S v Kubheka en 'n Ander (421/94) [1995] ZASCA 18 (24 Maart 1995)


NIE RAPPORTEERBAAR

SAAKNOMMER 651/93

421/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MALEFETSANE J KUBHEKA EERSTE APPELLANT

en

MOLALEHI P MOTLOKOA TWEEDE APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: E M GROSSKOPF, NIENABER, ARR et OLIVIER,

Wnd AR

VERHOORDATUM: 20 FEBRUARIE 1995

LEWERINGSDATUM: 24 MAART 1995

UITSPRAAK

OLIVIER, Wnd AR:

Eerste appellant is op 18 November 1993 deur 'n regter en twee

2

assessore in die Rondgaande Hof te Harrismith op die volgende aanklagte skuldig bevind:-

  1. Roof met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van Wet 51 van 1977, deurdat hy op of omtrent 19 Mei 1993 te Phuthaditjhaba wederregtelik en opsetlik vir sersant Hadibonoe Peacock Tsosane en/of Refiloe Anastacia Mondwene geweld aangedoen het en met die opset om te steel 'n vuurwapen, magasyn en ammunisie uit die besit van gemelde Tsosane gesteel het.

  2. Moord op gemelde Tsosane te genoemde plek en tyd;

  3. Oortreding van artikel 2 gelees met artikels 1, 39 en 40 van Wet 75 van 1969 deurdat hy in die periode 19 Mei 1993 tot 6 Junie 1993 te Witsieshoek wederregtelik en opsetlik in besit van 'n vuurwapen, te wete 'n 7,G5mm pistool, was.

  4. Oortreding van artikel 36 gelees met artikels 1, 39 en 40 van Wet 75 van 1969 deurdat hy op bogenoemde tyd en plek wederregtelik en opsetlik in besit was van ammunisie, te wete 14 rondtes 7,65mm

3

patrone en 7 rondtes 9mm patrone, sonder om in regmatige besit van

'n vuurwapen te wees waaruit sodanige ammunisie afgevuur kan word.

Tweede appellant is deur dieselfde hof aan die eersgenoemde twee misdade, nl die roof en moord, skuldig bevind.

Eerste aopellant is soos volg gevonnis: Aanklag 1 (roof): 7 jaar gevangenisstraf. Aanklag 2 (moord): Die doodvonnis.

Aanklagte 3 en 4 (saamgeneem vir vonnisdoeleindes): 9 maande gevangenisstraf.

Tweede appellant is soos volg gevonnis: Aanklag 1 (roof): 7 jaar gevangenisstraf. Aanklag 2 (moord): 15 jaar gevangenisstraf.

Die verhoorhof het gelas dat vier jaar gevangenisstraf, opgelê ten aansien van die roofklag, gelyktydig met die gevangenisstraf ten opsigte van die moordklag uitgedien kan word. Tweede appellant is derhalwe tot 'n effektiewe termyn van 18 jaar gevangenisstraf gevonnis.

4

Die verhoorhof het aan eerste appellant verlof verleen om na hierdie Hof in hoër beroep te kom teen die skuldigbevinding en vonnis op aanklag 1 (roof). Appellant kom van regsweë in hoër beroep teen die skuldigbevinding en vonnis in geval van aanklag 2 (moord).

In die geval van tweede appellant het die verhoorhof verlof geweier om teen die skuldigbevindings en vonnisse te appelleer. Sodanige verlof is deur hierdie Hof aan hom verleen. Die agterarond

Tydens die verhoor was eerste appellant beskuldigde een en tweede appellant beskuldigde drie. Ene Mabote Phillip Mosia was beskuldigde twee.

Die aanklagte spruit voort uit die volgende:

Die oorledene was 'n lid van die Qwa-Qwa Polisie en werksaam by die dwelm-eenheid. Op die betrokke aand het hy in 'n bruin Mazda-voertuig, 'n polisiemotor met registrasienommer MRY 967T, in Phuthaditjhaba gery. Toe hy laas lewend deur sy kollegas gesien is, was daar 'n vrouepersoon saam met hom in die motor en was hy, volgens die polisiegetuienis, op soek na 'n

5

ander voertuig. 'n Kollega van hom, konstabel Lehoaba, het gesien dat die oorledene in Totiusstraat af ry. Vier of vyf minute later het hy hom met sy motor gevolg. Net anderkant die Qwa-Qwa Primêre Skool het hy die oorledene se motor sien staan en opgemerk dat 'n persoon agter die voertuig op die grond lê. Lehoaba het stilgehou, uitgeklim en vasgestel dat die persoon op die grond die oorledene was en dat hy dood is. Daar was baie bloed aan sy voorkant. Lehoaba het in die oorledene se voertuig geklim om per radio polisiehulp te ontbied, toe hy 'n gestamp in die bagasiebak hoor. Hy het dit oopgesluit en die vrou wat vroeër saam met die oorledene in die motor was, het uitgeklim.

Konstabel Lehoaba het 'n aantal patroondoppies en koeëlpunte wat later deur die polisie in beslag geneem is daar op die grond sien lê. Die pad was met klippe versper waar die oorledene se motor gestaan het. In 'n nadoodse ondersoek deur die distriksgeneesheer, Dr Mokhatla, is sewe koeëlwonde in die liggaam van die oorledene en wel in die linkerbors en -arm gevind. 'n 7,65mm koeëlpunt is in die liggaam gevind. Twee van die

6

koeëlwonde het die hart deurboor. Die skote is afgevuur op 'n afstand van een meter of meer, direk en min of meer horisontaal in die oorledene se borskas in.

Die vrou wat saam met die oorledene in die polisievoertuig gery het en deur konstabel Lehoaba uit die bagasiebak daarvan bevry is, was Refiloe Anastacia Mondwene. Haar getuienis lui dat sy nie-amptelik saam met die oorledene in die polisievoertuig was. Terwyl hulle naby 'n skool gesit en wag het, het 'n huurmotor sonder registrasienommers by hulle verbygery. Oorledene het gesê dat hy dié voertuig gaan agtervolg om ondersoek in te stel. Hulle het die huurmotor egter uit die oog verloor en teruggekeer na die plek waar hulle voorheen gesit en wag het, toe hulle opmerk dat die pad daarheen met klippe versper is. Oorledene het stilgehou en gesê hy sal die klippe met sy hande verwyder. Hy wou net uit die voertuig klim, toe persone van buite die deur aan die bestuurder se kant oopgepluk het. Dit was 'n hele paar persone, sy weet nie hoeveel nie. Hulle het oorledene beveel om uit te klim en hom na die agterkant van die motor getrek. Dit het vir haar geklink

7

asof klere skeur en asof 'n klapper afgaan. Een van die persone het na haar kant van die voertuig beweeg en 'n vuurwapen op haar gerig. Hy het 'n klapmus opgehad en het haar beveel om uit die motor te klim. 'n Ander manspersoon het gesê: "Skiet haar", maar die een met die vuurwapen het geweier. Sy is toe in die bagasiebak gestop. Sy kon geeneen van die aanvallers, wat Sesotho gepraat het, identifiseer nie want hulle het klapmusse opgehad.

Sy het gesien dat die oorledene 'n vuurwapen by hom gehad het. Toe hy uit die voertuig getrek is, was die vuurwapen nog aan sy sy. Toe die aanvallers haar gegryp het om haar in die kattebak te prop, het sy die oorledene agter die motor op die grond sien lê. Die oorledene se dienspistool en sy ammunisie is deur die aanvallers buitgemaak.

