Krygkor Pensioenfonds v Smith (388/1992) [1993] ZASCA 47 (31 March 1993)


Saak No 388/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

KRYGKOR PENSIOENFONDS Appellant

en

FLIPPINA CATHARINA SMITH Respondent

CORAM: HOEXTER, E M GROSSKOPF, EKSTEEN, NIENABER, ARR et KRIEGLER, WnAR

VERHOOR 15 Maart 1993

GELEWER: 31 Maart 1993

2

UITSPRAAK B M GROSSKOPF, AR

Hierdie appèl ontstaan uit 'n poging van die respondent ("Mev Smith") om inligting van die appellant, die Krygkor Pensioenfonds ("die Pensioenfonds") te bekom ten einde 'n egskeidingsbevel teen haar gewese man ("Mnr Smith") af te dwing. Die uitspraak van die hof a quo is gerapporteer: Smith v Smith en 'n Ander 1992 (1) SA 415 (T).

Die egpaar Smith is in 1989 geskei. 'n

Skikkingsooreenkoms tussen hulle is by die egskeidingsbevel

ingelyf. Hierdie ooreenkoms het o m voorsiening gemaak vir

die beheer en toesig oor die minderjarige kind van die

huwelik, vir die onderhoud van Mev Smith en die kind, en vir

die verdeling van die gemeenskaplike bates (die egpaar was

binne gemeenskap van goedere getroud). As 'n deel van die

partye se skikking van hul vermoënseise het die ooreenkoms

die volgende bepaling bevát:

"Die volle bedrag wat die Verweerder [Mnr Smith] ontvang vanaf sy pensioenfonds wanneer hy aftree sal gelykop tussen die partye verdeel word, Die

3

Verweerder onderneem hiermee om, waar 'n keuse aan hom gestel word, die volle bedrag wat vir uitbetaling beskikbaar is in terme van die reëls en voorskrifte van die Pensioenskema te aanvaar."

Mnr Smith was in Krygkor se diens en 'n lid van die Pensioenfonds. Op 1 Maart 1991 het hy afgetree. Op 15 Maart 1991 het Mev Smith se prokureur aan die uitvoerende hoofbeampte van die Pensioenfonds geskryf en gevra om volle besonderhede van Mnr Smith se pensioenuitbetalings. Die Pensioenfonds het geweier om hierdie inligting te verstrek. Verdere pogings om van die fonds besonderhede te kry oor die bedrag wat aan Mnr Smith betaal is, het ook misluk.

Op 3 April 1991 het Mnr Smith by Mev Smith se huis aangekom met 'n nuwe motor wat, so het hy gesê, hy met sy pensioengeld gekoop het. Hy het ook genoem dat 'n deel van sy pensioengeld sou gaan om 'n lening by die bank af te los. Op advies van haar prokureur het Mev. Smith op 8 April haar gewese man gebel en hom pertinent versoek om haar helfte van die pensioengeld aan haar oor te betaal. Hy het geweier. Sy woorde was:

4

"Jy en jou ou prokureurtjie spook nou al baie lank. Ek het so min geld uitgekry nadat ek my verband afgelos het en ek 'n ander motor gekoop het dat daar niks oor is vir my nie."

Die Pensioenfonds is weer genader maar het steeds

geweier om inligting te verstrek. Mev Smith se prokureur het

Mnr Smith gebel. Mnr Smith het volhard in sy houding dat hy

geen gelde aan haar sou betaal nie aangesien hy ander skulde

het wat eers gedelg moes word. Op 10 April rig Mev Smith 'n

dringende aansoek tot die Transvaalse Provinsiale Afdeling en

verkry 'n bevel nisi wat Mnr Smith (die eerste respondent) en

die Pensioenfonds (die tweede respondent) aansê om redes aan

te toon waarom die volgende bevel nie finaal gemaak sou word

nie:

"1.1 DAT eerste respondent onmiddellik die helfte van die kontant bedrag wat respondent ontvang het vanaf sy pensioenfonds soos op datum van aftrede aan applikante lewer;

  1. DAT tweede respondent die volle bedrag van die pensioen wat eerste respondent toegeval het soos op datum van sy aftrede bekend maak aan applikante;

  2. DAT tweede respondent die maksimum bedrag kontantuitbetaling wat aan eerste respondent beskikbaar was vir uitbetaling bekend

maak;

