Bartmann en Andere v S (158/1993) [1995] ZASCA 159 (30 November 1995)


Saak nr 158/93

/MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ABRAHAM ALBERTUS CILLIERS BARTMANN (SNR)

SPRINGBOK PATROLS (EDMS) BPK

ALERT SPRINGBOK PATROLS BK

ABRAHAM ALBERTUS CILLIERS

BARTMANN (JNR) APPELLANTE

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: VAN HEERDEN, VIVIER et MARAIS ARR. VERHOOR: 27 November 1995. GELEWER: 30 November 1995.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die vier appellante, na wie ek as beskuldigdes 1, 2, 3 en 4

onderskeidelik sal verwys, is in die Johannesburgse Streekhof skuldig bevind op verskeie aanklagte van bedrog (aanklagte 1 - 149 in die geval van beskuldigdes 1, 2 en 4 en aanklagte 51-149 in die geval van beskuldigde 3) asook op aanklagte dat hulle ter oortreding van art 38 van die Wet op Wapens en Ammunisie 75 van 1969 ("die Wet") versuim het om die verlies, diefstal of vernietiging van wapens binne die voorgeskrewe tyd te rapporteer (aanklagte 152 en 153 in die geval van beskuldigde 1; aanklag 152 in die geval van beskuldigdes 2 en 4 en aanklag 153 in die geval van beskuldigde 3). Beskuldigde 1 is verder aan die onwettige besit van vuurwapens (aanklagte 681, 684, 685 en 686) skuldig bevind en beskuldigde 4 aan omkopery (aanklag 705). Op aanklagte 152 en 153 is die beskuldigdes gewaarsku en ontslaan. Op die aanklag van omkopery is beskuldigde 4 'n boete van R100

3

of 20 dae gevangenisstraf opgelê. Op elkeen van die ander aanklagte is 'n boete van R40-00 (met 'n altematief van tien dae gevangenisstraf in die geval van beskuldigdes 1 en 4) opgelê wat in sekere gevalle in geheel opgeskort is. Die besknldigdes se appélle na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling het grotendeels geslaag deurdat die skuldigbevindings en vonnisse op al die aanklagte met die uitsondering van aanklagte 152, 153 en 705 tersyde gestel is. Die skuldigbevinding op laasgemelde aanklag is bekragtig en die vonnis verhoog tot 'n boete van R2000-00 of een jaar gevangenisstraf plus 'n verdere een jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar op sekere voorwaardes opgeskort is. Die Hof a quo het aan die beskuldigdes verlof verleen om na hierdie Hof teen die skuldigbevindings op aanklagte 152 en 153 te appelleer en aan beskuldigde 3 om teen die vonnis op aanklag 705 te appelleer. Laasgemelde appêl is laat vaar. Die Hof a quo het verder

4

ingevolge art 311 (1) (a) van die Strafproseswet 51 van 1977 aan die Prokureur-generaal van die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling verlof verleen om teen sy beslissing oor 'n regsvraag ten gunste van die beskuldigdes op die bedrogaanklagte na hierdie Hof te appelleer.

Die feite wat óf gemeensaak was by die verhoor óf nie langer in geskil is nie, kan as volg saamgevat word. Beskuldigde 2 is 'n private maatskappy en beskuldigde 3 'n beslote korporasie wat seknriteitsondememings vannit dieselfde sakepersele, en blykbaar met dieselfde werknemers, bedryf. Hnlle werksaamhede behels onder andere die voorsiening van gewapende wagte aan kliënte waarvoor elkeen in eie naam van tyd tot tyd vnurwapens aangeskaf en lisensies daarvoor bekom het. Te alle wesenlike tye was beskuldigde 1 die besturende direkteur van beskuldigde 2 en die enigste lid van beskuldigde 3 en was beskuldigde 4 'n direkteur van

5

beskuldigde 2 en in diens van beskuldigdes 2 en 3. Beskuldigdes 1 en 4 is in hul persoonlike hoedanighede aangekla en beskuldigde 1 het verder in sy hoedanigheid van verteenwoordiger van beskuldigdes 2 en 3 verskyn.

