Saak No 134/94
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JACOBUS JOHANNES DE RU Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF,F H GROSSKOPF et SCHUTZ ARR DATUM VAN VERHOOR: 2 November 1995 DATUM GELEWER: 23 November 1995
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
2
Die appellant, 'n kaptein in die Suid-Afrikaanse
Polisie, is in die Vrystaatse Provinsiale Afdeling aangekla op twee klagtes van moord en twee klagtes van verydeling of belemmering van die regspleging. Na 'n verhoor voor Wright R en assessore is hy skuldig bevind op een van die klagtes van moord en een van die klagtes van verydeling of belemmering van die regspleging. Met betrekking tot die ander klag van moord is hy skuldig bevind aan strafbare manslag. Op die verdere klag van verydeling of belemmering van die regspleging is hy onskuldig bevind. Hy is soos volg gevonnis: vir moord, dertien jaar gevangenisstraf; vir strafbare manslag, vyf jaar gevangenisstraf; en vir verydeling of belemmering van die regspleging, vier jaar gevangenisstraf. Die hof het gelas dat hierdie vonnisse samelopend uitgedien word. Met verlof van die verhoorhof kom die appellant nou in hoër beroep teen sy skuldigbevindinge op die klagtes van moord en
3 verydeling of belemmering van die regspleging, en teen
die vonnis op die klag van strafbare manslag.
Die klagtes teen die appellant het gespruit uit
twee insidente, een in Junie 1990 in die distrik
Kroonstad, en die ander in Januarie 1991 in die distrik
Sasolburg. In albei gevalle het die appellant 'n
verdagte wat reeds in hegtenis was, doodgeskiet en het
hy hom by sy verhoor beroep op die bepalings van art
49(2) van die Strafproseswet, 51 van l977, waarkragtens
doodslag ten einde vlug te voorkom by inhegtenisneming
onder sekere omstandighede gewettig word. In die
Sasolburg saak is hierdie verweer verwerp en die
appellant gevolglik aan moord skuldig bevind. Die
skuldigbevinding aan verydeling of belemmering van die
regspleging spruit uit die appellant se pogings om die
feite van die saak te verdoesel. In die Kroonstad saak
het die verweer gegrond op art 49(2) ten dele geslaag
en is die appellant slegs aan strafbare manslag skuldig
4 bevind. Gerieflikheidshalwe behandel ek eers die
skuldigbevinding aan moord in die Sasolburg saak.
Destyds, d w s in Januarie 1991, was die appellant, toe nog bloot 'n luitenant, die stasiebevelvoerder op Sasolburg. Die staat se weergawe kan soos volg opgesom word.
Op 2 Januarie 1991 het die appellant saam met drie ander polisie-beamptes, konst Nel, konst Hammond en sers Van Jaarsveld, per motor na Soweto gery om getuienis af te lê. Hulle het laterig die middag teruggekeer. Toe hy naby Sasolburg kom, het die appellant die polisiekantoor per radio gevra of enigiets belangwekkends gebeur het in sy afwesigheid. Ene adjudant-offisier (tans luitenant) Herbst het hom vertel van 'n rooftog op 'n bejaarde man in Kragbron in die distrik Sasolburg. 'n Verdagte, ene Mofokeng, was reeds in hegtenis geneem en het ook al sy skuld beken. Hy was bereid om uitwysings te doen. Die appellant het
5 aangebied om te help met die uitwysings, en Herbst het
sy aanbod aanvaar. Daar is gereël dat die appellant vir
Herbst by 'n kruispad sou ontmoet en dat Mofokeng dan
aan die appellant oorhandig sou word.
Op pad na die kruispad is sers van Jaarsveld afgelaai. Hammond en Nel was dus nog saam in die motor.
By die kruispad het die appellant vir Herbst ontmoet. Hy was in 'n bussie saam met Mofokeng en 'n klompie ander polisie-amptenare. Herbst het Mofokeng aan die appellant oorgegee. Een van die polisie-lede in Herbst se geselskap, konst Pienaar, het ook saam met die appellant gegaan. Hammond het bestuur, en die appellant het langs hom gesit, Die ander drie, d w s Nel, Pienaar en Mofokeng, was op die agterste bank.
Mofokeng het beduie hoe hulle moes ry, en hulle geneem na 'n woonhuis in Kragbron. Daar het hy sekere uitwysings gedoen. Die slagoffer van die rooftog het Mofokeng uitgeken as die persoon wat hom beroof het.