5

  1. DAT tweede respondent aan applikante bekend maak welke bedrag aan eerste respondent uitbetaal is;

  2. DAT tweede respondent 'n aantekening in die rekords van die fonds maak dat daardie deel van die betrokke pensioenbelang wat aldus aan die applikante betaalbaar is, indien die maksimum beskikbare kontantbedrag nie uitbetaal is nie, aan die applikante uitbetaal word;

  3. DAT die eerste respondent die koste van hierdie aansoek betaal;

  4. DAT tweede respondent indien die aansoek geopponeer word die koste betaal"

Voordat die aansoek op die keerdag aangehoor is, is

die saak tussen Mnr en Mev Smith geskik. Mev Smith se

advokaat het gevolglik by die keerdag geen regshulp teen Mnr

Smith gevra nie. Hy het egter wel versoek dat die paragrawe

van die bevel nisi wat op die Pensioenfonds betrekking het,

bekragtig word (behalwe paragraaf 1.5 wat hy laat vaar het).

Die Pensioenfonds is deur 'n advokaat verteenwoordig en het

betoog dat daar geen regsgronde vir so 'n bekragtiging is

nie. Na aanhoor van argument het die hof (Goldstein R)

paragrawe 1.2, 1.3, 1.4, en 1.7 van die bevel bekragtig. Die

Pensioenfonds kom nou in hoër beroep teen hierdie bevel. Nóg

6

Mnr Smith nóg Mev Smith het die appél teengestaan.

Dit is dienstig om eers na te gaan wat die gronde

was waarop regshulp teen die Pensioenfonds aangevra is. Mev

Smith se funderende eedsverklaring is onduidelik hieromtrent.

Nadat sy die geskiedenis van die saak uiteensit, sê sy:

"Dit is my submissie ... dat [Mnr Smith] te alle tye wil verhoed dat ons enige inligting mag verkry om ons in staat te stel om enige stappe te neem om die gemelde bedrag wat aan my verskuldig is in te vorder. [Mnr Smith] het ook herhaaldelik aan my te kenne gegee dat hy geen geld te enige tyd aan my gaan oorbetaal nie, aangesien hy dit nie aan my verskuldig is nie."

Daarna behandel sy die dringendheid van die saak

(naamlik dat as hy nie vinnig gekeer word nie, Mnr Smith al

die geld sou uitgee) en sluit dan af:

"[Die Pensioenfonds] weier om aan my enige inligting te verskaf en om hierdie rede is dit vir my noodsaaklik om die Agbare Hof op 'n dringende basis te nader om sodoende te verseker dat my vorderingsregte in terme van die skikkingsooreenkoms ... beskerm word."

Hoewel, soos reeds gemeld, hierdie passasies nie

duidelik aandui watter gronde aangevoer word vir die eis teen

7

die Pensioenfonds nie, wil dit darem blyk dat dit Mev Smith se saak was dat sy die inligting van die Pensioenfonds nodig gehad het vir doeleindes van haar aansoek teen Mnr Smith. Die regter a quo het dit ook so ingesien. Hy sê o m (bl 417 B-

C):

"Dit is baie duidelik dat in hierdie omstandighede dit onmoontlik is vir [Mev Smith] om die hierbo aangehaalde gedeelte van die ooreenkoms teen [Mnr Smith] af te dwing. Sonder die inligting weet sy nie watter voordele hom toegekom het nie en kan sy onmoontlik dan die helfte daarvan eis. Sonder inligting weet sy ook nie of hy 'n keuse uitgeoefen het om die volle bedrag wat beskikbaair geword het te neem al dan nie."

As dít Mev Smith se saak was, het dit verval toe sy haar eis teen haar voormalige man geskik het. Die rede waarvoor sy die inligting wou gehad het, het toe nie meer bestaan nie. Daar was geen ander grondslag in die stukke waarop die eis teen die Pensioenfonds gefundeer kon word nie.

Dit is nie duidelik uit die stukke of die regter a quo geweet het dat die saak tussen Mnr en Mev Smith geskik


8

was nie. Hy het egter wel geweet dat die eis teen die Pensioenfonds bloot aanvullend en bykomstig was tot die eis teen Mnr Smith. Toe daar nie voortgegaan is met die eis teen laasgenoemde nie (om watter rede ook al) het die eis teen eersgenoemde geen bestaansreg meer gehad nie. Die hof a quo behoort dus geen substantiewe regshulp teen die Pensioenfonds te verleen het nie.

