S v Carolus (700/1993) [1995] ZASCA 36 (29 March 1995)


Saaknommer: 700/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ISAAC CAROLUS Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: NESTADT, F H GROSSKOPF et HOWIE ARR

Verhoordatum: 22 Maart 1995 Leweringsdatum: 29 Maart 1995

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:

Die appellant is in die Rondgaande Plaaslike Afdeling vir die Westelike Rondgang Distrik deur M J Strydom R en twee assessore op twee aanklagte van roof en een van moord skuldig bevind. Die hof a quo het die doodvonnis vir die moord opgelê. Die appellant is verder tot 10 jaar gevangenisstraf op elk van die twee aanklagte van roof gevonnis, maar dit is gelas dat die twee termyne van 10 jaar gevangenisstraf samelopend uitgedien word. Die appellant appelleer ingevolge artikel 316 A van die Strafproseswet 51 van 1977 ("die Strafproseswet") teen sy skuldigbevinding op die aanklag van moord en teen die doodvonnis wat hom vir die moord opgelê is.

Ene Charles Dangatye ("Charles") het vir die klaer in die eerste roofaanklag, C J Janse van Vuuren ("die klaer"), op sy plaas in die Rustenburg distrik gewerk. Dit is gemene saak dat die appellant op Sondag 17 September 1989 saam met Charles na die klaer se plaas gegaan het; dat hulle twee 'n medewerknemer van Charles, ene Samuel Moraki, die Maandag in die veld op

3

die plaas oorrompel en vasgebind het, en sy mond toegebind het nadat 'n lap in sy mond gedruk is; dat hulle daarna ook die klaer in die veld oorrompel en vasgebind het, 'n lap in sy mond gedruk het, sy mond toegebind het en hom beroof het; dat hulle twee toe met die klaer se bakkie na die opstal op die plaas gery het waar hulle die klaer se eggenote, mev W M Janse van Vuuren ("die oorledene"), na 'n pakkamer buite gelok en daar oorrompel het. Volgens die appellant se weergawe het Charles die oorledene in die pakkamer om die nek gegryp en gewurg terwyl hy vir die appellant geskreeu het om haar vas te maak. Die appellant het 'n stuk tou gekry en die oorledene se hande agter haar rug vasgebind. Hy het ook haar voete vasgebind. Charles het toe in die appellant se teenwoordigheid 'n lap in die oorledene se mond ingedruk en 'n ander doek om haar mond vasgemaak. Daarna is die twee die huis in waar hulle die kluis oopgemaak het en onder andere twee vuurwapens en 'n klomp geld geneem het. Die klaer en Moraki het die aanval oorleef, maar die oorledene is dood as gevolg van versmoring.

Die appellant is op 27 Februarie 1990 gearresteer. Hy het dieselfde

4

dag vrywillig 'n verklaring voor 'n kolonel in die polisie afgelê en sekere uitwysings gedoen. Om een of ander rede wat nie opgeklaar is nie, het die appellant eers op 19 Maart 1993, d w s meer as drie jaar later, voor 'n landdros in Rustenburg verskyn om ingevolge artikeï 119 van die Strafproseswet op die drie aanklagte teen hom te pleit. In die verklaring wat hy toe in die hof afgelê het, het die appellant vir die eerste maal beweer dat hy die misdade onder dwang van Charles gepleeg het.

Die appellant se verhoor in die hof a quo het op 22 November 1993 'n aanvang geneem. Hy het op al drie aanklagte onskuldig gepleit. Die grondslag van sy verdediging was dat Charles hom gedwing het om aan die misdade deel te neem. Charles was op daardie stadium reeds skuldig bevind en gevonnis op dieselfde aanklagte as dié waarop die appellant tereggestaan het.

Die hof a quo het die appellant se verweer dat hy onder dwang van Charles opgetree het, myns insiens tereg as vals verwerp. Die aanvaarbare getuienis het duidelik getoon dat daardie verweer nie slegs hoogs onwaarskynlik is nie, maar inderdaad bo redelike twyfel vals is. Die appellant se advokaat het

5

ook nie voor ons betoog dat die hof a quo in hierdie opsig enigsins fouteer of

misgetas het nie. Dit is egter namens die appellant betoog dat die hof a quo op

die aanvaarde getuienis fouteer het deur te bevind dat die appellant die opset by

moontlikheidsbewussyn gehad het om die oorledene te dood. Volgens hierdie

betoog was die appellant bloot nalatig en kon die hof a quo hom slegs aan

strafbare manslag skuldig bevind het.

Die appellant het op sy eie weergawe gehelp om die oorledene te

oorweldig. Hy is die persoon wat haar hande en voete vasgebind het. Die

appellant het gesien dat Charles haar om die nek gryp en wurg, en hy het daar

gestaan toe Charles die lap in die oorledene se mond gedruk het en haar mond

met 'n doek toegebind het. Die appellant het soos volg in dié verband getuig:

"Toe ek daar is, is waar hy die lappe uitgehaal heí, in die ou miesies se mond ingedruk het en 'n lap oor haar mond vasgemaak het terwyl ek daar staan .... as ek mooi onthou, dit is een lap wat hy in haar mond ingedruk het en die ander lap het hy om haar mond vasgemaak.

