S v Sylvester (665/1991) [1993] ZASCA 38 (25 March 1993)


1

Saak nr 665/91 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

Tussen:

RODNEY SYLVESTER Appellant

- en -

DIE STAAT Respondent

CORAM: VIVIER, NIENABER ARR et

KRIEGLER Wnd AR.

VERHOOR: 22 Maart 1993

GELEWER: 25 Maart 1993

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Streekhof op Oos-
Londen op 'n aanklag van verkragting skuldig bevind en
gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf waarvan twee

jaar voorwaardelik vir vier jaar opgeskort is. Sy appèl na die Oos-Kaapse Afdeling het misluk en met die nodige verlof appelleer hy na hierdie Hof teen beide sy skuldigbevinding en vonnis.

Wat die skuldigbevinding betref, is die vraag vir beslissing of die Staat bewys het dat gemeenskap, wat deur die appellant erken word, sonder toestemming van die klaagster, die 27-jarige Norma Mtamzana Nkuli, geskied het.. Die klaagster het getuig dat sy om ongeveer halfelf Saterdagaand 28 Julie 1990 in Buffalostraat in Oos-Londen by 'n bushalte vir 'n taxi gewag het. Sy het tot tienuur die aand by die Orange Grove hotel in Greenfields gewerk en was op pad huis toe. Die appellant het in sy motor by haar stilgehou

3

en sy het links agter ingeklim. Hy het 'n U-draai

gemaak en versnel, 'n rooi verkeerslig verontagsaam en

reguit na 'n begraafplaas gery. Hy het uitgeklim en

haar deur oopgemaak. Hy het haar gevloek, deur die

gesig geklap en haar twee keer met die vuis op die

kakebeen geslaan. Hierna het hy 'n kapmes te voorskyn

gebring en na haar kop gekap. Sy het met haar

linkerhand gekeer en die mes het haar vingers gesny.

Hy het haar verder op die linkerbobeen en linkerkuit

met die mes gekap. Die houe het haar broek geskeur en

'n snywond aan haar linkerbobeen veroorsaak wat gebloei

het. Omdat sy vir haar lewe gevrees het, het sy hom

toegelaat om al haar klere uit te trek waarna hy haar

herhaaldelik verkrag het tot die volgende oggend toe.

Vroeg daardie oggend kon hy nie sy motor aan die gang

kry nie en hulle is saam te voet daar weg. Terwyl hy

iemand gaan soek het om hom met sy motor te help, het

sy reguit na die polisie gegaan. Volgens konstabel

4

Umchengu van die Fleetstraatse polisiestasie op Oos-Londen het die klaagster om halfag die betrokke oggend 'n klag van verkragting daar ingedien. Sy het "gelyk soos een wat geskrik het", haar oog was geswel, haar hand bebloed met snymerke daaraan en haar langbroek geskeur. Die klaagster het hom na die begraafplaas geneem waar die appellant se motor nog gestaan het met die kapmes, waarvan die klaagster gepraat het, daarin. Die appellant is later dieselfde oggend gearresteer. Die distriksgeneesheer, dr Melmed, het die klaagster die Sondagoggend ondersoek en sny- en kneuswonde aan haar linkerdy, -arm en -vingers gevind.

Die appellant se verweer, soos reeds aangedui, was dat gemeenskap met die klaagster se toestemming geskied het. Sy weergawe van die gebeure was dat nadat hy die klaagster opgelaai het, hy dadelik toenadering gesoek het. Sy het gunstig gereageer en hy het na 'n afgeleë plek by die begraafplaas gery waar

5

hulle een keer, met haar toestemming, gemeenskap gehad het. Daarna wou sy R20-00 betaling hê maar hy het geweier en aangebied om haar huis toe te neem. Hy kon egter nie sy motor aan die gang kry nie en het toe sy kapmes vir haar gegee sodat sy haarself kon verdedig terwyl hy gaan hulp soek. Hy het van plan verander en op die agterste sitplek gaan slaap. Die volgende oggend is hulle saam daar weg. Sy het weer geld gevra en hy het haar.R2-00 gegee om by die huis te kom. Die appellant het ontken dat hy die klaagster hoegenaamd aangerand het: volgens hom het sy haar vingers waarskynlik gesny toe sy die kapmes by hom geneem het. Hy het egter nooit bloed aan haar hand gesien nie. Namens die appellant het ene mev Fisher van die Orange Grove hotel getuig dat die klaagster nie by die hotel gewerk het soos deur haar getuig nie.

Die Streeklanddros het die klaagster se

6

weergawe aanvaar en diê van die appellant verwerp as nie redelik moontlik waar nie. Die Hof a quo het bevind dat ten spyte van sekere onbevredigende aspekte in die Streeklanddros se uitspraak, haar beserings onverenigbaar is met die weergawe van die appellant sodat sy weeergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie.