6 Na hierdie uitwysings het die groep weer in die
motor geklim. Hammond het steeds bestuur. Die appellant
het hom aangesê om te ry na 'n plaas Beltrim. Daar
aangekom het die appellant eers na die plaashuis gegaan
om die eienaar te vertel dat hulle 'n polisie-optrede
op die plaas sou onderneem. Vandaar het die appellant
aangewys dat Hammond op 'n plaaspad moes ry wat tussen
'n pypleiding en 'n draadheining geloop het. By 'n
sekere punt het hy Hammond aangesê om stil te hou. Toe
die motor tot stilstand kom het hy Mofokeng beveel om
uit te klim. Mofokeng het so gemaak maar gesê dat hy
niks van die plek weet nie. Die appellant het hom van
agter in die rigting van die draad gestuur. Hulle het
deur die draad geklim. Die appellant het Mofokeng van
agter aan sy hemp vasgehou, en hulle het verder geloop.
Toe hulle naby 'n klompie bome kom, stamp die appellant
Mofokeng vorentoe, haal sy vuurwapen uit, en skiet hom
in die rug. Mofokeng was nie onmiddellik dood nie, maar
7 het kort daarna gesterf.
Die appellant het vir Hammond aangesê om aan die
ander kant van die pypleiding twee skote in die grond
te skiet wat dan voorgegee sou word om waarskuwingskote
te wees. Die saak is per radio gerapporteer. Adjudant-
offisier Herbst, luit (tans kapt) Symington (die
diensoffisier), sers Morrison ('n fotograaf), en ander
polisie-amptenare het daarna op die toneel gekom. Die
meeste van die praatwerk is deur die appellant gedoen.
Sy weergawe was dat Mofokeng vir hom en Hammond geneem
het na 'n plek aan die ander kant van die pypleiding.
Daar het Mofokeng probeer weghardloop. Waarskuwingskote
is geskiet, maar Mofokeng het aangehou hardloop. Toe hy
naby die bome kom, was die appellant bang dat hy sou
wegkom, en het hom gevolglik in die rug geskiet.
Hammond, wat teenwoordig was toe hierdie weergawe aan
Symington en Morrison gegee is, het nie teëgestribbel
nie. Hy het getuig dat die appellant aan hom gesê het
8
om die praatwerk aan hom (d w s, die appellant) oor te
laat. Later het die appellant aan hom voorgesê wat sy weergawe moes wees, en hom inderdaad gehelp om 'n verklaring op te stel.
By die verhoor het Hammond, Nel en Pienaar getuig. Hammond se weergawe was die mees gedetailleerde, en word gestaaf deur dié van die ander twee. Hoewel daar verskille is, was al drie dit eens dat dit die appellant was wat die rigting aangedui het na die toneel, en dat Mofokeng nooit aan die ander kant van die pyplyn was soos deur die appellant beweer nie. Daarbenewens staaf veral Nel ook heelwat van die besonderhede van Hammond se weergawe.
Die appellant het self ook getuig en die weergawe herhaal wat hy van die begin af gegee het, d w s, dat die oorledene 'n punt op die plaas Beltrim gaan uitwys het, probeer weghardloop het, en geskiet was in 'n poging om hom weer in hegtenis te neem.
9
Voordat ek die getuienis in groter besonderheid
oorweegisdit geleë om die toepaslike regsbeginsels te
behandel. Art 49 van die Strafproseswet lui soos volg:
"49 (1) Indien iemand wat ingevolge hierdie Wet gemagtig is om 'n ander in hegtenis te neem of om met sy inhegtenisneming behulpsaam te wees, poog om so 'n persoon in hegtenis te neem en so 'n persoon -
(a) hom teen die poging verset en nie sonder
die aanwending van geweld in hegtenis geneem
kan word nie; of
(b) vlug wanneer dit duidelik is dat 'n
poging gedoen word om hom in hegtenis te
neem, of hom teen die poging verset en vlug,
kan die aldus gemagtigde persoon, ten einde die inhegtenisneming uit te voer, die geweld aanwend wat in die omstandighede redelikerwys nodig is om die verset te bowe te kom of om die betrokke persoon te verhinder om te vlug.
(2) Waar die betrokke persoon in hegtenis geneem staan te word weens 'n in Bylae 1 bedoelde misdryf of in hegtenis geneem staan te word op grond daarvan dat hy redelikerwys verdink word so 'n misdryf te gepleeg het, en die persoon wat ingevolge hierdie Wet gemagtig is om hom in hegtenis te neem of om met sy inhegtenisneming behulpsaam te wees, hom nie op 'n ander wyse in hegtenis kan neem of kan verhinder om te vlug as deur hom te dood nie, word die doding geag straffelose doodslag te wees."
