S v Odendaal en Andere (17/1995) [1995] ZASCA 133 (21 November 1995)


SAAKNR: 17/95

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MARGARINUS ODENDAAL Eerste Appellant

WILLEM ODENDAAL Tweede Appellant

CHRISTIAAN DU TOIT Derde Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: NESTADT, HARMS, ARR en SCOTT, Wnd AR

VERHOOR: 6 NOVEMBER 1995 GELEWER: 21 NOVEMBER 1995

UITSPRAAK

HARMS AR/ ...

2

HARMS AR:

Op die Odendaals se plaas Rietgat in die distrik Riversdal is die verhouding tussen werkgewer en werknemer eerder een van leenheer en vasal, baas en kneg, dominus et servus. Die werkgewer, sy seuns en plaasvoorman eien hulle die reg toe om die plaaswerkers te tugtig, "reg te sien", vir die grap te skop en klap en dan weer as troosprys van drank te voorsien. Hierdie aanmatiging strek nog verder en wel tot by die bure se werkers. Besoekers en gaste van werkers word van die plaas geweer. Maar dinge het skeefgeloop. Mnr Hans Muggels, 'n werknemer van 'n buurman, is op 2 September 1991 dood gevind in 'n verlate waenhuis. Sy dood is aan die appellante toegedig en wel na aanleiding van gebeure op 31 Augustus op die plaas.

Die appellante appelleer teen 'n skuldigbevinding aan die moord op die oorledene. Hulle het in die streekhof

3

te Riversdal tereggestaan op meerdere aanklagte.1 'n Mede-beskuldigde, Morkel (No 2), is onskuldig bevind. No 1 was destyds 'n 17 jarige skoolseun, en is 'n seun van die plaaseienaar. No 3 is sy ouer broer en was die klaarblyklike aanvoerder van die straf-ekspedisie, terwyl No 4 'n plaasvoorman was. Na 'n uitgerekte verhoor is No 3 skuldig bevind aan gewone aanranding op mnre Coller, Koos Japhta en Julie Japhta en aan aanranding met die opset om ernstig te beseer op mnr Gert Meyers. No 4 is skuldig bevind aan gewone aanranding op Gert terwyl No 1 skuldig was aan die rig van 'n vuurwapen op hom. Daarbenewens is aldrie op aanklag 5 skuldig bevind aan strafbare manslag na aanleiding van die dood van Muggels. Die vonnisse in lg verband was:

No 1 - 6 houe en 18 maande opgeskort,

1Vir doeleindes van hierdie uitspraak gebruik ek die nommers soos in die streekhof aangewend

4

No 3 - 6 jaar waarvan 2 jaar opgeskort,

No 4 - 3 jaar waarvan 1 jaar opgeskort.

Die appèl na die Kaapse Provinsiale Afdeling (per Thring R; King R het saamgestem) het nie alleen misluk nie, maar die skuldigbevinding aan strafbare manslag is gewysig na een van moord. Die saak is na die streekhof vir vonnisdoeleindes terugverwys en die nuwe vonnisse opgelê is:

No 1 - Gemeenskapsdiens plus 3 jaar gevangenisstraf

opgeskort,

No 3 - 7 jaar,

No 4 - 5 jaar met 2 jaar opgeskort.

Die huidige appèl is slegs teen die skuldigbevinding aan aanklag 5 gerig en geskied met die verlof van die hof a quo. Tensy nodig ter beregting van hierdie geskilpunt, is ek nie van voorneme om na die

5

besonderhede van die ander misdrywe te verwys nie. Ek mag net meld dat die aanrandings op die ander klaers nie van 'n buitengewoon ernstige aard was nie. Dit word daardeur gestaaf dat No 3 t a v die vier aanrandings waaraan hy skuldig bevind is, 'n totale boete van R800 met 'n alternatief van 350 dae gevangenisstraf opgelê is. Die hof a quo, wat die hele saak krities in oënskou geneem het, was klaarblyklik tevrede met die gepastheid van daardie vonnisse.

