S v Ndaba (425/1992) [1993] ZASCA 133 (24 September 1993)


RAPPORTEERBAAR

Saaknommer 425/92 /al

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak van :
TEMBIE NDABA Appellante

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : SMALBERGER, GOLDSTONE ARR

et KRIEGLER WND AR

DATUM VAN VERHOOR : 14 SEPTEMBER 1993

DATUM VAN UITSPRAAK : 24 SEPTEMBER 1993

UITSPRAAK

KRIEGLER WND AJR/...

2 KRIEGLER WND AR:

Hierdie appél gaan net om vonnis. Die appellante en drie ander is in die Johannesburgse landdroshof daarvan aangekla dat hulle op 6 Maart 1990 te Pimville die bepalings van a 2(a) van Wet 41 van 1971 oortree het deur 500 Mandrax-tablette te verkoop. Die appellante se mede-beskuldigdes is ontslaan maar sy is skuldig bevind en gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is vir vyf jaar. Die appellante het toe teen beide skuldigbevinding en vonnis geappelleer maar in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling die appèl teen skuldigbevinding laat vaar. Gemelde hof het die appèl teen vonnis afgewys dog verlof tot verdere appèl verleen.

In hierdie hof is die vonnis namens die appellante op 'n verskeidenheid grondslae bevraagteken. Die primêre submissie was dat gevangenisstraf totaal onvanpas was in die

3 omstandighede. Die siening wat ek op die saak nahou maak dit onnodig om die betoog namens die appellante en die teensubmissies van die kant van die staatsadvokaat in groot besonderheid te ontleed. Op die keper beskou is daar eintlik twee kernvrae, naamlik (i) is gevangenisstraf hier hoegenaamd aangewese en, indien wel, (ii) is die opgelegde vonnis hoegenaamd vanpas? 'n Ontkennende antwoord op enigeen van die twee sou neerkom op 'n bevinding dat die verhoorhof by die uitoefening van sy vonnisdiskresie dermate misgetas het dat hierdie hof opnuut oor die vonnis moet besin.

Ten eerste dan die tersaaklike persoonlike gegewens. Die appellante was 'n eerste oortreder, 30 jaar oud, in 'n vaste betrekking en met vyf afhanklike kinders vir wie sy alleen moes sorg. Haar eggenoot, 'n afgetrede polisieman, was 'n geruime tyd reeds in aanhouding in Transkei en kon nie 'n bydrae lewer nie. Daar was ook tydelike

4 probleme met die uitbetaling van sy pensioen. Hoewel sy dit betreklik knap gehad het, kon sy egter 'n redelik hoë lewenstandaard handhaaf. Sy het byvoorbeeld die verbandpaaiemente op die gesinswoning kon byhou en het haar eie motorkar bestuur. Daar was ook geen suggestie dat geldnood haar na deelname aan die dwelmhandel gedryf het nie. Haar volgehoue ontkenning van enige aandadigheid aan die ten laste gelegde misdaad het trouens enige sodanige aanspraak bemoeilik.

Die tweede tersaaklike oorweging by die beantwoording van die voormelde kernvrae is natuurlik die misdaad waaraan die appellante haar skuldig gemaak het. Die getuienis dienaangaande kan soos volg saamgevat word. 'n Lid van die Suid-Afrikaanse Polisie se dwelmtak word die aand van 6 Maart 1990 deur 'n beriggewer by die appellante se huis aan haar voorgestel as 'n voornemende koper van Mandrax. Die speurder gee te kenne dat hy 500

5 tablette wil koop en onderhandel met haar oor die prys; sy dring egter aan op R10,00 stuk en hy stem daarmee in; daarop maak sy 'n paar telefoonoproepe en spreek met die speurder af om later die aand weer by haar huis te ontmoet; met sy terugkeer gelas die appellante dat die koopsom getel en aan haar oorbetaal word; dit geskied en sy gee te kenne dat sy alleen sou ry om die Mandrax te gaan haal; die speurder dring aan om saam te gaan en volg haar na 'n ander huis in Pimville; sy gaan alleen die betrokke huis binne, waar sy R4 500,00 van die koopsom in ' n vrieskas versteek en die oorblywende R500,00 vir haarself neem. Sy keer terug na buite waar sy drie plastiese houers met 500 Mandrax-tablette aan die speurder as sodanig identifiseer en oorhandig. Die lokval word toegeslaan en die appellante word gearresteer. So ook haar drie mede-beskuldigdes, wat op die toneel was.

