S v Odendaal (125/1995) [1995] ZASCA 160 (30 November 1995)


Saak nr 125/95

/MC

IN DDE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

IGNATTUS MICHAEL KRUGER ODENDAAL APPELLANT

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: CORBETT HR et VAN HEERDEN, VIVIER,

HARMS et OLIVIER ARR.

VERHOOR: 20 NOVEMBER 1995.

GELEWER: 30 NOVEMBER 1995.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant is in die Rondgaande Plaaslike Afdeling op

Potchefstroom deur Le Roux R en assessore op twee aanklagte elk van moord (aanklagte 1 en 2) en poging tot moord (aanklagte 3 en 4) skuldig bevind, Op elke moordaanklag is hy tot 16 jaar gevangenisstraf gevonnis en op elke aanklag van poging tot moord tot 12 jaar gevangenisstraf. Dit is gelas dat die vonnisse saamlopend uitgedien word. Met die verlof van die Hof a quo appelleer hy na hierdie Hof teen sy skuldigbevindings en vonnisse. Al vier aanklagte spruit uit 'n skietvoorval tydens 'n protesoptog deur ANC-ondersteuners ("die groep") op 17 April 1993 in Vanderbijlpark. Reg teen die einde van die optog, toe die groep in een van die hoofstrate van Vanderbijlpark, Frikkie Meyerboulevard, beweeg het en besig was om uiteen te gaan, het die appellant in sy voertuig ("die bakkie") tussen die agterste lede van die groep inbeweeg en op hulle geskiet. Die íwee oorledenes

3

in aanklagte 1 en 2 is noodlottig gewond en die twee klaers in aanklagte 3 en 4 ernsíig beseer.

Die appellant se verweer was dat hy in noodweer gehandel het en altematiewelik nie die vereiste wederregtelikheidsbewussyn gehad het nie deurdat hy gehandel het in die waan dat sy optrede deur noodweer geregverdig was.

Die onbetwiste feite kan as volg saamgevat word. Die groep, wat uit 'n paar duisend mense bestaan het, het die betrokke oggend vanaf die woonbuurt Boipatong net buite Vanderbijlpark na die polisiestasie in die middedorp per voet beweeg waar hulle 'n versoekskrif oorhandig het. Die optog het plaasgevind teen die destydse agtergrond van politieke onrus en geweldpleging oral in die land, veral na die moord op die ANC-leier, mnr Chris Hani, 'n week vroeër, en is gehou in weerwil daarvan dat die plaaslike stadsraad sy toestemming daartoe geweier het. Na die

4

oorhandiging van die versoekskrif het die groep omgedraai en langs dieselfde roete as wat hulle gekom het, terugbeweeg in die rigting van Boipatong. Kort voor twee-uur die middag het die groep in 'n noordelike rigting in Frikkie Meyerboulevard, 'n dubbelweg wat in die middel geskei word deur 'n grasstrook, beweeg. Voor 'n woonstelgebou aan die westekant van Frikkie Meyerboulevard, ongeveer een en 'n half kilometer suid van waar Milanweg by Frikkie Meyerboulevard aansluit, het die appellant na die optog staan en kyk.

Tot op daardie stadium was die optog vreedsaam en het dit sonder enige voorvalle verloop. 'n Groot polisiemag van meer as eenhonderd man was ontplooi waarvan sommige lede langs die roete opgestel was, ander die optog in polisievoertuie gevolg het en nog ander op motorfietse langs die groep patrolleer het. 'n Aantal vredesmonitors het ook die groep te voet en in voertuie vergesel.

