Isaacs v Minister van Wet en Orde (188/1994) [1995] ZASCA 152 (29 November 1995)


Saak Nr 188/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ROBERT ISAACS Appellant

en

DIE MINISTER VAN WET EN ORDE Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, STEYN, HARMS, OLIVIER, ARR

et SCOTT Wnd AR DATUM VAN VERHOOR: 17 November 1995 DATUM GELEWER: 29 November 1995

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2

Die appellant het die respondent in die Oos-

Kaapse Afdeling gedagvaar vir genoegdoening weens beweerde kwaadwillige of, in die alternatief, wederregtelike, inhegtenisneming en aanhouding, asook weens beweerde kwaadwillige vervolging. Hy het geslaag slegs in sy eis gegrond op wederregtelike inhegtenisneming en aanhouding. Die hof a quo (Erasmus R) het 'n bedrag van R5000 as genoegdoening bepaal. Die appellant kom nou in hoër beroep teen hierdie uitspraak met verlof van die verhoorhof. Voordat ek die aard van die geskilpunte op appèl behandel is dit nodig om die relevante feite kortliks uiteen te sit.

Die appellant is 'n 48-jarige man woonagtig op Steynsburg. Hy is 'n ongekwalifiseerde elektrisiën maar was in 1988 werkloos. Hy was die eienaar van 'n geel bakkie met 'n wit kap wat hy as 'n huurmotor aangewend het. Daarbenewens het hy skape by 'n plaaslike boer gekoop en by sy huis vleis verkoop. Hy is getroud, die

3

vader van vyf kinders, en 'n lidmaat van die N G Kerk.

Op Steynsburg was daar 'n konst Marais van die S A Polisie, Die appellant het Marais geken as 'n persoon wat vis verkoop, maar verder het hulle niks met mekaar te doen gehad voor die gebeure wat tans ter sake is nie.

Vroeg in 1988 het Marais 'n swaksinnige jong man wat vir die appellant los werkies gedoen het, by die polisiekantoor ondervra oor die appellant se bedrywighede as vleisverkoper. Die appellant en sy vrou was vies hieroor, en het Marais gaan roskam oor sy optrede. Humeure het opgevlam, en by hul vertrek het Marais gedreig dat hy nog sou bewys dat die appellant skape steel. Volgens Marais se getuienis het hy op daardie tydstip nog geen inligting gehad wat daarop gedui het dat die appellant moontlik betrokke kon wees by veediefstal nie, behalwe, vermoedelik, dat hy wel skaapvleis by sy huis verkoop het.

4 Op 17 Februarie 1988 het Marais inligting ontvang

van 'n beriggewer oor veediefstal in die distrik. Die

beriggewer het verskeie name genoem van persone wat

daaraan deelgeneem het. Onder hulle was Geelbooi

Mguzulwa en Richard Klaas. Die beriggewer het genoem

dat 'n geel bakkie met 'n wit kap ook by die diefstalle

betrokke was.

Marais het hierdie inligting opgevolg. Onder meer

het hy 'n verklaring geneem van Klaas. Klaas het vertel

hoe hy, Geelbooi en ander persone skape gesteel het.

Gedurende die middel van 1986 was daar 'n insident toe

hy, Geelbooi en 'n sekere Ellie in Geelbooi se bakkie

gery het en 'n geel bakkie met 'n wit kap langs die pad

gesien het. Hulle het gestop en vir die bestuurder van

die bakkie gevra wat makeer. Die bestuurder het gesê

niks - hy het gedink die aankomelinge was ene "baas

Doppie". Die verklaring gaan dan voort:

"Die skaap was op hierdie stadium reeds bymekaar gemaak ...Geelbooi het toe vir K/man Jan Kwak

5

gevra hoeveel hy wil hê, hy het gesê dat hy net 2 wil hê want hy het net R240 by hom. Ons het toe die 2 skaap op Jan Kwak se bakkie gelaai en 8 skaap op Geelbooi se bakkie.... Die twee voertuie het toe weer weggery in die rigting van die teerpad."

