S v Nel (14/1994) [1995] ZASCA 28 (28 March 1995)


Saaknommer 14/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ANTON NEL Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : JOUBERT, NESTADT

et HOWIE ARR DATUM AANGEHOOR : 6 MAART 1995 DATUM VAN UITSPRAAK : 28 MAART 1995

UITSPRAAK

HOWIE AR/

2

HOWIE AR:

Hierdie appèl gaan oor 'n vonnis van drie jaar gevangenisstraf wat appellant in 'n streekhof opgelê is weens oortreding van art 43(a) van die Wet op Korrektiewe Dienste, 8 van 1959. Hy was 'n bewaarder in diens van die Departement Korrektiewe Dienste en het twee gevangenes gehelp om uit die Johannesburgse Diepkloof Gevangenis waar hy werksaam was, te ontvlug. Sy appèl na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling het misluk maar daardie Hof het verlof toegestaan om na hierdie Hof te appelleer.

Namens appellant is aan die hand gedoen dat korrektiewe toesig kragtens art 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 in al die omstandighede opgelê behoort te gewees het. Sodanige betoog is gegrond op die menings van drie getuies wat ter strafversagting getuig het. Hulle getuienis kom daarop neer, gebaseer grotendeels op wat appellant aan hulle oorgedra het, dat gevangenisstraf appellant nadelig sou affekteer en dat

3

korrektiewe toesig die aangewese straf sou wees. Aangesien nóg die aanklaer nóg die verhoorhof hierdie getuienis aangeveg of in twyfel probeer trek het, het die streeklanddros misgetas, so lui die betoog, deur te bevind dat appellant se mededelings aan die getuies onbetroubaar was en deur hulle aanbeveling aangaande die gepaste straf nie te aanvaar nie.

Met betrekking tot die regsvraag of korrektiewe toesig 'n bevoegde vonnis is gesien die bepalings van art 43 (a) van die Gevangeniswet (waarvolgens gevangenisstraf vir hoogstens vyf jaar voorgeskryf word) is namens appellant aangevoer dat die beslissing in S v Strvdom en 'n Ander 1994 (2) SASV 456 (W) (waar gemelde vraag ontkennend beantwoord is) verkeerd was.

Die tersaaklike getuienis is die volgende. Appellant is 'n eerste oortreder en was ten tye van die pleging van die misdryf 23 jaar oud. Hy is tans 'n paneelklopper bedags en 'n beroepsbokser by ander tye. Sy deelname aan

4

die misdryf beskryf hy in 'n bekentenis wat hy na sy

arrestasie voor 'n landdros afgelê het. Die bekentenis is

by die aanvang van die verhoor, toe appellant skuldig

gepleit het, by sy geskrewe pleitverduideliking ingelyf en

lees soos volg:

"Ek is 'n bokser, en ek het te Johannesburg gevangenis gewerk. Ek werk nie eintlik oor naweke nie. Ek het ± in Augustus 1991 'n naweek gewerk.

'n Gevangene met die naam Webb, het my genader en my gevra, maar eers met 'n klomp stories gekom. Hy het gesê sy vrou het nie geld nie en hy is sieklik, of ek hom sal kan help om te ontvlug.

Ek het vir hom gesê dat hy seker nie ernstig is nie. Na die tyd het hy my bly laat weet deur ander bewaarders dat hy met my wil praat, en naderhand het hy my sag gemaak en ek het ingestem. Ek het nie geweet hoe ek dit sal doen nie en ek het vir hom gesê dit sal deur ontvangs kantoor moet gebeur. Maar hulle sal self iemand moet kry om hulle buitekant te kom haal as hulle uit is. Dis toe gevangene Schultz ook in die prentjie gekom het. Toe sê Gavin Schultz dat sy meisie buitekant kan organiseer vir 'n polisieman om hulle te kom uithaal. Sy het vir ongeveer 5 keer op 'n dag gebel en vir my gesê sy is besig om te organiseer vir 'n polisieman. Sy het my een aand gebel en vir my gesê dat sy 'n polisieman gekry het en dat die polisieman my sal nader of my bel. Die polisieman se naam is Shane van Mondeor Polisiestasie. Die polisieman het my nooit genader nie, en toe kry ek

5

my eie polisieman. Webb hulle het vir my gesê dat

hulle ons meer sal betaal, ons moet nie te worry nie -

die geld is daar.

Dis toe ek vir Lucas ontmoet het by

bokskampioenskappe. Hy is 'n ondersersant by Norwood

Polisiestasie. Ek het hom genader en hom vertel van

die hele storie, van dat hulle ons sal betaal as ons

hulle help om uit te kom.