10 Dit is geykte reg dat die las op die beskuldigde
rus om die regverdigingsgronde uiteengesit in artikel
49(2) te bewys (sien S v Swanepoel 1985 (1) SA 576 (A)
op bll 5831 tot 588F en S v Barnard 1986 (3) SA 1 (A)
op bll 5H-I en 7G-J.) Namens die appellant is egter betoog dat art 49(2) net met wederregtelikheid te doen het - dit doen nie af aan die Staat se verpligting om die ander elemente van die misdaad, en, in besonder, mens rea, te bewys nie. Hierdie betoog is myns insiens 'n oorvereenvoudiging. In beginsel is dit natuurlik so dat art 49(2) eers ter sprake kom wanneer daar bewys is van omstandighede wat, in die afwesigheid van die sub-artikel, 'n misdaad sou uitmaak. Waar daar 'n aanklag van moord is, sou die Staat dus moet bewys dat die beskuldigde die oorledene opsetlik gedood het. Tot daardie mate, minstens, moet die Staat dan ook mens rea bewys. Namens die appellant is egter betoog dat die Staat nog verder moet gaan - hy moet ook
11
wederregtelikheidsbewussyn bewys. Die antwoord op hierdie betoog, meen ek word gevind in Barnard se saak, supra, op bl 8E tot 9C. In die onderhawige geval kon die appellant sy optrede as regmatig beskou het slegs vanweë die bepalings van art 49(2). Geen ander verskoning vir sy optrede is denkbaar in die lig van die feite nie. As 'n mens veronderstel dat die afwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn geopper kan word met betrekking tot die vereistes van art 49 (2) volg dit feitlik vanself dat die beskuldigde die bewyslas sou moes dra. 'n Beroep op die afwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn sou in so 'n geval onregstreeks 'n beroep op die artikel insluit. 'n Beskuldigde, wat nie kan bewys dat hy inderdaad deur art 49(2) beskerm word nie, kan skaars geregtig wees op sy ontslag omdat daar 'n redelike twyfel bestaan of hy bewus was dat hy nie sodanige beskerming het nie. Ek hoef hierdie kwessie egter nie verder te bespreek nie,
12 want soos hierna sal blyk is daar in elk geval geen
sprake van afwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn
in hierdie saak nie.
Die bewyslas om verydeling of belemmering van die regspleging te bewys berus natuurlik op die staat.
Dit bring my dan by die feite. Die hof a quo het, na 'n versigtige ontleding van die feite, die getuienis van Hammond, Nel en Pienaar aanvaar, onder meer op grond daarvan dat hulle 'n goeie indruk op die hof gemaak het. Die appellant se getuienis is verwerp. As gevolg van hierdie gevolgtrekkings het die hof bevind dat art 49(2) nie van toepassing was nie, selfs al sou die bewyslas op die staat gerus het. Ook is bevind dat die staat die aanklag van verydeling of belemmering van die regsproses bewys het. Die gronde hiervoor was dat die appellant vir Hammond beweeg het om 'n verklaring te maak waarin valslik te kenne gegee is dat die oorledene uit wettige bewaring probeer ontsnap het en
13
waardeur ook te kenne gegee is, dat die appellant
geregtig was om die oorledene te dood. Ander pogings is ook aangewend om die ware omstandighede waaronder die oorledene gedood is te verdoesel.
In argument voor ons het mnr Bredenkamp, wat namens die appellant opgetree het, betoog dat die verhoorhof die getuienis verkeerd beoordeel het. Veral is daar 'n sterk aanval gerig op Hammond se geloofwaardigheid. In wat hierop volg is ek nie van plan om elke argument wat in 'n deeglike en volledige betoog geopper is, te behandel nie. Almal is oorweeg maar ek bepaal my by die belangrikstes.
Hammond het aanvanklik 'n verklaring gemaak wat die appellant se weergawe gestaaf het en het later daarvan afgewyk. Hy sê dat hy onmiddellik na die insident gevoel het dat hy ook geïmpliseer was en nie kans gesien het om die appellant te weerspreek nie. Later, onder omstandighede wat ekhierna sal behandel,
14 het hy besluit om met die waarheid voor die dag te kom.
Waar hy dus twee teenstrydige houdings ingeneem het
moet ' n mens uiteraard sy getuienis met ' n mate van
skeptisisme bejeën. Daarbenewens was daar ook ander
punte van kritiek.
