S v Masipa (718/1992) [1993] ZASCA 165 (9 November 1993)


1

Saak nr 718/92

/MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELNG)

In die saak tussen

ABRAM MASIPA Appellant

- en -

DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, VIVIER ARR et VAN COLLER

Wnd AR.

VERHOOR: 9 November 1993

GELEWER: 9 November 1993

TRANSKRIPSIE VAN REDES MONDELING GELEWER IN DIE OPE HOF OP 9 NOVEMBER 1993 DEUR VIVIER AR WAARMEE HEFER AR EN VAN COLLER WND AR SAAMGESTEM HET.

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Noordelike Rondgaande Plaaslike Afdeling deur CURLEWIS R en assessore skuldig bevind op twee aanklagte van moord (aanklagte 1 en 2), een aanklag van brandstigting (aanklag 3) en een aanklag van huisbraak met die opset om aan te rand en aanranding (aanklag 4). Op elk van die moordaanklagte is hy die doodvonnis opgelê en op aanklagte 3 en 4 is hy onderskeidelik tot vier jaar en tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy appelleer na hierdie Hof slegs teen sy skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2.

Mavis Sefara het namens die Staat by die verhoor getuig dat sy gedurende die nag van 11-12 November 1988 iemand aan die deur van haar hut in Seshego, Lebowa, hoor klop het. Die persoon het gesê dat sy die deur moes oopmaak. Toe sy weier, het hy die deur, wat met 'n draad van binne toegemaak was,

3

oopgedruk en ingekom. Sy het die persoon nog nooit vantevore gesien nie. Hy het haar met 'n koevoet aangeval en toe sy haar teensit en 'n stoeiery ontstaan, het hy gedreig om haar met h mes te steek. Haar twee kinders van vyf jaar en een jaar en ses maande oud ("die oorledenes") het by haar voete geslaap sodat haar aanvaller hulle moes gesien het. Sy het daarin geslaag om te ontvlug en het by die huis van Simon Kwinda skuiling gesoek. Sy het die twee oorledenes in haar huis agtergelaat. Haar aanvaller het haar tot by Simon se huis agtervolg waar hy met die koevoet teen die deur begin kap en Simon gedreig het. Haar aanvaller is later daar weg en na 'n rukkie het hulle rook geruik, nader gegaan en gesien dat haar hut aan die brand is. Hulle kon ruik dat die hut met petrol aan die brand gesteek is. Die oorledenes is in die hut doodgebrand. Drie dae later het Mavis die appellant as haar aanvaller op 'n uitkenningsparade

4

uitgewys. Sy het getuig dat sy dit sonder huiwering kon doen omdat sy hom tydens die stoeiery die betrokke nag goed bekyk het.

Jacob Seakamela, 'n neef van die appellant, het namens die Staat getuig dat hy om ongeveer kwart voor agt die betrokke aand by Mavis se hut was. Mavis het nie uitgekom nie maar van binne af geantwoord dat haar ma, vir wie hy gaan kuier het, nie tuis was nie. Terwyl Jacob nog 'n rukkie voor die hut vertoef het, het die appellant drie keer daar verbygestap terwyl hy iets met beide hande agter sy rug vasgehou het. Hulle het met mekaar gepraat. Mavis het voorheen getuig dat sy al gaan slaap het toe Jacob daar aankom en dat sy hom nie gesien het nie. Sy het wel gehoor dat hy met 'n ander persoon voor haar hut praat.

Die appellant se verweer was 'n alibi. Hy het getuig dat hy destyds by sy suster, Margaret Masipa, gewoon het nie ver van Mavis se hut af nie.

5

Om by Margaret se huis vanaf die busstop te kom, moet mens by Mavis se huis verbyloop. Kort na half-agt die betrokke aand was hy op pad huis toe vanaf die busstop en het hy by Mavis se huis verbygeloop. Hy het vir Jacob en Mavis voor haar hut sien sit. Hy het nader gegaan, met Jacob gesels en is toe huis toe. Hy was nie weer daardie aand naby Mavis se hut nie. By Margaret se huis het hy geëet en direk daarna gaan slaap. Margaret het namens die appellant getuig dat hy en sy broer Godfrey die betrokke aand na ete kaart gespeel en gedrink het tot ongeveer half-twee die nag. Nadat die saak vir die verdediging gesluit is, is Jacob Seakamela deur die Verhoorregter teruggeroep en hy het toe getuig dat die pad vanaf die busstop na Margaret se huis glad nie by Mavis se hut verbygaan nie en dat dit h ompad is om daar langs te loop.