Die onbevredigende aspekte in die Verhoorhof se uitspraak waarna die Hof a quo verwys en waarop namens die appellant in hierdie Hof gesteun is, is die volgende. Dit was die appellant se saak dat die klaagster 'n straatvrou is wat 'n klag teen hom gelê het omdat hy haar nie wou betaal nie. Sy het hierdie aantyging heftig ontken. Die Streeklanddros sê in sy uitspraak dat die klaagster hom beïndruk het as 'n welopgevoede en ordentlike vrou en dat hierdie indruk versterk word deur dr Melmed se ondersoek van haar geslagsdele. Ek dink nie dat dr Melmed se getuienis

7

hierdie afleiding regverdig nie. Die Streeklanddros

sê verder dat, indien die klaagster betaling wou hê

soos deur die appellant getuig, mens sou verwag dat sy

van die begin af daarop sou aangedring het. Dit is

blote bespiegeling maar dit raak nie die Streeklanddros

se ander redes vir die verwerping van die appellant se

getuienis nie. Dit was vol teenstrydighede en

onwaarskynlikhede. Daarby het hy aanvanklik

teenoor die polisie ontken dat hy enige kennis dra van

die kapmes, wat nie te versoen is met sy getuienis dat

hy die kapmes aan die klaagster oorhandig het om

haarself mee te verdedig nie. Ek vind sy

verduideliking vir die beserings aan die klaagster se

vingers onwaarskynlik. Dit is ook onwaarskynlik dat

sy oor R18-00 'n klag van verkragting by die polisie sou

indien.

'n Verdere aspek van die Streeklanddros se uitspraak wat deur die Hof a quo en weer in hierdie Hof

8

namens die appellant gekritiseer is, is dat hy onvoldoende gewig aan mev Fisher se getuienis sou geheg het. Ek stem nie saam nie. Die Streeklanddros het mev Fisher se getuienis dat die klaagster nie die betrokke aand by die Orange Grove hotel gewerk het nie, aanvaar en sê dat dit daarop dui dat sy "oneerlik met die Hof was" maar dat dit nie as wesenlik beskou kan word nie. Ek moet daarop wys dat die klaagster reeds die Sondagoggend aan dr Melmed genoem het dat sy by die Orange Grove hotel werk. Verder is haar getuienis dat sy met h huurmotor by die bushalte in Buffalostraat aangekom het, nooit betwis nie. Maar selfs indien aanvaar word dat sy nie die aand by die Orange Grove hotel gewerk het nie, beteken dit nog glad nie dat sy 'n prostituut is, soos betoog nie. Dit is niks meer nie as 'n faktor by die beoordeling van die betroubaarheid van die klaagster se getuienis, soos die Streeklanddros dit tereg beskou het.

9

Na my mening is daar in die huidige saak voldoende stawing vir die klaagster se getuienis op die wesenlike geskilspunt tussen die Staat en die appellant naamlik of gemeenskap met of sonder haar toestemming plaasgevind het. Daar is eerstens haar beserings wat deur die mediese ondersoek gestaaf is en wat die appellant, in wie se teenwoordigheid die beserings opgedoen is, nie kon verduidelik nie. Daar is verder die toestand- waarin die appellant by konstabel Umchengu aangekom het: sy was verskrik, bebloed en het gekla dat sy beseer was. Ek vind die appellant se beserings en die toestand waarin Umchengu haar aangetref het, onbestaanbaar met die appellant se verweer van toestemming. Daarby moet die appellant se vals verduideliking vir die wapen en sy leuenagtige getuenis nie uit die oog verloor word nie. Die Hof a quo het die feit dat sy nie in die loop van die nag ontsnap het nie, as 'n onwaarskynlikheid in haar getuienis beskou.

10

Ek stem nie saam nie. Volgens die getuienis was dit 'n afgeleë, verlate en vir die klaagster onbekende plek en dit is verstaanbaar dat sy nie probeer ontvlug het nie. Die appellant is tereg skuldig bevind.

Dit laat die appèl teen die vonnis. Daar is nie namens die appellant op enige wanvoorligting gesteun nie maar slegs dat die vonnis buitensporig swaar is. Die appellant is dertig jaar oud en het 'n vaste betrekking as 'n vurkkraan-bestuurder. Hy moet vir huidige doeleindes as 'n eerste oortreder beskou word. Die klaagster is nie ernstig beseer nie. Aan die ander kant moet dit in 'n ernstige lig beskou word dat sy ontvoer is, die hele nag in 'n afgeleë, verlate plek gevange gehou en onderwerp is aan 'n langdurige aanval wat met aansienlike geweld en dreigemente met 'n gevaarlike wapen gepaard gegaan het. In al die omstandighede kan ek nie sê dat die vonnis buitensporig

11

swaar is nie.

Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.

NIENABER AR)

KRIEGLER Wnd AR) Stem saam.

▲ To the top