S v Mokgalaka (622/1991) [1993] ZASCA 49 (31 March 1993)


SAAKNOMMER: 622/91

J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPêLAFDELING)

In die saak tussen:

A MOKGALAKA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, EKSTEEN, ARR et

VAN COLLER, Wnd AR

VERHOORDATUM: 18 MAART 1993

LEWERINGSDATUM: 31 MAART 1993

UITSPRAAK

VAN COLLER, Wnd AR:

Die appellant is op 13 November 1989 in die landdroshof vir die distrik van Johannesburg skuldig

2

bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf waarvan ses maande voorwaardelik opgeskort is vir vyf jaar. Die appellant se appél na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling teen beide die skuldigbevinding en vonnis is van die hand gewys. Verlof is deur hierdie Hof aan die appellant verleen om teen die vonnis te appelleer.

Volgens die getuienis was die appellant by 'n meenthuiskompleks in diens as tuinier. Hy het ook werk in die tuine van sommige van die bewoners verrig. Die klaagster, wat deur die landdros as 'n baie skraal persoon beskryf is, het in een van die meenthuise gewoon. Haar ouderdom blyk nie uit die oorkonde nie. Ongeveer 'n jaar of twee voor die voorval wat tot die onderhawige saak teen die appellant aanleiding gegee het, het die bestuurskomitee die tuine van die kompleks onder die beheer van die klaagster geplaas. Die

3

appellant moes dus haar opdragte uitvoer.

Die klaagster het getuig dat sy die oggend van 30 Augustus 1989 met die appellant gepraat het oor werk wat hy gedoen het. Die gesprek was heel vriendelik en sy het geen kritiek teen sy werk uitgespreek nie. Sy het hom ook meegedeel dat sy en twee ander dames, ook inwoners van die kompleks, op 'n later stadium 'n aangeleentheid met hom wou bespreek. Die appellant het haar toe meegedeel dat hy ook baie klagtes het. Sy het aan hom gesê dat hulle dit alles by die samespreking sal uitpluis. Die appellant het begin skreeu en sy het hom versoek om liewer te gaan. Hy het die klaagster toe aan die keel gegryp en haar gewurg. Sy het losgeruk en die appellant het haar met die vuis op die linkeroog geslaan. Sy het by die motorhuis ingehardloop. Die appellant het haar agtervolg, haar teen die muur vasgedruk en haar geslaan, geskop en gewurg. Sy het begin skreeu en haar

4

huishulp, Bella, het tot haar hulp gekom. Bella het gepoog om die appellant van haar weg te trek maar kon nie daarin slaag nie. 'n Ander vrou het ook op die toneel verskyn en die appellant het die klaagster gelos en by die tuinhek uitgehardloop. Hy is kort daarna gearresteer. Volgens die klaagster het sy kneusplekke op haar hele liggaam gehad. Haar mond was stukkend en haar linkeroog was blou. Sy het ook lelike krapmerke aan die nek gehad en haar tande het vir weke gepyn as gevolg van die houe wat sy in die gesig ontvang het. Volgens die klaagster se getuienis was sy nog ten tye van die verhoor vreesbevange en angstig in die nag. Sy het dit as vertraagde skok bestempel. Dit blyk uit die klaagster se getuienis dat sy haar huisdokter dieselfde dag gaan spreek het. Die Staat het egter nie sy getuienis aangebied nie.

Bella Cisilwa het getuig dat toe sy in die motorhuis kom, die klaagster teen die muur gesit het en

5

die appellant het haar hande gehouvas. Sy het merke aan die klaagster se keel gesien en ook gesien dat haar een oog blou is. Sy het nie gesien dat die appellant die klaagster slaan nie.

Die appellant se weergawe van die gebeure daardie oggend is kortliks soos volg. Die klaagster het die wyse waarop hy sekere blomme geplant het, gekritiseer. Sy het hom gevra waarom die blare van die blomme geel is en sy het op hom geskreeu. Sy het hom met die oop hand op die linkerwang geslaan. Sy het ook aan hom gevra waarom hy "kafferwerk" doen. Hy was heeltemal uit die veld geslaan en het getuig dat hy die klaagster twee keer in die gesig met die oop hand geklap het. Sy het na die motorhuis gehardloop en hy het by die hek uitgeloop. Volgens die appellant het hy 'n hele aantal probleme met die klaagster ondervind nadat hy onder haar toesig geplaas is. Sy het sekere beloftes wat sy teenoor hom gemaak het nie nagekom nie.

6

So bv het sy onderneem dat hy dubbele besoldiging sou kry wanneer hy op verlof gaan. Sy sou ook sorg dra dat versekering vir hom uitgeneem word. Hierdie ondernemings is nie gestand gedoen nie. Die appellant het ook van ander probleme wat tussen hom en die klaagster sou bestaan het getuig, maar dit is nie nodig om hierop in te gaan nie. Dit dien vermeld te word dat die appellant tydens sy pleitverduideliking erken het dat hy die klaagster vasgehou, gewurg en twee keer met die oop hand in die gesig geslaan het. Hy het ook erken dat hy haar een keer met die vuis agter die nek geslaan het.

Die landdros het bevind dat daar niks onwaarskynlik in die Staat se weergawe is nie en dat dit aanvaar behoort te word. Geen uitdruklike bevinding aangaande die geloofwaardigheid van die klaagster is egter gemáak nie. Hierteenoor het die landdros bevind, met verwysing ook na die appellant se

7

pleitverduideliking, dat sy weergawe nie redelik moontlik waar kon wees nie.

