S v Sekonyela (49/1995) [1995] ZASCA 145 (27 November 1995)


NIE RAPPORTEERBAAR SAAKNOMMER: 49/95

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

IN DIE SAAK TUSSEN:

SENEKANE VINCENT SEKONYELA APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: SMALBERGER, STEYN et OLIVIER,

ARR

VERHOORDATUM: 21 NOVEMBER 1995

LEWERINGSDATUM: 27 NOVEMBER 1995

UITSPRAAK OLIVIER, AR:

Hierdie appèl illustreer maar net weer hoe versigtig daar met feite gewerk moet word.

2

Op 2 Desember 1992 het 'n roof en moord plaasgevind op die plaas Rosedale, 8 kilometer vanaf Odendaalsrus. Die 67-jange eienaar, Mnr Du Randt, is om die iewe gebring deur die aanvallers; sy 65-jarige eggenote is gruwelik aangerand en 'n aantal gewere en kledingstukke is uit die huis gesteel. Die aanvallers het buite op die werf 'n kapmes, 'n breekyster en 'n mansskoen agtergelaat. Ek verwys na hierdie gebeure as die Odendaalsrus-saak.

Op 13 Oktober 1992 het 'n roof plaasgevind op die plaas Trianon, in die distrik Wesselsbron. Die 75-jarige plaaseienaar, Mnr Le Roux, wat alleen op die plaas gewoon het, is aangerand en vasgebind en in sy huis agtergelaat. Na hierdie gebeure word verwys as die Wesselsbron-saak.

In Februarie 1993 het die appellant 'n verklaring aan sy

3

buurman, ene Efrick Makofane ("Efrick"), met die volgende inhoud gemaak: dat hy op 'n stadium na 'n sekere plaas gegaan het waar 'n blanke opstal is; dat hy nie alleen was nie; dat hy op die werf 'n blanke man vasgegryp het; dat die blanke man terugbaklei het; dat hy gevoel het dat die blanke hom oorweldig; dat hy toe weggehardloop het en dat hy daarna 'n skoot gehoor het.

Appellant is aangekla op drie aanklagte - moord, aanranding en roof - ten aansien van die Odendaalsrus-saak. Saam met hom was Piet Mosioeu en Isaac Shai aangekla.

Mosioeu en Shai is skuldig bevind aan die aanklagtes voortspruitende uit die Odendaalsrus-saak maar ook, in 'n ander verhoor, aan die aankïagtes voortspruitende uit die Wesselsbron-saak.

Appellant is in die Odendaalsrus-saak - waaruit hierdie appêl

4

voortspruit - aan die genoemde klagtes skuldig bevind en gevonnis. Op die moordklag is hy 22 jaar gevangenisstraf opgelê, op die aanrandingsklag 18 maande en op die roofklag 8 jaar gevangenisstraf.

Die basis van die skuldigbevindings teen appellant was uit-en-uit die verklaring wat hy aan Efrick gemaak het. Die appellant het nooit self getuig nie. Daar was ook geen ander getuienis teen hom nie. Die hof a quo het aanvaar dat hy volgens die verklaring homself op die misdaadtoneel geplaas het. Die verontskuldigende deel van die verklaring is as leuenagtig verwerp.

Die verhoorhof het sy aansoek om na hierdie Hof te appelleer, afgewys. Dit is egter deur hierdie Hof toegestaan.

By die verhoor van die appèl het Mnr Visser, wat, soos in die verhoor, namens die Staat opgetree het, getrou aan die hoogste

5

tradisies van die advokatuur, die hof meegedeel dat hy nou bedenkinge koester oor die korrektheid van die skuldigbevidinge. Hy het aangevoer dat hoewel almal by die verhoor (hyself inkluis) aanvaar het dat die appellant se reedsgenoemde verklaring aan Efrick betrekking het op die Odendaalsrus-saak, dit by 'n angsvallige bestudering van die rekord blyk dat daar nooit sodanige verband gelê is nie en dat die verklaring moontlik op die Wesselsbron-saak of selfs 'n heel ander insident betrekking kon hê. Mnr Visser het tereg aangevoer dat as sy bedenkinge steek hou, die appellant die voordeel van die twyfel moet ontvang en dat die appèl moet slaag.

'n Noukeurige studie van die rekord toon aan dat Mnr Visser se bedenkinge goed gefundeer is. Uit die rekord blyk die volgende: (i) Appellant het nie aan Efrick gesê waar en wanneer hy met die

6

blanke gestoei het en wie saam met hom was nie; hy het nooit gesê dat Mosioeu en Shai op die betrokke geleentheid saam met hom was nie.

(ii) Toe Efrick en appellant na die polisie gaan, was dit om Isaac Shai te gaan verkla.

(iii) By die Welkom-polisie aangekom, het appellant die beamptes aldaar meegedeel dat Shai gesoek word in verband met die Wesselsbron-saak. Efrick (wie se getuienis as geloofwaardig deur die verhoorhof aanvaar is) het getuig dat hy geen twyfel daaroor het dat appellant vir Shai gaan verklap het nie. Uit die voorgaande volg dat appellant se mededelings oor Shai met die Wesselsbron-saak verband hou.

(iv) Appellant het die kapswaard, breekyster en mansskoen wat op

7

die Du Randt-werf gevind is, as die eiendom van Shai geïdentifiseer. Nêrens het hy ooit verklaar waar hy aan hierdie kennis kom nie. Dit hou nie noodwendig verband met die Odendaalsrus-saak nie.

(v) Speurderkonstabel Kolobe van die Welkom roof- en moordafdeling het getuig dat appellant aan hom gesê het dat hy inligting aan die poïisie wii gee in verband met 'n gewapende roofsaak van Wesselsbron. Appellant het gesê dat Mosioeu en Shai by die Wesselsbron-saak betrokke was.

(vi) Kolobe het aan appellant gevra of hy moontlik vir hom inligting het in verband met die Odendaalsrus-saak, waarop appellant ontkennend geantwoord het. Uit hierdie getuienis van die appellant kan die afleiding

8

allermins gemaak word dat hy by die Odendaalsrus-saak betrokke was. Daar is geen ander getuienis om hom aan daardie saak te verbind nie. Mens kan wel spekuleer dat dit die onderhawige saak is, want volgens sy verklaring aan Efrick het hy in die nag op die plaaswerf met 'n blanke man gestoei, toe weggehardloop en later 'n skoot hoor afgaan. Uit die getuienis blyk dat Mnr Du Randt in die nag van 2 Desember 1992 buite op sy werf met 'n haelgeweer geskiet is. Hierdie oënskynlike ooreenkoms tussen die bewese feite en appellant se verklaring is egter te vaag om sy aandadigheid bo redelike twyfel te bewys. Daar is, benewens alle ander vaaghede, geen getuienis dat daar tydens die aanval in die Wesselsbron-saak, nie ook 'n skoot afgegaan het nie. In elk geval is daar nie eers feite waarop 'n mens kan aflei dat die gebeure deur appellant aan Efrick

9

vermeld, op die Wesselsbron-saak betrekking het. Vir al wat ons

weet en op die getuienis voor ons kon daardie gebeure op 'n heel

ander plek en tyd afgespeel het.

Die appèl slaag en die skuldigbevindings en vonnisse word tersyde

gestel.

SMALBERGER, AR )

)STEM SAAM

STEYN, AR )

P J J OLIVIER, AR

▲ To the top