Dit is gerieflik om eerste met die Staat se appêl te handel. Al die aanklagte van bedrog spruit uit beskuldigdes 2 en 3 se aansoeke om vuurwapenlisensies. Aanklagte 1 tot 50 het betrekking op aansoeke om lisensies wat deur beskuldigde 2 by die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie ("die Kommissaris") ingedien is terwyl aanklagte 51 tot 149 handel met beskuldigde 3 se aansoeke. Ingevolge artikel 2 van die Wet mag niemand, met sekere ontersaaklike uitsonderings, 'n vuurwapen besit sonder dat hy 'n lisensie hou om daardie wapen te besit nie. Art 3 van die Wet bepaal onder andere dat die Kommissaris op aansoek op die voorgeskrewe wyse deur 'n bevoegde persoon na goeddunke maar

6

behoudens sekere bepalings van die Wet aan bedoelde persoon

'n lisensie kan uitreik om die in daardie lisensie omskrewe wapen

te besit. In die geval van aanklagte 1 - 50 is die voorgeskrewe

vorm SAP 271 deur mnr C J F Bartmann, 'n direkteur of dienaar

van beskuldigde 2, onderteken terwyl beskuldigde 4 die betrokke

vorms ten opsigte van aanklagte 51 - 149 onderteken het.

Die landdros het bevind dat ten opsigte van elke aansoekvorm

bedrog gepleeg is deurdat "nee" geantwoord is op die volgende

vraag wat op die aansoekvorm verskyn:

"5. Het u al voorheen 'n wapen wat in u besit was, verloor? Indien wel, meld waar, wanneer en onder watter omstandighede."

Die landdros het bevind dat die antwoorde vals was deurdat die beskuldigdes geweet het dat hulle die wapens genoem in die aanhangsels tot die klagstaat verloor het.

Dit was gemene saak by die verhoor dat ten tyde van die

7

ondertekening van elke aansoekvorm die beskuldigdes geweet het dat wapens voorheen uit hulle besit gesteel of geroof is. Die verweer was egter dat die beskuldigdes in die aansoekvorms niks meer te kenne wou gegee het nie as dat wapens nog nie voorheen ongemerk uit hulle besit weggeraak het nie, dit wil sê dat hulle gedink het dat die vraag en antwoord slegs betrekking gehad het op wapens wat ongemerk weggeraak het en nie op wapens wat gesteel of geroof is nie. Die verweer was dat die beskuldigdes die woord "verloor" in sy primêre betekenis van ongemerk wegraak verstaan het en dat al wat hulle gevolglik bedoel het om te sê, was dat geen wapen voorheen verloor is deurdat dit ongemerk weggeraak het nie, wat 'n korrekte antwoord sonder wanvoorstelling was. Die verweer was verder dat die woord "verloor" in elk geval vatbaar was vir verskeie betekenisse sodat, selfs al sou dit die ontdaanmaking deur middel van roof en diefstal insluit, dit ten minste ook die betekenis

8

dra van ongemerk laat wegraak soos mens 'n knoop sou verloor.

Die bewyslas het dan op die Staat gerus om die moontlike

onskuldige betekenis uit te sluit. In die afwesigheid van enige

getuienis dat die aansoekdoeners, deur "nee" op die vraag te

antwoord, iets anders bedoel het as dat geen wapen voorheen

ongemerk weggeraak het nie, het die Staat, aldus die betoog, hom

nie van hierdie bewyslas gekwyt nie. Die landdros het die verweer

verwerp maar die Hof a quo het dit in die volgende woorde

gehandhaaf:

"Na my mening staan dit vas dat 'verloor' 'n woord van besonder wye betekenis is en dat dit in sy sogenaamde primêre betekenis beteken 'ongemerk laat wegraak'. Eers wanneer 'verloor' gebruik word in die disjunkte vorm volgens Professor van Jaarsveld, moet daar iets bygevoeg word by die woord verloor voordat 'n mens weet wat dit is naamlik 'ek het my vuurwapen verloor deur diefstal' anders sal dit beteken dat ek het my vuurwapen ongemerk laat wegraak. Daar is sonder twyfel meriete in die argument van mnr Mostert. Dit word betoog dat die betekenis van

9

'diefstal' en 'vernietiging' nie díe enigste redelike moontlike afleiding te make is van die feite nie en dat die onskuldige betekenis van verloor naamlik ongemerk laat wegraak nie uitgesluit is nie in welke geval dit natuurlik beteken dat die Staat nie sy bewyslas gekwyt het om te bewys dat die antwoord op vraag 5 vals was nie."

