Telkom Suid-Afrika Bpk v Richardson (293/1993) [1995] ZASCA 31 (28 Maart 1995)


Saak Nr 293/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

TELKOM SUID-AFRIKA BEPERK Appellant

en

RAYMOND RICHARDSON Respondent

CORAM: JOUBERT, E M GROSSKOPF, STEYN, F H GROSSKOPF,

HOWIE, ARR DATUM VAN VERHOOR: 2 MAART 1995 DATUM GELEWER: 28 MAART 1995

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2

Die partye in hierdie appèl is Telkom Suid-Afrika

Beperk en Mnr R Richardson. Gerieflikheidshalwe sal ek na hulle verwys bloot as Telkom en Richardson.

Richardson is die huurder van 'n telefoondiens

verskaf deur Telkom. Gedurende die tydperk tussen

Desember 1991 en Desember 1992 (met uitsluiting van

drie maande waarop ek later terugkom) het Richardson se

gebruik van sy telefoon tussen 162 en 668 getelde

oproepeenhede per maand beloop. Hierdie gebruik het hom

gevolglik tussen R30,62 en R110,22 gekos. Die

telefoonrekenings wat onderskeidelik op 21 April 1992,

19 Mei 1992 en 19 Junie 1992 gelewer is, het egter 'n

ander prentjie geskilder. Volgens hierdie rekenings was

sy gebruik vir daardie drie maande onderskeidelik 4048,

5760 en 1297 eenhede. Hiervoor is hy aanspreeklik gehou

vir bedrae van R667,92; Rl 088,64 en R245,13.

Richardson het die juistheid van laasgenoemde drie rekenings betwis. Gerieflikheidshalwe sal ek voortaan na hulle verwys as die betwiste rekenings. Dit is nie

3 nodig om in besonderheid in te gaan op die

onderhandelinge tussen Richardson en Telkom nie. Na

aanleiding van sy ondersoeke het Telkom tot die

gevolgtrekking gekom dat Richardson wel aanspreeklik

vir die bedrae van die betwiste rekenings is.

Richardson het dit steeds ontken. Op 27 November 1992

skryf Telkom aan Richardson dat ondersoek gedoen is en

dat geen gebrek gevind was wat 'n fout in die lesing

kon veroorsaak het nie. Die brief sluit af met die

volgende woorde:

"Please be so kind and settle any outstanding amount on the account without delay in order to enjoy the benefits of an uninterrupted telephone service."

Ten spyte van hierdie bedekte dreigement het

Richardson nie die volle bedrae van die betwiste

rekenings betaal nie. (Hy het egter wel 'n afbetaling

t o v die onbetwiste deel daarvan gemaak, en in sy

repliserende verklaring aangebied om 'nverdere bedrag

in hierdie verband te betaal.) Sonder verdere

4 waarskuwing is Richardson se telefoondiens op 11

Januarie 1993 opgeskort.

In 'n dringende aansoek in die Kaapse Provinsiale

Afdeling het Richardson 'n bevel aangevra wat Telkom

verplig om sy telefoondiens te herstel. Dit is nie

nodig om die verloop van die verrigtinge in die hof a

quo uiteen te sit nie. Die uiteinde was dat die hof

(Marais R) die volgende substantiewe bevel uitgereik

het:

"Pending the determination of an action to be instituted by [Telkom] for payment of the disputed amounts referred to in this application, or for an order declaring it to be entitled to suspend or terminate [Richardson's] telephone service, [Telkom] is interdicted from suspending or terminating such service by reason of [Richardson's] failure to pay such disputed amounts, and is ordered to restore the service."

Met verlof verleen deur hierdie hof kom Telkom nou in hoër beroep.

Die enigste geskilpunt tussen die partye in hierdie hof was of Richardson ingevolge die kontrak tussen die partye 'n prima facie reg gehad het wat deur

5 'n tussentydse interdik beskerm kon word. Origens word

die verhoorhof se bevel nie aangeveg nie. By die

oorweging van die geskilpunt is dit gerief lik om te

begin by die aard van die regsverhouding tussen die

partye.

