S v Mthethwa (302/1994) [1995] ZASCA 120 (28 September 1995)


Saaknr 302/1994

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

LINDIWE ELIZABETH MTHETHWA APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: JOUBERT, STEYN et F H GROSSKOPF, ARR VERHOOR: 18 Augustus 1995 GELEWER : 28 September 1995

UITSPRAAK

STEYN, AR

2

STEYN. AR :

Appellant is op 23 Maart 1993 in die streekhof skuldig

bevind aan besit van 'n AK 47 masjiengeweer en 29 patrone

daarvoor, ter oortreding onderskeidelik van artikels 32(l)(a) en

32(l)(e) van Wet 75 van 1969 ("die Wet"). Sy is gevonnis tot 6

jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar voorwaardelik vir 5 jaar

opgeskort is. Sy het teen haar skuldigbevinding en vonnis

geappelleer na die Transvaalse Provinsiale Afdeling wat op 23

Augustus 1993 haar appél teen haar skuldigbevindingvan die hand

gewys het maar die vonnis verminder het na 4 jaar gevangenisstraf

waarvan 2 jaar voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort is. Die

opskortingsvoorwaardes in albei gevalle was dat appellant nie

gedurende die íydperk van opskorting 'n oortreding pleeg van

artikels 32(2) en 36 van die Wet nie. Daardie voorwaardes is

klaarblyklik verkeerd. Artikel 32(2), wat handel met die permit

genoem in art 31(1), het niks met die onderhawige oortredings te

3

make nie.

Die Transvaalse Provinsiale Afdeling het op 29 November 1993 verlof aan appellant verleen om na hierdie Hof te appelleer teen haar skuldigbevinding en verminderde vonnis.

Die onbetwiste en erkende feite is die volgende:

Om ongeveer 21.00 op Maandagaand, 7 Desember 1992, het sersant Joubert Nyakane ("Nyakane") en konst Ntjali, albei van die Suid-Afrikaanse Polisie, Benoni, by perseel 80 in die Emma Popeni plakkerskamp, Daveyton, aangekom. Saam met hulle was 'n beriggewer en nog 'n persoon wat die beriggewer vergesel het. Nyakane was op soek na 'n AK 47 vuurwapen wat volgens die beriggewer daar was. Op die perseel was daar twee pondokke, "Zozos" in die omgangstaal van die plakkerskamp. (So'n pondok sal o.a. na verwys word as 'n "Zozo".) Een was toe

4

bewoon deur die okkupeerder van die perseel, John Ngoma, en sy vrou, appellant se suster. Hul Zozo was bekend as die "Hoofhuis". Die ander Zozo was bewoon deur appellant en haar twee jong kinders van 10 en 11 jaar. Hulle het toe reeds vir drie maande daar gewoon en het van Kwa Thema afgekom. Appellant se mansvriend, ene Dumezweni Dlamini, het haar gereeld in haar Zozo kom besoek. Hy was 'n huurmotorbestuurder wat soms lang ritte onderneem het en juis op Vrydag 4 Desember 1992 Natal toe vertrek het.

Appellant se Zozo is met 'n gordyn in twee vertrekke verdeel. Die een vertrek was gebruik as kombuis en eetkamer en die ander as slaapkamer. Daarin was 'n bed wat bestaan het uit 'n matras op 'n onderstel met kort pote, 50-75 mm (2-3 duim) lank.

5

Met hul aankoms daar het die beriggewer appellant se Zozo aan Nyakane uitgewys as die een waarin die vuurwapen versteek sou wees. Appellant was egter toe nie tuis nie en haar Zozo was gesluit. Nyakane het hom toe na die ander pondok gewend. Wat daarna gebeur het is in geskil.

