S v Van Zyl (387/1994) [1995] ZASCA 51 (18 May 1995)


SAAKNOMMER: 387/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

T K VAN ZYL APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: HEFER, STEYN ef MARAIS, ARR VERHOOR: 11 MEI 1995

GELEWER: 18 MEI 1995

U I T S P R A A K

MARAIS AR/

2

Appellant is in die streekhof van Vereeniging aan twee aanklagte van bedrog skuldig bevind en op elke aanklag gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf waarvan die helfte op sekere voorwaardes opgeskort is. Behalwe vir 'n wysiging van die voorwaardes van opskorting deur die Transvaalse Provinsiale Afdeling aangebring, het 'n appèl na daardie hof teen die vonnisse nie geslaag nie. Die Provinsiale Afdeling het 'n aansoek van verlof om verder na hierdie hof te appelleer, geweier. Appellant het toe 'n petisie aan die Hoofregter gerig en verlof om teen die vonnisse te appelleer is toegestaan.

Kortliks gestel, het die misdade die volgende behels. Appellant het met andere saamgespan om valslik aan Volkskas Bank te Vereeniging voor te gee dat twee kontant tjeks vir R315600 en R386000 onderskeidelik, egte tjeks was wat deur die munisipaliteit van

3

Everton uitgereik was, en dat hy, Appellant, behoorlik gemagtig was om hulle te wissel en die betrokke bedrae geld in ontvangs te neem. Daardeur is die bank oorreed om dié bedrae geld aan hom oor te betaal. Een van die samesweerders, ene Bekker, was in diens van die bank en hy het van sy intieme kennis van die bank se werkswyse gebruik gemaak om te verseker dat die geld aan appellant uitbetaal sou word sonder dat enige voorafgaande navrae deur die betrokke bank tellers aan die Everton munisipaliteit gerig sou word. Die bank het die geld nie terug gekry nie en het dus 'n verlies van R702500 gely. Een van die tjeks is op 15 Maart, en die ander op 16 Maart 1990, deur appellant gewissel. Volgens appeïlant het hy slegs R5000 vir sy moeite ontvang.

Appellant se advokaat het aangevoer dat die streeklanddros sy vonnisopleggende diskresie nie behoorlik uitgeoefen

4

het nie in die sin dat hy die verswarende faktore wat aanwesig was tot so 'n mate ten koste van appellant se persoonlike omstandighede en ander versagtende omstandighede oorbeklemtoon het, en dat hierdie hof derhalwe geregtig is om met die opgelegde vonnisse in te meng. Daar is verder betoog dat die streeklanddros verkeerdelik bevind het dat appellant nie deur Bekker beïnvloed was nie, en dat die streeklanddros ook misgetas het deur te sê dat die feit dat appellant net R5000 uit die misdaad gekry het "nie so 'n belangrike rol kan speel nie". Daar is ook aangevoer dat al het die streeklanddros nie in enige van daardie opsigte misgetas nie, die opgelegde vonnisse so "ontstellend onvanpas" is, veral as hulle kumulatiewe uitwerking in ag geneem word, dat hierdie hof behoort in te gryp en die vonnisse te verminder.

Ons is na die welbekende en geykte beginsels van

5

vonnisoplegging verwys en dit is skaars nodig om hulle weereens te

herhaal. Na my mening kan dit nie gesê word dat die streeklanddros

in enige opsig misgetas het nie. Selfs as dit so is dat appellant

uiteindelik slegs R5000 ontvang het, is dit duidelik dat hy glad nie

daarmee tevrede was nie, en dat hy gereken het dat hy op 'n helfte van

R702500 geregtig was. Trouens, hy het self beweer dat hy baie

ongelukkig was toe Bekker voorgestel het dat die geld na die bank

teruggeneem word, en dat hy uiteindelik toegestem het slegs omdat hy

begin vrees het dat hulle gearresteer sou word. Daar was geen sprake

van berou nie. Van baie meer belang as die feit dat hy uiteindelik

dalk slegs R5000 ontvang het, is dat hy bereid was om 'n belangrike rol te speel in die pleging van misdade wat hy besef het daartoe sou lei dat die bank 'n verlies van oor die R700000 sou moes dra. Die streeldanddros was dus heeltemal reg toe hy gesê het dat die feit dat

6

appellant slegs R5000 ontvang het "nie so 'n belangrike rol kan speel nie". Dit beteken ook dat hy dit nie heeltemal buite rekening gelaat het nie.

Die beweerde beïnvloeding van appellant deur Bekker is ook nie 'n faktor wat veel gewig behoort te dra nie. Appellant is ouer as Bekker en het ook 'n vorige veroordeling vir diefstal. Daar was geen verhouding tussen hulle wat appellant dalk kwesbaar aan of vatbaar vir onbehoorlike beïnvloeding deur Bekker sou gemaak het nie, en dit is hoogs onwaarskynlik dat appellant teensinnig was en dat hy slegs as gevolg van Bekker se beïnvloeding geswig het. Dit mag wees dat Bekker hom aanvanklik aan die versoeking blootgestel het maar dit is iets anders as beïnvloeding en regverdig nie veel simpatie nie.

