Ongevallekommissaris v Olivier (317/1994) [1995] ZASCA 116 (26 September 1995)


CG SAAKNOMMER: 317/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak van:

ONGEVALLEKOMMISSARIS Appellant

en

ISABELLA ANNA OLIVIER Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER, VAN DEN HEEVER, HARMS et OLIVIER ARR AANGEHOOR: 21 SEPTEMBER 1995 GELEWER: 26 SEPTEMBER 1995

UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR

2

Die Weermag reël selfs sy amptelike sosiale aangeleenthede militêr-presies. Aan die begin van elke jaar word jaarbeplanners opgestel en aan eenhede uitgereik wat lede inlig "met betrekking tot aktiwiteite waar bywoning vereis word". Onder toepaslike kolom-kopskrifte van "datum, "aktiwiteit" en "lede betrokke" het die jaarbeplanner uitgereik deur die bevelvoerder van die Kommandement Oostelike Provinsie vir 1989, voorgeskryf dat 8 Desember geoormerk is vir die Kersfeesboomfunksie wat bygewoon moes word deur "Kersfeesboom-komitee en -lede".

Stafsersant Olivier, assistent-betaalmeesterby die Kommandement, was dié oggend sedert 7h45 soos gewoonlik aan diens. Met toestemming van haar bevelvoerder is sy om 10h00 na haar huis toe om haar kinders te gaan haal vir hierdie amptelike jaareind-funksie. Op pad terug het 'n minibus haar verbygery en voor haar ingesny om 'n afrit te neem. Toe sy rem het haar voertuig gegly. Sy het beheer verloor, teen 'n boom gebots, en is so ernstig beseer dat sy na 'n lang verblyf in die hospitaal

3

en etlike operasies nooit so ver herstel het dat sy weer haar werk kon voltyds hervat nie. Sy is mettertyd op pensioen geplaas.

Die Ongevallekommissaris het beslis dat sy nie geregtig is op voordele ingevolge die Ongevallewet nr 30 van 1941 ("die Wet") nie. Haar beswaar ingevolge a 25 teen hierdie beslissing is na aanhoor van getuienis, van die hand gewys. Geen kostebevel is gemaak nie. Op appèl ingevolge a 25(7)(b)(l) van die Wet na die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof, is haar beswaar met koste gehandhaaf en die saak na die Ongevallekommissaris terugverwys om die bedrag van die vergoeding waarop sy geregtig sou wees, te bepaal. Verlof is egter verleen dat hy in hoër beroep na hierdie hof kom ten aansien daarvan of sy vir vergoeding kwalifiseer aldan nie.

Die feite is nie in gedrang nie, slegs of daardie feite die insident waarin hierdie "werksman" so erg beseer is, bring binne die kader van ongevalle wat uit haar diens en in die loop daarvan plaasgevind het.

Die feite kan so opgesom word:

4

Die Weermag se siening was dat sy beseer is aan diens: sy was "op pad

om 'n amptelike georganiseerde funksie by te woon".

Lede was verplig om maandeliks 'n minimum van R5 per kind by te dra

tot die Regimentsfonds (wat dan rand vir rand voorsien het) vir geskenke,

vir hierdie Kersfunksie.

Die Weermag probeer om die hele gesin van Staandemaglede te betrek

by sekere eenheids-aktiwiteite, ter wille van moraal-bou.

Daar kon dissiplinêr uit hoofde van artikel 14 van die Reglement van

Dissipline (wat voorsiening maak ten opsigte van "afwesig van 'n plek

van parade") teen stafsersant Olivier opgetree gewees het indien sy dit

nie bygewoon het nie; hoewel daar natuurlik nie opgetree kon gewees

het direk teen kinders wat die funksie nie bygewoon het nie, of teen haar

sou die kinders nie opdaag nie.

Die funksie is altyd gereël om in werkstyd plaas te vind "aangesien dit

nie paslik is om (dit) na ure vir die kinders aan te bied nie"; en ouers

moes daar wees om beheer oor hul kleingoed uit te oefen.

5

Ouers is dan ook toestemming verleen om hul kinders betyds in die loop

van die dag te gaan haal.

Hoewel daar 'n militêre voertuig aan haar toegesê is vir gebruik in die

vervulling van haar pligte, was daar 'n tekort aan sulke voertuie en moes

sy dit met drie ander seksies deel. Die gevolg was dat sy dikwels haar

privaat voertuig gebruik het om byvoorbeeld na die bank te gaan. Sy het

hierdie dag ook met haar privaat voertuig gery om haar kinders te gaan

haal.

Die gronde waarop die Ongevallekommissaris en sy assessore

bevind het dat die voorval waarin respondent beseer is nie voldoen aan

die beskrywing van 'n "ongeval" soos gedefinieer in a 2 van die Wet nie,

het hy as volg gelys:

"1. Ten tyde van die ongeluk was sy, met haar werkgewer se toestemming, met 'n vrywillige aksie (wat nie met haar diens verband gehou het nie) besig.

  1. Haar werkgewer kon nie aan haar opdrag gegee het om die kinders te gaan haal nie.

  2. Dáar is slegs deur haar werkgewer van haar verwag om die kinders by die kersboomfunksie teenwoordig

6

te hê, aangesien sy nie vooraf vir hulle afwesigheid verskoning gemaak het nie."

