S v Cilliers (697/1992) [1995] ZASCA 17 (24 March 1995)


SAAKNOMMER: 697/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)


IN DIE SAAK TUSSEN:

GERRIT JOHANNES CILLIERS APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: HEFER,STEYN, ARR et OLIVIER, Wnd AR

VERHOORDATUM: 27 FEBRUARIE 1995

LEWERINGSDATUM: 24 MAART 1995

UITSPRAAK OLIVIER, Wnd AR:

Die 43-jarige appellant het in die streekhof van die Oos-Kaap te Port Elizabeth tereggestaan op vier aanklagte van onsedelike aanranding. Dit is hom ten laste gelê dat hy in die tydperk Januarie 1987 tot Desember 1989 vier jong seuns onsedelik aangerand het. Hy is in elke geval in die alternatief

2

aangekla van 'n oortreding van artikel 14(1 )(b) van die Ontugwet 23 van 1957.

Hy het op al die aanklagte onskuldig gepleit en is onskuldig bevind op drie van die aanklagte. In die geval van een van die aanklagte, ten aansien van die minderjarige seun G L, is hy op die hoofklag skuldig bevind. Hy is gevonnis tot 'n boete van R1 500 of 12 maande gevangenisstraf asook 'n verdere 6 maande gevangenisstraf, welke tydperk voorwaardelik vir 3 jaar opgeskort is. Uitspraak is gelewer op 17 April 1991.

Appeltant gaan hierna in hoër beroep teen die gemelde skuldigbevinding na die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof. In 'n uitspraak gelewer op 16 April 1992 wys die hof die appèl van die hand. Dieselfde hof wys ook 'n aansoek vir verlof om na hierdie hof te appelleer van die hand.

Hierna doen die appellant by die Hoofregter aansoek vir verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer en tegelykertyd ook om verdere getuienis, naamlik dié van ene professor D R, aan te bied.

Op 27 Augustus 1992 verleen die Hoofregter verlof aan appellant om

3

teen sy skuldigbevinding na hierdie hof te appelleer en voeg by dat dit die appellant vrystaan om 'n aansoek ter oorweging van verdere getuienis aan die hof wat met die appèl gemoeid is, te rig.

Daar is in hierdie hof nie volhard met die aansoek om verdere getuienis voor te lê nie. Die betrokke aanklaa

In die aanklag tans ter sprake word beweer dat die appellant gedurende die tydperk Januarie 1987 tot Augustus 1988 en te [edited], die minderjarige seun, G L, op twee geleenthede onsedelik aangerand het, te wete:

(i) deur hom tydens die eerste insident vas te hou en deur sy klere sy privaatdeel te betas, en

(ii) deur hom tydens die tweede insident, wat veel later plaasgevind het, vas te hou, sy broek af te trek en sy privaatdeel te masturbeer.

4

G is gebore op 1982 en was agt jaar oud toe hy gedurende 1991 getuienis afgelê het. Sy ouers en appellant en sy eggenote was vir baie jare huisvriende en vertrouelinge. Sy vader was 'n [edited] terwyl die appellant aan die hoof van daardie universiteit se administrasie gestaan het. Appellant het hom as advokaat bekwaam en is tot die Balie toegelaat. Mevv L en C is beide gegradueerde dames. Die gesinne het 'n bo-gemiddelde lewensstandaard gehandhaaf en het vir 'n tyd lank langs mekaar as bure gewoon. Beide ouerpare het 'n paar kinders.

Ek behandel die beweerde oortredings kortliks. Die beweerde eerste aanrandina:

Volgens G het die eerste aanranding plaasgevind op 'n dag toe sy hele familie by die appellant se huis gaan kuier het. Die ouerpare het in die sitkamer gesit en gesels; die ander kinders het taamlik luidrugtig in een van die slaapkamers gespeel en hyself het in die sg leeshoekie sit en lees. Dit is 'n verbreding van die gang wat uit die sitkamer na die slaapkamers lei, regoor

5

die oopplan kombuis. Volgens hom het appellant sklelik in die leeshoekie ingekom en bo-oor sy broek aan sy privaatdeel gevat. Hy het verskrik opgespring en by die buitedeur van die leeshoekie na die swembad gehardloop. By die deur het die appellant na hom geslaan en hom liggies aan die skouer geraak. Appellant het hom tot by die swembad gevolg en hom aangesê om niks aan sy ma te vertel nie. Terwyl hy deur appellant agtervolg is, het hy gesien dat die gordyne van die sitkamer halfpad oopgetrek was. Nadat appellant die agtervolging gestaak het, het hy, G, op die muurtjie gaan sit en moerbeie eet. Volgens hom was die appellant se bediende dié dag by die huis. Hulle gesin is later huistoe maar hy het die insident nie aan sy ouers gerapporteer nie.

