S v Van Der Westhuizen (32/1994) [1995] ZASCA 15 (16 March 1995)


Saaknommer: 32/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

in die saak tussen:

RICHARD MORNé VAN DER WESTHUIZEN Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: SMALBERGER, F H GROSSKOPF ARR et OLIVIER Wn AR

Verhoordatum: 10 Maart 1995 Leweringsdatum: 16 Maart 1995

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:

Die appellant het in die streekhof in Klerksdorp skuldig gepleit aan 'n oortreding van artikel 2(c) van die Wet op Voorkoming van Vervalsing van Betaalmiddele 16 van 1965 ("die Wet"). Die betrokke misdryf en die toepaslike strafbepaling word soos volg in artikel 2(c) en 2(i) van die Wet omskryf:

"2. Iemand wat -

(a)

(b)

(c) enige vals munt, terwyl hy weet dat dit vervals is, of

enige vervalste of veranderde banknoot, terwyl hy weet dat dit vervals of verander is, uitgee, aanbied of aanneem;

is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar-(i) in die geval van 'n misdryf vermeld in paragraaf ....(c)

.... met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens

vyftien jaar;

3

Die appellant het 'n skriftelike verklaring ingevolge artikel 112(2) van die Strafproseswet 51 van 1977 ("die Strafproseswet") onderteken waarin hy erken het dat hy in besit was van vervalste R50-banknote met 'n sigwaarde van ongeveer R20 000,00, dat hy geweet het dat die banknote vervals is, en dat hy van die vervalste banknote as betaling aangebied het. Na skuldigbevinding het die landdros die appellant twee jaar gevangenisstraf kragtens artikel 276(l)(i) van die Strafproseswet opgelê.

Die appellant het teen die opgelegde vonnis geappelleer, maar die Transvaalse Provinsiale Afdeling het sy appél afgewys. Daardie hof het egter verlof aan die appellant verleen om verder na hierdie hof te appelleer, en soos volg opgemerk:

"Die oorweging is dat die wet wat hier oortree is spesifiek

voorsiening maak vir gevangenisstraf, hetsy opgeskort of nie. Die vraag ontstaan of die bepalings van artikel 276(l)(h) of (i) in dié geval nogtans toegepas kan word."

Soos blyk uit die bepalings van artikel 2 van die Wet wat

4

hierbo aangehaal is, was die landdros verplig om die appellant gevangenisstraf op te lê. Niks het die landdros egter verhoed om sodanige gevangenisstraf op te skort nie. (S v Abt. 1975(3) SA 214 (A) op 220 A.) Die landdros het egter beslis dat dit in die onderhawige saak nie gepas sou wees om die gevangenisstraf wat hy wou oplê in die geheel of gedeeltelik op te skort nie. Soos gemeld, het hy die appellant toe tot twee jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(l)(i) van die Strafproseswet gevonnis.

Na my oordeel was die landdros regtens bevoeg om gevangenisstraf ingevolge artikel 276(l)(i) vir hierdie misdryf op te lê. So 'n straf is immers daadwerklike gevangenisstraf, soos deur die wetgewer in artikel 2 van die Wet vir hierdie misdryf vereis. Dit blyk trouens duidelik uit die onderstaande bepalings van artikel 276(l)(i) self dat die straf wat ingevolge daardie artikel opgelê word, inderdaad "gevangenisstraf" is:

"(i) gevangenisstraf waaruit so iemand na goeddunke deur

5

die Kommissaris onder korrektiewe toesig geplaas word."

Dit is namens die appellant betoog dat die landdros 'n mistasting begaan het deurdat hy nie die nuwe benadering tot vonnis, en in die besonder die voordele wat korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(l)(h) as strafopsie inhou, oorweeg het nie. Indien hy dit wel gedoen het, so is betoog, sou hy self korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(l)(h) opgelê het, en sou hy nie die oplegging van korrektiewe opleiding aan die diskresie van die Kommissaris van Korrektiewe Dienste oorgelaat het, soos hy nou gedoen het nie.

Na my oordeel het die landdros geen mistasting in hierdie verband begaan nie. Hy het inderdaad korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(l)(h) as moontlike straf oorweeg, maar in die uitoefening van sy diskresie daarteen besluit. In die lig van die erns van die misdryf, en die groot hoeveelheid vervalste banknote wat die appellant in sy besit gehad het (en dus volgens artikel 2(c) van die Wet "aangeneem" het),

6

was die landdros van oordeel dat effektiewe gevangenisstraf die gepaste straf was. Daar is geen aanduiding dat die landdros nie sy diskresie behoorlik uitgeoefen het nie. Bygevolg is dit nie nodig nie om te beslis of korrektiewe opleiding ingevolge artikel 276(l)(h) 'n bevoegde straf in die onderhawige geval sou wees waar artikel 2 van die Wet gevangenisstraf vir die oortreding vereis. (Vgl S v Strydom en 'n Ander 1994(2) SASV 456 (W).)

