S v Herholdt (407/1991) [1993] ZASCA 171 (15 November 1993)


LL Saak No 407/1991

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAPDELING

Insake die appèl van:

WILHELMINA ALETTA HERHOLDT Appellant

teen

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, NIENABER en VAN DEN

HEEVER ARR

VERHOORDATUM: 5 NOVEMBER 1993

LEWERINGSDATUM: 15 NOVEMBER 1993

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2 Die aand van 31 Julle 1986 het wyle F J Herholdt na 'n plek naby Bloemfontein gery. Die passasiers in sy voertuig ("die Mazda") was sy vrou wat die huidige appellante is, hul agtienmaande oue seuntjie, twee swart vrouens en twee swart mans. Kort nadat die Mazda tot stilstand gekom het, het een of meer van die swart passasiers die oorledene buite die voertuig aangeval. Hy het 12 meswonde opgedoen en as gevolg daarvan op die betrokke plek beswyk.

Hierna het die appellante die Mazda bestuur na Belmarhof, Bloemfontein, in welke woonstelblok sy en die oorledene woonagtig was. Die vier swart mans en vrouens, wat saamgery het, is met haar en haar kind die woonstel in. Later het die groep na ' n kitsbank in die stad gery. Die appellante het met die oorledene se kaart geld probeer trek, maar die outomaat het nie kontant beskikbaar gehad nie. Die appellante het toe die viertal naby 'n taxistandplaas

3

in die middestad afgelaai.

Op Maandag, 4 Augustus 1986, het die appel-lante se broer die lyk van die oorledene in 'n lyks-huis geëien. Later dieselfde dag het die appellante 'n verklaring aan luitenant Schmidt gemaak. Daarin meld sy dat die oorledene die aand van 31 Julie 1986 vir haar gesê het dat hy kontak gemaak het met iemand van wie hy diamante kon verkry. Omstreeks 9 nm, terwyl sy in die woonstel gestort het, het sy 'n klop aan die voordeur gehoor. Die oorledene het die deur oopgemaak en met iemand gepraat, Hy het toe vir haar gesê dat hy nie lank weg sou wees nie, maar dat sy nie vir hom moes wag nie. Hierna het sy nie weer die oorledene gesien nie. Sy sê ook dat sy nie weet wie vir die oorledene se dood verantwoordelik was nie.

Meer as drie jaar het verloop voordat adjudant-offisier De la Rey die appellante gekonfron-teer het met inligting wat hy van een van die swart

4 mans verkry het. Toe hy haar volgens regtersreëls gewaarsku het, het sy aanvanklik met haar vorige weergawe volhard. Nadat hy egter sekere bewerings aan haar gestel het, het sy van weergawe verander. Kort hierna het sy 'n verklaring aan 'n landdros gemaak. Die tersaaklike inhoud daarvan kan soos volg opgesom word:

  1. Nadat haar man laatmiddag van 31 Julie 1986 tuisgekom het, het hy van diamante melding gemaak en gesê dat hul finansiële probleme eersdaags iets van die verlede sou wees.

  2. Omstreeks 9 vm was daar ' n klop aan die voordeur. Sy was besig om te stort maar het nietemin 'n swart vrou die woonstel sien inkom. Laasgenoemde het vir die oorledene gesê dat sy die diamante gekry het waarna hy gesoek het. Kort na die aankoms van die eerste vrou het 'n tweede swart vrou ook- binnegekom. (Hoewel hulle nie in die verklaring . .

5 geïdentifiseer is nie, het dit later geblyk dat hulle onderskeidelik Lizzy en Annie geheet het.)

  1. Hierna het sy, die oorledene, hul kind, Lizzy en Annie in die Mazda na 'n plek in 'n swart woonbuurt van Bloemfontein gery. Daar het hulle 'n swart man opgelaai. Lizzy het toe gesê dat hulle nog ' n man moes gaan oplaai. Toe hulle weer stilhou, het die appellante vir die oorledene gesê dat sy bang was en dat "hulle" - blykbaar die swart passasiers - moes uitklim. Die oorledene het haar egter gerusgestel.

