S v Yende (222/1992) [1993] ZASCA 86 (28 May 1993)


SAAK NR 222/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

SAMUEL YENDE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF, ARR et VAN COLLER,

Wn AR VERHOOR: 24 Mei 1993 GELEWER: 28 Mei 1993

2

UITSPRAAK

Die appellant is in 'n streekhof skuldig bevind aan strafbare manslag en gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf. Op appél het die Transvaalse Provinsiale Afdeling (J J Strydom en McCreath RR) die skuldigbevinding en vonnis bekragtig. Met die nodige verlof kom die appellant nou in hoër beroep na hierdie hof.

Die feite is kortliks soos volg. Die appellant is 'n 55 jarige hoofman en woon op 'n stat in die distrik Wakkerstroom. Die stat bestaan uit 'n aantal wonings wat aan die appellant behoort. Vroeg in 1990 was daar twee keer brandstigting in die stat. Elke keer is 'n huis met petrolbomme aan die brand gesteek. Die appellant se ondersoeke het aan die lig gebring dat ene Themba Dlamini ("die oorledene") die skuldige was. Die appellant het sy inligting aan die polisie by Dirkiesdorp oorgedra. Daarna was daar blykbaar weer 'n poging tot brandstigting. Die honde het

3

geblaf, en vreemdelinge is naby 'n huis gewaar, maar hulle het weggekom sonder om skade aan te rig. Die polisie op Dirkiesdorp het blykbaar niks uitgerig nie, en die appellant het besluit om die saak by die polisie op Standerton aan te meld. Hy het 'n voertuig gehuur en saam met die eienaar van die voertuig, die appellant se broer, en 'n kind wat op pad winkel toe was, na Standerton gery. Op pad het die kind die oorledene raakgesien. Die motor is tot stilstand gebring, en die oorledene is hardhandig in die motor ingedwing. Die kind is by die winkel afgelaai, en die res van die groep is terug na die stat. Daar is die oorledene uit die motor geneem, kaal uitgetrek en vasgebind. Daar is 'n dispuut in die getuienis oor of hy aan 'n balk vasgemaak is of aan die bakkie, maar dit maak vir die doeleindes van die appèl nie saak nie. Die appellant het 'n sambok geneem en hom 'n loesing gegee. Die oorledene is later aan die gevolge van die loesing oorlede.

Twee nadoodse ondersoeke is op die oorledene uitgevoer, die eerste deur die distriksgeneesheer, dr

4

Veenemans, en die tweede deur dr P Klepp, 'n lektrise in

forensiese patologie aan die Universiteit van die

Witwatersrand. Daar was verskille in die getuienis van die

twee geneeshere. Die verhoorlanddros het dr Klepp se

getuienis aanvaar bo dié ván dr Veenemans, en op appèl voor

ons is hierdie bevinding tereg nie aangeveg nie.

Die oorledene was omtrent 28 jaar oud, was 1,7

meter lank en het ongeveer 56 kilogram geweeg. Dr Klepp het

bevind dat daar minstens 74 verskillende kneusplekke en

skaafplekke op die liggaam van die oorledene was. Die oorsaak

van dood was onderhuidse bloeding. Sy het nie saamgestem met

dr Veenemans dat die dood veroorsaak was deur braking en

daaropvolgende aspirasie van die braaksel nie. Oor die erns

van die aanranding het dr Klepp gesê:

"Well we've mentioned that there were at least 70 blows and there is massive contusion. This was not a light beating of a man. This was an extensive beating to the areas affected. Both thighs, both buttocks and the back of his body were extensively beaten."

Oor die ligging van die beserings, het sy soos volg

5

getuig:

"Was the hiding, the fact that the man was being struck, was it confined to the lower part of the body? .. (a) I mentioned the smaller abrasion up here. But that is not the main impactive injury. The major impact was to man's buttocks. His hip regions on both sides and down the lateral aspects of his legs. On the right side to the knee and on the left side to below the knee. And extensively to the back, the lower back. In other words is primarily to the lower half of his body yes. And to the back side? ..(a) Yes. There are some injuries to the front but they may have been as I indicated to you have been applied from the back with the twisting action to the front of the body."