Die kernvraag voor die hof a quo was of die staat bo redelike twyfel die aandadigheid van die drie beskuldigdes aan die gemelde misdade bewys het. Die verhoorhof het hierdie vraag ten gunste van die staat beantwoord in die geval van die twee appellante; beskuldigde twee is onskuldig bevind en

8

ontslaan.

In 'n neutedop saamgevat, is die staat se saak teen eerste appellant gebaseer op 'n verdoemende bekentenis wat hy op Vrydag, 11 Junie 1993 te Phuthaditjhaba voor landdros Tshabalala afgelê het; op uitwysings van en by die misdaadtoneel op dieselfde dag aan kaptein Symington van die SA Polisie; en op die ontdekking van die vuurwapen waarmee die moord gepleeg is, 'n 7,65mm pistool, in eerste appellant se woning op 5 Junie 1993.

Die staat se saak teen tweede appellant berus op 'n bekentenis wat hy voor landdros Tshabalala afgelê het op 14 Junie 1993 en waarin hy sy aandadigheid aan die roof en moord erken het; en die ontdekking van oorledene se vuurwapen, 'n Z88 9mm pistool, by ene Godfrey Malinga, terwyl dit beweer is dat die vuurwapen na die misdrywe in tweede appellant se huis was en op sy instruksies (terwyl hy in die gevangenis in Virginia was) deur sy eggenote daaruit verwyder is en uiteindelik in Malinga se besit beland het.

Ek behandel eers die eerste appellant se skuldigbevinding deur die hof a quo.

9

(a) Die bekentenis voor landdros Tshabalala op 11 Junie 1993.

Omdat die voorgelegde bekentenis voldoen het aan die formele vereistes gestel in art 217(1) (a) en (b) van die Strafproseswet, het die hof a guo beslis dat die las om te bewys dat die bekentenis ontoelaatbaar is, op eerste appellant rus en wel op 'n oorwig van waarskynlikhede. Sy advokaat het te kenne gegee dat hy sal poog om te bewys dat die bekentenis onder dwang afgelê is weens aanrandings op en dreigemente teenoor eerste appellant; dat hy onbehoorlik beïnvloed is tot die aflegging daarvan en dat hy, wat die inhoud daarvan betref, voorgesê is.

Eerste appellant se getuienis ten aansien van die beweerde aanrandings en dreigemente is die volgende:

(1) Na sy arrestasie op 5 Junie 1993 is hy in die Phuthaditjhaba-polisieselle toegesluit tot om 19h00. Nege polisiemanne het die sel binnegekom en gesê hulle soek vuurwapens. Kaptein van Staden het 'n vuurwapen op hom gerig. Hy is beveel om uit te trek en 'n klapmus asook 'n sak is oor sy kop getrek. Die sak is om sy nek vasgemaak.

10

Hy is beveel om plat op die sementblad te gaan lê. Een van die polisiebeamptes het op sy rug gaan sit en sy hande agter sy rug vasgeboei. Kabels is aan sy voete vasgemaak en iets is op sy boude en privaatdele gevryf. Hy het toe begin voel dat hy versmoor. Hy is aanhoudend gevra waar die vuurwapens is. Die aanranding het 'n uur-en-'n-half geduur. Eerste appellant het konstabel Matagoe, konstabel Leohaba en sersant Motloung as sommige van die aanranders uitgewys; volgens hom was kaptein van Staden ook teenwoordig.

  1. Op Maandag 8 Junie het daar weer van Phuthaditjhaba se polisie-beamptes by die selle waar hy aangehou was, opgedaag en hy is weer geskok en versmoor. Dit het langer as 'n uur aangehou. Hulle wou van hom weet wat hy van die dood van 'n polisieman op 5 Junie weet. (Hierdie navraag het nie op die dood van Tsosane betrekking gehad nie maar op die moord op die ondersoekbeampte wat besig was om Tsosane se dood te ondersoek)

  2. Op Dinsdag 9 Junie is hy weer op dieselfde wyse aangerand, en wel

11

deur dieselfde persone.

Hy het voorts getuig dat hy op 11 Junie deur kaptein van Staden onder polisiebegeleiding na Harrismith gestuur is om daarvoor 'n blanke landdros, mnr Breyl, 'n bekentenis af te lê. Hy het egter aan die landdros vertel hoe hy aangerand is en sy beserings uitgewys. Die landdros het hom na Phuthaditjhaba teruggestuur.

Eerste appellant is teruggeneem na kaptein van Staden se kantoor. Daar het laasgenoemde die kantoordeur toegemaak, sy vuurwapen uitgehaal en oorgehaal en gesê dat hy nie van die aanranding mag vertel nie; dat hy hom gaan doodmaak en dat sy familie nie eers daarvan sal weet nie; en dat hy nou geneem sal word na 'n landdros van Qwa-Qwa waar hy moet sê dat dit hy is wat die oorledene geskiet het. Eerste appellant getuig dat hy weens vrees ingestem het en na Phuthaditjhaba geneem is waar hy die gewraakte bekentenis voor landdros Tshabalala afgelê het.

Hy het getuig dat hy die bekentenis afgelê het omdat hy weens die aanranding vreesbevange was. Die inhoud daarvan is leuens en versinsels.

12

Hy het voorts getuig dat 'n sersant Motloung hom R20 000 aangebied het as hy die skuldiges sou uitlewer. Eerste appellant sê dat hy dié aanbod aanvaar het. Verder is belowe dat as hy die skuldiges aan die moord uitlewer, die ondersoek teen hom in verband met die vuurwapen gestaak sou word.

Namens eerste appellant is landdros Breyl as getuie geroep. Volgens sy aantekeninge het eerste appellant aan hom gesê dat hy vanaf die Saterdag aangerand is. Hy het vier klein rofies aan sy groottone as die plek waar hy na bewering geskok is, gewys. Daar was geen sigbare swelsels nie. Geen verdere beserings is waargeneem nie, ook nie op sy rug nie, hoewel eerste appellant sy hemp opgelig het om sy rug te ontbloot. Hy het ook van die sak oor sy kop en van die skok vertel. Tien mense het hom na bewering geslaan en gedreig. Daar is verwys na 'n polisiekaptein wie se naam eerste appellant nie geken het nie. Daar is volgens sy mededelings aan landdros Breyl, ook aan hom gesê dat as hy die skuldiges sou uitwys, hy R20 000 sou kry.

Landdros Breyl het weens hierdie bewerings besluit om geen verdere verkiaring af te neem nie en die appellant se mededelings genotuleer. Die

13

notule is voor die hof geplaas en is in ooreenstemming met landdros Breyl se getuienis.

Hy sê voorts dat daar geen brand- of skraapmerke op eerste appellant se enkels was nie. Daar was ook geen verdere tekens van ongemak by hom nie. Daar was wel vier klein rofies aan sy tone.

Mnr G G Lephe het ook namens eerste appellant getuig. Hy was die tolk tydens eerste appellant se bogemelde verklarings aan landdros Breyl. Volgens hom het hy en eerste appellant mekaar goed verstaan. Hy kan nie onthou of daar beserings uitgewys is al dan nie.

Namens eerste appellant is, by ooreenkoms, ook 'n waarskuwingsverklaringingehandig. Dit is afgelê om 10h15 op 10Junie 1993 en daarin het eerste appellant bevestig dat hy verkies om sy verklaring voor die hof af te lê.

