S v Schutte and Another (41/1990) [1993] ZASCA 14 (4 March 1993)


SAAKNOMMER 41/90 J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

ANDRé MARK SCHUTTE 1ste Appellant

PIETER JACOBUS KOEN 2de Appellant

CORNIS SERFONTEIN 3de Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, VIVIER, AKR et

HAKMS, WnAR

VERHOORDATUM: 22 FEBRUARIE 1993

LEWERINGSDATUM: 4 MAART 1993

UITSPRAAK

HARMS, WnAR:

Die drie appellante was gedurende 1988 as jong konstabels verbonde aan die onluste-eenheid van die

2

S A Polisie. Op Saterdag 19 Maart 1988 het hulle spesiale diens by die Sandkraal-polisiestasie in die distrik George verrig. Saam met hulle aan diens was 'n spesiale konstabel, B J Nkampini. Sy funksie was hoofsaaklik om die perseel te bewaak maar hy is ook vir ander doeleindes ingespan. Na aanleiding van sekere gebeure dié dag het die appellante in die rondgaande hof te George voor Fagan R en twee assessore tereggestaan. Die besonderhede van die aanklagte, die skuldigbevindings en die vonnisse is die volgende:

  1. Aanklag 1 was 'n aanklag van moord op wyle mnr Anton Kobe (in die getuienis Ace genoem). Nr 1 is skuldig bevind soos aangekla en tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Nrs 2 en 3 is aan poging tot moord skuldig bevind en sewe jaar gevangenisstraf opgelê.

  2. Aanklag 2 was 'n aanklag van aanranding op mev

3

Priscilla Jebese, gepleeg met die opset om ernstig te beseer. Nr 1 is hieraan skuldig bevind en is 'n opgeskorte vonnis van ses maande gevangenisstraf opgelê. Nrs 2 en 3 is onskuldig bevind.

  1. Aanklag 3 was 'n soortgelyke aanklag maar in hierdie geval was die slagoffer mev Elizabeth Qatana, die houvrou van die oorledene, Ace. Omdat die staat se saak op die getuienis van 'n enkelgetuie (Elizabeth) gebaseer was, is nrs 1 en 2 onskuldig bevind. Nr 3 was nie 'n aangeklaagde op dié aanklag nie.

  2. Aanklag 4 was ook so 'n aanklag maar mnr Kleinbooi Qatana was die klaer. Hy was 'n oom van Elizabeth. Nr 1 is skuldig bevind soos aangekla en is weereens tot ses maande gevangenisstraf gevonnis wat in geheel opgeskort is. Nr 2 is aan

4

gewone aanranding skuldig bevind en is 'n opgeskorte vonnis van drie maande opgelê. Nr 3 was ook nie by hierdie misdryf betrek nie.

Die nodige verlof tot appél is na aanleiding van 'n petisie aan die Hoofregter gerig, toegestaan. Aan die einde van die betoog is die appêl afgewys en is aangedui dat die redes vir die bevel sou volg. Vir doeleindes van gerief word eers met die aanrandings en dan ook in kronologiese volgorde gehandel.

Die gebeure om aanklag 4 het eerste plaasgevind. Om ongeveer 15h30 op die betrokke dag het Elizabeth by die polisiestasie opgedaag en gekla dat haar oom, Kleinbooi, haar sou aangerand het. Sy wou nie 'n formele klagte lê nie maar net hê dat die polisie hom moes waarsku. Dit is skynbaar 'n algemeen voorkomende gebruik dat die polisie in gevalle van sogenaamde huismoles die veroorsaker streng aanspreek,

5

'n aantekening daarvan maak en die saak as afgehandel beskou. Nrs 1 en 2 is toe met die vangwa weg om hierdie funksie te vervul. Nkampini en Elizabeth is saam maar toe hulle by die woning aankom, was Kleinbooi nie daar nie. Later die middag, om ongeveer 18h00, het sy teruggekeer met die berig dat Kleinbooi toe tuis sou wees. Volgens die staatsaak is die vier weer na die huis toe. Elizabeth is daar gelaat terwyl Kleinbooi aangesê is om die drie polisiebeamptes na die stasie te vergesel. Volgens Nkampini was dit eintlik sy voorstel want hy wou Kleinbooi verder waarsku. By die stasie aangekom, het nrs 1 en 2 vir Kleinbooi in een van die vertrekke ingeneem en het nr 2 hom oor 'n stoel laat buk. Nr 2 het hom met 'n sambok geslaan om hom 'n les te leer omdat hy sy hand teen 'n vrou opgelig het. Toe Kleinbooi orent gekom het, het nr 1 hom met die vuis bygekom. Dit alles, het Nkampini getuig, het hy deur die venster waargeneem. Kleinbooi, wat tydens die

6

gebeure redelik sterk onder die invloed van drank was, het bevestig dat hy die betrokke aand deur twee polisiemanne aangerand is by die polisiestasie. Sy weergawe van die wyse van aanranding verskil in 'n mate van dié van Nkampini. Daarbenewens het hy bygevoeg dat hy op sy een oor met 'n geskoende voet getrap is. Vyf dae na die gebeure is hy deur 'n distriksgeneesheer ondersoek wat gevind het dat Kleinbooi se linkeroordrom geperforeer was. Geen tekens van verdere beserings was toe teenwoordig nie. Aangesien Elizabeth nie saam terug na die polisiestasie is nie, het sy geen getuienis ten aansien van die aanranding op Kleinbooi gegee nie.