Hoewel die verklaring eers praat van die bestuurder van die bakkie en daarna van Jan Kwak, is dit duidelik dat dieselfde persoon bedoel was. En dit is gemene saak dat Jan Kwak die appellant se bynaam is.

Op Saterdag 20 Februarie 1988 was die appellant in die dorp. Dit was ongeveer 9 vm. Twee speurders het hom genader. Hulle het hom gevra of hy Jan Kwak is. Hy het dit bevestig. Hulle het hom gevra om voor hulle uit te ry na die aanklagkantoor. Daar aangekom het die twee speurders en Marais hom geneem na 'n kamer waarin daar 'n man was. Dit was Geelbooi. Die polisie-beamptes het die appellant gevra of hy die man ken. Die appellant het geantwoord dat hy nie eintlik die man ken nie maar dat hy hom eenkeer op die grondpad van De Dam gesien het. Dit is nie nodig om die appellant se weergawe van

6

hierdie ontmoeting te herhaal nie. Dit is voldoende om

te sê dat, volgens die appellant, daar geen transaksie m b t skape plaasgevind het nie. Een van die speurders het vir die appellant gesê dat Geelbooi beweer dat hy twee skape aan die appellant verkoop het vir R120 elk. Die appellant het dit ontken, en gesê dat hy skape by 'n mnr Du Plessis koop teen R50 stuk. Hy sou dus nie so veel as R120 betaal nie. Hy het gesê dat hulle dit by Du Plessis kon bevestig, en hulle Du Plessis se telefoonnommer gegee. Een van die polisie-beamptes het gesê dat die man die waarheid praat, en hulle is terug na die aanklagkantoor. Die appellant het gedink hy kon huis toe gaan, maar Marais het gesê hy moes daar wag. Marais is toe weg sodat Klaas en 'n ander verdagte uitwysings kon maak van relevante punte.

Intussen het die appellant in die aanklagkantoor gebly. Teen die aand het hy twee polisievroue wat daar aan diens was, gevra of hy huis toe kon gaan om te eet.

7 Hulle het by die adjudant navraag gedoen. Hy het gesê

die appellant moes nog wag. Later het sy familie vir

hom kos gebring.

Om 1.40 die volgende oggend het Marais teruggekeer. Hy het opdrag gegee dat hulle die appellant moes aanhou. Die appellant is na die polisie-selle geneem. Dieselfde middag het Marais hom weer laat kom en sekere inligting van hom verkry. Marais het gesê dat hy hom aankla. Die appellant is teruggeneem na die selle toe. Die volgende oggend (22 Februarie) het hy en drie ander persone voor die landdros verskyn op 'n aanklag van diefstal van 67 skape van ene Keefe. Die beskuldigdes is nie gevra om te pleit nie, en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek tot 29 Februarie.

Om redes wat later sal blyk is dit nie nodig om die gebeure ná 22 Februarie volledig uiteen te sit nie. Die appellant is eers op 16 Augustus 1988 vrygelaat op borg. Na 'n deurmekaarspul tussen die polisie en die

8

aanklaers is alle klagtes teen hom uiteindelik

teruggetrek.

Die respondent het die appellant se aanhouding

deur die polisie probeer regverdig met verwysing na art

40 (1) (b) van die Strafproseswet, 51 van 1977. Hierdie

bepaling lui soos volg:

"(1) 'n Vredesbeampte kan iemand sonder lasbrief in hegtenis neem -

(b) wat hy redelikerwys verdink dat hy 'n in Bylae I bedoelde misdryf gepleeg het ...".

Diefstal verskyn in Bylae I. Die verhoorhof het

egter bevind dat Marais die appellant nie

"redelikerwys" verdink het nie, en dat die artikel dus

geen regverdiging vir die arrestasie an aanhouding

gebied het nie. Die hof se redes was kortliks soos

volg. Die inligting van die beriggewer was vaag. Dit

het nie aangedui wie die bestuurder van die bakkie was

nie nóg hoe dié persoon by die veediefstal betrokke

was. Marais het nie eers geweet in watter dorp die

9

bakkie geregistreer was nie. Hy het slegs geweet dat

die enigste geel bakkie met 'n wit kap in Steynsburg aan die appellant behoort het. Blykbaar het die beriggewer nie gesê wanneer die veediefstalle sou plaasgevind het nie.