Mnr. Vorster, wat namens die Pensioenfonds verskyn het, het, in die loop van sy deeglike en weldeurdagte argument, betoog dat dit nogtans nodig is om die juistheid van die hof a quo se uitspraak te oorweeg vir die doeleindes van koste. Sy argument was dat selfs as die hof geweet het dat die saak geskik was, die hof steeds vir doeleindes van sy kostebevel sou moes bepaal het of Mev Smith geregtig was om die aansoek teen die Pensioenfonds aanhangig te maak. Ek stem hiermee saam. Bloot vir die doeleindes van koste sal ek dus oorweeg of Mev Smith se eis teen die Pensioenfonds, soos dit uit die stukke blyk, geldig was.

Soos reeds gemeld was haar eis daarop gerig om inligting te bekom ten einde die bepalings van die egskeidingsbevel teen haar voormalige man af te dwing. Die hof a quo het soos volg beslis (op bl 417J tot 418A):

"Ek is van oordeel dat die huidige 'n geval is waar ek gebruik moet maak van my inherente bevoegdhede om [die Pensioenfonds] te gelas om die inligting te verskaf. Indien die inligting nie verskaf word nie, gaan reg inderdaad nie geskied nie."

Vir sy gevolgtrekking dat hy die inherente

bevoegdheid gehad het om hierdie bevel teen die Pensioenfonds uit te reik, het die hof staatgemaak op Hart v Stone (1883) 1 Buch AC 309 en Stuart v Ismail 1942 AD 327.

In Hart v Stone het 'n voornemende eiser aansoek gedoen teen 'n vennootskap se agent om die agent te verplig om die name van die vennote te openbaar ten einde die aansoekdoener in staat te stel om 'n aksie teen die vennootskap in te stel. Die hof het die bevel toegestaan. Appêl is aangeteken na die appêlhof van die Kaapkolonie. Vyf regters (insluitende die regter a quo, Buchanan RP) het die

10

appêl verhoor en dit eenparig afgewys. Verskillende redes is

verstrek. Hoofregter De Villiers het as volg geantwoord op

die prokureur-generaal se betoog dat die gemene reg nie

voorsiening vir 'n aansoek van hierdie aard maak nie (bl 313-

4):

"If ... he (dws die prokureur-generaal) had referred to the llth book of the Digest, he would have found in the first title numerous instances in which an 'interrogatio in iure,' as it was called, was allowed, at all events before the time of Callistratus. Voet, in his Commentary in (sc. "on") the title, treats fully upon the subject, and shows that even under the Dutch Law - whatever might have been the law of the province of Holland proper -the Judges had very large powers of ordering a disclosure of facts where justice would be defeated without such a disclosure ... In the present case it is not denied that the respondent bona fide intends to bring his action, and the sole object of the application is to obtain from the appellant, who is the only person who can give it, information as to the names of the persons forming the company which the respondent intends to sue. The application, in my opinion, was properly granted

Dwyer R het met die hoofregter saamgestem "on the Bnglish and American authorities". Smith R het sonder om verdere redes te verstrek, met die Hoofregter saamgestem.

11

Barry RP het die volgende gesê (op bl. 315-6):

".... in my opinion we have a power to order a disclosure even before action ... Ubi jus ibi remedium is a principle common to our law and the law of England ... In the present case the party intended to be sued and the cause of action are fully stated, but the remedy is incomplete because of the rule of procedure which requires that the parties be named. The jus being established, and there being no complete remedy, owing to this very procedure, we may, and the Court below could, complete the remedy."

Barry RP het ook verwys na Voet, 11.2.1 en Van der Linden se byvoegsel daartoe as verdere gesag vir sy standpunt.

Buchanan RP het volstaan met die redes wat hy as regter a quo verstrek het. Hulle voer die saak nie veel verder nie.

In Stuart v Ismail was die appellant die algemene sekretaris van 'n vakbond. Die respondent het 'n aansoek gerig om die appellant te verplig om die name van die lede van die uitvoerende komitee van die vakbond te openbaar. Die name was weereens nodig vir die instelling van 'n aksie.

12

Daar is namens die appellant betoog dat Hart v Stone

onderskei kon word, deurdat Hart v Stone te doen gehad het

met die lede van 'n liggaam sonder regspersoonlikheid, terwyl

daar by Stuart se saak slegs 'n versameling of groep

indiwidue betrokke was wat verteenwoordigers was van 'n

regspersoon. Die hof (Centlivres AR) het hierdie betoog as

volg afgemaak (op bl 332):

"The answer to this contention is that the principle underlying the procedure sanctioned by the Courts in these cases is that the Courts have, as stated in the passage guoted above [uit Hart v Stone], 'very large powers of ordering a disclosure of facts where justice would be defeated without such a disclosure.' In the present case it is not disputed that the respondent bona fide intends to bring his action and it is obvious that he cannot bring that action unless he knows the names and addresses of the executive committee. The procedure of compelling a person to disclose the necessary information is not in my opinion confined to these cases where information is required of the names and addresses of members of an unincorporated body."