Afgesien van die appèl dien daar ook 'n aansoek om verdere getuienis aan hierdie hof voor te lê. Dit is, heel verkeerd, as 'n hersieningsaansoek ingeklee maar niks wentel daarom nie. Die doel van die aansoek is om die verklarings wat een van die staatsgetuies aan die polisie gemaak het, voor die hof te plaas. Die staatsaanklaer het nie die inhoud van die verklarings tydens die verhoor

6

geopenbaar nie. Dit, volgens die betoog, het op 'n growwe regskending neergekom. Mettertyd meer hieroor.

Wat die oorsaak van dood betref, is die onbetwiste mediese getuienis dat die oorledene dood is as gevolg van subdurale bloeding en dit is op sy beurt veroorsaak deur 'n breuk aan die skedelbasis, posterior, meer na links. Dit was die gevolg van die toediening van geweld deur 'n langwerpige stomp voorwerp soos 'n kierie of 'n skoen. (Die ander beserings, t w kneusings en skaafwonde, wat aan die lyk gevind is, is tans nie ter sprake nie omdat hulle geensins tot die dood bygedra het nie.) Subdurale bloeding word veroorsaak wanneer die skedelbeen beweeg en dan skielik tot stilstand kom — die brein beweeg 'n entjie verder en dit versteur die bloedvate wat dan tot 'n bloeding lei. So 'n tipe besering skep verskillende moontlike beelde en aangesien dit later

7

relevant word, is dit dienstig om Dr Schwär, die geregtelike patoloog, volledig daaroor aan te haal:

"... (hy) kan of onmiddellik bewusteloos wees en dan herstel of hy hoef glad nie bewusteloos te wees nie en hierdie persone gaan nie onmiddellik dood nie. Die beeld wat ons gewoonlik sien in hierdie gevalle is dat die mense byvoorbeeld as hulle met aanrandings, met motorvoertuigongelukke of ander ongelukke, dat hulle hospitaal toe gaan, hulle word ondersoek en hulle kom heeltemal normaal voor, hulle word huis toe gestuur. Dit is 'n ontsettend stadige bloeding en dan na 'n dag of twee kom hulle terug hospitaal toe met simptome van hoofpyn, naarheid, swakheid en dies meer."

"Edelagbare van die beserings as sulks is dit moeilik om presies te sê wat aan die begin gebeur het, hy kon bewusteloos gewees het, hy kan miskien net vir 'n paar sekondes bietjie deurmekaar gewees het, maar hy kon ook vir 'n kort periode bewusteloos gewees het en dan sy bewussyn weer herwin het. Maar dit kan ook wees dat hy glad nie sy bewussyn verloor het nie."

Die oorledene is laas op 31 Augustus 1991

8

lewendig gesien. Sy lyk is, soos gesê, twee dae later in 'n verlate waenhuis gevind. Hy is klaarblyklik daar neergelê terwyl hy óf bewusteloos óf reeds dood was. Dit word daarvan afgelei dat hy op sy rug met sy bene reguit en teen mekaar en sy arms styf teen sy lyf gelê het. Hy het net een skoen aangehad, die ander skoen was in die hoek van die waenhuis. Ek mag net meld dat die hof a quo bevind het dat toe die oorledene neergelê is, was hy bewusteloos en nog nie dood nie, 'n bevinding waarmee ek later handel.

Om dan na die gebeure op 31 Augustus terug te keer. Dit was maand-einde. Die plaaswerkers is betaal en is dorp toe vir inkopies. Op die agenda was ook drank-aankope. Die oorledene kon nie self dorp toe nie en het vir Gert geld gegee om vir hom drank te koop. Gert het dit egter goed gedink om die geld op homself te spandeer en net

9

vir homself drank te koop.