Volgens die appellant het daar nooit so 'n insident plaasgevind nie. Hy kan wel van 'n Sondag onthou toe die L na kerk by hulle kom kuier het. Die kinders het blindemol gespeel in een van die kamers en so geraas dat hy hulle wou gaan stilmaak. Toe hy by die leeshoekie verbystap, taamlik driftig, sien hy G daar sit. Die kind het verskrik opgekyk. Toe hy weer

6

daar verbykom nadat hy die kinders stilgemaak het, was G nie meer daar nie.

Hierdie insident, indien dit plaasgevind het, moes gebeur het tussen Mei 1986 en Februarie 1988, volgens die omringende getuienis. Die beweerde tweede aanranding

In Augustus 1988 was G se vader weens 'n ernstige siekte in die hospitaal. Mev L het vir G en sy jonger boetie, J, by appellant se huis afgelaai om daar versorg te word terwyl sy by haar eggenoot hospitaalbesoek doen. Dit was in die dag. Volgens G was appellant daar; ook sy eggenote, want sy het hul koeldrank gegee. Hy het nie die bediende gesien nie. Hy het weer na die leeshoekie gegaan, waar appellant later aangekom het. Appellant het hom aan sy arm opgelig, sy broek afgetrek en terwyl hy, G, half-sit en half- staan, het appellant aan sy privaatdeel gevat en dit gewikkel totdat dit styf geraak het. Hy het dit met een hand gedoen met sy ander hand langs sy sy. G getuig dat hy toe sy broek opgetrek en na buite gehardloop het en in die struike gaan skuil het. Later neem hy J

7

saam met hom na die sitkamer. Daar tref hulle appellant aan wat hom weer maan om niks aan sy ma te vertel nie en byvoeg dat as hy dit sou doen, hy hom sal vasbind en van 'n hoë krans afgooi. Net hiema daag sy moeder op; appellant se eggenote maak vir haar die deur oop, en hy en sy moeder en J gaan huis toe.

Ook van hierdie voorval vertel hy eers niks aan sy moeder nie.

Appellant ontken enige kennis van of aandadigheid aan hierdie insident. Oorsig:

By die beoordeling van die skuldigbevinding deur die streeklanddros, moet dit beklemtoon word dat daar drie versigtigheidsreëls hier van toepassing is: dié t o v 'n kindergetuie, dié t o v 'n enkelgetuie en dié t o v 'n gestagsmisdaad. Hierdie reëls vereis dat daar óf stawing moet wees óf dat die staat se getuienis in elke materiële opsig wesenlik bevredigend is. Laasgenoemde vereiste beteken nie dat die staat se getuienis bo alle denkbare kritiek verhewe moet wees nie, maar wel dat die kumulatiewe effek van redelike en onbeantwoordbare kritiek daarteen die regsprekende

8

amptenaar tot versigtigheid moet maan. In die besonder moet met groot omsigtigheid te werk gegaan word as daar nie stawing is wat die beskuldigde met die misdaad verbind nie (sien C W H Schmidt Bewvsreg, 3e uitgawe, 107 e v, veral te 124 e v en gesag daar aangehaal).

En juis hier lê die knoop in die onderhawige appèl. Daar is geen getuienis anders as dié van G wat die appellant met die misdaad verbind nie. Die staat se getuienis, by monde van kindersielkundiges, dat G waarskynlik in 1987/1988 'n seksueel-traumatiese ervaring beleef het, help dus juis nie ten aansien van die kernvraag nie. So ook nie die getuienis van G se moeder oor sy afwykende gedrag (bv bednatmaak; histerie; wegkruip onder die bed) sedert die einde van 1987, vroeg in 1988 nie.

Dit volg dus dat na G se getuienis gekyk moet word eerstens uit die oogpunt dat die staat die bewyslas dra om bo redelike twyfel te bewys dat appellant hom aangerand het soos beweer en dat daar geen bewyslas op appellant rus nie, en tweedens met werklike (in teenstelling met retoriese) toepassing van die versigtigheidsreëls.

9

Namens appellant is aangevoer dat daar talle onbevredigende aspekte in G se getuienis is, die belangrikste wat ek kortliks vermeld:-1. Die inherente onwaarskvnlikhede in Gerio se weergawe:-

(a) Die eerste voorval.

Volgens G vind die voorval helder oordag plaas, enkele treë vanwaar sy ouers en mev L in die sitkamer sit, en in volle sig van die oopplan kombuis, terwyl die bediende in die huis is. Dan hardloop hy by die sydeur uit, voor die sitkamervensters verby, met beskuldigde agterna.

