S v Tshandu (182/1992) [1993] ZASCA 7 (25 February 1993)


Saak Nr 182/92 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

Tussen

THEMBISILE JACKSON TSHANDU Appellant

- en -

DIE STAAT Respondent

CORAM: VIVIER, MILNE ARR et

KRIEGLER Wnd AR.

VERHOOR: 16 Februarie 1993.

GELEWER: 25 Februarie 1993.

UITSPRAAK

VIVIER AR

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Kaapse Provinsiale Afdeling (Oostelike Rondgaande Plaaslike Afdeling) deur MUNNIK RP en assessore op een aanklag elk van moord en verkragting skuldig bevind. Op die moordaanklag is hy die doodvonnis opgelê en op die aanklag van verkragting is hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Hy appelleer na hierdie Hof ingevolge art 316 A van die Strafproseswet 51 van 1977 teen sy skuldigbevlnding en vonnis op die moordaanklag.

Beide aanklagte spruit uit 'n aanval op 'n nege-jarige dogtertjie van Knysna, Tamsyn Garth-Davis ("die oorledene") kort na twee-uur die middag van 29 Januarie 1991. Sy was na skool te voet op pad na haar ouerhuis by Ploverweg 2 in die gebied bekend as Ouplaas net buite Knysna nadat die skoolbus haar, soos gebruiklik, by 'n punt ongeveer 500m vanaf haar ouerhuis

3

afgelaai het. Haar ouerhuis is op die hoek van Ploverweg en Bokmakieriestraat geleë en die ingang is vanuit laasgenoemde straat. Bokmakieriestraat draai uit die hoofweg na Port Elizabeth ongeveer 150m daarvandaan. Sy het nie haar ouerhuis bereik nie en kort voor vyfuur dié middag is haar liggaam onder 'n boom in 'n beboste gebied aan die oorkant van Bokmakie= riestraat, feitlik regoor die ingang van haar ouerhuis en ongeveer 80m daarvandaan, gevind. Haar twee broekies het om die een enkel gehang en haar skoolrok was opgetrek sodat haar onderlyf tot bokant haar heupe ontbloot was. Haar skooltas het langs haar gelê en twee nylonbande, wat van die tas afgeruk is, was afsonderlik van mekaar om haar nek gedraai en geknoop. Op die grond was daar tekens van 'n worsteling.

Dr Joubert, wat die nadoodse ondersoek op die liggaam van die oorledene gedoen het, het getuig dat

4

die oorledene gesterf het as gevolg van versmoring deur die nylonbande om haar nek. Haar privaatdele was ernstig beseer en penetrasie het beslis plaasgevind. In die boudspleet het dr Joubert kort, krullerige swart hare gekry wat nie van die oorledene self afkomstig was nie omdat sy nog geen pubiese hare gehad het nie. Hierdie hare is vir ontleding weggestuur.

Die appellant is op 20 Maart 1991 gearresteer. Twee dae later het hy 'n bekentenis voor landdros J Kapp afgelê wat na 'n binneverhoor as getuienis teen hom toegelaat is. Die toelaatbaarheid van die bekentenis was nie op appèl aangeveg nie. Aan die landdros het die appellant o a gesê dat hy op die betrokke dag nie gaan werk het nie maar met 'n huurmotor dorp toe is waar hy by die New Haven Hotel gedrink het. Op pad terug na sy huis moes hy verby Ouplaas loop, en hy het met Bokmakieriestraat afgedraai

