S v Mnisi (1/1992) [1993] ZASCA 31 (16 March 1993)


Saaknommer : 1/92 NvH

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

JOSEPH MNISI APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

SMALBERGER, AR :-

Saaknommer : 1/92 NvH

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

JOSEPH MNISI APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: SMALBERGER, VIVIER, ARR,

et NICHOLAS, WND AR

VERHOORDATUM: 9 MAART 1993

LEWERINGSDATUM: 16 MAART 1993

UITSPRAAK SMALBERGER, AR :-

Die appellant is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling deur HEYNS, R, en twee assessore skuldig bevind aan drie aanklagte van moord, twee aanklagte van poging tot moord en een aanklag elk van roof met verswarende omstandighede, onwettige besit van 'n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie. Op elk

2

van die drie moordaanklagte is hy die doodvonnis opgelê. Op die ander vyf aanklagte (wat saamgeneem is vir vonnisdoeleindes) is hy tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kom nou ingevolge die bepalings van artikel 316 A van die Strafproseswet 51 van 1977 in hoër beroep slegs teen die drie doodvonnisse wat hom opgelê is.

Die gebeure wat tot die appellant se skuldigbevindings aanleiding gegee het, is die volgende: Gedurende die aand van 1 Mei 1989 is die appellant en 'n metgesel ("die twee rowers") na 'n vulstasie in die Moutse distrik. Hulle is soontoe met die opset om te gaan roof. Een van hulle was met 'n egte pistool gewapen; die ander het net 'n speelgoed pistool in sy besit gehad. Met hulle aankoms daar het vier van die petroljoggies wat by die vulstasie werksaam was na die wagkamer op die perseel gevlug en die deur agter hulle toegemaak; 'n vyfde een het in 'n aangrensende kamer

3

gaan skuiling soek. Die twee rowers het probeer om die wagkamer se deur oop te stoot. Toe hulle daarin slaag om dit effens oop te druk, het die een met die egte pistool, onder aanmoediging van die ander, sy pistool in die opening ingedruk en 'n aantal skote na binne gevuur. Een van die petroljoggies in die wagkamer is noodlottig in die hart getref; twee ander is gewond. Daarna het die twee rowers die vyfde persoon in die kamer waar hy geskuil het, opgespoor. Hy is noodlottig in die bors geskiet. Die twee rowers is toe met meer as R4 000 wat hulle buitgemaak het, daar weg.

Later die aand, nadat die polisie ontbied is en op die toneel opgedaag het, is die liggaam van 'n man wat soos een van die rowers geklee was onder 'n boom naby die vulstasie gevind. Hy het 'n skietwond in sy bors gehad wat sy dood veroorsaak het. Langs hom was die speelgoed pistool. Die verhoorhof het bevind dat dié persoon die appellant se metgesel was. 'n Pistool

4

is later deur die polisie in die huis wat die appellant bewoon het, gevind. Ballistiese toetse het getoon dat die koeëlpunte wat uit die liggame van twee van die oorledenes verwyder is (waarvan een die appellant se makker was) vanaf dié pistool afkomstig was. Aangesien dit die enigste vurwapen op die misdaadstoneel was, kan afgelei word dat die derde oorledene (in wie se liggaam geen koeëlpunte gevind is nie) ook met daardie pistool geskiet is.

Die appellant, wie se alibi verweer tereg deur die verhoorhof verwerp is, het nie by die verhoor getuig nie. Die leerstuk van gemeenskaplike oogmerk is deur die verhoorhof aangewend om hom aan die moord van die twee petroljoggies skuldig te bevind. Daar is nie uitdruklik bevind dat hy die persoon was wat die noodlottige skote afgevuur het nie. Na my mening is die afleiding onafwendbaar dat dit wel hy was. Die pistool (die moordwapen) word met hom verbind. Slegs hy

5

kon sy makker geskiet het. Die pistool moes dus op daardie tydstip in sy besit gewees het. Dit is uiters onwaarskynlik dat tydens die rooftog kort vantevore hy nie ook in besit van die pistool sou gewees het nie. Daar blyk geen rede te bestaan waarom die pistool nie deurgaans in die besit van dieselfde persoon sou gebly het nie. Gesien hierdie faktore, en die appellant se versuim om te getuig, is die enigste redelike afleiding dat dit hy was wat die twee petroljoggies noodlottig geskiet het, en dat sy opsetvorm dolus directus was. Die presiese omstandighede waaronder die appellant sy makker geskiet het, is onbekend. Ons kan nie spekuleer oor waar en hoe dit gebeur het nie. Vanweë die appellant se versuim om te getuig was die verhoorhof egter geregtig om te bevind dat hy sy makker met die nodige opset om te dood geskiet het. Die juiste verskyningsvorm van sodanige opset is egter onseker.

Dit is geykte reg dat hierdie Hof geroepe is

6

om opnuut te besluit, met behoorlike inagneming van alle strafverswarende en strafversagtende faktore, sowel as die oogmerke van straftoemeting, of die doodvonnisse in die onderhawige geval die enigste gepaste straf is.

Die strafverswarende faktore is veelvuldig en gewigtig. Die rooftog was klaarblyklik vooraf beplan. Die motief vir die roof was suiwer hebsug. Die appellant was met 'n pistool gewapen. Die moontlikheid dat dit gebruik sou word was deurgaans voorsienbaar. Die appellant het doelgerig en berekend opgetree en nie geskroom om twee van die oorledenes tydens die rooftog koelbloedig dood te skiet nie sonder dat hulle enige noemenswaardige weerstand gebied het of enige wesenlike gevaar vir hom ingehou het. In albei gevalle het hy die direkte opset gehad om te dood. (Ofskoon in die geval van sy makker direkte opset mag ontbreek het, sou die afwesigheid daarvan beswaarlik, in die omstandighede, as strafversagtend beskou kon word.)

7

Die appellant het drie vorige veroordelings vir roof wat etlike maande voor die onderhawige misdade gepleeg is. Hy het ook latere skuldigbevindings vir ontvlugting en aanranding op 'n lid van korrektiewe dienste. Ten tye van sy verhoor was hy besig om 'n totale vonnis van 18 jaar en 4 maande gevangenisstraf uit te dien. Daar is geen opregte tekens van berou by hom te bespeur nie. Hy is 'n gevaar vir die samelewing en sy vooruitsigte om gerehabiliteer te word is gering.

Daar is in werklikheid geen strafversagtende faktore nie. Die appellant was 24 jaar oud toe hy die misdade gepleeg het. Hy het standerd 5 op skool geslaag, is ongetroud en het vir 'n aantal jare vaste werk gehad. Hy is dus 'n volwasse persoon met geen gebrek aan lewenservaring nie.

Die veelvuldige en steeds toenemende voorkoms van gewapende roof en gepaardgaande verlies van menselewens is onrusbarend en verderflik vir die


8

gemeenskap. Dit is herhaaldelik deur hierdie Hof benadruk dat in gevalle soos die onderhawige die afskrikkings- en vergeldingselemente van straftoemeting voorrang moet geniet. Hulle oorskadu heeltemal die appellant se geringe vooruitsig op hervorming. Die appellant se weersinswekkende optrede het tot gevolg dat hierdie as 'n geval van uitsonderlike erns beskou moet word. Gevolglik is die doodvonnisse die enigste gepaste straf.

Die appél word afgewys.

J W SMALBERGER APPéLREGTER

VIVIER, AR )

NICHOLAS, WND AR ) Stem saam

▲ To the top