Hieroor was die oorledene ontevrede en het hy vir Gert daaroor aangespreek. Gert het hom vervies en, volgens almal teenwoordig, die oorledene twee klappe deur die gesig gegee. Die oorledene, wat gehurk gesit het, het omgeval. Al die getuies (behalwe mej Sarah Willemse) het spontaan gesê dat hy nie op sy kop nie maar op sy arm of skouer geval het. Die oorledene het nie gereageer nie. Vir Gert was dit egter nie genoeg nie. Hy het 'n knopkierie waarmee ystervarke gejag word, gaan haal en hom een hou, soos 'n bylkap, op die maag geslaan. Die oorledene was hierna bewegingloos en het vir ongeveer 'n halfuur in die son bly lê. Daarna is hy deur twee mans opgetel en "soos 'n sak suiker" weggedra en onder 'n koelteboom neergelê waar hy vir 'n geruime tyd bly lê het.

Om kortliks af te wyk van die relaas om die

10

oorledene: kort na hierdie gebeure is Gert na die huis van mev Lena Francis, het die appellante opgedaag, Gert het weggehardloop, hy is agtervolg, No 1 het 'n geweer op hom gerig, Gert is opgelaai en na die Odendaal-opstal vervoer. Daar is hy 'n stoor ingeneem, aangerand en gelaat. Gert het mettertyd ontsnap en na sy pa, mnr Willem Meyers, se huis gegaan.

Die oorledene het intussen sy bewussyn herwin, is ook na Willem se huis en het op dié se bed gaan lê. Dit het Willem nie aangestaan nie. Hy het die oorledene ook met 'n kierie bygekom : volgens hom met twee houe oor die blaaie, volgens Gert met twee houe op die rug en volgens Julius Japhta, met houe oor die bene en bors.

Weer het die oorledene eers bly lê en toe na ongeveer tien minute opgestaan en sonder om enigiets te sê, weggestap, huis toe. Toe hy deur die grensdraad wou kruip.

11

het die appellante met 'n bakkie opgedaag, die oorledene opgelaai en terwyl hy agter-op gesit het, is hulle terug plaaswerf toe.

Wat hierna gebeur het, blyk slegs uit die getuienis van mej Anna Meyers, Gert se suster. Sy het reeds vroeër die dag Gert se aanranding op die oorledene waargeneem. Nadat die oorledene toe in die koelte neergelê is, is sy na die huis van mev Lena Francis, geleë op die plaaswerf. Sy het o a deur die venster waargeneem toe Gert met die bakkie na die stoor geneem is. Hoe dit ook sy, heelwat later het sy weer die bakkie gehoor. Sy het by die venster uitgekyk en gesien dat die oorledene agter-op sit. Die bakkie het voor 'n ander stoor stilgehou. Twee van die appellante het die oorledene aan sy arms van die bakkie afgehelp. Die oorledene kon nog staan en hy en die appellante is die stoor in. Na 'n wyle het sy die

12

oorledene se uitroep van pyn en om hulp gehoor. Daarna het sy gesien hoe die appellante met die oorledene die stoor verlaat het. Van belang is haar beskrywing van die toestand van die oorledene op daardie stadium : hy het bloed aan sy gesig en hemp gehad; hoewel hy "slap" was en nie regop kon loop nie, het hy wel met die hulp van die appellante geloop. Tydens kruisondervraging kleur sy die prentjie donkerder : sy bene was slap, sy arms was slap, sy voete het gesleep en hy is deur die appellante gesleep nogtans het hy self na die bakkie geloop. Ten besluite, die appellante het die oorledene op die bakkie getel en terwyl hy agterop lê, het die bakkie vertrek.

Die Staat se getuienis op hierdie aanklag is deur die getuienis van die vind van die lyk afgerond. Net No 1 en No 3 het ter verdediging getuig. No 4 het van sy swygreg gebruik gemaak. Ek sal die verdedigingsgetuienis

13

by beoordeling van die saak buite rekening laat. Dit was leuenagtig maar het nie enige stawing vir die staatsaak gebied nie.

Soos gemeld, is die appellante in die hof van eerste instansie aan strafbare manslag skuldigbevind. Die beslissing was daarop gebaseer dat die skedelbreuk in die stoor opgedoen is tydens 'n langdurige aanranding waaraan meerdere persone moes meegedoen het. Die appellante het die oorledene daarna lewend, maar bewusteloos, in die waenhuis gelaat — ongevoelig, onverskillig en roekeloos oor sy lot. Die landdros was ook van mening dat vanweë die erns en geweld van die aanranding 'n ander hof moontlik kon bevind dat dolus eventualis teenwoordig was, maar het self bevind dat opset nie bo redelike twyfel bewys is nie.

