Prokureur-Generaal, Natal v Madlala and Others (531/1992) [1993] ZASCA 183 (29 November 1993)


Saak No 531/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèL AFDELING)

In die saak tussen

DIE PROKUREUR-GENERAAL VAN DIE

PROVINSIE VAN NATAL Appellant

en

PHILEMON NHLANHLA MADLALA 1ste Respondent

FRANS STEPHANUS ERASMUS 2de Respondent

WILLIAM BASIL HARRINGTON 3de Respondent

CORAM :HEFER, EKSTEEN ARR et HARMS Wn AR.

AANGEHOOR :1 NOVEMBER 1993.
GELEWER :29 NOVEMBER 1993.

UITSPRAAK

HEFER AR:

Ses konstabels van die Suid-Afrikaanse Polisie is in die Natalse Provinsiale Afdeling aangekla, op aanklag 1, van menseroof en, op aanklag 2, van moord. Die huidige respondente was

2

beskuldigdes nos 1, 5 en 6 onderskeidelik. Dit is hoe voortaan na hulle verwys sal word. Al die beskuldigdes is ontslaan op aanklag 1 maar op aanklag 2 is beskuldigdes nos 1, 2, 5 en 6 skuldig bevind aan moord en beskuldigde no 3 aan poging tot moord terwyl beskuldigde no 4 onskuldig bevind is. Beskuldigdes no 1 en 6 is elk gevonnis tot agt jaar, nos 2 en 3 elk tot twee jaar en beskuldigde no 5 tot ses jaar gevangenisstraf. Ooreenkomstig art 316 B van die Strafproseswet 51 van 1977, soos gewysig, het die Prokureur-Generaal appèl aangeteken teen die vonnisse wat beskuldigdes nos 1, 5 en 6 opgelê is.

Die aanklagte het voortgespruit uit 'n voorval wat op 24 Februarie 1991 plaasgevind het in die omgewing van Elandskop naby Pietermaritzburg waar die ses beskuldigdes gestasioneer was as lede van 'n onluste-eenheid. Die betrokke dag is hulle

3

en twee ander konstabels gestuur om 'n ogie te hou oor 'n ANC vergadering. Op pad terug van die vergadering het hulle by 'n groep mense langs die pad gestop en hulle deursoek. Daarna is een van hulle, Mbongeni Jama, agter in die polisievoertuig gedwing en die rit is voortgesit. Beskuldigde no 5 het bestuur. Beskuldigde no 6 het aanvanklik agter op die voertuig op 'n trap gestaan. Vyf konstabels en Jama was agter in die bak. Later het beskuldigde no 5 gestop en beskuldigde no 6 het ook in die bak geklim. Daarna het hulle voortgery in die rigting van Bulwer. By die Zingamu bottelstoor het beskuldigde no 5 weer gestop en na 'n bespreking het die reis voortgegaan, eers in die rigting van Bulwer, daarna in die rigting van Elandskopstasie en toe met 'n grondpaadjie tot in 'n plantasie waar beskuldigde no 5 nogmaals gestop het. Almal het afgeklim en Jama, wat op daardie

4

stadium met 'n lyfband om die nek vasgemaak was, is agter uit die voertuig gehaal. Hy het probeer ontsnap maar is weer gevang. Daarna het beskuldigde no 1 hom met 'n haelgeweer in die kop geskiet. Sy lewelose liggaam is in die plantasie gelaat waar dit die volgende dag gevind is. Voorafgaande is die breë trekke van die verhaal. By die verhoor het die getuies hewig verskil oor besondere aspekte; selfs die beskuldigdes was dit in wesenlike opsigte nie eens nie. Die gevolg was dat die verhoorhof nie in staat was om al die geskilpunte bevredigend op te los nie. Die appél is egter beredeneer op basis van die volgende bevindings:

1. By Jama se deursoeking is niks gevind, en
het niks verder gebeur, wat sy aanhouding
geregverdig het nie.

2. Op die toneel van die deursoeking het

5

beskuldigde no 5 vir Jama geklap en daarna het beskuldigde no 6 gelas dat hy in die voertuig geplaas word.

  1. Nadat beskuldigde no 6 ook agter in die bak geklim het, is Jama op pad na die bottelstoor aangerand deur beskuldigde no 6 en die ander konstabels wat in die bak was. Beskuldigde no 6 het onder andere 'n lyfband om sy nek geplaas en hom daarmee gewurg.

  2. By die bottelstoor het beskuldigdes nos 1, 5 en 6, met die wete van beskuldigdes nos 2 en 3, besluit om Jama te vermoor. Dit was die rede waarom hy na die plantasie geneem is.