Nrs 1 en 2 se weergawes verskil van die staat s'n in wesenlike opsigte. Beide het getuig dat Nkampini hulle nie tydens die tweede besoek aan Kleinbooi vergesel het nie. Volgens nr 1 was Kleinbooi by die tweede besoek aan die huis astrant en het hy geweier om saam aanklagkantoor toe te kom. Hy het

7

Kleinbooi daarom op die linkeroor geklap ten einde hom te oortuig om hom te vergesel en ook omdat hy dronk was. Nadat hy Kleinbooi geklap het, het hy hom egter gelos en is hy en nr 2 terug polisiestasie toe. Tydens kruisondervraging het dit geblyk dat hy nie Kleinbooi gearresteer het nie, dat hy 'n arrestasie wel oorweeg het (maar hoekom kon hy nie sê nie), dat hy Kleinbooi teen sy sin saam polisiestasie toe wou neem en toe sonder rede daarteen besluit het. Nr 2 het bevestig dat Kleinbooi nie polisiestasie toe geneem is nie. Die voorval waartydens nr 1 vir Kleinbooi geklap het, het hy nie waargeneem nie omdat hy op daardie stadium besig was om die huis te deursnuffel en in die kospotte rond te krap.

Die verhoorhof het die twee appellante se weergawes verwerp en bevind dat nr 1 vir Kleinbooi etlike houe met die vuis toegedien, hom geskop en sy linkeroordrom met sy geskoende voet laat skeur het.

8

Dit, soos reeds gesê, was volgens die uitspraak 'n aanranding wat met die opset om ernstig te beseer, gepleeg is. Nr 2, is beslis, het vir Kleinbooi etlike houe met 'n sambok op sy sitvlak toegedien en dit het op 'n gewone aanranding neergekom. Tydens die appél is namens nr 1 aanvaar dat hy op beide weergawes aan 'n aanranding skuldig is en dat, in die lig van die ligte vonnis opgelê, dit eintlik nie relevant is om te bepaal of die aanranding met die genoemde opset gepleeg is al dan nie. Namens nr 2 is egter volhard dat Nkampini se weergawe verwerp moes word en dat dit nie bewys is dat die appellante se weergawes bo redelike twyfel vals was nie.

Dit is ten eerste betoog dat Nkampini, Kleinbooi en Elizabeth saamgesweer het om nrs 1 en 2 by 'n aanranding op Kleinbooi te betrek op die wyse uiteengesit. Die motief vir die sameswering sou verband hou met die feit dat Elizabeth in 'n saambly-

9

verhouding met die oorledene gestaan het en dat Nkampini 'n vriend van die Qatanas en die oorledene was. Die samesweringsteorie is deur die verhoorhof verwerp. Aangesien Nkampini reeds die Maandag die aanranding op Kleinbooi gerapporteer het, was daar beswaarlik tyd vir 'n sameswering. Die trauma van Ace se aanranding en dood sou dit nie moontlik gemaak het vir Elizabeth om aan so 'n sameswering deel te neem nie. Dit is ook opmerklik dat Nkampini nie oor die aanranding op die oor getuig het nie terwyl dit eintlik die uitstaande en die enigste objektief bewysbare geweldsaandoening was. Dit het ook geen sin gemaak uit die samesweerders se oogpunt om die gebeure vanaf die huis na die polisiestasie te verplaas nie. As hulle die gebeure by die huis sou laat afspeel het, kon Elizabeth 'n addisionele ooggetuie gewees het. Dit volg dus dat ek van oordeel is dat die verhoorregter korrek was om te bevind dat daar geen sprake van 'n sameswering kon gewees het nie. Sodra

10

dit bevind word, verval die basis van nrs 1 en 2 se verweer.

Heelwat gewag is ook gemaak van die feit dat daar verskille tussen die getuienis van Nkampini en Kleinbooi was. Hierdie verskille is ten dele deur die verhoorhof toegeskryf aan die feit dat Kleinbooi onder die invloed van drank was. Daarmee kan geen fout gevind word nie. Dit is dan ook betoog dat Nkampini se getuienis in die geheel vals was aangesien hy aanvanklik getuig het dat hy 'n nota van die waarskuwing aan Kleinbooi in sy sakboekie aangebring het maar toe hy sy sakboekie te voorskyn gebring het, daar geen aanduiding van so 'n aantekening daarin was nie. Nkampini het spontaan daarop gesê dat hy dan 'n fout moes gemaak het en dat hy 'n aantekening oor die waarskuwing waarskynlik op 'n los papier geskryf het. Hierdie verduideliking is nie vergesog nie. Dit was naamlik die getuienis van nr 1 dat dit die gebruik is om 'n aantekening oor sulke

11

waarskuwings te maak en dat dit van tyd tot tyd op 'n los papier aangebring word. Ten slotte is betoog dat dit nie bo redelike twyfel bewys is dat 'n oordrom vanweë 'n trap met 'n geskoende voet kan bars nie en dat die afwesigheid van verdere merke tydens die ondersoek deur die distriksgeneesheer aandui dat daar benewens die besering aan die oor geen ander geweldstoediening plaasgevind het nie. Soos ek die deskundige getuienis verstaan, kom dit daarop neer dat 'n oordrom vanweë 'n plofaksie kan bars. Dit sal dus afhang van die wyse waarop op 'n oor getrap word of die oordrom sou bars. So ook sou mens verwag dat die aard van die geweld deur byvoorbeeld die sambokhoue sou bepaal of daar sigbare merke vyf dae later sou wees. Dit was nie die staat se saak dat enige besondere mate van geweld aangewend is nie en ek kan dus nie saamstem met die betoog dat die mediese getuienis onversoenbaar met die staatsaak is nie. Dit het dus gevolg dat die appél teen hierdie

12

skuldigbevinding nie kon slaag nie. Daar was geen appél teen die vonnisse opgelê nie.

