Louw & Collins Afslaers (Edms) Bpk v Du Plessis; Louw & Collins Afslaers (Edms) Bpk v Steyn; Louw & Collins Afslaers (Edms) Bpk v Du Plessis; Louw & Collins Afslaers (Edms) Bpk v MacKenzie (208/1992) [1993] ZASCA 191 (30 November 1993)


SShape1 aak nr 208/92

E du Plooy

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

LOUW & COLLINS AFSLAERS (EDMS) BPK Appellant

en

L DU PLESSIS Respondent

LOUW & COLLINS AFSLAERS(EDMS) BPK Appellant

en

C STEYN Respondent

LOUW & COLLINS AFSLAERS(EDMS) BPK Appellant

en

A DU PLESSIS Respondent

LOUW & COLLINS AFSLAERS(EDMS) BPK Appellant

en

J J T MACKENZIE Respondent

Coram: JOUBERT, HEFER, VAN DEN HEEVER AAR, HOWIE et

VAN COLLER Wn ARR
Verhoordatum: Leweringsdatum:

18 November 1993. 30 November 1993.

2 UITSPRAAK

HOWIE Wn AR:

Die Hof a quo het appellant se aparte voorlopige vonnis aksies teen elkeen van die vier respondente van die hand gewys en daarna verlof om te appelleer geweier. Met verlof van hierdie hof kom appellant tans in hoër beroep in al vier sake. Hulle is as een appél aangehoor en word dienooreenkomstig in hierdie uitspraak behandel.

Die gevorderde bedrae het van geval tot geval verskil maar die bewerings in die dagvaardigings was wesenlik dieselfde. Appellant maatskappy doen sake as afslaer en vee-agent. Sy eisoorsaak in elke aangeleentheid was dat hy die wettige houer was van 'n tjek wab die bebrokke respondent Len gunste van appellant getrek het. Oie tjek is egter daarna deur wanbetaling onteer met die endossement dat betaling gesbaak is of dab die tjek na brekker verwys moet word.

3 Respondente het elkeen 'n eedsverklaring geliasseer waarin beweer word dat hulle die gewraakte tjeks uitgegee het op grond van die voorstelling deur werknemers van appellant dat die tjeks nodig was ten einde krediet by appellant te bekom sodat hulle beeste van of deur appellant kon koop; dat gemelde werknemers daarna valse dokumentasie opgestel het waarvolgens ene Breedt, of sy beslote korporasie, Vlakte Veilings BK, beeste aan hulle verkoop het en waarvolgens die koopprys en sekere koste ten opsigte daarvan deur hulle aan appellant verskuldig was; dat sodanige verkooptransaksies fiktief was aangesien hulle nooit enige beeste gekoop het nie; en dat hulle geen teenwaarde van appellant ontvang het en derhalwe geen bedrag aan appellant verskuldig was nie.

Geen eedsverklaring deur Breedt is deur enigeen van die respondente geliasseer nie.

Appellant se bewerings is grotendeels vervat in die eedsverklaring wat een van sy direkteure, ene

4

Drotsky, in elke saak gernaak het. In breë trekke was appellant se weergawe die volgende.

Dit was deel van appellant se besigheid om veetransaksies te finansier. Indien daartoe versoek om krediet by wyse van finansiering te verstrek, sou appellant die koopprys aan die verkoper betaal, of hom in appellant se boeke krediteer, by ontvangs van die koper se blanko tjek wat vir 90 dae vooruitgedateer sou wees. Die tjek moes blanko wees aangesien die volle debiet eers later vasgestel sou word na berekening van bv kommissie, vervoerkoste en rente.

Breedt was 'n veespekulant wat op 'n stadium oor kredietfasiliteite by appellant beskik het maar wat daarna op appellant se aansoek voorlopig gesekwestreer is .

In sy sekwestrasieverrigtinge het Breedt erken dat hy met sekere persone gereël het om hulle teenoor appellant as kopers voor te doen en vooruitgedateerde tjeks met betrekking tot fiktiewe veekooptransaksies aan

5 appellant aan te bied. As gevolg daarvan het appellant die "opbrengste" aan Breedt uitbetaal of sy rekening daarmee gekrediteer. Hierdie bedrieglik verkreë krediet het Breedt in staat gestel om verder op sy rekening met appellant te opereer. Van die beweerde kopers was mense wat nie die bankfasiliteite of fondse gehad het om die tjeks te ontmoet nie.