  2. By die tweede stilhouplek het nog 'n swart man in die Mazda geklim. "Hulle" het toe gesê dat die oorledene verder moes ry. Hy het dit gedoen en 'n plek bereik waar groot klippe in die veld gelê het. "Hulle" skreeu toe "hier is die plek, hier is die plek". Feitlik terselfdertyd ruk die mans die deur aan die bestuurderskant oop terwyl Annie haar

6 vasgryp en 'n mes teen haar keel hou.

  1. Die mans het die oorledene uit die Mazda getrek en gesleep. Buite het hy vir hulle geld gegee nadat hulle dit van hom geëis het. Daarop het die mans en waarskynlik ook Lizzy die oorledene met messe gesteek.

  2. Hierna het die een man haar aan die arm geruk en gesê dat hulle moes ry en geld gaan haal. "Hulle" het toe 'n rewolwer teen haar regtersy gedruk. Sy het die Mazda na hul woonstel bestuur. Sy het gesê dat sy nie geld gehad het nie maar die viertal - wat klaarblyklik saam met haar en die kind na die woonstel gegaan het - wou haar nie glo nie en het "alles deurgegrou".

(7) In die woonstel het "hulle" gesê dat
sy geld by die bank moes gaan haal "want my man het
vir hulle gesê toe hulle geld gevra het, dat sy geld
in die bank is".

7

(8) Die hele groep is toe weer na die
Mazda en daarin na 'n kitsbank. Toe sy nie daaruit
geld kon trek nie, het die een swart man gesê dat hy
geld by haar sou kom haal want "hulle soek geld en
kort geld".

(9) Die appellante het bygevoeg:

"Hulle sê as ek praat dan maak hulle my dood. Wat hulle nog gesê het, is dat hulle baie maats het en my van tyd tot tyd sal oppas.... Ek het daardie nag uit vrees vir hulle in my kar geslaap .... Orals die nag . , . het ek my man gaan soek want ek was nie seker presies wat met hom gebeur het nie. ... Ek is nie polisie toe nie omdat ek gedreig is met die dood .... Die een ... [swart man] ... het gesê hy sal kom bly geld haal en as ek praat dan maak hy my dood. Ek het nooit polisie toe gegaan nie. Ek was bang. Ek is gedreig met geweld."

Die appeïlante het vervolg dat een van die

swart mans 'n paar dae later by haar kom geld eis het

en gesê het dat hy haar ook sou doodmaak. Sy het toe

8

by haar werkgewer, ene Kussman, geld geleen en dit vir die swart man gegee.

In haar verklaring het die appellante ook gemeld dat sy die dag na die noodlottige gebeure saam met Kussman Kimberley toe was, Ek verwys later weer na hierdie geleentheid.

Nadat die verklaring afgelê is, het die appellante, as beskuldigde 1, en twee swart mans, as beskuldigdes 2 en 3, in die Oranje-Vrystaatse Provin-siale Afdeling tereg gestaan op 'n aanklag van moord op die oorledene. Hulle is al drie deur die verhoor-hof (Van Coller R en assessore) skuldig bevind en daarna elk tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Met verlof van die verhoorregter is die onderhawige appèl slegs teen die appellante se skuldigbevinding gerig.

By die verhoor het 'n swart vrou, mev Lizzy Sekutoane (hierna gerieflikheidshalwe bloot Lizzy genoem), ten behoewe van die Staat getuig nadat sy

9 '

gewaarsku is dat die Staat haar as 'n medepligtige tot die moord beskou het. Die kern van haar getuie-nis kan soos volg saamgevat word.

Sy het van tyd tot tyd gesteelde goedere aan die appellante verkoop en was ook op verskeie geleenthede saam met Annie in die appellante en die oorledene se woonstel. Op versoek van die appellante het sy ingewillig om vir eersgenoemde diamante te "soek". Die aand van 31 Julie 1986 het sy en Annie na die woonstel gegaan. Die doel was om vir die appellante te sê dat sy 'n diamant gekry het. Hierna is die oorledene, die appellante, hul kind, Lizzy en Annie in die Mazda na 'n swart woonbuurt. Die oorle-dene het bestuur. Eers is beskuldigde 2 en daarna beskuldigde 3 (Lizzy se broer) opgelaai. Hulle het verder gery en op ' n plek stilgehou. Op versoek van die appellante het beskuldigdes 2 en 3 uitgeklim en buite die voertuig met haar gepraat. Hierna het