Appellant moes dus volgens die betoog van sy advokaat, 'n baie groot kans gewaag het met sowel die betasting as die agtervolging. Die normale reaksie van 'n kind wat onsedelik betas word, sou op alle waarskynlikhede wees om te skree of om na sy moeder te snel en daar te gaan kla. Appellant, 'n vooraanstaande universiteits-amptenaar en gemeenskapsleier, sou hom aan 'n enorme risiko blootgestel het beide met die beweerde betasting en agtervolging. Die agtervolging sou plaasgevind het, volgens G se weergawe, voor die sitkamer, waarin die ander drie volwassenes gesit het, se

10

venster verby. Volgens hom was die gordyne half-oop. Dit laat die moontlikheid, selfs die waarskynlikheid, dat die agtervolging ten aanskoue van die ander volwassenes sou plaasgevind het. Hoe waarskynlik is dit dat appellant so iets sou aandurf, word gevra.

Ook is aangevoer dat die getuienis van G dat appellant na hom sou geslaan het, erg onwaarskynlik is. 'n Aanrander sou juis probeer om nie verder konfrontasie uit te lok nie. Wat sou immers gebeur het as hy die seun raakgeslaan het en dié begin huil het?

Ook is geargumenteer dat dit as vreemd voorkom dat die appellant, wat by die leeshoekie verby moes gaan om die ander kinders in die slaapkamer te gaan stilmaak, en wat hom vir hulle vervies het en driftig gestap het, skielik sy tog sou onderbreek om G te betas.

Al die bogenoemde argumente was aan die landdros voorgelê. Hy het dit oorweeg. Elke onwaarskynlikheid is deur hom egter afgemaak, so is aangevoer, op onoortuigende wyse. So verklaar hy dat as G dadelik die insident aan sy ouers sou gaan rapporteer het, appellant dit as vriend van die

11

Ls maklik sou kon verduidelik het. Hy sou bv kon sê dat die seun per ongeluk aangeraak is of dat hy slegs met hom gespeel het. Dié verduideliking verloor, volgens die verdediging, die persoonlikheid van mnr L uit die oog: hy is klaarblyklik iemand wat streng dissipline en hoë standaarde handhaaf, en dis onwaarskynlik dat hy appellant se verskonings net daar sou gelaat het. Appellant ken mnr L baie goed en het geweet met welke soort mens hy te doen sal kry as hy sy seun onsedelik betas.

Ten aansien van die agtervolging van G sê die landdros dat appellant dit sekerlik nie op so 'n wyse sou gedoen het wat die suspisie wek van enige persone wat dit uit die sitkamer kon gadeslaan nie. Dié verduideliking, so is aangevoer, sê egter nie hoe sodanige agtervolging sou moes wees om nie suspisie te wek nie. Immers, appellant was uit die sitkamer weg na die kinders wat in een van die slaapkamers gespeel het en nou skielik agtervolg hy vir G by die swembad. Waarom sou dit nie suspisie wek nie? En wat sou sy verduideliking wees as navraag gedoen word?

12

Afgesien van die onwaarskynlikhede in G se weergawe, so is geredeneer, moet dit ook nie uit die oog verloor word nie dat nie een van die volwassenes in die sitkamer ooit die beweerde agtervolging gesien het nie, terwyl hulle dit geredelik sou kon waargeneem het. (b) Die tweede voorval

Hierdie beweerde insident vind ook plaas op 'n tydstip toe minstens appellante se eggenote en G se broertjie ook in die huis was. Dit vind weer plaas in die oop leeshoekie. Hierdie keer word hy met die dood gedreig. Dit alles gebeur terwyl appellant weet dat G se moeder hom kort daama sal kom haal. Is dit nou waarskynlik, so is in argument aangevoer, dat appellant die kanse dat hy op heter daad betrap kan word, dat G onmiddellik alarm sal maak, of dat hy dadelik die gebeure aan sy moeder sal beskryf, sou waag?

Die landdros het, volgens die appellant, nie die globale onwaarskynlikheid van die insident behandel nie, maar sommige van die detail daarvan oorweeg en verduidelikings aan die hand gedoen, bv dat daar 'n lang

13

tydsverloop was tussen die gebeure en die verhoor; dat G se getuienis oor hoe hy vasgehou was deur appellant maar net sy interpretasie van die appellant se doel met die vashou was; en die probleem dat hy oor die volgorde van die gebeure anders getuig het as wat hy aan sy moeder vertel het, met die verduideliking dat G in 'n toestand van ontsteltenis die volgorde verkeerd gehad het of selfs dat sy moeder dit verkeerd herroep het.

Teen elkeen van hierdie verduidelikings, so is aangevoer, kan teenargumente opgewerp word. Die oorhoofse onwaarskynlikheid bly onbeantwoord, aldus die appellant. 2. Ander ernstige gebreke in die staatsaak wat twyfel werp op G se geloofwaardigheid of betroubaarheid as getuie, volgens die verdediging.