Breedt se bedrieglike optrede is ontdek toe van die "kopers" aan Drotsky erken het dat hulle transaksies nie eg was nie. Ondanks appellant en die polisie se daaropvolgende ondersoek met betrekking tot Breedt se optrede kon appellant nie vasstel of die onderhawige vier sake onder die fiktiewe gevalle geressorteer het nie. Dit is nie op die stukke erken dat hulle onder daardie gevalle was nie.

Volgens Drotsky het die respondente nooit voor die instelling van hierdie gedinge vir appellant in kennis gestel dat hulle betaling sou aflas nie. Hulle het ook nie hul tjeks teruggevra of verduidelik waarom

6 betaling gestaak is nie. Volgens appellant se rekords was die onderhawige vier gevalle tipiese finansieringsgevalle en het appellant teen ontvangs van die tjeks waarde gegee deur Breedt uit te betaal of sy rekening te krediteer. Appellant se vordering onderliggend aan elke tjek was dus vir gelde geleen en voorgeskiet.

Drotsky het toegegee dat ene Lombard, 'n voormalige direkteur en werknemer van appellant, moontlik by Breedt se bedrog betrokke was maar ook dit is nie as 'n feit op die stukke namens appellant erken nie. OiL is onnodig om op hierdie stadium verder na die inhoud van die oorkonde te verwys. Dit sal hieronder gedoen word wanneer elke respondent se geval individueel bespreek word.

Ondanks die inhoud van hulle eedsverklarings het die advokaat namens L du Plessis, Steyn en A du Plessis (wat ook namens hulle in hierdie Hof opgetree het) voor die Hof a guo betoog dat al vier sake

7 afgehandel kon word op die eenvoudige basis dat hulle almal gevalle was waar Breedt, Lombard, Strydom en elke respondent bedrieglik saamgewerk het om ten koste van appellant fondse vir Breedt te genereer. Dit synde die posisie, was daar geen causa hoegenaamd vir die uitgifte van die tjeks of ten minste geen justa causa nie. Die advokaat namens Mackenzie (wat ook namens lg in hierdie Hof verskyn het) het hom met sy kollega se submissie vereenselwig.

Daardie betoog is deur die Hof benede (Roos R) as deurslaggewend aanvaar. Die geleerde Regter het voorts bevind dat selfs al het appellant nie vroeër van die bedrog geweet nie hy op die laatste daarvan bewus moes geword het voor uitreiking van die dagvaardings en gevolglik behoort hy nie te slaag nie.

Ek kan, met eerbied, nie die Hof a quo se

mening in daardie opsig deel nie. Die betoog waarop dit berus is onhoudbaar. In die afwesigheid van erkennings of toegewings deur die advokate famens hulle kliënte kon

8

die Hof sy bevindings op niks anders as die inhoud van die stukke baseer nie. L du Plessis, Steyn en A du Plessis het hulle onskuld benadruk. Mackenzie se eedsverklaring bevat geen sweem van 'n toegewing dat hy bedrieglik opgetree het of dat hy van bedrog eers bewus was nie. Nêrens blyk dit dat die advokate opdrag gegee is om erkennings in hierdie verband te maak nie. Trouens die teenoorgestelde was die geval. Bowendien, soos reeds aangedui, is geen toegewing namens appellant in die stukke gemaak dat daar enige bedrog of fiksie by respondente se gevalle betrokke was nie.

Die Hof a quo se gevolgtrekking berus derhalwe op afleidings of verondersbellings waarvoor geen behoorlike grondslag in die oorkondes bestaan nie. Bygevolg kan die afwysing van die aksies nie op grond van die Hof se benadering ondersteun word nie. Die vraag is dan of dit geregverdig kan word op die inhoud van die eedsverklarings.

Appellant het vir doeleindes van voorlopige

9

vonnis hom van enige bewyslas wat op hom berus het,

gekwyt. Dit was nooit in geskil nie. Die bewyslas was

daarna op die respondente om aan te toon dat die

waarskynlikhede in die hoofsaak teen appellant was.

Selfs in die hoofsaak, soos tereg namens respondente

toegegee is, sou die bewyslas op respondente berus om

hulle onderskeie beweerde verwere te bewys.

Alvorens oorweeg word of hulle daarin geslaag

het, moet aandag geskenk word aan die vereiste dat daar

justa causa vir die trekking en uitgifte van 'n tjek moet

wees.