Wat Klaas se verklaring betref, was daar eerstens geen direkte bewering dat die appellant geweet het dat hy gesteelde skape koop nie. Die transaksie het gedurende die dag op 'n openbare pad plaasgevind. Die appellant en Geelbooi het mekaar oënskynlik toevallig ontmoet. Marais se inligting omtrent datums het nie gerym nie. Klaas beweer dat die diefstal op 'n plaas Hillmoor gedurende die middel van 1986 plaasgevind het. Mnr Dell, die eienaar van Hillmoor, het egter by die polisie gekla oor veediefstalle in 1987. Dit was onseker of die beriggewer en Klaas van hierdie diefstalle gepraat het.

Volgens Klaas het die appellant R240 vir die twee

10 skape betaal. Die appellant het egter vir Marais vertel

dat hy nooit soveel soos R120 per skaap sou betaal nie

aangesien hy skape by Du Plessis kon kry teen R50 stuk.

Dit behoort Marais tot versigtigheid te gestem het: die

koop van gesteelde goedere word normaalweg gekenmerk

deur pryse laer as die markprys. Daarbenewens was die

beriggewer en Geelbooi op die oog af nie betroubare

getuies nie.

Weens hierdie onsekerhede en teenstrydighede behoort Marais, volgens die verhoorhof, verder ondersoek in te gestel het voordat hy die appellant redelikerwys van veediefstal kon verdink. Aangesien daar geen rede was om te vermoed dat die appellant sou probeer ontvlug nie was daar geen haas om hom in hegtenis te neem nie.

As gevolg van al hierdie omstandighede het die verhoorhof dan bevind dat art 40 (1) (b) van die Strafproseswet nie in hierdie geval van toepassing was

11

nie, en dat die appellant se arres dus onregmatig was. Daar is geen appèl teen hierdie bevinding nie.

Mnr Eksteen, wat namens die appellant verskyn het, het egter betoog dat die verhoorhof in verskeie opsigte verder behoort te gegaan het. Eerstens argumenteer hy dat die verhoorhof behoort te bevind het dat Marais animo iniuriandi in die volle sin van die begrip, d w s, met wederregtelikheidsbewussyn, opgetree het met die appellant se inhegtenisneming en vervolging sien Minister of Justice v Hofmeyr 1993 (3) SA 131 (A) op bl 154C-157F. Die aanwesigheid van wederregtelikheidsbewussyn is nie 'n noodsaaklike element vir 'n eis weens onregmatige vryheidsberowing nie (ibid) maar mnr Eksteen het betoog dat dit die bedrag van genoegdoening sou beïnvloed. Wederregtelikheidsbewussyn is wel nodig vir die eis weens kwaadwillige vervolging (Todt v Ipser 1993 (3) SA 577 (A) op bl 586F-G; Moaki v Reckitt and Colman

12 (Africa) Ltd and Another 1968 (3) SA 98 (A) op bl 103D-

104D; Neethling, Potgieter en Visser Deliktereg 2 uitg

(1992) 343 en gewysdes daar aangehaal.)

Mnr Eksteen het betoog dat wederregtelikheidsbewussyn afgelei kan word van die feite. Die enigste relevante feite is dié t o v die appellant se inhegtenisneming en t o v Marais se uitlatings 'n paar weke vantevore toe hy en die appellant 'n rusie gehad het oor die ondervraging van hul helper.