10

beskuldigde 2 beduie waarheen die oorledene moes ry. Hy het weer gestop toe die appellante gesê het dat hy moes stilhou sodat oor die diamant gepraat kon word. Weereens het die drie beskuldigdes buite die voertuig met mekaar gepraat. Daarop het die appellante die oorledene geroep. Toe hy na dié groepie gaan, het sy teruggekom en in die Mazda geklim. Net hierna het dit voorgekom asof die oorledene gepootjie word. Hy het geval en dit het gelyk asof daar ' n bakleiery was. 'n Rukkie later het die Mazda weggetrek. Almal behalwe die oorledene was daarin. Die appellante het bestuur maar het omgedraai, stilgehou en na die oorledene gestap. Sy het aan hom gevat. Hierna het sy die Mazda na die woonstel bestuur. Daarin het sy R170 op 'n tafel neergesit. Die geld is op aandrang van beskuldigde 2 deur Annie geneem. Vervolgens is hulle almal in die Mazda na 'n kitsbank waar die appellante tevergeefs geld probeer trek het. Sy het

11

toe onderneem om op 'n bepaalde datum nog geld aan die viertal te gee. Dit het meegebring dat hulle ongeveer 'n week later na die besigheidsplek van Kussman in Bloemfontein gegaan het. Daar het die appellante geld in 'n sak van haar (Lizzy se) oorjas gesit. Beskuldigde 2 het die geld by haar geneem en daarna vir haar R130 gegee.

Lizzy het ook gesê dat die geld wat sy gekry het beloning vir die diamant was. Dit sou sy op een of ander stadium vir beskuldigde 2 gegee het.

Beskuldigde 2 het ontken dat hy ooit saam met die oorledene was, en het dus ook aandadigheid aan die aanval op die oorledene ontken. Hierteenoor het beskuldigde 3 erken dat hy die betrokke aand in die Mazda was maar ewe-eens sodanige aandadigheid ontken. Hy getuig dat beskuldigde 3 hom in 'n sjebeen genader het. Hy is aangesê om saam te gaan om geld te gaan haal. Hulle het toe in die Mazda

12 geklim. Reeds binne waa die appellante, die oorle-dene, hul kind, Lizzy en Annie. Terwyl hulle ry, vra hy waarheen hulle gaan. Die appellante draai haar kop en met haar vínger oor haar lippe en 'n sisgeluid beduie sy dat hy moet stilbly. Die Mazda stop en beskuldigde 2 sê aan die oorledene dat dit die plek is waar hy diamante kan koop. Op sy versoek dat hulle buite die voertuig moet onderhandel, klim die oorledene uit. Beskuldigde 2 gryp toe die oorledene en steek hom met 'n mes. Die appellante verberg eers haar gesig maar lig weer haar kop op terwyl die oorledene gesteek word. Hierna bestuur die appel-lante die Mazda terwyl die oorledene buite agterbly. Sy sê egter dat sy nie tevrede is met die messtekery nie. Sy sê ook dat sy seker wil maak dat die oor-ledene dood is omdat, indien hy nog lewe, hy sal uitlap wat gebeur het. Sy draai om en hou naby die -blykbaar lewenslose - oorledene stil. Beskuldigde 2

13 gaan na hom, keer terug en rapporteer aan die appel-lante dat die oorledene "klaar" is.

Beskuldigde 3 se weergawe van wat hierna gebeur het, strook grotendeels met dié van Lizzy. Hy vertel ook hoe hulle na die woonstel gery het; hoe die appellante R170 uitgetel het; van die vrugtelose poging om geld by die kitsbank te trek; hoe hulle in die middestad afgelaai is, en van hul latere besoek aan die appellante se werksplek. Hy voeg egter by dat sy op hierdie geleentheid gesê het dat hulle nie kort-kort daarheen moes kom nie omdat die polisie besig was om die "saak" te ondersoek.

Beskuldigde 3 het voorts getuig dat nadat beskuldigde 2 hom kom roep en hy die insittendes van die Mazda gesien het, hy gedink het dat die blankes beroof sou word en dat hy daarby behulpsaam sou wees.