Ter weerlegging van eerste appellant se saak het die staat in die binneverhoor die getuienis van die volgende persone aangebied: Kaptein Symington, bevelvoerder van die misdaadondersoekdiens te

14

Bethlehem aan wie die beweerde uitwysings gedoen is; kaptein van Staden, die hoof van die moord- en roofafdeling te Phuthaditjhaba; konstabel Machabalo, van die moord- en roofeenheid te Qwa-Qwa; konstabel Mokhothu, van die misdaadondersoekdiens te Bethlehem; speurder Monoto, die ondersoekbeampte in hierdie saak; konstabel Morenammele, 'n konstabel gestasioneer te Namahadi Polisiestasie in Qwa-Qwa; konstabel Lehoaba, van die moord- en roofeenheid te Phuthaditjhaba en konstabel Motloung van die moord- en roofafdeling te Qwa-Qwa.

Dit is onnodig om die getuienis van bogemelde getuies in volle besonderhede weer te gee. Hulle ontken deur die bank enige aanrandings op of dreigemente teen die eerste appellant, of dat enige beloning hom aangebied is.

Die verhoorhof het vir 'n uitspraak na die binne-verhoor die gelewerde getuienis versigtig oorweeg. Daar is vermeld dat die grootste probleem in die weg van die staat die getuienis van landdros Breyl, ten aansien van eerste appellant se bewerings aan hom op 11 Junie 1993, is. Nogtans het die hof

15

bevind dat die bekentenis en die uitwysings toelaatbaar is op grond daarvan dat eerste appellant se getuienis ongeloofwaardig is.

In sy finale uitspraak aan die einde van die verhoor het die verhoorhof weer na hierdie aspek teruggekeer en die binneverhoor-uitspraak bevestig. Die hof het weer volledig redes vir gemelde beslissing gegee, nl.

(i) Hoewel eerste appellant aanvanklik ook die verweer opgewerp het dat die inhoud van die verklaring aan hom voorgesê is, het hy later blykbaar die storie laat vaar. Maar waar sal hy dan aan die feite van die gebeure kom, wat so nou en presies ooreenstem met dié van Anastacia Mondwene?

(ii) Die eerste appellant se weergawe is aangedik - bv dat nege polisiemanne hom gelyktydig sou aangerand het en hard geslaan het, en dat hy 'n uur en 'n half lank geskok is. Daar is ook geen tekens daarvan op die foto's wat kaptein Symington geneem het nie.

16

(iii) Wat landdros Breyl se getuienis betref, het die verhoorhof bevind dat hy en eerste appellant mekaar in verskeie opsigte weerspreek, o a dat hy beserings aan sy enkels aan die landdros getoon het; oor wanneer hy aangerand is; dat vuurwapens op hom gerig is en dat hy sy rug ontbloot het en beserings aangetoon het.

(iv) Die verhoorhof het ook opgemerk dat eerste appellant volgens hom op Saterdag 5 Junie 1993 aangerand is terwyl die bekentenis en uitwysings eers op Vrydag 11 Junie 1993 gemaak is;

(v) Die eerste appellant se getuienis dat hy reeds op Woensdag 10 Junie 1993 na die toneel geneem is, word deur die staatsgetuies en die voorvalleboek weerspreek.

Die verhoorhof het bevind dat die staatsgetuies en veral kaptein Symington hom gunstig beindruk het en dat die eerste appellant 'n swak getuie was. Die staat se getuienis is aanvaar. Gevolglik is bevind dat die

17

beskuldigde hom nie op 'n oorwig van waarskynlikhede van díe bewyslas om aan te toon dat hy 'n gedwonge bekentenis gemaak het of dat hy onbetaamlik daartoe beïnvloed is, gekwyt het nie.

In hierdie Hof is geargumenteer dat die hof a quo in sy evaluasie van die getuienis gefouteer het.

Alhoewel hierdie Hof nie maklik met 'n feitebevinding van 'n verhoorhof sal inmeng nie, meen ek dat dit in die onderhawige saak wel geoorloof is. Na my mening het die verhoorhof die oorhoofse perspektief van die gebeure uit die oog verloor. Die appellant het van meet af aan geweier om 'n verduideliking te gee en volgehou dat hy in 'n hof sal getuig. Voor landdros Breyl weier hy om 'n verklaring af te lê en vertel volledig hoe hy aangerand en beinvloed is. Daarvandaan word hy onmiddellik na kaptein van Staden geneem. Na 'n "gesprek" met Van Staden word hy na landdros Tshabalala geneem waar hy 'n volledige en verdoemende bekentenis aflê. Om nou te aanvaar dat daar niks anders as 'n onskuldige geselsie tussen hom en Van Staden was nie, is darem te dik vir 'n daalder. Die waarskynlikhede begunstig

18

m i eerste appellant se weergawe dat Van Staden hom daar en dan die dood voor oë gesweer het - welke ander redelike verklaring is daar vir die skielike ommeswaai aan sy kant? Geen aanvaarbare verduideliking hiervoor is aan ons voorgelê nie.

Dit is ook nie sonder betekenis nie dat eerste appellant, nadat hy van aanranding gekla het, nie deur 'n distriksgeneesheer ondersoek is nie. Hoewel eerste appellant se getuienis nie bo kritiek verhewe is nie - dit kom beslis voor asot hy die aanrandings aandik - moet die algemene waarskynlikhede uiteindelik die deurslag gee. Dit sluit in die klaarblyklike begerigheid van die polisiebeamptes om 'n bekentenis te bekom. Ek sou dus oordeel dat eerste appellant hom van die genoemde bewyslas gekwyt het en dat die bekentenis ontoelaatbaar was.

(b) Die staat het vervolgens ook staatgemaak op inkriminerende uitwysings by die misdaadtoneel en verklarings daartydens deur eerste appellant aan kaptein Symington op 11 Junie, net nadat hy die bekentenis aan landdros

19

Tshabalala afgelê het.

Dit is tereg gemeensaak dat die bewyslas ten aansien van die toelaatbaarheid van die uitwysings en verklarings op die staat rus.

Volgens kaptein Symington is eerste appellant op 11 Junie na hom gebring en is hy op die voorgeskrewe wyse ondervra. Onder andere het eerste appellant uitdruklik verklaar dat hy die uitwysings vrywillig sal doen en dat hy nie deur die polisie aangerand is nie dog goed deur hulle behandel is. Hy het kaptein Symington, wat nie geweet het waar die misdaadtoneel is nie, aanwysings gegee hoe om daar te kom en op die beweerde toneel het hy sekere verduidelikings (wat verdoemend vir hom is) gegee. In hierdie opsig is kaptein Symington deur konstabel Mokhothu, wat as tolk opgetree het, gestaaf.

Eerste appellant se weergawe is dat hy op die aand van 11 Junie deur twee polisiebeamtes uit kaptein van Staden se kantoor geneem is. Hulle het hom na 'n sekere plek geneem, waar hy aangesê is om met sy arm in die lug voor hom rond te swaai terwyt foto's van hom geneem is. Hy ontken dat hy

20

iets uitgewys het of 'n verklaring gemaak het. Hy ontken dat hy die padaanwysings na die toneel gegee het. Sy weergawe is dat daar reeds 'n geel Qwa-Qwa potisie-patrolliewa op die toneel was toe hulle daar aangeland het. Die tolk het 'n vuurwapen op hom gerig en gesê hy moet nie weghardloop nie. Sy saak is steeds dat hy voor dié gebeure deur die polisie aangerand is.

