S v Van Rhyn and Another (651/1992) [1993] ZASCA 147 (28 September 1993)


SAAKNOMMER: 651/92

J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPêLAFDELING)

In die saak tussen:

JACOBUS VAN RHYN Eerste Appellant

OCKERT DANIëL OOSTHUIZEN Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, GOLDSTONE, ARR et HARMS,

Wnd AR

VERHOORDATUM: 21 SEPTEMBER 1993

LEWERINGSDATUM: 28 SEPTEMBER 1993

UITSPRAAK

HARMS, Wnd AR:

Die twee appellante het voor die streekhof te Pretoria op 'n aanklag van bedrog tereggestaan. Die

2

saak teen hulle was dat hulle op 20 Februarie 1989 aan mnr Peter Letsiye ("die klaer") valslik voorgegee het dat hulle 'n motorvoertuig vir R19 000 aan hom sou verkoop en dat hulle die klaer daardeur beweeg het om aan hulle 'n deposito van R5 000 te betaal terwyl hulle geen voorneme gehad het om die voertuig aan hom te verkoop nie. Die verhoor het op 13 Maart 1989 begin en na 26 verskynings op 22 April 1991 geëindig toe die appellante skuldig bevind is soos aangekla en tot vyf en twee jaar gevangenisskap respektiewelik gevonnis is. Die eerste appellant ("Van Rhyn") het twee dae later 'n appèl teen die meriete geliaseer terwyl die tweede appellant ("Oosthuizen") op 13 Mei 1991 appél teen sowel sy skuldigbevinding as vonnis aangeteken het. Op 27 September 1991 is Van Rhyn se kennisgewing van appèl gewysig deur onder andere ook 'n appèl teen die vonnis te rig. Die appellante se betoogpunte vir die appèl in die Transvaalse Provinsiale Afdeling is dieselfde dag

3

gedateer. Die datum vir die aanhoor van daardie appèl was 28 Oktober 1991. Die verhoor van die appèl is

vermoedelik uitgestel en dit het die appellante in staat gestel om op 22 Januarie 1992 - presies nege maande na die skuldigbevinding en vonnis en kort na die landdros se afsterwe - 'n hersieningsaansoek gegrond op die bewering dat die streeklanddros nie verstandelik of fisies in staat was om die verhoor te behartig nie, te rig. Hierdie aansoek en die appêl is deur Hartzenberg R (met wie J J Strydom R saamgestem het) afgewys en daardie hof het verlof tot die huidige appèl verleen.

By die aanvang van die verhoor van hierdie appèl het adv Kotzé, wat namens beide appellante opgetree het, die hof meegedeel dat Van Rhyn 'n voortvlugtende voor die gereg is - hy het sy borgvoorwaardes verbreek en die land verlaat. Dit beteken dat Van Rhyn sy locus standi om die appèl te kan voortsit, verbeur het. Sien Mulliqan v Mulligan 1925

4

WLD 164. Normaalweg word 'n appél onder sodanige omstandighede van die rol geskrap. Sien S v Nkosi 1963 (4) SA 87 (T); S v Molotsi en Andere 1976 (2) SA 404 (0); Herf v Germani 1978 (1) SA 440 (T) 450 A-C. Kragtens Appélhofreël 7(3) word 'n appél weens nie-voortsetting afgewys as 'n appellant sou versuim om persoonlik of deur 'n advokaat by die appél te verskyn. Die hof het egter in hierdie verband 'n diskresie. Hoewel adv Kotzé fisies vir Van Rhyn verteenwoordig het en tydens die gepoogde appêl teenwoordig was, kon hy natuurlik nie namens Van Rhyn optree nie omdat Van Rhyn nie meer locus standi gehad het nie. Dit is net so goed soos 'n geval van nie-verskyning. Hierdie reël is dus van toepassing en omdat geen gronde aangevoer is waarom die appêl vanweë voorgaande nie afgewys moet word nie, behoort dit na my oordeel afgewys te word. Vgl S v Isaacs 1968 (2) SA 184 (A); S v Moshesh & Others 1973 (3) SA 962 (A). Dit moet egter onmiddellik gemeld word

5

dat die meriete van die twee appellante se saak identies is en dat wat hierna oor Oosthuizen se appèl gesê word, ook van toepassing sou wees op Van Rhyn s' n indien dit behoorlik voor ons was.

