General Accident Versekerings Maatskappy SA Bpk v Uijs NO (655/1991) [1993] ZASCA 58 (14 Mei 1993)


LL Saak No 655/1991

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING

Insake die appél van:

GENERAL ACCIDENT VERSEKERINGS-

MAATSKAPPY SA BEPERK Appellant

teen

DIRK A J UIJS NO Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, KUMLEBEN ARR en KRIEGLER

Wnd AR

VERHOORDATUM: 3 MEI 1993 LEWERINGSDATUM: 14 MEI 1993 "

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2 Op 21 November 1987, en naby Blouberg-strand, het ene Stander en Van Nelson hul voertuie in dieselfde rigting bestuur. Op 'n stadium wou Stander terugdraai. Hy het na regs oor die pad geswaai waarop sy voertuig getref is deur dié van Van Nelson. Gert van Huyssteen ("Van Huyssteen") het as passasier langs Stander gesit en as gevolg van die botsing het hy ernstige beserings, veral kopbeserings, opgedoen.

Hierdie voorval het tot gevolg gehad dat die respondent, as aangestelde curator-ad-litem vir Van Huyssteen, 'n aksie vir verhaal van skadever-goeding teen die appellant in die Kaapse Provinsiale Afdeling ingestel het. Dit is onnodig om na die pleitstukke te verwys want na afloop van die verhoor was die volgende gemene saak:

  1. Die botsing was te wyte aan die uitsluitlike nalatigheid van Stander.

  2. Ingevolge die bepalings van art 8

3

van die Motorvoertuigongelukkewet 84 van 1986 was die appellant verplig om Van Huyssteen se verhaalbare skade te betaal.

3) Tydens die botsing was die sitplek-
gordel bedoel vir 'n passasier voor in Stander se
motor nie aangegespe nie.

4) Indien die gordel wel aangegespe
was, sou Van Huyssteen waarskynlik nie bors-, gesig-
en kopbeserings opgeloop het nie, hoewel hy dan
ander, maar allig veel ligter, beserings sou opgedoen
het.

5) As gevolg van die kopbeserings is
. Van Huyssteen se verstandelike vermoëns aangetas;

het hy 'n nadelige persoonlikheidsverandering onder-gaan, en is hy totaal arbeidsongeskik.

Die verhoorhof (Van Deventer R) het bevind dat Van Huyssteen kousaal nalatig was omdat hy nie sy gordel vasgegespe het nie en dat die skade wat hy

4 gely het met 'n derde verminder moes word. Bedoelde skade, met uitsluiting van toekomstige mediese koste, is op R356 850 beraam, en gevolglik is skadevergoed-ing ten bedrae van R237 900 met koste aan die respon-dent toegeken. (Daar is ook ander bevele verleen maar dié is nie tans ter sake nie.)

Eersgenoemde som is soos volg saamgestel:

  1. Verlies aan verdienvermoë R249 900

  2. Addisionele akkommodasie-

koste 31 950

(c) Algemene skade 75 000
Wat (a) betref, het die partye ooreengekom

dat sonder inagneming van gebeurlikhede Van Huyssteen se verlies die som van R294 000 beloop het. Hulle het egter verskil oor die omvang van die aftrekking wat met die oog op gebeurlikhede gemaak moes word. Die verhoorhof het dit op 15% vasgestel.

Die bedrag van R31 950 ((b) hierbo) ver-

5

teenwoordig die gekapitaliseerde waarde van R150 per

maand (maar met inagneming van inflasie) oor Van

Huyssteen se verwagte lewensduur. Die verhoorhof het

naamlik bevind dat indien hy nie beseer was nie, Van

Huyssteen se verblyfskoste nagenoeg R800 per maand

sou beloop het, en dat sodanige koste weens sy

gestremde toestand in die toekoms R950 sal bedra.