Nyakane, wat die enigste staatsgetuie was oor die gebeure in die plakkerskamp daardie aand, se weergawe was soos volg: hy het Ngoma en sy vrou daar aangetref en vir Ngoma gevra wie in die ander Zozo op die perseel bly. Dié het geantwoord dat "die vrou wat daar woonagtig is, uit is." Op daardie tydstip het appellant daar aangekom. Nyakane het haar gevra of hy haar plek kan visenteer want hy is op soek na 'n vuurwapen. Appellant het geantwoord dat sy nie daar bly nie en het gesê dat sy met haar

6

kinders pas van Kwa Thema daar aangekom het. Nyakane het Ngoma geroep en hom gevra wie die eienaar van daardie Zozo was. Ngoma het in appellante se teenwoordigheid gesê dat dit sy was. Appellant het Ngoma se woning toe ingegaan, uitgekom met 'n sleutel en die Zozo oopgesluit. Nyakane, appellant en Ntjali het ingegaan. In appellant se teenwoordigheid het Nyakane die plek deursoek, eers die kombuis, en toe die slaapkamer, waarin hy mans-en vroueklere gevind het. Toe hy appellant vra wie se klere dit is, het sy geantwoord dat sy nie weet nie omdat sy nie daar bly nie, maar in Kwa Thema. Tydens verdere deursoeking van die slaapkamer het Nyakane die bed opgetel en 'n AK 47 masjiengeweer met deels-gelaaide magasyn daaronder gevind. Daar was 28 patrone in die magasyn en een in die kamer van die

7

vuurwapen. Weens die feit dat die spasie tussen die bed se onderstel en die vloer slegs 2 tot 3 duim is, was die vuurwapen en magasyn onsigbaar voordat die bed opgetel was.

Nyakane het appellant oor die vuurwapen en ammunisie uitgevra. Haar antwoord was dat hy "die eienaar van die plek", John Ngoma, daaroor moet vra. Hy het appellant daarna arresteer en John Ngoma oor sy vonds gaan uitvra. Dié het ontken dat hy enigiets weet van die vuurwapen of ammunisie. Nyakane het hom nietemin ook aangehou omdat appellant hom daarby betrek het. Hy het hulle en die vuurwapen met toebehore toe na die aanklagkantoor, blykbaar op Daveyton, geneem,

Appellant en Ngoma is daar aangehou en die volgende dag oorgeplaas na die polisieselle op Benoni. Gedurende

8

Woensdagmiddag, 9 Desember, het sers. W A Joubert ("Joubert") van die Suid-Afrikaanse Polisie, Benoni, die betrokke polisiedossier by die plaaslike polisiestasie nagegaan en gemerk dat daar geen waarskuwingsverklaring deur die appellant daarin was nie. Hy het haar toe laat roep om so'n verklaring van haar af te neem en haar behoorlik gewaarsku. Sy verdere weergawe is dat sy nie 'n verklaring wou maak nie. 'n Ruk daarna het sy egter uit haar eie aan hom gesê dat sy niks van die vuurwapen af weet nie, dat sy nie weet hoe dit onder haar bed gekom het nie maar dat dit haar kêrel se vuurwapen is. Sy het nie sy naam genoem nie maar het gesê dat hy 'n huurmotorbestuurder is wat werk vanaf die huurmotorstaanplek op Springs en dat die kanse goed is dat hy daar gevind sal kan word. Sy was bereidwillig om Joubert soontoe te

9

vergesel vir daardie doel. Ngoma, wat ook by hierdie onderhoud bygebring is, het aan Joubert gesê dat hy weet hoe appellant se kêrel en sy voertuig lyk en dat hy, Ngoma, gewillig was om saam te gaan na Springs op soek na hom. Joubert is toe met hulle twee na die huurmotorstaanplek op Springs maar appellant se kêrel was nie daar nie. Joubert het voorts getuig dat hy en appellant met mekaar op Afrikaans gepraat het, dat hulle mekaar verstaan het, en dat konstabel Ndala wat ook teenwoordig was, daar en dan op sy vraag bevestig het dat appellant hom, Joubert, goed verstaan.

Gedurende kruisverhoor is dit aan Joubert gestel dat appellant ontken dat sy enige herinnering van die gesprek met hom het. Daarna is dit aan hom gestel dat sy "nie 'n behoorlike rekolleksie" van hierdie insident het nie; dit is egter nie gestel

10

watter "rekolleksie" daarvan sy wel het nie.