Daar is veral nadruk gelê op verskille tussen
Hammond se getuienis en dié van Symington. Hammond het
getuig dat die appellant hom gehelp het om sy
verklaring op te stel en dat dit toe getik is en aan
Symington gegee is. Hy het dit nooit met Symington
bespreek nie. Symington daarenteen het getuig dat daar
'n afwyking was tussen die skietverslag wat hy
(Symington) opgestel het, en Hammond se verklaring oor
die getal waarskuwingskote wat Hammond sou geskiet het.
Symington het hierdie verskil by Hammond geopper en
Hammond het dit verduidelik. Volgens hom was daar dus
wel 'n bespreking van Hammond se verklaring. Dan sê
Symington dat hy die getal patrone in Hammond se
15 vuurwapen getel het ná die skietvoorval. Hammond ontken
dit. Daar is verder verskille oor hoeveel inligting
Hammond aan Symington verskaf het by die toneel.
Die verhoorhof het die getuienis van Hammond
verkies bo dié van Symington. Die verhoorregter wys
daarop dat Symington se ondersoek van die saak taamlik
oppervlakkig was. Hy het verklarings geneem net van
Hammond en die appellant, terwyl dit gemene saak was
dat minstens Pienaar ook op die toneel was (soos ek
later meer volledig sal aantoon is daar 'n dispuut of
Nel hoegenaamd daar was). Dan was hy ook net die
betrokke aand by die toneel. Dit was later te donker om
verder foto's van die toneel te neem, en daar was
ooreengekom dat Morrison die volgende oggend sou
voortgaan. Die volgende oggend het Symington nie
saamgegaan nie. Die appellant het self die uitwysings
gedoen. Dit is sekerlik buitengewoon dat die persoon
wie se optrede ondersoek word self in beheer is van die
16 insameling van getuienis. Symington het die saak dus
taamlik lig opgeneem, en dit sou nie verbasend wees as
hy sekere gebruiklike stappe nie gedoen het nie. So
byvoorbeeld sou daar geen besondere punt gewees het om
die getal koeëls te tel nie, en dit klink ook nie
onwaarskynlik dat hy nie veel verdere aandag aan
Hammond se verklaring sou gegee het nie. Vir Hammond
was die saak egter van groot belang, en ' n mens sou
verwag dat sy geheue meer betroubaar sou wees. Die
verhoorhof het ook kommentaar gelewer oor Symington se
houding in die getuiebank. Alles in ag genome is daar
m i geen rede om af te wyk van die verhoorhof se
beskouing oor Symington se getuienis nie.
In argument is daar ook veel gewag gemaak van
verskille tussen Hammond se getuienis en dié van
Morrison. Myns insiens is hierdie verskille nie van
veel belang nie. Dit gaan oor wat presies Hammond gesê
en gedoen het by die uitwysing van punte aan Morrison
17
op die aand van 2 Januarie en die volgende oggend. Dit
is gemene saak dat Hammond op daardie stadium die appellant se weergawe beaam het. Verskille oor hoe aktief hy dit gedoen het is maklik vereenselwigbaar met eerlike herinneringsfoute. Dit is nie in geskil dat dit die appellant was wat die hoofrol gespeel het en dat Hammond hom net bygestaan het nie.
Ten opsigte van Hammond se verklaring aan Symington, het Hammond in getuienis aanvaar dat hy meineed in die verklaring gepleeg het, maar het beweer dat hy daartoe beweeg is deur die appellant. Onder kruisverhoor sê hy egter dat hy inderdaad nie die verklaring voor Symington beëdig het nie, maar dat Symington dit later op sy eie as kommissaris van ede geteken het. Tegnies was hy dus, indien hierdie weergawe korrek was, nie skuldig aan meineed nie, en daar is betoog dat sy erkenning van meineed op 'n teenstrydigheid in sy getuienis neerkom. Ek stem nie
18 saam nie. Hy het te alle tye voorsien dat sy verklaring
beëdig sou word en as hy verkeerdelik onder die indruk
was dat so 'n verklaring as meinedig bestempel kan word
dui dit nie op leuenagtigheid aan sy kant nie. En dit
is volgens die getuienis van ander polisie-amptenare,
nie ongebruiklik om verklarings van lede van die mag op
hierdie manier te beëdig nie.
Hammond is ook gekritiseer oor sy getuienis dat
die appellant hom eers vertel het wat sy weergawe moes
wees toe hulle reeds op pad terug dorp toe was nadat
die ondersoek van die toneel weens die donkerte gestaak
is. Hoe is dit dan, word gevra, dat Hammond vir
Symington en Morrison by die toneel aanduidings kon gee
dat die oorledene geskiet is in 'n poging om sy
ontvlugting te verhinder? Ek dink dat enige persoon in
Hammond se skoene sou bewus gewees het dat dit die
appellant se verweer sou wees, veral nadat Hammond
aangesê was om fiktiewe waarskuwingskote af te vuur.