Die Hof a quo het gevolglik bevind dat die woord "verloor" in die konteks van die betrokke vraag meerdere betekenisse kan hê, insluitende die onskuldige betekenis van ongemerk laat wegraak, met die gevolg dat die Staat nie bewys het dat die antwoord op die vraag vals was nie.

Alhoewel die regsvraag wat deur die Hof a quo geformuleer is, ietwat anders daar uitsien, is ons deur die advokaat namens die Staat gevra om te beslis dat die woord "verloor" in die SAP 271-vorm slegs een betekenis het en dat daardie betekenis noodwendig die verlies deur diefstal of roof insluit. Hy het gevolglik betoog dat die "nee" antwoord op die betrokke vraag noodwendig 'n

10

wanvoorstelling daargestel het dat wapens nie voorheen gesteel of geroof is nie.

Namens die beskuldigdes is in hierdie Hof in limine betoog dat die Hof a quo se beslissing nie een oor 'n regsvraag was nie en dat dit gevolglik nie vatbaar was vir 'n appél ingevolge art 311 van Wet 51 van 1977 nie. Dit is betoog dat die Hof a quo se beslissing oor 'n feitevraag gegaan het, naamlik of die Staat 'n wanvoorstelling bewys het. Dit is nie nodig om te beslis of die Hof se bevinding dat die woord "verloor" meerdere betekenisse kan hê, 'n beslissing oor 'n regsvraag is al dan nie. In die veronderstelling dat dit wel die geval is, moet die regsvraag, soos nou geformuleer, teen die Staat beslis word. Dit is duidelik dat die woord "verloor" in die betrokke konteks verskillende betekenisse kan hê, wat nie noodwendig ontdaanmaking deur middel van roof en diefstal insluit nie. Sien byvoorbeeld HAT,

11

2de uitgawe sv "verloor" op bl 1254. Daaruit volg dat die Hof a quo tereg beslis het dat die Staat geen wanvoorstelling bewys het nie.

Volledigheidshalwe noem ek dat die Hof a quo ook aan die Staat verlof verleen het om te appelleer teen sy bevinding dat indien die woord "verloor" vatbaar is vir verskillende betekenisse, die Staat die bewyslas dra om daardie betekenis wat die beskuldigdes bevoordeel, uit te sluit. Dit is nie voor ons betoog dat die Hof a quo 'n verkeerde maatstaf toegepas het nie, maar slegs dat die beskuldigdes se betekenis van die woord "verloor", so verregaande is dat die Staat nie daardie moontlikheid hoef uit te geskakel het nie. Hierdie is geen regsvraag nie maar 'n feitebevinding naamlik dat die Staat op die feite nie bewys het dat die voorstellings vals was nie. Dit is nie vatbaar vir appèl deur die Staat nie.

Ek kom nou by die beskuldigdes se appèlle teen die

12

skuldigbevindings op aanklagte 152 en 153. In hierdie aanklagte is dit die beskuldigdes ten laste gelê dat hulle in stryd met art 38, gelees met arts 39 (1) (h) en 40 (2) van die Wet, versuim het om die verlies, diefstal of vemietiging van wapens binne die voorgeskrewe tyd (destyds 48 uur) aan te meld. Art 38 het in die tersaaklike tydperk as volg gelees :

"38. Wanneer 'n wapen in die besit van 'n persoon verloor, gesteel of vernietig word, moet hy, binne 48 uur nadat hy van die verlies, diefstal of vemietiging van die wapen bewus geword het, persoonlik of deur iemand deur hom daartoe gemagtig die verlies, diefstal of vemietiging by 'n polisieman by 'n polisiestasie aan diens aanmeld en, op versoek van daardie polisieman, aan hom die besonderhede met betrekking tot die wapen, die plek waar en die tyd wanneer dit verloor, gesteel of vernietig is, verstrek wat die polisieman vereis."