Waar sy in hierdie passasie praat van 'n "twisting action" verwys sy na getuienis wat sy vroeër gegee het ten effekte dat die aanwesigheid van 74 beserings nie beteken dat daar noodwendig 74 houe met die sambok geslaan was nie. Een sambokhou kan beserings op meer as een plek veroorsaak, byvoorbeeld deur om die lyf te krul.

Dit bring my dan by die appêl teen die skuldigbevinding. Namens die appellant is betoog dat die redelike man nie sou voorsien het dat die loesing wat aan die

6

oorledene toegedien is, sy dood kon veroorsaak nie, en dat

die appellant dus nie nalatig was ten opsigte daarvan nie.

Die hof a quo het hierdie aspek soos volg behandel:

"Dit bring my tot die tweede punt wat behandel moet word en wat eintlik die kern van die appél is, naamlik of die appellant die dood van die oorledene as 'n moontlikheid kon voorsien het.

Volgens die getuienis van die distriksgeneesheer sou 'n leek nie voorsien het dat die oorledene sou vomeer nie en in sy braaksel versmoor nie. Eerstens, indien die bevinding van dr. Klepp aanvaar word, dan is hierdie mening van dr. Veenemans eintlik nie relevant nie, maar al sou dit relevant wees is dit na my mening dit wat 'n medikus sou bevind as gevolg van sy mediese kennis. Dit volg nie omdat die appellant nie voorsien het dat die oorledene sou vomeer nie, dat hy nie die moontlikheid voorsien het dat 'n wrede aanranding op die oorledene sy dood kon veroorsaak nie.

Wat dr. Klepp betref, het sy in die loop van haar getuienis wel gesê dat sy nie weet of 'n leek die saak in dieselfde lig sou sien as wat sy dit sien nie en sy het ook onder andere gesê:

'That is my experience. That is not what I think the general public possibly think.' Dit met die verwysing na of die algemene publiek die moontlikheid sou voorsien het dat die oorledene as gevolg van hierdie aanranding sou sterf.

Dit egter is weer eens na my mening die uitlatings van 'n medikus en is nie die maatstaf waarmee die hof sy bevinding moet maak nie. Dit is vir die hof

7

om te bevind of 'n redelike man in die omstandighede van die appellant die moontlikheid sou voorsien het dat dit wat hy gedoen het wel tot die dood van die oorledene sou kon lei.

Dit bring my by die aantal houe wat die oorledene toegedien is. Die distriksgeneesheer het nie die aantal houe getel nie. Hy het 'n skatting gemaak van nie minder as nege houe nie, maar dit is baie duidelik dat dit doodeenvoudig 'n skatting was en dat dr. Veenemans op sy geheue staatgemaak het.

Die appellant in sy getuienis het gesê dat hy tien of elf houe toegedien het, maar nie meer as dertien nie. Hierteenoor is daar egter dit wat hy in sy verklaring aan die polisie gesê het. Daarin het hy te kenne gegee dat dit meer as twintig houe kon gewees het en dat hy nie meer kan onthou nie.

Dr. Klepp het 74 wonde gevind wat deur 'n sjambok of 'n soortgelyke voorwerp veroorsaak is getel. Klaarblyklik is dit nie die aantal houe wat die oorledene toegedien is nie. Die hale op die linker en regteragterstewe is onafhanklik deur haar in berekening gebring en die kneusings wat deur die voorpunt van die sjambok wat omgebuig het, gemaak is, is ook onafhanklik bereken.

Dit allês in ag genome is dit baie duidelik na my mening dat daar minstens tussen 20 en 30 houe toegedien moes gewees het. Daarbenewens, luidens die getuienis van dr. Klepp, moes dit 'n ernstige aanranding gewees het, moes daar harde houe toegedien gewees het en is dit geensins 'n tugtiging soos aan haar voorgestel nie.

Dit is, soos alreeds deur my gemeld, vir die hof om

8

te bepaal wat redelikerwys voorsienbaar was en of die redelike man in soortgelyke omstandighede dit wel sou voorsien het. Teen die agtergrond van die uitgebreide en oordrewe aanranding wat in die onderhawige geval geskied het, kan daar nie na my mening gesê word dat die verhoorhof enigsins fouteer het deur te bevind dat die appellant nalatig was en dat 'n redelike man in sy posisie die intrede van die dood sou moes voorsien het nie.