Richardson het gedurende ongeveer September 1984

aansoek gedoen by die destydse Departement van Pos- en

Telekommunikasiewese om die verskaffing van 'n nuwe

telefoondiens. Sodanige diens is aan hom verskaf vanaf

10 September 1984. Die aansoekvorm wat Richardson

destyds ingevul het, het die volgende bepaling bevat:

"Ooreenkoms deur aansoeker: Ek verstaan dat die

verlangde telefoondiens ... onderworpe sal wees aan die Telekommunikasieregulasies, soos gewysig."

Dit wil dus voorkom dat Richardson ingevolge hierdie

vorm ingestem het om aan die toepaslike regulasies

gebonde te wees. Die regulasies het egter ook statutêre

regskrag gehad onafhanklik van die partye se consensus.

Hulle is op 1 Julie 1977 uitgereik deur die Minister

van Pos- en Telekommunikasiewese ingevolge artikel

6 119A(1) (g) van die Poswet, no 44 van 1958, wat hom

onder meer gemagtig het om deur regulasie voorsiening

te maak vir die instelling van 'n telefoondiens en om

voorwaardes voor te skryf wat op sodanige diens

betrekking het. Sedertdien is die regulasies dikwels

gewysig.

Kragtens wysiginge van die Poswet in 1991 is die

opset van telekommunikasiedienste in Suid-Afrika

drasties verander. Ooreenkomstig artikels 3 en 4 van

die Wet (soos gewysig) sou die telekommunikasiediens,

wat voorheen deur die Staat beheer was, voortaan deur

'n te stigte "opvolgermaatskappy" bedryf word. Telkom

is dan ook ingevolge die Wet gestig en het die Staat se

funksies m b t telekommunikasiedienste oorgeneem vanaf

1 Oktober 1991 ("die telekommunikasie-oordragdatum").

Art 77 van die Poswysigingswét, no 85 van 1991, bepaal:

" Enigiets gedoen deur of namens die Minister ... kragtens 'n bepaling van die Poswet, 1958 ... of enige kontrak deur of namens die Minister, die departement [van pos- en telekommunikasiewese] of die Posmeester-generaal aangegaan ... in verband

7

met die telekommunikasie-onderneming voor die telekommunikasie-oordragdatum word na daardie datum geag deur die telekommunikasiemaatskappy gedoen of aangegaan te wees."

Sien ook art 4 van die Poswet gelees saam met die

woordomskrywings vervat in Art 1 daarvan.

Die Minister se bevoegdheid om regulasies uit te

vaardig is egter nie aan Telkom, as die

opvolgermaatskappy, oorgedra nie. Die regsposisie soos

dit sou geld na die oordragdatum is soos volg deur

Telkom uiteengesit in 'n omsendbrief aan klante:

"Telekommunikasiedienste is tot dusver verskaf onderworpe aan die Telekommunikasieregulasies uitgevaardig kragtens art 119A (1) (g) van die Poswet .. . Met die totstandkoming van Telkom SA Bpk, sal die betrokke regulasies soos dit op 30 September 1991 gegeld het, in alle opsigte dien as die kontrakvoorwaardes vir alle bestaande dienste ... wat deur Telkom SA Bpk verskaf word."

Die juistheid van hierdie stelling is nie voor ons

bevraagteken nie en ek aanvaar dat dit korrek is.

Die inhoud van die kontrakvoorwaardes tussen die

partye het dus nie sy oorsprong gehad in consensus

tussen die partye nie, maar is (in ooreenstemming met

8

die partye se ooreenkoms) van buite neergelê ingevolge

statutêre gesag.

Breedweg gestel is dit Telkom se saak dat sy optrede om Richardson se telefoondiens op te skort, ten volle gemagtig was deur die kontrakvoorwaardes, soos beliggaam in die regulasies. Dit word betwis deur Richardson. Om die geskil tussen die partye behoorlik te begryp, is dit nodig om in 'n mate van besonderheid in te gaan op die stukke.