Die motivering van die hof a guo se bevinding van skuldig aan moord kan soos volg saamgevat word:

14

[1.] Daar was "geen sprake daarvan" dat die oorledene tydens die insident met Gert 'n hoofbesering kon opgedoen het nie.

[2.] Die appellante se gedrag dié dag, ook teenoor die ander klaers, toon dat hulle met 'n gemeenskaplike opset gehandel het.

[3. ] Die oorledene is in die stoor aangerand en die hoofbesering is daar toegedien.

[4.] "Nadat hulle die oorledene in die stoor aangerand het , het die appellante hom weer daaruit gebring en op beskuldigde nommer 3 se bakkie gelaai. Op daardie stadium moes die oorledene nog gelewe het, want, indien hy reeds dood was, sou daar, op die mediese getuienis, alkohol in sy bloed gevind gewees het, aangesien hy op die getuienis van getuies Gert en Willem Meyers kort vantevore taamlik sterk onder die

15

invloed van drank was, en dit tyd sou geneem het voordat die oorledene die alkohol uit sy bloed sou kon skei. ' n Lyk kan nie alkohol uitskei nie. Die appellante het ook geweet dat die oorledene nog gelewe het, want hulle het hom regop uit die stoor gebring, in die sin dat beskuldigdes nommers 1 en 3 aan weerskante van hom onder die skouers gestut het, en sy voete op die grond gehang het. So word ' n lyk natuurlik nie gedra nie. Terselfdertyd moes dit egter aan die appellante duidelik gewees het dat die oorledene op daardie stadium, en wel as gevolg van hulle aanranding op hom, ernstig beseer was, want Anna Meyers beskryf die oorledene se toestand soos volg."

[Dan volg 'n lang aanhaling uit Anna se getuienis wat reeds

opgesom is.]

"Alhoewel hy nog gelewe het, was die oorledene

16

klaarblyklik op daardie stadium in 'n veel erger toestand as wat hy was toe hulle hom die stoor ingeneem het. Toe hulle hom weer uitgebring het, moes hy óf bewusteloos óf half-bewusteloos gewees het, en wel as gevolg van die aanranding wat die appellante op hom gepleeg het."

[5] Hulle het die bewustelose oorledene in die waenhuis weggesteek, wetende dat hy leef. Dit het hulle gedoen terwyl hulle besef het dat hy aan sy beserings kon sterf en sonder dat hulle omgegee het of hy sou oorleef of nie.

Dit is nodig om van hierdie bevindings nou onder die loep te neem.

Ad [l]: Het die oorledene noodwendig die hoofbesering wat tot die subdurale bloeding aanleiding gegee het, opgedoen nadat die appellante hom by die grensdraad opgelaai het?

17

Soos gesê, het die hof a guo bevind dat daar "geen sprake" daarvan was dat dit vroeër toegedien kon gewees het nie. Dit was 'n oordrywing. Ten eerste het mev Sarah Willemse getuig dat die oorledene as gevolg van die klappe op sy kop geval het. Haar getuienis is weliswaar deur die landdros verwerp op die grondslag dat sy ontken het dat sy gedrink was terwyl "al" die ander getuies getuig het dat sy wel gedrink was. Dit was ook 'n oordrywing. Daarbenewens was al die ander getuies self gedrink of dronk en is haar getuienis dat sy vanweë mediese redes nie kon drink nie, oorgesien. Die tweede grondslag van die verwerping van haar getuienis was dat haar relaas "onsamehangend" was, 'n bevinding waarmee ek nie saamstem nie.

Ten tweede was daar die getuienis oor die oorledene se vreemde gedrag nadat Gert hom begin aanrand het — apatie, bewusteloosheid en herwinning van bewussyn.

18

Dié beeld pas in by die beeld wat Dr Schwär in sy aangehaalde getuienis oor die gevolge van subdurale bloeding gegee het.