Die weergawes van appellant en Ngoma, wat ook 'n verdedigingsgetuie was, verskil van dié van die staatsgetuies en ook onderling van mekaar. Haar weergawe is die volgende: sy kom wel van Kwa Thema af maar het reeds 3 maande voor 7 Desember 1992 verhuis na die betrokke Zozo in Emma Popeni, waar sy en haar twee kinders sedertdien gewoon het. Die sleutel vir haar Zozo bêre sy in 'n laai van 'n kas in haar suster se woning op dieselfde perseel. Haar kêrel Dumezweni Dlamini, 'n huurmotor-bestuurder, kuier gereeld een keer per week by haar en was laas daar op Dinsdag 1 Desember 1992. Daar is egter geen van sy klere by haar nie.

Op die aand van 7 Desember 1992 was sy tuis maar het

11 sy op 'n stadium toilet toe gegaan. Op haar pad terug het sy twee polisievoertuie buite haar woning sien staan. Sy is na die "hoofhuis" waar sy vier persone in die woning by haar suster en swaer aangetref het. Dié persone het gesê hulle is polisiemanne. Hulle het Ngoma toe uitgeneem en haar en haar suster in die kombuis agtergelaat. Na 'n rukkie het huile Ngoma teruggebring en Nyakane het haar gevra vir die sleutel van haar woning. Sy het gevra of hulle met "die eienaar van die perseel" gepraat het. Nyakane het bevestigend geantwoord en gesê dat hy, Ngoma, gesê het dat sy die sleutel het. Sy het dit toe afgehaal van die kombuiskas waarop dit gelê het. Nyakane het haar daarna aan haar skouer by die pondok uitgetrek, haar sleutel gevat, vooruit geloop en haar Zozo oopgesluit. Die ander polisiemanne was toe ook

12

daar. Hulle het almal saam met hom ingegaan. Een van hulie het 'n flits gehad. Hulle het gesê hulle soek na 'n vuurwapen. Sy het gesê daar is geen vuurwapen in haar plek nie. Nyakane het by haar gestaan. Die ander het die plek deursoek. Op 'n stadium het Nyakane aan een van hulle gesê om deeglik onder die bed te soek. Sy het nie "die seun" wat dit moes doen dopgehou nie. Sy het trouens met haar rug na die bed gestaan. Sy het gehoor "die seun" sê "ja, hier is dit." Sy het nie gekyk om te sien wat dit was waarna hy verwys het nie, maar Nyakane het. Hy het haar toe gevra "wat is dit hierdie?" Sy het gevra "wat?" Maar hy het nie gesê nie en sy het ook nie gekyk wat dit kon wees nie. Nyakane het haar toe begin slaan. Daarna het "hulle" haar aangesê, om nog 'n ander, kleiner, vuurwapen "uit te haal". Toe sy vra watter een, antwoord

13

"hulle" dat dit die een is waarme Dumezweni Dlamini, 'n "operateur op die lang afstand", die vorige dag (Sondag) op hulle geskiet het daar by haar woning. Sy het vir hulle gesê dat hy nie toe by haar was nie omdat hy soos gewoonlik die Vrydag reeds op 'n rit vertrek het. "Hulle" het geantwoord dat sy lieg, en dat dit Dlamini was wat op hulle geskiet het toe hulle in 'n voertuig was. Sy het dit ontken. Sy het getuig dat sy daardie aand nie geweet het dat dil 'n vuurwapen was wat onder haar bed gevind was nie, dat die polisie dit nie toe aan haar getoon het nie en dat sy hulle nie na Ngoma verwys het nie. Die vuurwapen is eers op Daveyton aan haar getoon en dit was toé eers dat sy besef het wat onder haar bed na bewering gevind sou gewees het. Sy was egter nie bewus van enige vuurwapen onder haar bed nie omdat sy selde daaronder

14

skoon gemaak het. Sy weet glad nie wie se vuurwapen dit is wat op Daveyton aan haar getoon is nie.