In sy funderende verklaring het Richardson glad nie verwys na die regulasies nie. Hy het begin deur te beweer dat hy 'n ooreenkoms met Telkom het waarkragtens hy 'n telefoondiens by sy huis ontvang. Hiervoor betaal hy 'n vasgestelde bedrag as huurgeld en 'n verdere bedrag vir getelde oproepeenhede. Hierdie feite was natuurlik gemene saak. Richardson het egter verder op sekere stilswyende bepalings van die ooreenkoms staatgemaak. Hulle was:

a) Dat Telkom 'n behoorlike rekening van

9 verskuldigde bedrae sou lewer;

  1. "That I only be charged with those metered calls that were actually made from my telephone by myself or by any other person that I (wittingly or otherwise) allow access to my phone service";

  2. Dat Telkom net geregtig sou wees om die telefoondiens op te skort wanneer daar, na lewering van 'n behoorlike rekening, wanbetaling was van bedrae wat werklik verskuldig was.

Richardson het dan die regshulp wat hy gevra het, gebaseer op 'n verbreking van hierdie stilswyende bepalings, en veral op die bewering dat "the metered call units on the disputed accounts were not incurred by myself, nor by any person whom I had allowed access to my telephone service."

In sy antwoord op hierdie bewerings het Telkom aangedui dat die regulasies 'n deel vorm van die partye se kontrak, en het hy betoog dat regulasies H9(l) en H16(l)(i) veral van belang was. Hierdie regulasies lui

10

soos volg:

"H.9 Aanspreeklikheid van kliënte vir gelde, tariewe of koste en klassifisering van telekommunikasielyne vir die bepaling van gelde, tariewe of koste en vir die toepassing van die regulasies.

(1) Kliënte is aanspreeklik vir die betaling van gelde, tariewe of koste wat ingevolge artikel 2B(l)(e) van die Poswet, 1958 bepaal is. Rekenings wat in hierdie verband aan kliënte gelewer word, is prima facie bewys van die bedrae wat kliënte aan die Posmeester-generaal verskuldig is en is by lewering betaalbaar.

H.16 Straf vir wanbetaling van rekenings

(l)(i) Indien 'n kliënt agterstallig is met die vereffening van enige rekening wat kragtens regulasie H.9(l) gelewer is ... kan die Posmeester-generaal, as die kliënt in gebreke bly om die rekenings binne sewe dae na die dag waarop dit betaalbaar geword het, te vereffen, die uitgaande diens, of die diens in albei rigtings, summier sonder enige kennisgewing opskort, die huurooreenkoms summier beëindig, die kliënt se gidsinskrywing skrap en sy perseel betree om alle apparaat, drade of enige ander eiendom van die Poskantoor te verwyder."

Die uitwerking van hierdie regulasies, so is beweer, is

dat 'n telefoondiens opgeskort kan word as 'n rekening

nie betyds betaal word nie, al sou dit wees dat die

rekening nie korrek is nie. Indien die verbruiker sy

11

diens wil behou, moet hy die rekening betaal, desnoods

onder protes. Hy kan dan later stappe doen om enige

onverskuldigde bedrag terug te eis.

Richardson se repliserende verklaring is nie baie

duidelik nie. Aan die een kant aanvaar Richardson

blykbaar die juistheid van Telkom se vertolking van

regulasie 16(1)(i). Hy sê:

"[Telkom] avers that in terms of its contract with me it was entitled to, without notice, withdraw my telephone service, should I not pay any amount that I have been invoiced with. ... This to my mind is the essence of the matter. In short my reply to this averment is that although the contract between [Telkom] and myself purports to give such rights to [Telkom], it amounts to self-help. Such a clause, at least in this instance, is contra bonos mores, and cannot be relied on by [Telkom]."