Hart v Stone en Stuart v Ismail het dekades lank

min aandag in ons regspleging ontvang en is grotendeels,

indien nie uitsluitlik nie, toegepas in die soort gevalle

13

waarmee hulle pertinent te doen gehad het, t w, gevalle waar 'n voornemende eiser die name van persone verlang het teen wie hy aksie wou instel. Teen die tagtigerjare van hierdie eeu het hierdie sake skielik omstrede geword. Die rede hiervoor was dat daar gepoog is om die wye stellings uitgespreek in hierdie sake te gebruik as 'n kapstok om sogenaamde Anton Piller-bevele, en soortgelyke bevele, aan te hang. Oor die aard en geskiedenis van die Anton Piller-bevel, sien Universal City Studios Inc and Others v Network Video (Pty) Ltd 1986 (2) SA 734 (A) op bl 749H tot 752H.

House of Jewels & Gems and Others v Gilbert and Others 1983 (4) SA 824 (W) was 'n saak waarin die applikante inligting wou kry oor waar sekere diamante gevind kon word. Namens die applikante is daar betoog dat so 'n aansoek gefundeer kon word op ons gemeenregtelike interrogatio in jure, en daar is onder meer op Stuart v Ismail as gesag gesteun. Coetzee R het na 'n deeglike ondersoek van ons gemeenregtelike kenbronne, tot die gevolgtrekking gekom (op

14

bl 833D-E) dat

"not a single element of either the interrogatio in jure or the procedural interrogations of old Dutch law is applicable today. Nor can any assistance be derived for the solution of problems like those in casu by any reference to these systems."

Wat Stuart v Ismail betref, wys Coetzee R daarop

(op bl 834 B-C) dat Centlivres AR se formulering van die

beginsel wat onderliggend is aan die hof se bevoegdheid om

die verstrekking van inligting te gelas, sy herkoms het in

Lord De Villiers se uitspraak in Hart v Stone. Hy gaan dan

voort (op bl 834B- C):

"... the interesting result is that this authoritative and binding statement of principle is extracted from a judgment inwhich these words are used in relation to a practice which is irrelevaht," as I hope I have pointed out above. Moreover, and with great respect to De Villiers CJ, this dictum is not even an accurate reflection of Voet's description of the Judges' powers."

Na 'n eeu is die prokureur-generaal, wat in Hart v

Stone opgetree het, dus in ere herstel.

In Economic Data Processing (Pty) Ltd and Others v

15

Pentreath 1984 (2) SA 605 (M) het Coetzee R oorweeg of Anton

Piller-bevele kragtens ons reg toegestaan kan word. Sy

antwoord was ontkennend. Hart v stone en Stuart v Ismail,

sê hy (op bl 609H), was "the origin of the right to obtain a

simple disclosure (note, not any form of discovery of the

type involved in this enquiry) of names for the purposes of

bringing an action ... but this remedy was never developed

beyond that point ..."

Anton Piller-bevele was weer ter sprake in die

volbank-beslissing Cerebos Food Corporation Ltd v Diverse

Foods SA (Pty) Ltd and Another 1984 (4) SA 149 (T). Van

Dijkhorst R, wat die uitspraak van die hof gelewer het, het

sy instemming met Coetzee R betuig dat die gemeenregtelike

bronne waarna verwys is in Hart v Stone, geen stawing vir die

uitspraak in daardie saak bied nie. Wat Stuart v Ismail

betref, sê hy (op bl 167A-B):

"In as far as this case is based upon Hart v Stone, which in turn was based upon an incorrect reading of the old authorities, it should be strictly limited to the rule thereby created, namely the type of case where an order is sought for the

16

disclosure of the name of a principal where it is intended to sue that principal."

In die Oos-Kaapse afdeling is groter waarde aan

Hart v Stone en Stuart v Ismail geheg. In Kinekor Films

(Pty) Ltd v B A Adami Films (Pty) Ltd 1976 (4) SA 935 (OK)

het die appellant 'n bevel aangevra wat die respondent gelas

om die name te verstrek van persone wat sekere rolprente aan

hom verskaf het. Die volbank was van oordeel dat Hart v Stone

en Stuart v Ismail gesag vir so 'n bevel bied (bl 939 A-H).