Derdens is dit opvallend hoe "spontaan" die staat se getuies getuig het dat die oorledene nie op sy kop geval het — na my oordeel te spontaan. Gert was een van hierdie getuies. Hy was 'n verdagte. Hy het die oorledene immers aangerand. Hy het dus alle rede gehad om die erns van sy aanranding af te water. Hy kon dit maklik doen sonder om sy algemene geloofwaardigheid in gedrang te bring. Hy was 'n "quasi-accomplice" en sy getuienis moes aan "particular scrutiny" onderwerp gewees het (Hoffmann & Zeffertt, The SA Law of Evidence, 4e uitg p 576). Dit het die howe benede nie in ag geneem of gedoen nie.

Dit laat dan vir Anna, die sleutelgetuie wie se getuienis wesenlik sonder voorbehoud aanvaar is. Die

19

aansoek om verdere getuienis te lei, het naamlik betrekking op twee verklarings wat hierdie getuie aan die polisie gemaak het en wel op 3 en 10 September 1991, pas na die voorval. In die eerste verklaring het sy gesê dat Gert die oorledene "herhaalde keredeur die gesig geklap" het en dat sy "gemerk het dat die oorledene se gesig en neus bloei en dat sy kop vol bloed is". In die tweede het sy ook verwys na die herhaalde klappe maar bygevoeg dat sy gemerk het dat die oorledene "se mond en neus bloei en dat sy kop agter sy oor bloei". Sy het Gert ook gewaarsku dat hy die oorledene gaan doodslaan, waarop Gert geantwoord het dat hy nie omgee nie.

Die relevantheid van hierdie verklarings spreek vir sigself. Daar is 'n wesenlike verskil tussen twee klappe met oënskynlik geen eksterne letsels en herhaalde klappe wat nie alleen die mond en ore laat bloei het nie,

20

maar ook die kop. (Volgens die mediese verslag was daar

ook net een geskeurde wond aan die kop, nl binne die

haarlyn en 20mm lank. Dit blyk nie of die skaafwonde aan

die gesig sou gebloei het nie.) As dit waar is, is dit

ondenkbaar dat Gert se aanvanklike aanranding slegs uit

klappe kon bestaan het. Die oorledene se reaksie of gebrek

aan reaksie, sy bewusteloosheid, dit alles verkry 'n

heeltemal ander kleur. Die vraag ontstaan ook of Willem

(ook 'n "quasi-accomplice") se aanranding nie deur veral

hom en Gert op 'n soortgelyke wyse afgewater is nie. Dis

ook van belang dat Anna in haar getuienis die bloedbelope

gesig van die oorledene verplaas het tot na sy ervarings in

die stoor en dat sy enige bloed vóór die tydstip verswyg

het.

Ek is van oordeel dat daar dus 'n wesenlike verskil tussen Anna se verklaring en haar getuienis is en

21

dat, as haar verklaring tydig geopenbaar is, bevinding 1 nie noodwendig gemaak sou kon word nie, veral aangesien die verklaring tot 'n wesenlike koersaanpassing van die kruisondervraging van die ander staatsgetuies, insluitend Dr Schwär, aanleiding sou gegee het.

Ad [3] en [4]: Ek kom nou by die vraag of die staat bewys het dat die oorledene deur die appellante aangerand is. Soos gesê, is die staat se saak uitsluitlik op Anna aangewese. (Lena wat saam met haar die gebeure by die stoor sou gehoor en gesien het, is deur die staat gediskrediteer.) Dit is reeds tydens die verhoor vasgestel dat Anna fisies nie alles kon waarneem wat sy volgens haar getuienis gesien het nie. Dis haar verskoon. Sy sou dit bloot "gesuggureer" het dat sy die waarnemings gemaak het en dat sy eintlik maar net 'n af leiding gemaak het. Hierdie judisiële afwatering is nie heeltemal regverdigbaar

22

nie omdat sy uitdruklik met haar onvermoë gekonfronteer is en sy aanvaar het dat as sy nie kon gesien het nie, sy nie die waarheid praat nie. Ek verkies egter om nie 'n finale oordeel hieroor uit te spreek nie omdat haar eerste polisieverklaring weer eens relevant word.

