Macadamia Finance Bk and Another v De Wet NO and Others (363/1991) [1993] ZASCA 21 (11 March 1993)


LL Saak No 363/1991

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING

In die saak tussen:

MACADAMIA FINANCE BK Eerste Appellant

MACADAMIA (EDMS) BEPERK

(IN LIKWIDASIE) Tweede Appellant

en

B G S DE WET NO Eerste Respondent

D H RHEEDER NO Tweede Respondent

J N BEKKER NO Derde Respondent

CORAM: BOTHA, VAN HEERDEN, VIVIER,

EKSTEEN ARR et HARMS WnAR

DATUM VAN VERHOOR: 18 FEBRUARIE 1993

DATUM REDES VERSTREK: 11 MAART 1993

UITSPRAAK BOTHA AR:-

2

'n Aksie om skadevergoeding wat deur die appellante teen die respondente in die Transvaalse Provinsiale Afdeling ingestel was, is deur die verhoorregter (DE VILLIERS R) van die hand gewys met koste. Verlof is aan die appellante toegestaan om na hierdie Hof te appelleer. Met die verhoor van die appél, nadat betoog van die appellante se advokaat aangehoor is, is die appél van die hand gewys met koste, insluitende die koste van twee advokate. Daar is toe aangedui dat redes vir die afwysing van die appél later verstrek sou word. Hier volg hulle.

Die feite van die saak blyk uit die ge-rapporteerde uitspraak van die hof a quo: sien Macadamia Finance Ltd en 'n Ander v De Wet en Andere NNO 1991 (4) SA 273 (T). Ek is nie van voorneme om weereens die feite in besonderhede uiteen te sit nie. Met die oog op wat hieronder volg, volstaan ek met die volgende opmerkings. Gedurende 1985 was die

3 eerste appellant 'n maatskappy in likwidasie, en was die respondente sy gesamentlike likwidateurs. Die tweede appellant was toe een van die eerste appellant se volfiliale, maar was nie destyds ook in likwidasie geplaas nie. Voor die eerste appellant se likwidasie het die eerste appellant en die tweede appellant dieselfde direkteure gehad. Na die eerste appellant se likwidasie het die direkteure aangebly as direk-teure van die tweede appellant. Die tweede appellant was die geregistreerde eienaar van die plaas Lang Piet, in die distrik Barberton. Op die plaas was daar onder andere die volgende bates: (1) 'n plantasie neutbome; (2) besproeiingstoerusting; en (3) pompe met motors. Die appellante se aksie teen die respondente het voortgespruit uit die vernietig-ing of beskadiging van hierdie bates, in die geval van (1) en (2) as gevolg van 'n brand, en in die geval van (3) weens oorstromings. In die besonder-

4

hede van vordering is drie afsonderlike eise geformuleer ten opsigte van elk van die drie kategorieë bates. Die derde eis (ten opsigte van (3): die pompe en motors) is gedurende die loop van sy betoog in hierdie Hof deur die appellante se advokaat laat vaar; dit kan dus verder buite beskouing gelaat word.

Die eerste eis, ten opsigte van die ver-nietiging of beskadiging van die neutbome op die tweede appellant se plaas, is in die besonderhede van vordering ingeklee as 'n eis van die tweede appellant alleen. Daar is beweer dat die tweede appellant as gevolg van die brand en die vernietiging of beskadig-ing van die bome skade gely het ten bedrae van R7 028 279,78, synde verlies aan inkomste uit die bome en die hervestigingskoste daarvan, alternatiewe-lik Rl 287 000,00, synde die waardevermindering van die eiendom. Verder is daar beweer dat die respon-

5 dente aanspreeklik was om skadevergoeding aan die

tweede appellant te betaal. In die bedes het die tweede appellant, afsonderlik van die eerste appel-lant, die betaling van die betrokke bedrae deur die respondente aan die tweede appellant gevorder. Die grondslag waarop die appellante getrag het om die respondente aanspreeklik te hou, is 'n beweerde regsplig wat op die respondente gerus het om die bome op die plaas teen brandskade te verseker en die respondente se versuim, ter verbreking van die beweerde regsplig, om sodanige versekering te bewerk-stellig. Alhoewel dit nie blyk uit die besonderhede van vordering nie, is dit duidelik uit die wyse waarop die appellante se saak in die hof a quo gevoer is dat hulle aangevoer het dat die respondente in hulle hoedanigheid as die likwidateurs van die eerste appellant onder 'n regsplig was teenoor die tweede appellant (wat nie in likwidasie was nie) om laas-

6 genoemde se bates te verseker.