Die staat se saak ten aansien van aanklag 2 was dat die klaagster, Priscilla, die betrokke dag haar buurvrou met 'n gebreekte bottelnek gesteek het. Nrs 1 en 2 is met die polisievangwa gestuur om haar op te laai. Tydens die oplaai het nr 1 haar 'n klap met die oop hand op die wang gegee. Sy is toe na die polisiestasie vervoer. Op pad soontoe is die oorledene, Ace, opgelaai. (Meer daaroor later.) By die stasie is sy in die voorste vertrek wat as aanklagkantoor gedien het, gelaat. Na die aanranding op die oorledene het nr 1 die vertrek binnegekom, haar met die vuis geslaan en haar geklap, telkens teen die regterwang. Sy het later geval en toe het hy op haar linkeroor getrap en sy voet gedraai. Hy het haar ook aan die keel gegryp. (Aangesien nrs 2 en 3 se beweerde deelname aan die aanranding volgens die verhoorhof nie

13

bewys is nie, is dit nie nodig om die getuienis wat op hulle betrokkenheid van toepassing is te behandel nie.) Die distriksgeneesheer se ondersoek op 22 Maart het, afgesien van 'n aantal skaaf- en kneuswonde van ongeveer drie dae oud, 'n vars skeur van die linkeroordrom aangetoon. Nr 1 se weergawe van die gebeure was dat na sy geveg met die oorledene hy vanweë uitputting op die mat in die aanklagkantoor gaan lê het. Priscilla, wat -en dis gemeensaak - gedrink was, het 'n lawaai opgeskop. Hy het hom vererg en haar op die linkeroor geklap. Sy weergawe is verwerp en die getuienis van Priscilla en Nkampini, wat as twee eerlike en goeie getuies beskryf is, is aanvaar. Hoewel hierdie aanklag 'n onderwerp van die appél was, is geen betoog namens nr 1 voorgelê wat daarop sou dui dat die verhoorhof in sy beoordeling gefouteer het nie. Beide weergawes toon 'n aanranding asook 'n opset om ernstig liggaamlik te beseer, veral in die lig van iets wat beswaarlik toevallig kan wees en

14

dit is die bars van twee oordromme van verskillende lede van die publiek binne die verloop van enkele ure deur die gebruikmaking van 'n skoen deur dieselfde polisiebeampte. Daarom is die appêl teen hierdie skuldigbevinding van die hand gewys. Weereens was daar geen appél teen die vonnis nie.

Vervolgens word met die skuldigbevindings onder aanklag 1 gehandel. Die gebeure wat tot die dood van die oorledene gelei het, was die volgende. Nadat nrs 1 en 2 vir Priscilla opgelaai het, het hulle op pad terug op 'n bakleiery afgekom. Volgens Elizabeth was sy 'n slagoffer van 'n aanranding en het die oorledene haar aanvaller geslaan. Sy het verder gesê dat toe die vangwa stilgehou het, nrs 1 en 2 uitgespring en met sambokke begin slaan het. Hulle het eers die perseel se onskuldige eienaar geslaan en toe vir die oorledene. Die oorledene het gesoebat en gesê dat hy nog nooit met die polisie moeilikheid gehad het nie. Hy het

15

weggehardloop maar is deur nr 1 agternagesit. Sy het hulle gevolg. Die oorledene is ingehaal, gevang, geskop en geslaan. Sy is ook in die proses raakgeslaan. Die oorledene is in die vangwa ingeboender en na die polisiestasie geneem. Sy het kortpad soontoe gevat en was by toe die oorledene uit die wa geklim het. Nkampini was ook daar teenwoordig. Die oorledene het, net nadat hy uitgeklim het, weggehardloop. Dit was reeds na 20h00. Nr 1 het toe vir Nkampini opdrag gegee om die oorledene agterna te sit, wat hy gedoen het. Die oorledene het in 'n dam ongeveer 300 meter daarvandaan ingehardloop en nr 1 en Nkampini is agterna. Volgens Nkampini is hy met sy uniform en al die water in en aangesien hy vir Ace geken het, het hy hom aangesê om uit die water te kom. Ace het egter gesê dat hy bang was dat hy weer geslaan sou word. Nkampini het hom aan sy broek gegryp en hom uit die dam gebring. Nr 1 het by hulle aangesluit en

16

vir hom gesê hy moet Ace behoorlik vashou want hy is "taai". Ten spyte daarvan het hy dit onnodig gevind om Ace te boei want hy het vrywillig geloop. Nr 1 het egter een van Ace se arms gegryp, dit agter sy rug gebuig en Nkampini se kierie gevat en die oorledene daarmee gestoot.

