S v De Vries (318/1992) [1993] ZASCA 72 (27 May 1993)


SAAKNOMMER 318/92 HVN

HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen

JOHN DE VRIES APPELLANT

EN

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: MILNE, KUMLEBEN ARR,

et HOWIE, Wn AR

VERHOORDATUM: 14 MEI 1993

LEWERINGSDATUM: 27 MEI 1993

UITSPRAAK KUMLEBEN, AR:

Die appellant is in die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof aan moord skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hierdie appèl is slegs teen die opgelegde vonnis gerig. Die gebeure wat tot die

2

skuldigbevinding aanleiding gegee het, kan soos volg saamgevat word.

Die appellant is in die gevangenis te Stellenbosch op 'n aanklag van huisbraak aangehou. Hangende die beregting van die saak, het hy voor 'n plaaslike landdros, mnr Van Niekerk, verskyn, vermoedelik vir die uitstel daarvan. Borg ten bedrae van R 300 is toegestaan en dit is later tot R 150 verminder. Die bedrag is egter nie betaal nie en sy aanhouding moes voortduur. Hy het ook tevergeefs regsverteenwoordiging aangevra. Op 30 September 1991 het Andrew Conradie ("die oorledene"), Andries Faas ('n staatsgetuie) en 'n derde persoon by hom in die sel aangesluit. Daar was toe altesame nege persone daarin toegesluit, almal verhoorafwagtend. Die oorledene was vermink deurdat hy net een oog en geen kunsoog gehad het nie. Die appellant het by sy mede-aangehoudenes en die

3

gevangenisbeamptes gekla oor die feit dat so 'n persoon in die sel saam met hom geplaas was.

Die aand van 1 - 2 Oktober 1991 het die getuie Faas langs die oorledene naby die toilet op die vloer van die sel geslaap. 'n Buitelig was aan gewees wat die

binnekant van die sel tot 'n mate verlig het. Gedurende die vroegoggend het Faas wakker geword en gesien dat die appellant 'n das om die nek van die oorledene plaas. Die appellant het Faas beveel om anderkant toe te kyk. Hy het gehoor dat die oorledene met iets gekap word, dat die appellant die toiletbak uitspoel en die wasbak gebruik. Hierdie optrede het hy herhaal. Daarna het hy die oorledene vir die derde keer genader, hom gevra "Hoekom wil jy nie dood nie" en hom weer gekap totdat hy gesterf het. Op 'n stadium het Faas gesien dat dit die appellant se skoen was wat as wapen gebruik was om die oorledene te kap. Daarna het hy die lyk op sy maag laat

4

lê, sy komberse daaroor gesit en 'n stuk papier, waarop hy eers geskryf het, bo-op die komberse geplaas. (Die dokument, waarna ek later sal verwys, is as 'n bewysstuk ingehandig.) Na hierdie gebeure het die appellant na sy slaapplek teruggekeer.

Nie lank daarna nie het die gevangenispersoneel op die lyk van die oorledene afgekom. Daar was bloed in die toiletpot en aan die muur van die sel. Die polisie is ontbied en die lyk is verwyder. Volgens die geregtelike nadoodse-ondersoek, was daar ses skeurwonde wat die skoenhoue moes veroorsaak het; sewe sny- of steekwonde (die appellant het 'n geslypte tandeborsel voor die voorval in sy besit gehad); "snoerspoorwonde" rondom die nek, veroorsaak deur die gebruik van 'n das asook hande om te verwurg; en 'n aantal skaafwonde. Die oorsaak van dood was verwurging en breinbloeding.

5

Die getuienis van die appellant om sy optrede te

probeer verduidelik, is onsamehangend en klaarblyklik 'n

versinsel, inderdaad 'n belaglike relaas. 'n Paar

uitreksels uit sy hoofgetuienis is voldoende bewys

daarvan:

Daardie aand nadat hy gaan slaap het:

"[het] ek begin my voorspellings kry, my voorspellings wat ek gekry het was die eerste voorspelling was van Hendrika en die ander voorspellings was met my ma, my oorlede ma,van Hendrika en van my - ek is eintlik van ...(onduidelik) my mense is van - my ma is geboorte van ...(onduidelik). Die plaas wat my ma onder gewerk het was Breytenbach. Ek het 'n voorspelling gekry daarvan."

Later sê hy:

"Ek weet nie wat aangegaan het daardie aand nie. Soos ek warm geword het, het ek net my mat opgerol en ek het my mat skuins soos ek altyd gebid het, my mat gegooi nou. Daardie tyd doen jy 'n baie sag gebed wat jy doen.

Wag nou net 'n oomblik daar, waar het u u mat oopgegooi? Waar in die sel het u u mat

oopgegooi om te bid? Ek het die mat gegooi

by die - by die kraan."

Terwyl hy gebid het, het een van sy selgenote, nie die

6

oorledene nie, gekla dat sy gebede hom steur. Dit het

'n bakleiery tot gevolg gehad:

"Het iemand u toe voor die bors gegryp?

Ja, toe het iemand my voor die bors gegryp.