Na afloop van die verhoor is aan beide

partye verlof tot appèl verleen. Gevolglik dien daar

nou voor ons 'n appèl en 'n teenappèl wat egter beide

op beperkte gronde berus. In eerste instansie

betwyfel albei partye die verhoorhof se beraming van

die mate waartoe Van Huyssteen se skade verminder

moes word. Vanselfsprekend beywer die appellant hom

vir 'n hoër, en die respondent vir 'n laer, persen-

tasie as die 331/3% wat die verhoorhof bepaal het.

Tweedens verset beide partye hulle teen die toeken-

ning wat vir addisionele akkommodasiekoste gemaak is.

6

Die appellant se vernaamste standpunt is dat geen, bedrag toegeken moes gewees het nie, terwyl die respondent aanspraak maak op 'n hoër toekenning. Ten slotte voer die respondent aan dat 'n te hoë aftrek-king vir gebeurlikhede ten opsigte van verlies aan verdienvermoë gemaak is. Ek behandel die drie geskilpunte agtereenvolgens. (1) Bydraende nalatigheid

Dit was, en is, gemene saak dat Stander op grof nalatige wyse die botsing veroorsaak het. Hy het naamlik na links van die pad afgetrek en toe, sonder waarskuwing van sy voorneme, na regs gedraai ten einde terug te ry in die rigting vanwaar hy gekom het. Aldus het hy oor die baan van die aankomende voertuig van Van Nelson gedraai, en indien hy gepoog het om vas te stel of voertuie van agter af in aantog was, was die poging geheel en al ontoereikend. Moontlik was sy onbesonne optrede te wyte aan die

7 feit dat hy 'n ongelisensieerde bestuurder was.

Die appellant se advokaat het egter aange-voer dat Van Huyssteen se gedrag ook ver tekort geskiet het van dit wat van die redelike passasier in sy plek te verwagte was. Dit blyk dat net voordat Van Nelson en sy passasiers vanaf Ou Skip (naby Melkbosstrand) na Maitland vertrek het, eersgenoemde vir Van Huyssteen gemaan het om sy gordel vas te gespe. Hy het egter geweier om dit te doen en het toe glad nie voor die botsing van die gordel gebruik gemaak nie. Soos te verwagte was, het die appellant se advokaat dan ook die graad van die gestremde se skuld gekontrasteer met dié van 'n passasier in sy plek wat bloot vergeet het om sy gordel vas te gespe. (Om onnodige herhaling te voorkom, gebruik ek die woord "skuld" ter aanduiding van skuld wat oorsaaklik met die oploop van skade verbind is.)

Dit is 'n geykte reël dat 'n hof van appèl

8

nie inmeng nie met 'n verhoorhof se beraming van die mate waartoe 'n getroffene se skade ingevolge art 1(1)(a) van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956 (hierna kortweg art 1(1)(a) genoem) verminder moet word tensy die verhoorhof 'n wesent-like mistasting of onreëlmatigheid begaan het, of tensy bedoelde beraming treffend van dié van die hof van appêl verskil. Die appellant se advokaat het dan ook in eerste instansie betoog dat die hof a quo wel wesentlike mistastings begaan het. Dié kan soos volg saamgevat word:

  1. Die verhoorhof het nie in ag geneem dat Van Huyssteen se versuim nie aan blote onagsaam-heid te wyte was nie.

  2. Geen aandag is gegee nie aan die feit dat Van Huyssteen slegs relatief geringe beserings sou opgedoen het indien hy wel sy gordel vasgegespe het.

9

  1. Die verhoorhof het nie in aanmerking geneem dat nuwe motors reeds vir baie jare met gordels toegerus word en dat dit reeds vir 'n geruime tyd strafbaar is vir onder andere 'n passasier om nie sy gordel te benut nie.

  2. Die hof het verkeerdelik bevind dat die skade van Van Huyssteen met soveel as 50% vermin-der kon word slegs indien Van Nelson lig nalatig was.

  3. Die hof het hom verkeerdelik op beramings in ander gewysdes beroep vir sy slotsom dat die skade van 'n passasier wat nie sy gordel vasge-gespe het met nie meer as 25% verminder behoort te word nie.