Die redes vir die inhegtenisneming regverdig m i nie die afleiding dat Marais met wederregtelikheidsbewussyn opgetree het nie. Ek het reeds die swakhede in hierdie redes aangedui. Ten gunste van Marais se besluit kan die volgende gesê word. Die appellant is 'n kleinhandelverkoper van vleis vanuit sy woonhuis. Hy koop blykbaar nie vleis by enige groothandelaar of slagpale nie, maar direk van die

13

produsent. Hoewel dit waar mag wees dat hy wettiglik by

mnr Du Plessis koop, is hy in 'n posisie om ook met gesteelde skape te handel. Daar is net een geel bakkie met 'n wit kap in Steynsburg, en dit is onwaarskynlik dat daar baie van hulle in die omliggende distrikte is. Waar die beriggewer dus vertel het dat 'n geel bakkie met 'n wit kap betrokke was, moes daar 'n redelike sterk kans gewees het dat hy van die appellant se bakkie gepraat het, veral waar Klaas ook na die appellant en sy bakkie verwys het.

Die insident met Geelbooi waarvan Klaas in sy verklaring praat het sekere onskuldige aspekte, soos die verhoorhof uitgewys het. Nogtans, as Klaas se storie waar was, moes dit minstens agterdogwekkend vir die appellant voorgekom het dat iemand soos Geelbooi langs die pad in die veld (soos blyk uit die fotos wat Marais van Klaas se uitwysings laat neem het) op iemand anders se plaas tien skape bymekaar gehad het, waarvan

14 hy twee aan die appellant verkoop het en ag in sy eie

bakkie gelaai het.

Daar moet onthou word dat art 40 (l)(b) slegs 'n

redelike verdenking vereis. Soos dit gestel is in

Shaaban Bin Hussien and Others v Chong Fook Kam and

Another [1969] 3 All ER 1626 (PC) op bl 1630C in 'n

passasie wat al verskeie kere in hierdie hof aangehaal

is (sien Duncan v Minister of Law and Order 1986 (2) SA

805 (A) op bl 8191-J; Minister of Law and Order v Kader

1991 (1) SA 41 (A) op bl 50H-I):

"Suspicion in its ordinary meaning is a state of conjecture or surmise where proof is lacking; 'I suspect but I cannot prove'. Suspicion arises at or near the starting point of an investigation of which the obtaining of prima facie proof is the end".

Die inligting wat Marais tot sy beskikking gehad het

was myns insiens nie so onbeduidend dat dit 'n

afleiding regverdig dat Marais nie te goeder trou die

appellant van veediefstal kon verdink het nie.

Die relletjie oor die appellant se helper kan ook

15 m i nie veel gewig dra nie. Dat Marais in die hitte van

die oomblik die voorneme uitgespreek het om die

appellant se skuld aan veediefstal te bewys toon nog

nie dat hy enigiets onbehoorliks beoog het nie.

Ek meen dus nie dat die appellant daarin geslaag

het om wederregtelikheidsbewussyn aan die kant van

Marais te bewys nie.

'n Tweede opsig waarin die appellant die

verhoorhof se uitspraak aanveg het te doen met die

tydperk van die appellant se onregmatige aanhouding.

Die verhoorhof het bevind dat dit begin het in die

vroeë oggendure van 21 Februarie 1988 toe Marais hom na

die selle laat neem het en dat dit gestrek het tot sy

verskyning in die hof op 22 Februarie 1988. Mnr Eksteen

betoog dat dit vroeër begin het en langer aangehou het.

Ek behandel eers die tyd van aanvang. In die

besonderhede van vordering beweer die appellant dat hy

om ongeveer 9 vm op 20 Februarie 1988 in hegtenis

16

geneem is. Die woord "arrested" word gebruik. Die

omstandighede van die appellant se aanhouding is volledig in die getuienis uitgepluis. Die vraag is of clit 'n aanvang geneem het voordat Marais vroeg die oggend van 21 Februarie teruggekom het. Die hof a quo het geen redes vir sy bevinding in hierdie verband verstrek nie, en het blykbaar veronderstel dat die appellant se onregmatige aanhouding begin het eers toe hy formeel in hegtenis geneem is.