Ingevolge art 39 (1) (h) is iemand wat versuim om aan die bepalings van art 38 te voldoen, aan 'n misdryf skuldig. Art 40

13

(2) (b) bepaal dat wanneer daar by 'n vervolging weens die versuim om die verlies, diefstal of vernietiging van 'n wapen aan te meld soos deur art 38 vereis, bewys word dat die beskuldigde persoon te enige tyd in besit was van die betrokke wapen of die houer is van 'n lisensie of magtiging om die wapen te besit, daar vermoed word, totdat die teendeel bewys is,

"(b) dat hy versuim het om die verlies, diefstal of vernietiging van die wapen aan te meld soos aldus vereis, indien daar bewys word dat daardie wapen verloor, gesteel of vernietig is."

Die verhoorlanddros het bevind dat daar in die geval van die diefstal ens van drie wapens versuim is om aan die bepalings van art 38 te voldoen. Twee daarvan, naamlik no 1304690, wat op 30 Desember 1985 geroof is, en no 583058, wat op 24 Januarie 1983 gesteel is, was in beskuldigde 2 se naam gelisensieer en vorm die onderwerp van aanklag 152. Beskuldigdes 1, 2 en 4 is aan

14

hierdie aanklag skuldig bevind. Die derde wapen, no 1901046, wat op 14 September 1987 gesteel is, was in beskuldigde 3 se naam gelisensieer en vorm die onderwerp van aanklag 153. Beskuldigdes 1 en 3 is aan hierdie aanklag skuldig bevind.

Dit is namens die beskuldigdes aanvaar dat daar in die geval van al drie bogemelde wapens voldoende bewys gelewer is deur die Staat om die vermoede geskep deur art 40 (2) (b) in werking te stel. Die bewyslas het gevolglik op die beskuldigdes gerus om die aanmelding van die verlies, diefstal of vemietiging van die betrokke wapens binne die voorgeskrewe tydperk op 'n oorwig van waarskynlikhede te bewys.

Die beskuldigdes het geeneen getuig of enige getuienis aangebied by die verhoor nie. Vir die betoog dat die verdediging hom van die bewyslas gekwyt het, is op die getuienis van die staatsgetuies Oosthuizen en Moulton sowel as op die

15

waarskynlikhede gesteun. Oosthuizen was vanaf die begin van

Februarie 1986 tot einde Februarie 1987 in diens van beskuldigdes

2 en 3. Vanaf Mei 1986 was hy in beheer van alle vuurwapens.

Sy getuienis was dat daar 'n register gehou is van alle vuurwapen-

lisensies sowel as 'n register waarin inskrywings gemaak is wanneer

vuurwapens aan die wagte uitgereik is en dit weer aan die einde van

die wagte se diensbeurte terugbesorg is. Hierdie registers is by die

verhoorhof as bewysstukke ingehandig en dit was gemene saak dat

dit 'n betroubare beeld bied van beskuldigdes 2 en 3 se wapenbesit.

Toe Oosthuizen beheer geneem het van die vuurwapens in

beskuldigdes 2 en 3 se besit het hy die bestaande registers

nagegaan, dit vergelyk met die vuurwapens op hande en 'n lys

saamgestel van alle vermiste vuurwapens, die datum waarop

elkeen laas aan 'n wag uitgereik is, of die verlies aangemeld is by

die polisie en indien wel, die polisie se verwysingsnommer.

16

Gedurende Febmarie 1987 het Oosthuizen weer 'n opname gemaak en die lys aangesuiwer. Oosthuizen het getuig dat dit standaard-prosedure was om alle verliese van vuurwapens onmiddellik by die polisie aan te meld. Dié praktyk het ontstaan uit 'n opdrag tot daardie effek wat met noulettende sorg nagekom is. Indien 'n wag sy vuurwapen verloor, moes hy dit dadelik self by die polisie aanmeld en ook die verlies by die kantoorpersoneel rapporteer wat op hulle beurt die polisie in kennis gestel het. Dié praktyk het gegeld toe Oosthuizen daar begin werk het en dit is steeds gevolg toe hy daar weg is. Oosthuizen het voorbeelde gegee van gevalle waar verliese binne 'n uur of twee by die polisie aangemeld is.

Oosthuizen se getuienis is gestaaf deur Moulton wat vanaf November 1988 tot Mei 1989 'n bedryfsbestuurder by beskuldigde 2 se tak in Durban was. Hy het getuig dat dit by al die takke van die groep standaard-praktyk was om onmiddellik die verlies van 'n

17

vuurwapen by die polisie aan te meld. Hy het ook 'n voorbeeld gegee van 'n verlies wat tydig aangemeld is.