Dit het vir 2 weke baie stil gegaan, ek het 2de

gedagtes gehad. Daar was probleme by my ouers se

huis, en daar het stories rond gelê dat my pa 'n

verhouding het met 'n ander vrou. Toe besluit ek tot

hier toe en nie verder nie. As my ma en pa moet skei,

wat word van my ma.

Ek het vir Lucas gaan bel, en hom gevra of hy my gaan

help. Hy het ingestem. Hy sê ek moet na sy woonstel

kom sodat ons die ding kan bespreek. Ek gaan na die

woonstel maar hy was nie daar nie. Toe los ek al die

vorms wat daar ingevul moet word - dit was vorms om 'n

gevangene uit die tronk te haal deur die polisie vir

'n ondersoek buitekant.

Lucas het my die volgende dag kom sien met die vorms.

Ek het hom alles vertel wat hy moet invul.

Die ontvlugting het die Donderdag gebeur om 9h00 die

oggend. Lucas se vriend het by die gevangenis

aangekom en die papiere aan my broer oorhandig. My

broer het my gestuur om die 2 gevangenes te gaan haal.

Lucas het buite gewag.

Lucas het gery met die 2 gevangenes, ek het hulle

langs die pad gekry naby die gevangenis. Gevangene

Webb het saam met my gegaan en gevangene Schultz het

saam met Lucas en sy vriend gegaan.

Lucas hulle is na Schultz se woonstel toe. Ek is saam

met Webb, want hy het gesê hy moet dinge organiseer

vir die geld wat hy ons skuld. Hy (Webb) het nie die

6

mense in die hande gekry nie en vir my gesê hy moet êrens bel. Ek is na my ouers toe met Webb, hy het daar gebel. Hy het met ene Rita 'n bruin vrou en sy vrou gebel. Ons is daarna na Schultz se woonstel toe. Ons het daar rond gesit, en Lucas sê ons kan nie so rondsit ons moet na sy woonstel toe gaan. Ons is na sy woonstel toe. Webb is die aand alleen daar weg om te sien of hy die geld in die hande kan kry. Ek en Webb het daar oornag. Schultz en sy meisie het by sy woonstel gaan slaap. Vrydag oggend het Webb weer gesê hy moet die mense van die geld gaan sien ons het besluit dat Lucas saam met hom moet gaan. Hulle het laat die middag terug gekom en daar was geen teken van die geld nie.

Saterdag oggend het ek en Lucas gaan boks vir ons pro-lisensie. Ons het teruggegaan na Lucas se woonstel, en ons het vir Webb gesê dat as dinge nie vandag gebeur met die geld sal ons hulle terugvat. Niks het met die geld gebeur nie, en Webb het gesê hy wil teruggaan tronk toe. Schultz het gesê hy wil nie teruggaan tronk toe nie, en het ook gesê hy sal uit die land uit vlug en sy vriend gaan opsoek en vir ons geld stuur. Ons het toe gesê Schultz kan maar gaan. Webb het ons gevra dat ons hom by 'n vriend se huis in Benoni gaan aflaai. Hy sal self planne maak om by die gevangenis uit te kom, en van daar af het ons hom nie weer gesien nie. Dis al.

V.Hoeveel geld sou u en Lucas ontvang het? A.Hulle het gepraat van ± R100 000,00. V.Was u van plan om die 2 gevangenes terug te neem tronk toe, toe u vir Lucas en die 2 gevangenes ontmoet het buite die tronk op die Donderdag? A.Nee."

In sy pleitverduideliking het appellant erken dat

7

Schultz en Webb verhoorafwagtendes was en dat hy geweet het dat eersgenoemde van roof en poging tot moord aangekla was en dat Webb van bedrog aangekla was. Hy het ook erken dat ten einde hulle te help ontvlug hy deel gehad het aan die vervalsing van vorm SAP127. (Hierdie dokument het te doen met tydelike oorplasing van 'n verhoorafwagtende gevangene.) Die vervalsde vorm is aan die betrokke gevangenispersoneel aangebied om sodoende die ontvlugting te bewerkstellig.

Appellant het besluit om nie die verhoorhof in sy vertroue te neem en getuienis onder eed af te lê nie. Afgesien dus van die inhoud van sy bekentenis kan 'n gepoogde bepaling van sy geloofwaardigheid en karakter slegs gebaseer word aan die hand van wat hy sy getuies gedurende konsultasies meegedeel het en hulle gevolgtrekkings wat daaruit voortvloei.

