S v Dube (272/1994) [1995] ZASCA 59 (25 May 1995)


Saak nr 272/94 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ROBSON DUBE APPELLANT

-en-

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: VIVIER, EKSTEEN et SCHUTZ ARR.

VERHOOR: 16 MEI 1995

GELEWER: 25 MEI 1995.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2

VIVIER AR:

Die appellant ("beskuldigde 1") is saam met 'n ander

("beskuidigde 2") in die streekhof in Johannesburg daarvan aangekla dat hulle op 4 Junie 1993 vir ene Allan Bacher van sy polshorlosie en R160,000-00 kontant beroof het. Beskuldigde 2 is onskuldig bevind maar beskuldigde 1 is skuldig bevind en tot sewe jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar vir vyf jaar op sekere voorwaardes opgeskort is, gevonnis. Sy appèl teen die skuldigbevinding na die Witwatersrandse Piaaslike Afdeling het misluk maar verlof is verleen om teen die skuldigbevinding na hierdie Hof te appelleer.

By die verhoor het beskuldigde 1 erken dat hy op die betrokke dag besit verkry het van die geld en horlosie. Sy verweer was dat hy die geld deur bedrog verkry het en dat Bacher die horlosie aan hom geskenk het. Bacher is 'n invoerder en verspreider van juweliersware. Sy getuienis was dat ene Rudolph,

3

wat hy as 'n karweier geken het, 'n paar dae voor die betrokke dag na sy kantoor gekom het met 'n ander persoon wat hy as Barry, sy oom, voorgestel het. Barry het aan hom gesê dat hy betrokke is by die handel in smaragde; dat 'n sekere Watson, wat as 'n middelman optree tussen die verskaffers en die uiteindelike koper, ene Majors, op vakansie is; en dat hy wat Bacher is die geleentheid het om smaragde te koop. Bacher het belang gestel en hulle het gereël om 'n paar dae later weer te ontmoet. Die betrokke dag het hulle in Bacher se pa se motor na Doornfontein gereis om die verskaffers van die smaragde te ontmoet. Bacher het voor die Doomfontein Hotel gestop en Barry het uitgeklim om die verskaffers, wat in die hotel sou gewag het, te gaan roep. Hy het met beskuldigde 2 teruggekeer en gesê dat beskuldigde 1 nie daar is nie. Beskuldigde 2 het, wat Bacher eers as 'n Checkers-pakkie en later as 'n bruin koevert beskryf het, uit sy

4

sak gehaal en aan Bacher getoon. Daarin was vyftien stene wat Bacher met die blote oog kon vasstel egte smaragde was. Hy wou 'n geleentheid hê om die gehalte van die stene te bepaal en beskuldigde 2 het daartoe ingestem. Beskuldigde 2 is toe terug na die Doornfontein Hotel en die ander drie het in die motor vertrek. Terwyl hulle ry het Barry voorgestel dat hulle die stene na Majors, wat 'n deskundige is, in Johannesburg neem om te laat toets. Omdat Majors, volgens Barry, nie vreemdelinge in sy kantoor toelaat nie, is Barry alleen met die stene na Majors se kantoor. Na 'n ruk het Barry saam met Majors teruggekeer en laasgenoemde het gesê dat die stene van goeie gehalte en ongeveer R420,000-00 werd was. Bacher, Barry en Rudolph is daarop temg na die Doornfontein Hotel waar hulle vir beide beskuldigdes gekry het en met wie hulle op 'n prys vir die smaragde ooreengekom het. Volgens Bacher was die prys R160,000-00 en

5

volgens beskuldigde 1 was dit R180,000-00. Bacher het getuig dat hy daarop gesê het dat hy die geld sou gaan haal en dat hy gevra het om die smaragde saam met hom te neem. Beskuldigde 1 het geweier en hy en Barry het toe vertrek en vir Rudolph by die beskuldigdes agtergelaat om die smaragde op te pas. Bacher het 'n tjek vir R160,000-00 by sy bank gewissel en hy en Barry is daarmee terug na die Doomfontein Hotel. Bacher het in 'n parkeerarea naby die hotel parkeer en Barry het die ander gaan roep. Barry en beskuldigde 1 het alleen teruggekeer en Barry het voor langs Bacher ingeklim en beskuldigde 1 agter in die motor. Bacher het gesê dat hy die geld het en gevra om eers die smaragde te sien. Beskuldigde 1 het aan hom dieselfde bruin koevert as voorheen gegee maar toe hy dit oopmaak het hy gevind dat daar nou dertien in plaas van vyftien stene was en dat die stene ook nie dieselfde as voorheen was nie. Hy het sy kop geskud om