6 Die appellante se handelswyse dui daarop dat sy 'n skakel in 'n verskafflngsketting was, cf as lid daarvan óf met geredelike toegang daartce. Dit is ook betekenisvol dat sy 10% van die koopprys vir haarself geneem het. Die omvang van die besending en die f eit dat sy dit laataand en binnekort kon lewer, getuig daarvan dat sy in noue voeling was met betreklik grootskaalse sluikhandel. Terselfdertyd is dit duidelik dat sy sonder huiwering by die transaksie betrokke geraak het en dat sy 'n prosedure voorgeskryf het wat getuig van sorgvuldige veiligheidsmaatreëls. Dit was wel 'n lokval maar daar was geen druk op haar uitgeoefen of versoeking op haar weg geplaas wat haar blaamwaardigheid sou kon afwater nie. Sy het, oënskynlik in eie reg maar ten minste met beslistheid, voet by stuk gehou wat die prysvasstelling en die afleweringsmetode betref. Allerweë kan sy dus nie as 'n blote pion of selfs

7 as 'n deerniswekkende kleinsmous beskou word nie.

Die appellante se rol by die pleging van die misdaad moet dan gesien word teen die agtergrond van die inherente erns daarvan. Dit behoef beswaarlik beredenering dat die gebruik van gewoontevormende middels 'n maatskaplike euwel is, met rampspoedige gevolge vir talle, veral jeugdiges. Die wetgewer beskou dit kennelik so, soos blyk uit die strafbepalings waarvoor Wet 41 van 1971 ("die Wet") voorsiening maak; en dit is by herhaling oor die jare deur hierdie en ander howe beklemtoon. Bowendien verg die instandhouding van behandelings- en rehabilitasiesentra, inligtingsprogramme en dergelike maatskaplike teenvoeters voortdurend groot uitgawes uit die staatskas en deur die private sektor. Dit is ewe oorbodig om opnuut uit te wei oor die merkbaar ernstiger lig waarin die samelewing diegene bejeën wat vir geldelike gewin meedoen aan die verskaffing

8 van dwelms. Nie alleen bevat die Wet besonder swaar strawwe daarvoor nie maar die omskrywing van "handeldryf" in a 1 en die verskeie vermoedens is daarop gemik om die verskaffing van dwelms sover mocntlik hok te slaan. Talle regterlike uitsprake het dan ook ingeskerp dat werklike dwelmhandelaars swaar strawwe verdien.

Daar is ook in die verlede deur beide die wetgewer en die regbank onderskei tussen dagga enersyds en vervaardigde dwelms andersyds. Om historiese en kultuuroorwegings is dagga-oortredings toeskietliker beskou as dié betreffende ander afhanklikheidsvormende stowwe. Die opheffing van die eertydse onderskeid in maksimum strawwe vir dié twee kategoriee dwelms by a 1 van Wet 78 van 1990 beteken nie dat die wetgewer hulle nou gelykstel nie. In wese het die verhoging van die maksima vir beide, en die skrapping van sekere verpligte minima, bloot 'n verbreding van

9 straftoemeters se vonnisopsies tot gevolg gehad.