Ten tye van die verhoor was die appellant 50 jaar oud en sy vrou en vyf kinders het op daardie stadium in Venda gewoon. Die appellant het ongeveer ses jaar by die kompleks gewerk maar sy dienste is na die voorval beëindig. Op daardie stadium was sy salaris R270 per maand. Hy het ook uit ander werk 'n verdere inkomste van R200 per maand gehad. Hierdie werk is nie deur die voorval geraak nie. Die appellant is in 1970 skuldig bevind aan moord en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is gedurende 1975 vrygelaat.

Mnr Navsa wat namens die appeílant verskyn het, het aangevoer dat die landdros haar by die oorweging van 'n gepaste vonnis in verskeie opsigte wanvoorgelig het. In die lig van die bevinding waartoe geraak is, is dit voldoende om met slegs twee te

8

handel.

Dit blyk uit die landdros se redes vir

vonnis dat sy die aanval op die klaagster as ' n baie

ernstige aanranding beskou het. Aangaande die erns van

die aanranding was sy slegs aangewese op die getuienis

van die klaagster. Dat die klaagster geslaan, geskop

en gewurg is kan nie aangeveg word nie. Daar moes

egter twyfel by die landdros bestaan het of die

aanranding so gewelddadig was as wat die klaagster

voorgegee het en ook of die gevolge so ernstig was soos

deur haar getuig. Dit is tydens kruisondervraging

uitdruklik aan die klaagster gestel dat die appellant

sal getuig dat hy haar nie so hewig toegetakel het as

wat sy te kenne wou gee nie. Die klaagster het

geantwoord dat sy haar dokter se bewyse het. Die

geneesheer is egter nie as getuie geroep nie en mnr Van

Deventer, namens die Staat, het tereg toegegee dat dit

' n leemte in die Staat se saak is. Volgens die

9

klaagster is sy ook in die motorhuis ernstig aangerand. Volgens haar hoofgetuienis het die appellant haar geslaan, geskop en gewurg. In kruisondervraging het sy gesê dat die appellant haar geskop en geklap het en probeer het om by haar keel uit te kom. Die appellant sou haar dus in die motorhuis nie gewurg het nie. Volgens die klaagster sou Bella en die ander dame die aanranding in die motorhuis gesien het. Bella het egter getuig dat sy slegs gesien het dat die appellant die klaagster se hande houvas. Die dame wat ná Bella die motorhuis binne gegaan het, is ook nie as getuie geroep nie. Die redelike moontlikheid bestaan derhalwe dat die klaagster die aard en erns van die aanranding oordryf het. Hoewel die landdros in haar redes vir vonnis sê dat sy nie wil spekuleer aangaande wat in die motorhuis gebeur het nie, is haar versuim om die redelike moontlikheid dat die hele gebeure erg deur die klaagster oordryf is in aanmerking te neem na my mening

10

'n wesenlike mistasting.

Mnr Navsa het ook aangevoer dat die aanranding plaasgevind het as gevolg van provokasie deur die klaagster en dat die landdros fouteer het deur dit nie in aanmerking te neem nie. Die landdros het bevind dat die aanval nie beplan was nie en dat dit in die hitte van die oomblik plaasgevind het. Sy het egter geen bevinding gemaak aangaande wat die appellant tot hierdie optrede beweeg het nie. Dit is duidelik uit die klaagster se getuienis dat die appellant in die loop van die gesprek kwaad geword het. Die klaagster het ontken dat sy die appellant se werk as "kafferwerk" bestempel het of dat sy dit gekritiseer het of enigiets gesê of gedoen het wat die uitbarsting tot gevolg kon gehad het. Daar bestaan geen gronde om die afleiding te regverdig dat die appellant uit blote boosaardigheid opgetree het nie en hy het waarskynlik tot die aanranding oorgegaan as gevolg van iets wat die

11

klaagster van hom gesê het. Die landdros moes by die oorweging van vonnis in die appellant se guns aanvaar het dat provokasie van een of ander aard deur die klaagster tot die aanranding aanleiding kon gegee het. Haar versuim in hierdie opsig stel 'n verdere mistasting daar.

In die omstandighede is hierdie Hof verplig om met die vonnis in te meng en om self opnuut oor ' n gepaste straf te besin. Hoewel die aanranding op 'n vrou gepleeg is en hoewel die appellant 'n vorige veroordeling van moord het, is hier faktore aanwesig wat na my mening 'n opgeskorte vonnis regverdig. Die vorige misdryf waaraan die appellant skuldig bevind is het ongeveer 19 jaar voor die onderhawige misdaad plaasgevind. Daar kan dus nie veel gewig aan geheg word nie. Die aanranding kan sekerlik nie as gering bestempel word nie en afgesien van die beserings wat die klaagster opgedoen het moes dit vir haar 'n skokkende

12

ondervinding gewees het. Hoe ernstig die aanranding werklik was is egter onbekend as gevolg van die Staat se versuim om die geneesheer as getuie te roep. Die feit dat die aanranding nie vooraf beplan is nie, op die ingewing van die oomblik en moontlik as gevolg van provokasie geskied het, is sterk versagtende faktore. Dit moet ook in aanmerking geneem word dat die appellant ten tye van die voorval reeds 50 jaar oud was en dat hy sy werk by die kompleks verloor het. In die lig van al die omstandighede is ek van mening dat 'n vonnis van 12 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort, 'n gepaste vonnis sal wees.

Die appèl teen die vonnis slaag. Die vonnis deur die landdros opgelê word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 12 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir 'n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind word nie aan aanranding gepleeg gedurende die tydperk van

13

opskorting en waarvoor hy gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die keuse van 'n boete.

A P VAN COLLER WAARNEMENDE APPéLREGTER

E M GROSSKOPF, AR )

STEM SAAM EKSTEEN, AR )

▲ To the top