Sien ook Ex Parte Matshini and Others 1986 (3) SA 605 (OK) op

bl 609 E tot 611G - ook 'n volbank-beslissing - waar

Kannemeyer R, na oorweging van die bogemelde Transvaalse

beslissings, tot die volgende gevolgtrekking kom (op bl 611

E-H);

"I am thus of the view that this Court has the jurisdiction to order 'the disclosure of facts where justice would be defeated without such disclosure'. I am satisfied that the right to order such disclosure is not limited to cases where there is a fiduciary relationship between the respondent and the party whose identity it is sought to establish. Nor is there any reason why the procedure should be limited to the disclosure of names. In Hart v Stone (supra) reference is

17

specifically made to the disclosure of facts. It is but a short step from the disclosure of facts to the disclosure of real evidence material for the purposes of the proposed litigation. There is no reason in principle why, if an order compelling disclosure of the one is competent, an order of compelling disclosure of the other should not also be competent. The applicant need have no proprietary or other right or interest in the thing to be disclosed other than that it is necessary for the purposes of the intended action."

In die Universal City Studios saak (supra) het

hierdie hof vir die eerste keer die toelaatbaarheid van die

Anton Piller-bevel oorweeg. Die hof het hierdie vraag benader

van die volgende beginpunt (op bl 754G - H):

"There is no doubt that the Supreme Court possesses an inherent reservoir of power to regulate its procedures in the interests of the proper administration of justice [as gesag vir hierdie stelling is o a stuart v Ismail aangehaal] ... It is probably true that ... the Court does not have an inherent power to create substantive law, but the dividing line between substantive and adjectival law is not always an easy one to draw."

Die hof het dan ook op bl 755 A tot G obiter te

kenne gegee dat die hof wel in bepaalde gevalle 'n bevel

soortgelyk aan 'n Anton Piller-bevel sou kon uitreik. Sien

18

ook Jafta v Minister of Law and Order and Others 1991 (2) SA 286 (A).

Hoewel die debat rondom Hart v. Stone en Stuart v Ismail dus nog nie finaal afgehandel is nie, het hierdie hof gesaghebbend bevestig dat die hof wel sy prosedure kan aanpas in die belang van behoorlike regspleging. Vir huidige doeleindes is ek bereid om ten gunste van Mev. Smith te veronderstel, sonder om die punt te beslis, dat 'n hof in 'n gepaste geval selfs 'n derde party, teen wie die applikant geen eisoorsaak het nie en wat nie 'n party of beoogde party tot litigasie met die applikant is nie, kan gelas om die aangevraagde inligting te verstrek. Dit sou verder veronderstel dat afgewyk word van die dicta in die House of Jewels & Gems saak (supra op bl 828H tot 829A) en die Cerebos Food saak (supra op bl 173E) ten effekte dat die verlening van so 'n bevel 'n saak van substantiewe reg is, en nie een van prosesreg nie. In hierdie veronderstelling sou die hof a quo die bevoegdheid gehad om die verskaffing van die

19

aangevraagde inligting deur die Pensioenfonds te gelas. Die verdere vraag is dan hoe hierdie bevoegdheid uitgeoefen moes word.

Normaalweg word die verstrekking van inligting as 'n deel van die regsproses gereël deur die hofreëls. Voorsiening word gemaak vir blootlegging inter partes en vir getuiedagvaardings of dagvaardings duces tecum t o v derde partye. Ons howe is tradisioneel ongeneë om buite hierdie bepalings te gaan. Sien bv, behalwe die gewysdes reeds hierbo behandel, Biden v The French and D'Esterre Diamond Mining Co (1882) 1 Buch AC 95, Colonial Government v W H Tatham (1902) 23 NLR 153 op 157-8, Spies v Vorster 1910 NPD 205 op bl 216, Messina Brothers, Coles and Searle v Hansen & Schrader, Ltd 1911 CPD 781, Moulded Components and Rotomoulding South Africa (Pty) Ltd v Coucourakis and Another 1979 (2) SA 457 (W) op bl 462H tot 463B, Roamer Watch Co SA and Another v African Textile Distributors 1980 (2) SA 254 (W) op bl 282C en 284C en Seetal v Pravitha and Another NO 1983 (3) SA 827