(a) Die kwessie van aanmelding deur G van die beweerde aanrandings.

Die eerste beweerde voorval het plaasgevind êrens in 1987 (moontlik selfs 1986) en die tweede beweerde voorval in Augustus 1988.

Volgens mev L het G eers in 1989, (d w s nadat die tweede

14

beweerde voorval reeds plaasgevind het) en nadat sy druk op hom geplaas het, haar gedeeltelik van die eerste voorval vertel. Hy is daarna na twee sielkundiges, mew R en J geneem, en aan hulle vertel hy slegs van die eerste voorval. Hy is later ondervra deur die polisie, en aan hulle vertel hy ook slegs van die eerste beweerde insident.

Eers op 11 Junie 1990, ruim agt maande na sy eerste ontboeseming en nadat die strafsaak reeds aanhangig gemaak is, vertel hy aan sy moeder van die tweede voorval, en dan ook slegs dat appellant sy broekie afgetrek het en aan sy privaatdeel gevat het.

Op 30 Augustus 1990 voer hy 'n onderhoud met die aanklaer en hy gee weer die weergawe van die tweede insident so pas vermeld. Aan die aanklaer sê hy dat appellant hom nie gedreig het nie. Net daarna ondervra sy moeder hom weer. Vir die eerste keer vertel hy haar nou dat appellant hom sou gemasturbeer het en dat hy by die eerste voorval teen sy arm geslaan is. Namate sy moeder verdere druk op hom toepas, vertel hy haar dat appellant hom gedreig het.

15

Maar ook die mededeling oor die beweerde dreigement neem 'n snaakse wending, volgens die verdediging: eers het hy gesê dat appellant "miskien" sou gesê het dat hy 'n gat sou grawe en hom daarin sou gooi; net daama sê hy weer dat appellant dit nie gesê het nie, maar "miskien" sou gesê het dat hy hom sou vasbind en van 'n krans afgooi.

Die appellant het toegegee dat dit aanvaarbaar is dat G, as hy wel aangerand was, bang, skaam en terughoudend sou gewees het om daaroor te praat. 'n Mens moet dus ruim daarvoor toelaat. Maar in die skaal moet ook geplaas word, aldus die verdediging, dat hy volgens sy moeder 'n besonder oop en vriendelike seuntjie was wat nie vir haar geheime gehad het nie. Ook eienaardig is dat hy laat in 1987, vroeg in 1988 (waarskynlik geruime tyd nadat die eerste beweerde insident sou plaasgevind het) sterk en onrusbarende simptome van antisosiale gedrag begin toon het. Nogtans sê hy niks aan sy ouers nie. Toe hy wel onder aansienlike druk met ontboesemings begin, gebeur dit drupsgewyse en steeds met byvoeging van nuwe bewerings. Dit rym nie met die beeld wat sy moeder van hom geskets

16

het nie. Die landdros se bevinding dat hierdie feite nie 'n nadelige afleiding teen G se geloofwaardigheid regverdig nie, is volgens die verdediging kontensieus. Minstens moet die vermelde gebeure 'n ernstige waarskuwing tot die feite-beoordelaar gerig het, so is aangevoer, te meer waar daar in hierdie saak 'n intensiewe proses van konsultasie met G was - deur sy moeder, deur drie sielkundiges, deur lede van die S A Polisie en les bes deur die staatsaanklaer. Aan die moontlikheid dat die kind, bewustelik of onbewustelik, beïnvloed is deur vrae wat aan hom gestel is of deur suggesties, is, volgens appellant, nie genoeg gewig geheg nie.

Daar is in verband met die bogemelde aangeleentheid nog 'n aanverwante aspek wat volgens die verdediging ook nie genoegsame aandag gekry het nie, te wete ander moontlike oorsake vir G se antisosiale gedrag teen die einde van 1987 en vroeg in 1988. Juis in daardie tyd was daar baie huislike spanning rondom mnr L se werksituasie en die afhandeling van sy proefskrif. Mev L was verwagtend. G ly aan asma sedert hy 3 jaar oud is en is klaarblyklik 'n gespanne kind. Dit is nie seker of hy op

17

daardie stadium in 'n skool of kleuterskool was nie, want sy moeder meld van 'n boeketas wat hy neergooi. Dit kon ook spanning meegebring het. Al hierdie faktore kon, kumulatief, so is aangevoer, ook die soort spanning wat G gemanifesteer het, teweeggebring het. Appellant voer aan dat hierdie aspek nie voldoende ondersoek is en in ag geneem is nie. Dit wil voorkom, aldus appellant, asof die landdros se vertrekpunt was dat G wel seksueel gemolesteer was en dat die vraag slegs is wie die oortreder is.