5

in die rigting van die oorledene se huis. Hy het die

oorledene goed geken omdat hy vantevore by haar pa in

die tuin gewerk het. Sy was "gewoond" aan hom. Toe

hy naby hulle huis kom, het hy die oorledene gesien en

haar gegroet. Hy het haar geroep en sy het na hom

toe gekom. Op daardie oomblik het hy gevoel dat hy

"lus het om met haar gemeenskap te hou". Toe sy by

hom kom, het hy vir haar gesê dat hy haar iets in die

veld wou gaan wys. Hulle het verby die kerk reg

oorkant die oorledene se ouerhuis geloop en toe die

oorledene nie verder wou loop nie, het hy haar gegryp

en haar neergegooi. Hulle het geworstel en hy het

daarin geslaag om haar broekie uit te trek. Die

appellant sê verder: "Ek het probeer om gemeenskap met

haar te hou - ek het probeer om my privaatdeel in haar

privaatdeel in te druk maar ek kon nie slaag nie. Ek

het haar toe gewurg met my hande. Sy het toe later

6

doodstil gelê."

Op 23 Maart 1991, 'n dag nadat die appellant sy bekentenis aan die landdros gemaak het, het hy sekere uitwysings en gepaardgaande mondelinge verklarings aan kapt Truter gemaak wat na 'n binneverhoor as getuienis teen hom toegelaat is. Dit stem in alle wesenlike opsigte ooreen met wat hy die vorige dag aan die landdros vertel het. Aan Truter het hy o a die voetpaadjie uitgewys waarlangs hy die oorledene in die beboste gebied ingelei het om "na die mooi bome te kom kyk". Hy het verder uitgewys hoe hy die oorledene opgetel het toe sy nie verder wou saamloop nie en waar hy haar op die grond neergegooi het. Hy het aan Truter gesê dat hy by die laaste plek die oorledene se broekie uitgetrek en begin het om met haar "seks" te hê waarna hy haar gewurg het. Die fotos wat van die uitwysings geneem is, toon duidelik

7

dat die plek waar die oorledene doodgemaak is, tussen digte, hoe bosse en gras is.

Op 25 Maart 1991 het die appellant by die pleitverrigtinge in die landdroshof skuldig gepleit op beide aanklagte van moord en verkragting. Na ondervraging deur die landdros is pleite van onskuldig op beide aanklagte aangeteken aangesien die appellant, wat die moordaanklag betref, nie erken het dat hy die nodige opset gehad het nie en, wat die aanklag van verkragting betref, nie erken het dat gemeenskap plaasgevind het nie. Nadat die appellant 'n feitelike relaas van die gebeure aan die landdros gegee het wat wesenlik ooreenstem met wat hy voorheen aan landdros Kapp en kapt Truter gesê het, het die landdros ingevolge art 115 2(b) van Wet 51 van 1977 aangeteken dat die appellant erken dat hy die oorledene probeer verkrag het en dat hy haar daarna doodgemaak het deur

8

haar te wurg.

By die verhoor het die appellant getuig dat hy niks van die misdade af weet nie en dat hy nie naby die toneel was nie. Hy het die betrokke dag nie gaan werk nie en is met h taxi van sy woning dorp toe waar hy by die New Haven hotel gedrink het. Om twintig minute oor een die middag is hy te voet huis toe waar hy om vieruur aangekom het nadat hy eers by 'n sjebeen aangegaan het. Oor sy bekentenis aan landdros Kapp het die appellant getuig dat hy glad nie kan onthou wat hy by daardie geleentheid gesê het nie, behalwe dat hy gesê het dat hy die oorledene geken het. Ten opsigte van die pleitverrigtinge in die landdroshof het hy ontken dat hy skuldig gepleit of enige erkennings gemaak het en getuig dat hy aan die landdros gesê het dat hy geen kennis dra van die misdade nie. Oor sy uitwysings en mededelings aan kapt Truter het

9

die appellant 'n verskeidenheid van verontskuldigende verduidelikings gegee. Dit is nie nodig om daarna te verwys nie. Die Verhoorhof het die appellant as 'n deurtrapte leuenaar beskryf en sy getuienis in die geheel verwerp. In hierdie Hof het mnr Keeton geredelik toegegee dat die appellant se getuienis leuenagtig was en dat dit met reg deur die Verhoorhof verwerp is. Mnr Keeton het ook nie op die getuienis van die appellant se vrou, wat deur die Verhoorhof verwerp is, probeer steun nie.