Hoofsaaklik op grond van die getabuleerde oorwegings het die appellant se advokaat uiteindelik betoog dat Van Huyssteen se skade met 50% verminder moes gewees het. Daarenteen is namens die respondent

10

aangevoer dat die persentasie vermindering slegs 25% moes gewees het.

Die eerste twee van bostaande verwyte het weinig om die lyf. Dit is waar dat toe die bydraende nalatigheid van Van Huyssteen bespreek is, die ver-hoorhof nie spesifiek verwys het nie na sy weiering om sy gordel te gebruik en die feit dat dié versuim die oorsaak van sy ernstige beserings was. Van Deventer R het egter in die inleidende gedeelte van sy uitspraak hierdie gegewens as bewese vermeld, en dit is dus hoogs onwaarskynlik dat hy nie gedagtig daaraan was toe hy sy aangevegte beraming gemaak het nie.

Ook (3) hierbo is sonder werklike pit. Dit is waar dat die verhoorhof nie na die betrokke feite verwys het nie, maar dié is so wel bekend dat dit haas ondenkbaar is dat hulle geheel en al buite rekening gelaat is.

11

Wat (4) betref, is gesteun op die verhoor-hof se aangevoerde wanvertolking van 'n passasie in Union National South British Insurance Co Ltd v Vitoria 1982 (1) SA 444 (A) 461-2. Die passasie lui soos volg:

"'n Mens kan jou ook voorstel dat in ' n besondere saak die getuienis sou kon aan-toon dat die passasier wat met sy kop deur die ruit gegaan het, geen ander beserings opgedoen het nie, en dat, indien hy die driepuntgordel sou gedra het, hy geen besering hoegenaamd sou gehad het nie. Gestel dat in so ' n besondere saak die getuienis aantoon dat die bestuurder van die versekerde motor in 'n geringe mate nalatig was ten opsigte van die botsing (en die gevolglike skade) terwyl die bestuurder van die motor waarin die passasier was nie nalatig was nie. Wat sou dan 'n billike en regverdige vermindering van skadevergoeding wees? Sou dit dan nie gesê kon word dat met betrekking tot die skade die passasier slegs geregtig is op 50 persent van die skadevergoeding nie?"

In sy uitspraak het die verhoorhof met

verwysing na die passasie die volgende gesê:

"In casu was die botsing uitsluitlik aan die growwe nalatigheid van die verse-

12

kerde bestuurder te wyte. Na my mening was dit nie 'n geval soos die hipotetiese een waarna RUMPFF, HR verwys het waarin die botsing deur geringe nalatigheid aan die versekerde bestuurder se kant veroorsaak sou gewees het as gevolg waarvan dit mis-kien billik sou wees om 50% van die blaam aan die eiser se kant te plaas nie."

Die kern van die betoog namens die appel-

lant was dat die verhoorhof verkeerdelik gemeen het

dat volgens bostaande passasie die skade van 'n

passasier soos Van Huyssteen met soveel as 50% ver-

minder moet word slegs as die veroorsaker van die

botsing tot 'n geringe mate nalatig was. Hoewel die

aangehaalde gedeelte van die uitspraak van die ver-

hoorhof moontlik nie ideaal bewoord is nie, meen ek

egter nie dat die kritiek geregverdig is nie, want

pas vantevore het Van Deventer R, ook met verwysing

na die passasie in Vitoria die volgende gesê:

"Dit is duidelik uit die uitspraak van die geleerde Hoofregter dat 'n hof die omvang en verdeling van skuld met inagneming van die besondere feite in elke saak moet bepaal."

13

En daarna is besluit dat "[i]n die omstan-dighede van hierdie geval" dit onbillik sou wees om Van Huyssteen se skade met 50% te verminder. Ek vind dus ook nie in die onderhawige benadering van die verhoorhof 'n wesentlike mistasting nie.