Nkampini het verder getuig dat by hulle aankoms by die aanklagkantoor het nr 2 (wat met die vangwa vir Ace gaan soek het) teruggekom en nrs 1 en 2 saam met Ace die aanklagkantoor in is. Hy het hulle gevolg toe hulle in 'n ander vertrek in die gebou in is en daar het hy waargeneem hoe nrs 1, 2 en 3 die oorledene geslaan en geskop het. Hy het die vertrek verlaat maar het gehoor dat díe aanranding voortgegaan het. Hy was nie in staat om die aanrandingshandelinge te individualiseer of aan spesifieke beskuldigdes vas te knoop nie.

Alvorens met die verdere gebeure gehandel

17

word, is dit gerieflik om op hierdie stadium te oorweeg óf Nkampini óf die drie appellant se getuienis oor die gebeure tot dusver uiteengesit, korrek was. Dit staan vas dat die oorsaak van dood intra-kraniale bloeding was. Uitwendig is tussen 25 en 30 geweldsapplikasies deur skaaf-, sny- en kneuswonde veroorsaak, gevind. Van die wonde is deur sambokhoue, vuishoue en trapgeweld veroorsaak. 'n Skaafwond aan die kop is met 'n roede-vormige voorwerp toegedien en volgens die staat se getuienis was die breinbesering van 'n tipiese akselerasie-deselerasie-aard. So iets word gewoonlik deur 'n val veroorsaak wanneer die kop met 'n geweldige vinnige spoed beweeg en dan onmiddellik tot stilstand gebring word.

Die dag na die gebeure het die appellante elk 'n verklaring voor majoor (toe kaptein) Claassen afgelê. In sy verklaring het nr 1 gesê dat hy en nr 2 op die bakleiery afgekom het en dat hy die oorledene

18

agtervolg het met die doel om hom te ondervra ten einde vas te stel wat gebeur het. Na ongeveer 800 meter het hy hom ingehaal en wou hy hom arresteer. 'n Gestoeiery het ontstaan waartydens Ace verskeie houe na hom geslaan het. Hy het egter daarin geslaag om Ace vas te hou totdat nr 2 hom te hulp gesnel het en hulle het toe vir Ace na die patrolliewa geneem. Tydens die stoeiery het Ace hom aan sy linker bo-arm gebyt. Na ongeveer 15 sekondes kon hy daarin slaag om sy arm uit Ace se mond los te kry. Die bytwond het geweldig gepyn en het tot gevolg gehad dat sy arm gedeeltelik verlam was. Ace is na die stasie geneem ten einde hom te ondervra. Toe nr 2 die patrolliewa se agterdeur oopgemaak het, het Ace weggehardloop en hy het hom agternagesit. Nkampini het op sy eie inisiatief ook vir Ace agtervolg. Nadat Nkampini Ace gevang het en hulle terug by die aanklagkantoor gekom het, het Ace geweier om die gebou binne te gaan. Hy het teen die trappies vasgeskop en

19

weer begin baklei. Hulle moes geweld gebruik om hom tot in die polisiestasie te neem. Daar het Ace half histeries begin raak en herhaaldelik probeer ontsnap. Omdat hy baie moeg en kwaad was, het hy geweld gebruik om Ace tot bedaring te bring. Nrs 2 en 3 het hom bygestaan maar hy weet nie of Nkampini meegehelp het nie. In die loop van sy getuienis tydens die verhoor is die gebeure meer gedramatiseer en toe het dit geblyk dat daar 'n groep mense saamgedrom het waar die oorspronklike worsteling aan die gang was en dat Ace 'n baksteen in sy hand gehad het. Aangesien Ace 'n aggressor was het hy hom agtervolg. Hy het Ace ingehaal en hom met sy arms probeer vasvat maar Ace het hom met sy elmboë op die maag en bors geslaan in 'n poging om los te ruk. Op 'n stadium het Ace aan 'n hoekpaal vasgehou en hy het aan hom getrek sodat hy sy greep los. Die skare het groter geword. Ace het heelwat gegil en geskree en hom baie verset. Hy het sy linkerarm om Ace

20

se nek geplaas om te kyk of hy hom nie so onder beheer kon kry nie en toe het Ace hom weer met sy elmboë op sy maag en bors geslaan. Die skare het oproerig begin word en toe het Ace hom aan die linkerarm gebyt. Sy hele arm het lam gevoel en hy kon die arm van toe af nie meer gebruik nie. Ace het die oorhand oor hom gekry en hom met die vuis geslaan. Nr 2 het opgedaag om hom te red en hy is sy lewe aan hom te danke. Nr 2 het die oproeriges uiteen gejaag met 'n sambok en vir Ace van agter geslaan. Nadat Ace by die polisiestasie ontsnap het en uit die water deur Nkampini gehaal is, het Nkampini hom telkemale met 'n knopkierie aan die agterkant van sy kop, nek en rug geslaan. Nr 1 se arm was steeds verlam. Toe Ace teen die trappies vasgeskop het, het nr 3 bygekom en Ace met die vuis geslaan. In die proses het nr 3 hom ook raakgeslaan op die pynlike arm. Hulle het toe vir Ace in 'n vertrek wat as kombuis gebruik is, geneem. Ace het weer probeer ontsnap

21

maar nr 2 het hom gekeer deur hom te slaan. Al wat hy weet is dat Nkampini, nr 2, nr 3 en hyself almal geweld moes gebruik om Ace tot bedaring te bring. Hy kan hom herinner dat nr 2 op 'n stadium op hom geskree het en gesê het hy moet ophou maar dat hy desnieteenstaande 'n ligte plank geneem en Ace daarmee geslaan het omdat hy te moeg was om iets anders te doen. Die hou het geen effek op die oorledene gehad nie en nr 1 is die vertrek uit.