20

(D) op bl B32G tot 833E. Vergelyk ook die bespreking in Jafta se saak (supra) op bl 293J tot 294D. Wat duidelik uit hierdie gewysdes blyk is dat die hof slegs in uitsonderlike gevalle sy inherente bevoegdheid sal uitoefen om prosedures te volg waarvoor nie in die gewone prosesreg voorsiening gemaak word nie. Die uitsonderlike gevalle word op verskillende maniere omskryf in die beslissings wat hierbo aangehaal is. Vir huidige doeleindes is dit egter genoeg om te sê dat die hof hierdie bevoegdheid sal uitoefen net waar geregtigheid vereis dat afgewyk word van die gewone prosedure-reëls. En selfs waar 'n afwyking nodig mag wees, sal die hof natuurlik altyd poog om so naby as moontlik aan die erkende praktyke te bly.

AS hierdie benadering in die onderhawige geval toegepas word, is die resultaat m i soos volg. Mev Smith het 'n reg tot 'n helfte van die pensioengeld gehad. Hierdie reg kon sy by wyse van aksie of aansoek teen Mnr Smith afdwing. Watter prosedure sy ook al gevolg het, sou sy deur blootlegging kon vasstel watter bedrae Mnr Smith ontvang het

21

(sien reël 35 en veral 35(13) van die eenvormige hofreëls). Verder sou sy enige ongeprivilegieerde inligting van die Pensioenfonds kon bekom deur middel van 'n getuiedagvaarding selfs, in 'n gepaste geval, in mosie-verrigtinge. Sien Harms, Civil Procedure in the Supreme Court, para G 27. Vir 'n gewone hofproses het sy dus geen buitengewone regshulp nodig gehad nie.

Sy het egter om verstaanbare redes besluit om 'n dringende aansoek aan te vra. Haar eerste bede was om 'n bevel wat Mnr Smith gelas om die helfte van die bedrag wat hy van die pensioenfonds ontvang het, aan haar te lewer. As sy bang was dat hy haar sou bedrieg en minagting van die hof sou pleeg deur 'n bedrag oor te betaal wat minder as die helfte is, sou sy ook in hierdie aansoek die hof kon gevra het om terselfdertyd blootlegging te gelas ingevolge hofreël 35(13). Dit sou haar in staat gestel het om insae te kry in alle relevante dokumente wat in sy besit was, soos byv. korrespondensie met die Pensioenfonds, bankstate, e.d.m.

22

Geen rede blyk uit die stukke om te vermoed dat Mnr Smith 'n meinedige blootleggingsverklaring sou geliasseer het nie. Ook in die dringende aansoek het sy dus m i nie buitengewone regshulp nodig gehad nie. Veral was dit nie nodig om die Pensioenfonds, 'n buitestander, in hierdie stadium in te trek in die geskii tussen haar en haar voormalige man nie. Die Pensioenfonds was nie die enigste wat die inligting gehad het nie. Mnr Smith het dit ook gehad, en van hom kon sy dit kry sonder om af te wyk van die erkende praktykreëls, behalwe miskien insoverre dit nodig mag gewees het om hulle aan te pas weens die dringendheid van die saak. En as dit uiteindelik onmoontlik geblyk het om reg te laat geskied sonder die inligting van die Pensioenfonds, sou die hof kon gelas het dat 'n gepaste amptenaar van die Fonds viva voce getuienis aflê. Sien Harms, op. cit.

Om op te som: as ek veronderstel dat die hof wel die inherente bevoegdheid het om bekendmaking van hierdie soort inligting deur 'n buitestander tot 'n geskil te gelas,

23

meen ek nogtans nie dat die hof dit in hierdie geval behoort te gedoen het nie. Daar was dus m i geen regverdiging vir Mev Smith om die Pensioenfonds by hierdie aansoek te betrek nie, en die hof a quo behoort haar te gelas het om die gedingskoste te betaal. Soos ek reeds aan die begin van die uitspraak gesê het behoort die substantiewe bevele in elk geval nie bekragtig te gewees het nie.

Die gevolgtrekking wat ek hierbo bereik het maak dit vir my onnodig om te oorweeg of 'n verdere submissie van die Pensioenfonds gebaseer op Art 37A(1) van die Wet op Pensioenfondse, no 24 van 1956, ook gehandhaaf moet word.

Weens die voorgaande slaag die appèl met koste, en word die hof a quo se bevel verander na: Die bevel nisi word opgehef met koste.

E M GROSSKOPF, AR HOEXTER,AR

EKSTEEN, AR

NIENABER, AR

KRIEGLER, wn AR Stem saam

▲ To the top