6

sy ontevredenheid te kenne te gee, waarop beskuldigde 1 'n vuurwapen uitgehaal, dit teen sy sy gedruk en die geld geëis het. Beskuldigde 1 het ook sy polshorlosie van sy arm afgehaal. Beskuldigde 1 het hom met die dood gedreig indien hy nie in die motor bly sit nie; en het hom daarna, gevolg deur Barry, met die geld en die polshorlosie uit die voete gemaak. Bacher het die saak by die polisie gerapporteer en het later die twee beskuldigdes by 'n uitkenningsparade uitgeken. Hy het nòg sy geld nòg sy horlosie teruggekry. Rudolph en Barry kon nie opgespoor word nie. Bacher het ontken dat hy op enige stadium sy handtekening agterop die koevert aangebring het.

Beskuldigde 1 se weergawe was dat hyself, beskuldigde 2, Rudolph, Barry en Watson almal deelnemers was aan 'n bedrieglike skema om onegte stene as egte smaragde aan Bacher te verkoop. Watson se rol was om vir Bacher te verseker dat

7

die stene eg is, waama Bacher nie weer daama moes kyk nie. Beskuldigde 1 het aanvanklik getuig dat Watson vroeër die betrokke dag die koevert in sy (beskuldigde 1) se teenwoordigheid op die agterkant geteken het. Die stene is daarna in die koevert gesit en die koevert toegeplak. Die doeï met die handtekening was sodat mens kon sien indien die koevert intussen oopgemaak was. Beskuldigde 1 het getnig dat toe Bacher met die stene terugkom nadat hy by Watson was, Bacher ook sy handtekening op die agterkant van die koevert aangebring het. Toe hy later die koevert aan Bacher in die motor oorhandig, het Bacher aan hom gesê dat hy volgens die handtekeninge en 'n klein merkie wat hy op die koevert gemaak het, tevrede was dat die koevert nie oopgemaak was terwyl hy die geld gaan haal het nie. Bacher het gevolglik nie by hierdie geleentheid weer na die stene gekyk nie. Bacher het aan hom R160,000-00 gegee en gesê dat hy die balans

8

van R20,000-00 later sou betaal. Bacher het hom ook gevra of hy nie in sy polshorlosie belangstel nie. Toe beskuldigde 1 bevestigend antwoord, het Bacher self sy polshorlosie afgehaal en aan hom oorhandig. Hulle is op goeie voet uitmekaar. Die R160,000-00 is tussen die vyf mededaders verdeel. Beskuldigde 1 het in kruisverhoor gesê dat nie Watson nie, maar ene Thompson die koevert geteken het. Toe hy verder daaroor uitgevra word, het hy gesê dat hy die heeltyd "na dieselfde persoon verwys het, hulle gebruik baie name". Hy het toe gesê dat die persoon se naam eintlik John Majors Thompson is. Beskuldigde 2 het nie getuig nie.

Die verhoorlanddros was daarop bedag dat Bacher 'n enkelgetuie op die eintlike geskilspunt was. Sy getuienis is as geloofwaardig aanvaar. Die landdros het voorts gevind dat daar talle teenstrydighede en onwaarskynlikhede in beskuldigde 1 se

9

weergawe is en sy getuienis is as vals verwerp. 'n Deurlees van sy getuienis bevestig hierdie bevinding. Sy getuienis oor Watson en Thompson toon hoe hy sy getuienis aangepas het. Soos die Verhoorhof en die Hof a quo vind ek sy weergawe dat Bacher by die tweede geleentheid die R160,000-00 oorhandig het sonder om weer na die stene te kyk, totaal onwaarskynlik. Bacher was bedag op die moontlikheid dat die stene omgeruil kon word. Daarom het hy voorheen daarop aangedring om die stene saam met hom te neem. Dit is nooit aan Bacher deur die verdediging gestel dat hy by die tweede geleentheid nie na die stene gekyk het nie. Dit is duidelik dat beskuldigde 1 hierdie swakheid in sy weergawe besef het. Daarom sy verduideliking van die handtekening wat dan vir Bacher sou gerusgestel het. Daardie verduideliking is moeilik om te aanvaar. Die hele idee was om agterop die koevert te teken nadat die stene in die koevert toegeplak was.