En:

"a. I admit that the contractual term contained in regulation H16 purports to give [Telkom] the right to discontinue my telephone service without notice.

b. However I aver that this term, at least under the present circumstances, is contra bonos mores as it entitles [Telkom] to resort to self-help in order to obtain what may be due to him in terms of the contract. [Telkom] cannot therefore rely on

12 this term."

Terselfdertyd is daar verskillende passasies in die verklaring waarin Richardson ontken dat hy behoorlike rekenings ingevolge reg H9 ontvang het, onder meer blykbaar omdat die rekenings nie die juiste getal oproepeenhede aangedui het nie. En, indien daar nie behoorlike rekenings kragtens reg H9 gelewer was nie, sou regulasie H16(l)(i) natuurlik nie toegepas kon word nie.

Wat ook al die posisie op die stukke was, is dit gemene saak dat Richardson by die verhoor in die hof a quo aanvaar of veronderstel het dat Telkom se uitleg van regulasie H16 korrek was. Hy het hom beroep bloot op die beweerde ongeldigheid van die regulasie. Die argument voor die hof a quo was dus beperk tot die vraag of die regulasie contra bonos mores was of nie.

Die geleerde verhoorregter het egter nie met die partye se vertolking van reg H16(l)(i) saamgestem nie. Sy gevolgtrekking is onder meer soos volg geformuleer:

13

"If [Telkom] wishes to suspend or terminate a service in terms of regulation H16 because of a failure to pay a statement of account, and its right to do so is challenged by the subscriber, it will have to prove on a balance of probabilities that the amount claimed is indeed owing by the subscriber in order to justify its suspension or termination of the subscriber's service. To my mind there is nothing offensive to public policy in that."

Die verhoorhof se vertolking van die regulasies

het dus in wese saamgestem met die resultaat wat

Richardson in sy funderende verklaring probeer bereik

het met sy beweerde stilswyende bepalings.

Mnr Burger, wat namens Telkom voor ons verskyn

het, het betoog dat die verhoorhof nie geregtig was om

'n ander vertolking aan die partye se kontrak te heg as

dié wat hulle albei as juis aanvaar het nie. Ter

ondersteuning van hierdie betoog het hy verwys na Shill

v Milner 1937 AD 101 op bl 110-111 en Louw v WP

Kooperatief Bpk en Andere 1994 (3) SA 434 (A) op 445D.

Soos ek hierbo aangedui het, het Richardson

aanvanklik wel staatgemaak op 'n kontrak wat in wese

14 ooreenstem (weliswaar as gevolg van beweerde

stilswyende bepalings) met die verhoorhof se

uiteindelike bevinding, en is dit nie heeltemal

duidelik uit die stukke dat hy in sy repliserende

verklaring sy oorspronklike bewerings heeltemal

afgesweer het nie. Hoe dit ook al sy, vir huidige

doeleindes sal ek veronderstel dat Richardson

uiteindelik die juistheid van Telkom se vertolking van

die regulasies aanvaar het, en sy saak beperk het bloot

tot die betoog van contra bonos mores. Die vraag is

dan: was die verhoorhof hierdeur verhoed om te bevind

dat die partye se vertolking verkeerd was en om

dienooreenkomstig uitspraak te gee? Om hierdie vraag te

beantwoord is dit nodig om die gewysdes waarna Mnr

Burger verwys het, en 'n paar ander, versigtig te

ontleed.

Die eerste saak is Breed v Van den Berg and Others

1932 AD 283. In daardie saak het dit gegaan om die

vertolking van 'n bepaling in 'n titelakte. Stratford

15 AR het bevind dat die bepaling se bewoording so

onduidelik was dat "unaided by recourse to the

subsequent conduct of the parties no satisfactory and

sensible meaning could be given to this grant" (op bl

292). Op hierdie grondslag gaan hy dan voort:

"It is now no longer a question of construction, the question is what construction have both the grantor and grantees given to the grant? If one of two parties to a contract asserts that it has a certain meaning and the other agrees that that is the meaning to be given to it, a court of law will give effect to that meaning. If this mutually accepted meaning is in conflict with the clear construction of the contract, we have all the requisites for rectification of the document. If, on the other hand, the parties give to an indefinite and vague document by itself unenforcible, a meaning consistent with it, then the latter in the eye of the law is the meaning it should bear. In both cases we cannot go beyond the intention of the parties when once we have a clear expression of that intention" (bl 292-3).