Daar moet in al die omstandighede met die verhoorhof saamgestem word dat, ondanks die strafversagtende faktore wat hier aanwesig is, die gemeenskap se belang by die bekamping van dié tipe misdaad asook die omstandighede van hierdie besondere pleging daarvan verg dat daar streng bestraffend opgetree word. Oorwegings van afskrikking en vergelding tree so sterk op die voorgrond dat die appellante se eerste oortrederskap en haar rol as moeder/broodwinner onvermydelik 'n mindere rol speel. Die eerste kernvraag word dus bevestigend beantwoord. Dit is inderdaad 'n geval waar selfs 'n hoë boete en geheel opgeskorte gevangenisstraf eenvoudig nie reg sou laat geskied aan die doelstellings van straftoemeting nie.

Die slotsom dat gevangenisstraf aangewese was, laat dan die tweede kernvraag ontstaan, naamlik of

10

die opgelegde vonnis, vanweë die blote omvang daarvan, getuig van 'n onregterlike uitoefening van die verhoorhof se vonnisbevoegdheid. Enersyds volg dit uit die bespreking hierbo dat die inherente erns en hoë insidensie van die misdaad asook die wyse waarop dit in casu gepleeg is 'n lang termyn gevangenisstraf noop. Andersyds is daar verskeie strafversagtende faktore. Die appellante is nou wel nie uitgelok nie maar dit was tog 'n lokval, wat die laakbaarheid van die handeling in 'n mate verminder. Die landdros het ook aanvaar dat dit 'n geïsoleerde geval was. Alhoewel dit my bra onwaarskynlik voorkom en daar geen motivering daarvoor in óf die uitspraak op die meriete óf dié oor vonnis voorkom nie, moet die bevinding vir die doeleindes van die huidige evaluering as korrek aanvaar word. Dan is daar ook die appellante se persoonlike omstandighede wat 'n mate van tempering regverdig. Ofskoon die vereistes van afskrikking

11

en vergelding hier voorop staan, skakel dit nie die strewe na verpersoonlikte straf uit nie. 'n Eerste oortreder van 30 jaar en met 'n vaste betrekking het nie werklik rehabilitasie nodig nie. Daar moet ook in aanmerking geneem word dat gevangenisstraf 'n moeder van jong kinders besonder swaar tref, veral waar, soos hier, die vader nie beskikbaar is om die gesinsorg oor te neem nie.

Bowendien moet daar by die bepaling van die omvang van hierdie oortreder se vonnis rekening gehou word met die orde van die strawwe wat in dergelike gevalle opgelê is. Elke individuele geval moet wel aan die hand van sy besondere omstandighede beoordeel word maar geregtigheid vereis tog dat daar na gelykberegtiging gestreef word. By wyse van algemene rigsnoer kan gekyk word na drie sake waar die hof te make gehad het met vonnisse vir handeldryf in Mandrax. Die eerste is S v Hoosain 1987 (3) SA 1 (A) waar 'n vonnis van 12

12 jaar gevangenisstraf bekragtig is vir 'n eerste oortreder wat maandelank en teen vergoeding van R34 000,00 bykans 100 000 Mandrax-tablette vir 'n internasionale smokkelaar geberg het met die oog op verkoop. Die tweede voorbeeld is S v Jantjies en 'n Ander 1990 (2) SASV 660 (K) waar twee geharde dwelmhandelaars met verskeie vorige veroordelings, vir handeldryf in 1 062 Mandrax-tablette gevonnis is tot agt jaar en ses jaar gevangenisstraf onderskeidelik. Die derde saak is S v Masike 1992 (1) SASV 667 (A), waar die appellant 'n ondergeskikte dog wesenlike rol gespeel het by die verkoop van 250 Mandrax-tablette aan 'n polisielokvink. Sy vonnis is deur hierdie hof verminder na vier jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort is. Klaarblyklik was die gevalle Hoosain en Jantjies baie ernstiger as die onderhawige en die Masike-geval ietwat ligter.

