S v October (690/1992) [1993] ZASCA 166 (9 November 1993)


Saaknommer 690/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPeLAFDELING

In die saak tussen:

RAYMOND OCTOBER Appellant

en

DIE STAAT Respondent

TRANSKRIPSIE VAN EX TEMPORE-UITSPRAAK WAT OP DINSDAG 9 NOVEMBER 1993 DEUR HOEXTER AR GELEWER IS, EN WAARMEE KUMLEBEN AR EN HARMS Wnd AR SAAMGESTEM HET.

2

HOEXTER AR,

Dit is 'n appèl teen 'n doodvonnis ingevolge art
316A van die Strafproseswet. Voor 'n hof bestaande uit 'n
regter en twee assessore het die appellant, 'n
twintigjarige manspersoon, op 'n aanklag van roof met

verswarende omstandighede (tweede aanklag) en h aanklag van moord (eerste aanklag) tereggestaan. Die appellant, wat skuldig gepleit het, is tereg op albei aanklagte skuldig bevind. Op die tweede aanklag is 'n vonnis van agt jaar gevangenisstraf hom opgelê. Weens die skuldigbevinding aan moord is die appellant ter dood veroordeel.

Die feite van die geval is eenvoudig. Op 12 September 1990 is die appellant by 'n strafverhoor 'n vonnis van meer as vier jaar gevangenisstraf opgelê. Op 3 April 1992, egter, is die appellant onvoorwaardelik uit die

3

gevangenis vrygelaat. 'n Week daarna, op 10 April 1992, het die appellant huisbraak gepleeg; en vier dae daarna, op 14 April 1992, het hy 'n fiets gesteel.

Met laasgenoemde fiets, en nog steeds op 14 April 1992, het die appellant met die oogmerk om weer eens huisbraak en diefstal te pleeg, deur die strate van die dorp Caledon 'n verkenningstog onderneem. Te Ixiastraat 2 het hy die erf van die egpaar De Wet binnegegaan. Niemand was tuis nie. Vroeër op dieselfde dag is mnr De Wet in die Tygerberg-hospitaal opgeneem. Toe die appellant die perseel betree het, was mnr De Wet se gade onvergesel besig om inkopies te doen. Vanaf 'n skuilplek in die tuin van die perseel het die appellant gesien dat mev De Wet in haar motor voor die woning stilhou en pakkies die huis binnedra. Die appellant het haar voorgelê. Mev De Wet, 'n dame 67 jaar oud, is die oorledene in die saak en die slagoffer van die roof.

4

In sy besit het die appellant 'n Okapi mes met 'n 10-sentimeter lem en 'n vlymskerp punt gehad. Die appellant het die huis binnegeglip en kort daarna die oorledene van agter vyf steekwonde met die mes toegedien. Vier van die steekwonde was aan die rug en een aan die sy. Elkeen van die steekwonde het die oorledene se borskas binnegedring en was alleenstaande lewensgevaarlik. Twee van die steekwonde was egter uiters ernstig. Een het die hartspier gepenetreer en die ander het die lewer deurboor.

Op 15 April 1992 het die appellant 'n bekentenis voor'n landdros gemaak. By sy verhoor het die appellant na skuldigbevinding ter strafversagting getuig. In die loop daarvan het hy wesenlik van die inhoud van sy bekentenis afgewyk. Kruisondervraging van die appellant het aan die lig gebring dat hy 'n glibberige getuie en 'n deurtrapte leuenaar is. Bygevolg is dit moeilik om presies te bepaal wat binnenshuis die noodlottige aanval

5

op die oorledene voorafgegaan het. Die appellant het egter toegegee dat hy die oorledene om die lewe gebring het om sy latere uitkenning deur haar te verhoed.

Die appellant het 'n lang lys vorige

veroordelings. Ofskoon hulle nie een geweldsmisdade is

nie, dien opgemerk te word dat dit appellant in die

verlede nie deur daadwerklike gevangenisstraf afgeskrik

het om weer tot misdadigheid oor te gaan nie. Daarenteen

blyk die appellant 'n persoon te wees wat van kleins af

besonder swaargekry het, en wat min kanse in die lewe

gehad het. Hy het slegs voor-primêre skoolopleiding

gehad, en hy is op die ouderdom van veertien jaar verwees.

Sedertdien het hy meerendeels 'n swerwersbestaan gevoer.

Ofskoon die verhoorhof sy voorkoms as dié van 'n volwassene

aangemerk het, het die Staat nie in geskil getree met die

appellant se getuienis dat hy twintig jaar oud is nie, en

die appèl moet op daardie grondslag beoordeel word.

6

Mnr Gess, wat op versoek van die hof die appèl

namens die appellant behartig het, het aangevoer dat uit hoofde van sy betreklike jeugdigheid, sy lae beskawingspeil en sy maatskaplike agterstand, langdurige gevangesetting eerder as die doodstraf die gepaste vonnis sou wees. Ofskoon die appellant die verwyt dra van 'n gewetenlose en gruwelike moord op 'n bejaarde en weerlose slagoffer, meen ek dat die appellant se advokaat gelyk het. Met inagneming van al die omstandighede van die geval tref gevangenisstraf van 25 jaar my as 'n gepaste straf.

Die appèl teen die doodvonnis slaag. Die doodvonnis wat opgelê is, word tersyde gestel en deur 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf vervang.

G G_HOEXTER AR

▲ To the top