In sy uitspraak in die hof a quo het DE VILLIERS R die vraag ondersoek of 'n likwidateur 'n regsplig het teenoor die maatskappy onder sy beheer om die maatskappy se bates te verseker. Aan die hand van die beslissing in Minister van Polisie v Ewels 1975 (3) SA 590 (A) en ander sake wat daarop gevolg het, het hy die vraag bevestigend beantwoord en bevind (op 279J - 280A) dat 'n likwidateur aanspreek-lik is teenoor die maatskappy onder sy beheer as die maatskappy skade sou ly as gevolg van die likwidateur se versuim om die maatskappy se bates te verseker. Klaarblyklik was DE VILLIERS R se aandag hier toe-gespits slegs op die vraag na die onregmatigheid van die likwidateur se versuim, en nie ook op die ver-eiste van skuld (opset of nalatigheid) nie. Met betrekking tot die bestaan van die regsplig en die kwessie van die onregmatigheid van 'n likwidateur se

7 versuim ten opsigte van die maatskappy onder sy

beheer, is DE VILLIERS R se bevinding in algemene, ongekwalifiseerde terme bewoord. Of dit 'n aanvaar-bare stelling van die regsposisie is, hoef, met die oog op die omstandighede van die huidige saak, nie oorweeg te word nie. Ek sal bloot veronderstel (sonder om te beslis) dat die respondente 'n regsplig gehad het teenoor die eerste appellant om sy bates te verseker.

Die vraag vir beslissing is of die respondente as likwidateurs van die eerste appellant 'n regsplig gehad het teenoor die tweede appellant om laasgenoemde se bates te verseker. DE VILLIERS R het beslis (sien 281D en G) dat daar nie so ' n regsplig bestaan het nie. Sy beslissing is gebaseer op die oorweging dat die tweede appellant nie gelikwideer was nie en dat die tweede appellant se beheer en bestuur gevolglik steeds in die hande van sy eie

8

direksie gesetel het (sien 280C - D en H, en 281E -F) . In die betoog voor hierdie Hof het die appel-lante se advokaat op verskeie maniere probeer om hierdie beslissing aan te veg. Grondliggend tot die aanval was die argument dat die respondente met hulle aanstelling as die likwidateurs van die eerste appellant die beheer en bestuur van die tweede appellant "oorgeneem" het van die direkteure van die eerste appellant. Dit was die uitgangspunt en die kern van die hele betoog namens die appellante. Maar die argument is klaarblyklik verkeerd. Dit is inder-waarheid onhoudbaar, omdat dit lynreg indruis teen die feite en onversoenbaar is met die werklikheid, in verskeie opsigte. Ek wys kortliks op 'n paar.

Om mee te begin: 'n likwidateur het die bevoegdhede en verpligtings wat aan hom toegeken word deur die bepalings van die Maatskappywet 61 van 1973. Hy is verplig, onder meer, volgens artikel 391 van

9 die Wet, om die bates van die maatskappy aan te wend ter vereffening van die eise van die skuldeisers van die maatskappy. Daar is geen bepaling wat hom magtig om die bates van die maatskappy onder sy beheer aan te wend ter versekering van die bates van 'n ander maatskappy waarvan hy nie die likwidateur is nie. Dié probleem het die appellante se advokaat probeer oorbrug deur te wys op die feit dat die eerste appellant se aandeelhouding in die tweede appellant ' n bate van die eerste appellant was en aan te voer dat die respondente verplig was om die eerste appellant se bates te beskerm (vgl artikel 386(1)(e) van die Wet) . Die argument slaan die bal mis. Die appellante se saak is nie dat die eerste appellant 'n eis teen die respondente het weens die verbreking van 'n verpligting teenoor die eerste appellant ten opsigte van sy bates nie. Daar is geen poging aan- gewend om aan te toon wat die omvang van die eerste

10

appellant se versekerbare belang in sy aandeelhouding was, of watter skade die eerste appellant sou gely

het nie. Die appellante se saak is dat die respondente 'n regsplig teenoor die tweede appellant verbreek het, met betrekking tot die tweede appellant se bates. Die bestaan van so 'n regsplig is onversoenbaar met die bepalings van die Wet. Die respondente as die likwidateurs van die eerste appellant het nie oor enige magte buite die bepalings van die Wet beskik ten opsigte van bates anders as dié van die maatskappy onder sy beheer nie. Gevolglik is daar geen ruimte vir die gedagte dat die respondente die beheer en bestuur van die tweede appellant "oorgeneem" het nie.