Na my mening beteken hierdie passasie niks meer as

die volgende nie. Die geleerde appélregter se

uitgangspunt was dat, by die uitleg van 'n kontrak, die

partye se bedoeling deurslaggewend is. Waar die

bepalings van die kontrak duidelik is maar die partye

16 bevestig albei dat hulle iets anders bedoel het, moet

effek gegee word aan hul werklike bedoeling. En waar

die kontrak onduidelik is, kan hul bedoeling afgelei

word uit die manier waarop hulle dit toegepas het.

In Shill v Milner (supra) het Milner mielies aan

Shill verkoop. Die koopkontrak het die volgende

bepaling bevat: "Buyer to be responsible for the export

quota in terms of the Act." Die verwysing was na

uitvoerkwota-sertifikate wat die Staat aan uitvoerders

van mielies verskaf het en wat 'n geldwaarde gehad het.

'n Uitvoerder hoef egter nie sy sertifikaat self te

benut het nie, maar kon dit aan iemand anders oordra.

Op hierdie manier het daar 'n mark in sertifikate

ontstaan. Die sertifikate kon dus ook (hoewel daar geen

wetlike magtiging daarvoor was nie) op die ope mark

gekoop word. Die vraag was of Shill verplig was om die

mielies wat aan hom verkoop was, uit te voer en

sodoende sertifikate te kry wat hy aan Milner moes

lewer, en of hy sertifikate wat op die ope mark gekoop

17 is, kon lewer. De Villiers AR het bevind dat die woorde

van die kontrak "elastic enough" was om albei

betekenisse te omvat. Beide partye het beskou dat

gekoopte sertifikate gelewer kon word, en hul kontrak

is dienooreenkomstig uitgelê (bl 110). Tindall WAR het

geen kommentaar oor die betekenis van die kontrak

gelewer nie maar het uitgegaan van die standpunt dat

"both parties contemplated that the appellant could

fulfil his obligation by transferring purchased

certificates ..."(bl 110). Weens hierdie bevinding het

hy die passasie aangehaal uit Stratford AR se uitspraak

in Breed se saak, wat ek hierbo uiteengesit het.

Tindall WAR voeg dan die volgende by:

"I infer that the meaning of the last sentence is that the Court cannot go beyond the meaning which both parties have agreed to put on the contract" (bl 111).

In hierdie saak, soos in Breed se saak, was die

vraag dus wat die partye se kontrak behels het. Hul

eenstemmigheid oor wat hul bedoel het toe hulle

18 gekontrakteer het was deurslaggewend.

Ten slotte is daar Louw v WP Koöperatief Bpk

(supra). In daardie saak was die vraag of die WP

Koöperatief locus standi gehad het om as skuldeiser

aansoek te doen om Louw se sekwestrasie. Louw het wel

geld aan die koöperasie geskuld, maar die koöperasie

het al die skulde wat aan hom verskuldig is aan die

Landbank gesedeer onder sekere voorwaardes. Na 'n

oorweging van die bepalings van die sessieakte in die

lig van toepaslike wetgewing het Smalberger AR (wat die

uitspraak van die hof gelewer het) bevind dat 'n

letterlike uitleg van die sessie-akte tot 'n

absurditeit sou lei (bl 444 I-J). Hy gaan dan voort (op

bl 444J-445D):

"Dit synde die geval, is dit nodig om te let op wat die gemeenskaplike bedoeling van die Koöperasie en die Landbank wel was want daardie bedoeling moet seëvier (Cinema City (Pty) Ltd v Morgenstern Family Estates (Pty) Ltd and Others 1980 (1) SA 796 (A) op 804D-E).