Myns insiens, kan die streeklanddros se evaluasie van die tersaaklike faktore ook nie gekritiseer word nie. Die misdade was koel

7

beplande misdade wat nie impulsief gepleeg is nie. Hulle was grootskaalse misdade wat 'n baie groot verlies veroorsaak het. Appellant het geweet dat een van sy samesweerders 'n vertrouensposisie sou moes uitbuit om die plan suksesvol deur te voer. In die afwesigheid van enige ander verduideliking deur appellant geopper, moet aanvaar word dat daar geen besondere rede, behalwe hebsug, was, wat appellant beweeg het om die misdade te pleeg nie. Sy rol was sentraal tot die suksesvolle uitvoering van die bedrog en nie 'n minderwaardige rol nie. Oneerliksheidsmisdade soos hierdie kan nie vergelyk word met, bv. misdade soos impulsiewe diefstal in 'n selfbedieningswinkel nie. Die onderhawige misdade is voorbeelde van die sogenaamde "wit boordjie" misdade waama in STAAT teen BLANK 1995(1) SASV 62(A) te bl. 79d-e verwys is. Die toename in voorkoms van hierdie besondere tipe misdaad in die gemeenskap is

8

kommerwekkend. Die vrugte van sulke misdade is dikwels aansienlik en indien vonnisse daarvoor te lig is, sal sulke vonnisse as 'n aanvaarbare risiko deur voomemende misdadigers gesien word. Misdade soos hierdie verg, na my mening, vonnisse wat dit vir appellant en ander eendersdenkendes duidelik sal laat blyk dat 'n duur prys daarvoor betaal sal moet word. Dit is natuurlik so dat 'n beskuldige se persoonlike omstandighede nooit buite rekening gelaat moet word nie; maar die streeklanddros het hulle nie buite rekening gelaat nie, en sy evaluasie van hulle was ook nie verkeerd nie. Appellant was nie jonk en onervare nie. Hy was 26 jaar oud en het sy eie besigheid bedryf. Hy was ongetroud met een kind waarvoor hy R250 per maand onderhoud betaal het. Hy was nie 'n eerste oortreder nie. Hy is in 1982 aan diefstal van 'n motorfiets skuldig bevind. Hy was destyds 'n jeugdige maar die feit bly staan dat, alles inaggenome,

9

sy persoonlike omstandighede nie indrukwekkend is nie. Na my mening, het hulle nie appellant enige aanspraak op toegeeflike behandeling gegee nie.

Laastens is daar die betoog dat die vonnisse ontstellend onvanpas is. Ek kan nie daarmee saamstem nie. Ons is gevra om hierdie vonnisse met vonnisse opgelê in sake soos STAAT teen KASSELMAN en 'n ANDER 1995(1) SASV 429(T), STAAT teen FLANAGAN 1995(1) SASV 13(A) en STAAT teen BLANK, supra te vergelyk, en om te konkludeer dat in die lig daarvan hierdie vonnisse veels te swaar is. Wat die onopgeskorte gedeeltes van die gevangenisstraf aanbetref, is ek nie oortuig dat die vergelyking dit aantoon nie. Elke saak moet op sy eie meriete besleg word en ek glo nie dat dit met reg gesê kan word dat 'n effektiewe tydperk van gevangenisstraf van 10 jaar vir hierdie twee misdade buitensporig is

10

as daar in ag geneem word hoe ernstig hulle was, die groot verlies deur die bank gely en dat appellant voorheen skuldig bevind is aan diefstal. Waar, soos in hierdie geval, die streeklanddros nie in enige wesenlike opsig misgetas het nie, is die feit dat ek persoonlik 'n ietwat korter tydperk van direkte gevangenisstraf sou opgelê het, nie die maatstaf nie. Dit is slegs waar die verskil werklik treffend en steurend is dat inmenging geregverdig sou wees. Myns insiens is dit nie die geval nie.

Waar appellant, na my mening, wel gelyk gegee moet word, is in verband met die opgeskorte gedeeltes van die vonnisse. Die verhouding tussen die direkte gevangenisstraf wat opgelê is en die opgeskorte gedeeltes van die vonnisse tref my as ongebaïanseerd en bring mee dat, bo en behalwe die stewige termyn van direkte gevangenisstraf wat hy sal moet uitdien, appellant aan 'n buitengewone

11

lang tydperk gevangenisstraf blootgestel word indien hy die voorwaardes van opskorting sou verbreek.

'n Vonnis van so lank as 10 jaar wat opgeskort word, is iets wat selde in Suid-Afrika teëgekom word. In beginsel is dit onwenslik om sulke lang termyne opgeskorte gevangenisstraf te koppel aan 'n lang termyn onopgeskorte gevangenisstraf. Selfs na die wysiging van die voorwaardes van opskorting deur die Provinsiale Afdeling aangebring, loop appellant die risiko dat hy 10 jaar in 'n gevangenis sal moet deurbring as hy skuldig bevind word aan bedrog of diefstal, al is hy slegs tot opgeskorte gevangenisstraf daarvoor gevonnis. Ek vind dit steurend onvanpas. Die appèl teen die vonnisse slaag dus in die beperkte opsig dat die onopgeskorte gevangenistermyne opgelê onveranderd bly, maar dat die opgeskorte gedeeltes van die vonnisse tot twee jaar gevangenisstraf verminder

12

word, en die opskortingsvoorwaardes word gewysig om dit duidelik te

maak dat slegs die oplegging van onopgeskorte gevangenisstraf sonder

die kense van 'n boete dit moontlik sal maak om die opgeskorte

vonnisse in werking te stel. Die vonnisse deur die streeklanddros

opgelê word dus met die volgende vonnisse vervang:

Sewe (7) jaar gevangenisstraf op elke aanklag, waarvan twee (2) jaar op elke aanklag vir vyf (5) jaar opgeskort word, op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan bedrog of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie, en waarvoor hy onopgeskorte gevangenisstraf sonder die keuse van 'n boete opgelê word.

R M MARAIS AR

HEFER AR)

stem saam STEYN AR)

▲ To the top