Langeberg Voedsel Bpk v Sarculum Boerdery Bpk (64/1994) [1995] ZASCA 148 (28 November 1995)


SaakNo 64/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen :

LANGEBERG VOEDSEL BEPERK Appellant

vs

SARCULUM BOERDERY BEPERK Respondent

CORAM : JOUBERT, HEFER, STEYN, MARAIS et

SCHUTZ ARR

AANGEHOOR : 10 NOVEMBER 1995

GELEWER : 28 NOVEMBER 1995

UITSPRAAK

HEFER AR :

2

In die bevel waarteen geappelleer word, word die appellant gelas om vergoeding aan die respondent te betaal vir skade wat laasgenoemde gely het as gevolg van die gedeeltelike mislukking van sy suikermielie-oes weens 'n verborge gebrek in saad wat die appellant aan hom verskaf het. Wat in geskil is, is of die respondent voldoende getuienis voorgelê het om die appellant se aanspreeklikheid vir gevolgskade te grondves.

In die besonderhede van die respondent se vordering is die eis gefundeer,

eerstens, op 'n bewering (in paragraaf 5) dat die appellant die geskiktheid en

goeie gehalte van die saad uitdruklik of stilswyend gewaarborg het. Tweedens

word in paragraaf 3(b) beweer dat die appellant :

"onder andere handel gedryf [het] as verskaffer van plantsaad, insluitende suikermieliesaad...en openlik voorgegee dat dit ten opsigte van die saad oor eienskappe van bedrewenheid en deskundige kennis beskik."

Hoewel die betrokke bewerings in die verweerskrif ontken is en by die

3

verhoor steeds betwis was, het die verhoorhof bevind dat 'n waarborg stilswyend verleen is en dat die bewerings in paragraaf 3(b) bewys is. Die respondent is gevolglik gelyk gegee op beide grondslae van sy eis.

In hierdie hof is namens die appellant aangevoer dat nóg die een nóg die ander skuldoorsaak bewys is. Aangesien ek van oordeel is dat die eis tereg toegestaan is op grond van die bewerings in paragraaf 3(b) van die besonderhede van vordering is dit onnodig om die getuienis ten opsigte van die bewerings in paragraaf 5 breedvoerig te bespreek. Gedagtig aan die vereistes gestel in sake

soos Alfred McAlpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administration 1974(3) SA 506 (A) op 532H-533C, Standard Bank of South Africa Ltd and Another v Ocean Commodities Inc and Others 1983(1) SA 276 (A) op 292B-C en Delfs v Kuehne & Nagel (Pty) Ltd 1990(1) SA 822 (A) op 827B-828B,

volstaan ek met die opmerking dat die verhoorhof se bevinding dat 'n stilswyende waarborg bewys is nie ondersteun kan word nie.

4

Die bewerings in paragraaf 3(b) is geskoei op die lees van die uitspraak

in Kroonstad Westelike Boere-Ko-operatiewe Vereniging Bpk v Botha and

Another 1964(3) SA 561 (A) op 571G-572A waar die reël neergelê is dat :

"liability for consequential damage caused by latent defect attaches to a merchant seller, who was unaware of the defect, where he publicly professes to have attributes of skill and expert knowledge in relation to the kind of goods sold...Whether a seller falls within the category mentioned will be a question of fact and degree, to be decided from all the circumstances of the case. Once it is established that he does fall within that category, the law irrebuttably attaches to him the liability in question, save only where he has expressly or by implication contracted out of it."

Soos prof JC de Wet aangedui het in 1964 Annual Survey of South

African Law 103 ev is die gedeelte van die reël wat ek gekursiveer het, 'n

kwalifikasie wat hierdie hof toegevoeg het tot Pothier se uiteensetting in Traité

du Contrat de Vente 214 van handelaars se aanspreeklikheid (naas dié van

fabrikante) vir gevolgskade as gevolg van latente gebreke. Prof de Wet het so

'n toevoeging ondersteun op grond van die verandering wat die handel sedert

5

Pothier se dae ondergaan het. Inmiddels het meer as dertig jaar weer verstryk waartydens nuwe handelsware en bemarkingstegnieke die lig gesien het. Van die uitgesproke verwagting in die Kroonstad Wes saak (op 572A-C) dat die howe sou bydra tot die verdere ontwikkeling van die reël of dat die wetgewer sou ingryp, het egter niks gekom nie. (Vgl Holmdene Brinkworks (Pty) Ltd v Roberts Construction Co Ltd 1977(3) SA 670 (A) op 682fin-683C; Sentrachem Bpk v Wenhold 1995(4) SA 312 (A).) Of die reël soos dit destyds geformuleer is tans nog geregverdig kan word, is debatteerbaar (vgl Jean Davids se artikels in 81 (1964) SALJ 419 en 83 (1966) SALJ 87). In die onderhawige geval het beide advokate egter die aangehaalde uiteensetting as 'n juiste weergawe van die huidige stand van die reg aanvaar. In die lig hiervan en van die getuienis waarna aanstons verwys sal word, ag ek dit nie nodig om my verder oor die onderwerp uit te laat nie.