Uit die stukke blyk dit dat die Koöperasie en die Landbank dit eens is oor watter vertolking aan die sessieakte geheg moet word. In die verband is

19

dit gepas om te let op wat Stratford AR in Breed v Van den Berg and Others 1932 AD 283 op 292 gesê het, naamlik: (hier haal die belese appèlregter 'n deel van die passasie hierbo aan, en gaan dan voort)

Dat 'n hof uitvoering sal gee aan die betekenis wat partye gesamentlik aan hulle ooreenkoms heg (al weerspreek dit die letterlike betekenis van die woorde wat gebruik is), blyk ook uit die beslissing in Shill v Milner 1937 AD 101 op 110-11. (Kyk ook Christie The Law of Contract 2de uitg 250-1.)"

In die uitspraak word dan verder bevind dat die getuienis onteenseglik daarop dui dat die Koöperasie en die Landbank deurgaans onder die indruk verkeer het dat die sessieakte bloot voorwaardelik was.

Louw se saak het dus ook gegaan oor wat die partye

werklik bedoel het toe hulle gekontrakteer het. Dit

blyk nie alleen uit die hof se beredenering nie, maar

ook uit die bronne aangehaal. Die passasie in die

Cinema City saak waarna verwys word lui soos volg:

"As the generally accepted view is that our law of contract is (save in exceptional cases) based on real consensus, it is fully consonant with basic principle that in matters of interpretation the common intention of the parties should prevail."

20 En Christie, in die aangehaalde passasie, distilleer

die volgende beginsel uit sake soos Shill v Milner:

"... evidence is admissible to prove the sense in which the parties understood the contract at the time they made it, not only when the wording was ambiguous but even when the evidence (provided it is led with the consent of both parties) contradicts the plain meaning of the words." (My beklemtoning.)

Na my mening het die beginsel neergelê in

bogemelde gewysdes geen toepassing op die feite van die

onderhawige geval nie. Die oorspronklike

kontraksluiting tussen die partye het in September 1984

geskied. Daar is toe ooreengekom dat Telkom se

voorganger 'n telefoondiens aan Richardson sou verskaf

onderhewig aan die regulasies. Daar is voorsien dat die

regulasies in die toekoms gewysig sou word. Richardson

het dus sommer by voorbaat ook toegestem om deur die

wysigings gebind te word. Daar is geen aanduiding dat

die partye by kontraksluiting 'n gesamentlike beskouing

oor die betekenis van die regulasies gehad het nie.

Trouens, daar is geen aanduiding dat Richardson ooit

21 bewus was van die inhoud van die regulasies voordat hy

hierdie saak aanhangig gemaak het nie. Sy funderende

verklaring wek eerder die indruk dat nóg hy nóg sy

regsverteenwoordigers aanvanklik besef het dat daar

hoegenaamd relevante regulasies bestaan het. Ten beste

vir Telkom kan aanvaar word dat Richardson gedurende

die verrigtinge saamgestem het met Telkom se vertolking

van die regulasies. Hierdeur het Richardson egter nie

te kenne gegee dat hy hierdie vertolking gehuldig het

as deel van die consensus tussen die partye ten tyde

van kontraksluiting nie. Hy het bloot, vermoedelik op

grond van regsadvies, 'n standpunt ingeneem omtrent die

betekenis van 'n dokument wat in sy ooreenkoms ingelyf

was maar wat deur 'n derde party sonder sy medewerking

geformuleer was. Daar bestaan m i niks wat 'n hof

verplig om uitvoering te gee aan so 'n vertolking as

die hof nie daarmee saamstem nie. Onder hierdie

omstandighede was die vertolking wat die partye aan die

regulasies geheg het, blote regsubmissies wat die hof

22

op meriete kon aanvaar of verwerp. Soos dit gestel is

in Paddock Motors (Pty) Ltd v. Igesund 1976(3) SA 16

(A) op bl. 23 F:

"... it would create an intolerable position if a Court were to be precluded from giving the right decision on accepted facts, merely because a party failed to raise a legal point, as a result of an error of law on his part ..."

