764T, 'n Toyota Corolla met registrasie-nommer NKC445T en 'n Toyota Hi-Ace bussie met registrasie-nommer NFM789T onderskeidelik, is almal van Volkskas Bank Beperk ("Volkskas") gehuur ingevolge huurooreenkomste wat bepaal het dat die huurder na betaling van 'n vasgestelde aantal paaiemente eienaar van die voertuig kon word. Ek sal na hierdie voertuie as die Volkskas-voertuie verwys. Die voertuig wat die onderwerp van aanklag 9 is, 'n Toyota

4

Hi-Ace bussle met registrasie-nommer NLZ932T, is ingevolge 'n soortgelyke ooreenkoms van Wesbank Beperk ("Wesbank") verkry. Dit was gemene saak dat Volkskas die eienaar van die eerste drie voertuie en Wesbank die eienaar van die laaste voertuig was toe hulle na bewering deur die appellant verkoop is.

Voertuig no MLC764T is op 3 Mei 1989 deur Wesland van Volkskas gehuur en op 20 Julie 1989, terwyl daar nog 'n bedrag van ongeveer R25 000 daarop verskuldig was, deur die appellant aan Kyalami Motors ("Kyalami") verkoop. Kyalami het die koopprys per tjek betaal wat deur die appellant in Wesland se bankrekening by die Noordbrug-tak van Volkskas op Potchefstroom inbetaal is. Voertuig no NKC445T is op 19 Mei 1989 gehuur van Volkskas en op 17 November 1989, terwyl daar nog ongeveer R6 000 daarop verskuldig was, aan Kyalami vir die bedrag van R2 5 000 verkoop. 'n Tjek vir daardie bedrag is op dleselfde datum deur

5

Kyalami aan K B Verhurings uitgemaak en in Wesland se gemelde bankrekening gedeponeer. Voertuig no NFM789T is op 9 Maart 1989 gehuur en op 2 Februarie 1990, terwyl ongeveer R35 000 nog daarop verskuldig was, aan Kyalami verkoop vir die bedrag van R35 000. Kyalami het dieselfde dag vir die voertuig betaal met 'n tjek wat uitgemaak is aan Wesland en in laasgenoemde se gemelde bankrekening inbetaal is.

Die bestuurder van die betrokke tak van Volkskas, mnr Van Eck, het by die verhoor getuig dat hy in April 1990 vasgestel het dat die drie Volkskas-voertuie deur die appellant aan Kyalami verkoop is. Toe hy die appellant daarmee konfronteer het laasgenoemde dit aanvanklik probeer ontken. Van Eck het daarop aangedring dat Volkskas betaal word, en op 11 Mei 1990 het Kyalami die verskuldigde bedrae van R23 140 op voertuig no MLC764T en R35 553 op voertuig no NFM789T aan Volkskas betaal terwyl die appellant

6

die balans van R6 028 ten opsigte van voertuig no NKC445T betaal' het. Sowel Van Eck as mev Thompson, wat in beheer van die paaiemente-krediet by Volkskas se gemelde tak was, het getuig dat die appellant geen reêlings met Volkskas getref het dat geld uit enige lopende bankrekening onder sy beheer aangewend word vir die betaling van die bedrae verskuldig ten opsigte van die betrokke voertuie nie.

Mnr Redelinghuys, die verkoopbestuurder van Kyalami, het getuig dat hy geweet het dat daar nog geld aan Volkskas verskuldig was op al drie voertuie, maar hy het aangeneem dat die appellant dit sou betaal met die geld wak hy van Kyalami vir die voertuie ontvang het. Hy hek eers later uitgevind dat dit nie gedoen was nie. Omdat Kyalami toe reeds weer die voertuie verkoop heb, was hy verplig om die bedrae verskuldig ten opsigte van twee daarvan aan Volkskas te betaal.

7

Die appellant se verweer op die aanklagte van diefstal van die Volkskas-voertuie was dat Volkskas stilswygend tot die verkopings toegestem het, en verder dat hy vas geglo het dat die opbrengs aangewend is ter delging van die skuld. Hy het getuig dat dit nodig was om van tyd tot tyd die voertuie te vervang. Hy was dan verplig om eers die ou voertuie te verkoop ten einde die uitstaande balans uit die opbrengs te betaal. Op twee vorige geleenthede is voertuie wat van Volkskas gehuur is, eers verkoop en dan betaal. By dié geleenthede het hy vir Van Eck of 'n ander bankamptenaar wat hom gehelp het, gesê dat die ou voertuig verkoop en die opbrengs in sy of Wesland se bankrekening inbetaal moet word om die skuld van die ou voertuig te delg. Hy het dan terselfdertyd Volkskas se tjek ter betaling van die nuwe voertuig ontvang en die nuwe kredietooreenkoms tussen hom en Volkskas geteken. Hy het aanvaar dat Volkskas self die nodige reêlings sou

8

tref om die uitstaande balans op die ou voertuig uit sy bankrekening te betaal. Ek vind die appellant se getuienis oor wat by die vorige twee geleenthede gebeur het moeilik om te aanvaar. Maar dit is in elk geval nie wat in die huidige drie gevalle gebeur het nie. Hier was geen sprake van die vervanging van voertuie nie of van 'n vooraf reëling met Volkskas om 'n nuwe kredietooreenkoms en tjek gereed te kry vir die nuwe voertuig wat in die plek van die oue kom nie. Volkskas was onbewus daarvan dat sy voertuie verkoop is, en daar kan van stilswygende toestemming geen sprake wees nie.