Oosthuizen se getuienis oor die standaard-praktyk om dadelik die verlies van vuurwapens by die polisie aan te meld, is deur die verhoorhof aanvaar. Op grond van sy getuienis is ten opsigte van vier vuurwapens wat gedurende sy dienstydperk verlore geraak het, bevind dat die vermoede bevat in art 40 (2) (b) wel deur die verdediging weerlê is. Die verhoorlanddros verwys in die loop van sy uitspraak na 'n aantal gevalle waar die verlies van 'n vuurwapen wel by die polisie aangemeld is. Dit blyk ook uit kolomme 3 en 6 van Aanhangsels A en B tot die klagstaat dat in 'n groot aantal gevalle die verlies of diefstal van vuurwapens wel deur die beskuldigdes by die polisie aangemeld is.

Die verhoorlanddros en die Hof a quo het bevind dat die getuienis van Oosthuizen en Moulton onvoldoende was om die

18

gemelde vermoede te weerlê in dié gevalle waar die verlies of diefstal nie in hulle dienstermyne plaasgevind het nie. Vuurwapen no 1304690 is op 30 Desember 1985 gesteel, slegs enkele weke voordat Oosthuizen se dienstydperk op 1 Februarie 1986 begin het. Soos ek reeds gemeld het, was sy getuienis dat die praktyk om die verlies van vuurwapens dadelik aan te meld, toe reeds gevestig was. Al die waarskynlikhede dui daarop dat die praktyk ook op 30 Desember 1985 gevolg is. Wat wapen no 1901046 betref, is daar direkte getuienis te vind in die vorm van inskrywings in beide die lisensie- en uitreikingsregisters dat die verlies van hierdie wapen op 14 September 1987 wel aangemeld is by die polisie. In die lig van die uitdruklike erkenning deur adjudant-offisier Annandale dat soms nagelaat word om die aanmelding van wapenverliese in die misdaadregisters aan te teken, kan die feit dat die aanmelding van die verlies van vuurwapens no's 1304690 en 1901046 nie uit die

19

polisierekords blyk nie, nie veel gewig dra nie. Die beskuldigdes is gevolglik ten opsigte van hierdie twee vuurwapens verkeerdelik skuldig bevind dat hulle versuim het om aan die bepalings van art 38 van die Wet te voldoen.

Wat betref wapen no 583058 wat op 24 Januarie 1983 gesteel is, het die advokaat namens die beskuldigdes tereg toegegee dat weens die lang tydsverloop hy nie kan betoog dat die beskuldigdes bewys het dat die praktyk om die verlies van vuurwapens dadelik aan te meld, toe reeds bestaan het nie. Daar is egter betoog dat beskuldigdes 1 en 4 ingevolge art 332(5) van Wet 51 van 1977 nie op aanklag 152 skuldig bevind kan word nie by gebreke aan bewys dat hulle nie aan die pleging van die misdryf deelgeneem het en dit ook nie kon verhoed het nie. Geen getuienis van enige aard is deur beskuldigdes 1 en 4 in hierdie verband aangebied nie. Soos ek reeds aangedui het, was daar ook

20

geen getuienis dat daar op die stadium toe hierdie vuurwapen gesteel is, naamlik 24 Januarie 1983, enige stelsel bestaan het om te sorg dat die diefstal van vuurwapens dadelik aangemeld word nie. Gevolglik is die bewyslas ingevolge hierdie sub-artikel nie gekwyt nie en beskuldigdes 1, 2 en 4 is ten opsigte van die verlies van vuurwapen no 583058 tereg skuldig bevind. In die veronderstelling dat die beskuldigdes se appèlle nie ten volle sou slaag nie, het hulle advokaat nie vir enige kostebevel teen die Staat gevra nie.

Die volgende bevel word gemaak:

  1. Beskuldigdes 1, 2 en 4 se appèlle teen hul skuldigbevindings op aanklag 152 word afgewys;

  2. Beskuldigdes 1 en 3 se appèlle teen hul skuldigbevindings op aanklag 153 word gehandhaaf;

  3. Die appèl van die Staat word afgewys.

W. VIVIER AR.

Van Heerden AR)

Marais AR) Stem saam.

▲ To the top