Ek handel ten eerste met die appél teen die afwysing van die hersieningsaansoek. Soos reeds gemeld, was die aansoek op die landdros se fisiese en geestesonvermoë om die appellante 'n billike verhoor te laat toekom, gebaseer. Tydens betoog het adv Kotzé dit duidelik gestel dat hy nie wil betoog dat die landdros aan enige geestesonvermoë gely het nie. Daardie toegewing is tereg gemaak. Die betoog wat oorgebly het, en soos ek dit verstaan het, was dat die landdros homself moes rekuseer omdat, objektief gesien, dit gelyk het asof hy nie bevoeg is om sy funksie uit te oefen nie. Ek sai veronderstel dat die advokaat op hierdie laat stadium wel geregtig is om met hierdie frontverandering vorendag te kom. Om die betoog te

6

verstaan, is dit nodig om in besonderhede met die verloop van die verrigtinge in die streekhof te handel.

Dis reeds gemeld dat daar tot en met vonnisoplegging 26 hofverskynings was. Maar slegs by drie geleenthede is getuienis gelei. Die talle verskynings is hoofsaaklik deur die toedoen van die appellante veroorsaak. Hulle het gedurende die verloop van die verhoor bewus geword van die feit dat die landdros aan breinkanker ly. Gereeld soos klokslag het óf die een óf die ander, óf albei, versuim om op die voorgeskrewe tyd of hoegenaamd by die hof op te daag. Hulle was óf in die destydse Suidwes-Afrika, óf in Swaziland, óf in Lesotho, óf in hegtenis op ander aanklagte, óf siek en ongesteld. Daar kan weinig twyfel wees dat hulle gehoop het dat hulle vertragingstaktiek daartoe sou lei dat die landdros op een of ander stadium tou sou moes opgooi. Maar ten spyte van sy siekte het die landdros deurgedruk tot die einde en was hierdie die

7

laaste saak wat hy afgehandel het. Tydens die 25ste verskyning en in die loop van 'n verdedigingsaansoek om uitstel, het die landdros terloops gemeld dat hy nie fisies in staat sou wees om ' n ex tempore-uitspraak te lewer nie en dat hy verplig sou wees om sy uitspraak uit te skryf. By die daaropvolgende verskyning het hy 'n geskrewe uitspraak byderhand gehad en toe hy dit wou begin voordra, het 'n hoesbui hom oorval. Hy het toe die geskrewe uitspraak ingehandig en die appellante skuldig bevind. Daarna is getuienis ter strafversagting aangebied, hierdie aspek is betoog en die landdros het toe dermate herstel dat hy 'n uitspraak uit die vuis oor vonnis kon lewer. Teen hierdie agtergrond is betoog dat, in die oë van die objektiewe litigant, die landdros onbekwaam was om 'n billike verhoor te behartig. Hierdie betoog moet myns insiens afgewys word. Die advokaat kon nie na enige fout in die ex tempore-uitspraak op vonnis wys nie. Hoewel in

8

die beëdigde verklarings deur die appellante beweer is dat die uitspraak op die meriete "ietwat onsamehangend" was, vind ek geen bewyse daarvan nie. Die landdros het wel een of twee wanvoorligtings ten aansien van die feite begaan maar dit is nie betoog dat hulle wesenlik was nie en, indien in gedagte gehou word dat die verhoor oor 'n tydperk van twee jaar gestrek het en dat die landdros slegs sy notas ter beskikking gehad het, is dit verbasend dat hy nie meer foute gemaak het nie.