19 Dieselfde oorweging geld vir die getuienis van Scott,
die eienaar van die plaas Beltrim, dat iemand
(waarskynlik Hammond), 'n flits by hom kom leen het en
soortgelyke stellings gemaak het. Hammond kon nie die
insident onthou nie, maar as hy ook teenoor Scott te
kenne gegee het dat daar op 'n voortvlugtende geskiet
was, sou dit heeltemal te rym wees met sy aanvanklike
voorneme om die appellant se weergawe te staaf.
Daar was ook getuienis dat Hammond op 'n later
tydstip aan 'n dr Loubser 'n mededeling gemaak het wat
tot 'n mate ooreenstem met die appellant se weergawe.
Onder die omstandighede is dit ook nie verbasend nie.
Indien Hammond se getuienis alleen gestaan het,
sou dit moontlik nie genoeg gewees het vir 'n
skuldigbevinding nie. Dit word egter in wesentlike
opsigte gestaaf deur dié van Nel en Pienaar. Hammond,
Nel en Pienaar was die appellant se ondergeskiktes in
die polisiemag. Volgens die getuienis het hulle die
20
appellant gerespekteer en 'n vriendskaplike verhouding
met hom gehad. Dit is 'n baie sterk aspek van die staat se saak dat al drie hierdie getuies die appellant se weergawe weerlê. Hulle is die enigste persone behalwe die appellant wat op die toneel was, en in die breë skets hulle dieselfde prentjie (ek kom later terug op sekere teenstrydighede).
Die appellant se betoog was dat Nel glad nie op die toneel was nie, en dat Hammond en Pienaar onder druk geswig het om onwaarhede te vertel, in Pienaar se geval miskien te goeder trou. Ek behandel eers Nel se beweerde afwesigheid.
Die appellant kon nie onthou of Nel die bepaalde dag saam Soweto toe was nie, en daar is dus geen rede om Hammond en Nel se getuienis hieromtrent in twyfel te trek nie. Polisierekords of hofrekords sou seker kon aantoon as Nel nie op daardie dag vir getuienislewering in Soweto nodig was nie, en ek kan my skaars voorstel
21 dat die getuies hieromtrent sou lieg. Daar was geen
suggestie dat Nel, soos Van Jaarsveld, afgelaai was
voordat die appellant by die kruispad vir Herbst
ontmoet het nie. Prima facie wil dit dus voorkom dat
Nel waarskynlik wel toe nog in die motor was. Herbst
kon nie onthou of hy daar was nie.
Ene konst Smit, wat in Herbst se groep was, het
egter namens die verdediging getuig dat Nel nie saam
met die appellant by die kruispad was nie. Destyds het
Nel en Smit beide by hul woonkwartiere en by dle
kantoor kamers gedeel, en Smit getuig ook dat Nel nooit
die saak met hom bespreek het nie. Wat Nel se
aanwesigheid by die kruispad betref, kon Smit natuurlik
maklik 'n fout maak. Die bymekaarkoms was 'n roetine-
aangeleentheid waar heelparty mense teenwoordig was.
Hulle was kollegas wat mekaar dikwels by verskillende
plekke en onder verskillende omstandighede teengekom
het. Daar is getuienis dat almal uitgeklim het en
22
mekaar 'n gelukkige nuwejaar toegewens het, maar dit
sou seker nie langer as 'n paar minute geduur het nie. Ek sou dus eerder die getuienis van Nel, wat direk betrokke was, aanvaar as dié van Smit, wat jare later getuig oor wie aanwesig was by 'n vlugtige en onbelangrike insident soos hierdie. En daarby was Smit se geheue oor wat presies by die geleentheid gebeur het, ook gebrekkig. So, bv, getuig hy dat Hammond daar was (op bl 827-8) - "Ek onthou Hammond presies goed omdat hy aan die linkerkant van die kar gesit het in die ... passassier se kant ... toe hulle daar aangekom het. . . . Toe hulle vertrek het hy weer aan die passassierskant gesit". Op die vraag: "Is u baie seker daarvan?" antwoord hy :"Doodseker". Dit is gemene saak dat Hammond die voertuig bestuur het en Smit se dogmatiese stelling tot die teendeel was dus duidelik verkeerd. Die feit dat Nel nie die saak met Smit bespreek het nie, is ook verstaanbaar onder die
23
omstandighede. Die was iets wat 'n mens miskien liefs
sou wou probeer vergeet.
Die volgende passasie in kruisverhoor (op bl 825)
werp ook twyfel op die waarde van Smit se getuienis:
"Waar was u Vrydagaand, nou Vrydagaand?