Daar is, weens die beweerde uitwysings deur eerste appellant, geen voorwerp ontdek nie. Die uitwysings kom dus maar slegs neer op 'n bekentenis in situ met aanduiding van waar sekere gebeure sou plaasgevind het. Dit het, na my mening, plaasgevind steeds omdat eerste appellant aangerand en gedreig is, soos reeds bevind. Om die redes reeds aangedui, meen ek dat ook hierdie uitwysings van eerste appellant aan kaptein Symington ontoelaatbaar is, in teenstelling met wat die verhoorhof bevind het.

(c) Eerste appellant is voorts aan die misdaad verbind weens sy besit van die moordwapen ('n 7,65mm pistool) na die gebeure. Die getuienis in hierdie

21

verband skets die volgende verhaal:

Konstabel Lehoaba het getuig dat hy na aanleiding van sekere inligting die eerste appellant op 5 Junie 1983 opgespoor en na die aanklagkantoor ontbied het. Daar het hy eerste appellant meegedeel dat hy oor inligting beskik dat laasgenoemde in besit is van 'n vuurwapen en hom gevra of dit so is. Eerste appellant het dit bevestig en gesê dat die vuurwapen by sy huis is. Later die aand is 'n aantal polisiemanne, konstabel Lehoaba ingesluit, na eerste appellant se huis. Daar het laasgenoemde aan die deur geklop en sy eggenote het die deur oopgemaak. Eerste appellant het sy eggenote gevra om die vuurwapen uit te haal wat hy aan haar gegee het. Sy het 'n pot van 'n staalstaander in die kombuis afgehaal en dit op die tafel neergesit en gesê dat die vuurwapen daarin is. Eerste appellant was teenwoordig. Konstabel Mathakhoe het die pot oopgemaak en 'n 7,65mm pistool uitgehaal, asook 'n magasyn daarin met sewe rondtes en nog 'n magasyn, hierdie keer 'n 9mm magasyn, ook met sewe rondtes.

Beslag is op die vuurwapen en die twee magasyne gelê. Eerste

22

appellant se verduideliking vir die besit daarvan was dat hy dit by die huurmotorstandplaas gekoop het. Die nommers van die pistool was afgeskuur en dit was onmoontlik om vas te stel aan wie dit behoort.

Die getuienis van konstabel Lehoaba is in alle opsigte deur kaptein van Staden gestaaf.

Die onbetwiste getuienis wat hierna gevolg het, is dat die vyf 7,65mm patroondoppies wat op die moordtoneel op die grond gevind is asook die koeëlpunt wat uit die oorledene se liggaam verwyder is, uit die pistool wat in eerste appellant se huis gevind is, afgevuur is. Hierdie getuienis is gelewer deur die polisieamptenare wat die betrokke pistool, doppies en koeëlpunt na die ballistiese laboratorium van die SA Polisie afgestuur het, te wete kaptein van Staden, sersant Lekhetho en sersant Monoto, en die deskundige getuies, Jacobs en Kloppers, wie se verslae by ooreenkoms ingehandig is. Hierdie getuienis is nie deur die verdediging weerlê nie.

Eerste appellant se weergawe is dat hy niks van hierdie vuurwapen en die twee magasyne weet nie en dat dit nooit in sy of sy gade se besit was nie

23

en dat dit nie in die ware sin van die woord in sy huis gevind is nie. Hy sê hy is op die betrokke aand vergesel van nege polisiemanne, onder andere konstabel Lehoaba en kaptein van Staden, na sy huis geneem. Die polisie het sy huis deursoek en in dié proses het Lehoaba skielik gesê: "Hier is die vuurwapen." Hy was verbaas om dit te hoor want hy was nooit in besit van die vuurwapen of die ammunisie nie en weet niks daarvan nie. Hy het ook ontken dat hy ooit gesë het dat hy dit by die huurmotorstaanplek gekoop het.

Eerste appellant se eggenote, Elsie Paseletso, het sy weergawe gestaaf. Sy sê dat die huis deursoek is en dat sy later gehoor het een van die polisiemanne sê: "Hier is die vuurwapen." Sy het nooit daardie aand dié vuurwapen gesien nie. Daar was nog nooit voorheen 'n vuurwapen in hul huis nie.

Aan haar is gestel 'n verklaring wat sy op 11 Junie 1993 afgelê en beëdig het en wat as bewysstuk ingehandig is. Daarin verklaar sy dat eerste appellant op 2 Junie 1993 'n vuurwapen aan haar oorhandig het. Dit was klein en swart. Sy het dit in 'n kastrol gebêre. Volgens eerste appellant het

24

hy dit êrens opgetel. In die verklaring verwys sy na die gebeure op die aand van 5 Junie 1993 toe die polisie saam met haar man opgedaag het. Daarin bevestig sy die staat se weergawe: dat eerste appellant haar gevra het om die vuurwapen uit te haal; dat sy die kastrol waarin dit was aan 'n polisieman oorhandig het; dat laasgenoemde díe kastrol oopgemaak en die vuurwapen wat sy daarin gebêre het, asook 'n ekstra magasyn wat sy nog nooit voorheen gesien het nie, uitgehaal het. Sy weet nie deur wie en wanneer die los magasyn daarin geplaas is nie.

Elsie Paseletso se verduideliking vir hierdie verklaring was, sagkens gestel, vol teenstrydighede. Eérs het sy ontken dat sy hoegenaamd 'n verklaring afgelê het; later voer sy aan dat sy slegs 'n blanko bladsy op versoek van 'n polisieman onderteken het; later dat die polisieman aan haar voorgestel het dat die verklaring betrekking het op 'n eis om onderhoud indien haar eggenoot nie gevind word nie; later erken sy dat dit haar handtekening onder aan die dokument is en dat dit sersant Monoto was wat die verklaring by haar geneem het, hoewel sy vroeër ontken het dat sy hom ooit voorheen

25

gesien het; nog later erken sy dat die verklaring volledig neergeskryf kon gewees het en dat sy dit daarna onderteken het. Net daarna sê sy weer sy weet nie of dit neergeskryf was of nie. Dan ontken sy weer dat sy enigsins die inhoud van die verklaring gemaak het en hou vol dat sy bloot dit wat geskryf was, onderteken het. Sy weet nie waar die polisie aan die inligting in die verklaring kom nie.

Die vehoorhof het, myns insiens tereg, haar getuienis as ongeloofwaardig verwerp weens al die weersprekings daarin asook haar onvermoë om haar vroeëre verklaring te verduidelik. Die hof het ook die weergawe van eerste appellant as ongeloofwaardig venwerp. Die verhoorhof het tereg nie die inhoud van Elsie Paseletso se skriftelike verklaring teen eerste appellant as getuienis gebruik nie, maar die getuienis van die polisiebeamptes teen dié van eerste appellant en sy eggenote opgeweeg en sy weergawe verwerp.

Dat die betrokke moordwapen, die 7,65mm pistool met die 7 rondtes ammunisie daarin en die los 9mm magasyn met 7 rondtes daarin, op die

26

betrokke aand in die huis van eerste appellant gevind is, is myns insiens bo redelike twyfel bewys.

Eerste appellant en sy eggenote se ontkenning dat hy die wapen en ammunisie na sy huis gebring en daar gelaat het en hul getuienis dat die polisie dit daar "gevind" het, kan slegs twee moontlike verontskuldigende verduidelikings suggereer: dat 'n derde persoon dit daar geplaas het, of dat die polisie dit daar geplaas en kamtig gevind het.