Ek kom dan by (5) hierbo. In die loop van sy uitspraak het Van Deventer R gesê dat daar geen gerapporteerde Suid-Afrikaanse uitspraak is waarin "meer as 25% skuld aan die kant van 'n eiser geplaas is omdat hy nie sy sitplekgordel gebruik het nie", en dat hy ook nie verwys is na 'n buitelandse uitspraak waarin dit wel gebeur het nie. Hierdie terloopse opmerkings het van die appellant se advokaat 'n verwyt van oordrewe navolging van presedente ontlok. Weer eens meen ek nie dat die kritiek geregverdig is nie. Van Deventer R het hom juis nie aan presedente gebonde geag nie deurdat hy Van Huyssteen se skade

14

met 'n derde - nie onaansienlik meer as 25% nie -verminder het.

Die advokaat vir die respondent het nie op mistastings aan die kant van die verhoorhof gesteun nie, en wat die toepassing van art 1(1)(a) betref, is die f inale vraag dan of die siening van hierdie hof treffend van dié van Van Deventer R verskil.

Soos wel bekend, bepaal art 1(1)(a) dat waar iemand skade ly wat deels aan sy eie skuld en deels aan die skuld van 'n ander persoon te wyte is, 'n vordering ten opsigte van die skade nie ten ge-volge van die skuld van die eiser verydel word nie, maar dat die verhaalbare skade in so 'n mate verminder word as wat die hof, met inagneming van die mate van die eiser se skuld met betrekking tot die skade, regverdig en billik ag. Wat betref skade gely as gevolg van 'n botsing tussen twee voertuie, vind art 1(1)(a) normaalweg toepassing indien die botsing

15

aan die nalatigheid van altwee bestuurders te wyte was en albei as gevolg daarvan skade gely het. In so 'n geval sou 'n bepaling van die graad van kousale nalatigheid van bestuurder A in baie gevalle - maar nie altyd nie: Jones NO v Santambank 1965 (2) SA 542 (A) 555 - ook uitsluitsel gee oor die skuldgraad van bestuurder B, en sou dit normaalweg billik wees om die skade van bestuurder A met die graad van sy nalatigheid te verminder. Moeiliker is die toepassing van die subartikel in 'n geval soos die onderhawige waar slegs Stander skuld met betrekking tot die veroorsaking van die botsing dra. Dit het Van Huyssteen se skade tot gevolg gehad en Stander se afwyking van die norm van die bonus paterfamilias kan op naby 100% gestel word. Maar wat nou as Van Huyssteen se afwyking van die norm ook op bykans 100% gestel word? Moontlik sou dan gesê kan word dat hy en Stander gelyke skuld met betrekking tot die

16

veroorsaking van sy skade het. Art 1(1)(a) bepaal egter nie dat 'n eiser se skade verminder moet word in verhouding tot sy skuld nie, maar wel tot die mate wat, met inagneming van die omvang van die eiser se skuld, regverdig en billik is. En in ' n geval soos die onderhawige verg regverdigheid en billikheid inagneming van die feit dat Van Huyssteen geensins tot die plaasvind van die botsing bygedra het nie, en dat sy skuld andersoortig as dié van Stander was.

Weens sy breinbeserings het Van Huyssteen nie by die verhoor getuig nie. 'n Mens weet dus nie waarom hy geweier het om sy gordel te gebruik nie. Moontlik was hy bevrees dat indien hy hom sou vasgespe hy vasgeknel sou sit indien die voertuig in 'n botsing betrokke sou wees. Of moontlik het hy 'n gevoel van bravado gehad weens sy aansienlike inname van alkohol by Ou Skip. Ten gunste van die appellant veronderstel ek egter dat sy weiering irrasioneel en

17 halsstarrig was.

Ter onderskraging van sy betoog dat Van Huyssteen se skade met 50% verminder moes gewees het, het die appellant se advokaat gesteun op sogenaamde maatskaplike beskouings van redelikheid van gedrag. In hierdie verband is aangevoer dat die gemeenskap se afkeer van die versuim om 'n gordel te gebruik in die afgelope twaalf tot vyftien jaar verskerp het. Dit mag so wees, maar dan moet so 'n afkeer steeds gemeet word in die lig van die gemeenskap se verdoeming van die gedrag van 'n bestuurder wat op bykans roekelose wyse 'n botsing veroorsaak en aldus bygedra het tot die skade gly deur 'n onomgorde passasier.