Wie was dit? Dit is die persoon wat

daar gelê het, daai persoon.

Die oorledene? Die oorledene, ja.

Toe gryp die oorledene u voor die bors?

Hy het my gegryp voor die bors wat ek ...

(tussenbeide)

Aan die hemp, u wys ... (tussenbeide) ... hom navraag doen ... (tussenbeide)

Net so 'n oomblikkie, u wys met u hand hy

het u aan die hemp gegryp, is dit reg? Hy

het my aan my T-frokkie gegryp.

Aan u T-hempie? ... Aan my T-hemp.

En wat het toe gebeur nadat hy u gegryp

het aan u bors, wat gebeur toe? En toe is

dit 'n bakleiery, ek en hy."

Gedurende die bakleiery, volgens hom, het die oorledene

agteroor geval, waarna die appellant hom met sy

kniekoppe in die maag geskop, sy kop teen die muur

gekap, hom getrap en hom met sy een hand om sy nek

beetgekry het. Hy voeg by dat

"die warmte was nog altyd by my gewees, die

warmte was nog altyd in my. In daardie

geval kan ek nie sê hoekom en waarom ek

7

aangehou het om hom aan te rand nie omrede die gevoel wat by my gewees het."

Die verhoorhof (Van Deventer R en twee assessore)

se kommentaar op die appellant se getuienis lui soos volg:

"Die beskuldigde het 'n uiters swak indruk in die getuiebank gemaak. Hy was in verskeie opsigte 'n onbevredigende en ongeloofwaardige getuie. Sy herhaalde verskoning dat drome en geeste teenwoordig was en sy relaas van 'voorspellings' wat hy al soveel jare lank 'ontvang', het die Hof hoegenaamd nie beïndruk nie. Inteendeel het die Hof die afleiding van sy spreekmanier en algemene reaksies in getuiebank gemaak dat hy 'n verbale en heel intelligente persoon is wat die regsproses basies baie goed begryp en wat terdeë bewus is van die noodsaaklikheid om een of ander verskoning te vind vir sy ongeregverdigde en brutale aanval op die oorledene - vandaar sy onsamehangende en obskure relaas van 'geeste', 'n 'warm gevoel' en 'voorspellings'."

Ek stem volkome saam met hierdie gevolgtrekking.

Mnr Joubert het namens die appellant opgetree. Hy

8

het op grond van drie oorwegings aangevoer dat die doodvonnis nie die enigste gepaste een is nie: (i) dat 'n mate van provokasie, as 'n redelike moontlikheid, bewys is en dat dit as 'n versagtende faktor geld; (ii) dat "die Hof a quo te veel klem op die grusaamheid van die moord geplaas het en die moontlikheid dat die Appellant se subjektiewe gemoedstoestand sy optrede minder moreel laakbaar gemaak het, uit die oog verloor het"; en dat. (iii) die bevinding dat die appellant 'n gevaar vir die gevangenisgemeenskap sou inhou ongegrond of oorbeklemtoon is.

Daar kan van provokasie geen sprake wees nie. Só 'n betoog is desnoods gegrond op die appellant se verhaal van die gebeure wat, soos reeds genoem, verwerp moet word. Dit word ook weerspreek deur sekere uitlatings van die appellant voor en na die aanval op die oorledene waarna ek aanstonds sal verwys. Daar is ook geen

9

aanvaarbare getuienis dat hy aan enige geestelike versteuring of swakheid gely het nie en dat hy as gevolg van 'n sodanige gebrek moreel minder verwytbaar

is nie.

Om die appellant se "subjektiewe gemoedstoestand" te bepaal, moet vasgestel word wat tot die moord aanleiding gegee het. Hy was gegrief oor die borg aangeleentheid en die weiering om regshulp aan hom te verstrek. Ook in die gevangenis het hy sonder welslae daarvoor aansoek gedoen. Hy het vir een van die aangehoudenes gesê dat hy vir "vryborg" gaan vra as hy weer voor die hof verskyn. (Terloops wys ek daarop dat die gevangenisowerhede met sy familie in verbinding getree het om betaling van sy borg te probeer bewerkstellig.) Hy het op 'n stadium in die gevangenis aangekondig dat "as hulle hom nie wil borg gee nie of regsverteenwoordiging nie, dan sal [ek] 'n moord

10

maak...." Hy het ook gekla dat hy onskuldig was aan die misdryf hom ten laste gelê, en gesê dat hy onnodiglik toegesluit was. Om die rede het hy ' n wrok teen die speurder wat hom "opgehang het" gekoester. Na die aanval op die oorledene is sy uitlatings ewe belangrik en insiggewend. Die volgende oggend het hy sy mede-aangehoudenes vertel dat hy aanpreeklikheid vir die noodlottige aanranding sou aanvaar ("ek het die ou nou vrek gemaak") en dat hulle nie die sel moes skoonmaak nie ("mense moet sien wat [ek] gemaak het"). Volgens

die getuie Faas, sou hy vir adjudant-offisier Truter gesê het dat laasgenoemde vir landdros Van Niekerk moet gaan vra waarom hy (die appellant) die oorledene doodgemaak het. Die noodwendige afleiding uit hierdie getuienis is dat hy 'n gevoel van onreg teenoor verskeie gesagsfigure gehad het; dat hy besluit het om op dié wyse uiting aan sy frustrasie te gee; en dat hy die oorledene as slagoffer uitgesonder het bloot omdat hy 'n