Die Verhoorhof het beide Mavis en Jacob as uitstekende getuies beskryf en het bevind dat Mavis

6

voldoende geleentheid gehad het vir h betroubare uitkenning van die appellant. Die Hof het die appellant se getuienis as leuenagtig en sy alibi as nie redelik moontlik waar nie, verwerp.

Namens die appellant is betoog dat Mavis h enkele getuie was wat die identifikasie van haar aanvaller betref, en dat die Verhoorhof versuim hét om die versigtigheidsreël ten opsigte van enkelgetuies na behore toe te pas. Daar is egter wel h mate van stawing vir Mavis se getuienis sodat ons nie met h enkele getuie te doen het nie. Jacob het getuienis gegee oor die appellant se teenwoordigheid en hoogs verdagte optrede vroeër die betrokke aand by Mavis se huis wat, alhoewel dit nie direkte stawing vir haar getuienis is nie, die afleiding regverdig dat hy haar aanvaller was. Hierdie afleiding word versterk deur die appellant se leuenagtige verduideliking vir sy teenwoordigheid by Mavis se hut vroeër die betrokke

7

aand.

Daar is voorts namens die appellant betoog

dat die omstandighede waarin Mavis die identifikasie

gedoen het, nie bevorderlik was vir 'n betroubare

waarneming nie. Dit is so dat daar slegs 'n enkele

kers in die vertrek gebrand het; dat Mavis die

appellant nog nooit voorheen gesien het nie; dat sy

baie groot moes geskrik het en dat sy die appellant

slegs vir 'n kort rukkie gesien het. Aan die ander

kant was hy baie naby aan haar terwyl hulle om besit

van die koevoet gestoei het en het sy getuig dat sy sy

gesig baie goed gesien het. Haar getuienis oor hoe sy

hom by die uitkenningsparade uitgeken het, het die

Verhoorhof sterk beïndruk. In al die omstandighede is

ek nie daarvan oortuig dat die Verhoorhof fouteer het

deur haar uitkenning van die appellant as haar

aanvaller as betroubaar te aanvaar nie.

Daar is verder namens die appellant betoog

8

dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat sy alibi die waarheid is. Mavis se getuienis dat sy omstreeks middernag aangeval is, was nie betwis nie. Volgens die appellant het hy teen daardie tyd lankal geslaap terwyl Margaret getuig het dat hy toe besig was om te drink en kaart te speel. Die verdedigingsgetuienis was so teenstrydig dat dit met reg deur die Verhoorhof verwerp is as nie redelik moontlik waar nie. Na my mening is die appellant korrek skuldig bevind.

Dit laat die appèl teen die doodvonnisse op die twee moordaanklagtes. Behalwe dat hy ongeveer 37 jaar oud is, is niks verder oor sy persoonlike omstandighede bekend nie. Hy het sewe vorige veroordelings waarvan drie vir roof en een vir aanranding is. By twee van die roofaanklagte het hy 'n mes gebruik. By die verhoor het dit verder geblyk dat hy sedert die pleging van die huidige misdade twee verdere misdade naamlik roof en verkragting gepleeg het

9

waarvoor hy h gesamentlike vonnis van 14 jaar gevangenisstraf opgelê. is. Die moontlikheid dat hy gerehabiliteer kan word, moet gevolglik as baie skraal beskou word.

Daar is, na my mening, nie een enkele
strafversagtende faktor in hierdie saak te vind nie.
Ek stem nie saam met die betoog dat die misdade nie
vooraf beplan was nie. Die appellant het met 'n koevoet
gewapen by Mavis se huis ingebreek en toe hy nie sy
misdadige bedoelings met haar kon uitvoer nie, het hy
hom op haar kinders gewreek. Uit die aard van die
saak het die verbranding van haar hut 'n mate van

vooraf-beplanning vereis en is dit nie op die ingewing van die oomblik gedoen nie.

Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend. Twee onskuldige kinders is doodgemaak omdat die appellant nie sy sin met hulle ma kon kry nie. Sy optrede was wreed en genadeloos en so

10

afskuwelik en verderflik dat hierdie as 'n uiterste geval beskou moet word waar die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.

Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.

▲ To the top