Ek is nie van voorneme om enkele oorwegings waarop die respondent se advokaat gesteun het uiteen te sit nie. Ek sê dit omdat na opweging van alle tersaaklike oorwegings ek nie oortuig is dat die persentasie waarmee die verhoorhof Van Huyssteen se

18

skade verminder het aanmerklik van my eie beraming verskil nie. Wat hierdie aspek betref, kan dus nóg die appél nóg die kruisappél slaag. (2) Addisionele akkommodasiekoste

Die verhoorhof se bevinding dat indien Van Huyssteen nie beseer was sy gemiddelde maandelikse akkommodasiekoste ongeveer R800 sou beloop het, is nie deur een van die partye aangeveg nie. Albei het egter beswaar gehad teen die hof se beraming dat sy toekomstige maandelikse verblyfskoste R950 per maand sal bedra. Soos reeds genoem, het die appellant aangevoer dat Van Deventer R geen toekenning ten opsigte van die onderhawige item moes gemaak het nie, terwyl dit die respondent se houding was dat laasge-noemde koste Rl 350, alternatiewelik Rl 175, beloop.

Die verhoorhof het met verwysing na die verblyfkoste wat deur 'n aantal inrigtings gehef word, bereken dat die gemiddelde bedrag wat maande-

19 liks deur 'n inwoner aan sodanige inrigting betaal-baar is R950 bedra. Volgens 'n berekeningsmetode (bewysstuk RC 9) waarop die partye ooreengekom het, was die gekapitaliseerde waarde van hierdie bedrag (inaggenome inflasie) R42 600. Omdat dit onseker was of Van Huyssteen vir die res van sy lewe van akkommo-dasie in 'n inrigting gebruik sou maak, het die verhoorhof egter 'n gebeurlikheidsaftrekking van 25% gemaak, latende 'n balans van R31 950 wat aan die respondent toegeken is.

Voor die botsing het Van Huyssteen by Stander ingewoon. Nadat hy uit die hospitaal ont-slaan is, het hy vir nagenoeg 2 maande by vriende gebly, toe vir 3 - 4 maande by Stander, en daarna vir ' n verdere 3-4 maande by Stander se suster. Ten tye van die verhoor was die posisie dat hy na die botsing minstens nege keer van (private) verblyfplek verander het.

20

Deskundiges wat namens die partye getuig het - mev Chasen vir die respondent en mnr Van Zyl vir die appellant - was dit eens dat Van Huyssteen geselskap en gestruktureerde of semi-gestruktureerde aandag en toesig behoef. Die ideale oplossing sou wees dat hy as loseerder inwoon in 'n huis (of moontlik woonstel) indien iemand prakties konstant tuis is om na sy behoeftes om te sien. Dit is egter duidelik dat die moontlikheid dat Van Huyssteen sodanige semi-gestruktureerde verblyf vir 'n sub-stansiële tydperk of tydperke sal bekom, gering is. Die enigste realistiese alternatief is dus verblyf in 'n gestruktureerde inrigting.

Die appellant het in eerste instansie betoog dat nie bewys is dat Van Huyssteen van ge-struktureerde verblyf gebruik sal maak nie, en dat dit ontersake is dat dit in sy beste belang sal wees om wel in 'n gespesialiseerde inrigting opgeneem te

21 word. Terselfdertyd is met verwysing na Blyth v Van den Heever 1980 (1) SA 191 (A) 225-226, toegegee dat 'n hof by die berekening van skadevergoeding wel toekomstige gebeure wat mag plaasvind in aanmerking kan neem.

