S v Mashile (166/1992) [1993] ZASCA 65 (24 May 1993)


RAPPORTEERBAAR

Saaknommer 166/92 /al

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak van :
EDDIE TEBOGO MASHILE APPELLANT

EN
DIE STAAT RESPONDENT

CORAM : HOEXTER, EKSTEEN ARR et KRIEGLER WND. AR

EX TEMPORE UITSPRAAK GELEWER OP 24 MEI 1993

KRIEGLER WND. AR/..

2

KRIEGLER WND. AR :

Die appellant is in die landdroshof te Phalaborwa skuldig bevind aan 'n oortreding van a. 120(1) van die Padverkeerswet no 29 van 1989 deurdat hy 'n motorvoertuig op die openbare pad tussen Mica en Phalaborwa nalatig bestuur het. 'n Appèl (teen skuldigbevinding alleen - die straf was 'n opgeskorte boete) na die Transvaalse Provinsiale Afdeling word afgewys maar verlof tot verdere appèl word aldaar verleen.

Die verhoorhof se feitebevindings word - en kan nie - betwis word nie. Die appellant het teen 'n lang opdraende na 'n blinde hoogte oor 'n sperstreep 'n reeks bewegende voertuie ('n motorkar agter 'n voorhakker-leunwa-en-sleepwa-kombinasie) verbygesteek. Die bestuurder van die motorkar het juis agter die vragmotor-kombinasie gebly omdat hy verbysteek gevaarlik geag het. Die betroubaarheid van sodanige oordeel staan vas: die bestuurder was

3

'n ervare verkeersbeampte; sy kollega en passassier beaam dit en, les bes, die verhoorlanddros het na aanleiding van 'n inspeksie ter plaatse tot dieselfde slotsom gekom.

In die hof a quo - en opnuut in hierdie hof -is die betoog namens die appellant gebaseer op relatiewe snelhede, afstande en onderlinge sigbaarheidsperke. Aan die hand daarvan is dan aangevoer dat daar nie bewys is dat die appellant enige potensiële gevaar geskep het nie. Vervolgens is dan geredeneer dat die skuldigbevinding berus bloot op die veronagsaming van die sperstreep en gevolglik 'n bedekte aanwending van die versari in re illicita-leerstuk is.

Maar die betoog is beide in sy vertrekpunt en in sy ontplooiing wesensgebrekkig. Ten eerste, wat betref die vertrekpunt, is dit prinsipieel verwerplik om 'n rekenkundige metode op geskatte gegewens toe te pas en dan die resultaat as eksak

4

aan te bied. In hierdie geval, soos dikwels in verkeersake gebeur, is die basiese gegewens niks meer nie as die getuies se rekonstruksie in die hof van indrukke ten tyde van die gewraakte gebeure. Dis aanvanklik feilbare skattings, wat dan deur opvolgende gebeure en geheuevervaging vertroebel word. Om dit dan met matematiese formules te gaan verwerk in die geloof dat 'n naastenby akkurate resultaat tevoorskyn gaan kom, is 'n dwaling. Daar kan met vrug herhaal word wat Van den Heever AR op kenmerkend treffende wyse in Santam Bpk & African Guarantee & Indemnity Co Ltd v Moolman 1952 (2) PH 016 (A) gesê het:

"Ons is vergas op 'n rekenkundige vertoog omtrent die relatiewe bewegings en stand van ... voertuie op verskillende tydstippe. Myns insiens was dit tydverkwisting ... Dan steun die berekeninge verder op gissings omtrent snelheid uitgedruk in soveel voet per sekonde.

5

Om die rekenkundige metode op rekbare gegewens

toe te pas is slegs om die ongewisse met die

onbekende te vermenigvuldig." Presies hoe vinnig iedereen van die voertuie mag gery het; wat hulle afmetings en volgafstande mag gewees het; wat nou juis die "kruin" van die blinde hoogte en die afstand van daar na die een of die ander van die voortsnellende voertuie op 'n bepaalde tydstip was, is alles rekbare gegewens.

Wat nie rekbaar is nie is dat twee verkeersbeamptes ten tyde én die verhoorhof deur middel en met behulp van 'n inspeksie die appellant se maneuver as gevaarlik aangemerk het. Sodanige oordeel lê natuurlik die skuldigbevinding ten grondslag en nie ' n beroep op die lank reeds gediskrediteerde leerstuk nie. Die feit dat daar ' n sperstreep was, is maar een van die omstandighede wat in die weegskaal geplaas is - en tereg. Dit is immers vir die motoris 'n aanduiding

6

dat die verkeersowerhede meen dat verbysteek gevaarlik kan wees. Daar is geen blyke in die verhoorhof se uitspraak dat die aanwesigheid van die sperstreep tot sluitsteen verhef is nie. Die appél word afgewys.

J.C. KRIEGLER WND. APPèLREGTER

HOEXTER AR ]

STEM SAAM EKSTEEN AR ]

▲ To the top