Dis verder aan die hand gedoen dat die indruk van 'n verhoor deur 'n onbevoegde regterlike beampte geskep is tydens die 25ste verskyning. Op daardie stadium is weereens aansoek om borg namens Oosthuizen gedoen. Die landdros het onmiddellik te kenne gegee dat hy nie borg gaan toestaan nie omdat hy te veel met die appellante gesukkel het en aan die einde van sy geduld gekom het. Hierdie stelling van die landdros moet nie in isolasie gesien word nie. Reeds by

9

die 12de verskyning het die landdros die appellante gewaarsku dat hulle herhaalde verbreking van die borgvoorwaardes en hulle versuim om die hof by te woon daartoe sal lei dat hy nie verdere borg aan hulle sal toestaan nie. Oosthuizen was daarna by ten minste verskynings nrs 20, 21 en 24 afwesig en op dié betrokke dag weer laat. Sy borg was toe reeds verbeurd verklaar en hy moes dus in hegtenis bly. Teen daardie agtergrond is aansoek om borg gedoen. Die landdros se reaksie was onder die omstandighede verstaanbaar. En ten spyte van wat hy gesê het, het hy die borgaansoek aangehoor en toe, myns insiens tereg, afgewys. Soos ook ten aansien van al die ander besware wat teen die landdros geopper is, het die prokureur nooit 'n aansoek om rekusering geloods nie. Die onvermydelike indruk van die feit dat die hersieningsaansoek eers nege maande na oplegging van vonnis geliasseer is, is dan ook dat dit 'n blote nagedagte was. Die beweerde probleme

10

wat uit die rekord blyk, is ook nie in enige kennisgewing van appél of in die oorspronklike betoogpunte in dle hof a quo geopper nie.

'n Verdere grond van beweerde skyn van onbevoegdheid is dat die landdros na skuldigbevinding daarop aangedring het dat die vonnisondersoek onmiddellik afgehandel moes word en, volgens die appeliante, hulle prokureur aangejaag het. Nie alleen was die landdros se houding myns insiens redelik nie maar die prokureur se eie standpunt was dat hy die saak wou afhandel en dat hy kort sou wees. Ek moet daarop dui dat die appellante nooit beweer het dat hulle deur hierdie sogenaamde vinnig vonnisondersoek benadeel is nie. Hulie het getuig, die landdros het hulle nooit onderbreek nie en hulle prokureur het betoog. Hy sê nie dat hy nie sy volle betoog voorgelê het of kon voorlê nie.

Dit is reeds gemeld dat dit die Staat se

11

saak was dat die appellante deur mlddel van bedrog R5 000 vanaf die klaer ontvang het. Dit was deurgaans die appellante se saak dat hulle begerig en gewillig was om daardie bedrag terug te betaal omdat die causa vir die betaling weggeval het. Dit word deur die appellante beweer dat die landdros druk op hulle prokureur en op hulle geplaas het om toe te sien dat hulle hierdie geld terugbetaal en dat hy selfs tydens 'n geleentheid in sy kantoor sou gesê het dat die Staat die vervolging sou staak indien die geld terugbetaal sou word. Dit is nie duidelik of hierdie gebeure, volgens die betoog, op vooroordeel of onbekwaamheid sou dui en of dit gebeure is wat die landdros sou genoop het om homself te rekuseer nie. Hoe dit ookal sy, die submissie is nie op al die tersaaklike feite gebaseer nie. Reeds op 6 Junie 1989 en tydens die sesde verskyning het die appellante in hulle pleitverduideliking (valslik, soos later sou blyk)

12

beweer dat hulle vantevore reeds die R5 000 teruggetender het. Hulle het toe ook die tender "herhaal". Tydens die daaropvolgende verskyning - in die loop van kruis-ondervraging deur die prokureur van die klaer - het die prokureur namens die appellante teenoor die klaer onderneem om op 6 September 1989 die geld aan hom terug te betaal. Die klaer het by die afgespreekte plek op die afgespreekte datum opgedaag maar die belof te is nie nagekom nie. Meer as ' n jaar na die aanbod en wel op 29 Junie 1989 is die aanbod in die ope hof herhaal maar dié keer, na ondervraging deur die landdros, het dit rente teen 'n markverwante koers ingesluit. Hierna (ons weet nie wanneer nle) is die aangeleentheid in die landdros se kantoor geopper. Die omstandighede waaronder dit gebeur het, is nie uiteengesit nie. Hoe dit ookal sy, op daardie geleentheid het die landdros aangedui dat as die klaer vergoed sou word die staat om 'n staking van die