Die eerste getuie, mev. Du Plooy, 'n proefbeampte, skets in die eerste plek appellant se persoonlike

8

geskiedenis. Hy is die tweede oudste van vyf kinders. As

gevolg van huweliksprobleme verlaat sy moeder op 'n stadium

sy vader en sit 'n egskeidingsgeding aan die gang. Hulle

versoen later en appellant woon nog steeds by hulle in. ín

wat sy laaste jaar op skool sou gewees het, raak hy

betrokke in 'n seksuele verhouding met 'n onderwyseres. As

gevolg daarvan druip hy. Hy gaan die volgende jaar terug

en behaal sy matriek op 21-jarige ouderdom. Op skool was

hy kaptein van die eerste rugbyspan, hy het in atletiek

uitgeblink en hy het erekleure vir krieket en kadette

verwerf. Mev. Du Plooy gaan dan voort om die volgende te

sê wat die misdryf self betref:

"Volgens beskuldigde het hy aanvanklik betrokke geraak na aanleiding van die tragiese omstandighede van Webb wat aan beskuldigde geskilder is. Hy het Webb bejammer en toe die beloftes van finansiële vergoeding ter sprake kom, het beskuldigde geswig voor die versoeking. 'n Bydraende faktor was die feit dat sy ouers op daardie stadium met egskeidingsprosedures begin het en hy bekommerd was oor sy moeder se finansiële dilemma. Sy het geen inkomste en moes nog vir 2 jonger kinders sorg. Uit sy vertelling is dit duidelik dat beskuldigde

9

uiters naïef en op goedertrou opgetree het. Hy het geen versekering gehad van die vergoeding en het die gevangenes by tye alleen gelaat. Beskuldigde het egter nooit enige vergoeding ontvang nie en het die gevangenes laat gaan.

Uit die onderhoude blyk dit duidelik dat beskuldigde nou eers die volle implikasies van sy optrede besef."

Waar dit by haar evaluasie kom, verwys sy na die mening van

mnr. Redelinghuys, 'n kliniese sielkundige, welke mening sy

aanvaar en dan kom sy tot die volgende gevolgtrekking:

"Ondergetekende beskou beskuldigde as 'n persoon wie maklik beïnvloedbaar is deur ander se behoeftes en probleme endan ook in so 'n mate betrokke raak dat hy realiteite verloor. Hy is egter eerlik en opreg in sy spyt en berou oor sy optrede.

Bogenoemde, tesame met sy behoefte aan finansiële sekuriteit vir homself en sy moeder het waarskynlik aanleiding gegee tot die oortreding."

Die getuie meen voorts dat gevangenisstraf appellant se eie

waarde verder sal afbreek en tot emosionele onstabiliteit

lei. Korrektiewe toesig aan die ander kant:

"... kan gesien word as 'n gepaste vonnis waar beskuldigde binne die gemeenskap kan voortgaan onder toesig met die regte hulp en leiding."

Om daardie redes en omdat luitenant Serfontein van die

10

voormelde Departement appellant as 'n "positiewe" kandidaat vir korrektiewe toesig beskou, beveel die getuie aan dat laasgenoemde vonnis inderdaad opgelê word.

Die tweede getuie, mnr. Redelinghuys, bevind, op grond van konsultasies met appellant, sy moeder en sy verloofde asook drie toetse wat hy appellant laat doen het, dat laasgenoemde 'n ontoereikende persoonlikheid het in terme van funksionering, streshantering en emosionele hantering; dat hy baie min selfvertroue en eiewaarde het; en dat hy derhalwe baie kwesbaar, onafhanklik en beïnvloedbaar is. Om hierdie rede, meen die getuie, kon appellant nie die druk wat Webb op hom geplaas het, en die versoeking wat die belofte van betaling daargestel het, weerstaan nie. Na mnr. Redelinghuys se mening is appellant uiters naïef en insigloos en het hy nie weens gierigheid die misdryf gepleeg nie maar as gevolg van "psigogene dinamiese prosesse" wat op sy persoonlikheid 'n inwerking gehad het. Trouens, so meen die getuie, het appellant nie werklik die

11

volle implikasies van sy daad verstaan nie. Mnr. Redelinghuys bereik die gevolgtrekking dat gevangenisstraf die risiko inhou dat appellant slegter sal uitkom, karaktergewys, as wat hy nou is. Hy gaan egter nie so ver as om korrektiewe toesig aan te beveel nie.