Ek het die getuienis hierbo opgesom. Daarvolgens blyk dit dat die appellant aanvanklik aangesê is om na die polisiekantoor te gaan. Die doel was klaarblyklik om hom te ondervra. Op die oog af was dit nie onbillik van die betrokke polisie-amptenare om dit van hom te verwag nie. Wat sou gebeur het as die appellant geweier het is nie in die getuienis ondersoek nie. Besmoontlik sou die polisie-amptenare hom laat loop het totdat hulle verdere opdragte ontvang het. Ek dink nie dit is

17

'n geregverdigde afleiding dat hierdie opdrag op 'n

vorm van vryheidsberowing neergekom het nie.

Die opdrag aan hom om in die polisiekantoor vir

Marais te wag is egter anders. Toe hierdie opdrag gegee

is het die polisie klaar die appellant ondervra. Geen

rede is gegee waarom sy verdere aanwesigheid vereis was

nie. Vermoedelik wou Marais hom daar beskikbaar hê

indien hy na sy inspeksie besluit het om hom formeel in

hegtenis te neem. Die appellant se versoeke om

toegelaat te word om huis toe gaan is geweier. Dit is

'n geregverdigde afleiding dat indien hy probeer

wegloop het, hy verhinder sou gewees het, desnoods met

geweld. Ek meen dat hy toe reeds van sy vryheid beroof

was. Ek dink nie dat vir huidige doeleindes 'n tegniese

betekenis aan die woord "arrested" in die besonderhede

van vordering geheg moet word nie, maar dit is nogtans

insiggewend dat die appellant waarskynlik wel toe reeds

selfs in 'n tegniese sin onder arres was. In R v Mazema

18

1948 (2) SA 152 op bl 154 word gesê

"A person is under arrest as soon as the police assume control over his movements."

Hierdie dictum is goedgekeur en toegepas in State

President and Others v Tsenoli 1986 (4) SA 1150 (A) op

bl 1186C-D.

Die volgende vraag is dan wanneer die appellant se

onregmatige aanhouding tot 'n einde gekom het. Die

verhoorhof het bevind dat die onregmatigheid van die

appellant se aanhouding net geduur het tot sy

verskyning voor die landdroshof op 22 Februarie. Daarna

waa hy aangehou kragtens 'n regmatige bevel wat deur

die hof uitgereik was. Hierdie bevinding is voor ons

aangeveg. Mnr Eksteen se argument was dat as die

appellant se arres onregmatig was, was alle stappe wat

daarop gevolg het, ook onregmatig. Volgens hierdie

betoog was die enigste vraag dus een van veroorsaking -

was die appellant se arres die oorsaak van sy

aanhouding totdat hy in Augustus op borg vrygelaat is?

19

Mnr Eksteen het betoog dat hierdie vraag bevestigend

beantwoord moet word.

Die wesentlike vraag vir beslissing is dus of die

appellant se onregmatige inhegtenisneming die gevolg

gehad het dat sy aanhouding ingevolge die landdros se

bevel van 22 Februarie ook onregmatig was. Die

prosedure na inhegtenisneming word uiteengesit in art

50 van die Strafproseswet. Veral sub-artikel (1) is van

belang. Insoverre ter sake lui dit soos volg:

"Iemand wat met of sonder lasbrief in hegtenis geneem is, word so gou moontlik na ' n polisiekantoor geneem ... en, as hy nie vrygelaat word omrede geen aanklag teen hom ingebring gaan word nie, word hy aangehou vir 'n tydperk van hoogstens agt-en-veertig uur tensy hy voor 'n laer hof gebring word, en sy verdere aanhouding vir die doeleindes van sy verhoor deur die hof op 'n aanklag van enige misdryf gelas word ...".

Ingevolge verdere bepalings van die artikel mag die

tydperk van agt-en-veertig uur onder sekere

omstandighede oorskry word.