Appellant het oor daardie aand ook getuig dat die polisie haar nooit gevra het wie die eienaar van die betrokke Zozo is nie. Sy het egter wel aan hulle gesê dat sy van Kwa Thema afkomstig is. Sy het dit gesê nadat sy aan hulle gesê het hoe lank sy reeds op Ngoma se perseel bly en hulle haar toe gevra het waar sy voorheen woonagtig was.

Oor Joubert het appellant gesê dat sy nie meer kan onthou in watter taal hy met haar gepraat het nie. Sy het egter deurgaans Zoeloe gepraat, maar deur middel van 'n swart polisieman wat as tolk opgetree het. Sy het nie suggereer dat hulle mekaar nie goed kon verstaan nie. Sy het ontken dat sy aan Joubert gesê het

15

dat die AK 47 aan haar vriend behoort het, en het inteendeel beweer dat dit hy was wat aan haar gesê het dat hulle weet dit is Dlamini s'n en dat sy ook so moet sê. Sy het geantwoord dat dit nie Dlamini se vuurwapen was nie, en dat sy hom nog nooit in besit van 'n vuurwapen gesien het nie. Joubert het egter volgehou dat dit Dlamini se vuurwapen was, dat daar "'n geveg by die taxi-mense" was en dat sy Dlamini aan hulle moet gaan uitwys. Daarop het Joubert haar na die huurmotorstaanplek op Springs geneem vir daardie doel. Sy het egter nooit enige verduideliking gegee waarom dit namens haar aan Joubert tydens kruis-ondervraging gestel was dat sy nie die gesprek met hom kan onthou nie. Sy het verder gedurende haar getuienis weereens gesê dat sy nie weet wie se vuurwapen onder haar bed gevind is nie omdat sy dit nie gesien

16

het nie en dit nie in haar woning aan haar getoon is nie.

John Ngoma was, soos reeds gemeld, 'n verdedigingsgetuie. Hy sou oorspronklik 'n staatsgetuie wees maar appellant se advokaat het met hom gekonsulteer onwetend dat dit die geval was. Die Staat het hom daarna as getuie aan die verdediging beskikbaar gestel. Sy weergawe was dat hy tuis was op die aand van 7 Desember 1992, toe die polisie by sy woning aangeklop en ingekom het. Sy vrou en appellant was toe ook daar. Sy vrou het geslaap, maar appellant was in die kombuis. Sy was vroeër toilet toe, maar was reeds terug toe die polisie opdaag. Die polisie het hom uitgeneem na appellant se woning en gevra waar die sleutel daarvan is. Hy het geantwoord dat sy sleutel nie daar kan oopsluit nie, en dit was bevestig toe een van die polisie dit probeer

17

doen het. Hy is toe gevra wie in daardie Zozo woon en hy het gesê appellant. Op hulle verdere vraag waar sy is, het hy geantwoord dat sy in die kombuis van sy woning is. Daarop is hulle terug na sy plek. Appellant was nog steeds in die kombuis. Hulle het haar gevra om saam met hulle te gaan en gevra waar die sleutel van haar woning was. Ngoma het nie geweet waar dit was nie maar het gesien dat sy haar hand voor by haar bors insteek. Sy is uit saam met die polisie. Hy wou hulle volg maar is deur hulle gekeer en aangesê om tuis te bly. Hy het dit gedoen. Later die aand is hy ook aangehou en saam met appellant weggeneem, sy in een polisievoertuig en hy in 'n ander.

Ngoma het voorts getuig dat hy Dlamini ken as appellant se "vrykêrel", dat hy 'n "taxidrywer" is, dat hy hom soms

18

een keer per week en soms twee keer op sy perseel sien, dat Dlamini vir appellant daar kuier as hy alleen kom en dat hy op die vorige Donderdag laas daar was. Hy was toe alleen, en was saam met appellant in haar Zozo. Op die Dinsdag van daardie week het hy Dlamini nie daar gesien nie. Hy is saam met die polisie na die huurmotorstaanplek op Springs op soek na Dlamini maar kon hom nie kry nie. Die rede waarom na Dlamini gesoek was, is omdat die polisie wou weet met wie appellant in haar Zozo gebly het. Sy het aan huMe gesê Dlamini is haar vrykêrel en hulle het toe besluit om na hom te gaan soek.