Alles in ag geneem, meen ek dat die vonnis wat

13 hier opgelê is dermate verskil van dié wat ek as oorspronklike straftoemeter sou opgelê het dat daar ingegryp moet word. Sewe jaar gevangenisstraf, ongeag of die regstreekse uitwerking daarvan deur 'n gedeeltelike opskorting verlig word, is uitermate straf. In dié verband wil ek beaam wat in S v Setnoboko 1981 (3) SA 553 (O) op 556D tot 557H gesê is, naamlik dat daar by die beoordeling van die swaarte van 'n vonnis na die geheel daarvan gekyk moet word en nie bloot na die onopgeskorte gedeelte daarvan nie. Myns insiens sou 'n globale vonnis van vyf jaar gevangenisstraf in die huidige geval reg laat geskied aan al die vereistes van straftoemeting.

Die vraag ontstaan dan of die landdros tereg besluit het om twee jaar van die vonnis op te skort en, indien wel, of die periode en voorwaardes van opskorting korrek geformuleer is. Daar is naamlik gelas dat die twee jaar vir 'n tydperk van

14 vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat die appellante nie weer skuldig bevind word nie aan cortreding van a 2(a) of 2(b) van die Wet, welke oortreding gepleeg word gedurende die tydperk van opskorting en waarvoor sy dan gevonnis word tot onopgeskorte gevangenisstraf van ten minste nege maande. Dit is gevestigde en gesonde praktyk om in 'n gepaste geval 'n andersins aangewese vonnis te versag deur gedeeltelike opskorting; en die onderhawige is kennelik so 'n geval: die appellante se persoonlike omstandighede regverdig bepaald verligting. Dit is bowendien soms, soos hier, vanpas om byvoorbeeld by 'n eerste oortreder nie alleen versagtingshalwe gedeeltelik op te skort nie maar ook met die oog op addisionele persoonlike afskrikking. Vanweë gemelde twee oorwegings sou opskorting van helfte van die swaar vonnis hier vanpas wees.

Daar skuil 'n anomaliese en potensieël

15 onregverdige element in sodanige metode waarteen daar gewaak moet word. Aangesien die opgeskorte gedeelte van 'n deels opgeskorte vonnis van gevangenisstraf eers by 'n beskuldigde se ontslag uit die gevangenis in werking tree (Ex parte Minister of Justice : In re Rex v Duze 1945 AD 102 op 107) kan die risiko van inwerkingstelling lange jare ná die oplegging van vonnis nog steeds bly hang - en natuurlik nog langer ná die pleging van die misdaad. Die huidige geval is 'n goeie voorbeeld: die misdaad is op 6 Maart 1990 gepleeg; vanweë die verlening van borgtog hangende appèl is tenuitvoerlegging van die vonnis ingevolge die voorbehoudsbepaling by a 307(1) van die Strafproseswet 1977 sedert November 1990 tot nou toe opgeskort; sou die opgelegde vonnis bly staan en die volle termyn regstreekse gevangenisstraf uitgedien gewees het, sou die bykomende twee opgeskorte jare tot Maart 2003 inwerkingstelbaar

16 gebly het. ' n Lang opskortingstermyn is dus bloot op grond van gemelde redes hier ongewens.

Bowendien is dit ongewens om die maksimum termyn van opskorting waarvoor a 297(1)(b) van die Strafproseswet 1977 voorsiening maak, naamlik vyf jaar, as die reël te beskou. Kort na die inwerkingtrede van die huidige strafproseswet, wat die eertydse maksimum termyn van drie jaar na vyf jaar opgestoot het, is daar reeds in s v Nabote 1978 (1) SA 648 (0) 650H daarteen gemaan dat die nuwe maksimum klakkeloos gekies word. Sedertdien is dergelike vermanings van tyd tot tyd geopper byvoorbeeld in S v Nkokoto en Andere 1978 (2) SA 534 (0); S v Van Rensburg 1978 (4) SA 481 (T) 484A; S v Motelele 1981 (3) SA 1029 (0) 1032A-B; S v Setnoboko supra; en S v Paulse 1990 (1) SASV 341 (W) 345h. Daar is wel 'n mate van klemverskil tussen die onderskeie howe se benaderlng. In die Transvaal word vyf jaar as die algemene vertrekpunt