In Froman v Robertson 1971 (1) SA 115 (A)

verskyn twee passasies wat hier van belang is. Op 121 D-

E lees die uitspraak soos volg:

"(The) authorities clearly establish (i) that the requirement of justa causa or reasonable cause is sufficiently satisfied if the promise is made seriously and deliberately and with the intention that a lawful obligation should be established .... and (ii) that in determining whether a promise is founded upon justa causa or reasonable cause the ground or reason for the promise should be examined."

10

Vanaf 121 H word die volgende gesê:

"In modern usage a valid chegue represents money and is a generally accepted medium for the payment of a monetary obligation .... Such an obligation generally arises from some transaction, contractual or otherwise, extraneous to the drawing and issue of the cheque itself but nevertheless constituting the ground or reason therefor. Accordingly, any investigation as to the existence or validity of khe causa for the engagements of the drawer must necessarily embrace this underlying transaction. It is for this reason that our Courts have held that an immediate party sued upon a cheque or other negotiable instrument is entitled to raise the defence that, having regard to the underlying transaction constituting the ground or reason for the issue of the cheque, there is an absence or failure of justa causa .... In such a case it is no answer for the party suing to conbend that the cheque, viewed in isolation, i.e. without reference to the underlying transaction, is supported by justa causa in that it was drawn and issued seriously and deliberately and with a view to establishing a lawful obligabion thereon. In circumsbances such as these the cheque cannob be viewed in isolation."

In die lig van daardie beginsels en die feite

van elkeen van die vier sake moet nou oorweeg word of die

respondente hulle van die bewyslas gekwyt heb om aan te

toon daC hulle 'n verweer het, en meer spesifiek dat daar

11

geen justa causa was nie.

L du Plessis het beweer dat die ondertekening en uitgifte van haar tjek in die volgende omstandighede geskied het.

Breedt, wat haar stiefvader is, het haar genader en gevra of sy sou belang stel om saam met hom beeste te koop indien sy krediet kon kry. Sy het hom nie baie ernstig opgeneem nie, sê sy, maar het nietemin bevestigend geantwoord. Sy is naderhand deur Breedt en Strydom besoek. Lg het verduidelik dat krediet vir goedgekeurde kopers beskikbaar was. Krediet sou verleen word op die basis van ' n vooruitgedateerde tjek en die kredietbeperking sou ooreenstem met wat sy sou kon bekostig. Indien sy daartoe sou toestem, sou Breedt of Strydom namens haar koop. Strydom het toe vir 'n blanko tjek gevra om sodoende haar kredietrekord na te gaan. Sy het op daardie tydstip nie oor 'n tjekrekening beskik nie maar het daarna een bekom en toe die gewraakte t jek (die eerste in haar tjekboek) aan Breedt oorhandig. Sy het

12

dit gedoen omdat sy daarin belang gestel het om te koop veral omdat Breedt tot haar kennis 'n veespekulant was en omdat sy hom vertrou het om "die regte advies" aan haar te gee. Breedt het later vir haar in kennis gestel dat die tjek weens 'n administratiewe fout aan appellant se kant vir betaling aangebied is.

Appellant se antwoord hierop verskyn in eedsverklarings deur Drotsky en Strydom. Daarin beweer hulle dat dit aan Strydom opgedra is om tjeks te gaan invorder van diegene wat beeste van Breedt gekoop het met fondse wat deur appellant verleen is. Een van hierdie persone was L du Plessis. By haar huis te Roodepoort het Strydom, wat van Breedt vergesel was, haar tjek gevra. Sy het haar tjekboek daar en dan uitgehaal, 'n tjek in blanko uitgeskryf en aan hom oorhandig. Sy het niks gevra nie en Strydom het geen verduidelikings aan haar gegee nie.

Na my mening is dit duidelik op L du Plessis se eie weergawe dat sy die tjek ernstig en opsetlik

13 onderteken en uitgegee het. Indien sy dit gedoen het met die oog op kredietverkryging om sodoende beeste saam met Breedt aan te koop dan sou daar ook aan die oorblywende vereistes vir iusta causa voldoen gewees het. Sy sou dan die bedoeling gehad het om gebonde te wees op die tjek self en ook met betrekking tot 'n wettige onderliggende ooreenkoms. Die vraag is dan of sy daardie bedoeling gehad het.

Weereens op haar eie getuienis, wou sy wel beeste saam met Breedt aankoop en kredietfasiliteite daarvoor ontvang. Sy wou ook die nodige doen om sodanige fasiliteite te bekom. Klaarblyklik sou haar beoogde aankope op krediet wettige ooreenkomste gewees het.