Nr 2 se weergawe kan ietwat korter gestel word. Hy het ook in dramatiese terme die opruiende skare tydens die aanvanklike poging om Ace te "arresteer", beskryf. Wat die gebeure in die stasie betref, het hyself vir Ace met die knie op die bors geslaan en teruggedryf omdat Ace gepoog het om te ontsnap. Nr 3 het vir Ace geslaan, met die knie getref en geklap. Volgens hom het nr 1 die oorledene geskop terwyl hy op die grond gelê het, hom met 'n plank twee

22

of drie keer oor die kop geslaan en gepoog om op die oorledene se kop te spring. In sy verklaring aan Claassen het hy gesê dat toe hy die vertrek binnegekom het, was die oorledene en nrs 1 en 3 besig om te stoei en te baklei. Nkampini het nie deelgeneem nie. Die oorledene het probeer om by die deur uit te hardloop en hy het hom aan sy skouers gegryp, afgetrek en met sy regterknie op sy bors geslaan. Hy kon nie met sekerheid sê hoe en deur wie Ace daarna verder aangerand was nie.

In sy verklaring aan Claassen het nr 3 gesê dat toe hy die kantoor binnekom, Ace baie oproerig was en hy het probeer ontsnap. Hy het gesien dat nr 1 moeg en uitgeput was en oorrompel kon word. Hy het tussenbeide getree en geweld gebruik deur Ace te klap, met die vuis te slaan en ook te skop. Dit was alles nodig om 'n histeriese persoon onder bedwang te bring. In sy getuienis tydens die verhoor het hy sy aandeel

23

bevestig maar bygevoeg dat nr 1 meerdere plankhoue toegedien het en dat as gevolg daarvan die oorledene se lyf geruk het. Hy het ook nr 2 se getuienis bevestig dat nr 1 op 'n stoel geklim het om op die oorledene se kop te spring en dat hy gekeer is. Terwyl die oorledene op die grond gelê het, het nr 2 op 'n stadium teruggegaan en hom herhaaldelik teen die kop geskop en op sy oor getrap.

Dit is van belang om reeds op hierdie stadium daarop te wys dat nr 3 ongeveer 'n uur later 'n vals inskrywing oor die gebeure gemaak het en dat later die aand die appellante hulle dilemma bespreek en ooreengekom het om getuienis te verberg, valse weergawes te verskaf en so vaag as moontlik te wees. Hulle oogmerk was om hulleself te beskerm en om die ondersoek te bemoeilik en te belemmer. In hulle verklarings aan Claassen wat gedurende die middag van 20 Maart afgeneem is, het hulle hulle voorneme gestand gedoen. Kort voor

24

die verhoor het daar egter 'n botsing ontstaan en het elkeen besluit om slegs vir sy eie voordeel voort te kolf en het hulle begin om mekaar ten dele oor en weer te beskuldig. Maar afgesien daarvan het die verhoorhof, myns insiens tereg, geoordeel dat al drie swak getuies was en is hulle getuienis, vir sover dit verontskuldigend was, in die algemeen verwerp. Die enkele onskuldigbevindings waarna vantevore verwys is, het gevolg omdat die verhoorhof in daardie gevalle nie op die getuienis van enkelgetuies wou staat maak nie en nie omdat enigeen van die appellante geglo is nie. Tydens betoog het die advokate heel korrek nie gepoog om in enige wesenlike opsig hierdie geloofwaardigheids-bevindings aan te val nie, Inderdaad het die verhoorhof die staatsaak te versigtig benader en ten onregte afleidings ten gunste van die appellante gemaak.

Ten spyte daarvan dat die verhoorhof

25

Nkampini se getuienis aanvaar het, is die bevindings oor die gebeure tydens die aanranding in die aanklagkantoor nie in ooreenstemming met sy getuienis nie. Daar is wel bevind dat nr 1 vir Ace aangerand het. Veral in die lig van 'n erkenning van nr 1 dat hy met 'n plank geslaan het, is die hoofbeserings wat die dood veroorsaak het aan nr 1 toegedig. Vandaar die skuldigbevinding. Dit is bevind dat hy opset by moontlikheidsbewussyn gehad het omdat hy, as 'n groot fris man, die moontlikheid voorsien het dat die hou (of houe) die oorledene se dood kon veroorsaak het. Wat nr 2 betref, was die benadering van die verhoorhof dat Nkampini 'n enkelgetuie was en dat, hoewel nr 2 getuig het dat hy geweld op die oorledene toegepas het, dit nie bo redelike twyfel bewys is dat hy nie bloot die oorledene se ontvlugting wou keer nie. Hoewel dit nie uitdruklik so gestel is nie, skyn dit asof dieselfde benadering ten aansien van nr 3 se getuienis gevolg is.

26

Die hof het dus geen strafregtelike verantwoordelikheid oor die gebeure tot op daardie stadium aan nrs 2 en 3 toegedig nie. Ek is tevrede dat hierdie veronderstellings in nrs 2 en 3 se guns aan die hand van die geloofwaardige getuienis van Nkampini, die appellante se ongeloofwaardige getuienis en die objektiewe feite nie geregverdig kan word nie. As in ag geneem word dat die oorledene reeds by die aanvanklike sogenaamde arres weggehardloop het en verduidelik het dat hy nog nooit moeilikheid met die polisie gehad het nie, dat hy weer weggehardloop het en teenoor Nkampini sy vrees uitgespreek het dat hy aangerand sou word en dat hy ongeboei en vrywillig saam na die polisiestasie teruggekeer het, kan slegs aanvaar word dat hy nie aggressief wou, sou of kon wees behalwe waar dit om sy eie selfbeskerming gegaan het nie. Die oormag was eenvoudig te oorweldigend. Hy was nie onder arres nie en hy het geen misdryf gepleeg nie.