  3. In die plantasie het beskuldigde no 6 vir Jama aan die lyfband om sy nek uitgepluk en op die grond laat val. Jama het probeer ontsnap maar beskuldigdes nos 1 en 6 het hom agterna gesit. Laasgenoemde het hom gevang en met die lyfband

6

verwurg terwyl hy op die grond gelê het.

6. Daarna het beskuldigde no 3 in opdrag van beskuldigde no 6 'n haelgeweer uit die voertuig gehaal en aan beskuldigde no 1 oorhandig wat Jama daarmee op kort afstand in die gesig geskiet het. Hoewel die skoot op sigself dodelike gevolge sou gehad het, kon die lykskouer die moontlikheid nie uitsluit dat Jama weens verwurging of 'n ander kopbesering gesterf het nie. In die lig hiervan is dit, met die oog op 'n bespreking van die vonnisse, nodig om aan te dui dat die skuldigbevindings gebaseer is

  1. in die geval van beskuldiges nos 1, 5 en 6, op hulle besluit om Jama te vermoor en die uitvoering daarvan hetsy deur verwurging of 'n kopbesering of die skoot in die kop;

  2. in die geval van beskuldigde no 2,

7

op sy assosiasie met die besluit om die moord te pleeg deur 'n geskikte plek daarvoor in die plantasie uit te wys; en (c) in die qeval van beskuldigde no 3, op sy medewerking deur die geweer aan te gee. Hy is egter slegs aan poging tot moord skuldig bevind omdat die moontlikheid nie uitgesluit is nie dat hierdie daad van assosiasie gepleeg is nadat Jama reeds dood was.

In hierdie hof is namens die Staat aangevoer dat die verhoorregter by die oplegging van vonnis in verskeie opsigte misgetas het. Aangesien ek van oordeel is dat die vonnisse in elk geval buitensporig iig is en verskerp moet word, is ek nie van voorneme om al die beweerde mistastings te behandel nie. Twee daarvan raak egter die wese van die verhoorregter se redenasie en het ook

8

betrekking op faktore wat myns insiens van

kardinale belang is. Daarom noem ek hulle

spesifiek.

In sy uitspraak oor vonnis het die

verhoorregter hom, eerstens, soos volg

uitgelaat:

" I have stressed the f act that the Accused have committed this crime in the performance of their official duties as policemen. I have to look at the other side of the coin as well and here I have to take into account the circumstances under which the police and in particular the Accused have to perform their duties."

Die toestand in Natal word dan beskryf as

"...a hotbed of political intrigue, political violence and political double talk and lawlessness; one where life in the Black townships is both short and cheap. It is in that atmosphere that the police have to try and perform their duty of maintaining law and order.

Young men are exposed to scenes of death and violence as grisly as can be imagined and this is not simply a 'once-off' situation. It is a situation that has become prevalent and one can say

9

almost endemic. It is natural that in this situation police should suffer from the demoralising influence of the situation and that they should become indifferent and insensitive to suffering."

Die kern-opmerking is die een in die

laaste sin. Dit is ongetwyfeld so dat lede van die

polisiemag, en by uitstek diegene wat betrokke is

by die bekamping van onluste en die handhawing van

wet en orde te midde van ongekende geweld in die

geledere van die swart bevolking in sekere dele van

Natal, 'n taak vervul wat soms bomenslike kragte

verg. Dat die voortgesette aanskouing van

gruweldade die gemoed van jong konstabels kan

verstomp en aldus tot ongevoeligheid kan lei, kan

ook nie betwyfel word nie. Maar dat die duisende

lede van die mag nie almal oor dieselfde kam

geskeer kan word nie, is vanselfsprekend.

Klaarblyklik sal die politieke toestand almal nie

10

in gelyke mate raak of beïnvloed nie. Almal het ook nie dieselfde ervarings nie. Beskuldigde no 5 het bv geen geheim daarvan gemaak nie dat hy by die polisiemag aangesluit het in 'n poging om sy sportloopbaan te bevorder. Tot 'n groot mate het hy daarin geslaag want gedurende die hele 1990 het hy nie meer nie as ongeveer 115 dae aktiewe polisiediens verrig. Boonop het hy meesal radiowerk gedoen hoewel hy lid van 'n onluste-eenheid was. Daar is geen getuienis óf van enige demoraliserende invloed van die huidige politieke toestand óf van enige verstomping van die gemoedere van enigeen van beskuldigdes nie. Dit is nie eens bekend tot watter mate, indien enigsins, hulle in gruwel-situasies beland het wat hulle kon beïnvloed nie. 'n Polisie-kapelaan en die bevelvoerder van die beskuldigdes se eenheid het wel getuig van skrikwekkende ervarings van lede van die mag maar,

11

by gebrek aan meer pertinente getuienis, kan dit nie eenvoudig op die waarskynlikhede aanvaar word dat enigeen van die beskuldigdes ook sulke ervarings gehad het nie. Indien dit wel die geval was, is dit onverklaarbaar dat geeneen van hulle dit goedgevind het om by wyse van getuienis ter versagting van vonnis daaroor te getuig nie.