5

Nadat die optog by hom verby is, het die appellant in sy bakkie by die voertuie agter die optog aangesluit en verder saam met hulle beweeg. Daar was verskeie gepantserde voertuie van die polisie ("Casspirs") in die stoet en die appellant het by een van hierdie voertuie verbygery. Waar Milanstraat 'n T-aansluiting met Frikkie Meyerboulevard aan laasgenoemde se oostekant maak, was die groep besig om vinniger te beweeg, moontlik om gouer by Boipatong te kom wat toe binne sig was, en moontlik om by die busse te kom wat verder aan gewag het om lede van die groep na ander woonbuuríe terug te neem. Die groep het gevolglik in daardie omgewing in Frikkie Meyerboulevard begin versprei. Namens die appellant is veel klem gelê op die feit dat lede van die groep op daardie stadium na die baan wat verkeer in 'n noordelike rigting dra ("die noordelike baan") oorgekom het om kortpad te neem na die busse oor die oop stuk grond aan die westekant van die

6

pad en ook omdat die middelman in daardie omgewing vemou het tot slegs 2,5 meter. Op die appellant se eie weergawe, egter, was daar geen samedromming by sy voertuig nie en is dit duidelik dat slegs enkele lede van die groep in die omgewing van sy bakkie was toe hy ongeveer regoor die T-aansluiting begin het om op die groep te vuur. Die getuienis hieromtrent was die volgende.

Mev E Coni, 'n monitor van die vredeskomitee, wat die hele optog vergesel het, was een van die eerste persone wat by die appellant se bakkie gekom het nadat hy begin skiet het. Hierdie feit word bevestig deur 'n reeks foto's wat 'n koerant-fotograaf, mnr J H Botha, vanaf die oostekant van Frikkie Meyerboulevard van die appellant geneem het terwyl hy besig was om te vuur en van die onmiddellik daaropvolgende gebeure. Die foto's is by die Verhoorhof as bewysstukke ingehandig. Botha het langs adjudant-offisier Eybers ongeveer 30 meter vanaf die appellant gestaan en

7

beide het namens die staat getuig. Volgens mev Coni het sy op die sypaadjie aan die westekant van Frikkie Meyerboulevard, ongeveer twee of drie tree voor die bakkie gestap toe sy die eerste skote hoor. Sy het onmiddellik omgedraai en na die bakkie, wat toe stilgestaan het, gehardloop. Die appellant se arm was by die venster aan die bestuurder se kant uit en hy was besig om te skiet. Sy het twee mense in die pad sien lê. Daar was 'n paar van die agterste lede van die groep naby die bakkie maar haar indruk was dat hulle slegs daarop ingestel was om betyds die busse te haal. Daar was geen samedromming naby die bakkie nie. Sy het met haar vlaggie teen 'n venster van die bakkie gekap sodat die appellant kon ophou vuur. 'n Hele aantal polisiemanne het toe daar aangekom. Sy het nog twee mense gesien wat raakgeskiet was. Volgens mev Coni was die toestand voor die skietery goed onder beheer en het niemand in enige gevaar verkeer nie.

8

Polisiemanne was oral te sien. Lede van die AWB-beweging het tot kort voor die skietery langs die groep beweeg en beledigings is oor en weer tussen hulle en lede van die groep geslinger, maar toe die skietery plaasvind was die AWB-lede reeds deur hul leier teruggeroep.

Eybers se getuienis was dat hy die bakkie opgemerk het nog voor die eerste skoot gevuur is. Die grootste gedeelte van die optog was verby en slegs die laastes van die groep was op daardie stadium nog in die omgewing. Van hulle het verby die bakkie gehardloop. Hy het gesien dat die appellant sy regterarm by die venster uitsteek met 'n vuurwapen in die hand en dat hy begin vuur. Op daardie stadium was daar geen lede van die groep naby die bakkie nie. Hy het vyf skote kort agtermekaar gehoor en mense gesien val. Hy het saam met ander polisiemanne vorentoe gestorm en die appellant is oorrompel. Daar was geen klipgooiery of enige

9

ander voorvalle voor die skietery nie en hy bet geen wapens gesien nie. Daar was omtrent veertig lede van die polisiemag in uniform in die nabyheid.