Die funksie van hierdie bepaling is oorweeg in

20

Minister of Law and Order v Kader (supra). Dit is

tweërlei, hoewel daar 'n mate van oorvleueling is. Eerstens vereis die artikel dat 'n gearresteerde persoon binne 'n kort tydperk voor die hof gebring word. Hierdeur word heimlike en onreëlmatige inhegtenisnemings en aanhoudings ontmoedig. Die gearresteerde persoon word 'n geleentheid gegee om in die openbaar die wyse en omstandighede van sy inhegtenisneming te bevraagteken, en om aansoek te doen om op borg of waarskuwing vrygelaat te word (ibid, bl 49F-G). Hoe die hof in so 'n geval sal reageer sal natuurlik afhang van die aard van die gearresteerde se versoek of klagte. 'n Klagte dat hy deur die polisie aangerand was sal vermoedelik administratief behandel word, terwyl ' n aansoek om borg ' n beroep op die uitoefening van die hof se gewone regterlike funksies uitmaak.

Tweedens magtig die artikel die hof om die verdere

21 aanhouding van die gearresteerde vir die doeleindes van

sy verhoor op 'n aanklag van 'nmisdryf te gelas (ibid,

bl 49H). By die uitoefening van hierdie bevoegdheid kan

die hof gevra word om verskillende sake te oorweeg, bv,

of dit hoegenaamd nodig is dat die gearresteerde

aangehou word eerder as om op borg of waarskuwing

vrygelaat te word. 'n Aangeklaagde kan ook betwis dat

daar voldoende getuienis teen hom is om sy verdere

aanhouding te regverdig. Ek sou nie graag 'n algemene

formule wou neerlê oor hoe die hof so 'n dispuut moet

hanteer nie. Dit sal afhang van omstandighede. In die

meeste gevalle sou dit waarskynlik genoeg wees om die

aanklaer te vra, in sodanige besonderheid as wat nodig

mag wees, watter inligting in die vervolging se besit

is, en na aanleiding van die aanklaer se antwoord te

besluit of die beskuldigde se verdere aanhouding gelas

moet word. In ander gevalle mag dit nodig wees om

verder te gaan. Hoe dit ook al sy, dit is belangrik om

22

te beklemtoon dat die besluit wat die hof moet neem is

of die beskuldigde se verdere aanhouding gelas moet word. Vir doeleindes van hierdie besluit is dit in beginsel nie ter sake of die beskuldigde se aanvanklike arrestasie geregverdig was nie, Natuurlik, as daar onvoldoende gronde was om hom in hegtenis te neem, sal daar dikwels ook onvoldoende gronde wees om sy verdere aanhouding te gelas, maar dit is nie noodwendig so nie. Nuwe getuienis mag sedert die inhegtenisneming beskikbaar geword het.

Mnr Eksteen se argument is dan ook nie dat die funksie wat 'n hof ingevolge art 50 van die Wet vervul dit vir hom nodig maak om 'n beslissing te vel oor die regmatigheid van die beskuldigde se inhegtenisneming nie. Sy betoog is 'n jurisdiksionele een. Dit lui soos volg. Art 50(1) geld alleen t o v iemand wat "in hegtenis geneem" is. Hierdeur word bedoel 'n regsgeldige inhegtenisneming. Waar daar geen geldige

23

inhegtenisneming was nie, kan art 50(1) nie toegepas

word nie. Die verdere aanhouding en alles wat daarop volg is dan net so ongeldig as die oorspronklike gepoogde inhegtenisneming.

Bloot teoreties beskou is hierdie argument heeltemal aantreklik maar as 'n mens na die praktiese uitwerking daarvan kyk kan dit nie reg wees nie. Soos reeds gesê, die artikel beoog onder meer om onreëlmatige vorms van vryheidsberowing teen te werk. Dit behels juis dat ook persone wat nie regsgeldig in hegtenis geneem is nie, voor 'n hof gebring moet word sodat hulle hul griewe in die openbaar kan lug en hul vrylating kan probeer bewerkstellig. Indien die artikel vertolk word om net te slaan op persone wat regmatiglik onder arres verkeer, sal hierdie funksie van die artikel grootliks verydel word. Dit sou dan beteken dat 'n persoon wat 'n regmatige arres uitgevoer het, verplig is om die gearresteerde binne die vasgestelde

24

tyd voor 'n hof te bring terwyl 'n persoon wat geen

gronde gehad het om iemand te arresteer nie, vrygestel word van hierdie verpligting.