Dit is verder namens die appellant betoog dat die vonnis wat opgelê is, so buitengewoon swaar en skokkend is dat dit inmenging regverdig. Ten einde hierdie aspek te beoordeel, is dit nodig om die appellant se persoonlike omstandighede te oorweeg. Verder moet daar in die lig van die karige inligting wat beskikbaar is, bepaal word watter rol die appellant by die pleging van die misdryf gespeel het.

Die appellant het nie self getuig nie. Dit blyk egter uit die getuienis van sy moeder dat die appellant amper 21 jaar oud was toe hy die misdryf gepleeg het. Hy het matriek in 1990 aan die Klerksdorpse

7

Tegniese Kollege geslaag en daama vir ongeveer agtien maande as sekuriteitsbeampte by 'n handelsbank gewerk. Hy was besig met sy militêre diensplig toe hy die misdryf in Oktober 1992 gepleeg het. Die appellant het een vorige veroordeling. Hy is naamlik in November 1989 met R300 beboet vir 'n oortreding van die Drankwet van 1977 deurdat hy sonder 'n lisensie in drank gehandel het. Volgens sy moeder het hy egter net een bottel bier aan 'n lokvink verkoop. Ek stem saam met die appellant se advokaat dat daardie vorige veroordeling nie besonder strafverswarend is nie.

Aangesien die appellant nie self ter strafversagting getuig het nie, is dit onbekend wanneer, en onder watter omstandighede, die vervalste banknote deur die derde party aan hom oorhandig is. Dit blyk egter dat dit die bedoeling was dat die appellant die vervalste R50-banknote vir egte R20-banknote sou omruil. Dit is namens die appellant betoog dat sy morele verwytbaarheid verminder is deur die feit dat hy toe nie die vervalste banknote vir egte banknote omgeruil het nie. In die lig

8

van die gebrekkige inligting voor die hof sou dit blote spekulasie wees om te bevind dat die appellant doelbewus besluit het om nie die vervalste note om te ruil nie. Dit mag wees dat hy die vervalste note pas tevore ontvang het, en dat hy nog net nie die geleentheid gehad het om dit om te ruil nie.

Dit appellant se advokaat het betoog dat die appellant slegs R100,00 vir homself wou gebruik. Dit blyk dat hy by twee geleenthede 'n vervalste R50-noot ter betaling aangebied het, maar dat hy nie suksesvol was nie. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die appellant die volle hoeveelheid vervalste banknote in stryd met die bepalings van artikel 2(c) van die Wet "aangeneem" het. Die verdere betoog dat die appellant hom nie in die ware sin wou verryk nie, berus nie op enige getuienis nie, maar bloot op spekulasie. Dit is myns insiens trouens inherent onwaarskynlik dat die appellant bereid sou gewees het om die vervalste banknote sonder enige vergoeding om te ruil.

Wat wel vasstaan, is dat die vervalsing so amateuragtig

9

uitgevoer was dat die banknote as gevolg van die swak kwaliteit daarvan ooglopend vervals was. Dit kan dus in die appellant se guns aanvaar word dat mens hier met naïewe amateurs te doen gehad het.

Die feit dat die appellant skuldig gepleit het, dui nie noodwendig op berou nie. Soos reeds gemeld, het die appellant nie die hof in sy vertroue geneem nie. Dit is dus geensins duidelik onder watter omstandighede hy aan die pleging van die misdryf deelgeneem het, en waarom hy besluit het om skuldig te pleit nie. (Vgl S v Seegers 1970(2) SA 506(A) op 5HG-512A; S v Morris 1972(2) SA 617(A) op 620F-621B.)

Indien al die faktore in die appellant se guns in ag geneem word, is ek geensins van oordeel dat die opgelegde vonnis enigsins onvanpas is nie. Die misdryf wat gepleeg is, moet klaarblyklik in 'n emstige lig beskou word. Die landdros het ook daarop gewys dat die belang van die gemeenskap in gedrang kom indien vervalste banknote in omloop gebring word. Daarbenewens moet dit nie uit die oog verloor

10

word dat die appellant 'n groot hoeveelheid vervalste banknote aangeneem het nie. Na my oordeel is daar dus geen rede om met die opgelegde vonnis in te meng nie.

Die appèl word gevolglik afgewys.

F H GROSSKOPF

Appèlregter Smalberger AR Olivier Wn AR Stem saam

▲ To the top