13

verrigtinge genader kon word en, indien dit nie suksesvol sou wees nie, sou hy 'n ligter vonnis oorweeg. Die onderneming van 29 Junie 1990 is ook nie gestand gedoen nie en op 13 Maart 1991 is dit weereens in die ope hof herhaal. Op 25 Maart 1991 is dit ten dele nagekom toe die kapitale bedrag terugbetaal is. Van Rhyn het tydens sy getuienis ter strafversagting 'n bereidwilligheid om die rente wat hy herhaaldelik al beloof het, te betaal, uitgespreek. Op daardie stadium het Oosthuizen egter reeds teruggegaan op sy onderneming in die pleitverduideliking uiteengesit en die maak daarvan inderdaad ontken. Na my oordeel toon die landdros se optrede dat hy bereid was om die appellante tegemoet te kom. Dit is hulle wat hulle herhaaldelike onderneming verbreek het en die landdros het tereg besef dat hierdie nalate van die appellante, in die geval van skuldigbevinding, 'n invloed op die vonnis sou hê. Ek vind geen onreëlmatigheid in sy optrede nie. Die

14

appellante se eintlike beswaar is dat die R5 000 terug betaal is en hulle nogtans tronk toe is. Die landdros was klaarblyklik nie tevrede dat hulle slegs 'n deel van hulle onderneming nagekom het nie, 'n siening wat 'n redelike geregtelike beampte kan huldig.

Om op te som: Ek is oortuig dat, subjektief gesproke, die appellante nooit die indruk gehad het dat hulle 'n onbillike verhoor gehad het nie. Daarbenewens, objektief gesproke, was die landdros se gedrag, in die lig van die heersende omstandighede, gepas. Dit volg dat die appél teen die afwysing van daardie aansoek nie kan slaag nie.

Om dan met die skuldigbevinding te handel, was die Staatsaak soos volg: Die appellante het langs die pad voertuie te koop aangebied. Die klaer het op 18 Februarie 1989 verby hul staanplek gery en hy het in die een voertuig (wat die onderwerp van die aanklag is) belanggestel. Op navraag is hy meegedeel dat die

15

koopprys R19 000 is en na onderhandeling is mondeling ooreengekom dat 'n deposito van R5 000 voldoende sou wees. Hy is meegedeel dat die voertuie aan Wesbank behoort, dat die appellante agente vir Wesbank is en dat die voertuie namens Wesbank as teruggeneemde voertuie verkoop word. 'n Afspraak vir Maandag 20 Februarie 1989 is gemaak en die appellante het toe by die klaer se werk aangekom. Die appellante het aangedui dat die stukke in 'n woongebied in Pretoria voltooi sou moes word. Op navraag van die klaer waarom dit nie by Wesbank se kantoor kon geskied nie, het hulle gesê dat hulle eintlik van Benoni is en dat hulle op daardie wyse hulle kommissie sou verbeur. Stukke is opgestel wat aandui dat Wesbank die verkoper is en waarvolgens die klaer aansoek om krediet by Wesbank gedoen het. Die appellante wou toe die R5 000 hê maar die klaer het daarop aangedring dat dit in Wesbank se kantoor moes geskied. Hulle het toe dieselfde vrees uitgespreek en

16

as gevolg daarvan het die klaer voorgestel dat hulle na 'n polisiekantoor gaan sodat die geld daar oorhandig kon word en dat hy 'n kwitansie in die vorm van 'n beëdigde verklaring kon kry. Die appellante het ingestem en dit het gebeur. Die afspraak is toe gemaak dat die voertuig die volgende dag afgelewer sou word. Dit het nie gebeur nie. Die appellante het verdwyn en op ongeveer 4 Maart 1989 het hulle hierdie voertuig aan mnr Stevens Ndlovu vir R16 000 te koop aangebied. Hulle het ook aan hom gesê dat hulle vir Wesbank werk. Op 7 Maart 1989 het hulle die voertuig by Ndlovu gelaat want hy wou dit koop. Hulle is op 10 Maart 1989 gearresteer na aanleiding van 'n klag wat die klaer gelê het en Ndlovu het die voertuig die daaropvolgende dag aan die polisie oorhandig.