27

Daar was geen poging om hom te boei nie. Daar was geen polisieselle by hierdie polisiestasie en kon hy nie aldaar opgesluit word nie. As hy dus wou weghardloop, het hy goeie rede gehad. Die omvang van sy beserings is ook nie versoenbaar met die gedagte dat slegs een van die drie teenwoordiges daardie beserings toegedien het nie. Dit volg dat ek van oordeel is dat die drie appellante met 'n gesamentlike opset vir Ace aangerand het en dat nrs 2 en 3 se beweerde geloof dat hulle hom wou verhinder om uit 'n regmatige arres te ontsnap, nie waar kan wees nie.

Dit het in die loop van 'n verhoor waarvan die getuienis 27 dae en die argument 5 dae geduur het, deel van nr 1 se saak geword dat hy die aanranding op die oorledene in 'n staat van sogenaamde gesonde outomatisme gepleeg het. Die regsbasis van hierdie verweer is in S v Wiid 1990(1) SASV 561(A) behandel. Die feitebasis is 'n weergawe van die gebeure wat die

7

appellant aan 'n psigiater, dr Shevel, verskaf het nadat hy getuienis in hoof en onder kruisondervraging namens nr 2 gelewer het. Hoewel daar 'n plig op 'n beskuldige rus om hierdie verweer te opper, is die verweer nie tydens die pleitverrigtinge genoem nie. So ook nie tydens die staatsaak nie. Gedurende sy getuienis in hoof wat sestig bladsye beslaan, het nr 1 'n volledige relaas van die gebeure gegee, hoewel hy gesê het dat hy die daadwerklike aanranding nie in detail kon beskryf nie omdat hy kwaad was. Toe hy egter namens nr 2 onder kruisverhoor geneem is, het sy getuienis al hoe vaer en vaer geword, nie net oor die daadwerklike aanranding nie maar ook oor die gebeure voor en na die tyd. Alles wat aan hom gestel is, het hy as moontlikhede aanvaar. Daarna het die hof verdaag en het die appellant sy onderhoud met Shevel gevoer. Aan die hand hiervan het Shevel die mening uitgespreek dat vanaf die stadium toe nr 3 vir nr 1 per ongeluk op

29

die seer arm geslaan het tot na die aanranding het nr 1 aan "an altered level of awareness" gely "and was behaving in an automatic and reflex-type manner".

Shevel het nie van enige objektiewe feite gebruik gemaak om sy bevinding te staaf nie. Hy het ook nie ag geslaan op al die beskikbare feite nie en in besonder het hy nie die appellant se oorspronklike verklaring of sy getuienis in hoof in aanmerking geneem nie. So byvoorbeeld kon die appellant hom slegs vertel van 'n vae geheue van 'n aanranding met 'n plank as die enigste aanrandingshandeling terwyl in sy getuienis die appellant heelwat besonderhede oor die wyse van die aanranding met die plank kon gee en ook, soos hierbo blyk, ander gebeure kon beskryf. Relevante feite is aan die psigiater verswyg of is verdraai. Ek sal afsluit deur na 'n enkele aspek te verwys. Die hoeksteen van Shevel se opinie was 'n bewering dat nr 1 se werk van so 'n aard was dat hy onder voortdurende

30

gevaar verkeer het en dus aan 'n besonder hoë spanningsvlak onderworpe was. Nie alleen het nr 1 nie gelykluidende getuienis voor die hof afgelê nie maar het, inteendeel, aangedui dat hy geen senuwee- of emosionele probleme gehad het nie. Daarbenewens het die hof die getuienis van luitenant-kolonel Marx aanvaar dat die area waar nr 1 gestationeer was, sonder onrusvoorvalle was. Aangesien die deskundige mening nie op enige bewese feite gebaseer is nie, is dit waardeloos en is hierdie verweer tereg deur die verhoorhof verwerp.

Dit is verder namens nr 1 betoog dat die staat nie bo redelike twyfel bewys het dat hy opset om te dood gehad het nie. Die bevinding van die verhoorhof dat opset by moontlikheidsbewussyn teenwoordig was, was volgens die submissie, verkeerd. Ter stawing van die betoog is daarna verwys dat die appellant woedend was omdat hy 'n pynlike bytwond

31

opgedoen het wat deur die oorledene toegedien is en dat hy derhalwe sy selfbeheersing verloor het en dat hy dus nie oorweging aan die moontlike gevolge van sy dade kon gegee het nie. Die probleem met hierdie betoog is dat dit afhang van die geloofwaardigheid van nr 1 se getuienis. Dat hy deur die oorledene aan die linker bo-arm gebyt is, is so. Volgens hom het daardie wond gebloei en het dit sy arm verlam en het hy erge pyn vir ure daarna verduur. 'n Foto van die vars wond toon bo redelike twyfel dat hy nie die waarheid gepraat het nie. Dit word ook deur die mediese getuienis gestaaf. Die vel is nooit geskeur nie en díe wond het nie gebloei nie. Die aard van die wond was sodanig dat dit geen fisiologiese gevolge kon gehad het nie. Dat nr 1 woedend was, staan ook vas maar die teenwoordigheid van woede is gewoonweg aanduidend van die teenwoordigheid van 'n verskerpte opset. As in ag geneem word dat die oorledene herhaaldelik met 'n plank teen die kop geslaan