Vrydagaand wat verby is?
Ja. — Ek was die meeste van die tyd by die huis
en dan was ek ook in, nou Vrydag, ek was heel aand
by die huis Vrydagaand, dit is korrek.
U was Vrydagaand by die beskuldigde se huis ook.
— Ek was by hom gewees. Dit is reg, ja.
Hoekom noem u dit nie? — Vyf minute.
Hoekom het u dit nie genoem nie? — Dit het my
ontgaan."
Weens die voorgaande meen ek nie dat Smit se getuienis die saak veel verder voer nie.
Namens die appellant is daar heelwat kritiek op Nel se getuienis gelewer. Nel se beskrywing van die huis in Kragbron waar Mofokeng uitwysings gedoen het was duidelik onakkuraat. Daar is 'n verskil tussen hom en Pienaar oor wat presies Nel by die huis gedoen het. Daar is ook verskille tussen Hammond, Nel en Pienaar oor besonderhede van wat by die skiettoneel plaasgevind
24
het. Die verhoorhof het hierdie verskille oorweeg en
beslis dat hulle nie afdoen aan die algemene geloofwaardigheid van die getuies nie. Ek stem saam hiermee.
Daar was verder getuienis dat, toe hierdie saak op die lappe gekom het in 1992, Pienaar en Hammond aanvanklik onseker was of Nel die vierde polisie-amptenaar was wat die betrokke aand saamgegaan het. Daar moet egter onthou word dat hulle hieroor heeltemal op hul geheues aangewys was. Luit Symington se skietverslag en ander amptelike rekords, insluitende die verklarings van die appellant en Hammond, het die indruk geskep dat niemand behalwe die appellant en Hammond op die toneel was nie. Onder die omstandighede meen ek nie dat Pienaar en Hammond se aanvanklike onsekerheid enige twyfel kan werp op die akkuraatheid van hul latere bevestiging van Nel se getuienis dat hy ook teenwoordig was nie.
25
Soos reeds gemeld probeer die appellant om die
getuienis van hierdie drie getuies af te maak as foute of versinsels wat veroorsaak is deur druk op hulle. Hierdie druk, het hy te kenne gegee, was 'n poging om hom te diskrediteer as gevolg van 'n ondersoek wat hy in 1991 teen lede van die Misdaadinligtingsdiens gedoen het. Nie een van die persone wat die saak teen die appellant ondersoek het was egter betrokke by sy eie vorige ondersoek nie. Volgens die staatsgetuienis het die saak teen die appellant amper toevallig ontstaan. Kol Cressy en 'n span polisielede was besig met 'n ondersoek na die sogenaamde Vaalpark insident. Hoewel daar heelwat sydelingse verwysings na hierdie insident in die getuienis voorkom, is die aard daarvan nooit duidelik uiteengesit nie. Blykbaar was sommige van die huidige dramatis personae ook daarby betrokke. Die Vaalpark ondersoek het nie vlot verloop nie. As gevolg van sekere visuele stof het kol Cressy die indruk gekry
26
dat sommige betrokkenes nie die waarheid praat nie. Hy
het hulle gekonfronteer met sy inligting. Onder die persone wat ondervra was, was Hammond. Hy het getuig dat na 'n lang ondervraging oor die Vaalpark saak hy gevra is deur ene kapt Hugo of hy van enige ander ongerymdhede weet. Hy het toe vertel van die onderhawige saak. Dit is hoe dit op die lappe gekom het. Die ondersoek na die onderhawige saak het toe in Mei 1992 begin.
Volgens die polisiegetuies was Pienaar die enigste getuie in die onderhawige saak op wie 'n mate van druk geplaas is. Kol Cressy kon nie verstaan hoekom Pienaar, wat volgens sy getuienis in die motor op die toneel was, so min gesien het nie. Pienaar se verduideliking aan hom was dat dit Tweede Nuwejaar was, en hy aan babalaas gely het. Hierdie ondervraging het Pienaar genoop om by mense, insluitende kapt Marx, te kla dat van hom verwag word om dinge te sê waarvan hy nie weet
27 nie. Hy het, volgens sy getuienis, egter voet by stuk
gehou, en niks meer in getuienis vertel as wat hy
werklik kon onthou nie. Inderdaad het Pienaar nie veel
waargeneem van wat gebeur het nie, maar, soos hierbo
genoem, bied sy getuienis nogtans sterk stawing vir
Hammond en Nel.