Die enigste vraag wat dan oorbly is of die tjek gegee is bloot sodat Strydom haar kredietwaardigheid kon ondersoek en of dit haar vooruitgedateerde betaling was van die lening waarmee beeste gekoop sou word. Haar weergawe op hierdie aspek is, om dit sagkens te stel, hoogs onwaarskynlik. Strydom se bewerings dat hy niks

14

aan haar hoef te verduidelik het nie en dat sy reeds 'n tjekboek besit het toe hy haar besoek het, asook sy rede vir die besoek, strook met die agtergrondsomstandighede wat deur Drotsky geskets is en daar bestaan geen rede om lg se betroubaarheid te bevraagteken nie. Afgesien daarvan het Strydom geen blanko tjek nodig gehad vir doeleindes van 'n ondersoek betreffende haar kredietwaardigheid nie - hy kon goed daarsonder klaarkom. Dit is absurd om te suggereer dat sy vir daardie doel 'n tjekrekening en tjekboek bekom het. Laastens is dit insiggewend om te let op die houding wat hierdie respondent, asook Steyn en A du Plessis ingeneem het in die opsomming van hulle verweer aan die einde van hulle eedsverklarings. Daar sê hulle, in effek, dat as appellant op betaling geregtig is dan is hulle op lewering van beeste geregtig. Dit dui myns insiens op die bestaan, nie die afwesigheid nie, van 'n bedoeling tydens uitgifte van die tjek om kontraktueel gebonde te wees. In elk geval, sodra dit vasstaan dat die

15 verduideliking wat L du Plessis vir daardie uitgifte verstrek het waarskynlik nooit in die hoofsaak aanvaar sal word nie bly daar slegs een ander moontlikheid oor en dit is dat sy bedoel het om appellant daarmee te betaal in verband met die aankoop van beeste.

Om die voorgaande redes het hierdie respondent haar nie van haar bewyslas gekwyt nie en was appellant geregtig op voorlopige vonnis teen haar soos aangevra.

Steyn, wat 'n familielid van Breedt is, het beweer dat tydens 'n gesprek wat hy met Strydom en Breedt gehad het, eersgenoemde hom ingelig het dat dit moontlik is om beeste op krediet te koop indien hy deur appellant goedgekeur word. Na vasstelling van sy kredietperk sou hy beeste op krediet kon koop, dit daarna teen 'n wins verkoop, appellant met die opbrengs betaal en dan weer aankoop. Ten einde Steyn se kredietrekord na te gaan het Strydom sy persoonlike besonderhede en 'n blanko tjek nodig gehad wat steyn toe verstrek het. Die tjek was ingevul behoudens die bedrag en datum. Strydom het

16 onderneem om hom later te laat weet wat sy kredietbeperking was. Strydom sou ook die tjek invul met die bedrag van Steyn se aankope en ' n datum 3 maande later as die datum van die aankope. Breedt het mettertyd vir Steyn vertel dat hy vir krediet goedgekeur is. Heelwat later, sonder dat Strydom hom weer genader het, het Steyn in sy bankstate opgemerk dat die tjek wat hy aan Strydom oorhandig het, ingevul is met die bedrag van R95 132-00 en dat dit gedishonoreer is.

Steyn het toe vir Breedt gekonfronteer wat geantwoord het dat die tjek per ongeluk aangebied is en dat hy (Breedt) dit sou terugkry. Breedt het daarop 'n blanko tjek, getrek deur Vlakte Veilings, aan Steyn oorhandig ingeval lg se tjek nie teruggekry kon word nie.

Die bewerings wat Steyn ten opsigte van Strydom gemaak het, is deur lg ontken. Soos in die geval van L du Plessis, het Strydom beweer dat hy saam met Breedt na Steyn gegaan het om 'n tjek met betrekking tot 'n

17

bestaande verkoop te gaan haal en dat hy geen verduidelikings verstrek het nie. Strydom het voorts opgemerk dat dit insiggewend was dat Steyn nooit beswaar teenoor hom geopper het nie dat sy tjek sonder sy magtiging vir betaling aangebied is.

Dieselfde oorwegings wat so sterk teen L du Plessis tel, tel ewe swaar teen Steyn. Daarby kan mens byvoeg dat dit onwaarskynlik is dat die eerste wat Steyn van aankope op krediet gehoor het, van Strydom sou gekom het en nie van Breedt nie. Breedt was klaarblyklik te alle wesenlike tye in finansiële moeilikheid, soseer dat hy bereid was om herhaaldelik bedrog te pleeg. Dit is dus waarskynlik dat, soos in die geval van L du Plessis, dit Breedt was wat met die voorstel van kredietaankope na Steyn sou gekom het sodat Breedt daardeur kontant of krediet by appellant kon verkry. Dit is voorts waarskynlik dat Strydom na Steyn gegaan het bloot om sy tjek te gaan haal ooreenkomstig appellant se gewone finansieringsprosedure.