32

is totdat hy bewusteloos was en dat nr 1 selfs probeer
het om op sy kop te spring, en indien op die aard van
die geweld gelet word wat uit die mediese getuienis
geblyk het, is die onafwendbare gevolgtrekking dat nr 1
die nodige opset ten aansien van die doodsveroorsaking
gehad het. Soos reeds gesê, is geen

strafregtelike aanspreeklikheid aan nrs 2 en 3 geheg vir die gebeure in die aanklagkantoor nie. Wat wel relevant is, is dat hulle, in die lig van hulle eie weergawe van die gebeure, terdeë onder die indruk was van die erns van die aanranding op die oorledene. Die oorledene was na die aanranding bewusteloos. Daar was bloed aan sy mond. Volgens Nkampini het hy 'n opdrag van nr 1 ontvang om nrs 2 en 3 behulpsaam te wees om die bewustelose Ace in die vangwa te laai. Hulle het hom na die vangwa gesleep en agterin gegooi. Daarna het nrs 2 en 3 met hom vertrek. Nr 1 kon nie ontken dat hy aan Nkampini die betrokke opdrag gegee het nie. Nrs 2 en 3

33

het egter getuig dat hulle uit eie beweging besluit het om die oorledene te verwyder omdat hulle bang was dat nr 1 hom weer te lyf sou gaan en ten einde nr 1 te beskerm. Nr 2 het beweer dat Ace nog op daardie stadium by sy positiewe was. Hierdie getuienis is deur die verhoorhof verwerp en dit is namens nrs 2 en 3 tereg toegegee dat daardie bevinding korrek was. Hoe dit ook al sy, met nr 3 as bestuurder en nr 2 as passassier is hulle met die vangwa na 'n eensame baai bekend as Ballotsbaai. Dit is ongeveer sewe kilometer vanaf Sandkraal. Daar het hulle die oorledene langs die see afgelaai en na die polisiestasie teruggekeer. Toe die nagskof om 21h00 aan diens gekom het, het appellante sekere feite aan hulle kollegas oorgedra en as gevolg daarvan is die bevelvoerende offisier in kennis gestel en 'n soektog op tou gesit. Ace is in 'n bewustelose toestand op ronde spoelklippe meters vanaf die see met 'n kaal bolyf en 'n nat broek aangetref. Sy liggaam

34

was stokstyf. Hy is onmiddellik na George se hospitaal vervoer en om 2hl5 op 20 Maart deur die diensdoende geneesheer in die ongevalle-afdeling gesien. Hy was op daardie stadium komateus en spasties. 'n Neurochirurg is ontbied en 'n noodoperasie is uitgevoer. 'n Akute subdurale haematoma met 'n brein onder geweldige druk is gediagnoseer. Verdere behandeling en resussitasie sou futiel wees en is gestaak en Ace is om 8h45 daardie oggend oorlede.

Die verhoorhof het nrs 2 en 3 se skuldigbevinding aan 'n poging tot moord aan hierdie feite gekoppel en soos volg gemotiveer. Hulle het besef dat Ace ernstig aangerand is en ernstige beserings gehad het. Hulle het besef dat hy bewusteloos was toe hulle hom in die voertuig gelaai het. Hy is by Ballotsbaai afgelaai en aan die noodlot oorgelaat. Hulle het op daardie stadium besef dat sy toestand so ernstig is dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat

35

hy kon sterf. Ten spyte daarvan het hulle hom op 'n koel aand met 'n nat broek en op 'n eensame plek sonder bystand gelaat maar dit is nie bewys dat Ace nie in ieder geval sou gesterf het nie. Nogtans is bevind dat nie bewys is dat die drie appellant saamgespan het om vir Ace op 'n afgeleë plek af te laai nie.

Ek is tevrede dat die verhoorhof in hierdie laaste opsig gefouteer het. Nkampini se getuienis dat nr 1 hom die opdrag gegee het om die oorledene in die vangwa te laai, is nie deur nr 1 betwis nie. Nr 1 se getuienis dat hy op daardie stadium in so 'n waas was dat hy nie wis wat om hom aangegaan het nie, is reeds verwerp. Dat nrs 2 en 3 gehelp het om Ace in die voertuig te laai, word deur hulle erken. Dit het hulle gedoen, sê hulle, om nr 1 te beskerm. In die lig van die bevinding hierbo dat nrs 2 en 3 'n aandeel in die aanranding gehad het, volg dit dat die besluit geneem is om hulle aldrie te beskerm. Toe die besluit geneem is

36

om Ace weg te ry, het hulle geweet dat daar 'n ambulans op pad na die polisiestasie toe is aangesien hulle vroeër die aand reeds een bestel het om die klaagster wat met die gebreekte bottelnek gesteek is, te haal. Toevallig het hierdie ambulans kort nadat die vangwa vertrek het, gearriveer. Daar is slegs een manier waarop die appellante hulleself kon beskerm deur Ace weg te ry en dit was deur hom op 'n plek te plaas waar hy waarskynlik sou sterf. Nrs 2 en 3 het getuig dat hulle vir Ace na die verlate strand geneem het om hom te straf sodat hy oor sy wandade kon dink terwyl hy terugstap na Sandkraal en dat hulle hom nie daar sou afgelaai het as sy toestand nie sou verbeter het nie. Hierdie getuienis is inherent ongeloofwaardig. Maar in ieder geval, indien dit hulle opset was om Ace te verwyder met die oog daarop om nr 1 of hulleself te beskerm, of aldrie, lei dit alles tot die enkele gevolgtrekking dat hulle gehoop het dat Ace dit nie sou