10

Maar Watson het, volgens beskuldigde 1, reeds vroeg die betrokke oggend en voordat die stene by die eerste geleentheid aan Bacher getoon is, die koevert geteken. Sy handtekening was dus sonder betekenis. Soos die Hof a quo tereg daarop wys, moes die koevert toegeplak en Bacher se handtekening daarop aangebring gewees het by die geleentheid toe hy van die besoek aan Majors teruggekeer het. Noodwendig moes daar 'n bespreking by dié geleentheid daaroor gewees het. Dit is egter nooit aan Bacher gestel dat sy handtekening by hierdie geleentheid aangebring is nie en in sy getuienis in hoof het beskuldigde 1 ook nie getuig dat dit is wat gebeur het nie. Sy getuienis in kruisverhoor oor wanneer Bacher die koevert geteken het was vaag en onduidelik. Bacher het in elk geval ontken dat hy ooit die koevert geteken het.

'n Ander onwaarskynlike aspek van beskuldigde 1 se getuienis is dat Bacher sy horlosie aan hom geskenk het. Bacher het

11

getuig dat die horlosie R600-00 werd is; dat hy wel soms nuwe horlosies aan kliente skenk maar dat hy nie sy eie horlosie van sy arm sou afgehaal het en aan beskuldigde 1, wat hy nie as 'n klient beskou het, sou geskenk het nie.

Namens beskuldigde 1 is betoog dat die redelike moontlikheid nie uitgesluit kan word dat die samesweerders nooit egte smaragde aan Bacher getoon het nie; dat hy agtema uitgevind het dat hy bedrieg was en dat hy toe die weergawe dat hy beroof is, versin het. Afgesien van Bacher se uitdmklike getuienis tot die teendeel is dit onwaarskynlik dat onegte stene by die eerste geleentheid aan hom getoon is. Die samesweerders het geweet dat hulle met 'n juwelier te doen het wat in staat behoort te wees om onegte stene uit te ken. Hulle sou nie die risiko geloop het dat hulle plan op 'n vroeë stadium misluk nie. Dit is betoog dat Bacher se optrede na die tyd, toe hy nie dadelik die polisie in

12

kennis gestel het nie, verdag is. Ek stem nie saam nie. Sy getuienis dat hy in 'n toestand van skok was en eers doelloos rondgedwaal het voordat hy later dieselfde dag die saak aangegee het, is te verstane. Daar is geen rede waarom Bacher sou beweer het dat hy beroof is indien hy 'n geldige klagte gehad het dat hy bedrieg is nie.

Daar is voorts namens beskuldigde 1 betoog dat Bacher se weergawe talle onwaarskynlikhede bevat, soos dat hy goedsmoeds ingestem het dat die stene na Majors geneem word; dat Majors aan hom sou gesê het dat die stene R420,000-00 werd was en dat hy dit graag self sou wou koop; en dat hy (Bacher) as 'n middelman moes optree terwyl Barry en Rudolph die verskaffers direk aan die koper kon voorgestel het. Hierdie aspekte is wel eienaardig, maar dít kan nie afbreek aan Bacher se geloofwaardigheid doen nie omdat dit gemene saak was dat dit is

13

wat inderdaad gebeur het. Dit is nie betoog dat die kooptransaksie onwettig was nie en die feit dat Bacher bereid was om op so 'n eienaardige wyse te werk te gaan om die stene te bekom maak nog nie van hom 'n leuenaar nie. Ek is gevolglik van mening dat daar geen grond is om met die geloofwaardigheidsbevindings van die landdros in te meng nie.

Die appél word afgewys.

W. VIVÏER AR.

EKSTEEN AR)

SCHUTZ AR) Stem saam.

▲ To the top