Die tweede mistasting waarna kortliks verwys sal word, het betrekking op die beskuldigdes se gebrekkige opleiding in die beheer van onluste en die feit dat hulle die betrokke dag nie onder toesig van 'n meer ervare lid was nie. Vantevore is reeds opgemerk dat al die beskuldigdes konstabels was. Beskuldigdes nos 4, 5 en 6 was blankes terwyl beskuldigdes nos 1, 2 en 3 en die twee ander konstabels wat hulle vergesel het, swart spesiale konstabels was. Die verhoorregter het hom soos volg hieroor uitgelaat:

12

"The special constables amongst the Accused have had only a rudimentary training. The White members were given a somewhat more thorough training but without their having had the opportunity of getting the feel of ordinary police work, they were thrown into what is perhaps the most difficult task of the police, namely riot control and they were given that task without proper supervision. The sergeant in charge of this section spent no more than an hour coming round to see what the section was doing."

Hierdie opmerkings is feitelik korrek

maar van geen nut vir die beskuldigdes nie. Die

beskuldigdes se optrede was nie te wyte aan

gebrekkige opleiding in die beheer van onluste nie

omdat die moord waaraan hulle skuldig bevind is,

nie in 'n onluste-situasie gepleeg is nie: Jama

was 'n onskuldigde voetganger wat langs die pad

gevind is en wat weggevoer, aangerand en

uiteindelik koelbloedig vermoor is. Nog minder kan

hulle optrede verskoon word aan die hand van die

feit dat hulle die betrokke dag nie onder toesig

13

van 'n meer senior lid van die mag gewerk het nie. Polisie-patrollies bestaande slegs uit konstabels is hoegenaamd nie vreemd nie en die beskuldigdes se bevelvoerder het boonop getuig dat konstabels (soos beskuldigdes nos 5 en 6) met drie tot vier jaar diens as senior lede beskou word. In elk geval is dit moeilik om te begryp hoe 'n geregsdienaar -ongeag sy rang - hom in omstandighede soos die onderhawige kan beroep op die feit dat hy nie deur ' n lid met ' n hoër rang vergesel is nie. Dit, mag ek billikheidshalwe byvoeg, is ook nie wat enigeen van die beskuldigdes probeer doen het in sy getuienis nie.

Die faktore wat genoem is in die twee aangehaalde gedeeltes van die uitspraak oor vonnis het grootliks bygedra tot die feit dat die beskuldigdes nie swaarder gestraf is nie. Hoewel die verhoorregter in hierdie opsig fouteer het, is

14

die omstandighede waaronder die polisie hulle taak moes uitoefen nie irrelevant nie. Myns insiens raak dit die beskuldigdes egter eerder nadelig as voordelig. Juis in sulke omstandihede kan dit met reg van elke lid van die mag verwag word om sy ampspligte toegewyd en nougeset na te kom. Te midde van die politieke intriges waarna die verhoorregter verwys, is dit van die allergrootste belang dat die tradisionele beeld van die polisie as onpartydige handhawers van wet en orde wat onskuldiges beskerm en skuldiges meedoënloos beveg, gehandhaaf word. Deur onbeheersde optrede of magsmisbruik kom die hele polisiemag onder verdenking en verloor dit die agting wat dit verdien en die samewerking van regdenkende lede van die gemeenskap sodat effektiewe polisiëring eenvoudig onmoontlik word. Natuurlik sal daar situasies wees waarin daar nie geleentheid is vir

15

die rustige oorweging van geskikte optrede nie maar, wat allermins geduld kan word, is dat lede van die mag betrokke raak by voorvalle soos die onderhawige. Daarom het ek dit beklemtoon dat die beskuldigdes nie in 'n onlus-situasie opgetree het nie. Hulle het 'n eenvoudige opdrag gehad wat hulle uitgevoer het maar, op pad terug , het hulle hulself onnodiglik bemoei met 'n groep mense met wie hulle niks uit te waai gehad het nie. Die indruk is sterk dat hulle bemoeienis blote magsvertoon was. Dit het niks bygedra om die toestand te verbeter nie; inteendeel kon hulle optrede dit slegs vererger en die taak van die polisie nog verder bemoeilik.

