S v Molefe (120/1992) [1993] ZASCA 25 (11 March 1993)


Saaknommer 120/92 /al

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak van:

IGNATIUS MOLEFE APPELLANT

en
DIE STAAT RESPONDENT

CORAM : SMALBERGER, MILNE ARR, et

KRIEGLER Wnd. AR
DATUM VAN VERHOOR : 4 MAART 1993

DATUM VAN UITSPRAAK : 11 MAART 1993

UITSPRAAK

KRIEGLER Wnd. AR/...

2 KRIEGLER Wnd. AR:

Die appellant kom ingevolge die
bepalings van a. 316A van die Strafproseswet nr 51
van 1977 in hoër beroep teen 'n doodvonnis wat hom
in die Transvaalse Provinsiale Afdeiing weens 'n

skuldigbevinding aan moord opgelê is. Hy het naamlik op Vrydagaand 29 Desember 1989 in die loop van 'n gewapende benderoof op 'n vulstasie in Mamelodi, Pretoria een van die werknemers met 'n haelgeweer doodgeskiet. By die verhoor voortspruitend uit die rooftog sou die appellant, luidens die akte van beskuldiging, tereggestaan het as die eerste van ses beskuldigdes op 'n verskeidenheid aanklagte. Daar is egter slegs teen die appellant voortgegaan en wel op aanklagte van moord (aanklag 1), roof met verswarende omstandighede (aanklag 2), die onwettige besit van die haelgeweer en drie patrone daarvoor (aanklagte 6 en 7) en die rig van 'n vuurwapen (aanklag 8).

3 Die pleit op iedere aanklag was een van skuldig en 'n uitvoerige skriftelike verklaring ingevolge a. 112(2) van Wet 51 van 1977 is namens die appellant ingedien en deur hom bevestig. Daarluidens sou die appellant se opsetsvorm by die pleging van die moord dolus eventualis gewees het maar die staatsadvokaat het aangedui dat hy getuienis ter bewys van direkte opset sou aanbied. (Ten aansien van die ander aanklagte was daar geen geskil nie; die geleerde regter het in 'n kort uitspraak skuldigbevindings daarop ingebring en uiteindelik effektiewe gevangenisstraf van 20 jaar daarvoor opgelê.)

Die tersaaklike feite wat in die daaropvolgende verhoor aan die lig kom, is eenvoudig. Die appellant en sewe makkers ry die noodlottige aand van Diepkloof in Soweto na Mamelodi om, te gaan roof. Hulle het twee semi-outomatiese haelgewere, 'n handwapen en messe. Die

4 appellant se tante woon in Mamelodi en hy ken die vulstasie. By die tante se huis word die roofplan bespreek en daarna bespied die bende hul teiken van 'n vulstasie oorkant die straat. Hul voertuig se nommerplate word afgehaal, hulle ry na die vulstasie en slaan toe. Dit is toe ongeveer 21h30. Die petroljoggies word buite in bedwang gehou terwyl drie manne met vuurwapens die ontvangskantoor binnestap en geld eis. Een van die drie is die appellant, wat die bestuurder van die motorhawe voor die tromp van 'n haelgeweer in 'n aanliggende kantoor indwing. Die ander rower met 'n haelgeweer volg terwyl die man met die pistool stelling inneem in die kantoordeur. Die oorledene, 'n werknemer van die vulstasie, was skynbaar besig om in die kantoor geld te tel: 'n hoeveelheid banknote lê op 'n lessenaar en 'n geldtrommel staan op die vloer langsaan. Die oorledene en die bestuurder staan gedweë teen 'n

5

symuur terwyl die appellant en die ander rower met

' n haelgeweer die geld van die tafel opraap en in

hulle klere stop. Ten einde dit te kan doen, het

die appellant sy haelgeweer styf onder sy regterarm

vasgeklem. Skielik swaai hy linksom, rig die

haelgeweer sonder om te korrel, maar op 'n afstand

van slegs sowat twee meter, op die oorledene en,

sonder dat daar ' n woord gesê word, trek hy die

sneller. Die skoot ruk ' n gat in die oorledene se

bors net links van die onderpunt van sy borsbeen en

verskeur onder andere die hart, aorta, regterlong

en lewer. Daarop raap die appellant die

geldtrommel op en hy en sy twee makkers slaan op

die vlug.

