S v Van Lill (384/1991) [1993] ZASCA 16 (4 March 1993)


Saaknommer: 384/91 NvH

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

DIRK FREDERICK LOUW VAN LILL APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: SMALBERGER, NIENABER, ARR,

et KRIEGLER, Wnd AR

VERHOORDATUM: 25 Februarie 1993 LEWERINGSDATUM: 4 Maart 1993

UITSPRAAK SMALBERGER, AR :-

Die appellant is op 2 Mei 1988 in die streekhof te Potchefstroom aan twintig aanklagte van bedrog skuldig bevind. Die aanklagte is vir vonnisdoeleindes saamgevat en hy is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Sy appél na die hof benede

2

het misluk. Hy kom nou (met die nodige verlof) slegs teen sy vonnis in hoër beroep.

Die skuldigbevindings spruit voort uit die werwing gedurende September 1984 van kopers van sogenaamde "kubus" aktiveerders deur die appellant (wat as Alfa Kulture handel gedryf het) en sy gemagtigde agent. Die werwing het geskied by wyse van die plasing van 'n advertensie in 'n plaaslike koerant en kontakmaking met voornemende kopers deur die agent. Die appellant het bedrieglik voorgegee dat alle opbrengste uit die aktiveerders deur hom aangekoop sou word. Hy was egter nooit voornemens om dit te doen nie aangesien daar geen afsetgebied vir die oeste was nie. Twintig persone is vanweë die appellant se bedrieglike wanvoorstellings tot hulle nadeel oorreed om met'Alfa Kulture koopkontrakte aan te gaan. As gevolg daarvan het hulle gesamentlik 'n verlies van R21 990-00 gely.

Die appellant, 'n voormalige prokureur, was 53

3

jaar oud ten tye van sy skuldigbevinding. Hy is getroud en het geen afhanklikes nie. Hy het reeds verskeie kere vantevore met die reg gebots. In Augustus 1975 is hy skuldig bevind aan (1) bedrog en (2) diefstal van trustgelde (twee aanklagte). Hy is op die drie aanklagte 'n effektiewe vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgelê. In Junie 1982 is hy skuldig bevind aan nege aanklagte van bedrog (waarby R24 972-00 betrokke was). Die aanklagte is vir die doeleindes van vonnis saamgeneem en hy is gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir drie jaar op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan bedrog of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie. Die onderhawige misdade is tydens die opskortingstydperk gepleeg. Gevolglik het die verhoorlanddros gelas dat indien die opgeskorte vonnis in werking gestel sou word, dit met die onderhawige vonnis moes saamloop. Die appellant het dit ook onder

4

die verhoorlanddros se aandag gebring dat, afgesien van sy vorige veroordelings, hy in 1987 aan tjekbedrog skuldig bevind is waarvoor hy ook sewe jaar gevangenisstraf opgelê is ("die 1987 vonnis") . Dié misdaad is na die onderhawiges gepleeg. Die 1987 vonnis geld dus nie as 'n vorige veroordeling nie.

Dit is geykte reg dat inmenging deur hierdie Hof met die uitoefening van 'n verhoorhof se diskresie met betrekking tot vonnis slegs kan geskied as daar 'n onreëlmatigheid of 'n mistasting was, of die opgelegde vonnis ontstellend onvanpas is. Hier is daar geen sprake van 'n onreëlmatigheid nie. Namens die appellant is wel betoog dat die verhoorlanddros in verskeie opsigte misgetas het. Die beweerde mistastings maak egter nie deel uit van die gronde van appél nie, Gevolglik was die verhoorlanddros nooit die geleentheid gegun om daarmee te handel nie. Streng gesproke dus kan die appellant nie op die beweerde mistastings steun

5

nie. Maar afgesien hiervan is ek oortuig dat die beweerde mistastings geen mistastings was nie, en dat die verhoorlanddros, by die beoordeling van alle relevante feite en die toepassing van die toepaslike beginsels van straftoemeting, deurgaans 'n suiwer en I gebalanseerde benadering gehandhaaf het.

Die enigste oorblywende vraag is of die vonnis ontstellend onvanpas is. Namens die appellant is daar toegegee dat indien daar geen mistasting was nie die vonnis van sewe jaar gevangenisstraf, ofskoon swaar, nie per se aanvegbaar sou wees nie. Daar is egter betoog dat die vonnis buitensporig swaar is as daar op die kumulatiewe uitwerking van die onderhawige vonnis en die 1987 vonnis - wat saam op veertien jaar gevangenisstraf neerkom - gelet word. Dit behoef geen betoog dat 'n effektiewe vonnis van veertien jaar gevangenisstraf vir bedrog, ongeag die aantal aanklagte, 'n besonder swaar vonnis is nie. Dit is ' n vonnis wat selde in

6

oneerlikheidsmisdade voorkom en dan alleenlik in gevalle waar die omvang van die bedrog of diefstal, of die vorige veroordelings van die beskuldigde, van 'n baie meer ernstige aard is as in die onderhawige geval. Indien die appellant terselfdertyd aangekla was van die 1987 misdaad en die onderhawige misdade (wat wel moontlik was), sou die verhoorlanddros hom nouliks 'n effektiewe vonnis van veertien jaar gevangenisstraf opgelê het.