Mnr Keeton het voor ons betoog, soos hy ook in die Hof a quo gedoen het, dat daar h redelike moontlikheid bestaan dat die appellant se bekentenis, pleitverduideliking, uitwysings en verklarings aan die staatsgetuies nie betroubaar is nie, maar dat dit inderdaad alles vals is en dat hy dit opgemaak het ten einde te ontkom aan die druk waaronder die polisie hom

10

sou geplaas het. Ter ondersteuning van hierdie betoog het mnr Keeton aangevoer dat die appellant se weergawe, soos in sy buitegeregtelike mededelings vervat, in drie wesenlike opsigte verskil van die bewese feite. Eerstens het hy daarop gewys dat die appellant 'n plek ongeveer 30m van waar die oorledene se lyk gevind is, uitgewys het as die plek waar hy haar doodgemaak het. Soos die Verhoorhof vind ek geen meriete in hierdie punt nie. Die appellant is byna twee maande na die gebeure gearresteer en intussen is h groot gebied in die omgewing van die toneel van die misdaad ontbos. Dit is dus van geen betekenis dat die appellant nie die presiese plek aangewys het nie. Mnr Keeton het voorts daarop gesteun dat penetrasie bewys is terwyl die appellant slegs erken het dat hy gepoog het om met die oorledene gemeenskap te hê. Die appellant se weergawe is egter dubbelsinnig en kan wel beteken dat penetrasie

11

plaasgevind het. So sê hy o a dat hy begin woel het met die oorledene (sy woordgebruik vir gemeenskap) toe sy "moed afval". Derdens het mnr Keeton daarop gesteun dat die appellant slegs daarvan melding maak dat hy die oorledene met sy hande verwurg het en niks praat van verwurging met die nylonbande nie. Ek stem met die Verhoorhof saam dat sy versuim om die bande te noem niks meer is as 'n poging om sy daad minder ernstig te laat lyk nie. Volgens die mediese getuienis is dit nie uitgesluit dat die appellant die oorledene eers met die hande verwurg het voordat hy die bande om haar nek geknoop het. Ek vind gevolglik geen wesenlike verskil tussen die weergawe van die appellant toe hy die pleging van die misdade erken het en die bewese feite nie.

Mnr Keeton se betoog dat die appellant moontlik 'n vals bekentenis onder druk van die polisie

12

aan die landdros gemaak het, is suiwer spekulasie en daar is geen getuienis om dit te staaf nie. Die appellant het self nie so getuig nie. By die binneverhoor oor die toelaatbaarheid van die bekentenis was sy verweer dat hy as gevolg van aanrandings op hom gedwing is om die bekentenis te maak. Nadat die bekentenis toegelaat is as getuienis, was sy verweer dat hy nie kan onthou wat hy aan die landdros gesê het

nie.

Selfs op die veronderstelling dat die

appellant om een of ander rede h vals bekentenis sou

gemaak het, vind ek dit ondenkbaar dat hy dit daarna op

twee geleenthede nie alleen in wesenlike opsigte sou

herhaal nie, maar ook daarop sou uitbrei, soos hy wel

gedoen het.

Daar is ander omstandigheidsgetuienis wat die

appellant se bekentenis staaf. Volgens die appellant

13

het hy die ooriedene goed geken en was sy "gewoond" aan hom omdat hy vroeer die familie se tuinier was. Aan die polisie het hy gesê dat hy die oorledene een dag by haar skool gesien het en dat sy vir hom lekkers gegee het. Die feit dat sy haar aanvaller die bos in vergesel het, dui daarop dat sy hom goed geken het en eie aan hom gevoel het. Volgens beide haar ouers het hulle haar gewaarsku teen vreemdelinge. Verder was daar die onbetwiste forensiese getuienis van luit Ras wat 'n pubiese haar wat op die oorledene gevind is, met h monster pubiese hare van die appellant vergelyk het. Haar ondersoek het elf ooreenstemmende eienskappe getoon waarvan sewe, volgens haar, voldoende is om te bevind dat die hare aan dieselfde persoon behoort. Sy het verder getuig dat die moontlikheid dat twee persone identiese pubiese hare het, een uit agthonderd is.