Namens die appellant was daar getuienis dat
Hammond aan sekere mense gesê het dat daar druk op hom
was om teen die appellant te getuig. Tot die mate wat
Hammond dit erken het, het hy verduidelik dat hy
ontslae wou raak van hierdie persone, en dat hy aan
hulle antwoorde gegeê het wat hulle sou laat ophou om
hom te pla. 'n Mens kan verstaan dat Hammond voor die
verhoor sy rol in die optrede teen die appellant so
gering as moontlik sou wou laat voorkom, en ek meen nie
dat hierdie getuienis enige werkilke stawing bied vir
die teorie dat die saak teen die appellant gefabriseer
is nie.
28
Uit die getuienis is daar dus na my mening geen
regverdiging vir 'n bevinding dat druk op die getuies uitgeoefen is om die appellant vals te inkrimineer nie. En die inhoud van hul getuienis gee ook nie die indruk van 'n ooreengekome storie nie. Daarvoor is daar te veel verskille in besonderhede, en te veel leemtes vanweë 'n besondere getuie se afsonderlike waarnemings. Soos reeds gesê het Pienaar eintlik min waargeneem, hoewel dit belangrik was. Nel het oor heelwat meer getuig, maar het nie die werklike skoot gesien nie. Hammond, wat die volledigste weergawe gee, vertel weer van insidente wat, as hulle gebeur het, nie deur die ander waargeneem is nie, of reeds vergeet is. Daar is voor ons betoog dat hierdie verskille afdoen aan die geloofwaardigheid van die getuies se getuienis. Die verhoorhof het bevind dat, in die lig van die groot mate van ooreenstemming in die getuies se weergawes en met inagneming van die tydsverloop, hierdie
29
weersprekings nie 'n wesentlike swakheid in hul
getuienis is nie. Ek stem saam.
Weens die voorgaande meen ek dat daar geen genoegsame gronde is om die verhoorhof se aanvaarding van die getuienis van Hammond, Nel en Pienaar aan te veg nie.
Dit bring my dan by die appellant. Die verhoorhof het gewys op sekere gebreke in die appellant se getuienis, soos 'n paar weersprekings wat m i nie juis belangrik is nie. Dan word tereg gesê dat die appellant soms vaag en ontwykend was. Hoof saaklik het die verhoorhof egter staatgemaak op 'n aantal onwaarskynlikhede in die appellant se getuienis. Almal van hulle is nie ewe gewigtig nie, maar vir my is veral belangrik dat die appellant se weergawe oor hoe die skietery plaasgevind het uiters onwaarskynlik voorkom. Dit is duidelik dat Mofokeng voor die vertrek na Beltrim reeds genoeg besonderhede verskaf het om sy
30
skuldigbevinding te verseker. Volgens die appellant sou
hy op die plaas uitwys waar hy die geld en die mes versteek het. Vroeër het hy aan ander polisie-amptenare gesê dat hy die geld in 'n smokkelhuis verloor het. Die eerste plek waarnatoe hy gaan op Beltrim is op 'n oop vlakte, en daar gee hy te kenne dat hy nie kon onthou waar hy die artikels versteek het nie. Nou, eerstens, as hy werklik geld versteek het, sou hy dit skaars op daardie plek gedoen het, en sou hy onthou het waar dit was. Aan die ander kant, as dit 'n vals uitwysing was om hom 'n kans te gee om te ontsnap sou hy nie daardie punt uitgesoek het nie. Soos gemeld, was dit op 'n kaal vlakte, en volgens die appellant het Mofokeng gehardloop in 'n rigting waar hy geweet het die motor gestaan het met minstens een polisieman, t w, Pienaar, wat hom daar kon voorkeer. Hy het geen ag geslaan op die waarskuwingskote nie, en kon oor die pypleiding en deur die draad kom sonder om ingehaal te word. Dit
31 alles klink uiters vergesog. Verder is dit opmerklik
dat hierdie beweerde uitwysings gedoen is sonder die
teenwoordigheid van 'n fotograaf. Dit is teenstrydig
met die polisie se gewone werkswyse.
Namens die appellant is betoog dat die Staat se
weergawe ewe onwaarskynlik is. Kan dit aanvaar word, is
gevra, dat die appellant met voorbedagte rade sou gaan
om 'n moord te pleeg terwyl drie niks-vermoedende
kollegas in die motor is as getuies? Sekerlik sou 'n
gewone mens nie so iets doen nie, maar dan, moord is 'n
buitengewone daad. Hier was die drie getuies sy
onderhoriges, en sou hulle nie graag hul bevelvoerder
in die moeilikheid probeer kry nie, veral waar dit op
die ou einde sy woord teen dié van elk van hulle sou
wees. Hammond is formeel as getuie ingebring deur 'n
vals verklaring van hom te kry. Pienaar en Nel se
teenwoordigheid is nie in die amptelike stukke genoem
nie, en hulle is weerhou van optrede o m daardeur dat
32
elk van hulle geglo het dat Hammond die appellant sou
ondersteun. Die appellant kon met rede geglo het dat nie een van die drie sou waag om hom te probeer verklap nie. Inderdaad was sy beskouiing korrek, en was dit weens die toevalligheid van die Vaalpark insident dat die waarheid aan die lig gekom het.