Vir die eerste moontlikheid is daar geen feitebasis nie, en dit kom ook as vergesog voor: wie is die derde persoon wat dit daar sou geplaas het; waar sou hy of sy dit gevind het; hoekom dit juis in eerste appellant se huis gaan plaas en dan ook heimlik, sonder dat eerste appellant en sy vrou dit te wete kom en, les bes, hoe sou die polisie daarvan te wete gekom het? Die ander beskuldigdes is immers eers veel later deur die polisie betrek - tweede appellant op 11 Junie en beskuldigde twee op 9 Junie. Die inligting kon dus nie reeds al op 5 Junie, toe die pistool gevind is, van hulle afkomstig gewees het nie. Die vrae, hierbo gestel, skyn onbeantwoordbaar te wees.

27

Die ander moontlikheid kan wees dat die polisie self die moordwapen in eerste appellant se huis gaan versteek het (op die aand van 5 Junie) en dit kamtig daar gevind het. Maar ook hieroor bestaan daar talle vrae: waar sou hulle díe moordwapen gevind het? En hoe sou hulle geweet het dat dít die moordwapen is? Nie alleen was die nommers daarvan afgevyl nie, maar die ballistiese toetse wat bewys het dat die noodlottige skote uit dié wapen afgevuur is, is eers weke later in Pretoria uitgevoer.

Ek meen dat daar geen feitebasis vir genoemde verontskuldigende suggesties bestaan nie, en dat die verhoorhof tereg bevind het dat dit bo redelike twyfel bewys is dat die moordwapen in eerste appellant se woning gevind is.

Die blote vonds van die moordwapen in eerste appellant se woning is as getuienis toelaatbaar, selfs al sou getuienis oor die uitwysing deur eerste appellant ontoelaatbaar wees weens die beweerde aanrandings (art 218 (1) van die Strafproseswet). In die lig van die bevindings hierbo gemaak ten aansien van die beweerde aanrandings, volg dit dat eerste appellant se appêl

28

beoordeel moet word slegs op die basis van die vonds van die moordwapen in sy woning op 5 Junie, en nie op die basis dat hy die uitwysing daarvan gedoen het nie.

Om op te som: Myns insiens het die staat nie daarin geslaag om die toelaatbaarheid van die bekentenis aan landdros Tshabalala en die uitwysings aan kaptein Symington te bewys nie, maar wel op toelaatbare wyse bewys dat eerste appellant op 5 Junie 1993 in besit van die 7,65mm pistool was waarmee die oorlede op 19 Mei 1993 om die lewe gebring is.

Ten slotte moet die vonds van die moordwapen in eerste appellant se huis - en daarmee ook sy aandadigheid aan die roof en moord - in die lig van sy hoofverweer, nl 'n alibi, oorweeg word.

Eerste appellant het getuig dat hy 'n kleresmous is. Hy sê dat hy op die dag waarop die misdrywe gepleeg is, om ongeveer 19h00 na sy huis teruggekeer en gaan slaap het. Hy sê hy kan die spesifieke aand nie onthou nie, maar hy het 'n ooreenkoms met sy eggenote om sewe-uur saans tuis te wees "... want ek drink nou nie meer nie en die omgewing daar waar ons bly,

29

is vol tsotsies". Hy was die aand gladnie van sy huis weg nie.

Toe sy eggenote onder kruisverhoor gevra is waar eerste appellant op 19 Mei 1993 was, het sy eers gevra welke dag van die week dit was. Toe aan haar meegedeel is dat dit 'n Woensdag was, verklaar sy dat hy by die huis was. Sy sê dat hy na 16h00 by die huis gekom het. Sy getuig ook dat daar 'n ooreenkoms tussen hulle is dat hy om 17h00 elke middag tuis sal wees en dat dié ooreenkoms aangegaan is "... verlede jaar nadat hy geskiet is."

Feit is dat eerste appellant getuig het dat die ooreenkoms was dat hy om 19h00 tuis moet wees (en nie 17h00 soos sy sê nie) en dat hy gladnie die kwessie van die skietery op hom as oorsaak van die ooreenkoms gemeld het nie, soos wat sy voorgee nie. Dit blyk ook uit haar getuienis dat hierdie ooreenkoms nie 'n wet van die Mede en Perse daargestel het nie, want teen die einde van die maand is eerste appellant nie saans by die huis nie. Dan gaan hy ook saans uit om te smous aangesien die arbeiders dan hul lone gekry het en sy goedere kan koop.

30

Daar is natuurlik geen onus op die appellant om te bewys dat die alibi-getuienis waar is nie of om die hof daarvan te oortuig nie. Die vraag is bloot of die staat bewys het dat dit nie redelikerwys waar kan wees nie. En hierin word die staat nie gehelp deur weersprekings tussen appellant en sy eggenote nie. Wat gedoen moet word, is om die totaliteit van die alibi-getuienis op te weeg teen al die ander getuienis, in casu die vonds van die moordwapen in eerste appellant se huis, en dan die vraag te vra of die staat bo redelike twyfel bewys het dat eerste appellant se alibi nie redelikerwys waar kan wees nie (S v Jochems 1991(1) SASV 208 (A) at 211 a - j). As hierdie werkswyse gevolg word, het mens die posisie dat die moordwapen relatief kort na die roof en moord in eerste appellant se besit gevind is en dat hy die vonds valslik ontken het. Aanvanklik het hy, volgens Lehoaba, 'n verduideliking vir sy besit van die moordwapen gehad: hy het dit by die huurmotorstaanplek gekoop. Maar met dié verduideliking het hy nie volhard nie. By die verhoor ontken hy enige kennis van die pistool. Tel daarby dat sy en sy eggenote se getuienis oor die alibi die verhoorhof tereg nie beïndruk het nie. Op die totaliteit van al

31

hierdie getuienis meen ek dat daar slegs een redelike afleiding moontlik is, nl dat sy alibi vals is en dat hy en die moordwapen verbind is aan die roof en moord. Die alibi-verweer is dus nie redelik moontlik waar nie (sien R v Biva 1952(4) SA 514 (A)) en die vonds van die moordwapen in eerste appellant se woning staan onverklaard. Ek meen dus dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat die eerste appellant by die roof en moord betrokke was.

Op grond van die toelaatbare getuienis teen eerste appellant kan nie bevind word dat hy die persoon was wat die skote afgevuur het wat die oorledene gedood het nie. Maar uit Anastacia Mondwene se getuienis is dit duidelik dat al die persone wat op die moordtoneel was, deelgeneem het aan die gebeure en mekaar gehelp het om die oorledene uit sy motor te pluk en agtertoe te sleep. Daar is hy om die lewe gebring en van sy dienspistool beroof.

Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat eerste appellant een van die aanvallers was en dat hy hom vereenselwig het met die moord en roof. Daar is gevolglik bo redelike twyfel bewys dat éerste appellant

32

saam met die ander aanvallers die gemeenskaplike opset gehad het om die moord en roof te pleeg en dat hy aktief daarby betrokke was. Hy moet dus as mededader aan die roof en moord hom ten laste gelê, skuldig bevind word (S v Safatsa 1988(1) SA 868(A) at 901 H-J).

Eerste appellant se appèl teen die skuldigbevindings aan klagtes 1 en 2 moet gevolglik van die hand gewys word.

Wat tweede appellant betref, is hy skuldig bevind op twee gronde, eerstens 'n bekentenis deur hom afgelê en tweedens, sy besit van die oorledene se vuurwapen.