Die appellante se getuienis het in hoof-

14

trekke met die inhoud van haar verklaring aan die landdros ooreengestem. Hoewel haar voortborduring heelwat onwaarskynlike brokkies getuienis die lig laat sien het, verg slegs die volgende verduidelik-ings en byvoegings vermelding:

  1. Nadat Lizzy in die woonstel oor 'n diamant gepraat het, het die oorledene gesê dat hulle dan seker moes ry om die "goed" te gaan haal. Die appellante het toe spontaan gesê dat sy nie sou saamgaan nie. Sy het egter wel ingewillig nadat die oorledene en Lizzy haar versoek het om saam te ry.

  2. Na die aanvalle op hom was die oorledene nie dood nie. Hy het naamlik op een knie "gesit".

  3. Beskuldigde 2 het vir haar gesê dat sy na die woonstel moes ry. Daar het hy haar by die voordeur ingestamp en het hy en beskuldigde 3 gesê dat hulle die "hele plek" sou deursoek vir geld.

15 Hulle het goed op die vloer gegooi en in die proses op die oorledene se Saamboukaart afgekom. Die appel-lante is toe aangesê om met die kaart geld te gaan trek.

  1. Nadat sy die viertal afgelaai het, het sy feitlik die hele nag orals in die stad op soek na die oorledene rondgery, maar nie eens naby die swart woonbuurte nie. Sy het dit gedoen omdat sy geweet het dat hy nie dood was nie en gedink het dat hy sou terugstap vanaf die plek waar hy aangeval was. Op 'n stadium het sy Kussman probeer telefoneer omdat sy wou hê dat hy haar moes help soek. Sy vrou het egter gesê dat hy reeds in die bed was. Meens die dreigemente wat sy in haar verklaring vermeld het, was sy te bang om na 'n polisiestasie te gaan.

  2. Vroegoggend het sy Kussman teengekom. Hy het gesê dat hy die dag in Kimberley sou deurbring en op haar versoek het hy ingestem dat sy kon saam-

16 gaan. Sy en haar kind is toe later die oggend saam Kimberley toe.

  1. Na hul terugkoms in Bloemfontein het sy weer in die Mazda rondgery op soek na die oorle-dene. Daardie aand het sy na haar broer gegaan en hom vertel dat die oorledene vermis was. Sy het hom egter nie vertel wat gebeur het nie. Sy het toe vir die volgende paar dae by haar broer gebly.

  2. Die inhoud van haar eerste verklaring was te wyte aan ' n instruksie van beskuldigde 2. Hy het naamlik vir haar aangesê dat indien die polisie vir haar sou vra waar die oorledene was, sy moes sê dat hy vanaf die woonstel na 'n onbekende bestemming vertrek het. Daar was twee verdere redes waarom bedoelde verklaring onwaar was. Die eerste was dat sy nie die betrokke persone kon identifiseer nie. Die tweede was die vrees wat die dreigemente by haar ingebesoem het.

17 (h) Nadat sy vergeefs geld uit die kits-bank probeer onttrek het, is afgespreek dat die viertal later na haar werksplek sou kom om geld by haar te kry. Ongeveer twee weke na die oorledene se begrafnis het hulle dan ook daar opgedaag. Lizzy het gesê dat sy geld wou hê. Die appellante het daarop vir Kussman gevra om haar R100 te leen. Beskuldigdes 2 en 3 het egter geskreeu dat hulle al die geld soek en nie net R100 nie. Daarop het die appellante altesaam R400 by Kussman geleen en dit aan Lizzy gegee. Sy het vir Kussman gesê dat die oorledene die geld aan die besoekers geskuld het.

Onder kruisverhoor het die appellante erken dat sy die moeder was van 'n verdere kind wat ' n maand na die oorledene se dood verwek is en waarvan Kussman die vader is.

Nadat beskuldigde 3 se saak gesluit is, het die appellante met die nodige verlof weer getuig. Sy

18

het toe 'n verdere rede verstrek waarom sy nie die aanval op haar man aan die polisie gerapporteer het nie. Sy was naamlik bevrees dat die polisie nie haar latere weergawe sou glo nie.

Die verhoorhof het bevind dat nóg Lizzy nóg beskuldigde 3 die volle waarheid vertel het aangaande die aanval op die oorledene en die gebeure wat dit voorafgegaan het. Weens weersprekings in hul weer-gawes kon die hof dan ook nie bepaal presies wat die appellante in die Mazda en op die moordtoneel sou gesê of gedoen het nie. Wel is bevind dat Lizzy en beskuldigde 2 mekaar grotendeels gestaaf het oor die verloop van sake nadat die Mazda van die toneel weggetrek het, en vernaamlik oor die afwesigheid van enige dreigemente teenoor die appellante.

