S v Mahakoe (653/1992) [1993] ZASCA 99 (24 August 1993)


LL Saak No 653/1992

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING

Insake die appél van:

GABRIEL MAHAKOE Appellant

teen

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, VIVIER en KUMLEBEN ARR

VERHOORDATUM: 16 AUGUSTUS 1993 LEWERINGSDATUM: 24 AUGUSTUS 1993

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2

Wyle mnr en mev Engelbrecht (hierna onder-skeidelik die eerste en tweede oorledene genoem) was op die plaas Grootstry naby Verkeerdevlei woonagtig. Op Sondagoggend, 22 Desember 1991, het hulle per motor vanaf die plaas vertrek en in die rigting van Kimberley gereis. Volgens 'n voorafgaande afspraak het hulle hul skoonseun en sy familie naastenby halfpad tussen Dealesville en Boshoff ontmoet. Hierna het hulle na die plaas teruggekeer. By hulle in die motor ("die Cressida") was toe hul dogter, wyle mev Smit ("die derde oorledene"), en hul klein-dogters, Michelle en Liselle Smit. Na wyle Michelle Smit word voortaan as die vierde oorledene verwys.

Kort voor 12 nm die Sondag het die vyftal die plaashuis bereik. In die bak van die Cressida was drie tasse klere en 'n aantal toegedraaide Kers-geskenke. Van die insittendes het een tas en moontlik ook die geskenke, of sommige daarvan, die

3

huis ingeneem. Liselle het by die Cressida agter-gebly en die laaste twee tasse uit die bak gehaal. Sy hoor toe iemand in die huis vra: "Was hier dan 'n inbreker?" Sy hardloop die huis binne waarop al vyf na die hoofslaapkamer gaan. Kort hierna sien sy ' n swart man die kamer binnekom. Ek keer later terug na die daaropvolgende gebeure. Op hierdie stadium meld ek slegs dat die man binne 'n kort tydsbestek die vier oorledenes met 'n geweer doodgeskiet en Lizelle met die kolf daarvan teen haar kop geslaan het. As gevolg daarvan het sy haar bewussyn verloor.

Die appellant het vanaf einde November of begin Desember 1991 vir 'n tydperk van ongeveer drie weke in diens van die eerste oorledene op die plaas gewerk. Die Maandag voor die noodlottige Sondag is die appellant saam met die eerste oorledene van die plaas weg. Aan die senior plaaswerker het hy gesê dat hy sy messelgereedskap in Excelsior sou gaan

4 haal. Eersgenoemde het hom egter nie weer gesien nie.

Omstreeks 18.40 op dieselfde Sondag het kaptein Van der Westhuizen die Cressida in 'n nywer-heidsgebied van Bloemfontein opgespoor. Die registrasieplate daarvan was binne die voertuig. Hoewel die masjien geluier het, was daar niemand in die Cressida nie. Die appellant is egter naby die voertuig aangetref. Van der Westhuizen het hom gevra wie se voertuig die Cressida was, waarop hy gesê het dat 'n blanke man by name Dawie dit aan hom gegee het om herstelwerk daaraan te verrig.

Speurder adjudant-offisier Pietersen het later by die Cressida opgedaag. Toe hy die appellant meedeel dat die voertuig op Grootstry gesteel was, het die appellant ontken dat hy daarby betrokke was, en herhaal dat hy die Cressida by Dawie gekry het.

In die bak van die Cressida het Pietersen

5 drie reistasse en 'n aantal toegedraaide Kersgeskenke gevind. Dit ly geen twyfel nie dat die tasse, hul inhoud en die geskenke na die moorde van Grootstry verwyder was. Die appellant het egter aan Pietersen gesê dat die een tas en die inhoud daarvan sy eiendom was. Wat die ander voorwerpe in die bak betref, was die appellant se houding dat navraag by Dawie gedoen moes word.

Voortspruitend uit bostaande het die appel-lant in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling tereggestaan op vier aanklagte van moord en op verdere aanklagte van poging tot moord (ten opsigte van die aanranding op Liselle) en roof. By die aanvang van die verhoor voor Kotze R en assessore was die appellant bygestaan deur 'n pro deo advokaat wat aan die hof verduidelik het dat die appellant weier om deur 'n ander regter as 'n swart een verhoor te word. Nadat Kotze R tereg beslis het dat die verhoor

6 voor hom en sy assessore moes voortgaan, het die appellant geweier om te pleit; om van die dienste van die pro deo advokaat gebruik te maak, en om enigsins aan die verrigtinge deel te neem. Die gevolge was dat 'n pleit van onskuldig aangeteken is en dat geen vrae aan enige van die Staatsgetuies gestel is nie. Nodeloos om te sê, is ook geen getuienis deur of ten behoewe van die appellant gelei nie.