Deel van haar waarneming volgens haar getuienis was oor hoe die oorledene uit die stoor geneem is en sy fisiese toestand op daardie tydstip. Dit is die basis van die bevinding genommer [4] van die hof a guo. Volgens haar eerste verklaring het sy egter gaan lê nadat sy die oorledene hoor skreeu het. Sy het "gehoor" dat die bakkie wegry. Lena het toe vir haar gesê dat dit Odendaal is "en dat die oorledene by hulle op die bakkie is". Die verklaring is slegs vir een uitleg vatbaar en dit is dat sy nie gesien het hoe die oorledene uit die stoor gekom het en op die bakkie gelaai is nie. Dis in skrille kontras tot

23

haar mondelinge getuienis. As die inhoud van haar verklaring juis is, is daar geen getuienis op rekord wat die laas aangehaalde bevinding onder punt [4] van die hof a guo onderskraag nie.

Dit opper die vraag of, as die hof van hierdie teenstrydigheid in haar getuienis bewus was, haar sou geglo het toe sy getuig het dat sy gesien het hoe die oorledene die stoor ingeneem is en dat sy sy geskreeu gehoor het. In hierdie verband lewer haar verklarings ook probleme. Haar tweede verklaring eindig waar sy die gebeure wat ter sake is by Gert se aanranding, waargeneem het, gaan lê het, die bakkie hoor wegry, later — toe dit skemer was — sy neus voor die stoor gesien het en toe gaan slaap het. Volgens haar eerste verklaring is Gert eers by die stoor laat die aand aangerand, nadat die oorledene se aanranding reeds plaasgevind het. Dis nog iets wat nie met haar getuienis

24

te rym is nie.

Bevinding [4] van die hof a guo omvat ook 'n ander wesenlike punt waarby ek 'n wyle wil stilstaan. Dit is dat die oorledene dié middag "taamlik sterk onder die invloed van drank was". Dit is op die getuienis van Gert en Willem gebaseer — persone wat nie alleen die oorledene aangerand het nie maar self dronk was. Ek kan ongelukkig nie met die hof a quo se bevinding saamstem nie. Dit is op 'n eenogige beskouing van die getuienis gegrond. Anna, wie se getuienis beide howe benede beïndruk het, het onomwonde getuig dat die oorledene nie gedrink het nie en dat hy "bloednugter" was. Sarah het haar gestaaf. Die hof a quo het hierdie getuienis van Anna oorgesien. As mens dan ook in gedagte hou dat Gert nie sy mandaat om vir die oorledene drank te koop, nagekom het nie — iets waaroor die oorledene bitter was — is dit des te meer waarskynlik dat

25

hy nie gedrink was nie. Die grondslag van die hof a quo se gevolgtrekking val dus weg.

Daar bestaan dus gegronde rede om te glo dat as Anna se verklarings tydig geopenbaar is, die hof a guo nie bevindings [3] en [4] sou kon gemaak het nie. Ad [5]: Wat bevinding [5] betref, het die hof a guo nagelaat om 'n wesenlike faktor wat vir doeleindes van kousaliteit relevant is, in ag te neem. Dit is of die getuienis aantoon dat as die appellante nie die oorledene in die waenhuis weggesteek het nie (natuurlik op die veronderstelling dat hy toe nog geleef het) en hy mediese behandeling ontvang het, hy waarskynlik nie sou gesterf het nie. Tensy dit bewys is, het die staat nie bewys dat die wegsteek van die oorledene 'n handeling is wat tot sy dood bygedra het nie. Om korte mette van die punt te maak : die staat het nie eens gepoog om hierdie feit te bewys nie.

26

Om dan uit die meriete van die aansoek om verdere getuienis te lei af te handel : dit is namens die staat toegegee dat Anna die twee verklarings gemaak het. Dit is egter betoog dat die verklarings onontvanklik is omdat die appellante nie vroeër die verklarings aangevra het nie. Die verklarings is vermoedelik eers gedurende Julie 1995 versoek, ietwat meer as drie maande voor die aanhoor van die appèl. Op die veronderstelling dat daar 'n versuim aan die kant van die appellante in hierdie opsig was — iets wat ek moeilik begryp — faal die betoog omdat niemand hierdeur benadeel is nie.