Botha het getuig dat hy staan en kyk het hoe die laaste lede van die groep verby draf toe hy skote hoor val. Hy het instinkmatig begin om foto's te neem en deur sy kameralens die bakkie gesien en die appellant wat besig was om te skiet. Hy het ook geen samedromming van mense by die bakkie gesien nie. Die eerste foto wat Botha geneem het toon die bakkie aan die linkerkant van die noordelike baan van Frikkie Meyerboulevard en, volgens Botha, omtrent 20 meter van die noordelike baan voor die bakkie. Nader aan die kamera is 'n gedeelte van die middelman en die baan wat verkeer in 'n suidelike rigting dra ("die suidelike baan") van Frikkie Meyerboulevard. Volgens die posisie van mev Coni, wat na die bakkie aangehardloop kom en minder as 'n

10

tree voor die bakkie is, is dit duidelik dat die foto geneem is enkele sekondes nadat die eerste skoot gevuur is. Die appellant sit agter die stuurwiel, sy regterarm is by die venster uit en rus op die deur en sy regterhand met 'n vuurwapen daarin is omhoog in 'n skietposisie en wys vorentoe, dit wil sê in 'n noordelike rigting. Behalwe mev Coni is daar niemand in die noordelike rybaan van Frikkie Meyerboulevard voor of langs sy bakkie nie. Op die middelman regs voor hom lê 'n persoon op die naat van sy rug, twee ander persone is op die middelman regs en effens agter die appellant en twee persone is op die suidelike baan van Frikkie Meyerboulevard. Aan die linkerkant van die bakkie is die eerste polisieman reeds op die toneel. Die persoon wat op die middelman lê, is mnr N J Msibi, die klaer in aanklag 4. Van die ander foto's toon dat die oorledenes in aanklagte 1 en 2 op die suidelike rybaan van Frikkie Meyerboulevard geval het. Die klaer

11

in aanklag 3, mnr K J Duitlwileng, het daarin geslaag om weg te hardloop en verskyn nie op die foto's nie. Dit is duidelik uit die foto's dat talle polisiemanne binne sekondes op die toneel was.

Konstabel Fouche was die bestuurder van 'n pantserbakkie in die stoet voertuie agter die optog. Sy getuienis was dat nadat die appellant by die stoet aangesluit het, hy begin het om tussen die voertuie voor hom deur te vleg ten einde nader aan die voorpunt van die stoet te kom. Dit het hom agterdogtig gemaak en hy het die bakkie agtervolg maar kon nie nader as drie voertuie van die bakkie af kom nie. Nadat die bakkie reg voor in die stoet gekom het, het hy gesien dat die appellant sy hand met 'n vuurwapen daarin by die venster uitsteek en het hy skote gehoor. Fouche het gestop, uitgespring en nader gehardloop. Toe hy by die bakkie kom, was daar reeds ander polisiemanne daar en die appellant is aan hom oorhandig om na die aanklagkantoor te neem.

12

Die twee klaers in aanklagte 3 en 4 het ook getuig. Duitlwileng se getuienis was dat hy een van die groep was en dat hy in die noordelike baan van Frikkie Meyerboulevard geloop het. Hy is by die bakkie, wat stadig beweeg het, verby. Ander lede van die groep het gehardloop. Daama het hy 'n skoot gehoor, omgekyk en 'n persoon agter hom gesien wat geval het. Die bakkie was toe ongeveer drie meter agter hom. Hy het weggehardloop maar is op sy linker voorarm raakgeskiet. Hy was vyf maande in die hospitaal en kan nou net twee vingers van sy linkerhand gebruik. Msibi, ook een van die groep, se getuienis was dat die groep begin hardloop het kort voor die skietery en dat sommige van hulle agter geraak het. Hy was onder die agterstes en het op die suidelike baan van Frikkie Meyerboulevard geloop toe hy 'n geskree van AWB-lede vanaf die oostekant van die pad