(i) Wat die beweerde bekentenis betref, is dit op 14 Junie 1993 deur landdros Tshabalala te Witsieshoek afgeneem.

Die hof het tereg beslis dat die bewyslas weens die antwoorde op sommige van die preliminêre vrae op die staat rus om die toelaatbaarheid van die verklaring te bewys. Daardie preliminêre vrae en die antwoorde daarop lees soos volg:-"Vraag 3: Were you influenced in any manner what-so-ever by any person

33

to make a statement? Reply: No.

Vraag 5: Did anybody make any promises which influenced you to come and make a statement? Reply: None.

Vraag 6: Were you prompted by any person to come and make a statement? Reply: No.

Vraag 7: Did you expect to derive any benefit in one way or another if you make a statement? Reply: Yes.

Vraag 8: Should previous question be replied to in the affirmative, how do you expect to benefit? Reply: That will make me not to change."

Dit is duidelik dat die somtotaal van die voorafgaande vrae en

antwoorde teenstrydig en dubbelsinnig is. Vanaf vraag 3 tot en met 6 word

voorgegee dat daar geen onbetaamlike beïnvloeding, dwang, beloftes of

voorsêery was nie. Volgens vraag 7 het die deponent 'n voordeel verwag as

hy die verklaring maak. Volgens vraag 8 was die voordeel: "That will make

me not to change." Hierdie antwoord is duister en kan daarop dui dat wat die

34

beloofde voordeel ookal was, die deponent in elk geval van plan was om 'n bekentenis af te lê. Wat dit egter bedoel was om te beteken, is onseker.

Landdros Tshabalala het die deponent nie uitgevra oor hierdie dubbelsinnige verklaring nie. Hy het hom nie om 'n opheldering daarvan gevra nie en ook nie wie die voordeel belowe het, wat die aard van die voordeel was, en waar en wanneer dít aangebied is nie. Die gevolg van die landdros se versuim om hierdie verdere navrae te rig, wat hy verplig was om te doen, (sien S v Mbonane 1979(3) SA 182 (T) op 186B - 187C; S v Jika and Others 1991(2) SASV 489 (OK) op 497h; 500 e - h; S vMaluma en Andere 1990(1) SASV 65 (T) op 72h) was dat die verhoorhof tereg beslis het dat die bewyslas, wat die toelaatbaarheid van die bekentenis betref, op die staat rus.

'n Ander feit wat voor oë gehou moet word, is dat die verdediging nie aangedui het op welke aanvalsgronde, om die beweerde bekentenis van regskrag te beroof, hy staatmaak nie. Die verdediging was geregtig om sodanige houding in te neem, gesien die bewyslas wat op die staat rus, maar die gevolg was dat die staat iedere en elke getuie wat maar iets met die

35

tweede appellant te doen gehad het sedert sy arrestasie, in die getuiebank moes paradeer in 'n verhoor-binne-'n-verhoor. Die volgende getuies het namens die staat getuig: sersant Koki Monoto, kaptein van Staden, sersant Motloung, kaptein le Roux, sersant Makhobalo en sersant Mokoena. Hulle is wydlopend onder kruisverhoor geneem. Tweede appellant het nie self in die getuiebank gegaan nie, maar sersant Ndawo van Korrektiewe Dienste en landdros Maruwa van Witsieshoek as getuies geroep.

Die kern van die saak is dat tweede appellant op 11 Junie 1993 te Virginia in verband met 'n ander kriminele klag in hegtenis was. Sersant Monoto, wat as ondersoekbeampte in hierdie saak oorgeneem het nadat die vorige ondersoekbeampte vermoor is, het hom, vergesel van ander polisiebeamptes, daar gaan haal. Hy is eers in die Harrismith-gevangenis aangehou en is daarvandaan na die selle in Phuthaditjhaba geneem vir ondervraging. Op 14 Junie is hy na landdros Maruwa geneem om 'n verklaring af te lê, maar toe hy daar kom, het hy voor die landdros geweier om dit te doen. Die volgende dag het hy wel die gewraakte bekentenis voor

36

landdros Tshabalala afgelê.

Tweede appellant se advokaat het aan al die polisiegetuies gestel dat hy deur hulle aangerand en gedreig is. Hulle het dit deur die bank ontken.

Sersant Ndawo het namens tweede appellant getuig. Hy is gestasioneer te Harrismith-gevangenis. Op 13 Junie 1993 het twee speurders by die gevangenis waar tweede appellant aangehou is, opgedaag met behoorlike dokumentasie om tweede appellant na die polisieselle te neem. Toe tweede appellant besef dat dit speurders is wat hom soek, het hy gesê hy wil nie saam met hulle gaan nie; hy is bang vir die speurders, hulle sal hom eers slaan en dan doodmaak. Op 'n vraag van getuie waarom hy so sê, het hy gesê hy weet, hy ken hulle. Tweede appellant was opsigtelik verskrik en het gebewe en gesweet. Getuie het toe sy hoof gaan roep wat aan tweede appellant die posisie verduidelik het. Hy is later saam met die speurders weg.

In kruisverhoor gee dié getuie toe dat 'n persoon wat 'n polisiebeampte van Phuthaditjhaba vermoor het, presies soos tweede appellant sal optree wanneer speurders van daardie plek opdaag om hom te kom haal vir

37

ondervraging. Tweede appellant het in daardie stadium geen beserings gehad nie; ook het hy nie gekla oor aanrandings toe hy na die Harrismith gevangenis oorgeplaas is nie. Onder kruisverhoor het hy ook getuig dat toe tweede appellant op 17 Junie vanaf Harrismith na die gevangenis teruggebring is, hy aan getuie erken het dat die polisie niks aan hom gedoen het nie en het hy normaal voorgekom. Nadat die speurders vertrek het, het hy gesê dat hy nie aangerand was nie.

Landdros Maruwa is vervolgens namens tweede appellant as getuie geroep. Hy is sedert 1989 'n landdros te Witsieshoek. Hy het getuig dat hy die voorgeskrewe vrae op die standaard roneo-vorm vir bekentenisse aan tweede appellant gelees het, waarop laasgenoemde gesê het dat hy nie 'n verklaring wil aflê nie. Getuie het toe 'n polisieman geroep om tweede appellant na die polisiestasie terug te neem. Dit het vir getuie voorgekom asof die tweede appellant baie gesweet het en verskrik voorgekom het. Dit is die enigste waarneming wat hy kon maak. Hy het hom nie gevra waarom hy weier om 'n verklaring af te lê nie.

38

In kruisverhoor erken die landdros dat tweede appellant goed aan hom bekend was en 'n verhouding met sy niggie gehad het.

Onder kruisverhoor gee hy toe dat tweede appellant aan hom gesê het dat hy nie aangerand is nie. Hy is seker daarvan, want hy herhaal die stelling tweemaal. Ook het hy nie gesê dat hy beïnvloed is of dat iemand voordele aan hom belowe het nie. Die landdros se indruk was dat tweede appellant bang was om 'n verklaring aan hom te maak omdat hy, getuie, moontlik sy niggie daarvan sou vertel. Hy het getuig dat toe tweede appellant by sy kantoor ingekom het, hy op sy gemak was maar later begin sweet het.

Die verhoorhof het die weergawe van die staat, dat daar nie sprake van enige dwang, geweld, dreigement of onbehoorlike beïnvloeding was nie, aanvaar.