Dit is geykte reg dat daar op die staat 'n verpligting rus om 'n staatsgetuie se verklaring aan die verdediging te openbaar as daar 'n "serious discrepancy" op 'n wesenlike aspek van die saak tussen die getuie se verklaring en sy getuienis is. Die versuim om dit te doen,

27

kom op 'n onreëlmatigheid neer. Sien bv S v Xaba 1983(3) SA 717 (A) op 728H-729H.

Mnr Nel, namens die staat, het heel billik aangedui dat as hy in die skoene van die destydse aanklaer gestaan het, hy die verklarings van Anna openbaar sou gemaak het. Hy het nogtans betoog dat daar nie ernstige afwykings tussen Anna se verklarings en haar getuienis was nie.

Wat verontrustend is, is dat die aanklaer se herverhoor van Anna net twee aspekte gedek het : haar verklarings en die identiteit van die stoor. Sy is gevra of sy sekere aspekte in haar verklarings gemeld het. Dit blyk nou dat haar een antwoord onwaar was. Die aanklaer het dit egter daargelaat. Nadat die landdros vrae ter opheldering gevra het, is een van die verdediging se raadsmanne toegelaat om 'n vraag oor die inhoud van haar

28

verklaring te vra. Haar antwoord weet ons nou was weer vals. Weer het die aanklaer geswyg.

Wat mnr Nel se betoog betref, het ek reeds in loop van hierdie uitspraak aangedui dat die afwykings wesenlik was en dat as die verklarings geopenbaar is, sou die verhoor waarskynlik 'n heel ander wending aangeneem het. Anna kon óf gediskrediteer gewees het óf sy kon die geleentheid geskep het vir verdere kruisondervraging of ondersoeke. Die uiteinde hiervan is nie nou te bepale nie. Daar was dus 'n miskenning van geregtigheid wat tot die wese van die saak gaan.

Ek het oorweging daaraan geskenk of die onreëlmatigheid nie net betrekking het op die doodslag van die oorledene nie, m a w dat dit ten spyte daarvan vasstaan dat die appellante aan aanranding (met of sonder 'n besondere opset) skuldig is. Hoewel ek aanvaar dat die

29

appellante die oorledene opgelaai het en dood (of vir dood) in die waenhuis neergelê het, skep die onreëlmatigheid soveel vrae oor die toestand van die oorledene toe hy opgelaai is dat mens nie met enige vertroue tot 'n bevinding kan geraak nie. Dit is net nie moontlik om enige spesifieke besering met enige mate van sekerheid aan die appellante toe te dig nie. Daarmee wil ek nie te kenne gee dat daar nie goeie rede is om die appellante te verdink nie, maar 'n redelike verdenking bewys nie strafregtelike skuld nie.

Ek het reeds gemeld dat No 1 en 3 se leuens en No 4 se stilswye nie die leemtes in die staat se saak gevul het nie. Hulle ontkenning dat hulle die oorledene opgelaai het (waarskynlik met die doel om hom aan te rand) en in die waenhuis uitgelê het, beide vals, kan in gewone omstandighede 'n afleiding regverdig dat hulle hom wel

30

aangerand het. As die redelike moontlikheid oorweeg word dat hy onder hulle beheer en toesig dood is as gevolg van beserings vantevore opgedoen en as daarmee hulle algemene boefagtige gedrag dié dag in ag geneem word, is dit goed denkbaar dat hulle kon glo dat die waarheid nie waarskynlik sou klink nie (Hoffmann & Zeffertt op cit p 602-603). Dus die leuens.

Dit volg dan dat die appél slaag en die volgende bevel word gemaak:

  1. Die aansoek om verdere getuienis voor te lê, word toegestaan.

  2. Die appèl slaag.

  3. Die appellante se skuldigbevinding aan en vonnis op

31 aanklag 5 word ter syde gestel.

L T C HARMS APPèLREGTER

▲ To the top