Die Weermag se houding blyk uit die getuienis van Adjudant-

Offisier von Brakel - in taal die betekenis waarvan duidelik is hoewel die

formulering dalk nie akademies is nie. "Toestemming" hou blykbaar

heelwat druk in:

"Die kind is 'n deel van die Kersfees funksie, die kind is 'n deel van die reglementfonds, waar ook die weermag - die motivering, wat is dit? - die motiveringsbeleid van die soldaat self, dit is deel van die motiveringsplanne van die soldaat self, dat die kind en die vrou by weermagaangeleenthede betrokke gewees het en dit word verwag van 'n weermaglid om sy kind daar te kry."

(Cf Western Platinum Limited v Santam Insurance Ltd 1994 (1) SA 480 (W) 485D-488A en veral 487 I.) Sersant Olivier het haar die oggend aangemeld vir diens, die funksie was gedurende werksure en bywoning daarvan was vir haar verpligtend. Dat dit inhou dat sy haar kinders sou gaan haal, was vir hom 'n vanselfsprekende insident van die nakom van daardie plig.

7

Ek meen dat hy - en die hof a quo - hierin gelyk gegee moet word. Die jaarlikse funksie is juis primêr gerig op kinders, nie volwassenes nie. Geskenke by die kersboom is vir kinders, nie volwassenes nie. Dat die funksie verpligtend is vir volwassenes, nie vir hul kinders nie, is onvermydelik. Die enigste praktiese manier waarop die weermag kan verseker dat gesinne, wat die teiken van die moraalbou-oefening is, die funksie bywoon, (dus dat weermagkinders tesame met hul weermagouers die funksie bywoon) is juis om dit verpligtend te maak vir die ouer(s) wat lede is van die weermag en bydra tot die weermagfonds wat op sy beurt bydra tot hul kinders se kersboomgeskenke, om die funksie by te woon. Waar albei ouers, soos in hierdie geval, lede van die weermag was; daar geen voorsiening gemaak is daarvoor nie dat kinders vroeg-oggend saam met Ma of Pa kan werk toe kom en op weermagperseel versorg word en nie lastig wees nie totdat Vader Krismis opdaag; die funksie gereël is om gedurende werksure plaas te vind omdat kleuters deel van die primêre trekpleister

8

is om die gesin daar te kry, en normaalweg na werksure belangrike dinge het om te doen, soos eet en gebad word en gaan slaap; is dit voor die hand liggend dat dit noodsaaklik is, nie slegs wenslik nie, dat kinders op een of ander wyse van die huis na die funksie sou moes kom. Sonder kinders sou hierdie jaarlikse funksie nooit beplan of gehou word nie en derhalwe hierdie besondere moraalbou-oefening deur die weermag nooit ingestel gewees het nie. Volgens die onweerlegde getuienis van A/O von Brakel was sersant Olivier se optrede om haar kinders te gaan haal dus minstens 'n daad waardeur sy "vir die doeleindes van en in verband met (haar) werkgewer se besigheid ... gehandel het" - (A 27(2)) - sodat geag word dat haar ongeluk plaasgevind het beide uit en in die loop van haar diens.

Soos dié sub-artikel reeds toon, sprei die vlerke van die statuut wyd. As verdere voorbeelde - ten aansien van lede van die Staande Mag, word juis diegene wat nie militêr aangewend word nie, regte in terme daarvan gegun (a 3(2)(a)(ii); so ook persone wat in terme van die

9

gemenereg geen reg op vergoeding as afhanklike sou gehad het nie (a 4(l)(b) en (f)). Vergoeding is betaalbaar in sekere gevalle selfs al was die werkman se besering veroorsaak deur sy eie growwe nalatigheid (A 27(l)(b)). Daar is geen rede nie waarom die statuut eng uitgelê behoort te word of om te verskil van die gemotiveerde mening van die hof a quo dat vanweë die bepalings van a 27(2), die Ongevallekommissaris fouteer het om respondent se beswaar af te wys. Bowendien het die insident na my mening in elk geval gekwalifiseer as 'n ongeval wat per se gespruit het uit haar diens en in die loop daarvan. Was sy nie lid van die weermag nie sou sy nie verplig gewees het nie om die kersfunksie by te woon waar verwag is dat haar kinders ook moet wees. Was sy nie die oggend aan diens gewees nie sou dit nie nodig gewees het dat sy hulle gaan haal nie.

Die advokate was dit eens dat die hof a quo waarskynlik die Ongevallekommissaris se kostebevel - of gebrek daaraan - oor die hoof gesien het, (vermoedelik omdat die saak na hom terugverwys is om

10

quantum te bepaal) en dat dit wenslik is dat daar dáároor sekerheid is sou die appèl van die hand gewys word.

Die appèl word van die hand gewys, met koste. Appellant moet die respondent se koste van die verrigtinge tot dusver voor die Ongevallekommissaris ook betaal.

L VAN DEN HEEVER AR STEM SAAM:

E M GROSSKOPF AR) VIVIER AR) HARMS AR) OLIVIER AR)

▲ To the top