13

hoor. Hy het die bakkie links agter hom gesien, gedink dat die bestuurder 'n ANC-monitor was en was besig om na links te draai om na die bakkie toe te gaan toe hy in die rug geskiet is. Gelukkig was dit 'n skrams skoot wat onder sy regterarm uit is en toe deur die bo-arm getrek het. Hy het steeds las van die arm. Volgens Msibi is hy geskiet in die T-aansluiting van Milanstraat en Frikkie Meyerboulevard. Dit is 'n hele paar tree suid van waar die bakkie tot stilstand gekom het. Volgens die getuienis van beide klaers was daar geen lid van die groep naby die bakkie nie. Die appellant se getuienis was dat hy om ongeveer halfeen die betrokke middag vanaf sy huis buite Vanderbijlpark na die middedorp gery het om sy pos te gaan haal. Hy bedryf sy eie konstruksiebesigheid en het sekere tenderdokumente verwag. Hy het vooraf gehoor dat 'n optog beplan word vir daardie dag maar het

14

gemeen dat dit afgelas is omdat die stadsraad sy toestemming geweier het. Op pad na die poskantoor die middag is hy in Frikkie Meyerboulevard deur 'n verkeersbeampte voorgekeer en hy het toe besef dat daar iets aan die gang is in daardie straat. Hy het 'n alternatiewe roete na die poskantoor gebruik. Op pad temg huis toe het hy 'n samedromming gesien en verneem dat die ANC-optog in aantog was. Hy was nuuskierig om dit te sien en het in Frikkie Meyerboulevard ingedraai en voor 'n woonstelgebou gaan staan en kyk hoe die optog enkele meters van hom af verbygaan. Toe die optog en die grootste gedeelte van die stoet voertuie verby hom is, het hy tussen die laaste twee Casspirs by die stoet aangesluit. Hy het by een van hulle verbygery en gesien dat daar nog 'n Casspir voor hom was. Hy het daarna geen verdere voertuie in die stoet verbygegaan nie. Toe hulle die aansluiting

15

van Milanstraat nader, het sommige van die groep vinniger begin beweeg sodat van die ander agter geraak het. Hierdie agterhoede was aanvanklik op die suidelike baan maar het toe begin oorkom na die noordelike baan sodat die appellant hom skielik tussen lede van die groep bevind het. Dit het hom benoud gemaak. Hy kon nie na links van die pad aftrek nie omdat daar 'n metaalreling langs die pad was. Aan die linkerkant van die reling het AWB-lede en ander gewapende privaatpersone geloop. Feitlik regoor die aansluiting van Milanstraat het die AWB-lede omgedraai, waarop 'n lid van die groep voor die appellant in die pad vasgesteek en vir die AWB-lede geskree het: "Cowards, don't turn around". Nog drie of vier ander lede van die groep het by die eerste een aangesluit en een het op en af gespring en geskree: "One settler, one bullet". 'n Ander, wat reg langs die bakkie was, het geskree:

16

"Kill the farmer, kill him" terwyl hy na die appellant kyk. Die appellant het geglo dat die woorde vir hom bedoel was en dat sy lewe in gevaar was. Links van hom was die metaalreling en regs was lede van die groep. Hy het petrol getrap om vorentoe te ry en die bakkie het gestol, 'n tree of wat vorentoe geruk en gaan staan. Hy het sy vuurwapen, wat in 'n geweersakkie voor by sy broek se lyfband ingedruk was, nitgehaal, sy hand by die venster uitgesteek en begin skiet. Die appellant het aanvanklik gesê dat hy vyf skote aaneen geskiet het. In kruisverhoor het hy gesê dat hy eers net drie skote geskiet het, waarvan hy glad nie bewus is nie, en later nog twee nadat hy iemand op die dak van die bakkie hoor slaan het en gedink het dat hy aangeval word. Hy het al die skote na regs geskiet sonder om dit doelbewus te doen en sonder om te mik. Hy het toegegee dat die optog vreedsaam verloop het totdat een van die groep geskree het "Kill the farmer, kill him".

17

Dit was die werklike rede waarom hy geskiet het. Hy het andersins nie bedreig gevoel deur enige samedromming nie en die geskree oor en weer tussen die groep en die AWB-lede het ook nie vir hom gevaarlik voorgekom nie. Toe hy skiet was daar 'n Casspir vyftig tree voor hom en nog een vyftig tree agter hom. Hy het nie ander polisiemanne naby hom gesien nie. Hy het wel vir mev Coni reg voor sy bakkie gesien. Nadat hy geskiet het, was die polisie gou by en is hy dadelik weggeneem. Ongeveer twee en 'n half uur later het hy 'n skriftelike verklaring aan die polisie gemaak waarin hy onder andere gesê het dat hy geskiet het nadat die skare begin spring en skreeu en vloek het en die slagspreuk "One settler one bullet" geskree het.