Na my mening dus het die verhoorhof korrek bevind dat die appellant hom aan strafbare manslag skuldig gemaak het ..."

Ek stem ten volle saam met hierdie uiteensetting,

en wil net een punt byvoeg. Dit gaan om die voorsienbaarheid

van die dood. Die appellant het getuig dat hy die oorledene

net ongeveer 10 houe toegedien het. Na aanleiding daarvan het

hy gesê dat hy nie geweet het dat 'n persoon van 10 houe kan

doodgaan nie. Hierop volg die volgende passasie:

"Meneer wat sou u sê, kan 'n persoon doodgaan as u hom 30 houe slaan? .. (a) Ja hy kan doodgaan."

Hierdie getuienis staaf die gevolgtrekking dat

mense in die appellant se posisie wel behoort te besef het

dat 'n uitgebreide aanranding van hierdie aard die oorledene

9

se dood sou kon veroorsaak.

Weens die voorgaande meen ek dat die appèl teen die skuldigbevinding afgewys moet word.

Dit bring my dan by die vonnis. Namens die appellant is betoog dat die verhoorlanddros 'n mistasting begaan het deurdat hy onder die indruk was dat die appellant 74 houe toegedien het, terwyl die werklike getal moontlik die helfte daarvan of minder was. Met ander woorde, die landdros het blykbaar die getuienis van dr Klepp oor die hoof gesien dat 'n enkele hou meer as een besering kon veroorsaak het. Dat die verhoorlanddros inderdaad onder 'n wanindruk hieromtreht was, blyk duidelik uit verskillende dele van die oorkonde; maar veral uit sy aanvullende redes vir vonnis. Daarin meld hy op twee plekke dat die appellant die oorledene "74 houe met 'n sambok" toegedien het. Hierdie wanindruk is na my mening 'n wesentlike mistasting. 'n Pak slae van 74 houe is aansienlik ernstiger as een van tussen 20 en 30, wat die syfer is wat die hof a quo aan die hand gedoen het as 'n

10

aanvaarbare minimum. Ek meen dus dat ons geregtig is om in te gryp en 'n vonnis op te lê wat ons as gepas beskou.

Selfs met inagneming daarvan dat daar miskien so min as 20 tot 30 houe toegedien is, was dit steeds 'n wrede en genadelose aanranding op 'n weerlose man wat nakend en vasgebind was. As die appellant geregtigheid wou laat geskied met betrekking tot die brandstigting, kon hy eenvoudig sy reis na Standerton voortgesit het en die oorledene daar aan die polisie oorhandig het. Dit is duidelik dat die appellant wou wraak neem. Eienaardig genpeg ontken die appellant dat hy die oorledene wou straf vir die brandstigting. Wat hom woedend gemaak het, sê die appellant, was dat die oorledene erken het dat hy die brandstigting gepleeg het, maar nie wou erken dat die rede hiervoor was dat die appellant 'n lid van Inkatha was nie. Die oorledene het volgehou dat hy dit gedoen het omdat een van die appellant se vrouens in 1986 teen hom getuig het. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat die aanranding sy oorsprong gehad het in die brandstigting, en op

11

die getuienis moet ons aanvaar dat die appellant redelikerwyse vir die oorledene daarvoor aanspreeklik gehou het.

Die appellant se persoonlike omstandighede is dat hy, soos reeds gemeld, ten tyde van die verhoor 55 jaar oud was. Hy is 'n man van aansien in die samelewing. Hy het een onbenullige vorige veroordeling en kan vir alle praktiese doeleindes as 'n eerste oortreder beskou word. Hy is 'n suikersiektelyer.

Die erns van die aanranding, en die feit dat dit die oorledene se lewe gekos het, meen ek, maak die oplegging van gevangenisstraf onafwendbaar. Aan die ander kant is 'n tydperk van 3 jaar, gesien die appellant se persoonlike omstandighede, m i te lank. Ek meen dat dit verminder moet word na twee jaar.

Die appèl teen die skuldigbevinding word afgewys. Die appèl teen die vonnis slaag. Die vonnis wat deur die verhoorlanddros opgelê is, word ter syde gestel en vervang

12

met gevangenisstraf van twee jaar.

E M GROSSKOPF, AR

F H GROSSKOPF, AR VAN COLLER, Wn AR Stem saam

▲ To the top