17

geneem, soos blyk uit s v Van Rensburg supra,

terwyl die Vrystaatse hof verkies om geen sodanige

vertrekpunt te postuleer nie. Qor die beginsel is

daar egter eenstemmigheid. Nietemin wil dit tog

voorkom dat daar dikwels onoorwoë 'n termyn van vyf

jaar vasgestel word. Daarom dien beklemtoon te

word dat bepaling van die opskortingstermyn deel

van die straftoemeter se vonnisevualering uitmaak

en net soseer regterlikheid verg as die ander

komponente van die vonnis:

"[I]t is still necessary for the court in each case to give consideration to what period to choose." (Per Fieldsend H.R. in S v Wakiri 1981 (2) SA 527 (ZA) 530F.)

Vonnisoplegging is weliswaar geen eksakte

oefening nie en die besondere omstandighede van

iedere individuele geval verg spesifieke opweging.

Daarom kan daar geen allesomvattende of rigiede

stel reëls vir die vasstelling van

opskortingstermyne neergelê word nie. Tog behoort

18

daar by die oorweging daarvan, veral waar negatiewe

vcorwaardes, byvoorbeeld die nie-pleging van 'n

misdaad, opgelê wcrd, rekening gehou te word met

die erkende oorwegings wat daarop betrekking het.

Dié is nuttig saamgevat in S v Ndlovu 1982 (3) SA

51 (ZHC) te 53H - 54D:

" (a) The nature of the offence and the circumstances surrounding its commission. Was it carefully planned and premeditated, or was it committed in the heat of the moment or as a result of sudden temptation?

  1. Has the offender exhibited a propensity to commit that type of offence? For instance, where over a long period of time he has converted moneys to his own use, or where he has a relevant previous convíction but the effect of a partly suspended prison sentence has not been tried upon him.

  2. The personal character of the offender. Is he a person of advanced age who has hitherto led a blameless life, or has he shown by genuine penitence or by the shock and disgrace of his trial that the chance of another similar transgression is entirely remote?

  3. Are the offences to which the suspension will relate those which can be easily committed in circumstances of emotional distress or discomposure?

  4. Is the offender to be sentenced to

19

undergo a lengthy period of effective imprisonment? That, in itself, should have the required rehabilitative effect and a suspension of a further term for the maximum period could be too onerous. (f) Where the offence does not merit a custodial sentence, it might be unfair if at some time within as long a period as five years the offender has to undergo the full sentence for a crime which would carry its own punishment."

'n Bykomende faktor is die trefwydte van die

opskortingsvoorwaardes. As inwerkingstelling kan

geskied vanweë die pleging van 'n verskeidenheid

misdade, veral dié met betreklik beuselagtige

verskyningsvorms (soos aanranding, wat natuuriik 'n

blote bedreiging met geweld omvat) kan dit 'n

verkorte termyn regverdig.

Word sodanige kriteria op die omstandighede

van die huidige geval toegepas, is 'n

opskortingstermyn van aansienlik minder as die

geoorloofde maksimum aangewese. Dit sou veral die

geval wees as die opgelegde voorwaarde, wat ook op

besit/gebruik slaan, in stand gehou sou word. En

20 oor so 'n voorwaarde is daar meningsverskil. Aan die een kant keur die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling konsekwent so 'n voorwaarde af (kyk

byvoorbeeld S v Mazola 1980 (2) PH. H 99, S v

Mokoena 1986 (2) SA 106 (0) 107G-I en S v Monisa 1992 (2) SASV 671 (0)) . Aan die ander kant staan die Transvaalse howe, wat sedert die beslissing in S v Allart 1984 (2) SA 731 (T) so 'n voorwaarde goedkeur en aanbeveel. Die Allart-benadering, soos gekwalifiseer deur die volbankbeslissing in S v Mziyane and Others 1985 (2) SA 844 (T), is dat 'n opskortingsvoorwaarde in 'n vonnis vir handeldryf ook 'n latere besitsoortreding behoort in te sluit maar, waar dit 'n swaar opgeskorte vonnis is, behoort daar 'n bykomende kwalifikasie te wees om te verhoed dat 'n geringe oortreding inwerkingstelling kan presipiteer. Dit word bewerkstellig deur die voorwaarde so te bewoord dat slegs 'n latere skuldigbevinding weens besit of