Die hof het voortgegaan om die appellante se weergawe te evalueer en het gekonkludeer dat sy nooit gedreig was nie. Die enigste redelike aflei-

19 ding uit haar optrede was dus dat sy met een of meer van die viertal afgespreek het dat die oorledene vermoor moes word.

In hierdie hof het die appellante se advokaat op 'n aantal gronde aangevoer dat die waar-skynlikhede spreek teen 'n sogenaamde kontrakmoord. Eerstens is betoog dat indien die appellante 'n party was tot 'n afspraak om die oorledene te vermoor, daar vooraf op die beloning van die ander deelgenote ooreengekom sou gewees het, wat volgens die getuienis nie gebeur het nie. Tweedens is daarop gewys dat volgens Lizzy en beskuldigde 2 die appellante nie haar mede-beskuldigdes geken het nie, en is geargu-menteer dat dit onaanvaarbaar is dat die appellante in die Mazda en in teenwoordigheid van die oorledene die afspraak met hulle sou aangegaan het.

Wat die tweede argument betref, verdwyn die aangevoerde onwaarskynlikheid natuurlik indien.aan-

20

vaar word dat die appellante aanvanklik Lizzy se hulp ingeroep het om die oorledene uit die weg te ruim, en aldus met haar gereël het om kontak te maak met ' n persoon of persone wat bereid sou wees om die oorle-dene om die lewe te bring. Lizzy het natuurlik nie van so 'n reëling melding gemaak nie, wat begryplik is aangesien sy haarself andersins as 'n medepligtige tot die moord sou betrek het. Sy het egter ook nie van enige afspraak tussen haar en beskuldigdes 2 en 3 gewag gemaak nie terwyl dit duidelik is dat sy vooraf met minstens een van hulle moes saamgesweer het om die betrokke aand geweld teen die oorledene te gebruik.

Betreffende die eerste argument is daar geen getuienis dat daar al of nie oor die omvang van vergoeding ooreengekom is. Indien daar wel 'n kom-plot tussen die appellante en Lizzy was, kon hulle dus op 'n bepaalde bedrag besluit het.

21 Derdens is betoog dat, gegewe 'n komplot, 'n mens sou verwag dat die appellante die volle vergoedingsbedrag ten tye van die moord beskikbaar sou gehad het. Hierdie betoog kan egter gewig dra slegs indien die appellante oor die nodige fondse beskik het. Maar alles dui daarop dat sy op gebruik van die oorledene se bankkaart aangewese was, welke kaart sy blykbaar eers na sy dood in die hande kon kry.

Vierdens is aangevoer dat, weereens gegewe 'n komplot, die waarskynlikhede daarteen spreek dat die appellante vier swartes kort nadat die moord gepleeg is maar laterig in die aand na die woonstel sou neem. Sodoende sou die appellante immers die risiko skep dat ander persone haar in teenwoordigheid van die viertal by of naby die woonstel kon gesien het. Hierdie betoog is nie sonder gewig nie, maar aan die ander kant het die appellante nie juis 'n

22

keuse gehad indien vooraf afgespreek was, of na die aanval op die oorledene daarop aangedring is, dat die vergoeding nog dieselfde aand betaal sou word. Dit is natuurlik waar dat sy die viertal kon gevra het om by die woonstel in die Mazda te wag terwyl sy geld en die kaart gaan haal het, maar dit is ook heel moont-lik dat hulle nie aan haar 'n geleentheid wou bied om as't ware sonder betaling te ontsnap nie.

Die appellante se advokaat het ook op enkele ander faktore gewys wat volgens hom daarop dui dat slegs 'n rooftog beplan was, en dat die appel-lante nie aan daardie beplanning deel gehad het nie. Nie een van bedoelde faktore dra egter noemenswaar-dige gewig nie.

Die verhoorhof het die onwaarskynlikhede in die appellante se getuienis, en die oorwegings wat dui op haar deelname aan 'n sameswering, bykans uitputtend behandel. Herhaling is onnodig en ek laat

23

dus die klem slegs op die volgende val.