Die vuurwapen waarmee die appellant geskiet het, is 'n ,357 rewolwer wat deur die Verhoorhof as 'n swaar kaliber wapen beskryf is. Die appellant het getuig dat wanneer hy sy huis

18

verlaat hy altyd die wapen en 'n handvol ekstra patrone saam met hom neem. Die polisie het na die skietery twee-en-twintig lewendige patrone in sy sak gevind.

Namens die appellant is in hierdie Hof betoog dat die Verhoorhof verkeerdelik bevind het dat hy nie in noodweer gehandel het nie. Daar is betoog dat 'n aantal faktore gelyktydig saamgewerk het om 'n gevaarsituasie te skep waarin die appellant geregverdig was om te skiet. Daar is verder betoog dat die Verhoorhof se bevinding tot die teendeel gebaseer was op afleidings uit die staatsgetuies se waamemings nadat die eerste skote reeds geklap het en dat die appellant se weergawe van die gebeure voor hy geskiet het, onbetwis staan en verkeerdelik deur die Verhoorhof verwerp is.

Wat die betoog betref dat verskeie faktore 'n gevaarsituasie geskep het, het ek reeds daarop gewys dat al die getuienis,

19

insluitende dié van die appellant, dit duidelik maak dat daar geen samedromming by sy bakkie was nie. Dit was nie in geskil dat die optog vreedsaam en sonder voorvalle verloop het nie en dat daar geen konfrontasie gedreig het tussen die groep en die AWB-lede nie. Die appellant het trouens self getuig dat hy nie bedreig gevoel het deur die oor en weer geskree tussen die groep en die AWB-lede nie. Polisiemanne was oral teenwoordig en die appellant het geweet dat polisievoertuie voor en agter hom in die stoet was. Afgesien van die doodsdreigement wat volgens die appellant die werklike rede vir die skietery was, is daar, na my mening, nie sprake van enige ander faktor wat 'n gevaarsituasie geskep het nie.

Die betoog dat die staatsgetuies slegs getuig het oor waarnemings nadat die eerste skote geklap het, is gebaseer op enkele passasies in die uitspraak van die Verhoorregter in die

20

aansoek om verlof om te appelleer en is nie geregverdig nie. In hierdie gedeeltes van sy uitspraak sê die Verhoorregter dat daar nie ooggetuienis was van die gebeure onmiddellik voor die skietery nie en dat die Hof aangewese was om afleidings te maak uit die getuies se waarnemings nadat die eerste skote geval het. Dit wil voorkom asof die Verhoorregter die getuienis van Eybers en Coni uit die oog verloor het wat die Hof a quo in sy uitspraak by skuldigbevinding aanvaar het. Ek wys in die verbygaan daarop dat die Verhoorregter nie die korrekte toets toegepas het toe hy verlof verleen het om te appelleer nie. Die vraag was of daar 'n redelike vooruitsig op sukses in die appèl sou wees (S v Sikosana 1980 (4) SA 559 (A)) en nie, soos die Verhoorregter dit gestel het, of "'n ander hof miskien wel tot 'n ander slotsom sou kon kom nie".

Om terug te keer na die ooggetuienis van die gebeure voor die eerste skoot geskiet is, het Eybers getuig dat hy gesien het dat

21

die appellant sy hand by die venster uitsteek voordat die skote geklap het. Daar was toe geen lede van die groep naby die bakkie nie. Volgens mev Coni het sy die bakkie reeds voor die skietery dopgehou omdat sy nie kon verstaan wat die bakkie in die optog gemaak het nie. Lede van die groep het by die bakkie verby-gehardloop en geeneen het enige bedreiging vir die appellant ingehou nie. Sy het niemand enige dreigemente hoor skree nie. Botha se foto's is wel geneem nadat die eerste skote geklap het, maar dit is volgens alle aanduidings so gou daarna geneem dat dit duidelike stawing bied vir die staatsgetuies dat daar niemand naby die bakkie was wat die appellant bedreig het nie.