Ngoma het erken dat hy twee keer aan die polisie gesê het dat die ander Zozo appellant s'n is. Die eerste keer voordat hulle hom gevra het daaroor en die tweede keer toe hulle hom op

19

pad terug na sy woning gevra het wie daarin bly. Daarop volg dié

passasie in sy getuienis:

"Hof": Nou maar wat het nou (daartoe) aanleiding gegee dat hulle jou die tweede keer vra wie daar woon? ... Die rede hoekom hulle my gevra het is dat my sleutel kan nie daardie Zozo oopsluit nie."

Die verhoorhof het bevind dat Nyakane 'n goeie getuie

was, maar was nogtans attent daarop dat hy 'n enkel getuie was ten

aansien van die gebeure in die plakkerskamp op die aand van 7

Desember. Die hof het nietemin sy getuienis daaroor aanvaar en

dié van appellant en Ngoma verwerp waar dit met sy weergawe

gebots het. Die verhoorhof het dit gedoen na 'n breedvoerige

oorweging van hulle respektiewe relase en van die waarskynlikhede

wat daarmee verband hou. Na my oordeel is daar geen goeie

20

gronde om met daardie bevinding in te meng nie.

Op appellant se eie getuienis was Nyakane en sy geselskap reeds by Ngoma voordat sy van die toilet teruggekeer het. Sy het die twee polisievoertuie voor haar Zozo opgemerk. Daarop weerspreek sy vir Ngoma. Haar weergawe hiervan ondersteun Nyakane dat hy reeds by Ngoma was voordat sy daar was. Dit is waarskynlik dat toe appellant by hulle aangesluit het, daar reeds 'n gesprek tussen Ngoma en Nyakane was, soos deur laasgenoemde getuig. Daar is ook die onderlinge weerspreking tussen appellant en Ngoma oor waar die sleutel van haar Zozo was, maar dit is onnodig om verder met verskille tussen hul weergawes te handel.

Ngoma erken dat hy twee keer daardie aand aan Nyakane gesê het dat die ander Zozo op die perseel appellant s'n is.

21

Daarop steun hy vir Nyakane. Sy rede waarom hy dit 'n tweede

keer gedoen het is egter vergesog. Ek stem saam met díe volgende

kommentaar en gevolgtrekking deur die verhoorlanddros

daaraangaande in sy uitspraak op die meriete (sy uitspraak):

"Ngoma erken dat hy twee maal vir die polisie gesê het dat beskuldigde die huis bewoon. Die eerste keer kon hy duidelik identifiseer maar die tweede keer het hy taamlik kleigetrap waarom dit nou vir hom nodig was om vir die polisie 'n tweede maal te sê dat die beskuldigde daardie huis bewoon. Tewens, sy getuienis is so vaag dat die hof nou nog nie weet waarom hy 'n tweede maal vir die polisie moes sê dat die beskuldigde die huis bewoon nie. In die lig van die waarskynlikhede is die polisie se getuienis korrek dat hy 'n tweede maal gevra was omdat die beskuldigde ontken het dat sy die huis bewoon."

Appellant se voormelde ontkenning het trouens

onmiddellik gevolg op Nyakane se mededeling aan haar dat hy haar

Zozo vir 'n vuurwapen wou deursoek. Volgens Nyakane het

22

appellant weer ontken dat sy daar woon toe sy ondervra was oor die

mans- en vroueklere wat in die slaapvertrekke gevind is.

Haar ontkenning dat sy die vuurwapen gesien het toe

dit gevind was of dat dit daar deur die polisie aan haar getoon is, is

so vergesog dat dit totaal onaanvaarbaar en klaarblyklik vals is.