Daarbenewens sou hierdie voorgestelde vertolking

inhou dat 'n beskuldigde wat op onregmatige wyse in

hegtenis geneem is, in enige stadium van die

verrigtinge teen hom kan staatmaak op die ongeldigheid

van alles wat op die inhegtenisneming gevolg het. Dit

sou gevolglik moontlik wees vir 'n beskuldigde om by sy

verhoor, of op hersiening na sy skuldigbevinding, die

geldigheid van die verrigtinge aan te val op grond van

'nbeweerde onreëlmatigheid by sy inhegtenisneming. En

indien sy arrestasie inderdaad onregmatig was, sou die

proses van voor af moet begin. Selfs 'n

skuldigbevinding sou tersyde gestel moes word. Ek kan

my nie voorstel dat dit ooit die bedoeling van die

wetgewer kon gewees het om so 'n resultaat te

bewerkstellig nie.

25

In die praktyk is die artikel ook nie so toegepas

nie. Indien die argument korrek waa, sou 'n mens verwag het dat ons strafhowe dikwels sou moes uitspraak gee oor die geldigheid van 'n inhegtenisneming ten einde te bepaal of die hof voor wie die beskuldigde verskyn, of reeds verskyn het, regsbevoegdheid het of gehad het om hom te verhoor. Geen voorbeeld van so 'n saak is aan ons voorgelê nie, en ek weet van geen nie.

Een aspek van hierdie probleem wat wel voor ons howe gedien het is die vraag of 'n beskuldigde wat oor die landsgrense na Suid-Afrika vervoer is, hier verhoor mag word. Sien Abrahams v Minister of Justice and Others 1963 (4) SA 542 (K) en S v Ebrahim 1991 (2) SA 553 (A) . Die vroeëre gewysde het beslis dat dit nie saak maak hoe 'n beskuldigde voor die hof kom nie. As die hof andersins bevoeg is, kan hy die saak verhoor. In Ebrahim se saak het hierdie hof egter tot die teendeel bevind ooreenkomstig 'n gemeenregtelike

26

beginsel dat 'n hof geen regsbevoegdheid het om 'n

persoon te verhoor wat uit 'n ander jurisdiksie ontvoer

is deur werktuie van die staatsgesag wat bewind voer in

die regsgebied van so 'n hof nie (op cit, bl 579F-G;

582B) . Waar 'n persoon nie so ontvoer is nie, sou

Ebrahim se saak nie van toepassing wees nie, en sou die

algemene reël wat in Abrahams se saak (supra)

geformuleer is op bl 545 G-H geld, t w,

"... once there is a lawful detention, the circumstances of the arrest and capture are irrelevant."

Deur "lawful detention" bedoel die hof klaarblyklik

aanhouding ingevolge 'n landdroshofbevel, afgesien

daarvan of die inhegtenisneming regmatig was (sien bl

545G).

Ek meen dus dat waar art 50(1) praat van iemand

wat "in hegtenis geneem" is, dit nie beperk is tot 'n

regmatige inhegtenisneming nie. Dit sluit iemand in

wat, in 'n gepoogde uitoefening van arrestasie-

27

bevoegdhede, onder die arresteerder se beheer gebring

is. Dit volg dat die aanval op die landdros se regsbevoegdheid in die onderhawige geval ongegrond is en dat die bevel vir die verdere aanhouding van die appellant binne sy regsbevoegdheid geval het en geldig was. Die blote feit dat die appellant se inhegtenisneming onregmatig was, kan nie daaraan afdoen nie. Die beslissing van die hof a quo in hierdie verband was dus korrek. Die saak van Mthimkhulu and Another v Minister of Law and Order 1993 (3) SA 432 (E), waar 'n teenstrydige houding ingeneem word (op bl 438 C-F), was m i tot daardie mate verkeerd beslis.