11

"eenoog persoon" was. In die nota, wat hy uitgeskryf het net na hy die oorledene doodgemaak het, verwys hy na speurder Van Schalkwyk, landdros Van Niekerk en die feit dat hy verkeerdelik in hegtenis geneem was. Hierdie skrywe is dan verdere bevestiging van sy beweegrede. Daar kan dus nie gesê word dat sy gemoedstoestand sy wanoptrede enigsins verskoon of minder laakbaar maak nie - dit is eerder bewys van die teendeel.

Die tersaaklikheid van die feit dat 'n veroordeelde 'n gevaar vir die gevangenisgemeenskap mag inhou wanneer die oplegging van 'n gepaste vonnis oorweeg word,is deur hierdie hof in 'n onlangse beslissing in perspektief gestel. In S v Lawrence 1991 (2) SASV 57 (A) 59 f - h is gesê:

"Having regard to the passages cited by

Eksteen JA from S v Eiman 1989(2) SA 863 (A)

at 873 A - B, I respectfully agree that in a

proper case, and upon adequate evidence, the

12

probability that a convicted criminal is likely to constitute a danqer to prison society is a factor which a Court might take into account in the determination of a proper sentence. In the event that evidence is adduced establishing the probability that a dangerous criminal could not be prevented from escaping from custody, that, too, could be a factor which might properly be taken into account. In the present case there was no such evidence in respect of either of these issues. At the cost of repetition, I would stress that, in my opinion, more particularly in cases involving the death penalty, a Court should not make findings prejudicial to an accused on the basis of mere speculation. A proper and adequate factual foudation should be laid if the State wishes such considerations to be taken into account for

purposes of sentence." (Ek beklemtoon)

Dat langtermyn gevangenissetting 'n bron van frustrasie kan wees, is 'n realiteit wat nie misgekyk kan word nie. Die appellant se lys van vorige veroordelings toon aan dat hy op 7 September 1988 te Wellington aan 'n misdryf skuldig bevind is. Die beknopte beskrywing daarvan is soos volg: "Aanranding met die opset om ernstig te beseer - 4 klagtes - geslaan en getrap." Ander

13

gegewens, wat in sy rekord van misdaad verskyn voor en na die inskrywing van hierdie oortreding, dui aan dat die aanranding tydens aanhouding gepleeg is -vermoedelik was ander gevangenes die klaers. Hierdie misdryf is dan ook bykomstige bewys dat die dissipline van gevangenisstraf hom nie beteuel nie, dat selfs in die gevangenis hy vir ander mense 'n gevaar inhou en dat hy bereid is om gesag te verontagsaam. Hierdie kenmerke en oorwegings behoort wel deeglik as 'n verswarende faktor in aanmerking geneem te word.

Die verswarende faktore is voor die hand liggend.

Die appellant is in 1951 gebore. Sy eerste misdaad is op 20 jarige ouderdom gepleeg. Daarna, oor 'n tydperk van ongeveer 20 jaar, is nie minder as 21 skuldigbevindings teen hom geboekstaaf nie. Hulle sluit in diefstal, huisbraak met die opset om te steel en

14

diefstal, roof, aanranding met die opset om ernstig te beseer en besit van 'n gevaarlike wapen. Vir sommige van hierdie misdade moes hy langtermyn gevangenisstraf uitdien. Dit het nie die gewenste uitwerking op hom gehad om hom van kriminele gedrag te weerhou nie. Hy is 'n geharde misdadiger.

Dit was 'n grusame aanval op 'n slapende, weerlose

persoon. Die foto's van die lyk is beeldende bewys

daarvan. Die distriksgeneesheer, wat die lyk in die sel

besigtig het, het dit as 'n "wreedaardige" aanval beskryf.

Die appellant is 'n bendelid en 'n bullebak. Toe die oorledene en sy twee metgeselle saam met hom in die sel toegesluit is, het hy hulle intimideer en hulle as onderdane behandel.

15

Die appellant het geensins impulsief opgetree nie. Soos reeds genoem, het hy vooraf sy voornemens bekend gestel en toe die daad by die woord gevoeg. Na pleging van die moord was sy houding een van verharde voldoening, eerder as enige selfverwyt.

Met die oog op die getuienis in sy geheel, en veral die faktore hierbo genoem, moet aanvaar word dat die moontlikheid van hervorming uiters skraal is; dat die appellant in die toekoms 'n wesenlike gevaar vir die

lewens van andere mag wees; dat die vergeldings - en voorkomingselemente van strafoplegging sterk na vore tree; en dat die doodvonnis bygevolg die enigste gepaste een is.

16 Die appél word van die hand gewys.

KUMLEBEN AR MILNE AR ) HOWIE AR ) STEM SAAM

▲ To the top