Die laaste opmerking lei, volgens die verdediging, na nog 'n onbevredigende lacuna in die staat se saak. In die geval van een van die ander aanklagte, dié in verband met J H S, wat ook beweer het dat appellant hom onsedelik aangerand het, het die landdros bevind dat A, die seun van appellant, 'n intimiderende, afknouerige kind is wat J H geïntimideer het en selfs seksueel afgeknou het deur sy privaatdele by geleentheid te knyp. In die geval van J H het die landdros die mening uitgespreek"... dat hierdie optrede van A wat oor 'n lang tydperk strek dus die redelike moontlikheid skep dat die simptoom prentjie wat mev

18

J van J H waargeneem het sy oorsprong ook moontlik hierin kan lê. Myns insiens dus is daar op die getuienis nog 'n persoon wat J H seksueel kon getraumatiseer het, naamlikdie intimiderende, afknouende A. Terselfdertyd meen ek, skep dié verhouding tussen die twee seuns 'n nie-vergesogte motief vir J H om die beskuldigde valslik te inkrimineer. A word gestraf deur sy vader te straf."

Die landdros vermeld wel dat hierdie oorweging nie in geval van G geld nie. Volgens appellant is hierdie aspek egter nie voldoende ondersoek om die analogie met J H se geval te verwerp nie. Weer eens, veral waar die versigtigheidsreëls op die spel is, moes hierdie aspek ook met groter diepte behandel gewees het, aldus appellant.

(b) Appellant se advokaat het gewys op 'n hele aantal weersprekings en anomalieë in G se getuienis. Die landdros het dit ook in ag geneem, maar daarop gewys dat G 'n jong, onervare kind is wat onder groot emosionele spanning moes getuig oor voorvalle wat, indien dit plaasgevind het, etlike jare gelede gebeur het.

19

Die verdediging het toegegee dat die gemeide faktore 'n rol kan speel. Die vraag by die toepassing van die versigtigheidsreëls is of die feite-beoordelaar, juis bewus van al die genoemde faktore, aan die ander kant ook die inherente gevare verbonde aan die aanvaarding van die betrokke getuie se weergawe voldoende in ag geneem het. Hierdie vraag moet, volgens die verdediging, in die huidige geval ontkennend beantwoord word.

Die inherente onwaarskynlikheid van die twee beweerde voorvalle, die probleem met die aanmelding daarvan en die voortdurende opeenvolging van ondervragings deur verskeie persone, wat 'n intimiderende en suggestiewe effek op G moes gehad het, tesame met die gebreke in sy getuienis, moes, volgens appellant, veel meer gewig gedra het.

Aan die ander kant het die staat aangevoer dat daar die nodige stawing vir G se weergawe te vinde is in die feit dat appellant se getuienis deur die verhoorhof as vals verwerp is. By die verhoor en weer in hierdie hof is die appellant se getuienis oor 'n breë front aangeval.

Mens moet egter daarteen waak om in die lokval te trap om die

20

appellant se getuienis onder 'n vergrootglas te plaas en om elke item van kritiek daarteen as stawing vir die staat se saak te aanvaar. Die soort valsheid wat relevant is, word geïllustreer deur die feitestel en uitspraak in R v Simon 1929 WLD 328. Dit was beweer dat die appellant op 24 Desember 1928 in die Carlton Hotel in die kamer van ene J, 'n gas van die hotel, ingegaan en 'n sigaretkoker en vuurhoutjiedosie gesteel het. Hy is daar gesien, maar nie gearresteer nie. Op 29 Desember is hy weer in die hotel betrap en gearresteer. Sy verduideliking vir sy aanwesigheid in die hotel op 29 Desember is deur die hof as vals verwerp. Die vraag, wat die relevansie van gemelde bevinding met betrekking tot die beweerde diefstal op 24 Desember was, word soos volg beantwoord op bl 333 van die verslag by monde van Solomon R:-

"His doings in the hotel on December 29th, when he was arrested, are part of the evidence in the case. It was important that he should establish the innocence of these doings, and he resorted to the explanation which I have rejected. This explanation given subsequently to the events of Christmas Eve, first to T, and then in amplified form under oath in Court, may have been prompted by the appellant's consciousness of guilt in regard to the charge laid, and in that way it is

21

relevant to the question whether or not on Christmas Eve the appellant stole the articles from D. J’s room. (See Moriartv v London Chatham and Dover Railwav. 1870, L.R., 5 Q.B. 314.) The principle appears to be that conduct of this kind is to be regarded as showing the appellant's disbelief in his own innocence, and may, therefore, be used against him. (See Phipson's Law of Evidence. 6th ed. 116.) It is not, as I have said, proof of his guilt, but it is evidence which must be considered in deciding that issue, and, at any rate, it throws light on his credibility." (Sien ook Hoffmann and Zeffertt, The South African Law of Evidence. 4th ed., 1988: 586)

Indien daardie relevantheidstoets toegepas word, blyk dat die volgende aspekte van die appellant se getuienis van nader beskou moet word:-(i) Appellant se kennis van die daa waarop die eerste insident sou plaasgevind het.