21

gebruik, waarvoor 'n bepaalde minimum straf van regstreekse gevangenisstraf opgelê word, 'n verbreking van die voorwaarde sou wees. Die minimum word dan ook aangepas by die omvang van die opgeskorte straf. Kyk byvoorbeeld die wisselende minima in die vyf vonnisse in S v Mziyane and Others op 850D tot 851 E. Die volbank wys dan ook daarop, myns insiens tereg, dat die minimum van vier maande wat in S v Allart genoem is nie bedoel is om 'n norm te skep nie maar eerder dui op die kortste sinvole minimum. (Die landdros het in casu in ooreenstemming daarmee 'n vonnis van nege maande vasgestel.)

'n Volbank van die Natalse Provinsiale Afdeling het in S v Mnquni and Others 1985 (2) SA 448 (N) sy steun aan die Transvaalse standpunt verleen en uitdruklik verskil van die Vrystaatse siening, wat voorheen steun in Natal geniet het (kyk S v Kgadebe 1984 (3) SA 753 (N). In die

22

Kaapse Provinsiale Afdeling was daar ook aanvanklik gestaan op die Vrystaatse standpunt (S v Mandla 1984 (2) SA 549 (K)) maar ook daardie hof is sedert die volbankbeslissing in s v Adams en Tien Ander Soortgelyke Sake 1986 (3) 733 (K) dit met die Transvaalse en Natalse siening eens. So ook die Noord-Kaapse Afdeling (kyk S v Ntele en 'n Ander 1986 (2) SA 405 (NK)). Wat die Oos-Kaapse Afdeling betref, skyn die praktyk buigbaar te wees. In S v Klaas 1982 (3) SA 402 (OK) word (te 403F) gemeld dat die algemene praktyk in daardie afdeling sedert 1979 was om verwysing na besit weg te laat by die betrokke opskortingsvoorwaarde maar so 'n bepaling is nietemin, vanweë die besondere omstandighede, in die betrokke vonnis opgeneem.

Hierdie hof het nog nie pertinent die wenslikheid of geoorloofdheid van die gewraakte bepaling oorweeg nie, of skoon daar wel by die formulering van 'n vervangende vonnis in S v

23

Batshise 1982 (1) SA 966 (A) te 974F-G 'n dusdanige verwysing na besit of gebruik by die bevel ingelyf is. By daardie geleentheid was die hof egter nie bedag op die meningsverskil waarom dit tans gaan nie en kan die uitspraak nie as gesag dienaangaande beskou word nie. In hierdie saak moet die knoop nou egter deurgehaak word. Die Vrystaatse standpunt (wat ook weerklank gevind het in die Kqadebe- en Mandla-sake supra) staan op twee pilare, die een regs-tegnies en die ander 'n billikheidsoorweging. Wat eersgenoemde betref, is die redenasie dat die verbiedinge in die Wet teen handeldryf in dwelms enersyds en besit andersyds slaan op afsonderlike en onderskeibare gedraginge wat slegs dit gemeen het dat beide betrekking het op afhanklikheidsvormende stowwe. Klem word ook daarop gelê dat dit nie meer of minder ernstige verskyningsvorme van dieselfde misdaad is nie maar verskillende misdade wat in dieselfde wet behandel

24

word: 'n gewone daggaroker is nie vergelykbaar met 'n dwelmsmous nie. Daarvandaan dan ook die billikheidsoorweging dat 'n eertydse dwelmhandelaar nie blootgestel moet word aan inwerkingstelling van 'n (swaar) opgeskorte vonnis vanweë 'n beuselagtige besitsoortreding nie.