Ek meen dat dié beslissing op die feite korrek is. Die weersprekings in die getuienis van die verskeie staatsgetuies wat deur die verhoorhof oorweeg is en wat weer in hierdie Hof ge-opper is, dring nie tot die kern van die saak deur nie en tas nie hul geloofwaardigheid wesenlik aan nie. Die soort

39

weersprekings waarop die tweede appellant se advokaat ook in hierdie Hof gewys het, is juis daardie soort verskille wat mens sou verwag by getuies wat almal min of meer sydelings in die saak betrokke was en wat, volgens die getuienis, baie ander sake gehad het om te hanteer en wat nie met mekaar gekoukus het nie.

Maar dit is veral tweede appellant se eie twee getuies wat vir sy saak op hierdie punt fataal is. Sersant Ndawo se getuienis dat tweede appellant nooit gekla het dat hy aangerand is nie toe hy na Harrismith gebring is vanaf Virginia, moet swaar weeg. Tweede appellant kla juis dat hy bang is vir die speurders; hier was die ideale geleentheid om te verwys na die aanranding, maar hy doen dit nie. Hy het slegs gesê hy is bang want hy ken dié mense.

Ook insiggewend is tweede appellant se verklaring aan sersant Ndawo, nadat hy van Harrismith teruggekeer het en reeds die bekentenis aan landdros Tshabalala gedoen het, te wete dat hy nie aangerand is nie. Daar was geen rede waarom hy 'n leuen aan die gevangenisbewaarder wat hy voorheen van sy vrese ingelig het, sou vertel nie.

40

Insgelyks moet landdros Maruwa se getuienis swaar teen tweede appellant tel, want aan hom verklaar laasgenoemde pertinent dat hy nie aangerand, gedreig of onbetaamlik beinvloed is nie. Hy het geen rede gehad om iets vir landdros Maruwa weg te steek nie; inteendeeL

Sersant Ndawo en landdros Maruwa was tweede appellant se getuies en hy is gebonde aan hulle verdoemende getuienis. Hy het nie self in die getuiebank gegaan om oor die aanrandings te getuig en 'n ander lig op die saak te werp nie. Na my mening is die bekentenis tereg toegelaat.

Die wesenlike deel van die beweerde bekentenis lees soos volg: (Die

Shooter waarna verwys word is eerste appellant; ek gee die verklaring weer

met die taal- en spelfoute onveranderd):-

"On the day inquestion I was at the home of my friend, Phillip Mabote at Beirut. We were setting there busy drinking the liquor. It was at about 7p.m. I intended to leave, I then went away with them. Before we could leave they took their fire arms. I left with them, we were nów a distance from Mabote's place when we saw stones in the road. When we got to the stones Shooter said we should then get other stones and put them in the road to block the road. A car appeared it was travelling in our direction. It came and stopped at the stones.

41

The driver wanted to alight to remove the stones from the road. Mabote pulled the door open which was partly open. He (Mabote) pointed the driver with a fire-arm. The driver came out I then grabbed him. That person (the driver) Grabbed me. Mabote went round to the passengers seat side. At the time when I was still fighting with this man, Mabote told Shooter to shoot this man. Then Shooter fired. I heared about four (4) shots.

We went to the boot of this car, this person then fell down and letting me f ree. Mabote then came with the woman who was moving with the driver. Mabote told Shooter to come with the key. Shooter brought the key. Mabote then put the woman inside the boot. At the time when Mabote was putting this woman in the boots, Shooter was busy searching the man that had fallen down.

I closed the boot, Shooter took the key he wanted to start the motor vehicle. Mabote said we should run away as there was another car coming from behind. When we relaxed somewhere away. Shooter took out a fire-arm and a magazine he said he had taken it. We stood there for an hour. We then left Mabote went to his place. He was not having a fire-arm.

I and Shooter went to my place. I took the fire-arm and put them somewhere outside. We then went to sleep. Shooter hired a car to take him to his place, this was the following day. We then returned with Shooter to my place.

When we arrived at my place Shooter said we should take these fire arms to Mabote's place. We arrived at Mabote's place. I was then supposed to go to Welkom. Shooter said he was going with me to Welkom. I went with Shooter Mabote said that he is going no where

42

then on Tuesday I went to my case. I was found quilty sentenced to

three and half years or ten thousand rand. After I was sentenced I had

a chance to talk to Shooter, who said he would go and take the fire-arm

and rub off its numbers.

That is all."

Nodeloos om te sê dat dié bekentenis medepligtigheid aan die roof en

moord openbaar.

(ii) Die besit van die oorledene se vuurwapen

Sersant Mokachane van die S A Polisie en gestasioneer te Qwa-Qwa het getuig dat hy diens doen as kwartiermeester en dus in beheer is van die uitreiking van vuurwapens aan lede van die mag. Op 21 September 1990 het hy 'n vuurwapen aan oorledene uitgereik en was dit ten tyde van sy dood nog steeds so aangeteken. Dit is 'n Z88 9mm parabellum pistool met registrasienommer Q010210. Hy het ook 50 rondtes vir dié pistool aan die oorledene uitgereik. Hierdie pistool is geïdentifiseer as Bewysstuk 1 voor die hof.

Evelyn Motlokoa, eggenote van tweede appellant, het getuig dat sy op Vrydag 10 Junie 1993 'n oproep van haar eggenoot ontvang het vanaf

43

Welkom. Hy het gesê dat hy gearresteer is en haar gevra om 'n vuurwapen wat deur hom onder die kopstuk van die bed geplaas is, uit te haal en aan sy jonger suster, Angelinah Motlokoa te gaan gee. Sy het dit op dieselfde dag gedoen. Sy het Bewysstuk 1 (die pistool voor die hof) herken as soortgelyk aan die vuurwapen wat sy daar uitgehaal en aan Angelinah gaan gee het.

Angelinah Motlokoa het getuig dat sy die vuurwapen inderdaad van Evelyn ontvang het op 11 Junie 1993 met die boodskap dat tweede appellant versoek het dat die vuurwapen aan haar oorhandig word. Hulle twee het dit saam in die sinkstruktuur in 'n kartondoos gebêre.

Die aand toe haar eggenoot, Sipho Madonsela opdaag, het sy hom van die vuurwapen vertel. 'n Rusie het tussen hulle daaroor ontstaan en sy het hom gaan wys waar dit versteek is.

Sipho Madonsela het die getuienis van Angelinah gestaaf. Op sy beurt het hy die pistool na ene Malinga geneem. 'n Paar dae later, op 14 Junie 1993, het die polisie by hom opgedaag en het hy hulle na die huis van Malinga geneem. Daar het Malinga die vuurwapen uit 'n staalkas gehaal en

44

aan die polisie oorhandig.

Malinga het weer op sy beurt die getuienis van Sipho Madonsela gestaaf en bevestig dat die polisie op die pistool, bewysstuk 1 beslag gelê het.

Dit is geïdentifiseer as die vuurwapen wat aan oorledene uitgereik is soos hierbo vermeld.

Tweede appellant het die getuienis van sy eggenote geheel ontken. Hy sê dat hy nooit telefonies met haar oor 'n vuurwapen geskakel het nie. Hy was ook nooit in besit van die vuurwapen nie en het dit nie in sy huis versteek nie. Hy het getuig dat hy wel oproepe mag maak vanaf die gevangenis, maar 'n gevangenisbeampte is binne hoorafstand. Hy het ook beweer dat sy eggenote in 1993 vir ongeveer 'n week in die hospitaal weens 'n senu-aandoening opgeneem is - sy het destyds onsinnig gepraat en as 'n mens met haar praat, het sy nie gereageer nie. Daar was ook woordewisselings en dan het dit gelyk of sy nie kan verstaan wat hy sê nie. Hy sê tydens die telefoongesprek was daar nooit sprake van 'n vuurwapen nie.