Die landdros het bevind dat appellant presies geweet het na watter dag G verwys het as die dag van die eerste voorval. Volgens die landdros baseer appellant gemelde kennis op 'n gesprek wat hy met die Ls gehad het op 25 November 1989, waartydens mev L hom sou meegedeel het dat die insident op daardie Sondag, toe hy die kinders gaan stilmaak het, plaasgevind het. Die landdros konstateer dat dit egter nie mev

22

L se weergawe is nie, want volgens haar het sy gladnie geweet op welke dag die voorval plaasgevind het nie. Sy kon die dag dus nie aan appellant geïdentiffiseer het nie. Sy getuienis oor hoe hy aan sy kennis gekom het van die dag waarop die eerste insident plaasgevind het, is dus vals en regverdig die afleiding dat hy uit eie kennis weet op welke dag die insident plaasgevind het. Hy het dus ook kennis van die insident self, wat hy valslik ontken.

Appellant se getuienis was dat hy op 25 November 1989 gekonfronteer is deur die Ls by hul huis met die beskuldiging dat hy G seksueel gemolesteer het. Toe hy om meer inligting vra, het mev L gevra of hy dle dag kan onthou toe hy die kinders wat in die kamer gespeel het, moes gaan stilmaak. Hy het geantwoord dat hy die dag goed kan onthou. Hierop sê sy G beweer dat dit op die betrokke dag gebeur het. Toe hy vra wat hy sou gedoen het, het sy gesê dat hy, volgens G, by die leeshoekie verbygestap het, hom gevloek het met die woorde "Jou donder", hom daama aan sy privaatdeel sou gegryp het, hom na buite agtervolg het, hom gevang

23

het en gesê het dat hy nie vir sy ma moet sê nie. Appellant se getuienis was dat hy aan die Ls gesê het dat hy die dag goed onthou toe hy die kinders moes gaan stilmaak, want hy het hom vervies. Hy onthou dat G daar in die leeshoekie gesit het en verskrik opgekyk het toe hy verbystap. Hy het ook aan die Ls gesê dat as hy die kind na buite sou gevolg het, hulle hom vanuit die sitkamer moes gesien het. Hulle het aan hom gesê dat hulle niks gesien het nie. Hy het ook getuig dat as hy reg kan onthou het hy eers aan hulle gevra wat sou gebeur het (om die molestering daar te stel) waarop mev L gesê het dat G gesê het dat hy sy broekie afgetrek het. Mnr L het dit egter ontken en gesê dat as G dit gesê het, hy dadelik na die polisie sou gegaan het. Mev L het ook vertel van G se angs-simptome en hoe sy hom, op advies van haar skoonsuster, na die badkamer geneem en daar met behulp van botteltjies skoon en troebel water so ver gekry om te vertel wat hom hinder. Appellant het getuig dat hy sy beweerde aandadigheid ontken het. Hy het voorts getuig dat mev L aan hom 'n brief getoon het van mev R, die sielkundige, waarin vermeld

24

sou gewees het dat hy G by een geleentheid op 'n Sondag sou molesteer het.

Mev L se getuienis oor die gesprek van 25 November was dat by appellant se aankoms, sy onmiddellik die verslagbrief wat hulle van die sielkundige, mev R ontvang het, aan appellant oorhandig het. Hy het na die brief gekyk.

Uit die getuienis blyk dat mev R reeds vir G op daardie stadium gesien het en 'n briefverslag, gedateer 8 November 1989, aan die Ls gestuur het. Die twee relevante paragrawe lees soos volg:

"Tydens die onderhoud is dit bevestig met die seun dat 'n sekere 'oom Jerry' hom seksueel gemolesteer het.

Dit wil voorkom asof dit 'n eenmalige gebeurtenis was een Sondag middag omtrent twee jaar gelede."

Mev L is nie, toe sy getuig het, verder oor die konfrontasie op 25 November gekruisverhoor nie - dit is nooit aan haar gestel dat sy aan appellant G se volle weergawe sou vertel het nie.

Mnr L is deur die hof as getuie geroep. Toe hy kruisondervra is

25

oor die konfrontasie op 25 November, weerspreek hy sy eggenote oor die vraag of sy daardie dag gesê het dat G met selfmoord gedreig het. Hy erken dat die vloek-bewerings in die gesprek gefigureer het; ook die grypery. Die res van sy getuienis op hierdie punt voer die saak nie verder nie.