Dan is daar betoog dat die appellant geen motief gehad het om Mofokeng te vermoor nie. Uiteraard kan 'n mens net hieroor bespiegel, maar die aanduidings is dat die appellant Mofokeng beskou het as 'n self-erkende rower wat sonder onnodige formaliteite tereggestel moes word.
Die verhoorhof se slotsom was dat die gebreke in die appellant se getuienis saam met die onwaarskynlikhede in sy verhaal en die feit dat dit onversoenbaar is met die aanvaarbare getuienis van veral Hammond en Nel, voldoende rede was om die betwiste dele van die appellant se getuienis bo
33
redelike twyfel te verwerp. Ek kan geen fout hiermee
vind nie.
Die aanvaarding van die getuienis van Hammond, Nel en Pienaar en die verwerping van dié van die appellant bring mee dat die appellant tereg skuldig bevind is op die klagtes van moord en belemmering van die regspleging spruitende uit die Sasolburg insident.
Dit bring my dan by die Kroonstad insident. Soos reeds gemeld was hierdie beweerde oortreding soortgelyk aan die Sasolburg saak deurdat 'n aangehoudene geskiet is terwyl hy na bewering probeer ontsnap het. Hier is die appellant se getuienis egter aanvaar dat hy probeer het om die oorledene te keer om weg te kom. Die skietery het plaasgevind naby 'n rietbos op 'n kleinhoewe. Volgens die aanvaarde getuienis het die oorledene in helder daglig probeer weghardloop toe hy ongeveer 6 meter voor die appellant was. Die appellant het 'n waarskuwingskoot geskiet, en toe dit nie gehelp
34
het nie het hy die oorledene tweekeer van agter in die
rug geskiet. Benewens die appellant was daar twee ander polisiemanne op die perseel. Die appellant het, na 'n mate van ontwyking, toegegee dat hy 'n goeie skut was. Onder hierdie omstandighede het die hof a quo bevind dat, as dit hoegenaamd nodig was om te skiet, die appellant na die oorledene se bene behoort te geskiet het. Die vereistes van art 49(2) is dus nie bewys nie, maar aangesien die appellant nie wederregtelikheidsbewussyn gehad het nie, het die verhoorhof hom net aan strafbare manslag skuldig bevind. Hierdie bevinding is nie op appél aangeveg nie, en soos reeds gemeld, is net die vonnis van vyf jaar gevangenisstraf tans ter sprake.
Namens die appellant is daar nie betoog dat die verhoorhof enige mistastings begaan het by vonnisoplegging nie. Ons kan die vonnis dus versteur slegs as dit so swaar is dat ons die af leiding kan maak
35
dat die verhoorhof nie 'n behoorlike diskresie
uitgeöefen het nie. Na my mening is dit nie die geval nie. Doodslag is altyd 'n ernstige saak. In die onderhawige geval was daar nie net 'n geringe mate van nalatigheid soos soms in sake van strafbare manslag voorkomnie. Die appellant het die oorledene doelbewus van agter doodgeskiet hoewel daar minder gevaarlike maniere was om sy herinhegtenisneming te bewerkstellig. Sy beskouing dat hy geregtig was om so op te tree, wat ons as bewese moet aanvaar, was myns insiens 'n onredelike een en sy gedrag was uiters laakbaar. Die appellant was 'n offisier in die polisiemag. Dit was sy plig om die reg te handhaaf en die publiek te beskerm. In plaas daarvan het hy onnodig geweld toegepas en 'n ander mens se dood veroorsaak. Die appellant se persoonlike omstandighede, waarop sy advokaat swaar gesteun het, is behoorlik deur die verhoorhof in ag geneem. Ten spyte van hierdie
36
omstandighede het die verhoorhof beskou dat 'n swaar
straf aangewese is, en ek stem saam. Die appèl teen die vonnis op die aanklag van strafbare manslag moet m i ook afgewys word.
Bygevolg word die appèl van die hand gewys.
E M GROSSKOPF, AR
F H GROSSKOPF, AR SCHUTZ, AR Stem saam