Is dit 'n groot lap wat hy in haar mond gedruk het? - Ja, dit is 'n groot lap gewees.

Het die ou miesies net gelê met haar mond oop dat hy die

6

lap insit? — Hy het haar mond oopgedruk, met geweld oopgemaak en die lap ingedruk en hom vasgemaak.

Hoe het hy hom ingedruk? — Hy het haar mond oopgemaak en die lap, die lap net so gevat en gerol en in die ou miesies se mond ingedruk."

Die distriksgeneesheer wat die lykskouing behartig het, het

skaafwonde en kneusplekke in die omgewing van die oorledene se mond en

neusgate gevind. Hy het getuig dat sy aan versmoring dood is. Haar lugweë

was volgens hom deur die lap agter in haar mondholte geblokkeer.

Die klaer se een buurman, J G du Plessis, was die eerste persoon wat op

die oorledene se lyk afgekom het. Hy is in die loop van sy getuienis na 'n foto

van die oorledene verwys waar mens 'n lap kan sien wat om haar nek hang. Sy

getuienis in dié verband is soos volg:

"Ek sien op [foto] F4 is daar 'n lap of 'n doek om haar nek. -- Dit is korrek. Daardie doek was om haar mond en oor haar neus, so. Toe ek die lap van haar mond afvat, aftrek, vind ek dat haar mond vol lap geprop was. Die lap het ek verwyder, uit haar mond uitgetrek en ek het gevind dat mev Van Vuuren reeds oorlede was."

7

Die oorledene se mond en neus was dus beide met die doek toegebind, wat opsigselfstaande asemhaling sou bemoeilik het.

Du Plessis het die grootte van die lap, en die wysc waarop dit in die oorledene se mond ingedruk moes gewees het, soos volg beskryf:

"Stukke lap? — Stukke lap, maar dit was so 'n lang stuk, een
stuk

Hoe lank was hy? Omtrent so .... (tussenbei) -- Sê so 18 duim na 20 duim.

Hoe breed sou u sê? — Twee en 'n half duim, drie duim.

Die ander lappe? Hoeveel ander lappe sou u sê was daar in haar mond? — Dit was net die een stuk wat in haar mond ingeprop was. Jy kan sien hy was ingedruk.

Waarom sê u 'n mens kon sien dat hy ingedruk is? --Want hy was so half 'zig-zag' in haar mond in. Weet, hy was, jy kan sien hy is 'by force' ingedruk.

Wat bedoel u met 'zig-zag' in haar mond? -- Hy was so links en regs so opgevou in haar mond in.

Hy is nie gedraai nie en ingedruk nie? -- Nee, hulle het so 'n stuk lyk my ingedruk, toe vou hulle hom links en druk huile weer en vou hulle hom regs en druk hulle weer. So het hulle so links, regs in haar mond in volgeprop.

As u sê die mond was volgeprop, wat bedoel u daarmee? Sou daar nog lap kon ingekom het? -- Nee, daar kon nie meer lap inkom nie."

8

Die appellant het staan en kyk terwyl Charles die lap so in die oorledene se mond indruk, maar hy het niks daaromtrent gesê of gedoen nie. Hy het klaarblyklik gesien dat dit 'n groot stuk lap is wat trapsgewys diep in haar mond ingedruk word. Hy het gesien hoedat Charles daarna die verdere doek om haar mond en oor haar neus bind. Sy optrede voor en na hierdie gebeure toon dat hy hom daarmee vereenselwig het. Na die tyd het hy aan die rooftog in die huis deelgeneem. Voor die tyd het hy daadwerklik deelgeneem aan die aanval op die klaer en Moraki toe hulle in die veld oorweldig is. Dit was trouens die appellant wat die hande en voete van beide van hulle vasgebind het. In elkeen van daardie gevalle is daar ook 'n lap in die slagoffer se mond gedruk en 'n ander lap om sy mond gebind voordat hy in die veld agtergelaat is. Die klaer en Moraki het die aanval gelukkig oorleef; die oorledene ongelukkig nie.

Die appellant het soos volg getuig oor die moontlike gevolge wat hierdie optrede volgens sy siening vir die slagoffers kon inhou:

"Toe u gesien het Charles bind die drie mense vas en stop,

9

ekskuus, toe u sien hy druk lappe in hulle monde, het u gedink enige van hulle gaan sterf? — Nee.

Hof: Met lappe wat ingedruk is in die mond en lappe om die mond? Twee van hulle lê in die veld, hande en voete vasgemaak? Wat het jy gedink gaan word van hulle? Gaan hulle die lappe uitspoeg en die hande en voete weer losmaak en teruggaan huis toe? -- Nee, ek was baie bekommerd gewees, maar ek het nie geweet of daar enigiemand van daardie persone sal sterf nie."