Haar erkenning dat sy aan Nyakane gesê het dat sy van Kwa Thema

kom, is stawing vir Nyakane se weergawe, maar haar rede vir die

vermelding daarvan is eweneens vergesog. In sy uitspraak het die

verhoorlanddros die volgende hieromtrent gesê:

"Hierteenoor getuig die beskuldigde en Ngoma dat sy wel gevra was waar sy woon, maar sy het nou gesê sy kom van Kwa Thema af maar sy woon alreeds drie maande in daardie plek en sy het probeer voorgee dat Nyakane sou belangstel waar sy nou drie maande tevore gewoon het. Weereens verstaan ek nie hoekom Nyakane dit sou wou weet waar sy die afgelope drie maande woon nie. Hy is gemoeid met die hier en

23

nou, nie met haar familiegeskiedenis nie. Dit is gemeensaak dat sy van Kwa Themba af kom. Waar sou Nyakane aan daardie inligting kom? In die lig van die waarskynlikhede is Nyakane se getuienis in hierdie verband verkieslik bo dié van die beskuldigde en haar getuie."

Ek stem saam met die landdros se voormelde kommentaar en

gevolgtrekking.

Daarbenewens is appellant se bewerings dat Nyakane

haar by Ngoma se woning uitgesleep het en later in haar Zozo

geslaan het, nooit tydens kruisondervraging aan Nyakane gestel nie.

Daardie versuim is nie deur of namens haar opgeklaar nie.

By die beoordeling van appellant se skuld of onskuld

is Joubert se getuienis van kardinale belang. Indien dit as die

waarheid aanvaar word, is dit duidelik dat appellant inderdaad

bewus was van die vuurwapen onder haar bed en dat dit aan

24

behoort het. Alhoewel sy nie Dlamini se naam aan Joubert genoem het nie, is dit duidelik dat dit hy was waarna sy verwys het. Op die getuienis was hy die enigste mansvriend wat sy destyds gehad het.

Die landdros het weliswaar in sy uitspraak Joubert se getuienis breedvoerig uiteengesit sowel as appellant se weergawe van die gesprek met hom, maar het geen geloorwaardigheidsbevinding ten aansien daarvan gemaak nie. Dit is 'n redelike ernstige versuim. 'n Hof van appèl verwag van 'n verhoorhof dat dit die feitebevindings daarvan en die hof se redes daarvoor moet verstrek. Vide: S v Guess 1976 (4) SA 715 (A) op 718E - 719 A.

Na my mening bevind hierdie Hof hom nou wesenlik

25

in dieselfde posisie as dié waar die geloofwaardigheidsbevindings van 'n vehoorhof om een of ander rede ignoreer moet word, nl om tot 'n eie bevinding te raak op die betrokke getuienis soos dit voorkom in die notule van die verrigtinge. Vgl: S v Rall 1982 (1) SA 828 (A) op 834 E - G.

Só benader is ek van oordeel dat Joubert se getuienis aanvaar en dié van appellant verwerp moet word.

Appellant se uiteindelike bewerings is nooit aan Joubert gestel nie. Sy het sonder enige verduideliking haar standpunt ingrypend verander van dié van 'n onvermoë om die gesprek tussen haar en Joubert te onthou tot dié van 'n vermoë om daardie gesprek in detail te kan weergee. Dit is gemeensaak dat sy en Joubert na die huurmotorstaanplek op Springs gegaan het op soek na haar

26

mansvriend, Dlamini. Joubert was 'n vreemdeling tot die geval. Hy het trouens aan 'n ander afdeïing van die polisie behoort as Nyakane, en het op dieselfde middag as dié waarop hy, appelïant en Ngoma na Springs gegaan het, die dossier vir die eerste keer onder oë gehad. Hoe sou hy van appellant se mansvriend geweet het as appellant hom nie vertel het nie? En waarom sou Joubert vir hom op Springs wou gaan soek as appellant haar vriend nie in verband gebring het met die AK 47 nie? Appellant se selfweersprekende weergawes en die waarskynlikhede wat met hierdie gebeure verband hou, dui na my oordeel onteenseglik daarop dat Joubert die waarheid vertel en appellant die onwaarheid. Joubert se getuienis moet gevolglik aanvaar word. Daarvolgens het appellant geweet dat die AK 47 onder haar bed versteek was en deur Nyakane daar

27

gevind was, en het sy geweet dit behoort aan Dlamini. Die

waarskynlikhede dui na my mening so oorweldigend daarop dat

Dlamini met appellant se medewete en toestemming die wapen en

ammunisie onder haar bed versteek het en daar deur haar namens

hom versteek is vir latere gebruik, dat daar geen redelike twyfel

daaroor kan wees nie.

