Baloyi v S (57/1995) [1995] ZASCA 138 (23 November 1995)


Saak nr 57/95 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MCHACHANI THOMAS BALOYI APPELLANT

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: VIVIER, F H GROSSKOPF et OLIVIER ARR. VERHOOR: 16 NOVEMBER 1995. GELEWER: 23 NOVEMBER 1995.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant ("beskuldigde 2") het saam met sewe ander

("beskuldigdes 1, 3, 4, 5, 6, 7 en 8" onderskeidelik) in die Streekhof op Giyani tereggestaan op twee aanklagte van openbare geweld. Op aanklag 1 is slegs beskuldigde 6 skuldig bevind en tot nege maande gevangenisstraf gevonnis. Op aanklag 2 is beskuldigdes 2, 3, 4, 6 en 7 skuldig bevind en elk tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Op appêl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling is beskuldigde 6 se skuldigbevinding en vonnis op aanklag 1 tersyde gestel maar al die skuldigbevindings en vonnisse op aanklag 2 is gehandhaaf. Met die nodige verlof appelleer beskuldigde 2 nou na hierdie Hof teen sy skuldigbevinding en vonnis op aanklag 2.

Die klaer en enigste staatsgetuie op aanklag 2, die sewentig-jarige William Gubhela Tshabalala, wat in die Vuhehli woon-gebied naby Giyani woon, se getuienis was dat hy op Sondag

3

4 Maart 1990 voor 'n plaaslike winkel vir sy pensioen gesit en wag het toe 'n groep jeugdiges, met beskuldigde 4 vooraan, daar aankom. Beskuldigde 4 het hom orent gepluk en met 'n sambok geslaan en die groep het hom daarna voor hulle uit na sy huis gejaag. Hy moes hardloop om voor te bly en toe hy val het beskuldigde 4 hom verder aangedryf het deur hom met die sambok te slaan. By sy huis het 'n ander groep, waaronder beskuldigdes 2, 3, 6 en 7, gewag. Daar is gesê dat hy 'n heks is en beskuldigdes 4 en 7 het sy huis deursoek vir muti maar niks gekry nie. Die klaer is daarna na 'n nabygeleë vallei gedryf waar beskuldigdes 2, 3, 6 en 7 'n vuur gemaak het terwyl van die ander gedreunsing het. Sy klere is uitgetrek en sy bene vasgebind. Beskuldigdes 4 en 7 het hom toe oor die vuur gehou, beskuldigde 4 aan sy bene en beskuldigde 7 aan sy bolyf, en later, toe die vuur flouer begin brand, het hulle hom bo-op die vuur gesit en daar

4

vasgehou. Intussen het van die ander die vuur geroer sodat dit sterker kon brand. Die klaer het emstige brandwonde opgedoen. Na 'n ruk is hy van die vuur afgehaal en weer na sy huis teruggejaag. Hy is vandaar met 'n ambulans na die hospitaal geneem waar hy byna 'n maand deurgebring het. Die klaer het geíuig dat hy al die beskuldigdes goed ken en dat hulle voor hom grootgeword het.

Beskuldigdes 1, 5 en 8 se name is nooit deur die klaer genoem nie en beskuldigdes 1 en 8 is aan die einde van die staatsaak onskuldig bevind en ontslaan. Beskuldigde 5 het sy saak gesluit sonder om te getuig en hy is aan die einde van die saak ook onskuldig bevind en ontslaan.

Beskuldigde 2 se verweer was 'n alibi. Sy getuienis was dat hy 'n veldwagter is en dat hy in die Vuhehli woongebied woon maar op Lulekane naby Phalaborwa werk. Die betrokke dag het