Hy het getuig dat hy destyds in Welkom gewerk het; dat hy eerste

45

appellant nie geken het nie en vir ongeveer een maand voor 11 Junie nooit in Phuthaditjhaba was nie. Hy weet nie hoe die vuurwapen daar in sy huis beland het nie; hy sê sy eggenote beskuldig hom vals.

Hy is ook seker dat hy sy eggenote slegs eenmaal uit die gevangenis opgebel het.

Volgens bewaarder Ramatsoto wat toentertyd te die Virginia gevangenis gestasioneer was, het tweede appellant slegs eenmaal sy eggenote geskakel en wel op 5 of 6 Junie 1993. Hy het langs tweede appellant gestaan toe die oproep gemaak is. Tweede appellant het oor familie-aangeleenthede gepraat en nie oor vuurwapens nie. Sou hy dit gedoen het, sou die getuie hom kon stop en na die hoof van die gevangenis neem sodat hy aangekla kon word.

Onder kruisverhoor gee hy toe dat hy maar 'n raaiskoot waag as hy sê tweede appellant het oor algemene sake gepraat. Hy sou egter onthou het as tweede appellant na iets verwys het wat weggesteek is; selfs al word net na 'n pakkie verwys wat sy vrou na sy suster moet neem en selfs al word glad nie na die inhoud van die pakkie verwys nie.

46

Die verhoorhof het, myns insiens tereg, bevind dat tweede appellant wel die oorledene se vuurwapen in sy huis versteek het en dat hy sy eggenote, Evelyn, versoek het om dit na sy suster, Angelinah te neem. Dit is die vuurwapen wat die polisie later in Malinga se besit gevind het. Die kern van die ondersoek is nie presies wanneer tweede appellant sy eggenote sou geskakel het nie, maar waar sy aan die oorledene se dienspistool sou gekom het om dit aan Angelinah te gee, as dit nie van tweede appellant afkomstig was nie. Enige argument dat Evelyn die dienspistool by 'n derde persoon sou gekry het en dit aan Angelinah gaan gee het, net om dan later vals teen tweede appellant te getuig, lê buite die grense van 'n redelike afleiding. Geen bewese rede is aangevoer waarom Evelyn valsteen haar eggenoot sou getuig nie. Wie sou die oorledene se dienspistool in die huis van tweede appellant gaan versteek het? Wie sou Evelyn versoek het om dit aan Angelinah te gaan gee - alles nog voordat tweede appellant deur die polisie oor die huidige klagtes genader is?

Ek meen dat die enigste redelike afleiding uit die bewese feite is dat

47

tweede appellant die oorledene se dienspistool op die aand van die roof en moord bekom het en in sy huis gaan versteek het.

Uit die bekentenis van tweede appellant asook die besit van die oorledene se dienspistool het die verhoorhof die afleiding gemaak dat hy skuldig is aan die roof en moord. Ek meen dat dié bevinding korrek is.

Tweede appellant se appèl teen die skuldigbevindings aan klagtes 1 en 2 moet m i van die hand gewys word. Die appèlle teen die opgelegde vonnisse.

Ek behandel eers die opgelegde vonnisse in geval van tweede appellant. Ek is van oordeel dat die hof a guo by die oorweging van die vonnis geen wanvoorligting begaan het nie en geen relevante faktor buite rekening gelaat het nie. Die opgelegde vonnisse is onder die omstandighede redelik en gepas. Daar bestaan geen rede om daarmee in te meng nie.

Beide die appellante is 7 jaar gevangenisstraf ten opsigte van die roofklag opgelê. In die geval van tweede appellant is gelas dat vier jaar van die genoemde gevangenisstraf gelyktydig met die uitdiening van die 15 jaar

48

gevangenisstraf, wat ten opsigte van die moord opgelê is, uitgedien kan word.

'n Soortgelyke bevel kon natuurlik nie in eerste appellant se geval gemaak word nie omdat hy ten opsigte van die moordklag die doodvonnis opgelê is.

In eerste appellant se geval is daar nie redes waarom met die opgelegde vonnis van 7 jaar gevangenisstraf vir die roof ingemeng kan word nie. Die vraag ontstaan of die doodvonnis bekragtig moet word.

Ek meen van nee. Dit blyk uit die rekord van die verhoorverrigtinge dat die doodvonnis eerste appellant opgelê op die basis van die bevinding dat hy die persoon is wat die skote afgevuur het wat die oorledene se dood veroorsaak het. Daar is bevind dat tweede appellant tot 'n mindere mate aan die moord aandadig was.

Weens die bevindinge hierbo bereik, nl. dat daar nie toelaatbare getuienis is dat eerste appellant die doodskote afgevuur het nie en dat hy slegs 'n mededader is, val die ratio van die hof a quo se oplegging van die doodstraf weg.

49

By herbesinning van 'n gepaste vonnis in geval van eerste appellant op die moordklag kan dit nie gesê word dat die doodvonnis die enigste gepaste strafvorm in hierdie geval is nie. Die eerste appellant is 29 jaar oud en is getroud en het twee seuns. Hy het standerd sewe op skool geslaag en blyk 'n nuttige burger te wees, in die sin dat hy 'n kleresmous was wat 'n goeie inkomste verdien het. Sy persoonlike omstandighede verskil nie in wese van dié van tweede appellant nie. Die moontlikheid van rehabilitasie kan nie uitgesluit word nie. Die doodvonnis is derhalwe nie die enigste gepaste vonnis nie. Die enigste wesenlike verskil tussen die posisie van die twee appellante is die volgende: tweede appellant het geen saakmakende vorige veroordeling nie, terwyl eerste appellant vorige veroordelings het. Die belangrikste daarvan is 'n skuldigbevinding in 1987 aan strafbare manslag waarvoor hy vyf jaar gevangenisstraf opgelê is. In 1980 is hy skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Ek meen dat daar rede bestaan om in geval van eerste appellant 'n ietwat swaarder vonnis op te lê as in die geval van tweede appellant. Alles

50

in ag genome, meen ek dat in sy geval gevangenisstraf van 17 jaar ten aansien van klag 2 aangewese is. Dieselfde bevel ten opsigte van die gelyktydige uitdiening van die twee gevangenistermyne skyn ook billik te wees. Bygevolg word die volgende beveel:

  1. Die appèl van beide appellante teen die skuldigbevindings aan aanklagte 1 en 2 word van die hand gewys.

  2. Die appél van tweede appellant teen die vonnisse wat op aanklagte 1 en 2 opgelê is, word van die hand gewys.

  3. Die appèl van eerste appellant teen die vonnis opgelê op aanklag 1 word van die hand gewys.

  4. Die appèl van eerste appellant teen die vonnis wat op aanklag 2 opgelê is, word gehandhaaf. Die opgelegde vonnis word tersyde gestel en met die volgende vervang:

"Sewentien jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat vier jaar van die

51

sewe jaar gevangenisstraf wat op aanklag 1 opgelê is, gelyktydig met die sewentien jaar gevangenisstraf opgelê op aanklag 2, uitgedien kan word."

P J J OLIVIER WAARNEMENDE APPèLREGTER

E M GROSSKOPF AR )

)STEM SAAM

NIENABER AR )

▲ To the top