Ofskoon die verhoorlanddros daarvan bewus was dat hy die kumulatiewe uitwerking van die vonnis in gedagte moes hou, blyk dit tog, te oordeel suiwer aan die vonnis wat hy opgelê het, dat hy dit op die ou end uit die oog verloor het. Namens die Staat is tereg toegegee dat die kumulatiewe uitwerking van die vonnisse te hoog is. Myns insiens sou 'n effektiewe vonnis van elf jaar gevangenisstraf vir die 1987 misdaad en die onderhawige misdade aan die oogmerke van straftoemeting

7

voldoen en gepas wees in al die omstandighede. Gevolglik moet die onderhawige vonnis, gesien sy kumulatiewe uitwerking met die 1987 vonnis, as ontstellend onvanpas beskou word. Inmenging daarmee is dus noodsaaklik.

As uitgangspunt kan aanvaar word dat die vonnis van sewe jaar gevangenisstraf op sigself 'n gepaste vonnis is. Dit moet egter versagtend aangepas word om die kumulatiewe uitwerking daarvan saam met die 1987 vonnis teen te werk. Sodanige aanpassing sou normaalweg kon geskied by wyse van 'n gedeeltelike samelopingsbevel of 'n gedeeltelike opskortingsbevel. Wat sameloping betref is daar egter 'n komplikasie. Volgens inligting wat vanaf die Departement van Korrektiewe Dienste bekom is, het die appellant se 1987 vonnis (met inagneming van amnestie en strafvermindering) reeds op 17 Mei 1992 verstryk. Vanaf 18 Mei 1992 is hy dus besig om die onderhawige vonnis

8

uit te dien. Terwyl dit vir die verhoorlanddros aangewese sou gewees het om deel van die vonnis wat hy opgelê het te laat saamloop met die 1987 vonnis, omdat laasgenoemde vonnis reeds verstryk het, is sameloping nie meer prakties moontlik nie. Al sou 'n samelopingsbevel nogtans in die omstandighede regtens bevoeg wees (iets waaromtrent ek my nie uitlaat nie), sou dit administratiewe aanpassing verg. Welke administratiewe probleme dit sou meebring, en of daar oplossings daarvoor gevind kon word, is onseker.

Die ander alternatief is 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis. In die normale verloop van sake sou die appellant nie meer vir so 'n vonnis kwalifiseer nie. Opskorting van 'n vonnis, geheel of gedeeltelik, het hoofsaaklik afskrikking ten doel. Die appellant het reeds die voordeel van 'n opgeskorte vonnis gehad. Te oordeel daaraan dat die onderhawige misdade gedurende die opskortingstydperk gepleeg is, (en die appellant

9

selfs daarna 'n verdere oneerlikheidsmisdaad gepleeg het), het die appellant hom nie deur sy opgeskorte vonnis laat afskrik nie, of andersins daarby gebaat nie. Dit is dus sterk te betwyfel of 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis enige heilsame uitwerking op hom sal hê. Ek is daarvan bewus dat gewaak moet word teen die onoordeelkundige aanwending van strafverligting deur middel van opgeskorte of gedeeltelik opgeskorte vonnisse uit vrese dat die algemene afskrikwaarde daarvan sodoende sal afneem. Gesien egter die ietwat buitengewone omstandighede van die onderhawige geval blyk 'n gedeeltelike opskorting (ofskoon dit nie normaalweg aangewese sou wees nie) tog die bevredigendste meganisme vir vonnisversagting te wees. Die hoop dat dit tog as afskrikmiddel sal dien kan ook seker nie totaal uitgesluit word nie.

Die appél teen vonnis slaag dermate dat terwyl die vonnis van sewe (7) jaar gevangenisstraf bly staan,

10

drie (3) jaar daarvan vir vyf (5) jaar opgeskort word op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind word aan 'n misdaad waarvan oneerlikheid 'n element is nie, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting, en ten opsigte waarvan hy regstreekse gevangenisstraf opgelê word.

J W SMALBERGER APPéLREGTER

NIENABER, AR )

KRIEGLER, WND AR ) - STEM SAAM

▲ To the top