18 wat ook opval in Steyn se geval is die skema wat volgens sy bewering aan hom voorgestel is. Dit vind weerklank in A du Plessis en Mackenzie se gevalle. Daardie skema was dat nadat die koper op krediet gekoop het, hy op sy beurt teen 'n wins sou verkoop voordat sy tjek ten gunste van appellant ontmoet hoef te word. Dit is veel meer waarskynlik dat daardie idee van Breedt en nie van Strydom gekom het nie. Dit is klaarblyklik bedoel om die betrokke respondent te oortuig dat hy in staat sou wees om appellant binne 90 dae te betaal, en hom daardeur aan te moedig om te koop.

In al die omstandighede is Steyn se verduideliking vir die uitgifte van sy tjek nie net onvoldoende nie maar beslis onwaarskynlik. Die enigste ander moontlike verduideliking is dat dit sy bedoeling was om appellant te betaal ten opsigte van beeste se aankope. Ook in sy geval was appellant op voorlopige vonnis geregtig.

A du Plessis het beweer dat Breedt haar vertei

19

het dat appellant krediet aan haar sou verleen indien sy beeste wou aankoop. Breedt sou haar kon help om die beeste teen 'n wins te verkoop voordat sy appellant sou moes betaal. Sy het Breedt al 'n paar jaar geken en het altyd rede gehad om op sy oordeel te vertrou. Sy het voorts wesenlik dieselfde verduideliking as Steyn verstrek in so verre dit die uitgifte en doel van haar tjek aangaan.

Om dieselfde redes wat op L du Plessis en Steyn se gevalle betrekking het, moes A du Plessis se opposisie in die Hof benede ook gefaal het en moes voorlopige vonnis Leen haar toegestaan gewees het.

Mackenzie se weergawe was soos volg. Lombard en Strydom het hom genader en hom van die reeds gemelde skema vertel. Dit het vir hom aanloklik gelyk. Hy het daarna 'n kredietaansoekvorm in Sbrydom se kantoor voltooi. lg het - in Mackenzie se woorde - "'n fiktiewe beesverkoop transaksie uitgeskryf" waarvolgens Breedt se beslote korporasie beeste aan hom verkoop het. Mackenzie

20

het Strydom hieroor uitgevra waarop lg geantwoord het dat dit die werkwyse was ten einde krediet by appellant te bekom.

Mackenzie het in sy eedsverklaring toegegee dat hy in hierdie omstandighede van beter moes geweet het maar hy het tog die gewraakte tjek aan Strydom oorhandig. Dit was vir die bedrag wat in die vals dokumentasie voorgekom het, en is vir 90 dae vooruitgedateer. Daar is terselfdertyd 'n tjek aan hom oorhandig vir dieselfde bedrag waarvan Vlakte Veilings BK die trekker was. Dit was vooruitgedateer vir 2 dae voor die datum op sy tjek. Lombard, Strydom en Breedt het hom verseker dat hy, op sterkte van die Vlakte Veilings tjek, fondse in sy bankrekening sou hê wanneer sy eie tjek aangebied word. Mackenzie het voorts beweer dat aangesien hy bekommerd was dat hy nie fondse sou hê waarmee sy tjek ontmoet sou word nie, Lombard en Strydom namens appellant hom verseker het dat hulle nie sy tjek sou aanbied indien daar nie fondse op sy rekening was nie.

21 In ruil vir sy deelname aan die fiktiewe transaksie - so het Mackenzie voorts beweer - sou hy kredietfasiliteite hê tot die bedrag van R100 000. Hy het wel gedurende die 90 dae tydperk voordat sy tjek betaalbaar geword het, gebruik gemaak van daardie fasilitite toe hy op 'n veiling beeste vir R7 600 gekoop het. Voor die datum waarop sy tjek betaalbaar sou word, het Breedt hom egter meegedeel dat daar groot probleme by appellant was en hom aangeraai om sy tjek te stop. Breedt het hom verder gesê dat die Vlakte Veilings tjek ook nie gehonoreer sou word nie. Mackenzie het derhalwe betaling van sy tjek gestaak.