5

hy om 7h30 aan diens gegaan nadat hy hom by die persoon in bevel, sersant Jan Tshabalala, ("Tshabalala") aangemeld het. Hy het daarna die hele dag in 'n span onder leiding van Tshabalala patrolliewerk in die bos gedoen. Hy het om 16h30 van diens gegaan. Hy het, soos hy elke dag doen, in 'n amptelike boek aangeteken dat hy aan diens en weer van diens gegaan het. Die register waarin beskuldigde 2 sy dienstye aanteken, is by die verhoorhof as bewysstuk "A" ingehandig. Daarvolgens was hy op die betrokke dag aan diens en was hy slegs vanaf 8 tot 12 Februarie 1990 en weer vanaf 7 tot 12 Maart 1990 nie by sy werk nie. In kruisverhoor deur die aanklaer het dit geblyk dat beskuldigde 2 volgens bewysstuk "A" op 10 en 26 April 1990 wel die hele dag aan diens was terwyl dit gemeensaak was dat hy op beide daardie dae in die hof in Giyani verskyn het en eers gedurende die middag aan diens gegaan het in Lulekane. Giyani

6

is ongeveer drie uur per motor vanaf Phalaborwa.

Tshabalala het namens beskuldigde 2 getuig en bevestig dat hy die leier is van 'n span van vyf veldwagters waarvan beskuldigde 2 lid is. Die span werk as 'n eenheid en doen elke dag saam patrolliediens. Elkeen van die spanlede onder hom íeken sy diensbywoning in sy eie boek aan terwyl Tshabalala self ook rekord van sy span hou. Tshabalala het bevestig dat beskuldigde 2 wel op 4 Maart 1990 aan diens was by Lulekane en dat hulle daardie dag saam gewerk het. Tshabalala het getuig dat elke spanlid vyf dae verlof per maand kry maar al die ander dae van die maand, ook naweke, moet werk. Hy het getuig dat beskuldigde 2 vanaf 7 - 12 Maart 1990 met verlof was en dat hy die res van die maand gewerk het. Op 10 en 26 April 1990 het beskuldigde 2 laat by die werk opgedaag. Tshabalala het eers gesê dat sy eie rekords al hierdie feite kan bevestig, maar nadat die

7

saak uitgestel is sodat hy sy boeke kon bekom, was hy nie in staat om enige sodanige rekords voor die verhoorhof te plaas nie en het hy gesê dat hy die boek waarin die relevante inskrywings ten opsigte van beskuldigde 2 gemaak is, weggegooi het omdat dit vol was. Die verhoorlanddros wys in sy uitspraak daarop dat die boeke wat Tshabalala wel aan die hof getoon het as synde sy span se bywoningregisters, die tydperk vanaf die begin van 1989 dek en dat dit nog nie vol is nie. Tshabalala kon nie 'n bevredigende rede verstrek waarom beskuldigde 2 se werkrekord in 'n aparte boek aangeteken is nie.

Van die ander beskuldigdes het beskuldigdes 3, 6 en 7 getuig dat hulle nie op die toneel teenwoordig was nie en beskuldigde 4 het getuig dat hy bloot 'n toeskouer was maar vanweë die baie omstanders nie kon sien wie die misdaad gepleeg het nie.

Dat die klaer se aanvallers hulle skuldig gemaak het aan die

8

misdaad van openbare geweld, was nie voor ons in geskil nie. Die vraag vir beslissing is of sy getuienis voldoende is om te bewys dat beskuldigde 2 deelgeneem het aan die aanval op hom.

Die eerste probleem wat met die klaer se getuienis ontstaan, is dat sy getuienis in hoof weens 'n fout nie op band opgeneem is nie. Al wat voor ons geplaas ís, is die oorspronklike kriptiese notas van die verhoorlanddros en natuurlik sy uitspraak. Dit blyk nie dat enige poging aangewend is om die tekortkoming uit 'n ander bron aan te suiwer nie. Mnr Van Wyk, wat namens die staat voor ons verskyn het, het toegegee dat al wat die landdros se notas aandui, is dat beskuldigde 2 onder die mense was wat die klaer by sy huis aangetref het en dat beskuldigde 2 ook op die toneel was waar die klaer verbrand is. Wat die gebeure by laasgenoemde toneel betref, is die enigste verwysing na beskuldigde 2 in die landdros se notas die volgende :

9

"Accused 7 Thomas, 6, 2 and 3. No 4 was there. They said I am a witch. I denied. The rest were making a fire."