Die appellant se weergawe dat een van die groep van reg langs sy bakkie geskree het, "Kill the farmer, kill him" is deur die Hof a quo as vals verwerp. In sy verklaring aan die polisie het die appellant niks van hierdie dreigement gesê nie. Alhoewel die

22

verklaring nie sy volledige weergawe bevat nie, sou mens verwag dat as dit die waarheid was, hy dit heel eerste aan die polisie sou gesê het omdat dit, volgens sy latere getuienis, die eintlike rede vir die skietery was. Instede daarvan gee hy in sy verklaring te kenne dat hy geskiet het nadat baie lede van die groep begin het om te spring, skreeu en vloek en die slagspreuk "One settler, one bullet" geskree het. Strydig hiermee getuig hy dat hy nie bedreig gevoel het deur die groep nie.

Die appellant se getuienis is in verskeie opsigte weersprekend en onwaarskynlik. Ek het reeds daarop gewys dat hy aanvanklik gesê het dat hy vyf skote aaneen geskiet het, terwyl sy verdere getuienis was dat hy eers drie en toe later nog twee skote gevuur het. Die appellant het getuig dat hy wild geskiet het omdat hy doelbewus geraas wou maak om sy aanvallers te laat skrik. Terselfdertyd getuig hy dat hy nie eens bewus was daarvan dat hy

23

die eerste skote gevuur het nie. Hy kon nie verduidelik waarom, indien hy bloot 'n geraas wou maak, hy nie in die lug gevuur het nie of waarom, indien hy wild geskiet het, vier uit die vyf skote mense getref het nie. Indien die appellant inderdaad bedreig gevoel het, sou mens verwag dat hy op die persone wat hom bedreig het, sou gevuur het. Daar is egter geen aanduiding dat die persone wat getref is, hom bedreig het nie. Die getuienis van die klaers is trouens tot die teendeel. Die appellant kon ook nie verduidelik waarom hy nie eenvoudig sy venster toegemaak het en die polisie se aandag getrek het nie. Hulle sou binne oomblikke by gewees het, soos wel gebeur het nadat hy geskiet het. 'n Verdere aspek wat twyfel werp op sy weergawe is die feit dat mev Coni, wat twee of drie tree voor die bakkie was, nie die doodsdreigement gehoor het nie.

Die objektiewe feite weerspreek die appellant se getuienis.

24

Hy neem 'n vuurwapen en twee-en-twintig los patrone saam met hom as hy die pos gaan uithaal en sy verduideliking is dat hy uit vrees en waaksaamheid vanweë die toestand van geweld in die land_ nie sy huis daarsonder verlaat nie. Nogtans gaan staan hy op 'n plek langs die roete waar die hele optog binne enkele meters van hom af verbygaan, sluit by die polisievoertuie agter die optog aan en vleg tussen die voertuie deur om nader aan die groep te kom. Dit is nie die optrede van 'n persoon wat bevrees is nie.

In al die omstandighede is daar geen rede om met die aanvaarding van die staatsgetuienis en die verwerping van die weergawe van die appellant deur die Hof a quo in te meng nie. Die Hof a quo het gevolglik tereg bevind dat die appellant nie in enige gevaar verkeer het toe hy geskiet het nie en dat hy ook nie in enige waan verkeer het dat hy bedreig word nie, maar dat hy geskiet het met die opset om te dood. Hy is tereg skuldig bevind.

25

Wat die appèl teen die vonnisse betref, het die Hof a quo geen mistasting of ander onreëlmatigheid begaan nie en daar kan ook nie gesê word dat die vonnisse buitensporig is nie.

Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.

CORBETT HR)

VAN HEERDEN AR)

HARMS AR)

OLIVIER AR) Stem saam.

▲ To the top