Die probleem is dus nie dat appellant en die Ls mekaar weerspreek oor die identifikasie van die betrokke dag en of mev L dié dag volgens G se mededelings aan appellant ge-identifiseer het nie, maar dat appellant se weergawe in dié verband nooit volledig en duidelik aan die Ls gestel is om te erken of te ontken nie. Volgens die advokaat vir die staat moet 'n nadelige afleiding hieruit gemaak word. Die verdediging het 'n teenoorgestelde argument aangevoer: dit was 'n fout van appellant se prokureur, wat die hof die versekering gegee het dat dit sy fout was om nie appellant se weergawe te stel nie. Uit daardie oorsig kan nie 'n afleiding gemaak word dat appellant se getuienis vals is nie. Dit moet immers in ag geneem word dat G reeds aan sy moeder van die eerste insident vertel het en self die dag waarop dit gebeur het, aan mev R ge-identifiseer het.

26

Haar brief was deur appellant en die Ls tydens die konfrontasie gelees en bespreek. Indien enigiets, so is aangevoer, moet die waarskynlikhede appellant se weergawe begunstig. Dit is die natuurlike optrede vir iemand wat van 'n misdaad beskuldig word, om heel eerste te vra waar en wanneer dit sou gebeur het, en vir die beskuldiger om die besonderhede te gee, aldus die verdediging. Ook is daarop gewys dat dit waarskynlik is dat mev L reeds al daardie besonderhede gehad het of uit mev R se brief die afleiding gemaak het oor welke Sondag die voorval plaasgevind het. Dit is aangevoer dat dit waarskynlik is dat sy dié inligting aan appellant meegedeel het, anders sou die gesprek nie juis verder kon ontwikkel nie.

Die appellant se saak is dat die landdros fouteer het om sy getuienis oor hierdie onderwerp as vals te verwerp. (ii) Die "broekie-aftrek" bewerings

Die probleem tans ter sprake ontstaan ook uit die konfrontasie tussen appellant en die Ls op 25 November.

Appellant se getuienis was, soos reeds vermeld, dat mevrou L

27

gesê het dat G sou gesê het dat appellant sy broekie afgetrek het; en dat sy onmiddellik deur haar eggenoot gekorrigeer is, wat gesê het dat G nie so gesê het nie.

Mev L, daarenteen, sê dat dit appellant is wat gevra het of G sou beweer het dat hy sy broekie afgetrek het. Sy sou toe gesê het dat G nooit so 'n bewering gemaak het nie.

Volgens mnr L was dit appellant wat die vraag oor die broek-

aftrekkery aanhangig gemaak het en hy, L, het vir hom gesê dat G nie so beweer het nie. Maar sy getuienis hieroor gee blyke van aansienlike verwarring. Ek haal die relevante deel woordeliks aan:

"'n Belangrike punt, kan ek net Edelagbare, dit stel, wat ek afgelei het uit die hele situasie, ek kan nou nie spesifiek - uit die koerant of waar, en of dit my vrou se woorde was nie, die beskuldigde het vir ons by daardie gesprek, het hy vir ons gevra 'sê hy dat ek sy broekie afgetrek het', ons het nooit van broek aftrek gepraat nie, inteendeel, toe hy dit vra het ek persoonlik vir hom gesê nee, hy het dit nie gesê nie, maar die gedagte het iewers na vore gekom dat die broek aftrekkery toe al ter sprake was, hy het vir ons gevra, en ek het vir hom gesê nee, hy het dit nie gesê nie, maar die gedagte het iewers na vore gekom dat die broek aftrekkery toe al ter sprake was, hy het vir ons gevra en ek het gesê nee, daar was nie 'n broek aftrek-episode nie, dit is my eie

28

standpunt."

Dit is duidelik dat op sy weergawe 'n broek-aftrekkery ter sprake was en dat dit uit koerantberigte (blykbaar oor 'n ander geval) of selfs van sy eggenote afkomstig kon gewees het.

Die appellant se weergawe is dus nie so onwaarskynlik as wat die landdros bevind het nie, aldus die verdediging; soos duidelik blyk uit mnr L se getuienis mag dit juis mev L gewees het wat die kwessie van 'n broek-aftrekkery ge-opper het. Dit sou dan heeltemal natuurlik vir appellant gewees het om te vra of G ook beweer dat appellant sy broek afgetrek het.

(iii) Die landdros het ook bevind dat dit vir hom baie duidelik is dat beskuldigde valse getuienis afgelê het na aanleiding van sy beskrywing van sy handelinge op die dag van die eerste insident. Die punt is dat appellant getuig het dat hy driftig op pad was na die kinders se kamer om hulle te gaan stilmaak en dat hy by die leeshoekie verbygestap het en nie die beweerde daad gepleeg het nie. In kruisverhoor is herhaaldelik aan hom gevra of dit nie

29

moontlik is dat hy tog aan G geraak het nie. Alhoewel hy volhard het met sy aanvanklike weergawe, het hy toegegee dat dit moontlik is dat hy in die verbygaan aan G kon geraak het - maar hy sê herhaaldelik dat dit nie gebeur het nie en dat hy nie die leeshoekie ingegaan het nie. Die landdros het bevind dat dié getuienis vaag is en van valsheid getuig. Die bevinding is deur die staat se advokaat in hierdie hof ondersteun.