In kruisverhoor is die klaer gevra welke verdagtes se name hy aan die polisie verstrek het. Hoewel sy antwoord nie heeltemal duidelik was nie, kan aanvaar word dat dit was dat hy beskuldigdes 3, 4, 6 en 7 se name genoem het maar nie dié van beskuldigde 2 nie. Op 'n verdere vraag of hy nog enige ander name aan die polisie gegee het, het hy bevestigend geantwoord maar bygevoeg dat dit die verkeerde name kon gewees het omdat hy toe nog pyn van sy wonde verduur het. In verdere kruisverhoor is hy gevra om die naam te noem van enige persoon wat onder die groep by sy huis was en hy het geantwoord dat hy nie die name kan onthou nie, maar tog gesê dat beskuldigdes 4 en 7 die leiers van die groep was wat sy huis deursoek het. Hiema is hy pertinent gevra of beskuldigdes 2, 3, 6 en 7 by sy huis was, waarop hy

10

geantwoord het dat hulle die vuur gemaak het. Kort daarna het hy egter gesê dat slegs beskuldigde 3 die vuur gemaak het. Volgens die landdros se bo-aangehaalde nota het hy egter in sy hoofgetuienis gesê dat persone ander dan beskuldigdes 2, 3, 6 en 7 die vuur gemaak het. Daarteenoor het hy gedurende sy kruisverhoor, op 'n vraag oor wat beskuldigde 2 sou gedoen het, geantwoord : "all of them were poking the fire".

In die lig van sy antwoorde in kruisverhoor, veral sy stelling dat hy moontlik die verkeerde name aan die polisie verstrek het, moet daar twyfel bestaan oor die klaer se hoofgetuienis dat beskuldigde 2 op die toneel was. Verder, en in elk geval, het hy in kruisverhoor nie een keer self verwys na enigiets wat beskuldigde 2 sou gedoen het wat aantoon dat beskuldigde 2 hom aktief vereenselwig het met die aanval nie. En sy antwoorde op vrae toe beskuldigde 2 se naam aan hom genoem is deur die vraesteller, was

11

so teenstrydig dat geen gewig daaraan geheg kan word nie.

Die verhoorlanddros was besonder beindruk deur die klaer as persoon en die wyse waarop hy getuig het. By 'n versigtige deurlees van sy getuienis is daar egter soveel onbevredigende aspekte, onduidelikhede en weersprekings in sy getuienis dat hy allermins aan die vereistes wat vir 'n enkelgetuie soos hy gestel word, voldoen. Na my mening is sy getuienis onvoldoende om beskuldigde 2 se aandadigheid aan die misdaad bo redelike twyfel te bewys.

Wat die alibi-getuienis betref, sê die landdros in sy uitspraak dat hy nie kan bevind dat Tshabalala 'n leuenaar is nie, maar dat sy weergawe nogtans, vanweë die gebrek aan korroborasie, nie aanvaar kan word nie. Dit is duidelik dat die landdros hier verwys na die registers waaruit beskuldigde 2 se teenwoordigheid by die werk bepaal sou kon word. Daar is heelwat onbevredigende

12

aspekte in Tshabalala se getuienis. Dit staan egter onbetwis dat beskuldigde 2 ten tyde van die pleging van die misdaad in diens was as veldwagter by Lulekane en dat hy in 'n span onder Tshabalala gewerk het. Dit is ook gemene saak dat beskuldigde 2 vanaf 7 tot 12 Maart 1990 op verlof was en dat hy op 9 Maart 1990 gearresteer is. Daar was dus goeie rede vir Tshabalala om te onthou of beskuldigde 2 enkele dae vantevore, op 4 Maart 1990, by die werk was of nie. In hierdie omstandighede is die landdros se rede vir die verwerping van Tshabalala se getuienis, naamlik dat die bywoning-registers nie voorgelê is nie, nie geregverdig nie. Na my mening verleen Tshabalala wel stawing aan beskuldigde 2 se getuienis en, in die lig daarvan, kan die redelike moontlikheid dat beskuldigde 2 se alibi die waarheid is, nie uitgesluit word nie.

Vir die bogemelde redes slaag die appêl en beskuldigde 2 se

13

skuldigbevinding en vonnis op aanklag 2 word tersyde gestel.

W. VIVIER AR.

F H Grosskopf AR)

Stem saam. P J J Olivier AR)

▲ To the top