Die appellant is op aanklagte 1 tot 4 en 5 skuldig bevind aan moord op die vier oorledenes en poging tot moord op Liselle. Op die sesde aanklag is hy skuldig bevind aan diefstal van die Cressida, 'n radio (wat aan die eerste of tweede oorledene behoort het), 'n reistas, 'n flitslig en 'n aantal kledingstukke. Die enigste getuienis wat hierna ter versagting gelei is, was dié van 'n kliniese siel-kundige, prof Mokhuane. Die appellant is egter op

7 elk van die vier moordklagtes die doodvonnis opgelê.

Die onderhawige appèl is gerig teen die skuldigbevindings op die eerste vyf aanklagte asook teen die doodvonnise. Ten einde die betoë betref-fende die skuldigbevindings te begryp, moet eers verwys word na die ondervraging van die beskuldigde toe hy op 27 Desember 1991 in die landdroshof vir die distrik van Brandfort verskyn het; skuldig gepleit het op dieselfde aanklagte as dié waarop hy later verhoor is, en deur die landdros ingevolge art 121 van die Strafproseswet (51 van 1977) ondervra is. Tydens die ondervraging het hy ondubbelsinniglik erken dat hy die betrokke Sondag die huis op Groot-stry ingegaan en later op vyf persone in 'n kamer in die huis geskiet het. Hy het ook gesê dat hy die skote gevuur het uit 'n vuurwapen wat hy in die huis gevind het, en dat hy 'n vroulike persoon met die kolf daarvan teen haar kop geslaan het omdat hy.

8 gemeen het dat sy nie dood was nie. Ten slotte het hy erken dat hy die Cressida vanaf Grootstry na Bloemfontein bestuur het.

Die appellant het sy optrede op 'n ietwat makabere wyse gemotiveer. Hy het gesê dat hy "apartheid" doodgemaak het en bygevoeg: "Ek wou die hand afgekap het maar het net daarin geslaag om die vingerpunte af te kap". Hy het ook gesê: "Ek het begin skiet, het gesê ek skiet nie vir jou nie, ek skiet die naam hond, bobbejaan, dit is soos ons [klaarblyklik swartes] genoem word".

In eerste instansie is betoog dat die oorkonde van die ondervraging, wat by die verhoor ingehandig is, nie 'n gebrek aan wederregtelikheids-bewussyn uitsluit nie. Hierdie betoog is sonder pit. Wat sy motivering ook al mag gewees het, blyk dit duidelik dat die appellant onder andere die oor-ledenes opsetlik geskiet,het- ook in die sin dat hy

9 geweet het dat dit regtens ongeoorloof was om sulks te doen. In elk geval is die vraag nie of die onder-vraging in sigself die skuld van die appellant bewys nie, maar wel of dit blyk uit die getuienis (insluit-ende bogenoemde oorkonde) wat voor die verhoorhof geplaas is. En indien gelet word op die getuienis van Liselle, wat later vermeld word, en die appellant se optrede na sy geweldpleging, ly dit geen twyfel nie dat hy deurgaans opsetlik opgetree het.

Die appellant se advokaat het ook betoog dat die verhoorhof teveel gewig aan die oorkonde van die art 121 ondervraging geheg het, en nie ag geslaan het nie op verskille tussen die appellant se ant-woorde en getuienis wat by die verhoor gelei is. Aansluitend hierby is aangevoer dat die appellant se besit van die Cressida nie noodwendig aantoon dat hy die geweldenaar was nie. Ook hierdie betoog is — — sonder pit. Die appellant was nie net in besit van

10 die Cressida nie, maar ook van artikels wat deur die aanvaller vanaf Grootstry verwyder was, en wat die appellant valslik teenoor Pietersen as sy eiendom bestempel het. Wat die aangevoerde verskille betref, hoef ek slegs te sê dat selfs indien die ingehandigde oorkonde buite rekening gelaat word, die getuienis onteenseglik aantoon dat die appellant die geweldenaar was.

Ek kom dan by die doodvonnise. In eerste instansie is betoog dat vanweë die bepalings van art 112(1)(b) van die Strafproseswet die verhoorregter nie by magte was om bedoelde vonnisse op te lê nie. Die subartikel kom egter nie ter sprake nie vir die eenvoudige rede dat die verhoorregter 'n pleit van onskuldig aangeteken het. Bowendien moet by her-haling beklemtoon word dat selfs indien die appellant se pleit in die landdroshof en die daaropvolgende ondervraging weggedink word, sy skuld ten opsigte van

11

die moordaanklagte afdoende in die verhoorhof bewys is.