Indien die appellante onskuldig was, sou die viertal moes besef het dat sy te eniger tyd terwyl sy in hul teenwoordigheid was, alarm sou kon maak. Dit sou sy kon doen by die woonstel, by die kitsbank; of selfs op pad na die een of die ander indien hulle voertuie of voetgangers sou teenkom. Dit is dus heel onwaarskynlik dat hulle die risiko van impiikasie deur die onskuldige appellante sou neem tydens die ritte in die Mazda en die besoek aan die woonstel en die kitsbank.

In die verbygaan noem ek dat die appellante se verduideliking waarom sy nie in die woonstelblok alarm gemaak het nie onbevredigend is. Eers sê sy dat die inwoners van die buurwoonstel sterk drank gebruik het en dat sy daarom nie met hulle "ingemeng" het nie, en later dat hulle nie tuis was nie.

Vervolgens is dit totaal onaanvaarbaar dat

24

die onskuldige appellante so deur dreigemente ver-skrik sou gewees het dat sy die gebeure nie aan die polisie of haar broer sou gerapporteer het nie. En indien sy, soos sy getuig, gedink het dat die oor-ledene nie dood was nie en sou terugkeer, en daarom die grootste gedeelte van die nag in die stad na hom gesoek het, sou sy tog gemeen het dat die aanval op hom wel op die lappe sou kom. Daar was dus nie 'n enkele rede waarom sy nie direk nadat sy die viertal afgelaai het na 'n polisiekantoor sou gegaan het nie.

Terloops kan daarop gewys word dat haar weergawe van haar rondryery geen sin maak nie. Indien die oorledene nie dood was nie, sou hy tog seker óf na die woonstel, óf na 'n hospitaal, óf na die polisie gestap het of geneem gewees het, en sou hy nie in die stad rondgedwaal het nie. Bowendien getuig sy dat toe sy die viertal afgelaai het hulle

25 gesê het dat hulle na die oorledene sou terugkeer om hom dood te maak,

Nie net het die appellante nie die gebeure gerapporteer nie, maar in haar verklaring aan Schmidt het sy valslik ontken dat sy die betrokke aand saam met die oorledene uit die woonstel is. Schmidt het haar weer op 25 Augustus, 7 Oktober en 3 November 1986 gespreek en op elke geleentheid het sy in effek daardie ontkenning herhaal. Selfs indien veronder-stel word dat sy die aand van die gebeure verskrik was deur die dreigemente wat geuiter was, is dit hoogs onwaarskynlik dat sy nie binne 'n dag of wat weer rasioneel sou gedink en opgetree het nie.

Die appellante se weergawe dat sy in haar eerste verklaring gesê het dat die oorledene die aand alleen uit die woonstel weg is omdat beskuldigde 2 dit vir haar voorgesê het, is klaarblyklik 'n verdig-sel wat sy uitgedink het nadat sy haar verklaring aan

26

die landdros gemaak het.

Volgens die appellante is afgespreek dat die viertal geld by haar werksplek sou kom haal. Indien sy bang vir hulle was, kon sy deur die polisie 'n lokval vir hulle gestel het. Dit sou allig meege-bring het dat hulle as't ware op heterdaad betrap en daarna in aanhouding onskadelik sou gewees het.

Op die keper beskou, faal die appellante se
weergawe reeds by die aanvang daarvan. Indien die
inisiatief in verband met die moontlike verkryging
van diamante van die oorledene uitgegaan het, is dit

haas ondenkbaar dat hy sou aangedring het - en dit sonder verskaffing van 'n rede - dat die appellante hom moes vergesel, wat sou meebring dat die jong kind ook moes saamgaan. En waarom Lizzy ook sou wou hê dat die appellante hulle moes vergesel, is nog moei-liker begrypbaar.

By opweging van al bostaande faktore en

27 |

oorwegings is ek oortuig dat die verhoorhof tot die
regte bevinding gekom het, nl dat die appellante nie
net 'n leuenagtige getuie was nie maar dat as die

enigste redelike afleiding sy aandadig was aan 'n

sameswering om die oorledene te vermoor. Die appèl word afgewys.

H J O VAN HEERDEN AR

NIENABER AR

8TEM SAAM VAN DEN HEEVER AR

▲ To the top