Vervolgens: afgesien van die bepalings van die Wet, is daar in ieder geval geen regsfiguur of -beginsel waarvolgens dit denkbaar is dat die beheer en die bestuur van die tweede appellant op die

11

respondente oorgegaan het nie. Die feit dat die

eerste en tweede appellante voor eersgenoemde se likwidasie dieselfde direkteure gehad het, het opge-hou om van enige betekenis te wees met die likwidasie van die eerste appellant en die aanstelling van die respondente as sy likwidateurs. Voor die likwidasie het die direkteure opgetree in twee verskillende hoedanighede, met verwysing onderskeidelik na die beheer en bestuur van die eerste appellant, en die beheer en bestuur van die tweede appellant. Vanweë die likwidasie is die direkteure ontdaan van die een hoedanigheid, maar seer sekerlik nie van die ander nie. Die posisie is geensins verskillend van wat dit sou gewees het as die twee appellante verskillende direkteure sou gehad het nie. Die gedagte dat die respondente die beheer en bestuur van die tweede appellant sou oorgeneem het van die direkteure van die eerste appellant is onbestaanbaar.

12

In die betoog namens die appellante is daar

gesteun op die getuienis wat aan die verhoorhof voorgelê was oor die wyse waarop die groep maatskap-pye, bestaande uit die eerste appellant as die houer-maatskappy en sy volfiliale, waarvan die tweede appellant een was, se sake ingerig en bedryf was (kyk die uitspraak a quo op 281D - E), en op grond daarvan is aangevoer dat die twee appellante as deel van 'n enkele ekonomiese eenheid beskou moes word. In hierdie verband is ons verwys na 'n aantal beslis-sings in Engeland waarin die begrip "single economic unit" ten opsigte van 'n groep maatskappye bespreek en toegepas is. Met die oog op die omstandighede van die huidige saak is dit onnodig, en sou dit dus onvanpas wees, om op daardie sake in te gaan. (Ek kan egter terloops daarop wys dat die beslissings waarop die appellante se advokaat hom beroep het, sedertdien aan 'n beperkende ontleding en bespreking-

13 onderwerp is in die beslissing van die Court of Appeal in Adams and Others v Cape Industries PLC and Another [1990] Ch 433 (CA) op 532 - 544.) Ek stem saam met die bevinding van DE VILLIERS R (op 280H en 281E - F) dat die appellante se saak nie bevorder word deur die beskouing van die twee appellante as deel van 'n ekonomiese eenheid nie. Hoe heg die eenheid ook al mag gewees het, en wat ook al die gevolge daarvan in ander omstandighede mag gewees het, kon dit nie die likwidasie van die eerste appellant oorleef het op 'n wyse wat dit moontlik maak om die voortbestaan van die tweede appellant en sy eie direksie te negeer nie. Dit kan ook nie die gedagte onderskraag dat die respondente die beheer en bestuur van die tweede appellant oorgeneem het nie; die onhoudbaarheid van daardie gedagte bly steeds, om die redes reeds genoem, 'n onoorkomelike struikelblok in die weg van die appellante.

14
Die appellante se tweede eis, ten opsigte
van die vernietiging of beskadiging van die besproei-

ingstoerusting op die tweede appellant se grond, is in die besonderhede van vordering in die alternatief ingeklee, as 'n eis van óf die eerste appellant óf die tweede appellant. Geen getuienis is voor die verhoorhof geplaas aangaande die eiendomsreg van die toerusting nie. DE VILLIERS R het bevind (op 282C/D) dat die toerusting waarskynlik as aanhegtings tot die grond aangewas het en dat die tweede appellant dus die eienaar daarvan geword het. Hierdie bevinding is nie namens die appellante betwis nie. Op grondslag daarvan staan die tweede eis op presies dieselfde voet as die eerste eis, en is dit insgelyks gedoem tot mislukking.

Vanweë die gevolgtrekkings hierbo gestel, is dit onnodig om aandag te skenk aan ander probleme wat die appellante in die gesig gestaar het (bv.met

15

betrekking tot nalatigheid en oorsaaklikheid).

Om die voorgaande redes is die appèl afgewys.

A S BOTHA AR

VAN HEERDEN AR

VIVIER AR

STEM SAAM EKSTEEN AR

HARMS WnAR

▲ To the top