In tweede instansie is aangevoer dat die doodvonnise nie die enigste gepaste vonnisse was nie. Die verhoorhof het bevind, en die appellant se advokaat het tereg toegegee, dat daar wel erge verswarende omstandighede was. In eerste instansie val die kollig op die omstandighede waaronder en die wyse waarop die appellant opgetree het. Die eerste en tweede oorledenes was onderskeidelik 71 en 68 jaar oud. Daarteenoor was die vierde oorledene en Liselle jong tienderjariges - eersgenoemde was inderdaad slegs elf. Die derde oorledene, hoewel nog in die fleur van haar lewe, was ook 'n vroulike persoon. Toe die gewapende appellant die slaapkamer binnekom, was die vyftal weerloos teenoor hom. Wat toe gebeur het, blyk uit die volgende opsomming van Liselle se getuienis.

12 Net nadat sy die appellant sien, klap 'n skoot. Die eerste oorledene val daarop tussen die bed en 'n hangkas neer. Sy gryp die vierde oorledene en klim saam met haar in 'n hangkas. Die kasdeur kan nie dig toe trek nie en die vierde oorledene raak histeries. Sy hoor haar ma (die derde oorledene) om genade smeek. Daar klap verdere skote. Haar ma sê dat die appellant die motorsleutels en enigiets in die huis kan neem; "ons" sal niks doen nie. Sy reaksie is dat sy haar handsak moet los. Haar ma smeek dat hy nie moet skiet nie, en sê dat sy klein kindertjies het. Die appellant maak die kasdeur oop en beveel haar ma om voor haar en haar sustertjie te staan. Sy doen dit waarna hy met die geweer peuter. 'n Skoot klap en haar ma val vorentoe. Sy en haar suster huil histeries en smeek dat die appellant hulle nie moet skiet nie. Hy peuter egter weer met die geweeren nog 'n skoot klap. Sy en haar suster-

13 tjie val vorentoe en net daarna verloor sy haar bewussyn.

Dit is duidelik dat die laaste of tweede laaste skoot die derde oorledene getref het en dat Liselle haar bewussyn verloor het omdat die appellant haar met die geweerkolf teen haar kop geslaan het. Op daardie stadium het hy nie meer ammunisie vir die geweer gehad nie.

Volgens mediese getuienis het die appellant hom ook aan andersoortige geweldsuitoefening skuldig gemaak. Die tweede oorledene het naamlik 'n lewer-ruptuur ondervind. Dit was die gevolg van die toediening van 'n groot mate van stpmpgeweld oor haar buik. En in die geval van die derde oorledene is 'n redelik diep drukking by wyse van wurgaksie op haar nekstrukture toegepas.

Bostaande spreek so duidelik vir sigself dat enige uitligting van die wreedaardige en gevoel-

14 lose optrede van die appellant totaal oorbodig is.

Die verhoorhof het slegs die volgende drie versagtende omstandighede bevind: dat die appellant emosioneel onvolwasse is, soos veral geblyk het uit sy optrede tydens die verhoor; dat hy 'n moeilike en ongelukkige jeug gehad het waartydens 'n wrok teen bevoorregte blankes kon ontkiem het, en dat die inname van alkohol moontlik 'n rol gespeel het by die neem van die besluit om sy slagoffers uit te wis.

Wat laasgenoemde omstandigheid betref, is daar na die slagting leë bierblikkies in die plaas-huis gevind. Dit is waarskynlik dat die appellant die inhoud daarvan gedrink het alvorens die vyftal op die plaas opgedaag het. Daar is egter niks wat daarop dui dat hierdie inname van alkohol die appel-lant enigsins beïnvloed het nie. Ek kan dus nie as 'n redelike moontlikheid aanvaar dat dit 'n rol by die geweldsorgie gespeel het nie.

15

In die verhoorhof, en ook weer in hierdie

hof, is betoog dat verdere versagting aanwesig was

omdat die appellant die moorde met 'n sogenaamde

politieke motief gepleeg het. Na my mening is hier-

die betoog tereg deur die verhoorhof verwerp.