Die Verhoorhof het die appellant se getuienis dat hy 'n reëling met Van Eck getref het om die uitstaande balanse uit sy lopende rekening te betaal, as "deursigtig vals" verwerp. Afgesien van die oortuigende getuienis tot die teendeel van Van Eck en Thompson, bots die appellant se weergawe met die

9

objektiewe feite en is dit totaal onwaarskynlik. Nadat die appellant die Volkskas-voertuie verkoop het, het hy voortgegaan om die maandelikse paaiemente aan Volkskas te betaal, wat onversoenbaar is met sy beweerde reeling met Van Eck. In elk geval is dit ondenkbaar dat die appellant kon gedink het dat Volkskas sonder sy skriftelike opdrag geld uit sy bankrekening kon aanwend ter delging van die betrokke skulde en verder dat hy nie uit sy bankstate sou agtergekom het dat die bedrae, wat aansienlik was, nie betaal is nie. Dit is duidelik dat die appellant voertuie waarvan Volkskas die eienaar was doelbewus vir homself toegeëien het, met daardie optrede volhard het en dat hy die nodige wederregtelikheidsbewussyn gehad het. Hy is gevolglik korrek skuldig bevind aan diefstal van die Volkskas-voertuie.

Ek kom nou by die bedrogaanklag ten opsigte van die voertuig wat die appellant van Wesbank gehuur

10

het (aanklag 9). Reeds teen Julie 1989 was Volkskas nie meer bereid om verder krediet aan die appellant te verleen nie en hy het hom gevolglik na Wesbank gewend. Op 3 Julie 1989 het hy 'n kredietooreenkoms met Wesbank gesluit ten opsigte van voertuig NLZ932T. Op 20 Julie 1990, en terwyl daar nog h bedrag van ongeveer R62 000 op die voertuig uitstaande was, het die appellant besit van die voertuig aan mnr Nkwech afgestaan. Volgens Nkwech het hy die voertuig van die appellant vlr die bedrag van R40 000 gekoop, betaalbaar deur 'n deposito van R18 000 en maandelikse paaiemente van R2 000. Hy het die deposito van R18 000 en drie paalemente van R2 000 elk betaal en kwitansies vir hierdie betalings ontvang. Die voertuig is op sy naam geregistreer nadat die appellant die nodige dokumentasie voltooi en aan hom oorhandig het. Hy het die algemene verkoopbelasting op die voertuig betaal. Daarna het die appellant hom genader en gesê dat die bank die

11

voertuig terugeis en dat hy sy geld sou teruggee. Nkwech het sy prokureur gaan spreek en met sy hulp 'n ooreenkoms met Wesbank bereik waarvolgens hy die voertuig behou en onderneem het om R2 000 per maand op die uitstaande balans af te betaal.

Die appellant se weergawe was dat hy slegs die voertuig aan Nkwech verhuur het. Die bedrag van R18 000 was 'n "versekeringsdeposlto" en die bedrae van R2 000 huurgeld. Hy het verduidelik dat hy aan Nkwech 'n brief van sy versekeraars gewys het waarin gesê is dat die versekering slegs geld indien 'n blanke die voertuig bestuur. Nkwech se reaksie was dat hy 'n bedrag van R18 000 beskikbaar het wat hy nie dadelik nodig het nie en dat die appellant dit kon hou om die voertuig te herstel indien dit beskadig word. Hy het verder sy registrasiesertifikaat aan Nkwech oorhandig sodat laasgenoemde dit op sy naam kon registreer ten einde die nodige permit te bekom. Nkwech het ontken dat die

1 2

appellant ooit melding van enige brief van sy versekeraars gemaak het.

Ek vind die appellant se weergawe dat Nkwech R18 000 rentevry as 'n "versekeringsdeposito" aan hom sou oorhandig het, uiters onwaarskynlik. Daarmee kon Nkwech 'n nuwe voertuig gekoop het, soos hy ook gesê het. Die Verhoorhof het die getuienis van Nkwech aanvaar en die van die appellant verwerp. Die Hof sê dat Nkwech deurgaans 'n gunstige indruk as 'n getuie gemaak het, dat sy weergawe gestaaf word deur die feit dat die voertuig in sy naam geregistreer is en dat dit ook meer waarskynlik is as diê van die appellant. Daar bestaan geen gronde om met die Verhoorhof se bevinding oor geloofwaardigheid in te meng nie. Dit volg dat die appellant ook op hierdie aanklag korrek skuldig bevind is.

Alhoewel die appellant nie verlof gekry het om teen sy vonnis te appelleer nie, is daar namens hom

1 3

betoog dat hierdie Hof met die vonnis moet inmeng. Met verwysing na S v Shenker and Another 1976(3) SA 57(A) op 61D het mnr Malan, namens die Staat, toegegee dat hierdie Hof by magte is om die vonnis te oorweeg al het die appèl teen die skuldigbevindlngs misluk en al was daar nie 'n appèl teen die vonnis nie. Omdat daar in elk geval geen basis is om met die vonnis in te meng nie, is dit onnodig om te beslis of die toegewing korrek gemaak is. Daar is nie namens die appellant op enige wanvoorligting gesteun wat die vonnis betref nie en dit is ook nie so swaar dat inmenging geregverdig is nie.

Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.

EKSTEEN AR)

Stem saam. KRIEGLER Wnd AR)

▲ To the top