37

oorleef om op 'n latere dag met die sak patats vorendag te kom nie. Daarom is hy op 'n verlate strand naby die hoogwater merk op 'n Saterdagnag in 'n bewustelose toestand geplaas. Dit volg dat ek van oordeel is dat nrs 2 en 3 wel die nodige opset gehad het en dat hulle hulself moontlik gelukkig kan ag dat hulle nie ook aan moord skuldig bevind is nie.

Dit is namens nr 1 betoog dat nrs 2 en 3 se tussenkoms deur Ace op die strand te plaas, 'n novus actus interveniens daargestel het. Aangesien dit egter reeds bevind is dat nr 1 'n party tot die wegdoen van die bewustelose Ace was, verval hierdie betoog natuurlik. Dit volg dat die skuldigbevindings aan aanklag 1 in orde was.

Wat nr 1 se vonnis op hierdie aanklag betref, is dit namens hom aanvaar dat, tensy daar 'n inmenging met die skuldigbevinding sou wees, die vonnis in orde is. Aangesien so iets nie gebeur het nie, het

38

daardie deel van die appèl verval.

Namens nrs 2 en 3 is betoog dat die

verhoorregter by vonnisoplegging sekere wanvoorligtings

begaan het. Die eerste is dat hy as strafverswarende

faktor in ag geneem het dat nrs 2 en 3 "twee betreklike

senior polisiemanne" was. Indien die betrokke sin in

isolasie gelees word, het dit op 'n wanvoorligting

neergekom aangesien nr 2 ten tye van die pleeg van die

misdryf slegs een en twintig jaar oud was en twee jaar

diens in die mag gehad het terwyl nr 3 byna drie en

twintig jaar oud was met vier jaar diens. Indien

in die uitspraak egter in geheel gelees word, is dit

duidelik dat Fagan R besig was om 'n vergelyking te tref

tussen die ervaring van nr 1 teenoor dié van nrs 2 en 3

aangesien nr 1 op daardie stadium maar negentien jaar

oud was en net ses maande aktiewe polisiediens agter die

rug gehad het. Dat dit so is, blyk daaruit dat Fagan R

op die stadium toe hy die versagtende faktore behandel

39

het, toelating gemaak het vir die "betreklike jeugdigheid" van nrs 2 en 3 en die feit dat hulle maar "min ondervinding as polisie gehad het". Dit volg dus dat Fagan R homself nie wanvoorgelig het soos betoog is nie.

Dit is verder betoog dat die verhoorregter homself wanvoorgelig het toe hy in die konteks van vonnis bevind het dat nrs 2 en 3 die oorledene se kans vir oorlewing verminder het terwyl in die uitspraak van die verhoorhof op die meriete dit bevind is dat die staat nie bewys het dat die neem na Ballotsbaai noodwendig tot die oorledene se dood bygedra het of sy dood verhaas het nie. Vir doeleindes van die argument sal ek aanvaar dat daar 'n teenstrydigheid was maar feit is dat al die getuies dit eens was dat nrs 2 en 3 deur hulle optrede die oorledene se opname in 'n hospitaal vertraag het en sodoende, sy kanse op oorlewing verminder het. Met ander woorde, al is daar 'n

40

teenstrydigheid tussen die uitspraak op die meriete en die motivering vir vonnis, beteken dit slegs dat daar in die eerste uitspraak ten gunste van nrs 2 en 3 gefouteer is en dat daar 'n oorweldigende feitebasis vir die bevinding in die konteks van vonnis bestaan het. Dit mag wees dat die verhoorhof nrs 2 en 3 aan 'n erger misdryf as poging tot moord moes skuldig bevind het, maar daardie vraag dien nie tans ter oorweging nie. Dit is ook namens nr 3 betoog dat daar nie voldoende aandag aan die feit dat nr 3 die eerlikste van die drie appellante was, gegee is nie. Wat naamlik gebeur het, is dat nr 3 op 'n vroeër stadium sy betrokkenheid minder verbloem het maar, soos die verhoorhof tereg bevind het, was hy tot die einde ongeloofwaardig in wesenlike opsigte. Nr 3 kan nie spesiale behandeling verwag indien hy net 'n "bietjie eerlik" en nie heeltemal eerlik en ten volle berouvol is nie. Dit volg dat daar geen wanvoorligtings oor die kwessie van vonnis was

41

nie. Dit kan ook nie met oortuiging betoog word dat die vonnisse skokkend onvanpas was nie. Die vonnisse is opgelê na 'n ewewigtige oorweging van alle relevante faktore. Van die vonnisse mag aan die swaar kant wees maar dit is nie die relevante toets nie.

Die appêlle is vanweë die redes hierbo uiteengesit by die verhoor van die appél van die hand gewys.

L T C HARMS WAARNEMENDE APPéLREGTER

VAN HEERDEN, AR

} STEM SAAM VIVIER, AR

▲ To the top