Lombard het die bewerings betreffende homself ontken. Voigens hom het Breedt hom geskakel om 'n transaksie te skryf tussen hom (Breedt) en Mackenzie, na wie Breedt verwys het as 'n welgestelde melkboer. Lombard sou nie beskikbaar gewees het nie en het Strydom opdrag gegee om die transaksie te hanteer.

Strydom het beweer dat hy 'n egte transaksie

22

tussen Breedt en Mackenzie in sy kantoor geskryf het ten opsigte waarvan Mackenzie self die besonderhede verstrek het. Breedt en Lombard was nie teenwoordig nie.

Strydom het 'n kredietaansoekvorm voltooi en Mackenzie het dit onderteken. Strydom het toe vir die gebruiklike vooruitgedateerde tjek gevra. Mackenzie het nie sy tjekboek byderhand gehad nie en het belowe om die tjek die volgende dag te bring. Dit het hy toe wel gedoen. Tot die mate dat Mackenzie se bewerings in stryd met syne was, het Strydom hulle ontken.

Na my oordeel is Mackenzie se relaas, selfs op die stukke, so inherent onwaarskynlik dat daar geen vooruitsigte bestaan dat dit in die hoofsaak aanvaar sal word nie. 5y toegewing dat hy van beter moes geweet het, impliseer sy besef dat wat hy verkondig het vergesog was. Dat appellant sou vereis nie net dat 'n valse kontrak opgestel word nie maar dat Mackenzie boonop 'n tjek moet uitgee asof hy daarop aanspreeklik is, is inderdaad vergesog. Dat Mackenzie, na bewering 'n ervare en

23 suksesvolle boer, daarmee sou saamspeel, is nog meer eienaardig. Voorts sê Mackenzie dat Lombard en Strydom klaarblyklik van plan was om sy tjek vir betaling aan te bied. Dit strook nie met die bewering dat die hele transaksie tot almal se kennis 'n blote fiksie vir administrasie doeleindes alleen was nie. Sodra hierdie verduideliking vir die uitgifte van sy tjek vir alle praktiese doeleindes wegval, bly daar, soos in die vorige gevalle, net een ander moontlike verduideliking oor nl dat die transaksie nie vals was nie en dat hy wel die betrokke bedrag aan appellant verskuldig was. Die verdere waarskynlikheid is dat, soos in Steyn en A du Plessis se gevalle, Breedt die outeur was van die skema en dat Mackenzie van hom gekoop het om kort daarna teen 'n wins te verkoop sonder dat die tjek uiteindelik ontmoet word. Om daardie slotsom te bereik, is dit nie eens nodig om staat te maak op die oorweging dat daar geen rede blyk te wees om Lombard en Strydom se weergawe in twyfel te trek nie, welke weergawe op sigself die kanse

24

verder verminder dat Mackenzie in die hoofsaak sal kan slaag.

Ook in sy geval was appellant op voorlopige vonnis geregtig.

In die lig van die voorgaande gevolgtrekkings

is dit onnodig om 'n betoog te behandel wat namens

appellant aangevoer is nl dat die feite vatbaar is vir

die afleiding dat respondente akkommodasie partye was

volgens die Wisselwet, 34 van 1964.

Die appèl moet gevolglik gehandhaaf word. Die volgende bevel word gemaak.

  1. Die appèl slaag met koste.

  2. Die bevel van die Hof a quo word ter syde gestel en met die volgende vervang:

"Voorlopige vonnis word in al vier die volgende sake met koste toegestaan:

  1. In saak 10533/91 teen L DU PLESSIS, in die bedrag van R82 065.00 tesame met rente daarop teen 18,5% per jaar vanaf 21 Desember 1990 tot datum van betaling.

  2. In saak 10532/91 teen C STEYN, in die bedrag van R95 132.00 tesame met rente daarop teen 18,5% per jaar vanaf 8 Desember 1990 tot datum van betaling

25

  1. In saak 9560/91 teen A DU PLESSIS, in die bedrag van R91 551.00 tesame met rente daarop teen 18,5% vanaf 22 Desember 1990 tot datum van betaling.

  2. In saak 10531/91 teen JJT MACKENZIE, in die bedrag van R95 796.00 tesame met rente teen 18,5% per jaar vanaf 11 Maart 1991 tot datum van betaling."

C T HOWIE

Wn Appèlregter.

JOUBERT AR

HEFER AR

VAN DEN HEEVER AR

VAN COLLER Wn AR

▲ To the top