Die enigste vraag wat in die betoë geopper is, is of die appellant bewese

6 'n handelaar is wat sigself as bedrewe ten opsigte van suikermieliesaad teenoor

die publiek voorgehou het.

Die eerste grond waarop namens die appellant aangevoer word dat dit nie

die geval is nie, is dat die appellant nie as 'n saadhandelaar beskou kan word

nie. Hierdie submissie hou geen steek nie. Dit blyk uit die getuienis dat die

appellant by uitstek 'n verwerker en inmaker van vrugte en groente is wat in

onbewerkte vorm van kwekers aangekoop word. Ten einde die toevloei van

voldoende voorrade onbewerkte produkte te verseker, word kontrakte met

geselekteerde kwekers aangegaan vir die aankoop van bepaalde hoeveelhede

produkte wat nog geproduseer moet word, en soms nog nie eens aangeplant is

ten tye van die aangaan van die kontrak nie. In laasgenoemde gevalle (waarvan

die onderhawige een van vele is) skryf die appellant self die kultivar van die

besondere vrugte of groente en die soort saad voor en verskaf self die saad wat

aangeplant moet word deur dit van erkende saadhandelaars te koop en weer teen

7

'n wins aan kwekers te verkoop. Die blote feit dat sy saadhandel beperk is tot die verkoop van saad aan kwekers en nie aan die algemene publiek nie ontneem die appellant klaarblyklik nie die status van 'n handelaar vir doeleindes van die bepaling van sy aanspreeklikheid vir gevolgskade nie.

Die res van die betoog namens die appellant behels 'n aanval op die verhoorhof se bevinding dat die appellant sig voorgehou het as 'n bedrewe saadhandelaar. Ek is nie van voorneme om die gronde waarop die aanval geloods word, volledig te bespreek nie. Die bevinding berus hoofsaaklik op die manier waarop die appellant jarelank teenoor sy kwekers opgetree het. Soos reeds aangedui, was dit die appellant wat voorgeskryf het watter kultivars geproduseer moes word en watter soort saad gebruik moes word, en het die appellant inderdaad self die saad verskaf. Op sigself getuig hierdie optrede natuurlik nie noodwendig van 'n deskundige seleksie van kultivars en saad nie; trouens, die getuienis is tot die effek dat kwekers beperk is tot een voorgeskrewe

8

kultivar met die oog eenvoudig op 'n eenvormige eindproduk en dat 'n bepaalde soort suikermieliesaad voorgeskryf is eenvoudig omdat dit in die verlede met groot sukses gebruik was. Van die werklike beweegredes het kwekers egter nie geweet nie. Vanuit hulle oogpunt gesien, was dit nie onredelik nie om die appellant te beskou as 'n ondememer wat, weens sy jarelange ondervinding in die bedryf, oor deskundige kennis van kultivars en saad beskik het en daarom presies geweet het wat om voor te skryf. Hierdie indruk was ongetwyfeld versterk en bevestig deur die feit dat appellant se veldbeamptes kwekers gereeld op hulle plase besoek het waar hulle soms die grootte van die grond wat 'n kweker moes beplant bepaal het, behulpsaam was met die berekening van die hoeveelhede saad wat benodig sou word en die verwagte opbrengs daarvan, planttye vasgestel het, die vordering van aanplantings dopgehou het en inligting aan kwekers verskaf het oor planttye, plantmetodes, bemesting en onkruid- en plaagbestryding. Optrede van hierdie aard skep ongetwyfeld die indruk van

9

deskundigheid en kwekers sou kwalik kon raai dat sekere veldbeamptes inligting aan hulle deurgegee het wat hulle (die beamptes) ook maar van die verskaffers van produkte soos onkruid- en insektedoders ontvang het. Myns insiens het die verhoorhof tot die korrekte gevolgtrekking gekom.

Die appêl word van die hand gewys met koste.

J J F HEFER AR

STEM SAAM :

JOUBERT AR STEYN AR MARAIS AR SCHUTZ AR

▲ To the top