Bostaande betoog berus op 'n verkeerde premisse. In Blyth was dit moontlik, maar nie waar-skynlik nie, dat die eiser se arm in die toekoms afgesit sou moes word. Hierdie hof het bevind dat met inagneming van o a die sterkte van die moontlik-heid nogtans 'n toekenning ten opsigte van die koste van die amputasie gemaak moes word. In casu het ons met 'n ander situasie te doen. Dit is nie onseker of Van Huyssteen se toestand verblyf in 'n gestruktu-reerde inrigting verg nie. Al wat onseker is, is die mate waartoe hy gebruik daarvan sal maak. Afgesien van die moontlikheid dat hy by tye semi-gestruktu-reerde huisvesting mag vind, is hierdie onsekerheid

22

egter nie ter sake nie. Sy posisie is goed vergelyk-baar met dié van 'n parapleeg wat dag en nag ver-pleging nodig het, maar wat moontlik mag verkies om sover doenlik snags deur haar man versorg te word. Nietemin is die koste van verpleging die omvang van haar verhaalbare skade, oftewel haar vergoedings-maatstaf (vgl Cunningham v Harrison and Another (1973) 3 All ER 463 (CA) 469). En net so is in die onderhawige geval die koste van gestruktureerde verblyf Van Huyssteen se vergoedingsmaatskaf ongeag of hy al of nie konstant daarvan gebruik sal maak.

( 'n Toelating moet egter gemaak word met die oog op die moontlikheid dat Van Huyssteen by _tye semi-gestruktureerde verblyf mag bekom.)

In tweede instansie het die appellant se advokaat betoog dat volgens die getuienis die koste van gespesialiseerde akkommodasie 'n gemiddelde van

23 slegs R757,50 per maand beloop. Ten einde hierdie betoog te begryp, moet na fasette van die getuienis van mev Chasen en Van Zyl verwys word.

Mev Chasen het getuig dat Colestine Lodge die enigste geskikte inrigting in die Skiereiland is. Sy het egter toegegee dat verreweg die meeste van die inwoners bejaard is en dat sy nie navrae aan-gaande die geskiktheid van Belmont House in Kaapstad gedoen het nie. Hierteenoor het Van Zyl getuig dat volgens inligting wat hy telefonies bekom het die inwoners van Belmont House mense met aangebore intel-lektuele probleme is; dat die koste van verblyf R600 per maand is, en dat die inrigting ' n waglys van 30 aansoekers het (wat met agt sal verminder na voltooi-ing van uitbreidings). Van Zyl het ook melding gemaak van die volgende inrigtings (waarvan die maandelikse koste ook vermeld word).

1) Sunfield Home (Wellington) R580

24

  1. Camperhill Village (Hermanus) Rl 000

  2. Voorgestelde inrigting in

Robertson R850

4) Rosedene House (Kaapstad) Rl 000
Die partye het ooreengekom dat die maande-

likse koste van verblyf in Colestine Lodge Rl 350 beloop. Hierdie bedrag asook die inwoningsgelde gehef deur Sunfield Home, is egter deur die verhoor-hof buite rekening gelaat as synde die twee uiter-stes. Met verwysing na Camperhill Village, die Robertson inrigting en Rosedene House, het Van Deventer R toe die gemiddelde koste van gestruk-tureerde verblyf op R950 per maand bepaal.

Die appellant se advokaat het hierdie berekening gekritiseer omdat die koste van akkommo-dasie in Belmont House nie in ag geneem is nie, en omdat Van Zyl nie Rosedene House as 'n geskikte inrigting vir Van Huyssteen beskou het nie. Indien

25

Colestine Lodge buite rekening gelaat word, en slegs op die maandelikse koste van verblyf in Sunfield Home, Camperhill Village, Belmont House en die inrigting in Robertson gelet word, so is voorts betoog, beloop die gemiddelde koste slegs R757,50 per maand.

Die respondent se advokaat het egter aangevoer dat slegs hoorsê getuienis aangaande ver-blyfkoste in veral Sunfield Home en Camperhill Village deur Van Zyl gegee is, en dat daardie koste dus nie in ag geneem kan word nie. Voorts is geargu-menteer dat Van Deventer R die koste van gestruktu-reerde verblyf in Rosedene House en die inrigting-in Robertson buite rekening moes gelaat het vanweë 'n gebrek aan aanvaarbare getuienis aangaande die geskiktheid van daardie inrigtings. Derhalwe is gekonkludeer dat die koste onder bespreking gestel moes word op Rl 350 per maand (verblyf in Colestine

26 Lodge), of alternatiewelik op Rl 175 per maand (die gemiddelde van die koste van Colestine Lodge en Camperhill Village).