Weens die bogemelde gevolgtrekking is dit nie vir

my nodig om 'n mening uit te spreek oor die vraag of

dit regtens moontlik was vir die partye om deur

ooreenkoms 'n betekenis aan die regulasies te heg wat

afwyk van die betekenis wat hulle dra, bloot beskou as

statutêr gemagtigde regulasies, nie. In effek sou die

partye dan 'n ooreenkoms gesluit het wat afwyk van dié

neergelê in die regulasies. Die vraag of Telkom se

voorgangers die bevoegdheid gehad het om so 'n

ooreenkoms te sluit word dus onbeantwoord gelaat.

Dit bring my dan by die uitleg van die regulasies.

Die wese van die kontrak tussen Telkom en 'n verbruiker

is dat Telkom 'n diens lewer waarvoor die verbruiker

23

moet betaal. Dit was dan ook gemene saak dat Telkom in

beginsel nie geregtig is om gelde in te vorder vir dienste wat nie gelewer is nie. Regulasie H9 is nie teenstrydig met hierdie beginsel nie. Dit bepaal dat rekenings prima facie bewys is van verskuldigde bedrae en by lewering betaalbaar is. Klaarblyklik hoef die verbruiker, as hy die prima facie bewys kan weerlê, nie meer te betaal as waarvoor hy werklik aanspreeklik is nie.

Reg H.16 se opskrif is "Straf vir wanbetaling van rekenings". Die regulasie as geheel maak voorsiening vir 'n aantal stappe wat gedoen kan word indien 'n verbruiker agterstallig is met die vereffening van 'n rekening. Die uitgaande diens, of die diens in albei rigtings kan summier sonder enige kennisgewing opgeskort word, die huurooreenkoms kan summier beëindig word, die kliënt se gidsinskrywing kan geskrap word en sy perseel kan betree word om alle apparaat, drade of enige ander eiendom van Telkom te verwyder. Hierdie

24

verskillende bevoegdhede word deur reg H.16(l)(i)

verleen. Sub-reg (ii) magtig Telkom verder om die diens t o v enige ander telekommunikasielyn wat hy aan die betrokke kliënt verhuur, op te skort of die huurooreenkoms t o v so 'n lyn te beëindig. En ingevolge sub-reg (2) kan Telkom gelikwideerde skadevergoeding eis.

Dit is moeilik om te glo dat die Minister wat die regulasies uitgevaardig het, kon bedoel het dat 'n verbruiker hierdie drastiese vorms van straf sou moes ondergaan selfs waar die rekening verkeerd is. En dit is betekenisvol dat daar geen voorsiening gemaak word in die regulasies vir die geval waar 'n diens opgeskort of beëindig is en dit later blyk dat die bedrag van die rekening inderdaad onverskuldig was nie. Reg H.17 is die enigste relevante regulasie in hierdie verband. Dit bepaal dat 'n telekommunikasielyn wat in die een of ander rigting opgeskort is ingevolge reg H.16, alleen ná betaling van "die bedrag van die onbetaalde

25 rekening" aangesluit word en dat betaling van die

heraansluitingskoste geverg word. As die diens reeds

beëindig is, word die heraansluiting as 'n aanvraag om

'n nuwe diens beskou. Regulasie H.17 veronderstel dus

dat die onbetaalde rekening inderdaad die werklik

verskuldigde bedrag weerspieël.

Mnr Burger het in hierdie verband betoog dat die regulasies klaarblyklik aangevul moet word om voorsiening te maak vir die geval waar 'n rekening later blyk verkeerd te wees. in so 'n geval, het die betoog voortgegaan, moet daar 'n stilswyende verstandhouding wees dat die diens kosteloos herstel sou word.