Ons is ook na 'n aantal ander beslissings verwys. In nie een van hulle is die vraag wat ek hierbo bespreek het, pertinent behandel nie. Insoverre as daar dicta in sommige sake voor provinsiale of plaaslike afdelings mag wees wat teenstrydig is met wat ek hierbo gesê het, stem ek nie daarmee saam nie. Mat beslissings

28

van die appèlhof betref, het Minister of Law and Order,

Kwandebele, and Others v Mathebe and Another 1990 (1) SA 114 (A) nie te doen gehad met die vertolking en toepassing van die Strafprosesreg nie, maar van noodregulasies, waar 'n verskillende bewoording en ander beginsels van toepassing is (ibid bl 122 E-G). Minister of Law and Order v Thandani 1991 (4) SA 862 (A) was weer 'n geval van ontvoering oor landsgrense. Soos reeds gemeld is ander oorwegings daar ter sprake. In elk geval meen ek nie dat die beslissing in daardie saak enigsins teenstrydig is met wat ek hierin bevind het nie.

Die eindresultaat is dat die appellant slaag in net een van sy argumente, nl, dat sy onregmatige aanhouding vroeër 'n aanvang geneem het as bevind was deur die verhoorhof. Die bedrag van R5000 wat as genoegdoening bepaal is deur die verhoorhof berus op die verkeerde veronderstelling dat die appellant eers

29 in die vroeë ure van Sondagoggend van sy vryheid beroof

was. Inderdaad was dit een of ander tyd gedurende

Saterdagoggend. Ek meen dat die appellant geregtig is

op 'n verhoging van die bedrag van genoegdoening om

voorsiening te maak vir die werklike feite. Natuurlik

kan 'n mens nie die bedrag aanpas op 'n meganiese pro

rata tydsbasis nie. Die genoegdoening dien as 'n

solatium vir die appellant se gekrenkte gevoelens. Sy

ernstigste vernedering was om in die selle gestop en

daar gehou te word totdat hy voor die landdros verskyn

het. Om in die aanklagkantoor te wag, al is dit ure

lank, is 'n mindere aantasting van sy

persoonlikheidsregte. Nogtans kan dit nie buite

rekening gelaat word nie. Ek meen dat die bedrag

vermeerder moet word na R6000.

Die laaste vraag wat ontstaan is watter kostebevel

gemaak moet word. Die appellant se hoofbetoë was dat

Marais met wederregtelikheidsbewussyn opgetree het en,

30

in elk geval, dat die appellant se onregmatige

aanhouding voortgeduur het totdat hy op borg vrygelaat was in Augustus. Hierdie betoë het misluk. Aan die ander kant het die appellant 'n mate van sukses gehad. Die bedrag van genoegdoening is met twintig persent verhoog. Dit was vir hom nodig om na hierdie hof te kom om hierdie verhoging te bewerkstellig. Die respondent het geen aanbod gemaak wat hom teen 'n kostebevel kon vrywaar nie (sien Griffiths v Mutual & Federal Insurance Co Ltd 1994 (1) SA 535 (A) op bl 549 D-E). Onder hierdie omstandighede meen ek dat daar 'n verdeling van die koste behoort te wees. sien Community Development Board v Mahomed and Others NNO 1987 (2) SA 899 (A) op bl 919F-920A; Protea Assurance Co Ltd v Matinise 1978 (1) SA 963 (A) op bl 978A-B. Myns insiens sou dit billik wees as elke party sy eie appèlkoste dra.

Bygevolg word die appèl gehandhaaf. Elke party sal

31

sy eie koste van appél dra, insluitende die koste van

die aansoek om verlof om te appelleer. Die hof a quo se bevel word gewysig deur die bedrag van R5000 in paragraaf (a) te vervang met R6000.

E M GROSSKOPF, AR

STEYN, AR HARMS, AR OLIVIER, AR SCOTT, AR Stem saam

▲ To the top