S v Venter (432/1992) [1993] ZASCA 132 (23 September 1993)


Saak No. 432/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die appèl tussen :

CHARLES FREDERICK VENTER Appellant (op borg)

en

DIE STAAT Respondent

CORAM : NICHOLAS, KANNEMEYER, HARMS WRRA VERHOOR : 1993-09-17 GELEWER : 1993-09-23

UITSPRAAK

2

KANNEMEYER, WRA

Die appellant het voor 'n streeklanddros tereg gestaan op twee aanklagte, naamlik motordiefstal en bedrog. Hy het sy eie verdediging behartig en het op beide aanklagte skuldig gepleit. Na ondervraging ingevolge artikel 112 (1) van die Strafproseswet, 51 van 1977 is hy op beide aanklagte skuldig bevind. Op die diefstal aanklag is hy tot vier jaar gevangenisstraf, waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort was, gevonnis. Op die bedrog aanklag is hy tot een maand gevangenisstraf, saamlopend met die vonnis op die diefstal aanklag, gevonnis.

Hy het appêl aangeteken teen die vonnis op die diefstal aanklag en ook teen die skuldigbevinding en vonnis op die bedrog aanklag. Die skuldigbevinding en vonnis op die bedrog aanklag is, op appêl, ter syde gestel maar die appël teen die vonnis op die diefstal aanklag is afgewys.

Hy kom nou, met verlof van die hof a guo, in hoër beroep teen die vonnis op die motordiefstal aanklag.

3

Die appellant was 31 jaar oud ten tye van die pleging van die misdaad. Hy is getroud met twee kinders. Sy vrou het hom, as gevolg van die aangeleentheid en sy onvermoë om haar en die kinders ordentlik te onderhou, verlaat maar die huwelik bestaan nog. Hy het geen vorige veroordelings nie. Hy het sy matriek met 'n eerste klas geslaag en is daarna as 'n databasis-administrateur opgelei en het 'n betrekking by De Beers bekom waar sy verdienste uiteindelik R7 000 per maand met 'n gratis huis beloop het.

Hy het later uit hierdie betrekking bedank omrede hy nie 'n verwagte bevordering gekry het nie. Hy het gepoog om 'n soortgelyke betrekking te bekom maar tevergeefs. De Beers wou hom nie terugneem nie en hy het deel van sy pensioengeld gebruik om 'n musieksentrum aan te koop waarmee hy musiek by 'n hotel verskaf het, maar hierdie waagstuk het misluk en hy het in 'n finansiële verknorsing beland.

Uiteindelik het hy 'n betrekking bekom by 'n firma wat, onder andere, motorvoertuie verhuur. Dit was sy werk om

4

klante te werf en vir hierdie doel is hy van 'n motorkar voorsien.

Op 25 November 1991 het hy in die middestad van Johannesburg sy werk verrig. Hy het 'n duplikaat van die motor se sleutel by 'n slotmaker laat sny en die motor in die straat geparkeer. Daarna het hy sy werkgewer gebel en hom meegedeel dat die motor weg is. Die saak is by die polisie aangemeld. Hy het die sleutels van die voertuig aan sy werkgewer terugbesorg en later het hy teruggegaan na die motor en die sleutel wat hy laat sny het, gebruik om dit aan die gang te kry. Hy het dit in sy broer se agterplaas weggesteek en 'n afspraak gemaak met 'n persoon wat, tot sy webe, in gesteelde motors handel, om oor die verkoop van die voertuig te onderhandel. Die appellant skat die waarde van die voertuig op ongeveer R20 000-00. Voordat die beoogde verkoop afgehandel kon word, is die appellant deur die polisie in hegtenis geneem.

Voor ons het Mnr Jacobs namens die appellant

5

eerstens aangevoer dat die landdros 'n mistasting begaan het

deur die saak nie te individualiseer nie, en nie feite eie

aan die appellant te oorweeg nie. Na my mening gaan dit nie

op nie. Nadat hy, in sy uitspraak, die feite gunstig vir die

appellant en dié wat teen hom tel oorweeg het, sê die
landdros :

"Hy kan ongetwyfeld onderskei word van die massa misdadigers wat elke dag daar staan."

Daar is, na my mening, geen rede om te dink dat die landdros dit oor die hoof gesien het toe hy vonnis gevel het nie of dat hy slegs lippediens daaraan verrig het nie.

Dit is ook, namens appellant, aangevoer dat die vonnis buitensporig hoog is. Die appellant is wel 'n eerste oortreder maar daar is faktore wat strafverswarend is. Die appellant was in 'n vertrouensposisie. Dit was 'n beplande misdaad. Voor ons is dit aangevoer dat appellant op die ingewing van die oomblik die misdaad gepleeg het, maar dit is nie so nie. Hy het die duplikaat sleutel laat sny; hy het

6

die motor gaan parkeer en daarna sy werkgewer gebel. Daar was oorgenoeg tyd vir hom om te besin. Die misdaad behels 'n element van bedrog; trouens dit was omdat die bedrog aanklag op 'n vermenigvuldiging van aanklagte neerkom dat die hof a quo dit ter syde gestel het. Nadat hy die motor gesteel het, het hy probeer om daarvan deur middel van 'n heler ontslae te raak. Motordiefstal is 'n baie ernstige misdaad wat volop voorkom. Dit ly geen twyfel nie dat vonnisse vir hierdie tipe misdaad as afskrikmiddel moet dien.

Na my oordeel het die verhoorlanddros geen mistastings begaan nie, en is die opgelegde vonnis nie buitengewoon swaar nie.

Die appèl word afgewys.

KANNEMEYER WRA

NICHOLAS WRA

STEM SAAM HARMS WRA

▲ To the top