Op grond van wat die appellant in die

landdroshof gesê het, en wat hy aan haar oorgedra

het, het prof Mokhuane in eerste instansie getuig dat

die appellant deur die jare 'n intense wrok teen die

stelsel van apartheid, en teen blankes as verpersoon-

liking daarvan, ontwikkel het. Haar konklusie was

dus dat die appellant "killed as a result of his

intense dislike of apartheid". In haar verslag, wat

by die verhoor ingehandig is, kom egter ook die

volgende inkongruente passasie voor:

"[Die appellant] did not intend to kill the Engelbrechts but was merely defending himself against a possible threat - death. The taking out of the guns by Mrs

Engelbrecht [klaarblyklik moet dit die

derde oorledene wees] from her bag

16 confirmed our client's suspicions." Toe sy getuig het, is prof Mokhuane uitge-vra oor hierdie passasie. Dit het geblyk dat sy die appellant verwys het na Liselle se getuienis aan-gaande haar ma se handsak, en dat die appellant toe vir die professor gesê het dat hy geskiet het omdat hy gemeen het dat daar 'n vuurwapen in die handsak was. In die lig hiervan was haar uiteindelike kon-klusie dat die moorde gepleeg is weens 'n kombinasie van die appellant se wrok teen apartheid en sy vrees vir sy eie lewe.

Die verhoorhof het tereg daarop gewys dat die beweerde vreesmotief 'n verdigsel was omdat die appellant reeds voor die handsak-voorval die eerste en tweede oorledenes geskiet het. Die gewaande motief kan ook nie 'n verklaring bied vir die skiet van die derde oorledene toe sy, sonder haar handsak, voor die kas gestaan het nie, en ook nie vir die

17 daaropvolgende geweldstoediening op die twee jong dogters nie.

Afgesien van die feit dat prof Mokhuane se getuienis oor die appellant se mededelings aan haar op hoorsê berus, plaas bogenoemde versinsel in sig-self 'n groot vraagteken agter die beweerde wrok-motief. Hierdie vraagteken neem 'n yslike dimensie aan wanneer op 'n aantal ander faktore gelet word.

Wat vasstaan, is dat die appellant nie die betrokke Sondag die plaashuis binnegegaan het om sy gewaande wrok te bevredig nie. Eerstens was hy nie gewapen nie en kon hy nie weet dat hy in die huis die eerste oorledene se geweer sou vind nie. Tweedens kon hy ook nie weet of die eerste en tweede oorledene nog dieselfde dag na die plaas sou terugkeer nie.

Die verhoorhof het tereg klem gelê op die
appellant se vorige veroordelings ten einde te bepaal
wat die appellant se ware beweegredes was. Sy

18 misdaadloopbaan strek terug tot sover as 1964 toe hy nog slegs veertien jaar oud was en aan diefstal van horlosies skuldig bevind is. Hierna is hy van tyd tot tyd aan 'n reeks oneerlikheidsmisdade skuldig bevind. Ek meld slegs dat in 1970, 1972, 1982 (ten opsigte van twee klagtes) en weer in 1988 huisbraak by die misdrywe betrokke was. En op twee geleent-hede, een tydens 'n inbraak, het hy 'n vuurwapen gesteel. Deur die jare heen het hy dan ook op sewe geleenthede tydperke van tronkstraf uitgedien.

In die lig van die appellant se misdaads-geskiedenis, en van wat reeds voorheen gesê is, is die enigste redelike afleiding dat hy die huis met slegs een doel binnegegaan het, nl om te steel. Toe die vyftal by die huis opdaag, het hy 'n keuse gehad; hy kon poog om te ontvlug sonder die buit wat hy reeds bymekaar gemaak het, of hy kon hulle kon-fronteer. En indien hy laasgenoemde sou doen, sou hy

19 ten minste die eerste en tweede oorledenes - aan wie hy bekend was - moes uitwis. Ek stem dus saam met die verhoorhof dat toe die appellant tot geweld oorgegaan het, sy vernaamste motief die uitwissing van moontlike getuies was. Dit mag wees dat die appellant 'n wrok teen blankes gekoester het en dat sy haat dit vir hom makliker gemaak het om die uitwissingsbesluit te neem, maar in die lig van sy oorheersende motief kan dit nie as 'n noemenswaardige versagtende faktor beskou word nie.

Selfs sonder inagneming van getuienis oor die skrikwekkende toename in aanvalle op veral bejaardes in Bloemfontein en sy omstreke, gaan ek gevolglik akkoord met die siening van die verhoor-regter dat die doodvonnise die enigste gepaste vonnisse is. Ek sê dit omdat die verswarende faktore die enkele versagtende omstandighede so totaal oor-skadu dat die strafdoeleindes -van afskrikking en

20 vergelding luidkeels om erkenning roep. Die appèl word afgewys.

H J O VAN HEERDEN AR

VIVIER AR

STEM SAAM KUMLEBEN AR

▲ To the top