In die woordomskrywingsartikel (art 1) van die Wet,

soos gewysig, beteken "besit" ook "bewaring", en het "besit" in

werkwoordelike sin dieselfde betekenis. In HAT (derde hersiene

uitgawe, 1994) beteken "bewaar" o.m. die volgende:

"(1) sorg vir, onder toesig neem, opberg. (4) wegbêre vir later gebruik op so'n wyse daí dit nie bederf nie."

"Bewaar" en "besit" is albei doelgerigte begrippe en

28 verg kennis van dit wat bewaar of besit word. Sodanige kennis is gevolglik 'n voorvereiste vir 'n oortreding van artikels 32(l)(a) en 32(l)(e)van die Wet.

Weens appellant se valse ontkenning aan Nyakane dat sy in die betrokke Zozo woon, haar leuenagtige getuienis aangaande die vonds van die vuurwapen en ammunisie en oor die ander gebeure in haar slaapkamer, en haar mededeling aan Joubert, is dit na my oordeel bo redelike twyfel bewys dat sy die vereiste kennis gehad het. Appellant het gevolglik op albei voormelde betekenisse van "bewaar" die vuurwapen namens Dlamini bewaar, en was sy derhalwe vir doeleindes van die Wet in besit daarvan.

Op die tereg aanvaarde getuienis is appellant se skuld na my mening bo redelike twyfel bewys en is dit gevolglik onnodig

29

om 'n beroep te doen op enige hulpmiddel vir daardie doel.

Die landdros het weliswaar die betrokke vermoede-skeppende artikel van die Wet (art 40(1)) ten volle in sy uitspraak aangehaal, maar hom nie in soveel woorde daarop beroep nie. Die wyse waarop hy slegs op die getuienis gesteun het sonder enige verdere vermelding van die vermoede is 'n sterk aanduiding dat hy by sy uiteindelike bevinding nie daarop gesteun het nie.

Hoe dit ookal sy, is dit, soos reeds gesê, weens die aard, gehalte en omvang van die getuienis opsigself, bo redelike twyfel bewys dat appellant skuldig is aan die misdade haar ten laste gelê en 'n beroep op die voormelde vermoede was en is gevolglik onnodig. Dit is derhalwe ook onnodig om te handel met die moontlike ongrondwetlikheid al dan nie van die vermoede geskep

30

by art 40(1) van die Wet. Vide: S v Zuma and Others 1995 (4) BCLR 401 (CC) op 421 I - 422 E. en Metu teen Die Staat : Appèlhof, 28 Augustus 1995.

Wat die vonnis betref, het die Transvaalse Provinsiale Afdeling reeds in ag geneem dat appellant hoogs waarskynlik nie die vuurwapens vir eie gebruik daarvan onder haar bed versteek of laat versteek het nie, maar dit slegs vir Dlamini daar bewaar het. Daarom het daardie hof die vonnis dienooreenkomstig verminder tot haar voordeel. Appellant se misdrywe is nietemin steeds van 'n baie ernstige aard. As sy so'n moordwapen vir iemand anders wil bewaar, al is dit vir haar minnaar, moet sy die gevolge daarvan dra. Die verminderde vonnis is na my oordeel geensins onvanpas nie. Appellant verdien geen verdere verligting van haar vonnis nie.

31

Die opskortingsvoorwaarde moet egter reggestel word. Die volgende bevele word gemaak:

  1. Die appél word van die hand gewys.

  2. Die opskortingsvoorwaarde van die opgelegde vonnis word egter gewysig deur die verwysing daarin na art 31(2) van Wet no 75 van 1969 te skrap en te vervang met 'n verwysing na arts 31(l)(a) en 31(l)(e) van gemelde Wet.

MT STEYN. AR

JOUBERT, AR)

stem saam F H GROSSKOPF, AR )

▲ To the top