Die posisie is dus dat die regulasies in een of ander opsig aangepas moet word om sin te maak. Telkom betoog dat reg 16(1)(i) toegepas kan word selfs waar die rekening verkeerd is. Indien hierdie vertolking korrek is, skort daar voorsiening in die regulasies vir die latere herstel van die diens. Richardson betoog

26 (minstens in hierdie hof) dat reg 16(1)(i) net toegepas

kan word indien die verbruiker agterstallig is t o v 'n

bedrag wat werklik verskuldig is. Indien hierdie betoog

korrek is, moet 'n beperkende betekenis aan die woord

"rekening" in reg 16(1) (i) geheg word. Waar daar dus in

beide gevalle iets ingelees of bygevoeg moet word tot

die regulasies behels Richardson se betoog nie alleen

'n mindere ingryping nie maar lei dit m i tot 'n meer

redelike resultaat.

Dus, om op te som: dit is die verbruiker se

primêre plig om te betaal vir dienste wat werklik

gelewer is en die aard en erns van die strawwe in reg

H.16 is 'n sterk aanduiding dat die regulasie te doen

het met versuim om geld te betaal wat werklik

verskuldig is. Daarbenewens behandel die enigste

bepaling wat met heraansluiting te doen het, glad nie

die moontlikheid dat die onbetaalde rekening verkeerd

mag wees nie. Telkom se uitleg van die regulasies sou

dus die inlees verg van 'n bepaling om hiervoor

27 voorsiening te maak. Onder hierdie omstandighede meen

ek dat die hele stelsel wat geskep word deur regulasies

H.16 en H.17 net in werking tree waar die gelewerde

rekening inderdaad korrek is. Of 'n mens hierdie

resultaat bereik deur middel van 'n stilswyende

bepaling, soos Richardson in sy funderende verklaring

probeer doen het, of deur 'n beperkende uitleg van die

woord "rekening" in regulasies H.16 en H.17, soos Mnr.

Kotzé namens Richardson in argument voor ons betoog

het, maak m i nie saak nie.

Mnr Burger het betoog dat die resultaat aldus

bereik ernstige praktiese probleme vir sy kliënt sal

besorg. Ek stem nie saam nie. Ek veronderstel dat die

meeste rekenings korrek is. Waar 'n verbruiker bloot

versuim om sy rekening te betaal sonder om die

korrektheid daarvan aan te veg sou Telkom prima facie

geregtig wees om stappe ingevolge reg H.16 te doen. As

die verbruiker dan 'n interdik aanvra, sal hy in alle

waarskynlikheid misluk. As die verbruiker die juistheid

28

van die rekening betwis, is dit in elk geval Telkom se

beleid om die saak verder te ondersoek, soos blyk uit die feite van hierdie saak. As hierdie ondersoek aantoon dat die bedrag van die rekening ongetwyfeld verskuldig is, kan Telkom kies of hy die skuld deur aksie wil probeer in, en of hy van reg H.16 gebruik wil maak. As hy laasgenoemde weg inslaan, loop hy die risiko dat die verbruiker 'n interdik sal aanvra, maar as Telkom seker van sy saak is, sal die interdik óf nie toegestaan word nie, óf Telkom sal uiteindelik 'n kostebevel in sy guns kry. In alle geval glo ek nie dat daar baie verbruikers is wat die koste en moeite sal aangaan om hofsake oor die juistheid van telefoonrekenings te voer as hulle nie meen dat hulle 'n sterk saak het nie.

Ek meen dus dat die verhoorhof se uitleg van die regulasies korrek was en dat Richardson wel 'n prima facie reg gehad het wat deur 'n tussentydse interdik beskerm kon word. Soos hierbo aangedui was dit die

29

enigste geskilpunt tussen die partye.

Die appèl word afgewys met koste. Die tydperk van 60 dae wat bepaal word in para 2 van die bevel van die hof a quo vir die instelling van aksie sal loop vanaf datum hiervan.

E M GROSSKOPF, AR

JOUBERT,AR STEYN, AR F H GROSSKOPF, AR HOWIE, AR

Stem saam

▲ To the top