Luitenant Serfontein was die laaste getuie. Uit sy eie ervaring, sê hy, kan 'n gevangenisbewaarder wel van tyd tot tyd onder versoeking kom soos in appellant se geval gebeur het, en waar die betrokke persoon vir versoeking vatbaar is, kan hy dan geredelik daarvoor swig. Op grond van appellant se persoonlike faktore en in ag genome wat 'n vonnis van korrektiewe toesig alles behels, kom die getuie tot die slotsom dat appellant 'n geskikte kandidaat vir so 'n vonnis is.

Die streeklanddros het bovermelde getuienis deeglik oorweeg en die bevinding gemaak, soos reeds aangedui, dat appellant die getuies probeer mislei het. Na die verhoorhof se oordeel het appellant nie naïef en ondeurdag

12

opgetree nie. Gesien die leiereienskappe wat hy op skool geopenbaar het, het die Hof betwyfel of hy werklik so 'n lae selfbeeld het soos die getuies gemeen het. Voorts, so bevind die Hof, het hy nie bloot uit j ammerte vir Webb opgetree nie maar om betaling te verkry. Hy was feitlik "die meesterbrein" agter die ontsnapping en het die voortou geneem veral by die stadium toe hy self gereël het vir 'n polisieman om Webb en Schultz te kom haal. Die streeklanddros beklemtoon ook die feit dat die misdryf baie goed beplan is en dat appellant van Augustus 1991 tot die dag van die ontsnapping op 31 Januarie 1992 met die beplanning besig was. Hy moes dus goed geweet het dat indien hy gevang word hy groot probleme sou optel.

Die verhoorhof oorweeg voorts verskeie vonnisopsies. Wat betref korrektiewe toesig meen die streeklanddros dat dit in al die omstandighede van die saak nie erkenning sal verleen óf aan die erns van die oortreding óf die belange van die gemeenskap nie. Die Hof se gevolgtrekking is

13

derhalwe, ondanks die welbekende nadele daaraan verbonde, dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste straf is. Ondanks die betoog namens appellant, waarin alles wat moontlik in sy guns gesê kan word, geopper is, meen ek dat die verhoorhof geen wesenlike mistasting begaan het nie. Veral die bevinding dat appellant nie naïef en insigloos opgetree het nie lyk vir my heeltemal juis. In hierdie verband is mnr. Redelinghuys se mening gebaseer onder andere op die aanvaarding, as 'n feit, dat appellant vir Schultz en Webb finaal laat gaan op sterkte van die belofte dat eersgenoemde in die buiteland geld sou gaan haal en dat laasgenoemde hom aan die gevangenisowerhede sou gaan oorgee. Hierdie bewerings is na my oordeel veel eerder aanduidings van ongeloofwaardigheid aan appellant se kant as van naïewiteit of insigloosheid. En, soos reeds gesê, appellant was nie bereid om sy relaas onder kruisondervraging te laat toets nie. Waarom appellant, as hy wel onder druk gevoel het, nie die eenvoudige stap

14

gedoen het om sy bevelvoerende offisier se raad in te win, weet mens eenvoudig nie. Hy het seer sekerlik meer as voldoende tyd daarvoor tot sy beskikking gehad.

Selfs indien dit hierdie Hof sou vrygestaan het om sy eie vonnis op te lê sou die uitslag dieselfde gewees het. En wel om dieselfde redes wat die verhoorhof se uitspraak ten grondslag lê.

Daar kan laastens net bygevoeg word dat die twee beskuldigdes in die saak van Strydom supra, die twee polisiemanne was wat onder appellant se mededaders by die pleging van die onderhawige misdryf geressorteer het. Hulle is drie jaar gevangenisstraf ooreenkomstig art 276(1)(i) van die Strafproseswet opgelê. Hulle appèl na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling asook hulle aansoek aan die Hoofregter om verder te appelleer, het albei misluk. Gesien appellant se leidende rol in die hele aangeleentheid sou dit nie gepas wees as hy met dieselfde vonnis as hulle gestraf word nie, om nie eers van 'n ligter

15

vonnis as hulle s'n te praat nie. Boonop het hy goed geweet - anders, blykbaar, as Strydom-hulle - waarvan veral Schultz aangekla was.

Bygevolg bestaan daar geen rede om met appellant se vonnis in te meng nie. Die regsvraag waarna hierbo verwys is, ontstaan dus nie.

Die appèl word van die hand gewys.

C.T. HOWIE

APPèLREGTER JOUBERT AR ] STEM SAAM NESTADT AR ] /al

▲ To the top