Mnr Keeton het in die alternatief betoog dat,

14

indien bevind word dat die appellant wel die oorledene aangeval het soos hy in sy bekentenis erken het, die redelike moontlikheid nie uitgesluit is nie dat, nadat hy die toneel verlaat het, iemand anders die oorledene gedood het deur haar met die nylonbande te wurg. Mnr Keeton het vir hierdie betoog gesteun op die feit dat 'n stuk lap 'n paar dae na die voorval opgetel is naby die plek waar die oorledene se liggaam vantevore gevind is. Op die lap was o a pubiese hare wat nie met dié van die appellant ooreengestem het nie. Dit is egter uiters onwaarskynlik dat die lap reeds op die toneel was toe die polisie die terrein gefynkam het nadat die oorledene se liggaam gevind is. Daar is in elk geval hoegenaamd niks wat die lap met die pleging van die misdryf verbind nie. Daar is geen redelike moontlikheid dat iemand anders enige aandeel in die dood van die oorledene gehad het nie.

15

Ek is gevolglik van mening dat die appellant tereg skuldig bevind is aan moord en dat die appèl teen sy skuldigbevinding nie kan slaag nie.

Dit laat die appèl teen die "doodvonnis wat die appellant weens die moord opgelê is. Hy was ten tyde van die pleging van die misdade 37 jaar oud en het geen vorige veroordelings gehad nie. Hy het nie verder as die laerskool gevorder nie en het ten tyde van die pleging van die misdade 'n vaste werk as handlanger by 'n bouaannemer gehad. Mnr Keeton het namens die appellant betoog dat hy onder die invloed van drank gehandel het, maar die getuienis staaf nie sy betoog nie. Die appellant het getuig dat hy die betrokke oggend by 'n sjebeen druiwesap gedrink het en dat hy en twee maats daarna 'n bottel soetwyn by die hotel gedeel het. Hy het nie getuig dat dit hom enigsins geaffekteer het nie. Inteendeel, sy

17

op plekke deur die vel gedring het. Die aanval op die ooriedene het met voorbedagte rade geskied. Die appellant was op pad na sy huis wat nog meer as 4 km daarvandaan was en daar was geen rede vir hom om in Bokmakieriestraat uit die hoofweg af te draai wat hom ver uit sy normale roete sou neem nie. Toe hy die oorledene gewaar, het hy besluit om haar te verkrag. Daar kan met veiligheid aanvaar word dat hy op daardie stadium besef het dat hy haar sou moes doodmaak nadat hy haar verkrag het. Ten einde sy doel te bereik het hy die vertroue wat sy in hom as iemand wat sy goed geken het, misbruik om haar na die bos te lok.

Uiteindelik moet ek dan oordeel of, met inagneming van die strafverswarende en -versagtende omstandighede die doodstraf die enigste gepaste vonnis is. By die beslissing van hierdie vraag moet die hoofdoelstellings van straftoemeting naamlik voor=

18

koming, afskrikking, vergelding en hervorming oorweeg word. In 'n geval soos die huidige weeg die noodsaaklikheid om behoorlike uiting te gee aan die faktore van vergelding en afskrikking sowel as aan die gemeenskap se afsku aan moorde van hierdie aard, na my mening sterker as die moontlikheid van rehabilitasie. Die appellant se optrede was so boos en afskuwelik en dit openbaar so 'n gehardheid en onverskilligheid teenoor menslike lewe, dat hierdie as 'n geval van uitsonderlike erns beskou moet word. Gevolglik is die doodstraf, na my mening, die enigste gepaste straf.

Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.

MILNE AR)

Stem saam. KRIEGLER Wnd AR)

▲ To the top