Wat betref die hoorsê getuienis, is geen beswaar geopper toe Van Zyl dit gegee het nie. Blykens die uitspraak is ewe min aan die einde van die verhoor betoog dat Van Deventer R dit weens die ontoelaatbaarheid daarvan moes ignoreer. En indien 'n beswaar teen die toelaatbaarheid van die getuienis geopper was, sou die appellant allig getuies met eerstehandse kennis opgeroep het. Hierdie is dus 'n geval waarin die respondent nie op appèl toegelaat moet word om hom op 'n nuwe regspunt te beroep nie.

Die appellant is vanselfsprekend verplig om Van Huyssteen slegs ten opsigte van die koste van redelike gestruktureerde huisvesting te vergoed. 'n Mens moet egter nie net op die koste van beskikbare akkommodasie let nie, maar ook op Van Huyssteen se

27

behoeftes. Hy het slegs 'n klein aantal vriende, en hulle is almal in die omgewing van Parow woonagtig. Sou hy dus in 'n buitestedelike inrigting opgeneem word, sou dit vir hom baie moeilik wees om hulle te besoek. Aan die ander kant mag hy tuiser voel in 'n plattelandse omgewing, en meer spesifiek die omgewing van Camperhill Village wat bowendien konstruktiewe deelname aan gemeenskapsprojekte bied. Dan is daar die probleem dat sommige van die inrigtings waglyste vir opname het. Ek meen dus nie dat die koste van gestruktureerde akkommodasie enigsins met matematiese presiesheid bepaal kan word nie. Daarom het dit nie veel sin om die gemiddelde koste van geskikte so-danige akkommodasie te probeer bepaal nie. Ek sê dit onder andere omdat Van Huyssteen tydens die verhoor slegs 40 jaar oud was en daar in die toekoms moont-lik verdere inrigtings in en naby die Skiereiland geopen sal word. Gevolglik is 'n robuuste benadering

28

aangewese en met inagneming van die moontlikheid dat semi-gestruktureerde huisvesting van tyd tot tyd beskikbaar mag wees en redelikerwyse deur Van Huys-steen benut behoort te word, bepaal ek sy addisionele verblyfkoste op R250 per maand. In hierdie verband wys ek daarop dat indien Van Huyssteen weer 'n woon-stel sou bekom en 'n bediende in diens sou neem om sy etes voor te berei en hom andersins te versorg, haar salaris allig heelwat meer as R250 per maand sou beloop.

Indien ek nou die berekeningsmetode in bewysstuk RC 9 toepas, is die gekapitaliseerde waarde van R250 per maand R56 800, wat aanmerklik meer is as die bedrag van R31 950 wat Van Deventer R onder die onderhawige hoof toegeken het. (3) Gebeurlikheidsaftrekkinq

Hieroor hoef nie veel gesê te word nie. Wat betref Van Huyssteen se geraamde verlies aan

29

verdienste het die verhoorhof 'n gebeurlikheids-aftrekking van 15% gemaak terwyl die respondent aanvoer dat die persentasie 10% of 12,5% moes gewees het. Dit is myns insiens nie aangetoon dat Van Deventer R 'n wesentlike mistasting begaan het nie, en daar is ook nie 'n ander grond waarop met sy beraming ingemeng kan word nie. Die teenappêl slaag dus sleg tot die mate dat die toegekende skadever-goeding van R237 900 tot R254 470 verhoog word.

Die appél word met koste afgewys. Die teenappél slaag met koste tot die mate dat die bedrag van R237 900 in para 1 van die bevel van die verhoorhof met die som van R254 470 vervang word.

H J 0 VAN HEERDEN AR

KUMLEBEN AR

STEM SAAM KRIEGLER Wnd AR

▲ To the top