Namens die verdediging is aangevoer dat 'n versigtige nagaan van die getuienis aantoon dat gemelde bevinding nie korrek is nie. Appellant het met sy ontkenning voet by stuk gehou; hy het slegs die (ook vir hom teoretiese) moontlikheid toegegee dat hy in die verbygaan aan G kon geraak het; hy volhard dat dit na sy wete nie gebeur het nie. Dit is aangevoer dat sy getuienis nie as vaag en beslis nie as vals aangemerk kan word nie. Trouens, so is geredeneer, uit mev L se getuienis blyk dat mnr L dieselfde moontlikhede ge-opper het gedurende die gesprek op 25 November. Appellant het dus net soos mnr L op eerlike, maar spekulatiewe wyse gepoog om vas te stel wat tot G se storie aanleiding kon gegee het.

30

Evaluasie.

Dit is al duidelik deur hierdie hof neergelê dat die staat sy saak bo alle redelike twyfel moet bewys en dat hoewel die begrip "redelike twyfel" nie presies omskryf kan word nie, dit wel gesê kan word dat dit 'n twyfel is wat bestaan weens waarskynlikhede of moontlikhede wat op grond van algemene gangbare menslike kennis en ondervinding as redelik beskou kan word (S v Glegg 1973(1) SA 34 (A) 38-39). Andersom gestel: die toets is nie of die hof die beskuldigde glo nie, maar of daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat sy getuienis waar kan wees (vgl S v Kubeka 1982(1) SA 534(W) 537). Die versigtigheidsreëls wat in hierdie saak van toepassing is, verswaar nie die staat se bewyslas nie, maar is praktykreëls wat van die regsprekende amptenaar vereis om hom- of haarself teen die inherente gevare verbonde aan die soort getuienis wat ter sprake is, te waarsku en om op "... some safeguard reducing the risk of wrong conviction" aan te dring (S v Artman and Another 1968(3) SA 339 (A) op 340 H en 341 B-C).

Na my mening het die staat die appellant se skuld nie bo redelike twyfel

31

bewys nie en is slegs lippediens aan die versigtigheidsreëls gedoen.

Die onwaarskynlikhede in G se weergawe van altwee insidente is myns insiens nie deur die landdros behoorlike gewig verleen nie. Daardie onwaarskynlikhede waarop die verdediging gewys het en wat ek nie weer herhaal nie, is nie op 'n wyse wat enigsins oortuig deur die staat ontsenu nie. Die verdediging se kritiek teen die landdros se uitspraak, wat ook hierbo vermeld is en nie weer herhaal word nie, is klaarblyklik geregverdig. Dit is onwaarskynlik dat die appellant vir G by albei geleenthede helder oordag in sy eie huis en terwyl ander volwassenes, insluitende sy eie eggenote, in die huis was, onsedelik sou aanrand. Daardie onwaarskynlikheid is sodanig dat dit by die regspreker 'n twyfel, wat op grond van algemene gangbare menslike kennis en ondervinding as redelik beskou kan word, moet verwek. G se getuienis vertoon origens ook ernstige gebreke (bv die lang aanmeldingsproses) wat eenvoudig nie met verwysing na sy jeugdigheid, skaamte, skuldgevoel of vrees goedgepraat kan word nie. Dit is juis hierdie soort gebreke wat op die inherente gevaar verbonde aan die aanvaarding van

32

die getuienis dui. Ek meen ook dat die landdros se verwerping van appellant se getuienis as vals, ongeregverdig was. As die getuienis versigtig nagegaan word (en ek het die relevante gedeeltes hierbo redelik volledig bespreek) kan daar nie met reg gesê word dat appellant 'n leuenaar was nie. Dit skyn inteendeel of sy getuienis aanvaarbaar is ten aansien van die vraag of mev L die een was wat die dag, waarop die eerste insident plaasgevind het, geidentifiseer het. Sy getuienis oor die broek-aftrek bewerings kan ook nie verwerp word nie. Om te sê dat hy vaag geword het oor die moontlikheid dat hy G by die eerste geleentheid in die verbygaan aangeraak het, skyn my, in die lig van die kruisverhoor, nie billik te wees nie.

Ek is derhalwe van oordeel dat die staat nie die appellant se skuld bo redelike twyfel bewys het nie.

33

Die appèl slaag en die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.

P J J OLIVIER
WAARNEMENDE APPèLREGTER

HEFER, AR )

)STEM SAAM STEYN, AR )

▲ To the top