By ontleding blyk geeneen van die twee grondslae gefundeer te wees nie. Die Wet is gemik teen één maatskaplike euwel, naamlik dwelmmisbruik. Met dit voor oë word 'n omvattende reeks maatreëls getref, bestaande uit wydbewoorde woordomskrywings in a 1, verreikende verbiedinge in aa 2 en 3 , diverse vermoedens in a 10 (klaarblyklik om skuldigbevindings te vergemaklik), haas drakoniese aanhoudingsbevoegdhede in a 13 en, natuurlik, besonder swaar strawwe (aa 2 en 3) en verbeuringsbepalings in a 8. Dié indrukwekkende wapentuig is gerig op die voorkoming van dwelmmisbruik, terwyl hoofstukke II en III, daarby

25

aansluitend, gerig is op die rehabilitasie van diegene wat die euwel ten prooi geval het. In die samehang van die eendoelige dog breed opgesette veldtog word die verskaffers en gebruikers van dwelms pari passu in aa 2 en 3 aangespreek. Weliswaar word daar tussen dié twee kategorieë oortreders onderskei, beide wat betref die essensialia van die onderskeie misdrywe én wat betref vonnis; maar dit is na luid van die Wet neweliggende oortredings. Begripsmatig is dit ook die geval: afhangende van die hoeveelheid of aard van die dwelms en die omringende omstandighede kan blote besit daarvan weldeeglik die afleiding regverdig dat dit met die oog op verskaffing aan andere was. Die vermoede by a 10(1) staan dus nie los van gesonde verstand nie. Bowendien is die moontlike kousale verband tussen die besit van dwelms en handeldryf daarin vanselfsprekend. Die slotsom moet gevolglik wees dat daar bepaald 'n

26

verband tussen die twee verskyningsvorms van die deur die Wet verbode handelinge is. En daardie verband is so ncu dat dit geoorloof is om pleging van die een as opskortingsvoorwaarde by 'n vonnis vir die ander in te sluit.

Ek is dit ook eens met die gedagtetrant in S v Allart supra te 735A-H dat dit gewoonlik vanpas sou wees om 'n handelaar deur 'n opskortingsvoorwaarde nie alleen van toekomstige handeldryf te probeer weerhou nie maar ook van besit. Die mate van oorvleueling tussen die twee misdade is so hoog dat so 'n breedbewoorde voorwaarde gewoonlik aangewese sal wees. Ek meen ook dat die beveiliging waarvoor daar in gemelde uitspraak (te 736A-C), soos gekwalifiseer deur S v Mziyane and Others supra, voorsiening gemaak word in die gewone loop van omstandighede die moontlike onreg voorkom waarteen die Vrystaatse siening wil waak. As so 'n opskortingsvoorwaarde gekwalifiseer word deur die

27

bykomende bepaling dat slegs 'n skuldigbevinding met 'n toepaslik gekose minimum straf inwerkingstelling kan meebring, is die risiko van 'n onreg weglaatbaar klein. Boonop kan die rare uitsonderingsgevalle nog ondervang word deur regterlike uitoefening van die inwerkingstellingsdiskresie wat by a 297(9) van die Strafproseswet 1977 verleen word.

Graag wil ek waardering betuig vir die bystand van advokaat Schmidt, wat namens die respondent opgetree het. Nie alleen was sy betoog deegiik en ewewigtig nie maar hy het ter eifder ure op versoek van die hof uitvoerige aanvullende betoogshoofde voorberei wat van groot nut was.

Die appèl teen vonnis slaag. Die opgelegde vonnis word ter syde gestel en vervang deur die volgende:

Vyf jaar gevangenisstraf waarvan twee-en-'n-

half jaar opgeskort word vir drie jaar op

28

voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word nie aan 'n oortreding van a 2(a) of 2(b) van Wet 41 van 1971 gepleeg in die tydperk van opskorting en waarvoor sy gevonnis word tot onopgeskorte gevangenisstraf van ten minste nege maande.

J.C. KRIEGLER

WAARNEMENDE APPeLREGTER

SMALBERGER AR ]

] STEM SAAM

GOLDSTONE AR ]

▲ To the top