Die appellante het 'n gesamentlike pleitverduideliking verskaf. Daarvolgens het hulle as agente van ene Botha die voertuig aan die klaer verkoop

17

en R5 000 ontvang. Voordat hulle die klaer se aansoek

om finansiering by Wesbank kon inhandig, is die vorm deur ene Barnard gekonfiskeer. Hulle het beweer dat hulle altyd in staat was om die voertuig te lewer en die transaksie te finaliseer. Tydens getuienis het hulle saak wesenlike veranderings ondergaan. Ek vind dit nie nodig om met die detail daarvan te handel nie. Dit is voldoende om op die volgende te wys: Volgens Van Rhyn se getuienis het Botha teruggeneemde voertuie namens of ten behoewe van Wesbank verkoop. Hierdie voertuig was so 'n voertuig gewees. Die aflosbedrag vir die voertuig was R20 000. Hulle het as agente opgetree. Vermoedelik moes hulle 'n kommissie verdien. Nogtans het hulle die voertuig vir minder as die aflosbedrag aan die klaer verkoop. Die deposito wat hulle ontvang het, is in Van Rhyn se persoonlike rekening inbetaal en verbruik. Die bewering dat hulle nie die aansoek om finansiering by Wesbank kon inhandig nie, mag moontlik

18

waar wees maar ook daaroor was daar meer as een weergawe. Geen aanvaarbare verduideliking is gegee waarom hulle vanaf 21 Februarie tot en met hulle arres nie na die klaer se werkplek gegaan het nie. Die afleweringsdatum is nie in geskil gestel nie. Tydens betoog is dit nie voorgehou dat die landdros gefouteer het deur die staatsgetuies se getuienis te glo en dié van die appellante te verwerp nie. Die landdros se bevinding dat die appellante hulleself as agente van Wesbank voorgegee het, is weliswaar aangeval maar daardie aanval het niks om die lyf nie. Afgesien van die klaer en Ndlovu is die polisiebeampte wat die beëdigde verklaring wat as kwitansie moes dien beëdig het, se getuienis dat ook aan hom dieselfde bewering gemaak is. Ek is dus tevredé dat die skuldigbevinding van Oosthuizen in orde is.

Wat vonnis betref, is Oosthuizen soos gemeld twee jaar gevangenisstraf opgelê. Hy het meerdere

19

vorige veroordelings gehad maar al wat vir huidige doeleindes relevant is, is twee skuldigbevindings gedurende 1986 of 1987 van bedrog waar voertuie by betrokke was. Ten tye van die pleeg van die onderhawige oortreding het daar 'n opgeskorte vonnis van vier jaar oor sy kop gehang. Dit was opgeskort op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan onder andere bedrog gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie. Dit verduidelik waarskynlik die verskil in vonnis wat die landdros tussen Van Rhyn en Oosthuizen getref het. Hoe dit ookal sy, geen wanvoorligting deur die landdros is aangetoon nie en daarbenewens wek die vonnis nie 'n gevoel van skok nie. Inderdaad is die vonnis na my oordeel 'n gepaste vonnis in die omstandighede. (So ook wat Van Rhyn s'n betref, dws as sy appèl gedien het.)

Gevolglik word die volgende bevele gemaak:

20

  1. Die eerste appellant se appél word weens nie-voortsetting afgewys.

  2. Die tweede appellant se appêl word afgewys.

L T C HARMS WAARNEMENDE APPêLREGTER

SMALBERGER, AR )

) STEM SAAM GOLDSTONE, AR )

▲ To the top