Waar hy nie geweet het of enige van die slagoffers sal sterf nie, het hy klaarblyklik die moontlikheid voorsien dat hulle wel sal sterf. Afgesien van enige erkenning wat die appellant in hierdie verband gemaak het, is die enigste redelike afleiding van al die feite dat die appellant inderdaad die moontlikheid van dood voorsien het.

Na my oordeel is dit dus duidelik dat die appellant, veral in die geval van die oorledene, die moontlikheid voorsien het dat die dood mag intree, al was dit uit sy oogpunt gesien nie noodwendig 'n besonder sterk moontlikheid nie. Nogtans het hy onverskillig gestaan teenoor die moontlike intrede van die dood, en het hy hom daarmee versoen. Myns insiens is dit bo redelike twyfel bewys dat die appellant nie slegs nalatig was soos betoog nie, maar dat hy die

10

nodige opset in die vorm van dolus eventualis gehad het.

Die appellant is waarskynlik as mededader vir die moord aanspreeklik. Dit staan egter vas dat hy op grond van die beginsels van gemeenskaplike oogmerk aan die moord op die oorledene skuldig is. Die appël teen sy skuldigbevinding aan moord kan gevolglik nie slaag nie.

Vervolgens moet bepaal word of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die moord is. Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend en gewigtig. Die oogmerk van die appellant en Charles was roof vir eie gewin. Die oorledene was 'n weerlose vrou van 58 jaar oud wat alleen by die plaashuis was. Sy is in die loop van die rooftog deur die twee mans oorweldig en vermoor. Die gemeenskapsbelang tree sterk op die voorgrond wanneer die gepaste vonnis in dergelike gevalle oorweeg word. Dit was 'n sinnelose en wrede daad.

Daar is egter ook sekere belangrike strafversagtende faktore wat nie uit die oog verloor moet word nie. In die eerste plek was dit Charles, en nie die appellant nie, wat die leiding geneem het. Dit was aanvanklik Charles se idee

11

om die roof te pleeg, en dit was hy wat die inisiatief geneem het. Hy het op die plaas gewerk en hy het hulle optrede die betrokke Maandag beplan. Dit is waarskynlik dat hy die opdragte gegee het en dat die appellant sy opdragte uitgevoer het. Dit was ook Charles, en nie die appellant nie, wat die kritieke handeling verrig het wat uiteindelik die oorledene se dood veroorsaak het.

In die tweede plek was die vorm van opset dolus eventualis en nie dolus directus nie. Dit verdien veral oorweging waar die eventuele intrede van die dood nie as 'n besonder sterk moontlikheid voorsien is nie. (S v Ntuli 1991(1) SASV 137(A) op 143b en 144b-c: S v Ndinisa en Andere 1991(2) SASV 117(A) op 127 r7g; S v Majosi and Others 1991(2) SASV 532(A) op 540e-f en 540j-541a.)

'n Faktor wat in 'n sekere sin neutraal is, maar wat ek in die appellant se guns in aanmerking neem, is die feit dat hy en Charles nie met potensieel dodelike wapens soos vuurwapens en messe na die toneel van die misdaad gegaan het nie.

Die appellant se advokaat het betoog dat die appellant berou getoon

12

het deurdat hy teenoor sy moeder gaan bieg het dat hy die misdade gepleeg het. Die appellant het nooit geruig dat hy berou het nie, en die valse verweer waarmee hy in die hof a quo volhard het, dui ook nie op enige werklike berou nie.

Daar is verder namens die appellant betoog dat die moontlikheid van sy rehabiïitasie nie buite rekening gelaat moet word nie. ïn die lig van sy lang lys vorige veroordelings is die vooruitsig op rehabilitasie ongelukkig nie besonder goed nie.

Die appellant is in Oktober 1990, ongeveer 'n jaar na die pleging van die onderhawige misdade, aan strafbare manslag skuldig bevind en tot 8 jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is onseker wanneer daardie misdaad gepleeg is, maar dit is beslis 'n ernstige strafverswarende faktor.

Alles in ag genome is ek nogtans van oordeel dat die doodvonnis nie die enigste gepaste vonnis vir die moord op die oorledene is nie. Na my mening behoort die doodvonnis vervang te word met 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf vir die moord. Die vonnisse van 10 jaar gevangenisstraf op elk

13

van die twee roofaanklagte moet samelopend met die vonnis van 25 jaar gevangenisstraf uitgedien word.

Die volgende bevel word gemaak:

  1. Die appèl teen die skuldigbevinding op die aanklag van moord word afgewys.

  2. Die appèl teen die doodvonnis word gehandhaaf.

  3. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf vir die moord.

  4. Die vonnisse van 10 jaar gevangenisstraf op elk van die twee aanklagte van roof moet samelopend met die vonnis van 25 jaar gevangenisstraf uitgedien word.

FH Grosskopf AR

Nestadt AR

Howie AR Stem saam

▲ To the top