Soos die noodlot dit wil hê, ry 'n

verkeersbeampte in diens van die Mamelodi-stadsraad

juis op daardie stadium met patrollie voor die

vulstasie verby. Hy agtervolg in sy voertuig twee

mans wat hy met gewere uit die vulstasiekantoor

6 sien hardloop. Een van hulle is die appellant, wat kort daarna die geldtrommel laat val en in die donker probeer ontvlug. Met heldhaftige pligsgetrouheid volhard die verkeerskonstabel in die agtervolging en dwing die appellant tot stilstand, onderwerping en inhegtenisname.

Die voorgaande feiterelaas is gebaseer op die getuienis van die bestuurder en die verkeerskonstabel, wat in enkele opsigte van die appellant se relaas verskil. Die verhoorhof was gunstig beïndruk met eersgenoemde twee en het die appellant se weergawe verwerp waar dit van hul weergawes afgewyk het. Daar is geen rede om dienaangaande enigsins van die verhoorhof te verskil nie. Die betoog namens die appellant in hierdie hof is dan ook tereg op dieselfde grondslag aangebied. Nietemin is die bevinding a quo dat die noodlottige skoot met die direkte opset om te dood afgevuur is, bevraagteken. Daar is

7

naamlik aangevoer dat, selfs op die bestuurder se

weergawe van wat in die kantoor plaasgevind het,

daar tog ruimte bestaan vir die redelike

moontlikheid dat die appellant die skoot slegs met

opset by moontlikheidsbewussyn afgevuur het.

Die betoog gaan nie op nie en is bowendien van

geen noemenswaardige belang nie. Dit is wel waar

dat die appellant nie gekorrel het voor hy die

skoot afgetrek het nie. Dit beteken egter nie dat

hy nie pertinent na die oorledene se bors geskiet

het nie. In die beknopte ruimte van die kantoor

was moordenaar en slagoffer so na aan mekaar dat

dit feitlik as 'n tromp-op skoot beskryf kan word.

Op so 'n afstand is 'n haelgeweer 'n uiters

effektiewe en dodelike wapen juis omdat daar nie

akkuraat gekorrel hoef te word nie. Bowendien het

die appellant reeds in sy a. 112(2)-verklaring en

weer in sy getuienis erken dat hy die geweer op die

oorledene gerig en doelbewus die sneller afgetrek

8

het. Die onafwendbare slotsom is dat hy die

regstreekse opset gehad het om die oorledene daar

en dan te dood. Maar al sou daar tog ' n

moontlikheid wees dat dit nie sy regstreekse opset

was nie, was sy roekeloosheid aangaande die

moontlike doodsintrede so hoog dat dit nouliks te

onderskei is. In elk geval sou die morele

laakbaarheid van die appellant se geestestoestand

nie waarneembaar minder wees nie.

Benewens die voormelde gegewens betreffende

die pleging van die misdaad moet daar gelet word op

die misdadiger. Hy was destyds 21 jaar oud,

ongetroud maar met 'n kind van drie jaar oud en het

by sy moeder in Soweto ingewoon. Hy was

gematrikuleerd en het twee jaar tersiêre onderrig

voltooi met die oog op 'n loopbaan as skrywer.

Vroeër jare het hy 'n aktiewe rol in sy kerk

gespeel en sedertdien was hy 'n jeugleier in

gemeenskapsake. Van besondere belang is dat die

9 onderhawige vergrype sy eerste botsing met die gereg was.

Dit is dan die agtergrond waarteen daar oor die gewraakte vonnis besin moet word. Die toepaslike benadering, werkwyse en maatstawwe is geyk. Dit is hierdie hof se taak om opnuut te besluit of, met inagneming van bewese strafverswarende faktore en enige moontlike strafversagtende faktore en die oogmerke van straftoemeting, die doodvonnis die enigste gepaste straf is.