In die lig hiervan en die manier waarop Jama weggevoer en vermoor is, het ek geen twyfel nie dat die opgelegde strawwe vér te kort skiet. Die verhoorhof het bevind dat beskuldigdes nos 5 en

16

6 waarskynlik beoog het om Jama te ondervra oor 'n dagboek wat in sy besit gevind is. Op die toneel van die deursoeking het beskuldigde no 5 hom geklap omdat, volgens een van die getuies, hy vrae in verband met die boek nie bevredigend kon of wou antwoord nie. Dit was ook die rede waarom hy aangerand is op pad na die bottelstoor. Hoe onbelangrik die dagboek was, blyk daaruit dat beskuldigde no 6 dit op hierdie stadium uit die voertuig gegooi het. Beskuldigde no 6 se gesindheid blyk reeds uit die wyse waarop hy deelgeneem het aan hierdie aanranding deur 'n lyfband om Jama se nek te plaas en hom te verwurg. By die bottelstoor is, soos reeds aangedui, besluit om hom inderdaad te vermoor. Die verhoorhof het die besluit daaraan toegeskryf dat beskuldigdes nos 5 en 6 besef het dat hulle geen rede gehad het om hulle slagoffer aan te hou nie en dat die

17

aanranding natuurlik nog minder geregverdig sou kon word. Hy moes dus sterf ten einde te vermy dat die beskuldigdes self in die moeilikheid kom. Die snoodheid van so 'n skrikwekkende besluit spreek vanself. En, nadat dit eenmaal geneem is, is dit met kille vaardigheid uitgevoer. Beskuldigde no 6 se optrede in die plantasie kan ook nie misgekyk word nie. Hy het sy hulpelose slagoffer aan die nek met die lyfband uit die voertuig neergepluk en verwurg. Toe hy probeer ontsnap het, was beskuldigde no 6 weer een van dié wat hom agterna gesit en ingehaal het. Weereens het hy hom verwurg terwyl hy hom met die knie teen die grond vasgedruk het, beskuldigde no 3 aangesê om die haelgeweer te bring en beskuldigde no 1 gelas om hom te skiet. Nadat Jama uiteindelik dood op die grond gelê het, het beskuldigde no 6 die spore van die voertuig sorgvuldig uitgevee voordat die geselskap vertrek

18

het.

Die verhoorregter het tereg daarop gewys

dat die erns van die misdaad op sigself nie

deurslaggewend is nie en dat aandag ook gegee moet

word aan die beskuldigdes se persoonlike

omstandighede. Beskuldigdes nos 5 en 6 was

ongeveer 24 en beskuldigde no 1 ongeveer 26 jaar

oud ten tye van die oortreding. Die verhoorregter

se benadering was -

"...that the sentence should be long enough to express society's disapproval of their conduct but not so long as to cause them to lose the incentive to rehabilitate themselves, or to lose the will to look forward to a time when they can start rebuilding their lives, or to lose the will not to succumb to the corruptive and brutalising influence of prison life."

Hoewel met hierdie benadering nie fout gevind kan

word nie, verskil die vonnisse dermate van wat die

beskuldigdes myns insiens verdien het, dat daarmee

19

ingemeng moet word. Die advokate wat uie beskuldigdes in hierdie hof verteenwoordig het, het gewys op die vonnisse wat beskuldigdes nos 2 en 3 opgelê is en betoog dat beskuldigdes nos 1, 5 en 6 se vonnisse nie buite verhoudig daartoe moet wees nie. Die betreklik ligte vonnisse wat beskuldigdes nos 2 en 3 opgelê is weens hulle eie deelname aan die misdaad, kan egter nie as regverdiging dien vir ligte vonnisse in die geval van beskuldigdes nos 1, 5 en 6 nie. Gedagtig aan al die verswarende en versagtende faktore, die aandeel van elke beskuldigde in die misdaad en die oogmerke van strafoplegging, meen ek dat die vonnisse wat opgelê gaan word gepas is.

Die appêl slaag tot dié mate dat die gevangenisstraf wat beskuldigdes nos 1, 5 en 6

20

opgelê is verhoog word tot 15, 12 en 18 jaar onderskeidelik.

J J F HEFER AR

EKSTEEN AR )

STEM SAAM. HARMS Wn AR )

▲ To the top