S v Newyear (43/1994) [1995] ZASCA 29 (28 March 1995)


Saaknommer 43/94 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

SAMUEL NEWYEAR Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : JOUBERT, NESTADT

et HOWIE ARR DATUM AANGEHOOR : 6 MAART 1995 DATUM VAN UITSPRAAK : 28 MAART 1995

UITSPRAAK

HOWIE A R/

2

HOWIE AR:

Appellant is in 'n streekhof skuldig bevind aan oortreding van artikel 2(a) van die Wet op Voorkoming van Korrupsie, 6 van 1958. Hy is sewe jaar gevangenisstraf opgelê waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is. Sy appêl na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling het geslaag in dié mate dat die vonnis verminder is na vier jaar waarvan twee jaar opgeskort is. Met verlof van daardie Hof kom hy tans in hoër beroep.

Die betoog namens hom kom daarop neer dat die Hof a quo (die uitspraak is dié van Swart R, Roos R concurrente) misgetas het deur die belange van die gemeenskap swaarder te laat weeg as appellant se belange.

Die feite is kortliks die volgende. Appellant was 'n konstabel in die Suid-Afrikaanse Polisie en 'n lid van laasgenoemde se Narkotiese Buro ("SANAB") . Hy was die ondersoekbeampte in 'n saak waarin ene Georgy Vassen se vader, broer en swaer op 'n aanklag van handeldryf in

3

Mandrax gearresteer was. Mettertyd nader appellant vir Vassen (wat in die motorhandel betrokke was) met die voorstel dat indien laasgenoemde hom vier motorbande sou gee, appellant daarvoor sou sorg dat die aanklag teen Vassen se vader en broer teruggetrek word en dat die swaer (wat nog minderjarig was) op slegs 'n besitaanklag vervolg sou word. Vassen stem daartoe in en die bande word mettertyd aan appellant gegee. Die waarde daarvan was R537,00.

Etlike dae later vertel appellant vir die aanklaer wat die vervolging sou behartig dat die beheeraanklaer terugtrekking van die aanklag teen Vassen se vader en broer goedgekeur het. Hierdie mededeling was tot appellant se kennis vals. Op grond van die besondere vertrouensverhouding wat te alle wesenlike tye tussen die betrokke aanklaers en SANAB-lede bestaan het en waarvan appellant terdeë bewus was, aanvaar die aanklaer appellant se mededeling. Die klagte teen Vassen se vader en broer

4

word toe teruggetrek en die swaer word net aan besit van Mandrax skuldig bevind.

Op die getuienis in die aanklaer se besit was daar geen regverdiging vir die terugtrekking van die saak teen die ander beskuldigdes nie, een waarvan boonop 'n vorige veroordeling vir handeldryf in dagga gehad het.

Ek mag net meld dat Vassen 'n polisie-offisier van appellant se korrupte voorstel verwittig het nog voordat daar vir die oorhandiging van die bande gereël is. Die polisie-owerhede het dus geweet waarmee appellant besig was maar die betrokke aanklaer is nie voor die tyd daaromtrent ingelig nie. Dit is dus duidelik dat die besluit geneem moes gewees het om appellant te betrap. Hierdie feit is egter nie voor ons as 'n tersaaklike oorweging geopper nie.

By die verhoor het appellant skuld valslik ontken en in daardie houding volhard selfs in sy kennisgewing van appèl wat met betrekking tot die verrigtinge voor die Hof a quo geliasseer is. Hy het ook nie getuienis ter

5

versagting van vonnis afgelê of geroep nie. Geen bewys van berou is aan die verhoorhof voorgelê nie. Daar is ook geen getuienis dat hy onder enige druk verkeer het of dat hy voor enige versoeking geswig het nie. Trouens hy het die inisiatief geneem.

Appellant was ten tye van die pleging van die misdryf 'n eerste oortreder in sy middel-veertigerjare met 25 jaar se vleklose diens in die Polisiemag agter die rug. Hy het 'n afhanklike gesin bestaande uit sy vrou en ses kinders. As gevolg van hierdie oortreding het hy sy werk verloor. Hy het nie verder as standerd 7 gevorder nie.

In die uitspraak van die Hof a quo word sorgvuldige aandag bestee aan appellant se persoonlike faktore, die verswarende en versagtende omstandighede en die behoefte aan 'n straf wat op doeltreffende wyse die Hof se afkeur uitspreek. Dit word tereg beklemtoon dat dade van korrupsie en omkopery (wat in die laaste jare al te dikwels voorgekom het) neig om die gewone burger se vertroue in sy

6

land se Staatsdiens te vernietig. In die onderhawige geval

het appellant as polisiebeampte direk by die regspleging

ingegryp. In hierdie verband sê die Hof a quo:

"Die regspleging, soos alle ander instellings van die samelewing, kom van tyd tot tyd uit verskeie oorde tereg en ten onregte onder skoot. Dit kan nie toegelaat word nie dat bo en behalwe dit die regspleging ook nog in diskrediet kom omdat hy buite werking gestel word, of ondoeltreffend gemaak word, juis deur die persone en die instansies aan wie die regsverpleging self toevertrou is. Die regspleging is die laaste toevlug van diegene wat reg en orde en stabiliteit in die staat probeer soek."

Met daardie opmerking is ek dit volkome eens.

Na oorweging van al die tersaaklike feite en

omstandighede was die Hof a quo die mening toegedaan,

ondanks appellant se skoon rekord, sy jare van getroue

diens, die betreklike lae waarde van die bande en die

nadeel wat die oplegging aan hom van gevangenisstraf vir sy

gesin sou inhou, dat 'n wesenlike tydperk in die gevangenis

die enigste gepaste straf was. Ek is nie daarvan oortuig

dat die geleerde Regters enigsins misgetas het nie. Daar

7

bestaan dus geen grondslag waarop daar met die vervangende vonnis ingemeng kan word nie.

Laastens verg dit melding dat Wet 6 van 1958 reeds herroep was by die stadium toe die verhoorhof uitspraak gegee het. Vir huidige doeleindes egter kan aanvaar word nie net dat artikel 1(b)(ii) van die Wet op Korrupsie, 94 van 1992, wesenlik dieselfde misdryf daarstel as artikel (a) van Wet 6 van 1958 nie maar ook dat die twee Wette se strafbepalings wesenlik dieselfde is.

Die appèl word van die hand gewys.

C.T. HOWIE

APPèLREGTER JOUBERT AR ] STEM SAAM NESTADT AR ]

/al

▲ To the top