Die strafverswarende faktore is veelvuldig en gewigtig. Die swaar gewapende bende het met voorbedagte rade van die suidwestelike buitewyke van Johannesburg na Mamelodi ten noordooste van Pretoria gery om met wapengeweld en getalle-oorwig te gaan roof. Veral die voorgenome gebruik van twee semi-outomatiese haelgewere is beklemmend sinister. Die moontlikheid van dodelike geweld was

10
uit die staanspoor ' n komponent van die plan. In
die volvoering van daardie plan het die appellant
'n leidende rol gespeel: sy plaaslike kennis is
gebruik; sy tante se huis is die plaaslike

beplanningsplek; hy is een van die drie lede wat die teikenperseel binneval; hy is een van die twee wat die dodelikste wapens dra; en op die kritieke fase van die waaghalsige plan is dit hy wat die bestuurder in die kantoor indwing, die oorledene neervel en die geldtrommel buit maak. As hy nie die bevelvoerder van die bende was nie, dan was hy ten minste 'n sleutelfiguur. Die bende se motief was natuurlik hebsug, hul gekose metode wapenbedreiging en/of -geweld en hul gekose teiken niksvermoedende mense wat laat op 'n Vrydagaand eerbaar besig is met dienslewering aan die reisende publiek.

Dit is dan in die konteks van daardie bose plan dat die moord gepleeg word. Sonder rede of

11

waarskuwing word die oorledene op 'n kort afstand koelbloedig platgeskiet. Daar was geen onvoorsiene gebeurtenis of ander presipiterende faktor wat tot die skoot aanleiding gegee het nie. Na die skoot gevuur is, tel die appellant die geldtrommel op en maak hom uit die voete. Toe dit sy ontsnappingskanse belemmer, laat vaar hy die trommel en probeer op die laaste nog sy inhegtenisneming deur die verkeerskonstabel dwarsboom. Die onvermydelike afleiding uit sy reeks handelinge is dat hy deurgaans kil berekend opgetree het.

Onder die rubriek versagtende faktore is twee aspekte namens die appellant benadruk. Een daarvan, naamlik die appellant se eerste oortrederskap, dra gewig. Dit is inderdaad 'n aanduiding dat die appellant nie 'n verdorwe boosdoener is nie, maar soos sy lewensloop tevore aandui, die produk van 'n ordentlike huis. Dit

12 volg dan ook daaruit dat die vooruitsigte op hervorming belowend is. Die tweede faktor wat namens appellant ter oorweging gegee is, is sy betreklike jeugdigheid. Dit is wel so dat onbesonnenheid, beïnvloedbaarheid en dergelike tekens van geestelike onrypheid by straftoemeting begrip verg. Dit is egter nie 'n bloot kronologiese oefening nie maar 'n sinvolle evaluering van die betrokkene se handelinge in die wete dat hy 'n bepaalde ouderdom bereik het. In hierdie betrokke geval gaan dit om ' n man van bogemiddelde intelligensie met twee jaar tersiêre onderrig en etlike jare ondervinding van die verantwoordelikhede van 'n ouer. Bowendien bewys sy misdade dat hy oor die vermoë beskik om onverskrokke leiding te gee by die beplanning en uitvoering van 'n waaghalsige rooftog. Geeneen van die swakhede van die jeug kleef dus aan hom nie.

Daar kan egter nie net op die appellant as

13

persoon gelet word nie. Straftoemeting moet ook rekening hou met die gemeenskapsbelang en die algemene doelstellings van straf. By 'n weersinwekkende misdaad soos die onderhawige tree afskrikking en vergelding sterk op die voorgrond. Die land word geteister deur 'n toenemende vlaag bendemoorde met 'n roofmotief, wat die afskrikkings- en vergeldingselemente des te meer benadruk. Bedoelde oorwegings dra trouens soveel gewig dat dit die vooruitsig op hervorming heeltemal oorskadu. Anders gestel, die erns van hierdie saak is so sonderling hoog dat slegs die oplegging van die doodstraf vanpas is.

Die appél word afgewys.

J.C KRIEGLER WND. APPèLREGTER SMALBERGER AR ]

] STEM SAAM

MILNE AR ]

▲ To the top